‘n Gees wat Bedwelm | World Challenge

‘n Gees wat Bedwelm

David WilkersonJune 5, 1985

“Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe” (Romeine 11:8).

“Want die Here het oor julle uitgegiet ‘n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë – die profete – toegesluit en julle hoofde – die sieners – toegebind. So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde van ‘n verseëlde boek” (Jesaja 29:10-11).

Een van die mees hartverskeurende Skrifgedeeltes in die Bybel is: “Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard” (Romeine 11:7).

Dink net! ‘n Hele geslag mense het hulle lewens daaraan gewy om bevrediging, rus, en versadiging, te vind, en hulle het dit nooit gekry nie. Selfs vandag het net ‘n klein oorblyfsel van Jode die genade en heerlikheid van die Here Jesus Christus gevind. Die res is verblind.

Paulus sê uitdruklik: “God het hulle ‘n gees gegee wat hulle bedwelm het.” Hulle is absoluut blind en doof vir die evangelie! Daar is nie ‘n evangelis of leraar op aarde, wat deur hulle duisternis kan dring nie! Baie min van hulle is gered. Paulus noem hulle “’n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is!” (Romeine 11:5)

Paulus praat van ‘n dag waarop “die hele Israel gered sal word … en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder” (Romeine 11:26). Ek verstaan dit nie alles nie, maar ek weet dat baie Jode selfs nou, in algehele duisternis in verband met Christus, die ewigheid ingaan, in die betowering van ‘n diepe slaap. Hulle hoef nie in sulke blindheid te sterf nie! Paulus sê: “En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal hulle ook geënt word, want God is magtig om hulle weer in te ent” (Romeine 11:23).

Het dit julle nog nooit verbaas nie, dat baie heidene die Evangelie een maal kan hoor, dit duidelik verstaan, dit aanvaar, en weergebore word deur die geloof in Hom? Prostitute, dwelmverslaafdes, armes, ongeletterdes, almal het die boodskap oor Christus met blydskap aangeneem en is wonderbaarlik gered. Hulle is wakker gemaak! Hulle oë het gesien en hulle ore het dit gehoor!

Tog bly die Jood in die greep van die slaap! ‘n Diepe slaap van God het oor hulle geval, en hulle kan eenvoudig niks verstaan wat oor die Here Jesus vertel word nie!

Het God hulle verwerp? Het God hulle willekeurig afgesny van sy wingerdstok net sodat nie-Jode gered mag word? Was hulle voorbestemd vir sulke vreeslike blindheid? Nee, absoluut nie! Paulus maak dit baie duidelik. “Hulle is uitgekap omdat hulle nie geglo het nie.” (Romeine 11:20). “Maar van Israel sê Hy: Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na ‘n ongehoorsame en teësprekende volk” (Romeine 10:21).

Hulle was die natuurlike lote. Hulle behoort dit te gekry het, waarna hulle gesoek het. Hulle moes Christus aanvaar het. Hulle moes die hedendaagse verkondigers van die evangelie gewees het. Hulle moes die gewees het wat na die wêreld gegaan het om die boodskap oor Christus te verkondig. Hulle moes gekry het, wat ons nie-Jode gekry het. Jerusalem sou die Christen hoofstad van die wêreld gewees het.

Maar hulle het hardkoppig ongelowig gebly! Hulle het geweier om Hom as Heer te herken! Hulle het gesê: “Hierdie man sal nie oor ons heers nie.” Hulle het hulle harte verhard en hulle het die Heilige van Israel uitgetart. Hulle het God versoek, Hom beproef, sy magtige dade gesien en nogtans “’n bose hart van ongeloof” behou. Wat hulle gehoor het, is nie in geloof aangeneem nie. Hulle het nie op die Here vertrou nie. Hulle was so mislei deur hulle sonde, dat hulle willens en wetens hulle harte verhard het.

Hulle het Moses bo Christus verkies! Nie een van hulle kon die rus ingaan nie. Nie een van hulle kon vind wat hulle gesoek het nie, en God was bedroef oor hulle. Paulus skryf “Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof, nie in sy rus kon ingaan nie” (Hebreërs 3:19).

Wat ‘n tragedie, miljoene geestelike honger, soekende Jode; en hulle kan nie vind wat hulle soek nie. Die Messias het gekom – Hy leef vandag – en hulle kan Hom nie sien nie! Hulle kan nie hoor nie! Hulle is in ‘n geestelike koma!

Maar Paulus skryf dit alles vir nie-Joodse Christene! Sy boodskap is: “Moenie sê arme, blinde, slapende Jode nie! Nee! Sê liewer: arme blinde, slapende heiliges!”

Dit is duidelik dat hy die gelowiges waarsku. Hy sê: “Wel, deur ongeloof is hulle afgesny, en julle staan in die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees: want as God die natuurlike lote nie gespaar het nie – pasop – dat Hy julle ook nie spaar nie” (Romeine 1:20-21). Paulus gaan verder en hy waarsku die gelowiges teen die strengheid van God. “Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid oor die wat geval het, maar die goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word” (Romeine 11:22).

Ons hoor vandag baie preke oor die goedheid van God. Dit word gesê; “Glo net in die goedheid van God; Hy wil net goedheid en seën vir jou hê!” Dit is baie waar, maar dit is net die helfte van die evangelie. Die ander helfte is: God is baie streng met hulle wat hulle harte deur ongeloof verhard!

Daar is die wat preek: “Eenmaal in die wynstok, altyd in die wynstok! As jy eenmaal binne is, kan jy nooit weer uitgewerp word nie!” Maar wat sê die Woord? “Teenoor julle goedheid – as julle in sy goedheid bly. Anders sal julle afgesny word. Want as God die natuurlike lote nie gespaar het nie, pas op dat Hy julle ook nie spaar nie!”

Laat elke dronk, besoedelde, owerspelige Baptis dit hard en duidelik hoor! Laat elke louwarm, teruggevalle Pinkster-gelowige sy ore oopmaak! Laat elke “playboy” – pierewaaier of darteldawie – dit hoor. “Pasop dat Hy jou miskien, ook nie spaar nie!”

Hulle kom na ons straatdienste, waggelend uit die kroeë, met ‘n hoer aan die arm, diakens en ouderlinge, sommige roep, “Prys die Here!” Hulle antwoord brutaal. “Ons is gered! Ons is lief vir Jesus! Ons is dood vir die sonde! Jesus het vir alles betaal! Sien julle in die hemel!” So strompel hulle straat-af, oë vol bedrog, gedagtes verstomp, oë gesluit, ore gestop – op pad hel toe in ‘n diepe slaap!

Iewers het ‘n prediker hulle oortuig dat hulle gered is omdat hulle ‘n gebedjie gebid het en dit in die openbaar bely het, maar dan val hulle terug in hulle sonde. Geen mag op aarde kan hulle laat ontwaak nie. Hulle is verblind deur die bedrieglikheid van die sonde! Hulle is onder die betowering van ‘n diepe slaap.

Ek luister na straatvroue, wat laggend teen my opmerk: “Ek is gered! Ek is netso heilig soos jy! Jesus is vir my lief, net soos ek is! Ek is op pad na die Heerlikheid!” En ek vra myself af: “Wat se soort blindheid is dit? Hoe kan so iemand so ‘n leuen glo?” Dan verstaan ek, hulle is in ‘n diepe slaap, in ‘n geestelike koma, gebind deur ‘n sterk misleiding!

In die gelykenis van die tien maagde sê Jesus: “Hulle het almal vaak geword en aan die slaap geraak” (Matteus 25:5). Dit gee voor dat die hele kerk aan die slaap is - net voor die Here se koms! Almal het geslaap! Die meerderheid sal onverhoeds betrap word.

Toe die geroep in die middel van die nag weerklink, het al tien maagde wakker geword en uitgegaan om die bruidegom te ontmoet! Vyf van hulle se lampe het dood gegaan! Daardie woorde gee my hoendervleis – die lampe gaan dood! ‘n Vuur wat doodgaan! ‘n Houer wat geen olie bevat nie! Die salwing is weg! ‘n Lamp wat eers so helder gebrand het – gaan dood! Om middernag, met Jesus aan die deur – gaan dit dood, donker, leeg! Geen vreugde, geen geloof, geen sekerheid, geen leiding of oortuiging van die Heilige Gees nie! Dit beteken: Dit heerlikheid van die Here verlaat sommiges in hierdie middernagtelike uur!

Predikers wat met vuur en salwing gepreek het, sit vasgenael voor die televisie-afgod, hulle word lui en vet, met geen woord van God nie, geen vars salwing nie! Hulle lampe is dood! Hule slaap!

Christene wie se harte brandende was, vol met liefde en blydskap in Jesus, wat eenmaal sy Wederkoms verwag het, is nou drywende, koud, vol wantroue en angs. Hulle sluimer, maar sal spoedig vas slaap! Hulle het eenmaal die heerlikheid van God in hulle lewens ervaar, die krag van die Heilige Gees. Nou is hulle lampe flou en besig om dood te gaan! Hulle het nou owerspel in hulle harte; hulle speel saam; hulle eet en drink; hulle gee voor om godsdienstig te wees maar hulle harte word kouer en ‘n hardheid tree in.

Kyk na die wyse maagde met hulle lampe brandende. Hulle is vol van die vuur van die Heilige Gees, hulle gaan singende uit, hulle gaan in die bruilofsfees in! Hulle oë is op hulle Beminde en hulle is gereed om hierdie bose wêreld te verlaat.

Maar kyk hoe huil die dwase maagde, hulle spring rond en probeer die vuur weer aanblaas! Hulle hardloop in sirkels, soebat, pleit: “Iemand, help my! Ek het olie nodig! My lamp gaan dood!”

Ek kyk na die menigtes, wat half aan die slaap is teenoor die Here, in God se huis. Ek moet waarsku, hard en duidelik: Julle lampe gaan dood! Daar is nog net ‘n vonk oor! Julle is geestelik leeg! Julle het ‘n vars aanraking van die Heilige Gees nodig! Julle leef op ‘n ou ervaring! Dit is nie genoeg nie! Julle het meer nodig! Julle is in gevaar om die Bruilofsmaal te mis! Julle sal buite in die duisternis wees en Hy sal sê: “Gaan weg. Ek ken julle nie.”

As ons God se woord glo, sal ons nie nog lui en halfhartig wees nie! Ons sal nie nog ‘n oomblik talm in ons ongeloof en wantrou nie! Ek vrees nie die duiwel en die Hel soveel as die moontlikheid van God se oordeel tot ‘n gees van bedwelming en slaap nie. Ek neem dit soos dit geskryf is, “die Here het julle in ‘n diepe slaap laat wegsak … julle oë is toe, julle is doof … die woord is verseël.”

Ek weier om hierdie vreeslike waarskuwing aan God se kinders te ignoreer! Hierdie was God se volk, ongelowig, opstandige, wantrouwend en God het hulle in ‘n geestelike koma laat beland.

Ek het Christene gesien wat onder daardie diepe slaap ly. Hulle sê meestal: “Ek sien dit nie! Ek verstaan dit nie! Ek is nie oortuig nie! Ek voel niks!” Hulle is leeg; hulle het geen ywer nie, geen vuur nie, geen toewyding! Hulle dryf saam! Hulle dryf in die gees van hierdie bose wêreld.

Jy kan soos Paulus preek; hulle kan in kosbare Bybelstudies sit, hulle kan tussen ander Christene wees, wat in die Here groei, maar hulle kom nêrens! Hulle trek hulle skouers op. Hulle glo nie dit is nodig om enigiets in hulle lewe te verander nie. Hulle hoor nie wat God sê nie! Hulle het die Here se woord so lank geïgnoreer, hulle het in vrees en ongeloof geleef, hulle het te lank gekla en gemor, hulle het te lank vir hulleself geleef – hulle val in ‘n geestelike koma. Al gou sal hulle getel word onder hulle wat slaap. Hulle sal in ‘n diepe slaap rondgaan en dit nie eers weet nie! Hulle is doof, blind en stom in die dinge van God.

“En Dawid sê: Mag hulle maaltye vir hulle ‘n vangstrik en ‘n val word en ‘n struikelblok en ‘n straf … en buig hulle rug vir altyd krom” (Romeine 11:9,10).

Paulus haal Dawid aan uit Psalm 69:23, “Laat hulle tafel voor hulle ‘n vangnet wees en vir hulle wat sorgeloos is, ‘n strik.” Dawid sê, “U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk” (Psalm 23:5).

Die tafel van die Here is lofprysing; die seën van sy Woord; alles daar om ons te vertroos, ons te laat groei, om ons op te bou, om ons te laat verheug! Dit is die huis van God, goeie Christen vriende, sy heilige Woord, en die teenwoordigheid van die Heilige Gees! Dit is deel van die tafel wat Hy vir ons voorberei!

“Laat dit ‘n vangstrik en ‘n val word.” Dit is byna onuitspreekbaar – te vreeslik om oor na te dink – maar so waar, van hulle wat deur hierdie diepe slaap oorval is, die vloek op hulle hardnekkige ongeloof; hulle stap ‘n vangstrik binne, elke keer as hulle in die huis van God ingaan. Vir hulle word die ingaan in God se huis, ‘n instap in ‘n vangstrik! Om in God se heilige teenwoordigheid te kom is soos om oor ‘n struikelblok te val!

Elke boodskap wat hulle hoor, verhard hulle meer. Dit is net nog ‘n laag hardheid wat gestapel word op lae hardheid, wat elke keer dat hulle nog ‘n boodskap van God hoor, vererger word! Niks gaan in nie!

Terwyl hulle sing, grawe hulle, hul grafte dieper. God roep en roep, so dikwels, en so lank, maar hulle verwerp dit. Nou raak hulle vasgevang. Hulle is bang om terug te gaan na die duiwel. Hulle weet daar is geen vreugde in sonde nie, maar ewe min is daar vreugde in God se huis, aan sy tafel. Dit verveel hulle. Hulle gaan deur die mosies, maar hulle is vasgevang in ‘n geestelike lugleegte!

Hulle is gevange in ‘n louwarm, hopelose situasie. Hulle geniet niks. Hulle geniet nie die geselskap van ware gelowiges nie. Hulle verdra slegs die lofprysing. Hulle is net so ongelukkig, buite God se huis! Hulle is ongemaklik in enige geselskap. Omdat hulle nie warm of koud is nie, maar vasgevang is in louheid, sal God hulle uitspoeg uit sy mond. “Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan ek julle uit my mond uitspoeg!” (Openbaring 3:16).

Ek wonder waarom sommige selfs kerk toe gaan. Hulle is nie deel daarvan nie, hulle kry min daaruit. Niks in God se huis kan hulle help nie. Hulle is dood! Hulle is soos ‘n man in die hospitaal geheel en al verlam, hy hoor alles maar kan geen beweging maak nie – in ‘n koma!

Elke keer as die kerk deur oopgaan, loop menigtes in, week na week, maar hulle sit daar vasgevang. Hulle is die wandelende dooies! Dit wat veronderstel was om tot hulle voordeel te wees, het ‘n valstrik geword. Hulle behoort geseën te raak, hulle moet vertroos weggaan; hule moet bemoedig word, aangevuur word! In plaas daarvan tel dit teen hulle! Hulle word geestelike, wandelende lyke, hulle is slaapwandelaars.

Dawid verduidelik wat hierdie sware las is wat hulle krom buig. “Laat hulle blyplekke verwoes word” (Psalm 69:26). Laat hulle woonplekke leeg wees, vermoeiend en vreugdeloos! Laat dit plekke van verdriet, ellende en ruïnes wees. Niks is erger as om vasgevang te wees in die huis van Gof of in ‘n huis wat ‘n woesteny is – ‘n plek sonder liefde, vrede of blydskap. Wanneer sal die kerk wakker word en besef dat die verwoesting van Christen huise die gevolg is van ‘n klaende, ongelowige, louwarm gees?!

Die huis word ‘n las, dit is nie meer ‘n plek van verfrissing en vreugde nie, maar ‘n plek van die dood. Dit is waarom menige Chrisen egpare slegs nog voortleef. Hulle verkeer in ‘n diepe slaap! ‘n Gees van sluimering bedreig hulle huise en hulle is vasgevang in huis en kerk!

Dawid voeg nog by, “Laat daar niemand oor wees in hulle wonings nie” (Psalm 69:26). Daar is so ‘n swaar gees, sulke verlatenheid, in daardie huis dat niemand daar wil ingaan of woon nie. Eindelik gee die vrou of die man pad, en dit eindig geslote – leeg! Die “Te Koop” bord, verskyn op die deur. “Laat hulle nie meer in daardie huis woon nie. Laat hulle woonplek verlate wees!”

Ek kyk rond en ek sien, Christene wat verveeld rond sit in God se huis, vasgevang. Dan sien ek hulle verongelukte huise, hulle hartseer, ongelukkigheid, hulle doellose voortbestaan van dag-tot-dag, en my hart roep uit, “My God, hoe verskriklik! Hoe tragies! Watter vreeslike oordeel bring U oor die louwarmes en twyfelaars!” Dan vra ek myself af, “Hoekom sien hulle dit nie? Waarom skud hulle nie hulleself wakker, voordat hulle totaal verlore gaan in daardie diepe slaap van die Here nie?”

God het vir Esegiël in ‘n vallei van droë bene gebring, en daar vir hom ‘n openbaring gegee wat die Heilige Gees gaan doen voor die Wederkoms van Christus.

“Die hand van die Here was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die Here en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene. En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het ‘n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor” (Esegiël 37:1,2).

Wat ‘n duidelike beeld van die kerk op die oomblik – ‘n groot vallei met baie droë, baie dooie, verbleikte beendere. “Toe sê Hy vir my: Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? En ek antwoord: Here Here U weet dit” (Esegiël 37:3). Dieselfde vraag vra die Heilige Gees nou aan alle godvresende herders – alle ware manne en vroue van God! “Sien julle hoe dood en droog my volk is? Sien julle dood, sover as die oog kan sien? Sien julle tekens van lewe? Sien julle die asem van die Heilige Gees iewers? Glo julle dat ek dit kan verander? Glo julle dat ek weereens met my asem, van die Heilige Gees, oor hulle kan blaas, en dat ek ‘n leër van lewende, sprankelende aanbidders, kan opwek?

God sê, “Moenie my kerk afskryf nie!” Daar kom ‘n groot skudding, ‘n blaas van God se heilige asem! Nuwe lewe kom! ‘n Leërmag van ontwaakte gelowiges, eens dood, word nou in mag opgewek!

“Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die Here! So spreek die Here Here tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word. En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ‘n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die Here is” (Esegiël 37:4-6).

Dit is die dag van oordeel en vernietiging vir hierdie nasie. Die sondige en geweldenaar sal verpletter word, maar dit is ook ‘n dag van herrysing! Dit is ‘n dag van herlewing! ‘n Dag van die werking van die Heilige Gees.

“Toe het ek geprofeteer soos my beveel was. En sodra ek geprofeteer het, was daar ‘n geruis, en kyk – ‘n beroering! En die bene het nader gekom, elke been na sy been. Toe kyk ek en – daar was senings op hulle, en daar het vlees op gekom, en ‘n vel is bo-oor hulle getrek, maar daar was geen gees in hulle nie. Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here Here: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word. En ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan – ‘n ontsaglike groot leër! (Esegiël 37:7-10).

“Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom… Ek sal my Gees in julle laat kom, sodat julle kan lewe!” (Esegiël 37:12-14).

Dit is ‘n dubbele profesie van God; eerstens vir die Joodse Israel en Tweedens vir die Israel van die gelowiges.

‘n Geweldige groot leërmag sal uit hulle grafte opstaan! Geestelike Lasarusse, wat grafklere afskud en nuwe lewe inasem, sal uit die vallei van droë bene uitstap en by die oorwinnaars aansluit! Baie wat in daardie diepe slaap verkeer het, deur grafklere gebind, sal deur die asem van die Heilige Gees tot nuwe lewe gewek word!

Ons word beveel om die Heilige Gees aan te roep om te kom! Almal wat met God wandel se gebed moet wees, “Kom, Heilige Gees, wek die dooies op. Maak wakker die wat slaap, open die grafte, bring nuwe lewe voort uit die dood van droogheid!”

As die Gees van God in jou is, sal jy lewe! Hy is die Gees van lewe. Daar kan geen dood of slaap wees, waar Hy is nie!

Die oorblyfsel is ‘n “uitsonderlike groot weermag.” As net ‘n tiende van die aarde se huidige bevolking gered sal word, is dit reeds ‘n halwe biljoen gereddes! Dit is slegs ‘n oorblyfsel as dit vergelyk word met die baie ongelowiges wat verlore sal gaan.

Is jy dood? Droog? Maak gereed om geskud te word! Maak gereed om hervorm te word. Maak gereed om besoek te word deur die asem van die Almagtige God! Jy het ‘n afspraak; jy is gekies om te lewe, om uit die graf op te staan! God sal vir jou sê, “Lewe!” En jy sal opstaan – en lewe! Dit wil sê, jy sal leef as jy reageer op die magtige asem van die Gees oor jou.

Gelowiges, heilige oorblyfsels – juig! Die wind van God waai! Die asem van God Almagtig sal die hekke van die hel skud, en elke demoon laat verstyf van skok, as die geestelike grafte oopgaan, en wanneer hulle wat vir baie lank baie droog was, uitkom uit hulle bindinge en lewe in heiligheid en verering in Gees en in waarheid.

So seker as wat Satan Christus nie in die graf kon hou nie, net so seker kan hy hierdie herlewing onder die dooies in God se huis nie keer nie! Voor die oordeel kom, sal Hy sy asem oor alle vlees blaas, in groter krag. Die oorblyfsel sal opstaan en in nuwe Opwekkingskrag wandel!

Download PDF