Moedige Gebed op die Rand van Oordeel | World Challenge

Moedige Gebed op die Rand van Oordeel

Gary Wilkerson
October 24, 2016

Ek is nie gewoond om boodskappe oor hierdie onderwerp te skryf nie en jy sal moontlik verras wees met hierdie een. Ek berei dit voor met groot voorbehoud; dit het my ver anderkant my gemaksone geneem, selfs al is ek daaraan toegewyd om die hele raad van God te verkondig. Op hierdie oomblik, is ek verplig om te praat oor iets wat ek in ons kultuur sien gebeur. Ek het oortuig geword dat Amerika nou op die rand is van een van die grootste oordele wat dit nog ooit in die gesig gestaar het. In in hierdie droewige uur het God iets vir sy kerk te sê wat moontlik sal begin om die gety te laat draai.

Toe ek grootgeword het, was dit nie ongewoon om hierdie soort van swaar boodskap in die denominasie waarvan my familie deel was, te hoor nie. Nou en dan het ek my vader hoor preek oor die onderwerp. Ek praat van ‘n profetiese boodskap (hoewel my pa onversetlik was dat hy nie ‘n profeet genoem moes word nie. Hy het gesê hy was ‘n “wag”). As jy my vader se bediening ken – hy het nie net The Cross and the Switchblade geskryf nie, maar ook die boeklengte profesie The Vision – en dan weet jy hy kon gedring word om te preek oor wat hy sien gebeur het in die kultuur en wat moontlik op pad was. Aan die middelpunt van dit alles was ‘n heilige, liefdevolle God wat opgetree het teenoor dinge wat besig was om sy volmaakte Skepping en sy wonderlike doel vir die mens te ruïneer.

Toe ek grootgeword het, het ek nooit die mantel wat my vader in sy rol gedra het, waardeer nie. By die Bybelkollege het ek klasmaats gehad wat Pa se boeke gelees het en vir my gevra het, “Dink jy al die ramspoedige gebeure sal in 1989 begin? Of in 1990? Ek het nooit vir hulle ‘n antwoord gehad nie; Ek het myself meer daarop toegespits om die basketbalspan te haal of om by my meisie by die huis te gaan kuier. Ek het nie regtig die doel van die profetiese boodskappe verstaan nie. My Bybel was vol onderstreepte gedeeltes oor genade, vrede en die eenheid van Christene, nie oordeel, toorn en chaos in die samelewing nie. Ek het nie preke opgestel wat voorspel het dat ekonomiese ineenstorting of seksuele immoraliteit hele samelewings sou omverwerp nie.

Vandag waardeer ek die boodskappe wat my pa verkondig het en die angs wat dit hom veroorsaak het meer. En ek het vertroue in die ure wat hy deurgebring het om met God te stoei oor die swaar preke wat hy moes lewer. As self ‘n herder, waardeer ek A.W. Tozer se les dat God lief is daarvoor om te praat met ‘n man of vrou wat luister. Ek vrees egter dat die kerk daardie praktyk verloor het. God wil met ons praat oor ons familie, ons huwelik, ons lewe se rigting, maar ons ore is minder en minder ingestel op sy stem en meer op die wêreld s’n.

Die Bybel noem hierdie toestand ‘n hongersnood van die Woord van God. Dit is ‘n gebrek aan kennis oor God en sy weë, en in tye van chaos, sal Hy die hongersnood gebruik om ons aandag te kry. Tans het Hy my volle aandag. En as Hy met genade-georiënteerde herders soos ek praat oor swaar boodskappe oor die samelewing, sê dit vir my dat Hy iets wil doen.

Ek het begin besef ons samelewing misluk ernstig op drie maniere.

Die eerste – en miskien die duidelikste – is die Amerikaanse politieke toneel. In enige veldtogseisoen sien ons slegte gedrag en hoor ons ongesonde boodskappe. En dit is moontlik die ergste verkiesingsiklus nog. Maar dit is nie waaroor ek begaan is nie. Wat ek sien, is ‘n patroon van afskuwelike gedrag deur ons leiers oor die afgelope twintig jaar sonder enige berou, geen gevolge nie en geen verandering nie. Jy sal moontlik sê ek gaan tot uiterstes omdat ek dit sê, maar Satan het ‘n voet in die deur gekry onder ons leiers en dit word meer en meer opsigtelik.

Twintig jaar gelede, was ‘n vorige President gevang in ‘n seksskandaal in die Ovaalkantoor. Hy het as President aangebly sonder om verwydering in die gesig te staar. Op daardie stadium het die Speaker van die Huis hom agressief in ‘n staat van beskuldiging gestel, maar heeltyd het die Speaker self ‘n buite-egtlike verhouding gehad. Selfs vandag het ‘n U.S. Senator erken hy gebruik ‘n gesellinne-diens, het daarvoor verskoning gemaak en in sy posisie aangebly.

As ‘n nasionale leier net ‘n paar dekades gelede betrap was in enige soort skandaal, sou hy onmiddellik bedank het. Maar vandag is daar min skande aan hierdie dinge verbonde. Ek dink aan die Here se woorde aan Jeremia: “Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwels bedryf het, tog skaam hulle hul nie in die minste nie en weet nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; in die tyd van hulle besoeking sal hulle struikel, sê die HERE” (Jeremia 8:12).

As Christene weet ons ons hoop rus nie op hierdie wêreld nie. Wanneer ons ons hoop op ‘n leier of ‘n instelling plaas, word ons teleurgestel. Die openlike sonde wat opgebou het oor die laaste twintig jaar, het ‘n skreiende skande geword. En soos God vir Jeremia gesê het, sal Hy nie stilbly nie.

‘n Tweede manier waarop ons samelewing val, is ons grootskaalse afwaartse morele spiraal.

In net ‘n paar jaar se tyd, is homoseksualiteit genormaliseer, al leer die Bybel duidelik daarteen. Wette word ingestel wat verdraagsaamheid teenoor homoseksualiteit vereis, maar op ‘n kulturele vlak, word daar van ons verwag om dit met blydskap te verwelkom. Dit is duidelik problematies vir Bybel-gebaseerde kerke. As Christene het ons homoseksuele en elke ander mens, wat deel met ‘n seksuele sonde, lief. Dit maak egter nie saak hoe jy daarna kyk nie, homoseksuele praktyke kan nie versoen word met die Skrif nie. (Sommige kerke sê dit kan, maar deur dit te probeer doen, bring hulle God se gesag grootliks in gedrang.)

In die tussentyd, terwyl ons Jesus se voorbeeld volg om alle mense selfopofferend lief te hê, insluitend homoseksuele, word ons gebrandmerk as haters en dwepers. Maar daar is geen haatspraak in die Bybel nie – slegs ongemaklike spraak oor sonde. Huidiglik beveel die samelewing ons basies om die gedeeltes uit te haal wat praat van homoseksualiteit as sondig. My hart breek hieroor, omdat homoseksuele ‘n leuen verkoop word. Dit maak nie saak wie ons is nie – as ons ons nie bekeer van sonde nie, word ons verhouding met God gruwelik ontspoor.

Ek is die eerste om te sê dat die kerk nie ‘n voorsprong het op enigeen wanneer dit kom by moraliteit nie. Ons is niks beter as iemand anders nie; Bybelse teologie sê dit vir ons. Maar binnekort in die toekoms, sal hoofberigte herders beskuldig dat hulle haatspraak gebruik wanneer hulle seksuele sonde aanspreek. Wanneer daardie beskuldiging in ons kultuur ‘n vastrapplek kry, sal wette volg en die kerk sal meer verloor as net ons belastingvrystellingstatus. Ons sal ons stand verloor by diegene wat nodig het om te hoor dat Jesus Goeie Nuus is.

Dit is jammer dat die mense wat uitgelaat word in hierdie gesprek, Christene met ‘n gay oriëntasie is – getroues wat sê, “Ek sal moontlik hiermee stry vir die res van my dae, maar ek wil hê my lewe moet God behaag. As dit beteken dat ek nooit trou of nooit ‘n huweliksmaat sal hê om my lewe mee te deel nie, laat dit so wees. My God het my lief, Hy weet wat die beste vir my is en Hy is weer en weer getrou bewys in my lewe.”

Ek loof hierdie broers en susters wat nie ‘n makliker manier kies as die goddelike manier wat Jesus vir hulle het nie. Satan kyk altyd om ‘n voet in die deur te kry om ons harte teen God se waarheid in te stel. Maar hulle het dit weerstaan en opgestaan om te sê, “Dit gaan nie oor my nie. Dit gaan oor U, Here.”

Die vyand stook ‘n derde manier waarop ons samelewing val: deur vure van geweld.

Probleme het nou meer sigbaar na ons stede gekom as ooit. Sommige hiervan is rassehaat, sommige daarvan is ekonomies en baie hiervan is geweld. Die sigbaarste probleem is die konflik tussen die polisie en die Swart gemeenskappe. Daar is wydverspreide vrees onder Swart Amerikaanse kinders wat onseker is oor hoe polisie hulle sal behandel. By Springs Kerk ondersteun ons direk ons polisie, want ons ken die risiko’s van hulle diens. En ons reik direk uit na middestedelike kinders wat so baie probleme in hulle lewens beleef.

In sy laaste jaar, het my vader 1,000 brandende vure in Amerikaanse stede gesien. Ek wonder of die geweld wat ons nou sien ‘n kykie is van wat hy in sy geestesoog gesien en gesidder het oor. By World Challenge word ons gedring om iets hieraan te doen. Vir meer as veertig jaar het ons in diep geteisterde areas van Asië tot Afrika tot Latyns-Amerika en Oos-Europa gewerk. Nou beplan ons om tuis uitreike in stede en dorpe dwarsdeur die V.S.A. te doen. Ons sending is om die evangelie van vrede te verkondig, om hoop te bring waar daar vrees is en om lewe te herstel waar dit vernietig is.

Satan het ‘n voet in die deur gekry deur die geweld. Maar hy hou nooit daar op nie – hy soek altyd daarna om die deur in te skop en heeltemal oor te neem. En ek glo hy wil ‘n volskaalse oorlog in die strate hê. Ek bid dat hierdie geweld nie sal toeneem nie. Ek sien egter voorstedelike bendes wat wapens opneem om oorlog op militaristiese wyse teen die polisie te voer. Ek sidder as ek dit sê. Dit is egter net een gevolg van samelewings wat hulle wend na goddeloosheid. Wanneer kwaad goed gepraat word en goed kwaad, laat God toe dat oordeel val. Hy doen dit nie om te vernietig nie, maar sodat ons die kwaad wat ons toegelaat het kan herken en ons harte en hoop kan terugdraai na Hom toe.

Paulus waarsku dat ons dit in die laaste dae sou beleef.

“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom” (2 Timóthéus 3:1). Paulus sê dit nie om ons bang te maak nie. Hy reken dit alles toe aan die sonde van die menslike hart: “Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat in gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer julle van sulke mense af” (2 Timóthéus 3:2-5).

Dit is nogal ‘n lang lys van sondes. Paulus praat egter nie net met die wêreld nie, maar ook met ons Christene: “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.” Wanneer hy sê, mense sal liefhebbers wees van hulleself, het hy die situasie in talle kerke vandag heel akkuraat beskryf. Terwyl kwaad toeneem, verhoog hierdie kerke hulle strewe na selfbevordering, voordeel en gemak. God sê nooit vir ons om die ongereddes te vermy nie; hulle is ons primêre sending. So, wanneer Hy sê, “Keer jou van hierdie mense af,” verwys Hy na mede-Christene wat God se gesag in hulle lewens verloën. Paulus bevestig dit deur te sê, “Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie? Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit” (1 Korinthiërs 5:12-13). As God se kinders, watter duideliker oproep is daar tot bekering om te hoor?

Satan sal aanhou om dood voort te spu. En slegs een ding kan hierdie hel op aarde teëstaan: ‘n kerk wat in staat is om op te staan en sy Woord met moed en integriteit te verkondig. Sonder ‘n heilige teenwoordigheid in hierdie duister wêreld, sal die wêreld nooit ‘n alternatief ken nie.

Ons probleem is dat ons probeer om soos die wêreld te wees. Ons is bang om mense af te skrik en daarom gaan ons tot uiterstes om almal wat by ons deure inkom, tevrede te stel. Sommige kerke maak dit hulle sending om plekke te wees waar mense oor hulself leer, opgebou word in hulself en goed voel oor hulself. Ek is daarvoor om die neerslagtiges te bemoedig, maar hierdie kerke mag moontlik die sonde aanmoedig wat Paulus sê agter al die onrus is: ‘n liefde vir self.

God het ons geroep om anders as die wêreld te wees – merkbaar anders. “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Korinthiërs 2:14). Daardie andersheid is presies wat die wêreld nodig het. Die wêreld wag op dit wat ons die wêreld moet gee. Soos Paulus sê, “Maar as almal profeteer en daar ‘n ongelowige of ‘n onkundige binnekom, dan word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel; en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En So sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is” (1 Korinthiërs 14:24-25).

Ons eerste taak is om die hongersnood van God se Woord onder ons stop te sit. ‘n Ontmoeting met sy Woord sal ons verlos van “besigheid soos gewoonlik” as Christene. Dit sal ons konfronteer met ons droogheid, koudheid en ongeërgdheid teenoor Christus se weg. En dit sal ons op ons knieë bring in afhanklike gebed teenoor God om verandering teweeg te bring.

Gebed verander dinge. Dit verander ons harte, ons families, ons kerke, en uiteindelik ons wêreld. Sal jy jou saam met my verbind om drie dinge te doen: om te bid dat God se Woord ‘n werk in ons harte doen; om met integriteit te staan as ‘n stem vir sy Woord; en om tot Hom te bid om veranderinge te bring wat net Hy kan bring?

Ek bid dat ons sal sien dat God Homself openbaar, soos Hy gedoen het in so baie herlewings en bewegings wat kulture verander het. Hy alleen kan die gety van boosheid wat vrygestel word, keer – en weer ontsag bring na ‘n kultuur, wat verdwaal het. Hy alleen kan die kerk opwek, ons na bekering lei en selfs geestelike ontwaking na ons samelewing bring. Laat ons terugkeer na die Here met ons hele hart. Laat ons sy aangesig soek en tot die hemele roep om ‘n nuwe en groot werk in ons land te sien gebeur. Amen.

Download PDF