Hoogste Guns | World Challenge

Hoogste Guns

David Wilkerson
September 12, 2016

Die woord “guns” word dikwels in die kerk gebruik vandag. Herders dwarsdeur Amerika belowe mense dat God hulle gaan begunstig. Ongelukkig is dít wat hulle bedoel met guns, beperk tot besittings, posisies en aanwinste – beter huise, karre en werke, ‘n gelukkiger familie en ‘n groeiende inkomste. Ek glo wel God begunstig sy mense op hierdie manier. Maar daar is ‘n gevaar wanneer ons leef vir hierdie soort guns terwyl ons gevaar staan om iets baie hoër te verloor. Ons doen ons self te kort as ons leef vir enigiets anders as die “Hoogste Guns.” Laat my verduidelik.

Almal ken die Bybelse konsep van ‘n Beloofde Land. Dit is die aankomsplek vir alle mense wat soek na vryheid, verlossing van slawerny en die blydskap van ‘n geseënde lewe. Die oorspronklike Beloofde Land was ‘n gawe wat God vir antieke Israel gegee het – ‘n letterlike plek genaamd Kanaän, ‘n vrugbare land wat oorgeloop het van bonormale grootte vrugte en vloeiende riviere. Dit was die land van hul drome vir die Israeliete, ‘n volk wat afgetakel en verban was vir geslagte lank. Toe hulle egter by Kanaän – ‘n land van oorvloed in alle aspekte – se grens aangekom het, het God ‘n ongewone stelling aan Moses gemaak: “Gaan heen...na ‘n land wat oorloop van melk en heuning; want Ek sal in jou midde nie optrek nie, omdat jy ‘n hardnekkige volk is; anders sal jy op die weg verteer word” (Exodus 33:3).

Dit mag hard klink, maar wanneer dit in konteks geplaas word, sien ons dit is alles behalwe hard. God het Israel bevry van 400 jaar se slawerny in Egipte. Nou, op die vooraand van hulle intog in die Beloofde Land, het God ‘n verrassende verklaring gemaak: “Ek sal nie saam met jou gaan nie.”

Hy verduidelik waarom in die volgende frase: “Want julle is ‘n hardnekkige volk.” Selfs na al die wonderlike dinge wat God vir die Israeliete gedoen het, het hulle gemurmereer elke keer as hulle voor ‘n nuwe probleem te staan gekom het. Hulle belewenisse – en die wonderwerk wat Hy vir hulle verrig het – het nooit in geloof omgeskakel nie. In plaas daarvan, het die mense sy karakter aangeval. Hulle het God beskuldig dat Hy hulle net verlos het om hulle te sien sterf in die woestyn. Elke keer wat Moses omgedraai het, het hulle gedreig om God te verwerp en sy leiding te verwerp.

Maar Moses se geloof was anders. Hy het die goedheid van God geken, soos dit gedemonstreer was in al sy bonatuurlike werke teenoor Israel. Trouens die Here se guns jeens sy mense het bodemloos gelyk, nimmereindigend, onbeperk. Dit maak nie saak watter hindernis hulle moes trotseer nie of hoe onmoontlik dit gelyk het nie, God het hulle elke keer deurgedra.

Moses het hom verwonder aan die karakter van God wat in sy barmhartigheid al hierdie dinge om hulle onthalwe gedoen het. So, toe die Here gesê het Hy sal nie saam met hulle die Beloofde Land binnegaan nie, het Moses geantwoord, “As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie” (Exodus 33:15). Met ander woorde: “Here, as U nie daar wil wees nie, sal ek nie gaan nie.”

Moses het die verskil onderskei tussen God se onbeperkte guns en sy hoogste guns.

Moses het geweet hoe belangrik God se seëninge vir Israel was. Sy bonatuurlike dade het hulle lewens gered. Hy het manna uit die hemel gestuur toe die mense hongersnood gehad het. Hy het water uit ‘n rots laat kom toe hulle liggame bo hulle vermoë uitgedroog was. Moses het egter besef dat selfs daardie lewensbelangrike seëninge die nie die kern van hierdie belewenisse was nie. Dit was eerder om die deernisvolle, liefdevolle God wat dit aan hulle gegee het, te ken en te vertrou. Moses se volgende stelling kom as geen verrassing nie: “ Maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind” (Exodus 33:13). Moses het geweet dat God se guns uiteindelik nie te vinde was in die seëninge wat Hy voorsien het nie – dit was daarin gevind om die Here self te ken.

Ek dank God vir al sy aardse seëninge. As ‘n herder, sien ek sy wonderlike werk in mense se lewens die hele tyd. Hy herstel huwelike wat uitmekaargeskeur het. Hy voorsien vir diegene wat finansieel sukkel. Hy bring genesing aan siek, gebroke liggame. Terwyl ek hier skryf, dink ek aan ‘n klein seuntjie genaamd Isaiah wat na verwagting nie tien dae na sy geboorte sou oorleef nie. Nadat hy die eerste jaar oorleef het, het dokters gesê hy sal nooit kan loop nie. Onlangs het sy ma vir my ‘n video gestuur van klein Isaiah wat dans met ‘n klein dogtertjie by ‘n troue. Ek dink ook aan ‘n jongman genaamd Chad, wat mishandel was deur die mense wat veronderstel was om hom te vertroetel. Die omstandighede wat Chad in die lewe beleef het, was ongelooflik hard. Nou begin Chad egter besef hoeveel God hom liefhet en hy wil gedoop word.

Al hierdie dinge spreek van God se onbeperkte guns – sy vermoë om lewe in enige woeste wildernis in te blaas. Ons almal ervaar sy guns op maniere te groot om te meet: ons verhoudings, ons gesondheid, ons werk, ons skool. Wanneer ons in enige gebied van die lewe sukkel, of as ons omstandighede te moeilik word, onderhou Hy ons met sy vertroostende teenwoordigheid. God het dinge gedoen in ons lewens waarin ons onsself nooit sou kon indink nie. Sy onbeperkte guns ken geen perke nie.

Moses het egter iets van God geweet wat sy seëninge oortref, selfs sy bonatuurlike dade. Hy het geweet dat bokant God se onbeperkte guns, sy hoogste guns is. Hierdie soort guns word nie gevind in die dinge wat God doen nie – dit word gevind in die Here self. Soos Moses in soveel woorde gesê het, “Here, wat help die druiwe en melk en heuning – al die seëninge van die lewe – as U nie teenwoordig is nie?”

‘n Bekende Christelike skrywer het ‘n soortgelyke vraag gevra. Hy het in wese gevra, “Wat as die hemel ‘n plek was waar jy alles kon kry wat jy wou hê – waar al jou drome waar word, elke aspirasie en begeerte ‘n werklikheid gemaak word – maar God is nie daar nie? Sou jy wou gaan?” Dit is ‘n wettige vraag vir enige Christen. Begeer ons God se seëninge buite en behalwe om Hom te ken, die Gewer van alle goeie dinge? Of, sou ons soos Moses verkies om elke seëning van ons gestroop te hê eerder as om God se teenwoordigheid te verloor?

Ek neem God se seëninge nie ligtelik op nie. En sy Woord ook nie. Daar is skaars ‘n boek in die Bybel wat nie God se besorgdheid oor die armes noem nie. Armoede beïnvloed alle areas van die lewe en ons moet kos vir die hongeres, hoop vir die neerslagtiges en genesing vir die gebrokenes van hart gee. Maar vir diegene van ons wat God se oorvloedige seëninge ken, dra Moses iets belangriks oor: Selfs daaglikse brood is nietig in vergelyking daarmee om God te ken. Moses se voorbeeld roep ons om ‘n hoër soort guns te beleef.

Dit is nie dat Christene vandag nie dankbaar vir God se seëninge is nie. Ons probleem is dat ons daar stop. Ons sê, “Here, u onbeperkte guns is genoeg vir my.” Maar volgens hierdie gedeelte, is dit nie genoeg nie. Ons kan die mees lewendige huwelik, die mooiste huis, die mees vervullende werk en die wonderlikste kinders hê – maar as Jesus nie in hulle midde is nie, het ons niks.

Is ons gewillig om saam met Moses te verklaar, “Here, as U nie daar is nie, sal ek nie gaan nie”? As ons wel so sê, sal God ons antwoord op die manier wat Hy vir Moses geantwoord het: “Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf” (Exodus 33:14).

Die Here wou saam met Israel Kanaän binnegaan, maar Hy kon nie bly in hulle afgodery nie.

Selfs nadat die Here hulle kragtig geseën het, het die Israeliete hulle na afgode gewend. Terwyl Moses met God gekommunikeer het in die berge, het die mense hulle juweliersware gesmelt en ‘n goue beeld van ‘n kalf gemaak. Vandag kan ons nie regtig onsself met hierdie soort ding vereenselwig nie. Maar die gevolg is dit: As jy God se seëninge najaag sonder om God self te soek, sal jy op die ou einde in afgodery beland – omdat die fokus van jou strewe iets aards is. Soos Paulus sê, “Hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid” (Romeine 1:25).

Ons kan dankbaar wees dat die meeste van ons nie hoef te pleit vir water of brood nie. Ons kan net die kraan oopdraai of na die kruidenierswinkel toe gaan. Maar ons het goue kalwers van ons eie, dinge wat ons buite en behalwe God soek: sukses in ons werk, finansiële sekuriteit, materiële gemak. Daardie dinge is nie slegte dinge nie – dit is groot seëninge. Maar as ons dit meer wil hê as God – as dit die fokus van ons lewe se strewe word – dan het ons ‘n afgod gebou. En God sal vir ons sê, “Gaan voort, jaag dit na. Geniet dit. Maar dáár sal julle My teenwoordig nie vind nie.”

Ek hou van Moses se reaksie: “God, maak my liewer dood in die woestyn as wat U my stuur na een of ander plek waar U nie is nie.” Ek bid dat dit ook die kerk se uitroep sal word: “Here, my lewe is so geseënd dat ek myself laat dwaal. My oë was op u onbeperkte guns, die seëninge wat U gee. Ek wil iets anders hê. Laat my lewe gekenmerk word deur u hoogste guns – om U te ken vir wie U is.”

Ek wil vir jou vra: Is God vir jou genoeg? Stel dit jou tevrede om Hom te ken? Of is daar enigiets wat jou daarvan weerhou, ‘n afgod wat jy voor Hom geplaas het? Sy eerste gebod is, “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (Exodus 20:3).

Om God te ken was genoeg vir Moses. Eerder as om na die Beloofde Land te gaan, het hy gevra, “Laat my tog u heerlikheid sien” (Exodus 33:18). Ek kan my voorstel God se blydskap om dit te hoor. Elke aardse vader ken die voortdurende gepleit van sy kinders se stemme as hulle vir iets vra, maar daar is niks wat ‘n vader se hart blyer maak as om te hoor dat sy kind sê, “Pappa, ek het jou lief vir wie jy is.”

God was so tevrede met Moses se begeerte dat Hy sy versoek toegestaan het, so ver as wat Hy dit kon toelaat. “Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie” (Exodus 33:20). God se ontoeganklike lig is te sterk vir mense om ten volle te beleef; sy heiligheid is alles-verterend: “anders sal jy op die weg verteer word” (Exodus 33:3). Maar Hy wou hê dat Moses sy heerlikheid gedeeltelik beleef. Die Here het vir hom in wese gesê, “Ek kan nie my gesig vir jou wys nie. Maar Ek kan vir jou die effek van my teenwoordigheid en die spoor van goedheid wat Ek nalaat, wys” (sien Exodus 33:21-23).

Om Moses te beskerm, het Hy gesê, “En as my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots stel ...totdat Ek verbygegaan het” (Exodus 33:22, klem myne). Hierdie vers vertel vir ons alles oor God se wonderlike genade in die Ou Testament. Selfs voor die kruis – voor Christus sy bloed vir ons verlossing gestort het – het God Moses in sy genade, in die skeur van ‘n rots gestel. Soos Paulus verduidelik, “Die Rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:4).

Die Skrif sê vir Moses se gesig was verander deur God se heerlikheid – ‘n verandering so kragtig dat hy “’n bedekking oor sy aangesig gesit het, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die einde...nie” (1 Korinthiërs 3:13). Enigeen wat Jesus onmoet, beleef die dieselfde transformasie – ‘n verandering so diepgaande dat die hele wêreld dit sien en verwonderd is.

Vandag het God sy sluier gelig om die volheid van sy heerlikheid in Christus te openbaar.

“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korinthiërs 3:18). Ons hoef nie onsself in ‘n rotsskeur te verberg soos Moses nie; God se heerlikheid is ten volle geopenbaar in Jesus.  Ons hoef nie te wag dat water uit ‘n rots stroom nie; strome van Lewende Water vloei voortdurend vanuit sy inwonende Gees. Vriend, God se hoogtste guns is nie in ‘n huis of kar of werk nie – dit is in sy teenwoordigheid en Hy weerhou dit nie van ons nie. Christus se bloed het die sluier heeltemal opgelig sodat ons sy heerlikheid sonder hindernis kan ken. Dit is God se hoogste guns!

Die Israeliete kon net soos Moses God se heerlikheid beleef. Die Here wou hulle vergesel in die Beloofde Land in, maar hulle bitterheid het dit verhoed. Dit het voorheen ook gebeur. Toe hulle sonder water in die wildernis was, het die mense God onder verhoor geplaas. Die oorspronklike Hebreeuse taal stel voor ‘n “hamer” of “voorsittershamer,” wat beteken hulle beoordeel die Here en veroordeel Hom.

Wat ‘n verskriklike daad, veral vir ‘n volk wat so geseënd was deur God. Op ‘n tyd wat hulle Hom kon vertrou het in geloof, het hulle gekla, “In Egipte het ons ten minste kos en water gehad. Ons het veiligheid en sekuriteit gehad. Ons het huise gehad om in te bly.” Noudat daardie dinge weggeneem is, was die mense verteer met bitterheid. Hulle afgode het hulle oorweldig.

Hier was egter God se barmhartigheid aan hulle: Ten spyte van hulle sonde, het God vir Moses gesê om ‘n rots met sy staf te slaan – en water het uitgestroom. Daardie rots verteenwoordig Jesus, wat die toorn van die oordeel vir ons sondes op Hom geneem het. Toe het God vir hulle Lewende Water aangebied: “Want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:4).

Laat my vir jou ‘n laaste vraag vra: Waarna verlang jou hart? Is jou belangrikste behoefte ‘n finansiële doelwit, ‘n materiële begeerte? Of is dit die hoop van God se heerlikheid, wat alle lewe transformeer? Hy het jou oorvloedig geseën met onbeperkte guns. Daar is egter meer om te ken van ons groot God as aardse seëninge. Hy wil hê jy moet sy heerlike teenwoordigheid in alle gebiede van jou lewe ken. Ek dring by jou aan om saam met my te bid: “Here, wys vir my elke afgod wat my van U teenwoordigheid af weghou. Moenie dat enigiets – selfs goeie dinge – my vir U verblind op enige manier nie. Ek sal nêrens heen gaan en niks doen as U nie daar is nie! Amen.”

Download PDF