Ontruim die Verhoog | World Challenge

Ontruim die Verhoog

Gary Wilkerson
December 26, 2016

Soos ons 2017 begin, glo ek dit sou vir die hart van God groot plesier verskaf as ons op ons knieë sou neerval en Hom vra wat Hy graag anders sou wou sien gedoen word in ons kerk en in ons eie lewens.

Net soos talle kerke dwarsdeur Amerika, is ons kerk in Colorado Springs geseën met ‘n talentvolle personeel en pragtige geboue. Ek dank God vir al die gawes en middele wat ons het om ‘n wonderlike omgewing te skep vir ons mense. Maar onlangs het ek in beroering gekom oor wat ek sien gebeur in baie van ons gemeentes dwarsdeur die land. Ek het gewonder of die elemente wat baie van ons gebruik – vermaaklike musiek, sosiale skakelings, opbouende preke – dalk begin het om belangrike dinge te oorskadu. Te midde van al hierdie opwindende elemente, is die kruis van Christus steeds ons fokus? Is dit moontlik dat Jesus se dood en opstanding verlore raak tussen die positiewe gevoel wat ons almal probeer skep? Ek het baie tyd deurgebring in gebed waartydens ek God gevra het of ons die profetiese rol ten volle uitleef waarvoor Hy ons as ‘n liggaam op aarde geroep het.

Ek wil dieselfde uitdaging gee vir die groter kerk vandag. Talle herders beplan hulle aanbiddingsdienste om almal wat by die deure inkom op te bou. Hulle spandeer weke om die musiek, preek- en gemeenskapsruimtes te koördineer om seker te maak die gemeente voel goed. Ons het in der waarheid professioneel geword om gemaklike, opbouende, selfs behaaglike omgewings te skep. Maar aanbid ons God in gees en in waarheid? En verander dit ons na sy lewende beeld? Is die wêreld se uitkyk op Christus se liggaam een van plesier en gerusstelling – of van veranderende lewens met krag wat van bo onsself kom?

Om hierdie drie dinge te vra, laat my moontlik klink soos niks anders nie as ‘n outydse knorpot, wat kla oor hoe dinge verander het. Maar die Bybel het baie te sê oor hierdie onderwerp – en God neem ons aanbidding baie ernstig op.

Die Skrif is vol waarskuwings daarteen om leë aanbidding vir God te bring. Die Here het sy profete en priesters gewaarsku, “Julle genees die wonde van julle volk, maar net bolangs.” Met ander woorde: “Julle laat hulle goed voel vir die oomblik. Hulle vergeet van hulle gesukkel. Maar julle plant vals hoop in hulle in.”

As die kerk vandag net gaan oor positiewe denke en om mense beter te laat voel, bied ons niks wat Tony Robbins of Oprah Winfrey nie kan gee nie. Kerk gaan nie oor wat jy of ek kan doen nie; dit gaan oor wat Christus gedoen het. Die wonderlike verhoudings wat ons bou, is nie sodat ons ‘n groot sosiale sentrum kan wees nie. Die preke en musiek wat ons bied, is nie vermaak nie. Kerk is God se huis en wanneer ons in sy Naam vergader, seël Hy dit met sy teenwoordigheid. Daardie teenwoordigheid lei ons altyd tot verwondering. Volgens Paulus, moet God se teenwoordigheid sentraal wees tot ons aanbidding, so tasbaar, dat as ‘n ongelowige daar instap, hy op sy knieë sal val en uitroep, “Waarlik, God is in hierdie plek!”

Die boek Openbaring gee vir ons kragtige beelde van engele wat God se teenwoordigheid aanbid. Hulle bedek hulle aangesigte terwyl hulle voor Hom val en uitroep, “Heilig, heilig, heilig is die Here God Almagtige, wat was en is en kom!” Hierdie magtige wesens ontruim die verhoog in die hemel vir die Een wat hoog, verhewe en regmatig verhef word as die Naam bo alle name.

God se teenwoordigheid is bedoel om lig vir ons oë te bring. Dit wys vir ons die verskil tussen die koring en die kaf in ons lewens. Dit is waarom God se Woord ‘n louterende vuur genoem word: Dit reinig. Dit word ook ‘n swaard genoem, ‘n instrument wat deurboor en sny. Hierdie gereedskap word gebruik om dinge te skei en dit skei die rein van die onrein.

Per definisie, is hierdie dinge nie aangename dinge nie – dit is ongemaklik. En van nature weerstaan ons dit. Ons roep uit vir gemak en plesier in ons lewens, ons werk, ons strewes en ons huis. Soos die Bybel dit stel, ons harte is geneig om uit te roep, “Spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry” (Jesaja 30:10). En die materialistiese wêreld wag altyd om ons behoefte te bevredig. Nou kompeteer kerke om ons te voorsien met soortgelyke plesiere op Sondae. Maar die Bybel waarsku oor die gevaar daarvan om slegs boodskappe te soek wat vertroos in plaas van boodskappe wat uitdaag. Die Israeliete was lief daarvoor om in staat te wees om hulle afgode toe te laat en hulle nie prys te gee nie. Die  gevolg was dat hulle hul onderskeiding verloor het.

God se eerste gebod is, “Jy sal geen ander gode voor my aangesig hê nie.” Dit beteken nie dat ons God net voorkeur moet gee bo ander dinge nie. Die woord “voor” in hierdie vers beteken in werklikheid “in my teenwoordigheid.” God sê in wese, “Moenie enige gode in my teenwoordigheid inbring nie – jou afgode van plesier, jou ambisie, jou menslike vermoëns. Ek sal nie in enige daarvan woon nie.” God roep ons om die verhoog te ontruim, sodat Christus weereens sentraal kan wees.

Die eeste plek waar God die verhoog wil ontruim, is ons aanbidding.

Ons benadering tot aanbidding vandag is soos TV se “The Voice.” Die program se paneel beoordelaars staan met hulle rûe só dat hulle nie die sanger kan sien nie. Die enigste standaard vir wat hulle hoor is, “Hou ek daarvan?”

Dit is ook die enigste standaard wat Christene het vir hulle kerk se aanbidding. Hou ek daarvan? Nie, “Is God waarlik in hierdie plek?” nie. Vir ‘n lang tyd, was ‘n debat gevoer oor wat God meer eer, gesange of kontemporêre musiek; natuurlik is die antwoord, nie een nie. Ons het slegs een standaard vir ons aanbidding: “Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:23-24). Soos die beoordelaars op “The Voice,” wil ons vermaak word eerder as om ons knieë in verwondering te buig. En kerke akkommodeer ons met skitterende verhoogbeligting, rookmasjiene en gechoreografeerde aanbiddingspanne.

Moet asseblief nie dink ek skiet skote na aanbiddingsleiers nie. Ek mik op ‘n kerkkultuur wat ons almal geskep het. Ons dring aan op vermaak en ons wil hê ons aanbiddingsleiers moet popsterre wees. As jy dink ek oordryf, aanbiddingsmusiek het nou hulle eie topverkoper aanwysings op iTunes en Billboard. ‘n Komponis of “sanger” van aanbiddingsliedere kan oor ‘n skerm vee om uit te vind waar hy of sy gereken word in gewildheid. Maar God se teenwoordigheid het niks te doen met iemand se gewildheid nie. Hy is teenwoordig by diegene wat Hom op hulle knieë soek, nie op die verhoog nie.

In talle kerke word mense weggelok van ware aanbidding af deur ‘n gees wat nie God s’n is nie. Ons fokus het stadig en subtiel verskuif van Christus en sy kruis af na dinge van die vlees. ‘n Paar dekades gelede het aanbiddingsliedere begin verskuif van Christus-gesentreerde teologie na “Ek”-gesentreerde aanbidding – “Ek hef my hande op, Ek besing U lof, Ek verheerlik U Naam.” Nou gaan aanbiddingsliedere selfs verder met lirieke soos, “Ek is lief daarvoor om naby U te wees.” Die fokus is nie net op ons nie, maar op dit waarvan ons hou.

Ek wil hê jy moet een vers beskou van ‘n gesang deur Charles Wesley. Let op die onstagwekkende teologie wat hy daar invoeg: “En kan dit wees dat ek sou kry / ‘n Belangstelling in die Verlosser se bloed? / Het Hy gesterf vir my, wat Hom pyn laat ly het? / Vir my, wat Hom tot die dood gejag het? / Wonderlike liefde! Hoe kan dit wees, Dat U, my God, vir my sou sterf?” Dit is die ware aanbidding verskuldig aan ons wonderlike God: “Here, U is groter, U is magtiger, U is wonderliker, U is heerliker as enigiets wat aan mense bekend is. Ons buig aanbidding voor U neer!”

Ek is nie net een of ander ou kêrel wat verlang na outydse aanbidding nie. Ek hoor pragtige, diep liedere van jong skrywers wat my op my knieë laat neerval. Ek is in staat om in enige omgewing te aanbid, met enige musiekstyl, weens een rede: Ek weet ek is in God se heilige teenwoordigheid. Ek het in eenvoudige kerkies in Sentraal Asië aanbid waar liedere klink na die galmende klank van silwerware wat op die vloer val – as God egter teenwoordig is, reageer my siel altyd, “Heilig, heilig, heilig, Here – U is waarlik in hierdie plek.”

God het vir die profeet Amos gesê, “Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie...Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie. Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom” (Amos 5:21, 23-24). God sê hier vir elke geslag, “Dit is nie die lied of die klank wat Ek van jou verlang nie. Dit is geregtigheid wat uit jou aanbidding vloei en die dade wat dit in jou opwek om in my Naam te doen.”

Ons kan nie langer ‘n lied se krag meet deur of dit ons vermaak of enige ander menslike standaard nie. Ons meet dit deur of dit na vore roep dit wat die Heilige Gees op daardie oomblik wil hê. Ons aanbidding moet ‘n standhoudende stroom van sy regverdige teenwoordheid wees. Daarom mag ons dit nie waag om op die verhoog toe te laat diegene “Wat liedjies sing met begeleiding van die harp, wat...hulle met die beste olie salf” (Amos 6:5,6) nie. Dit spreek van leiers wat ons salf op grond van hulle talent, vaardigheid en knapheid. God roep ons om die verhoog te ontruim van enige standaard wat verskil van die volgende: “U is waarlik in hierdie plek, o God!”

God roep ook herders en gemeentelede om die verhoog te ontruim.

Ek praat met myself as ek vir alle herders sê: Plaas ons meer vertroue in strategieë, strukture en programme as in God om ons te lei? Indien wel, moet ons die verhoog ontruim van daardie dinge. Ons gemeentes het nie konsultante nodig om hulle te lei nie – hulle benodig manne en vroue wat God ken. Dit is tyd om die verhoog te ontruim van enige ingesteldheid wat na die raadskamer jaag, maar die gebedskamer ignoreer.

As jy ‘n Christen gemeentelid is, kan jy moontlik sê, “Amen! Ek wil ‘n herder hê, nie ‘n bestuurder nie.” Maar word jy neerslagtig by die gedagte om ‘n kerk by te woon wat skynbaar minder dinamies, minder aantreklik is vir jou nie-Christen vriende en minder programme bied vir jou kinders? Wat as jou gemeentelede stadig verdwyn totdat die helfte weg is? Wat as dit die prys is om te betaal om jou herder toe te laat om ‘n man van gebed, in plaas van ‘n bestuurder te wees; om God se heilige leiding te volg in plaas van ‘n kerkgroei-rigting; vir die verwelkoming van preke oor God se droefheid eerder as net opbouende praatjies?

Ons wil almal vertroosting by ‘n kerk vind. Maar selfs ons Meester Jesus het nie al die vertroosting gekry wat Hy begeer het nie. Gedurende die nag voor sy dood, het Hy gebid dat God die beker by Hom sal laat verbygaan. Toe God se wil egter duidelik word, het Jesus die beker in gehoorsaamheid gedrink – en dít is die groot verskil.

Kerke kan al die kwaliteite hê van ‘n volmaakte dinamiese liggaam. Ons kan seker maak dat elke preek goed geartikuleer is, dat elke lied volmaak harmonieer, dat al die espresso masjiene mense se bekers vol maak – maar dit is alles nutteloos as God se teenwoordigheid nêrens te vinde is nie. Dit is waarom Petrus vir die vroeë kerk in wese gesê het, “Ons moet al hierdie administratiewe werk vir die diakens laat. As ons ware bedienaars van God moet wees, moet ons elke oomblik wat ons kan, deurbring om sy aangesig te soek.”

Dit is tyd om die verhoog te ontruim van meningsopnames wat mense vra wat hulle in ‘n kerk sou wou hê, eerder as om te vra wat God wil hê. As meningsopnames ons leiding dikteer, kan ons net sowel ons bord afhaal waarop “kerk” staan, omdat ons nie een is nie. Ons sal ‘n professionele organisasie soos enige ander wees – een wat sukses najaag, gebaseer op markaanvraag. Dit is nie die evangelie nie.

Hier is die evangeliebediening, volgens Paulus: “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk; verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n envangelis; vervul jou bediening” (2 Timótheüs 4:15). Paulus praat baie duidelik met Timótheüs: “Ek besweer jou as ‘n herder van God: weerlê, bestraf, vermaan. Dit is om jou bediening te vervul!”

Ek vra jou eerlikwaar: Word die hele bediening van Christus se kerk vervul? Of is ons tevrede met ‘n kerk van vertroosting en plesier? Ek kan jou belowe, as herders toegelaat sou word om herders te wees...as aanbiddingsleiers toegelaat sou word om soveel tyd in gebed deur te bring as tydens inoefening en klankkontroles...as mense Bybelse waarhede sou kom soek in plaas van bloot vleeslike vertroosting...dan sal ons blydskap terugkeer. Ons doelwit sal terugkeer. Ons sending sal duidelik wees. Ons sal saam met Jeremia getuig, “Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart” (Jeremia 15:16). Dan, wanneer ‘n vreemdeling by ons deure inkom, sal hy op sy aangesig val in heilige verwondering. Hy sal besef hy het die antwoord gevind waarna hy gesmag het sy hele lewe lank. En hy sal uitroep, “Waarlik, God is in hierdie plek!” Amen – mag dit so wees, Here Jesus.

Download PDF