Christus Is Die Einde | World Challenge

Christus Is Die Einde

Gary WilkersonJune 11, 2012

Elke volgeling van Jesus het ‘n sekere honger in sy hart. Dit is ‘n passievolle ywer om heilig voor  God te wees — vry van sonde met oorwinning oor die vlees, rein en suiwer voor die Here.

Hierdie begeerte is eintlik iets wat die Heilige Gees in die harte van elke mens plant. Dit is ‘n ingebore verlange om reg te leef. Mense van elke godsdiens — en selfs geen godsdiens nie — word gedring om goed te lewe, reg te doen, ander lief te hê en die beste persoon te wees wat hulle kan wees. Sommige vlug natuurlik van daardie begeerte af weg en doen die teenoorgestelde — maar hulle is steeds bewus van ‘n diepe begeerte om reg te doen.

Natuurlik verhoed ons sondige natuur ons om  hierdie begeerte te vervul. Vir ongelowiges kan die gees van hierdie wêreld hulle gedagtes verblind vir enige sin van geregtigheid. Vir gelowiges kan die mislukking om God in ons lewens te behaag ons gees verpletter.

Die betekenis van die woord geregtigheid is eintlik die begeerte om reg te leef. Dit beteken om in die regte stand met God te wees — om te lewe met die regte motiewe, emosies en optrede. Dit is om dít wat in ons verkeerd is — wat nie met God gesinkroniseer is nie — te neem en in ooreenstemming met sy planne te bring.

Om werklik regverdig te wees, moet ons weet wat dit beteken. Is geregtigheid die regte optrede? Nee, jy kan die regte ding doen terwyl jy steeds die verkeerde motiewe het. Sommige Christene doen die regte dinge, maar word deur ‘n Fariseërsgees gemotiveer. Hulle uiterlike optrede is reg, maar innerlik is hulle “doodsbeendere.” Is geregtigheid dan die begeerte of die wil om reg te wees? Nee, baie mense soek met groot passie na geregtigheid, maar misluk om dit te bereik.

Die Bybel beskryf ons geregtigheid met twee woorde: regverdigmaking en heiligmaking. As Christene het ons beide in ons lewens nodig. Die eerste term dui op ons posisie, of regte stand met God. Die tweede verwys na ons wandel met God, ons voortgesette verhouding met Hom.

Eerstens, as ons nie regverdig gemaak word nie, kan ons nie regverdig wees nie. Ons kan al die goeie werke doen en ure in gebed spandeer, maar hierdie dinge sal ons nie regverdig maak nie. Dit is omdat regverdigmaking verband hou met geregtigheid; dit is om dinge reg te maak. Vir dit om te gebeur, moet God se toorn teenoor sonde aangespreek word. ‘n Boete moet betaal word vir ons sonde sodat God ons sal vergewe.

Ons almal weet dat Jesus hierdie betaling (of versoening) vir ons sonde gemaak het. Sy offer aan die kruis het God se heilige toorn teenoor ons sonde geblus. Ons Verlosser het aan elke vereiste voldoen vir ons om aanvaarbaar te wees vir God. Hy maak ons regverdig vir eens en vir altyd.

Die tweede term wat verband hou met geregtigheid, is heiligmaking. Dit gaan nie oor die posisie wat aan ons gegee is nie, maar oor ‘n genade wat in geregtigheid moet funksioneer. Met ander woorde, heiligmaking spreek die voorgesette prosess aan om reg voor God te wandel.

Jesus voorsien ook ons heiligmaking. In ‘n korrupte wêreld, is Hy voortdurend aan die werk om ons na God se beeld te vorm. In werklikheid maak sy werk ons heiliges in God se oë. (Die woorde “heilig gemaak” verkort in Grieks, beteken “heilige.”)

Moet my nie verkeerd verstaan nie: Heiligmaking gaan nie oor jou onttrekking van die wêreld om jou te probeer bewaar van besoedeling nie. Opregte gelowiges het dit deur die eeue gedoen en ellendiglik misluk. Dit was nooit die sending wat God aan ons gegee het nie. Heiligmaking is die Christus-bemagtigde vermoë om ten volle betrokke te wees met die wêreld sonder om van die wêreld te word.

Beide woorde — regverdigmaking en heiligmaking — is noodsaaklik vir ons geregtigheid. Wat regverdigmaking in stand of posisie vestig, vestig heiligmaking in funksie. Ons is regverdig voor God deur Christus; dit is ons regverdigmaking. En ons word voortdurend gereining en verander na Christus se beeld; dit is ons heiligmaking.

Hoe leef ons prakties regverdigmaking en heiligmaking uit?

Is dit moontlik om die een sonder die ander te hê? Kan ons regverdig gemaak word sonder om heilig gemaak te word en omgekeer? Die antwoord op beide hierdie vra is ‘n volstrekte, “Nee.”

Paulus help ons om dit alles te verstaan in Romeine 9. Hy begin met ‘n vreemde verklaring: “Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is” (Romeine 9:30). Hoe kon mense wat nie geregtigheid nagejaag het, dit verkry het?

Paulus het toe ‘n selfs vreemder verklaring gemaak. Hy het gesê dat Israel wel geregtigheid nagejaag het — maar dit nie verkry het nie: “Terwyl Israel, wat die wet van geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie” (Romeine 9:31).

Waarvan praat Paulus? Hoe kon Israel in al sy ywer vir God se geregtigheid dit nie verkry het nie? Die apostel verduidelik: “Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was” (Romeine 9:32). Paulus maak dit vir ons baie eenvoudig: Geregtigheid word net in Christus en sy werk alleen gevind. Ons geloof moet in Hom wees, nie in enigiets van onsself nie.

Dit is waar Israel misluk het. Paulus sê, “Want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ’n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling” (Romeine 9:32-33). Paulus gebruik Israel as ’n voorbeeld om te preek oor wat ware geregtigheid is en nie is nie. “Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding. Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Romeine 10:1-4).

Kom ons sê dat jy iemand is wat ’n passievolle ywer het om regverdig te lewe. Jy wil ’n skoon, heilige lewe leef om ‘n ware heilige in God se oë te wees. Jy wil hê dat die wêreld verander moet word deur die manier waarop jy lewe. Raai wat? Israel het al hierdie dinge gedoen. So, waarom het hulle misluk? En wat beteken hulle mislukking vir ons?

Paulus se teks daag ons uit met verskeie vrae. Verskaf regverdigmaking aan ons geregtigheid? Ja, in die sin dat regverdigmaking ons in die posisie van geregtigheid stel. Verskaf heiligmaking aan ons geregtigheid? Ja, in die sin dat heiligmaking die proses is waarin Christus se geregtigheid in ons daaglikse lewens funksioneer. Jesus is ons bron vir beide regverdigmaking en heiligmaking; ons verkry beide deur sy gawe van genade.

Die meeste Christene gee lippediens aan al hierdie dinge en sê, “Jesus is my bron van alles.” Maar weerspieël hulle wandel dit? Dit is die hartseer waarheid vir baie Christene: Hulle lewe asof regverdigmaking van God alleen kom — en heiligmaking deur hulle eie daaglikse prestasie. Dit is asof hulle sê, “Ek het genade deur geloof in Jesus verkry. Nou moet ek ‘n voortgesette persoonlike veldtog voer om heilig te word.”

In ‘n sin vertel hulle vir God dat hulle Hom wil terugbetaal vir sy groot geskenk aan hulle: “Dankie dat U my regverdig gemaak het, Here. Nou staan ek regverdig voor U deur die kruis. In ruil daarvoor, sal ek heilig word deur U te gehoorsaam. U doen eers die eerste helfte van die werk en ek sal die tweede helfte doen.”

Hierdie ingesteldheid lei reguit na ’n lewe van slawerny. Hoeveel kere was jy al gedryf deur ‘n kerk banier wat gelees, het, “CHRISTUS HET VIR JOU GESTERF. WAT HET JY VIR HOM GEDOEN?” Dit het algemeen deur die hele kerk geword.

Jesus is gekruisig, begrawe en het opgestaan op die derde dag sodat ons die ewige lewe kan hê. Wat kan ons enigsins terug doen daarvoor? Tiendes gee? Gebedsbyeenkomste bywoon? Meer evangeliseer? Dit is baie soortgelyk aan wat Israel probeer doen het. Hulle het “die wet van geregtigheid nagejaag” (Romeine 9:31). Hulle het probeer om hulle wil in te span om geregtigheid te bereik, maar hulle kon dit nooit verkry nie.

Ons is geneig om die Fariseërs van Jesus en Paulus se dag af te kraak. Maar dink hieraan: As hulle vandag by een van ons kerke sou instap, sou ons hulle waarskynlik leierskap posisies gee. Ons sou hulle as die heiligste mense in die gemeenskap sien. Ons sou hulle vra om vir ons te bid. Ons sou hulle vra om Sondagskoolklasse aan te bied sodat ons alles wat hulle van heiligheid weet by hulle kan leer.

Paulus sê, “Hulle het ‘n ywer vir God” (Romeine 10:2) — en ywer is vir ons baie aanloklik. Dit is ‘n aantreklike eienskap in ‘n Christen. Wanneer ons iemand sien wat God ywerig najaag in gebed, evangelisasie werk doen en eerbaar leef, dan neem ons aan dat hulle met alles in hulle Jesus dien. Maar die Fariseërs het nie geslaag nie. Hulle het geregtigheid nagejaag met alles in hulle, maar dit het hulle ontwyk.

Het jy hierdie ervaring gehad – jy gee jou alles om regverdig te wees, maar jy misluk?

Het jy geregtigheid nagejaag en nie geslaag nie? Het jy gesê, “Dit is die laaste keer wat ek hierdie sonde gaan pleeg,” net om dit die volgende dag weer te doen? Het jy jouself belowe dat jy nie weer gaan kwaad word nie net om te ontplof teenoor die persoon vir wie jy die liefste is?

Het jy jouself herhaaldelik toegewy aan wilskrag? Het jy jou verantwoordbaarheidsgroep gevra om jou aanspreeklik te hou. Het jy gebid, “Here, wat dit ookal kos, ek gaan ywer in my hart opwek,” net om weer af te koel en in jou ou gewoontes te verval? Wanneer jy nie geslaag het nie, het jy harder probeer? Het jy meedoënloos daaraan gewerk? En het jy aanhoudend misluk?

Het jy al ooit op ‘n stadium in al hierdie dinge gewonder, “Waarom het God my nie gehelp nie? Ek het so ‘n passie om regverdig te wees. Maar ek misluk keer op keer.”

Waar is God dan wanneer dit by ons heiligmaking kom? Waar is sy hulp wanneer ons ‘n heilge lewe wil lei? Laat ons eerlik wees: Soms lyk dit of ons nie die ondersteuning van die hemel het nie. Dit is waarom: Ons het nie die ondersteuning van die hemel nie. Die hemel kom nie af om ons vleeslike pogings te ondersteun nie. God word nie beweeg as Hy ons hoor bid, “Here, ek verdubbel my pogings. Seën my asseblief, Here.” Ywer en passie kan hulleself as regverdige strewes verdoesel terwyl hulle diep binne net vleeslike trots is.

“Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder  kennis” (Romeine 10:2). Volgens Paulus, was Israel verkeerd in hulle begrip van God se geregtigheid. Hulle het gedink hulle benodig net die kennis van wat om te doen. Volgens Paulus, gaan die verkryging van geregtigheid oor wie ons ken. Soos Israel, het ons toegang tot God se alles oorheersende geregtigheid, deur geloof in Christus. Maar ons kan net so maklik soos hulle daardie toegang verwerp — deurdat ons op ons werke vertrou in plaas van deur geloof op Jesus se werk vir ons.

God sal nie enigeen se pogings om sy eie geregtigheid op te rig, seën nie. Hy seën net die werk van sy Seun, Jesus. Ons is geregverdig — ons heilige wandel word onderhou — slegs deur geloof in Christus en sy bloed wat namens ons gestort is. Op hierdie wyse, sê Paulus, het Israel geweier om “hulle aan God se geregtigheid te onderwerp.” Hoe dikwels doen ons nie dieselfde nie? Hoe dikwels vertel ons vir onsself, “Ek kan regverdig lewe,” maar ek vertrou nie in Jesus se voorsiening vir geregtigheid nie? Daar is vier indikasies dat ons vir ons eie geregtigheid ywer in plaas van God s’n:

  • Ons word kwaad as ons misluk. Ons dink, “Ek verwag beter van myself.”
  • Ons word trots as ons slaag. Ons vertel vir onsself, “Ek is meer geestelik as tevore.”
  • Ons oordeel ander se mislukkings. Ons dink, “Dank God, ek is nie soos hy nie.”
  • Ons word jaloers op ander se suksesse. Ons dink, “Waarom werk my najaag van geregtigheid nie soos hulle s’n nie?”

Stop en dink aan die doel wat ons vir onsself gestel het toe ons ons eie geregtigheid nagejaag het. Dit is om 100 persent volmaaktheid te bereik — en ons meet ons voortuitgang. Ons vertel aan onsself, “Ek doen baie beter as tevore. Ek het vir maande nie in daardie ou, knaende gewoonte verval nie.” Dit is ‘n maatstaf van ons eie geregtigheid, nie God s’n nie. Dit is waarom ons ongelukkig, bitter en veroordeeld voel wanneer ons misluk.

Wanneer ons misluk, dink ons, “Ek moet my geregtigheid weer oprig.” Daarom verhoog ons ons pogings. Die probleem is dat ons in die eerste plek nie ons geregtigheid opgerig het nie — God het. Om in ons verhouding met God herstel te word en om regverdig voor Hom te wees, gebeur nie deur enigiets wat ons kan doen nie. Dit gebeur deur geloof in Hom. Dit roep vir ‘n berouvolle hart en gebrokenheid en dit is nie dinge wat ons kan “doen” nie. Dit is ‘n ingesteldheid — ‘n nederige erkenning dat Sy krag alleen ons geregtigheid herstel.

Die probleem met ons pogings om geregtigheid te bereik, is dat sonde en mislukking altyd in ons lewens teenwoordig is.

Wanneer ek ookal probeer om ywer vir geregtigheid in my op te wek, wek dit net groter passie vir sonde op. Dit is die effek daarvan as ons op die wet fokus. Paulus sê, “Ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie’” (Romeine 7:7).

Die wet veroorsaak nie dat ons sondig nie. Dit wek net op dit wat alreeds in ons is. Laat ons sê ek is vasbeslote om nie wellustig te wees nie. Tog werk dit eintlik wellus in my op. “Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en in my allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood” (Romeine 7:8). Deur op sonde te fokus, word my gedagtes oorstroom met oorweldigende begeertes, wat my stroop van my vrede en vreugde. Sonde verloor sy houvas op my slegs wanneer ek in geloof op Christus vertrou eerder as om volmaaktheid deur die wet te soek. “Want sonder die wet is die sonde dood” (Romeine 7:8).

Vandag word baie Christene uitgeput deur hulle eie pogings om sonde te weerstaan. Hulle stort al hulle energie daarin totdat hulle van elke laaste bietjie vreugde gedreineer is. Die oorwinning wat Christus vir ons behaal het, raak verlore in hulle verbete pogings om ‘n geregtigheid van hulle eie op te rig.

Geregtigheid wat deur enigiets anders as geloof opgerig is, sal altyd misluk. Jy sien, daar kan nie twee “geregtighede,” God s’n en ons s’n, wees nie. Dit sou beteken dat daar twee evangelies is, syne en ons s’n. Ons kan nie ons eie geregtigheid met God se heilige geregtigheid meng nie. Daar is net een geregtigheid: God s’n. Sy evangelie reinig ons nie net nie — dit ondersteun ons ook. Dit is goeie nuus vir almal: Dit hang nie van ons af nie. Alles hang geheel en al van Jesus af.

Miskien wonder jy, “Maar is ons nie veronderstel om ‘n poging aan te wend nie? Sê die Bybel nie dat ons sonde moet vermy nie?” Daar is slegs een manier vir jou om sonde te vermy: Sy naam is Jesus. Hy is nie net ‘n waarheid wat jy aanvaar nie; Hy is die Lewende God en jou Heiligmaker. Sy heiligmakende werk in jou hou nooit op nie, dag of nag.

Paulus antwoord die vraag van eie-pogings in Romeine 9. Hy praat van ‘n tweede soort volk wat waarlik geregtigheid bereik het: “Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is” (Romeine 9:30). Hierdie mense het nie moeg geraak van hulle eie pogings nie. Hulle was nie deur hulle mislukkings afgetrek nie. Hulle het al hulle geloof in Jesus se werk vir hulle aan die kruis geplaas — en hulle is deur sy oorvloedige lewe onderhou.

Daar is ‘n vers wat vryheid aan alle geslagte van gelowiges gebring het: “Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Romeine 10:4). Christus is die einde. Daar is niks anders nie! “So hang dit nie af  van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is” (Romeine 9:16).

Paulus waarsku hulle wat by Christus se evangelie wil byvoeg deur hulle eie pogings: “O, Onverstandige Galasiërs, wie het julle betower... Het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Galasiërs 3:1-3).

Vriend, is jy moeg daarvan om te probeer om beter te doen? Is jy gedaan van die eindelose sirkel van jouself weer toe te wy en dan weer te misluk? Plaas dit alles agter jou. Laat jou strewe ophou. Jou geregtigheid met die Here hang nie van jou wil af nie, maar van God, wat genade het.

Jesus is die einde van “die wet onderhou” in jou lewe. Jy is nou inderdaad vry. Hy is jou oorwinning, jou krag en jou nuwe lewe. Laat Hom al die druk wat jy gevoel het om regverdig te wees, verlig. Hy vul jou met ware krag vir geregtigheid. Vertrou in Hom alleen vir jou oorwinning.

Download PDF