Jesus Het Geween | World Challenge

Jesus Het Geween

Verwond Deur Sy Intiemste Vriende
David Wilkerson
August 22, 2016

“En daar was ‘n man siek, Lasarus van Betánië” (Johannes 11:1). Die meeste Christene ken die storie van Lasarus. Hy het saam met sy twee susters Maria en Martha in Betánië gewoon. Hulle huis was ‘n gunsteling rusplek vir Jesus. Christus het geweet dat hierdie hegte familie Hom liefgehad het en Hy het hulle ook hartlik liefgehad. Hy het hul huis sy geestelike skuilplek gemaak. Dit was vir Hom ‘n oase van stilte weg van die drukkende skares.

Toe Lasarus dodelik siek geword het, het Maria en Martha ‘n boodskap na Jesus gestuur: “Here, hy vir wie U liefhet, is siek” (Johannes 11:3). Hulle het geweet Jesus kon hulle help in hulle beproewing. Maar Christus het ‘n boodskap na hulle teruggestuur en gesê, “Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word” (Johannes 11:4). Maria en Martha was sekerlik verbyster oor Jesus se antwoord. Hulle het waarskynlik gedink Lasarus sou gesond word.

Maar Jesus het ‘n ander reaksie van hulle verwag. Hy wou geloof in sy geliefde vriende sien voortspruit. Hy wou hulle laat erken dat Hy meer as net hulle Vriend, ‘n Leermeester, ‘n Geneesheer en ‘n Wonderwerker was. Hy het met soveel woorde gesê, “Maria, Martha, julle moenie bekommerd of bedroef wees nie. Ek gaan hieraan aandag gee op my tyd en op my manier. En Ek wil hê julle, van alle mense, moet My vertrou. Julle is vir My spesiaal en ek begeer dat julle vertroue in My nie sal faal nie. Julle sal My sekerlik glo dat my Vader verheerlik sal word in hierdie krisis.”

Jesus het vir sy familie ‘n boodskap van ontsaglike hoop gestuur. Hy het in wese vir hulle gesê, “Ja, dit is die pynlikste, mees martelende belewenis waardeur julle nog ooit gegaan het. Maar God het ‘n doel met dit alles. Hy het julle en jul huishouding uitverkies om ‘n tyd van groot beproewing te verduur. Julle huis is op die punt om ‘n slagveld tussen geloof en ongeloof te word. En God gaan alle eer daarvoor ontvang. Moenie bekommerd wees nie, die Vader het alles georkestreer.”

Wat is die sentrale kwessie in hierdie gedeelte? Eenvoudig die volgende: Jesus roep diegene wat Hom innig liefhet om Hom te vertrou om te doen wat die beste vir hulle is. As ons Hom immers nie vertrou nie – as Hy nie geloof en vertroue by sy intiemste vriende kan kry nie – waar sal Hy geloof op hierdie aarde vind?

Jesus het Homself doelbewus nie na Betánië gehaas nie

Toe Jesus die susters se boodskap gekry het, het Hy vir nog twee dae in die dorp gebly waar Hy op daardie stadium was (sien Johannes 11:6). In my geestesoog sien ek hoe Martha en Maria desperaat geword en gewonder het, “Waar is Jesus? Waarom het Hy nie gekom om te help nie? Hy weet hoe ernstig hierdie saak is. En Hy is minder as ‘n dagreis ver. As Hy ons liefhet, waarom talm Hy?”

Waarom het die Here sy tyd geneem? Waarom het Hy nie uit liefde onmiddellik gegaan nie? Ek glo as ons dít kan verstaan, sal ons verstaan waarom dit lyk of God ons dikwels nie kom red wanneer ons dink Hy moet nie. Wat is jou krisis? Is dit finansiële sake, familie probleme, fisieke ongesteldhede of innerlike stryd? Hoe het erg het dinge versleg? Jy het ywerig gebid, maar die hemel blyk soos koper te wees. Jy wonder, “Waar is God? Waarom het Hy nie na my gekom nie?”

Ek kan nie namens die Here antwoord in almal se situasies nie. Maar ek kan die volgende sê oor Maria en Martha se krisis: Die behoefte was nie kritiek genoeg nie, nie hopeloos genoeg vir die spesifieke doel wat God wou bereik nie. In sommige gevalle, word ‘n wonderwerk benodig. Natuurlik werk die Here nie altyd op hierdie manier nie. Maar teenoor sy intieme vriendekring tree Hy dikwels anders op, met maniere wat meer drasties lyk as normaalweg. Hy wag totdat hulle oortuig is, “Dit is nou te laat. Dit is hopeloos onmoontlik.”

In die susters se geval, het God gewag totdat die dood Lasarus opgeëis het. Niks kan meer hopeloos wees as dit nie. Jesus kon enige tyd ‘n woord gespreek het en sy vriend selfs vanaf ‘n afstand genees het. Hy het dit tevore gedoen. So, waarom was hierdie familie bo hulle perke getoets? Jy mag wonder oor jou eie situasie: “Waarom red God ander, maar nie vir my nie?”

Nadat Jesus vir twee dae gewag het, het Hy deur die Gees geweet dat Lasarus gesterf het. “En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood.” Toe het Christus vir sy dissipels gesê, “En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar laat ons na hom toe gaan” (Johannes 11:14-15). Christus het in wese vir sy intiemste vriendekring gesê, “God het hierdie ontmoontlike situasie teweeggebring om ‘n rede. Dit is om vir julle die mees gulde geleentheid te voorsien om Hom vir die onmoontlike te glo. Hy het dit georkestreer sodat my mees geliefde vriende vir die wêreld kan wys dat Ek mag het om te doen wat geen mens kan doen nie. Dit moet deur geloof alleen gebeur.”

Ek glo Jesus het ook om ‘n ander rede getalm.

Jesus wou ‘n gebrekkige geloof in sy intieme volgelinge aan die lig bring. Toe Hy uiteindelik in Betánië opgedaag het, het beide Maria en Martha reguit gesê, “As U betyds hier was, sou dit nie gebeur het nie” (sien Johannes 11:21,32). Hulle kon net sowel gesê het, “Here, waarom so lank wag? Waarom hierdie situasie buite beheer laat raak? Nou is dit te laat. Ons is met niks anders as droefheid agtergelaat nie.”

Jesus het geantwoord, “Jou broer sal opstaan” (Johannes 11:23). Martha het geantwoord, “O, ja, eendag. Ons sal hom by die opstanding sien.” Maar Jesus het vir haar gesê, “Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?” (Johannes 11:25-26). Martha het geantwoord, “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom” (Johannes 11:27). Toe “gaan sy” (Johannes 11:28).

Kan jy jou voorstel wat hier aangaan? Aan die een kant, sê Martha, “Ja, Jesus, ek glo U is God in die vlees en dat U enigiets kan doen.” Sy het geweet sy het in God se aangesig gekyk en ‘n gesprek met Hom gehad. Tog, ten spyte hiervan, het sy “gegaan” asof daar geen God was nie. Sy het pyn en droefheid gevoel en ‘n rivier van trane gestort oor haar broer se dood. Maar sy het nie geglo Jesus was enigsins daarin geïnteresseerd nie. Dit was asof God teenwoordig was, maar nie in staat was om haar te help nie.

Geliefde, dit is gebrekkige geloof. Dit openbaar ‘n geloof in God as Skepper, almagtig en alwetend, maar een wat nie persoonlik in ons belangstel nie. Dit is ‘n wanhopige besluit dat Hy nie God vir ons sal wees in ons huidige beproewing nie. Dit is jammer, maar vandag bring talle Christene vir die Here hierdie soort gebrekkige geloof. Hulle kom na sy huis om Hom te prys, Hom te verhoog as God wat mens geword het en te getuig dat niks vir Hom onmoontlik is nie. Tog vertrou hulle nie dat Hy daar sal wees vir hulle in hulle beproewings nie en glo dat Hy nie betrokke wil wees nie. Dit is die gebrekkige geloof wat Jesus wou regstel in hierdie dierbare susters.

Volgende vind ons Maria by sy voete, huilend. Sy het hoop verloor. Die Skrif sê, Jesus “het...geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel” (Johannes 11:33). Die Griekse woord vir “bewoë” dui op “verontwaardiging.” Toe met ‘n beswaarde sug het Hy vir die vergadering gesê, “Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk” (Johannes 11:34). Op daardie punt, “Jesus het geween” (Johannes 11:35).

Waarom presies het Jesus geween? Diegene naby Hom het uitgeroep, “Kyk, hoe lief Hy hom gehad het” (Johannes 11:36). Hulle het in wese gesê, “Kyk hoe mis Hy sy dierbare vriend. Hy huil omdat Hy hom nooit weer sal sien nie.” Maar dít was nie wat Jesus laat ween het nie. Dit was oor die blote ongeloof van sy intiemste vriende. Jesus se trane het gekom uit ‘n mengsel van hartseer en verontwaardiging oor die blindheid van diegene wat Hom die meeste liefgehad het. Hulle het opgetree soos agnostici wat in God glo, maar nie vertrou dat Hy betrokke is in hulle persoonlike lewens nie. “En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom” (Johannes 11:38). Hy was verwond deur die ongeloof van sy intieme kring van geliefdes en Hy het het trane oor hulle gestort.

Op hierdie stadium het Jesus beveel, “Neem die steen weg” (Johannes 11:39). Hier was duidelike instruksies van die Here. Dit was iets wat Hy wou hê die mense moes doen voor ‘n wonderwerk sou gebeur. Jesus doen dieselfde met ons en vra ons om die swaar steen van ons wanhoop, vrees en ongeloof weg te rol. Waarom vra Hy vir ons om dit te doen? Wanneer ons ‘n krisis beleef, reageer ons op een van twee maniere: Ons word of moeg, vol ongeloof en ons hou op om Jesus te soek – of ons nader tot Hom en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy ‘n woord van leiding tot ons spreek. Die woord wat ons gewoonlik van Hom hoor is, “Rol die steen weg. Stoot alle bekommernis, verwarring en vrees opsy.”

Jy mag dalk nie aanvaar dat Jesus ‘n intieme vriendekring het nie. Dit is waar dat ons Here geen aannemer van persoon is nie en die hele mensdom liefhet. Maar hoewel Hy sy twaalf dissipels ewe liefgehad het as vriende, het Hy ‘n intieme kring gehad van Petrus, Jakobus en Johannes. Hierdie drie was saam met Hom op die Berg van Verheerliking. En toe Hy die dogter van die leier van die sinagoge genees het, “Het Hy niemand toegelaat om in te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes” (Lukas 8:51). Later, in sy donkerste uur by Getsémané, wie was aan Jesus se sy? Hy het Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom geneem en gebid.

Ons kry dieselfde patroon in die Ou Testament. Abraham was die vriend van God genoem. En die Here het met Moses gespreek “soos ‘n man met sy vriend spreek” (Exodus 33:11). God se beloftes is binne bereik en geliefd vir almal wat glo, maar die Bybel maak dit duidelik dat iets besonders gebeur met diegene wat tot die Here nader, wat Hom met hulle hele hart soek. Hulle word vriende van God – en Jesus roep hulle om naby Hom te bly.

Ek sien die Here die toneel voorberei vir nog ‘n Lasarus-tipe geleentheid vir sy intieme vriende in hierdie laaste dae.

Die komende uur vra vir ‘n vlekkelose geloof. Ek glo ons gaan sien dat Christus sy intieme vriendekring na vore roep. Hy daag ons uit met sy woorde aan Martha: “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?” (Johannes 11:40). Trouens, die Bybel vertel vir ons dat in een dorp, het “Hy...daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie” (Matthéüs 13:58). Net so, skryf Jakobus oor diegene wat twyfel in hulle geloof: “Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:7).

Maar natuurlik het Jesus Lasarus uit die graf laat opstaan. “En nadat Hy dit gesê het, het Hy met ‘n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met ‘n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan” (Johannes 11:43-44). Wat ‘n ontsaglike wonderwerk. Waarom het Jesus Lasarus opgewek toe niemand teenwoordig enige geloof getoon het nie?

Eerstens het Jesus dit gedoen om die Vader te verheerlik. En tweedens het Hy dit gedoen om Homself te bekragtig as God in die vlees. Dit is waarom Hy dae voor dit verklaar het, “Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word” (Johannes 11:4). Christus het geweet dat die Godheid verheerlik moes word deur hierdie groot wonderwerk.

Ek sien egter ‘n ander, baie belangrike rede waarom Jesus Lasarus opgewek het. Dit was ‘n geheim wat net aan Maria en Jesus bekend was. Dit het te doen gehad met ‘n een pond kissie wat weggesteek was in haar slaapkamer. Dit was ‘n geseëlde pot baie duur salf genaamd nardus. En dit was die kosbaarste en duurste besitting wat Maria gehad het. Sy het dit gebêre vir ‘n spesiale dag.

So ‘n salf was gebruik in die balsemproses na die dood. Tog is dit duidelik dat Maria selfs nie haar kosbare nardus prysgegee het om haar geliefde broer te balsem nie. (Anders sou dit Lasarus se liggaam verhoed het om te stink.) In plaas daarvan het Maria die kissie styf teen haar hart vasgehou en verklaar, “Dit is vir Jesus, die Seun van God.”

In die volgende hoofstuk lees ons, “En Maria het ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar trane. En die huis is vervul met die reuk van die salf” (Johannes 12:3). Hierdie reuk het nie net die kamer gevul nie; dit het al die pad tot by die hemel opgestyg. God het dit gesien as geseënd omdat die reuk die wierook van geloof was.

Maria se gebaar was ‘n daad van suiwer geloof. Dit het vir die hele wêreld gesê, “My Verlosser gaan die kruis om te sterf. Maar Ek glo Hy is Here oor beide lewe en dood. Ek mag Hom voorheen bevraagteken het, maar ek het nou geen vrae meer nie.” Jesus weet alle dinge en Hy het die heeltyd geweet van hierdie kosbare kissie wat Maria geheim gehou het. Nou, terwyl sy die kosbare salf oor sy voete gegiet het, het Hy vir almal om Hom gesê, “sy het dit bewaar vir die dag van my begrafnis” (Johannes 12:7). Hy het ook geweet dat hoewel Maria ernstig getoets was, sou haar geloof oorwin om die hemel aan te raak.

Het jy by ‘n hopelose punt van wanhoop in jou krisis gekom? Ek vra vir jou: Wat is jou duurste besitting, die kosbaarste ding wat jy het om vir die Here te gee? Dit is jou geloof, wat “baie kosbaarder is as goud” (1 Petrus 1:7). Jou duur gawe van geloof is bedoel om oor Jesus se voete uitgegiet te word.

Op hierdie oomblik vra Hy jou om die steen van ongeloof weg te rol. Dan moet jy met geloof terugstaan en kyk hoe Hy wondere verrig in jou beproewing. Ek dring by jou aan: Laat die wierook van jou geloof opstyg na die hemel waar dit die Vader seën. Hy het gereël dat sy Seun in jou beproewing verheerlik sal word!

Download PDF