‘n Christen se Reaksie op Rampe | World Challenge

‘n Christen se Reaksie op Rampe

David WilkersonNovember 28, 2005

‘n Onlangse, landswye radio inbel program, het twee uur gewy aan ‘n bespreking van die boek Openbaring. Die omroeper het die volgende vrae aan sy luisteraars gestel: “Glo jy dat al die onlangse rampe God se oordeel oor ons volk se sonde is? Dink jy dat die voorspellings in die boek Openbaring nou volvoer word? Glo jy dat ons in die eindtyd lewe?”

Die verstommende hiervan is dat dit ‘n sekulêre radiostasie was. Die meerderheid van die luisteraars het “Ja” geantwoord, hulle glo dat die gemeenskap so wetteloos, en immoreel geword het, dat God moes ingryp. Hierdie mense was oortuig dat al hierdie onlangse storms en rampe God se waarskuwing is.

Waar ‘n mens ook al gaan, hoor jy gesprekke oor Openbaring en profesieë. Mense sê, “Iets is beslis besig om te gebeur. Praat God deur al hierdie dinge? Beteken hierdie rampe dalk dat God die nasies oordeel?

Dink aan die toenemende rampe wat die afgelope jare gebeur het:

  • Die vasteland van Amerika is vir die eerste keer in die geskiedenis aangeval, toe New York en Washington, D.C. die teiken was vir terroriste aanvalle.
  • Groot orkane het Florida geteister, met meer as $20 biljoen skade en baie mense dakloos.
  • ‘n Tsunami het Asia getref, honderde duisende mense dood en miljoene haweloos.
  • Orkane Katrina en Rita het ‘n groot Amerikaanse stad vernietig, met New Orleans oorstroom en ongelooflike verwoesting langs die Gulf Coast, en duisende huisloos.
  • ‘n Aardbewing wat ‘n ongehoorde 6–7 op die Richter skaal geregistreer het, tref Pakistan. Dit was die ergste aardbewing in die laaste tyd, dit het meer as 70,000 mense gedood en naskokke oor die res van Indië uitgestuur. ‘n Halwe miljoen was gestrand sonder hulp en nog ‘n miljoen sonder huise.
  • Internasionale gesondheids organisasies waarsku teen ‘n moordende griep pandemie, van ‘n dodelike vorm van voël griep. Dit het uit China ooswaarts versprei in Rusland, Roemenië en Turkye. As dit verskuif, kan dit twee miljoen mense in Amerika en miljoene wêreldwyd tref.
  • Hongersnood heers in Zimbabwe. Die Katolieke Aartsbiskop het voorspel dat 200,000 mense binne die volgende vier maande kan verhonger, 700 mense sterf reeds daagliks van VIGS en 700,000 mense is huisloos.
  • Terwyl ek dit skryf het orkaan Wilma reeds verwoesting aangerig in Mexico se Yucatan skiereiland. Kenners by die nasionale orkaan sentrum sê hulle rekenaars wat help met die vooruitskatting van die storm se verspreiding en rigting, het ingestort en geen voorspellings is moontlik nie.
  • Veertig nasies, versprei oor die aarde, word bedreig deur groeiende terroriste bedrywighede, binne hulle grense.

As ons glo dat die Bybel God se ewige Woord is, moet ons glo wat Petrus sê:

“Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word; en die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het; en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as ‘n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees” (2 Petrus 2:4–6).

God het Sodom en Gomorra met vuur verwoes. Hy het ‘n vloed gestuur om ‘n bose, vuil gemeenskap in Noag se tyd te verwoes. Daar was, inderdaad, aardbewings, Hongersnood en plae, deur die geskiedenis. Tog, wonder ek: het al hierdie dinge met dieselfde intensiteit gebeur, as wat ons tans belewe?

Vir ‘n geslag lank, kom hierdie profetiese waarskuwings na ons toe. Belangstelling in hierdie onderwerp het so toegeneem, in die laaste jare, dat populêre boeke oor die wegraping en eindtye die beste verkopers geword het. Tog is dit vir baie mense net nog ‘n afgryslike verhaal.

In die laaste vyf-en-twintig jaar was ek net ‘n klein stemmetjie onder die baie wat waarsku teen ‘n wêreldwye skudding wat kom. Tog lyk dit vir my of al hierdie stemme, myne daarby ingesluit, geen hond haar af gemaak het, op die samelewing nie. Gelowiges is geraak en het begin bid, maar ongelowiges haal net die skouers op.

Dink maar net: was daar enige melding van God in wêreld leiers se reaksies op hierdie rampe? Niemand in die regering, sal dit waag om God se naam te koppel aan die skokkende gebeure nie. Niemand dink daaraan dat God iets sê oor die sonde van ons samelewing nie. Ondanks al die skuddings en waarskuwings is God heeltemal uit berekening gelaat.

In die verwoeste New Orleans het die burgemeester gesê dat hy die oorstromende gebiede wil omskep in ‘n massiewe distrik soos Las Vegas, met dobbelhuise en plesieroorde. Volgens onlangse verslae is kommittees besig om die grootste Mardi Gras feesvierings wat ooit gehou is, te beplan. Mense van oor die wêreld word genooi om te kom deel in die feesvreugde.

Ons kan seker wees dat New Orleans gaan terugkom, en dit sal wilder en sondiger wees as ooit tevore. Dit alles gebeur ondanks die waarskuwings en pleidooie van God se wagters. Ek dank die Here dat baie gelowiges na die rampgebiede gaan om te help met reddingspogings en dat baie wat gehelp word, tot bekering kom. Maar selfs te midde van die rampe, weier die wêreldse menigte om God te herken of sy Naam te noem.

In Openbaring lees ons dat die rampe so oorweldigend sal wees “en in die dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug” (Openbaring 9:6). Ons lees dat God die “wyn van sy toorn vir hulle sal laat drink” (14:10), gevolg deur ekologiese rampe, ondraagbare hitte, pandemiese siektes. Al hierdie dinge gebeur nadat God die stemme en trompette van waarskuwings, laat hoor het. Hulle kom nadat Christus verskyn het en sy kerk wakker gemaak en gewaarsku het.

Ongelooflik, die Bybel sê: “en die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hulle hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer …hulle het hulle nie bekeer van hul moorde en hul towery en hul hoerery en hul diefstalle nie” (9:20–21).

“En die mense is geskroei met ‘n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie … en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie” (16:9–11).

Watter ongelooflike gedeeltes. Mense sal liewer hulle tonge kou en God vloek as om hulle te bekeer, selfs as hulle uitgenooi word.

Geliefdes, as die wêreldlinge nie beweeg kan word deur hierdie profetiese boodskappe nie, waarom moet ons hulle dan waarsku? Hoekom moet ons vir die ongelowiges sê, “God praat deur hierdie dinge?” As na al hierdie rampe wat oor die aarde gaan kom, sondaars nog hulle vuiste na God sal oplig, waarom praat ons dan?

Die Bybel se antwoord is: “Want die Here, Here doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profeet, geopenbaar het nie” (Amos 3:7). Eenvoudig gestel, God is getrou om te waarsku, want dit is sy regverdigheid en genade Hy mag wetenskaplikes en sekulêre mense gebruik om ander te waarsku; maak nie saak hoe nie, maar slegte nasies en individue moet gewaarsku word.

Jesus het vir ons gesê dat as ons sien dat hierdie dinge begin gebeur, moet ons opkyk en bly wees, want ons verlossing is naby. Maar dit is heeltemal iets anders as om ons te verheug oor rampe. As ons vir ‘n verloregaande wêreld slegs kan sê, “Die einde is naby. Die oordeel begin. Ek het vir julle so gesê,” gee ons vir hulle geen hoop nie.

Ons het reeds gesien dat soos die rampe toeneem, en dit lyk asof die wêreld oorgaan in chaos, vermeerder die hopeloosheid en verhard die harte. As daar geen boodskap van hoop en redding is nie, sal die sondaar dink: “As dit God se wraak is, as dit die einde is en ons almal op pad hel toe is, laat ons dan feesvier en bedwelm tot niet gaan.

Meer as dertig jaar gelede het ek ‘n profetiese boek geskryf, getitel “The Vision”. Hierin het ek gewaarsku dat drastiese weersveranderinge ons kuste sal teister. Hierdie rampe sal so buitengewoon wees, dat kenners sal sê: “Dit is onverstaanbaar. Hierdie rampe neem Bybelse proporsies aan.”

Toe ek ‘n boek geskryf het oor die komende finansiële ineenstorting, het ek God se aangesig gesoek oor hierdie boodskap. Ek was diep verontrus, ek het gedink: “Is dit al wat daar is, net hierdie negatiewe boodskap? Here, is dit waarlik die boodskap wat U wil hê, dat ek moet bring? Gaan ek my hele lewe lank net waarsku?”

Die Heilige Gees het vir my ‘n belofte gegee, in daardie tyd: “As die skudding vererger, as jy dit sien gebeur, sal jy een van die wees wat hoop sal verkondig. Terwyl ander bekommerd en senuweeagtig sal word, sal ek jou salf met ‘n boodskap van genade, barmhartigheid en redding. In die tyd wat hopeloosheid sal toeneem, sal jou prediking hoop bring.”

Wat ek nou vir u skryf, is een van daardie beloofde boodskappe.

Die boodskap van hoop wat ons moet bring, is nie net om vir sondaars te vertel hoe pragtig die hemel gaan wees nie. Ons sê nie vir hulle om hulle te bekeer sodat hulle die huidige gemors kan agterlaat en paradys toe kan gaan sonder enige lyding nie.

Natuurlik glo ek in die hemel. Ek is lief om daaroor te preek. Ek raak opgewonde as ek daaraan dink om met Christus in die paradys te wees in alle ewigheid. Maar as dit die enigste hoop is wat ons aan sondaars kan verkondig — vrede en rus eendag, buite hierdie wêreld — sal hulle na ons toe terugkom met so ‘n reaksie:

“Kyk, ek dink nie nou aan die ewigheid nie. Ek is nie tevrede met die ‘hemel een dag’ nie. As jy van God praat, sê jy vir my ek sal eendag, iewers verligting kry. Dit klink goed, maar op hierdie oomblik het ek iets nodig om my deur hierdie dag te kry. Ek is oorweldig, met die een krisis na die ander. Ek het hoop of ‘n wonderwerk nodig, nie môre nie, maar vandag.”

Op die oomblik is die wêreld angstig, verontrus, mal van vrees. Hoe preek ons hoop vir hulle wat in wanhoop verkeer?

Eerlik gesê, ek het moeg geword om te sê: “Laat ek vir julle wys wat die wêreld nodig het,” of “Dit is wat die kerk moet doen.” Ek is te oud om ‘n “nuwe hoop” beweging te begin, met TV optredes en boeke te publiseer en “hoop konferensies” te reël. Ek het nie meer antwoorde nie. Ek dink aan al die publikasies en preke op bande wat vandag gepubliseer word oor, hoe om vrede te vind, hoe om spanning te hanteer, selfs oor hoop. So weinig hiervan het blykbaar enige indruk op die sekulêre wêreld gemaak.

Al wat ek kan doen, is om vir u te sê wat die Heilige Gees vir my sê.

Hoekom het mense hulle geloof verloor? Omdat hulle geen bewyse van geloof gekry het, waar hulle dit gesoek het nie: in die kerk van Jesus Christus. Sondaars kom na die kerk, om te soek na iemand wat ondanks moeilikhede en probleme, wanneer alles rondom hom sink, kan oorleef omdat sy geloof hom anker.

Die wêreld het baie preke oor geloof oor televisie en radio gehoor. Ongelowiges het die geloofs-leerstellinge gehoor, hulle het selfs die boeke oor geloof gelees, wat ons predikers publiseer. En hulle het die een na die ander Christen hoor spog oor sy geloof. Maar oral waar hulle kyk, sien hulle voorbeelde van geloof wat skipbreuk gely het. Christene wat hulle geloof bely het, gee dit alles prys as hulle deur moeilike tye gaan.

Ek het ‘n omroeper wat nuus lees, onlangs hoor sê: “Ons lewe in ‘n senuweeagtige gemeenskap.” New Yorkers is senuweeagtig as gevolg van terroriste aanvalle op snelweë. Ontelbare miljoene, oor die wêreld, is onrustig as gevolg van wat om hulle gebeur.

Waar gaan mense heen, om hoop te ontvang? Waar kry hulle voorbeelde van onwankelbare geloof?

Die Gees het aan my ‘n duidelik woord gegee: “Jy moet jou geloof anker, David. Laat jou hart God vertrou, in alles, altyd. Moenie toelaat dat jou geloof wankel nie.”

Om ons geloof te anker, beteken “om dit vas te maak, onskudbaar, met diep wortels, gegrond op pilare, met ‘n vaste fundament.” Die Skrif sê dit is in ons mag om dit te doen. Jakobus sê: “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:6–7).

In hierdie gedeelte lê die Here die volle verantwoordelikheid op die gelowige. God sê vir ons, “As die wêreld na my kinders kyk, in hierdie dae van angs en bewing, moet hulle geloof sien. Terwyl alles skud, moet geloof vas staan. Gelowige, sorg dus dat jou geloof geanker is. Jy, Christen, neem ‘n vaste houding in. Moet nooit daardie posisie prys gee nie.”

Ek is oortuig dat die wêreld nie meer preke oor geloof nodig het nie. Hulle moet ‘n praktiese preek sien: ‘n man of vrou wat hulle geloof voor die wêreld uitleef. Hulle moet diensknegte van God sien wat deur dieselfde moeilikhede gaan as hulle, maar wat nie geskud word nie. Slegs dan sal sondaars die kragtige getuienis van onskudbare geloof waarneem.

Dawid beskryf dit as hy praat van “Hoe groot is u goedheid, … U bewys dit voor die oë van die mense, aan die wat by U skuil” (Psalm 31:20). Hy praat hier van gelowiges wie se sterk geloof en getroue lewens strale van lig is vir hulle wat in duisternis verkeer.

Eenkeer terwyl ek in die proses was om my volgehoue geloof te beoefen, toe ek werklik al my laste by Christus neergelê het, het ek ‘n telefoonoproep ontvang wat my geskud het. Vir ‘n oomblik het ‘n vloedgolf twyfel my getref. Toe fluister die Heilige Gees, “Behou jou geloof, David. Moenie ingee nie. Ek is in beheer. Staan net stil. Moet nooit, ooit jou geloof en vertroue prys gee nie. Los dit by my.”

Ek sal die vrede wat op daardie oomblik deur my gevloei het, nooit vergeet nie. Teen die einde van my dag was my hart vol vreugde toe ek besef, “O, Here, ek het op U vertrou. Ek het nie gehuiwer nie. Dankie!”

In Psalm 78 lees ons van Efraim, die grootste stam in Israel. Efraim was ‘n bevoorregte stam: talryk en sterk, bedrewe met die gebruik van wapens, goed toegerus vir oorlog. Tog, toe Efraim uitgegaan het om die vyand die hoof te bied, lees ons: “Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het omgespring op die dag van oorlog” (Psalm 78:9).

Hierdie sterk stam het uitgegaan, beter toegerus en sterker as die vyand. Maar, om die een of ander rede, toe hulle die opposisie sien het hulle opgegee en gevlug. Hulle het hulle voorgeneem om te veg en te oorwin, maar toe hulle die vyand sien, blaas hulle die aftog.

Efraim verteenwoordig in hierdie gedeelte die talryke gelowiges wat deur die Here geseën en bevoorreg is. Hulle is goed onderrig, Gewapen vir die geveg, wat ookal gebeur. Maar as die vyand opdaag en hulle bedreig — as opeengehoopte probleme te veel word, nie meer hanteer kan word nie — draai hulle om en smyt hulle geloof weg.

Die Skrif sê Efraim het God se getrouheid bevraagteken: “En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God ‘n tafel kan dek in die woestyn? Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het — sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk? (Psalm 78:19–20).

“Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie… en hulle was nie getrou in sy verbond nie” (78:32, 37). Hier was die uiteindelike resultaat: “[Hulle] optrede het die Heilige van Israel gegrief” (78:41).

Efraim se gebrek aan geloof en hulle lafhartigheid het die ander stamme beïnvloed. Dink net daaraan hoeveel skade dit berokken het, toe die ander stamme dit gesien het: “As hierdie bevoorregte mense nie kon bly staan nie. As hulle wat daarop aanspraak gemaak het, dat hulle God se wapenrusting gedra het en die swaard van sy Woord kan hanteer, die aftog moes blaas, watter hoop is daar vir ons?”

Geliefdes, ons mag Efraim nie veroordeel nie, want ons mag meer skuldig wees, as hulle. Dink daaroor na: ons het meer lig ontvang. Ons het hulle voorbeeld om ons te waarsku. Ons het die Heilige Gees wat met ons bly. Ons het die Bybel, die openbaarde Woord van God, met groter beloftes.

Ek is ook skuldig aan Efraim se sonde. Oor die jare, in vergange tye, het ek ten volle gewapend en vasberade uitgegaan, “Hierdie keer sal ek vasstaan. Ek sal nie vrees nie. Ek sal nie na die vertwyfeling van my vlees luister nie. Ek sal nie bang word en omdraai nie, ek sal nie toegee aan selfbejammering nie.” Maar dikwels het ongeloof my van die oorwinning beroof.

Selfs vandag, kan ek nie spog nie. Ek moet nog so baie leer, hoe om in die geloof te bly staan. Maar ek het die oorwinning gesmaak wanneer ek die Here in alle dinge vertroue het, al my bekommernisse voor Christus neergelê het en rustig voortgegaan het.

Die Griekse woord vir “ontvang” beteken hier om “getuies te wees, om ‘n getuienis te word” Ons voorouers in die Here het ‘n vaste, onwankelbare geloof gehad en dit het ‘n getuienis vir God se getrouheid in moeilike tye geword.

In die eerste plek, het hulle ‘n innerlike getuienis gehad waarmee God tevrede was. Hulle het op Hom vertrou deur vloede, bespotting, gevangenis, marteling, oorlog, leeukuile, vuur. Na dit alles het hulle die vreugde geken wanneer hulle Heer gesê het, “Mooi so! Julle het op my vertrou.”

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Telkens wanneer ons bly glo het in moeilike tye, het ons dieselfde bevestiging van die Heilige Gees: “Mooi so! Jy is God se getuie.”

Wanneer ek in die storms kan rus, as ek elke las op Christus gewerp het en bly glo het, het ek ‘n goeie getuienis. Ek word ‘n monument van hoop vir hulle om my. Hulle wat na my lewe kyk, by die huis, by die werk mag miskien nie openlik daarvan getuig nie, maar hulle sal weet daar is hoop en redding vir hulle.

Hulle kan na my kyk in my uur van krisis en sê: “Daar is hoop! Daar is iemand wat nie geloof in God verloor het nie. Daar is ‘n vegter wat nie sal tou opgooi nie. Hy vertrou op sy God”

Soos wat rampe toeneem en die wêreld in groter ellende verval, moet die gelowige se reaksie ‘n getuie wees van onwankelbare geloof.

Download PDF