Jesus Vernuwe | World Challenge

Jesus Vernuwe

Gary Wilkerson
August 1, 2016

Ons het almal afleidings in die lewe, maar laat ons eerlik wees – mans is die ergste wanneer dit by sport kom. Ek bedoel nie sport speel wat eintlik baie goed sou wees vir ‘n paar rusbanksitters nie, maar op datum bly met sportuitslae. Slimfone en die ESPN app het eens aandagtige mans verander in skermkykers. Al wat ‘n ou moet doen, is om stil die “herlaai” knoppie te druk en dosyne tellings word oombliklik opgedateer. Elke aandjie uit dra die risiko van voortdurende onder-die-tafel kykery.

Laat my nou die lof besing van die herlaai knoppie in God se koninkryk. Met een aanraking van sy ontsaglike genade, word al die ou dinge weggevee – en die lewe word heeltemal vernuwe. Daar is tye in ons lewens wanneer dit nodig is dat dit gebeur. Natuurlik is die enigste Een wat dit kan voortbring, Jesus. “Daarom, as iemand in Christus isk is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het vebygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Korinthiërs 5:17).

Net soos ‘n skerm app, verander niks in ons lewens nie – alles bly gevries, vasgesteek – totdat die herlaai knoppie gedruk word. Is jy vasgevang in patrone van ou maniere van leef, maniere wat jou daarvan weerhou om die varsheid van die lewe in Christus te beleef? Met een aanraking van Jesus – soos die vrou wat genees is deur sy kleed aan te raak – het hy die mag om alles te verander.

Vroeg in sy bediening, het Jesus oor Homself aangekondig: “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê” (Johannes 7:37, klem myne). Jesus het nie net ‘n verklaring uitgereik nie – hy het uitgeroep. En Hy het gewag tot op die belangrikste dag van die fees om op te staan en hierdie aankondiging te maak: “(Hy) het uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: Strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Johannes 7:37-38).

Dit was meer as ‘n teologiese stelling. Dit was ‘n daad van deernis. Dooie godsdiens het God se mense neerslagtig gemaak. Dit moes hulle verkwik, maar dit het hulle met hoegenaamd geen lewe agtergelaat nie. Jesus het nou aangekondig, “Ek is jou beker koue water, die verfrissende fontein wat nooit ophou vloei nie. Jy kan van My drink en vind dat jou lewe voortdurend vernuwe word.” Daar is geen kwalifikasies nodig om van hierdie wonderlike putfontein te drink nie. Christus verseker ons, “Hy wat in My glo .... laat hom na My toe kom en drink!” (Johannes 7:38).

Vriend, lewe in Christus is ‘n herlaai knoppie sonder weerga. Wanneer dit gedruk word, word die mees verstokte, wanhopige, uitgedroogte siel vernuwe met krag uit die hemel. Wanneer Jesus sê, “Strome van lewende water sal uit sy hart vloei,” wys Hy vir ons hoe ons lewens sal lyk met ‘n eenvoudige aanraking van Hom. Sy Gees vul ons sodat ons oorloop met oorvloedige lewe, genade, barmhartigheid en liefde. Sy stroom van lewe verander alles. Soos ek al baie keer gesê het, God gee nooit vir ons ‘n boodskap sonder om dit te bevestig met sy krag nie. As Hy ons geroep het tot ‘n lewe van oorvloedige vernuwing, dan sal Hy alles voorsien om dit te laat gebeur. So, wat is die hindernisse tot hierdie vernuwende lewe?

Die eerste hindernis tot God se vernuwing in ons lewe is ‘n ongelowige hart.

Jesus se eie broers was skepties oor sy aanspraak dat Hy die Messias was. “Want ook sy broers het nie in Hom geglo nie” (Johannes 7:5). Heel sarkasties het hulle Hom aangemoedig om op reis te gaan om Homself te openbaar: “Sy broers het toe vir Hom gesê, Vertrek hiervandaan en gaan na Judéa: sodat u dissipels ook u werke kan sien wat U doen. Want niemand doen iets in die geheim en soek tegelykertyd om in iedereen se mond te wees nie. As U hierdie dinge doen, vertoon Uself aan die wêreld” (Johannes 7:3-4).

Miskien was Jesus se broers sinies omdat hulle saam met Hom grootgeword het. Of miskien was hulle soos Josef se broers, jaloers op ‘n manier wat net broers kan wees. Wat belangrik in beide gevalle is, was dat hulle nie geglo het nie. Hulle het nie verwag dat God dinge sou verander nie en deur hulle broer sou werk nie. En so was hulle lewens vasgekluister aan ‘n skerm van ongeloof. Dit is die eerste hindernis wat keer dat ons lewens vernuwe word: ‘n ongelowige hart.

“Toe sê Jesus vir hulle: My tyd is nog nie daar nie. Maar julle tyd is altyd daar. Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is. Gaan julle op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie daar is nie. En nadat Hy dit aan hulle gesê het, het Hy in Galiléa gebly” (Johannes 7:6-9). Hy het in wese gesê, “As jy nie glo dat God aan die werk is in jou lewe nie, dan leef jy volgens jou eie planne. Jy kom en gaan soos sy wil en maak jou eie keuses. Maar Ek gaan slegs wanneer Ek die Vader hoor. Ek kan nie net gaan om Myself te bevorder en te doen wat Ek wil nie. My lewe is nie my eie nie, maar Syne.”

Dit is ook waar van elke belydende Christen. Ons is nie ons eie nie, maar Syne. Dit het begin toe Jesus eerste die herlaai knoppie in ons lewens gedruk het. Ons was weergebore, ‘n nuwe skepsel in Christus, en om vir Hom te leef, beteken om nie meer vir onsself te lewe nie. Ons getuienis het geword, “Ek was verlore, maar nou is ek gevind. In die verlede was ek ‘n slaaf van ongeregtigheid. Maar nou is ek ‘n gewillige en ywerige slaaf van die Regverdige. Ek onderwerp my lewe voortdurend aan Hom.”

Iets interessant het in hierdie toneel van Jesus se lewe gebeur. Net die volgende vers sê, “Maar nadat sy broers opgegaan het, toe het Hy ook opgegaan na die fees, nie openblik nie, maar indie geheim” (Johannes 7:10). Waarom het Jesus gesê dat Hy nie sou gaan nie – en daarna besluit om wel te gaan? Dit is duidelik dat Hy van die Vader gehoor het. Een oomblik het Hy vir sy broers gesê, “Dit is nie my tyd nie.” Toe, binne ‘n dag of ‘n uur of miskien net ‘n oomblik, het die Vader vir Hom gesê, “Dit is die regte tyd, die regte seisoen, die regte geleentheid. Gaan.”

Ek wil dikwels my eie besluite maak in die lewe in plaas daarvan om my te onderwerp aan God se weë. Ons is geroep om van Hom afhanklik te wees, om sy leiding te soek, om op sy leiding te wag in belangrike besluite in die lewe. Maar om dit te doen, kan ons laat voel dat ons lewens gebottelnek is. Met tye oor die jare het ek vir my vrou gesê, “Soms dink ek dit sou makliker gewees het om nie ‘n Christen te wees nie. Ek wens ek het nie nodig gehad om dinge met God uit te klaar nie.” Ek het diegene wat vir werk aansoek gedoen het as hulle dit wou hê, nie nodig gehad het om tiendes te gee van hulle inkomste nie en wat pak en trek as hulle êrens anders wou gaan woon, beny.

Ek dink nie ek alleen het hierdie gedagtes nie. Om ons lewens aan God se wil en leiding te onderwerp, is ‘n opoffering. Maar die voordele kan nie gemeet word nie. Dit bewaar ons van baie moeilikheid, pyn en harsteer. Buiten dit, beteken om op God te wag soms om iets nuut en verfrissend te doen, wat ons nooit op ons eie sou gedoen het nie. Om na God te luister is nie net wys nie, dit is lewegewend. As ons harte in ooreenstemming is met Syne, bemagtig dit ons vir alles. Nie net dit nie, maar ons sien sy koninkryk doelwitte in ons vervul word. En niks verkwik ‘n lewe meer as dit nie!

‘n Tweede hindernis vir ‘n lewe van vernuwing is ‘n bitter, murmurerende hart.

Sommige van die feesgangers in Jerusalem het hulself afgesny van Jesus se beloftes weens hulle bitterheid. “En daar is baie oor Hom gemompel onder die skare. Sommige het gesê:  Hy is goed. Ander weer het gesê: Nee, Hy mislei die skare” (Johannes 7:12). Wat was Christus se reaksie hierop?

Dit was dieselfde reaksie wat God gehad het toe Israel gemurmureer het in die wildernis. Daardie generasie was so dors en letterlik uitgedor vir verfrissende water om te drink. En hulle het bitterlik begin kla: “Maar die volk het daar gesmag na water, en die volk het teen Moses gemurmureer en gesê: Waarom het u ons dan uit Egipte laat optrek om my en my kinders en my vee van dors te laat omkom? Toe het Moses die HERE aangeroep en gesê: Wat moet ek met hierdie volk doen? Dit skeel maar min of hulle stenig my. En die HERE het  Moses geantwoord: Trek voor die volk uit, en neem van die oudstes van Israel met jou saam; en neem jou staf waarmee jy die Nyl geslaan het, in jou hand en gaan weg. Kyk, Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan; dan moet jy die rots slaan, en daar sal water uit kom, dat die volk kan drink. En Moese het so gedoenvoor die oudstes van Israel” (Exodus 17:3-6).

Die besonderhede van hierdie toneel – en van God se deernis vir die mense – word weerspieël in Jesus se offer. Christus is die rots wat geslaan is vir ons oortredinge toe ons verlore was en afgedwaal het. En Hy is die Lewende Water wat ons onderhou. Paulus sê vir ons, “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders...dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:1,4).

Die toneel in die wildernis demonstreer wat Jesus vir murmurerende mense doen: Hy neem hulle straf op Hom. Hy verklaar, “Ek sal vir hulle veroordeeld staan, Ek sal gegésel word, Ek sal hulle sonde op my rug neem, Ek sal aan die kruis vasgenael word in hulle plek – alles sodat hulle oorvloedige lewe mag ontvang.”

Steeds is daar sommige Christene wat hierdie wonderlike gawe verbeur deur vas te hou aan bitterheid. Paulus sê in net die volgende vers, “Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom  as voorbeelde vir ons en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons” (1 Korinthiërs 10:5,11). Ons lewens kan wegkwyn van bitterheid, of dit kan vernuwe word deur die wonderlike genade wat God aan ons bied – dit is ons keuse. Maar sy belofte van lewe bly beskikbaar vir ons in ieder geval. Wanneer ons Hom toelaat om die herlaai knoppie vir ons te druk, verdwyn alle bitterheid en murmurering – en Hy vervang dit met nuwigheid van lewe.

Wat vir my die hartseerste is, is ‘n derde hindernis wat mense weerhou van God se herlaai knoppie: vrees.

Hoewel die feesgangers in Jesus geglo het, was hulle bang om dit te sê. “Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, uit vrees vir die Jode” (Johannes 7:13). As jy vasgevang is in vrees, weerstaan jy om in geloof uit te stap. Jy begin dink jy is nie waardig om vernuwe te word nie. Maar Jesus het ‘n geneesmiddel vir jou vrees. Toe al die ander by die fees hulle geloof weggesteek het, het Hy opgestaan en verklaar, “Hierdie rivier van Lewende Water sal nie gekeer word nie. Dit sal vloei waarheen my Vader bepaal het. En as iemand in My glo, sal hierdie water hom voed met lewe. Dit sal uit hom vloei soos ‘n rivier en die goedheid van die hemelse Vader demonstreer.”

Wanneer ons vreesagtige harte verkwik word, is die een ding wat in ons invloei vrymoedigheid: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13). Talle Christiene ken hierdie vers as ‘n kosbare belofte. Maar dit is meer as dit – dit is ‘n realiteit. Ons hoef nie vrymoedigheid bymekaar te skraap om van Jesus te getuig nie; Hy voorsien dit. Hy veroorsaak in werklikheid dat dit ons daarvan oorloop. Wanneer ons verkwik en vernuwe is deur sy Gees, hoef ons nie te wonder of ons die krag het om oor Hom te praat nie. Sy Gees sal in ons opborrel, sodat ons nie anders kan as om te praat nie!

Hoe beïnvloed God se vernuwing prakties ons lewens?

Dit gebeur op twee maniere: (1) omstandigheidsvernuwing en (2) wesevernuwing. Wanneer God ons omstandighede vernuwe, verander Hy ou patrone wat mag insluit ons huwelik, ons finansies en ons werk. Laat ons sê ons het in finansiële moeilikheid en kolkende skuld beland. Hy mag ons vernuwe deur ons ongesonde, spandabelrige patrone te openbaar en ons oortuig om dit te verander. Hy mag ons lei om finansiële raad te soek wat ons kan help om daardie patrone te verander en ons leer om wyse rentmeersters te wees.

Of Hy mag moontlik ou patrone in ons huwelik verbreek, patrone wat ons vasgevang hou in verharde, liefdelose maniere. Hoeveel paartjies sê vir mekaar, “Jy is altyd so,” of “Jy het dit vyf jaar gelede gedoen,” of “Jy sal nooit verander nie.” Die belangrikste vraag vir enige paartjie is, “Hoe kan ek die beste van my gade glo en steeds ons kwessies realisties hanteer?” Dit begin met die herlaai knoppie. Baie min verhoudingsprobleme word oornag opgelos; die meeste vereis pligsgetroue genade elke dag. Jesus is gered om ons te vernuwe met oorvloedige genade elke keer as ons dit nodig het.

Hierdie soort vernuwing handel oor ons omstandighede. So wat is wesevernuwing? Dit strek verder as ons omstandighede na ons siele, ons lewens en ons innerlike wese om dit te verkwik en te vernuwe. Hierdie soort vernuwing vloei nie net in ons in nie, maar uit ons uit. Dit vul ons met blydskap vir ons huwelike, vir tiendes gee en vrygewig te wees, om moeilike verhoudings met hoop en moed en energie te hanteer.

Kortliks, wesevernuwing veroorsaak dat ons uitsien na elke oomblik van ons lewe met Jesus. Dit wek in ons ‘n hart op wat sê, “Ek lewe ten volle en vrees nie die dag nie. Ek is oorstelp van blydskap om Jesus te volg. Hy maak my vol moed en nie vreesagtig nie. Here, laat my hierdie groot oorvloed van lewe vir U gebruik! Lei my waar U wil hê ek moet gaan vandag.”

Wat vloei uit jou uit op hierdie oomblik? Ongeloof, murmurering en vrees? Of geloof, hoop en liefde? Net soos Hy by die fees in Jerusalem gedoen het, roep Jesus jou om jou ongeloof, bitterheid en vrees vir Hom te bring. Hy wil dit alles vervang met tevredenheid en aansteeklikheid om jou van leegheid na volheid te bring. Hy het beloof, “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: Strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Johannes 7:37-38). Amen!

Download PDF