Uitdrywing van Onreine Geeste | World Challenge

Uitdrywing van Onreine Geeste

David Wilkerson
July 11, 2016

Vandag is daar mense wat stry met dinge in hulle lewens wat so diep en erg is, dat dit nie verduidelik kan word nie. Sulke dinge kan slegs verstaan word in terme van onreine geeste. Die Bybel spreek hierdie bonatuurlike verskynsel en God se reaksie daarop aan in Markus 4-5.

Jesus het ‘n groot menigte by die strand onderrig. Die skares was so ‘n groot menigte dat die Here in ‘n boot moes klim en met hulle moes praat van die water af. Hy het die mense geduldig onderrig en sy waarhede geïllustreer met talle gelykenisse. Toe, teen die aand het ‘n vreemde dringendheid oor Hom gekom. Dit het Jesus letterlik in sy spore laat stop. Hy het vinnig sy preek gestaak en die skare verdaag.

Hierdie dringende gevoel in die Here het so swaar op sy gemoed gedruk, dat Hy nie eers gestop het om sy familie te groet wat van ver gekom het om Hom te kom sien nie. “En sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie bereik nie” (Lukas 8:19). Jesus het ervaar dat Hy geen tyd gehad het om te mors nie. Hy het na die oorkant van die see gewys en vir sy dissipels gesê dit was tyd om verder te gaan.

Op een of ander manier het ons Here ‘n geskreeu van oorkant die see gehoor. Dit was die folterende roepstem van ‘n persoon in pyn en wat hulp ernstig nodig gehad het. Die geskreeu wat Jesus gehoor het, was van ‘n duiwelbesetene, ‘n man wat beset was deur ‘n onreine gees. Hierdie geteisterde siel het in die stadsbegraafplaas gewoon tussen die talle grafkelders wat uit die nabygeleë heuwel gekap was. Die man het eintlik sy huis in een van daardie uitgekapte grafte gemaak. Terwyl hy dag en nag geskreeu het, het sy verskriklike geskreeu die lug gevul te alle tye.

Niemand was in staat om hierdie man in sy verskriklike toestand te help nie – geen dokter, kenner of godsdienstige leier nie. Hy was letterlik buite beheer en het kaal rondgehardloop en “niemand was in staat om hom te tem nie” (Markus 5:4). Hy het daagliks in foltering geleef om “homself met klippe stukkend te slaan” (Markus 5:5) en sy liggaam te skend. Terwyl Jesus die godsdienstige menigtes onderrig het aan die ander kant van die see, het hy die geskreeu van hierdie desperate, duiwelbesete man opgetel – en Hy het alles laat staan om na hom te gaan.

Elke week sit ons langs talle, huilende, geteisterde mense in die kerk.

Jy het moontlik verskeie sulke geteisterde mense in jou gemeente. Dit kan mans of vroue, tieners of bejaardes, koorlede, enigeen wees. Op een of ander manier het ‘n onreine gees beheer van hulle lewens oorgeneem en weier om hulle te laat gaan.

As ek die frase “onreine gees” gebruik, bedoel ek ‘n gees wat immoreel of ontugtig is en iemand aan ‘n begeerte of wellus vasketting. Mense wat deur sulke geeste gebind is, is nie meer in beheer van hulle lewens nie. ‘n Kragtige gewoonte het oorgeneem. Hulle kan nie by ‘n kroeg verbyloop of op die Internet gaan sonder om by sonde betrek te word nie. Hulle word gedryf, is verslaaf en beset deur ‘n onreine begeerte en sy houvas op hulle word elke dag sterker. Binne-in skeeu hulle uit in hul foltering soos die Gadareense besetene, “Ek is verslaaf. My lewe is buite beheer. Satan het my vasgebind.”

As dit jou beskryf, dan weet jy dit is iets baie meer pynlik en folterend as om in ‘n fisiese graf te woon. Diep in jou siel het jy ‘n slaaf geword van ‘n onreinheid. Jy word daagliks gedryf om dinge te doen wat jy haat. En nou word jy lastig geval deur ‘n innerlike stem wat uitroep, “Jy vernietig jou liggaam, die tempel van God. En die Bybel sê, ‘Wie die tempel van God skend, God sal hom skend.’” Dit maak nie saak wat jy probeer doen om vry te word nie, niks help nie.

Ek het dit sien gebeur met baie van die verslaafdes wat ons bediening ingeneem het. Een geteisterde jongman het sy gewoonte so gehaat, dat hy probeer het om die naaldletsels van sy arm af te brand deur ‘n vuurwarm pan te gebruik. ‘n Ander desperate verslaafde het homself aan ‘n stoomverkoeler vasgeketting om homself te keer om terug te gaan na sy ou gewoonte. ‘n Ander jongman het sy spuitnaald met sy eie bloed gevul en ‘n letterlike uitroep van “Help” op sy slaapkamer se plafon gespuit.

Almal het moed verloor met hierdie Gadareense man. Lukas skryf dat hy in hierdie toestand was vir ‘n “geruime tyd” (Lukas 8:27). Hy was beset deur so baie demone dat hy reageer het op die naam Legio. En hy was so wild, dat hy vasgeketting moes word. Hy was egter so uiters besete, dat hy al die ysterkettings gebreek het (sien Lukas 8:29).

Terwyl ek lees van hierdie man se kettings, dink ek aan wat met mense gebeur in self-help programme vandag. Wanneer ‘n verslaafde ‘n kliniek, agentskap of hospitaal binnegaan, is die doel om te probeer om daardie persoon se verslawing te isoleer of vas te ketting. Sulke programme poog om mense te reinig van die buitekant af om hulle te skei van hulle gewoonte. Maar elke program wat beweer dat ‘n verslaafde persoon vrygemaak kan word deur eiewil, sal misluk. Dit kan onmoontlik werk. Vra vir enige gewoonte-verslaafde persoon wat deur daardie programme gegaan het.

Jesus bewys dit. Hy maak die stelling, “Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit uitgevee en versierd. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste” (Lukas 11:24-26).

Ek dink hierdie gedeelte is nie van toepassing op Christene nie. As die Heilige Gees ‘n werk verrig het in iemand se hart, kan die duiwel nie meer daardie persoon sy huis noem nie. Ek sien eerder in Jesus se woorde hoe mense besete kan word deur “nog meer bose” geeste. Eenvoudig gestel, die uitvee en hermeubilering van hulle huis was nie deur God gedoen nie. Dit is die enigste rede waarom ‘n onreine gees sou sê, “Ek gaan terug na daardie woning.” Sulke mense het ‘n tydelike herstel gekry deur self-help. Maar totdat Jesus die onreine gees uitgedryf het, is die huis onder sy beheer.

Jesus doen nie werk op die ou mens nie. As ons weergebore word, word ons ‘n heel nuwe skepping. Daarom, wanneer die Heilige Gees intrek, betaal Hy die verband op die grond af en breek die ou struktuur af. Die huis wat Hy bou, is so nuut dat dit onherkenbaar is vir die onreine gees wat dit eens beheer het. Nou is daar ‘n bordjie buite op wat sê: “Onder nuwe bestuur. Dit is die tempel van die Heilige Gees.”

Jesus was op pad om hierdie man se uitroep te antwoord en geen demoon kon Hom keer nie.

Die Skrif sê toe hulle aangekom het by “die land van die Gadaréners...[het]...Hy aan wal uit[ge]klim” (Lukas 8:26-27). Ek sien voor my geestesoog hoe Jesus uit die boot uitklim, op die droë grond loop, terwyl Hy rondkyk en soek. Daar in die verte het Hy die wilde, duiwelbesete man gesien. Nou stel ek my voor die trane in Jesus se oë en ek sien sy gesig rooiwarm word met woede oor Satan se folterende werk. Ons weet Christus het hierdie man nie veroordeel nie. Hy het nie vir hom gepreek of gevra, “Watter verskriklike sonde het jy gepleeg om in so ‘n bose toestand te beland?” nie. In plaas daarvan, het Hy gekyk hoe die man voor Hom neergeval het en desperaat uitgereik het vir verlossing.

Jesus het onmiddellik die onreine gees beveel om hom te verlaat. Op daardie stadium, het die duiwels beheer van die man se tong geneem en geskreeu, “Wat het ons met U te doen, Jesus”? (Matthéüs 8:29). Hulle het in wese gesê. “Ons weet ons gaan eendag geoordeel word. Maar waarom is U nou hier, Jesus” Dit is nie die vasgestelde tyd nie.” Die demone het toe probeer om te onderhandel en voor te stel, “Laat ons in daardie trop varke daar oorkant invaar.” Maar Jesus sou nooit onderhandel met die duiwel nie. Hy het presies geweet wat daardie demone in gedagte gehad het. Hulle wou ‘n tydelike huis by die varke hê, sodat wanneer die varke gelei was om geslag te word, die geeste ander mense kon beset.

Jesus het wel daardie demone in die trop varke laat invaar. Maar Hy het in totale beheer van die hele situasie gebly. Hy het onmiddellik veroorsaak dat die varke oor die krans hardloop en in die see stort. Wat ‘n beeld word vir ons gegee: ‘n trop onreine, verbode diere wat ‘n legio onrein geeste gehad het en wat van ‘n afgrond van foltering afgeval het. Later, toe die dorpsmense kom kyk het wat gebeur het, het hulle “die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die voete van Jesus sit, gekleed en by sy verstand” (Lukas 8:35).

Hierdie storie wys vir ons God se begeerte om alle gevangenes vry te laat.

Ek wil direk praat met diegene wat gedryf is tot slawerny deur ‘n onreine gees. Hoe dikwels het jy jou gewend na net ‘n paar minute van leë plesier met die wete dit sal jou siek en moedeloos laat? Dit is nie net gewoontes nie. Dit is die werk van onreine geeste wat heerskappy van jou lewe oorgeneem het. Dit maak nie saak of jy ‘n goed opgeleide, suksesvolle professionele mens is wat dink jy kan te enige tyd ophou nie. Jy moet die waarheid erken: Jy het beheer verloor. En tensy die onreine geeste uitgedryf word, sal jy op die ou end net so besete soos die Gadareense man wees.

Die Bybel sê God het ons alle mag en gesag oor die vyand gegee om duiwels en onreine geeste uit te dryf. Jesus sê egter “hierdie soort” gaan slegs uit wanneer ons vas en bid. Ek wil hê jy moet weet dat ek gevas en gebid het oor hierdie boodskap. En as jy eenvoudig doen wat die Gadareense man gedoen het – op jou knieë val voor Jesus, Hom vertrou en Hom vra om jou te verlos – sal elke onreine gees vlug. Jy sal vrygelaat word en herstel word tot jou gesonde verstand.

Laat my nou sekere Christene, wat teruggeval het in ‘n ou gewoonte, aanspreek. Jy was versoek en nou is jy heeltemal vasgevang in ‘n vorige verslawing. Jy sal moontlik oortuig wees God het jou oorgegee aan ‘n goddelose gesindheid. Jy dink jou hart het te hard, te hardnekkig, te wederstrewig geword om ooit weer vrygemaak te word.

Op verskeie geleenthede, sê die Bybel dat God se uitverkore mense hardnekkig, verhard, rebels en goddeloos was. God het egter altyd sy genade aan hulle gebied wanneer Hy gesien het dat hulle na Hom uitreik. “Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel?...my hart is omgekeer in My...Ek sal my toorngloed nie laat geld nie, Ek sal Efraim nie weer te gronde rig nie; want Ek is God en nie ‘n mens nie” (Hosea 11:8-9). Die Here het in wese gesê, “Jou vriende mag jou verlaat as jy dink jy het te ver gegaan. Maar ek sien jou nie so nie. Ek sien potensiaal in jou.”

Ek glo God wil ons twee dinge leer deur die Gadareense man se storie:

1. Ons stryd teen onreine geeste sal aanhou totdat Jesus terugkeer. En dit sal selfs erger word soos ‘n briesende duiwel sy verleidings op die mensdom verskerp in hierdie laaste dae. Ons sien hierdie voortgesette stryd dwarsdeur die Nuwe Testament. Oral waar Christus en die apostels gegaan het, het hulle onreine geeste uitgedryf.

Is jy verward oor waarom Christene skynbaar so min gesag het om geeste uit besete mense te dryf? Ek glo daar is twee redes daarvoor. Eerstens, ons het ons nie verbind tot vas en gebed, soos Jesus gesê het nodig is in sekere gevalle nie. Ons moet besef dat Satan se magte slegs uitgedryf kan word deur ware geestelike gesag, wat deur gebed en vas kom. “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efésiërs 6:12).

Tweedens, die kerk het so gekompromitteerd geword, dat ons bang is om op te staan teen duiwels. Ons vrees ons sal op die ou end soos die seuns van Skeva wees in die boek Handelinge. Hierdie sewe mans het aanspraak gemaak dat hulle mag oor duiwels gehad het, maar toe hulle probeer het om ‘n onreine gees uit te dryf, was hulle aangeval en aangerand deur ‘n duiwelbesete man.

As ons probeer op vleeslike wapens te vertrou – self-help programme of sielkunde – sal ons op die ou end net die buitekant skoonmaak. En ons sal lydende mense se siele net oopmaak vir selfs groter besetenheid. Demone luister slegs na die stemme van toegewyde dienaars wat saam met Jesus kan sê, “Die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30).

2. Ons moet uitreik na menigtes, maar ons kan nie die geteisterde enkeling vergeet nie. Ons kan nie toelaat dat ons bedienings aan die massas die geskreeu van ‘n enkele, verlore siel wat ly, uitdoof nie.

Dit is net te maklik om nie die hartsgeroep van die hawelose man op die straathoek te hoor nie. Dit is maklik om by iemand verby te loop wat ongeskeer, vuil en verslaaf is en nooit die potensiaal in hom te sien nie. Ons vergeet te maklik dat God elke vermorste jaar van ‘n persoon se lewe kan herstel. In plaas daarvan, laat ons onsself toe om te dink, “Hy is te verhard, te ver heen.”

Maar Jesus het die geroep gehoor. Hy het die potensiaal in die Gadareense man gesien. En daardie verloste, gereinigde man het ‘n getuie van Christus se mag aan die hele stad van Dekapolis geword, en “almal was verwonderd” (Markus 5:20). Jesus sê in wese vir ons, “Moenie moed verloor met iemand nie. Daardie persoon wat jy dink te ver heen is, kan op die ou end die evangelie in jou straat verkondig.”

As ons vas en bid vir sulke mense soos Jesus opdrag gegee het, dan sal ons ore ingestel wees op hulle roepstemme. En soos Christus, sal ons in staat wees om die Gees se fluistering te hoor, “Gaan na daardie een en bedien God se Woord.” Here, ons weet dat niks U kan verhoed om diegene waarop U U ingestel het om te verlos, vry te maak nie. Amen!

Download PDF