Die Belangrikheid om die Vrede van Christus te besit | World Challenge

Die Belangrikheid om die Vrede van Christus te besit

David WilkersonNovember 13, 2006

Jesus het aan Sy dissipels gesê, “Vrede laat Ek vir julle na; My vrede gee Ek vir julle” (Joh.14:27). Hierdie woorde moes die dissipels verbaas het. In hulle oë, was dit omtrent ‘n onmoontlike belofte: Christus se vrede sou hulle vrede word.

Hierdie twaalf mans was verstom oor die vrede wat hulle in Jesus se lewe waargeneem het die afgelope drie jaar. Hulle Meester was nooit bang nie. Hy was altyd kalm, nooit ontsteld deur enige omstandighede nie.

Ons weet dat Christus in staat was tot geestelike woede. Soms was Hy aangeraak, en Hy het geweet hoe om te huil. Maar Hy het Sy lewe op aarde gelei as ‘n man van vrede. Hy het vrede met Sy Vader gehad, vrede in die gesig van versoeking, vrede in tye van verwerping en bespotting. Hy het selfs vrede gehad tydens die storm op see, waar Hy op die dek van die skip geslaap het terwyl ander gebewe het van angs.

Die dissipels het aanskou hoe Jesus na ‘n hoë krans gesleep is deur ‘n woedende skare wat vasbeslote was om Hom dood te maak. Tog het Hy rustig weggeloop van die toneel af, onaangeraak en vol vrede. Hulle het gehoor hoedat mense hulle Here ‘n duiwel noem. Geestelike leiers het na Hom verwys as ‘n bedrieër. Sommige groepe het selfs saamgesweer om Hom dood te maak. Tog, deur dit alles, het Jesus nooit Sy vrede verloor nie. Geen man, geen godsdienstige sisteem, geen duiwel kon Hom van Sy vrede beroof nie.

Dit moes groot besprekings onder die dissipels uitgelok het: “Hoe kon Hy slaap in die storm? Watter soort vrede is dit? En hoe kon Hy so kalm wees terwyl die menigte op die punt gestaan het om Hom oor die krans te stoot? Mense het Hom bespot, Hom beledig, op Hom gespoeg, maar Hy het nooit teruggeveg nie. Niks versteur Hom nie.”

Jesus het dieselfde vrede aan hierdie manne belowe. Toe hulle dit gehoor het, moes die dissipels na mekaar gekyk het en gewonder het: “Jy bedoel, ons gaan dieselfde vrede as Hy hê? Dit is ongelooflik.”

Jesus het bygevoeg, “Die vrede wat ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie” (Joh. 14:27). Dit sou nie die sogenaamde vrede van ‘n gevoellose “zoned-out” gemeenskap wees nie. Ook sou dit nie die tydelike vrede van die rykes en beroemdes wees, wat probeer om gemoedsrus met materiële dinge te koop nie. Dit sou nie die valse vrede wees van diegene wat hulleself oorgee aan die leuen nie, en in hulle gedagtes voorgeneem het, “Ek gaan vrede hê, selfs al loop ek in die hardkoppigheid van my eie hart.”

Nee, dit was die vrede van Christus self, ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Die dissipels was op die drumpel van die grootste beproewing wat hulle ooit sou beleef. Waarom? Christus was op die punt om hulle te verlaat. Selfs al het Hy probeer om hulle voor te berei, toe Jesus die nuus aan hulle meedeel, moes dit as ‘n skok gekom het. Hierdie dissipels het uitgesien na die dag wanneer die Here sy koninkryk op aarde sou begin en almal van hulle as leiers sou aanstel. Hulle het hulle verbeel dit is tyd om op aarde te lei en te regeer.

Maar nou sê Jesus vir hulle, “Julle moet weet, dat ek op die punt staan om oorgegee te word in die hande van die slegte mense, en hulle gaan My doodmaak. Maar Ek sal weer opstaan.”

In dieselfde toneel, belowe Jesus dat Hy die Heilige Gees aan die dissipels sal stuur. Christus verduidelik, “Die Heilige Gees sal julle lei deur wat julle sal ervaar. Hy sal julle Vriend wees. En Hy sal julle instaat stel om die vrede wat Ek julle gee te ervaar.”

Tog het hierdie manne geen begrip gehad van wie die Gees was nie. Hulle moes gedink het, “Hoe kan ‘n gees ‘n sigbare, lewende mens wat jy kan aanraak vervang? En hoe kan Jesus verwag dat ons Sy vrede moet hou, as ons nie Sy werklike teenwoordigheid het nie? Hoe kan ons hoop om daaraan vas te hou as ons dit in geloof moet doen, en nie deur sig nie?”

Op hierdie stadium, het Jesus gesê, “As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan” (John. 14:28). Maar die dissipels kon nie saam met Hom bly wees nie. Hulle kon eenvoudig nie die belofte van die Heilige Gees tot en met Pinkster verstaan, toe Hy op hulle neergedaal het nie.

Jesus se woorde het hierdie manne se lewens en bedienings onderstebo gedop. Skielik was hulle verward, gevul met vrees en onsekerheid. Hulle moes gewonder het, “Hoe sal ons nou leef? Jesus het alles voorsien. Hy kon munte uit visse se monde haal en het brood vermeerder. Hy was ons alles. En wat sal ons doen as die Fariseërs en priesters agter ons aankom? Hulle mag ons dalk stenig as Jesus eers weg is.”

Jesus het sopas hierdie manne geleer, “En as Ek gegaan en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (John 14:3). Tog openbaar die res van die hoofstuk dat Christus se belofte van ‘n hemelse woning geen verligting vir hulle gebring het nie. Selfs Sy waarborg dat Hy weer sal kom, het nie hulle gees gelig nie.

Ek kan my voorstel dat Petrus gesê het, “Wie het ‘n herehuis nodig? Ek het ‘n werk nodig. Ek het ‘n familie om voor te sorg. Ek het nie nodig om te hoor van toekomstige seëninge in die hemel nie. Dit is ‘n ware krisis in die hier-en-nou, en ek moet iets daaraan doen. Ek gaan weer visvang.” Na die kruisiging, het Petrus en ‘n paar van die ander teruggegaan na hulle lewe van visvang, net vir ‘n seisoen.

Op die oomblik, mag u dalk deur die moeilikste tyd ooit van u lewe gaan. U lewe mag dalk onseker wees, en dinge mag dalk hopeloos lyk. Kan dit werkloosheid wees? Miskien is u finansiële situasie buite beheer. Dit mag lyk of daar geen uitweg is nie. Elke rigting wat u inslaan vul u met meer spanning, verwardheid en vermoeidheid.

Dit is wanneer die verstand begin te redeneer, “Hoe kan ek vrede hê met al die skuld wat oor my hoof hang? Hoe is dit moontlik dat ek kalm kan wees wanneer ek ‘n finansiële wonderwerk nodig het. Ek is aan die einde van myself. Die toekoms lyk so onseker.”

By die punt, is die ontmoedigende hart in die versoeking om te sê, “Ja, God is getrou aan Sy Woord. Ek dank Hom vir al sy beloftes. Ek dank Hom vir Sy belofte van ‘n huis in die hemel vir my. En ek dank Hom vir die belofte dat Hy weer sal kom.

“Maar, ek het al so baie van al hierdie geseënde waarhede gehoor. En ek glo dit. Maar op die oomblik, lyk dit alles soos leë teologie. Ek het nie nog ‘n boodskap oor teorie nodig nie. Wat ek nodig het is ‘n wonderwerk.”

Miskien is u familie in ‘n krisis, of u huwelik is in ‘n worstelstryd, of u gesondheid is besig om agteruit te gaan, en dit lyk asof daar geen hoop vorentoe is nie. U sê vir uself, “As ek maar net lig kon sien aan die einde van die tonnel. Tog al wat ek sien is onsekerheid aan alle kante. As ek net genesing vir my liggaam kon kry – vry kon kom van my kind – uit my skuld kon kom – dan sou ek vrede gehad het. Gee vir my ‘n wonderwerk, en ek sal vrede ken.”

Toe Christus die dissipels Sy vrede belowe het, was dit asof hy vir hulle wou sê (asook vir ons vandag): “Ek weet jy verstaan nie die moeilike tye waarin jy nou is nie. Jy verstaan nie die Kruis en die lyding wat Ek binnekort gaan deurmaak nie. Ja, jy is op die punt om bo jou menslike krag getoets te word. Jy gaan verward en verlate voel deur die Vader.

“Maar, ek wil jou hart by ‘n plek van vrede bring. Dit sal nie vir jou moontlik wees om dit wat oppad is te hanteer, sonder my onderhoudende vrede nie. Jy moet my vrede hê.”

Geliefde, die wêreld waarin ons leef is op die punt om ‘n tyd van verdrukking te verduur soos nog nooit tevore nie. Ons het geen begrip van die hartseer wat op die aarde sal kom in die laaste dae nie. En Christus sê vir ons, net soos Hy vir Sy dissipels gesê het, “Dit sal nie vir julle moontlik wees om dit wat gaan kom te verduur, sonder My vrede binne-in jou nie. Kry dit nou, voordat dinge erger word. My Heilige Gees woon in jou. Vra Hom vir My vrede. Hy het belowe om jou siel in elke storm te anker.

“En dit sal jou wonderwerk wees: Ek gaan jou ‘n lewende wonder vir die wêreld maak. Ek sal jou ‘n skouspel van My genade maak in die midde van chaos en verwardheid.”

Dit maak nie saak wat u deurgaan nie. U lewe mag dalk lyk asof dit deur ‘n tornado getref is. U mag dalk beproewings deurgaan wat ander na u laat kyk as ‘n moderne-tyd se Job. Maar in die midde van u probleme, wanneer u na die Heilige Gees uitroep om u te doop in die vrede van Christus, sal Hy dit doen.

Mense sal na u wys en sê, “Daardie persoon se wêreld het heeltemal uitmekaar geval. Tog is hy gedetermineerd om God se Woord te vertrou, lewend of dood. Hoe kan hy dit doen? Hoe gaan hy aan? Hy sou lankal opgegee het. Tog het hy nog nie opgegee nie. En deur dit alles, het hy nog nie enige kompromie aangegaan met wat hy glo nie. Wat ‘n wonderlike vrede! Dit gaan bo alle verstand.”

Meer as ‘n jaar gelede het my vrou, Gwen, ‘n knie vervangings operasie ondergaan. Na al die kanker operasies deur die jare, moes sy nou met ‘n metaal knie oor die weg kom. En die pyn van die operasie sou verskriklik erg wees. Terwyl ons so saam gesit het in die hospitaal kamer, en ons voorberei het vir die operasie, het ek gebid, “Here, ons het U vrede nodig om vandag deur te gaan. Gwen het bo-natuurlike vrede nodig om nog ‘n operasie mee te maak. Gee vir ons U vrede.”

Die Here het dit gedoen. Hy het haar wonderlik deur die operasie gedra. En dit was ‘n vreugde om te sien hoe Gwen God se vrede uitgestraal het aan elkeen wat in haar kamer ingekom het. Geliefdes en vreemdes het iets gesien wat bo my vrou se vermoë was om in haar pynlike omstandighede te bewerkstellig: die vrede van Christus self.

U mag dalk in onrus wees, en dink, “Dit is oor. Ek gaan dit nie maak nie.” Maar Jesus sê, “Ek weet waardeur jy gaan. Kom en drink van My vrede.”

Jesus gee vir ons nog ‘n ander rede waarom ons Sy vrede nodig het. Satan val die regverdiges aan.

Christus het aan Sy dissipels in dieselfde gedeelte gesê, “Die prins van die wêreld kom” (John 14:30). Wat was die inhoud van Sy stelling? Hy het sopas vir die twaalf gesê, “Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie” (14:30). Toe het Hy verduidelik waarom: “want die owerste van die wêreld, die Satan is aan die kom.”

Jesus het geweet dat Satan in daardie uur aan die werk was. Die duiwel het reeds vir Judas indiens geneem om Hom te verraai. En Christus het geweet dat die godsdienstige hiërargie in Jerusalem deur die prinsdom van die hel in staat gestel word. Hy was ook daarvan bewus dat ‘n duiwel-geïnspireerde gepeupel binnekort oppad was om hom gevange te neem. Dit was toe Jesus die woorde aan Sy dissipels gesê het: “Satan, die goddelose een, is oppad. Ek sal dus nie baie langer meer met julle kan praat nie.”

Jesus het geweet dat Hy tyd met die Vader nodig gehad het om Homself voor te berei vir die konflik wat oppad was. Hy het op die punt gestaan om in die hande van die bose mense oorgelewer te word, net soos Hy gesê het. En Hy het geweet dat Satan alles in sy vermoë probeer doen het om Sy vrede te skud. Die duiwel sou Hom pla en probeer om Hom te ontmoedig, alles in ‘n poging om Christus se geloof in die Vader te breek – enigiets om Hom sover te kry om van die Kruis weg te bly.

Geliefdes, ons staar ook ons eie krisis tye in die gesig in die laaste dae. Dink na oor Jesus se waarskuwing aan die gelowiges wat vandag leef: “Maar vir julle, land en see, wag daar ellende omdat die duiwel na julle toe gekom het met groot woede en met die wete dat hy min tyd het. … het hy die vrou agtervolg [die kerk] wat die seun [Christus] in die wêreld gebring het” (Openbaring 12:12-13).

God se Woord kon nie duideliker wees oor die onderwerp nie: die kerk van Jesus Christus is onder ‘n besonder kwaai aanval op die oomblik. Ons kom te staan teen ‘n duiwel wat mal geword het, ‘n vyand wat vol wraak is teen die Here se heiliges. En om sy aanvalle te verduur, gaan ons die alles-oortreffende vrede van Christus self nodig hê.

Op wie stort Jesus Sy vrede uit? U mag dink, “Ek is nie waardig om in Christus se vrede te leef nie. Ek het te veel worstelinge in my lewe. My geloof is so swak.”

Dit sal vir u goed wees om stil te staan by die manne aan wie Jesus eerste Sy vrede gegee het. Nie een van hulle was waardig, en nie een van hulle het ‘n reg daartoe gehad nie.

Dink aan Petrus. Jesus was op die punt om Sy vredes bediening op ‘n prediker van die evangelie uit te stort wat binnekort vloeke sou uitspuug. Petrus was ywerig in sy liefde vir Christus, maar hy sou Hom ook verloën.

Dan was daar Jakobus en sy broer Johanens, manne met ‘n mededingende gees, altyd op soek na erkenning. Hulle het gevra om aan Jesus se regter en linkerkant te sit as Hy opvaar na die troon van glorie.

Tog was die ander dissipels nie meer regverdig nie. Hulle het geborrel van woede teen Jakobus en Johannes omdat hulle probeer het om hulle te uitoorle. Daar was Thomas, ‘n man van God wat oorgegee was aan twyfel. Al die dissipels het tekort geskiet in geloof, dit het Jesus verbaas en smart verleen. Helaas, in Christus se mees moeilikste uur, sou almal van hulle Hom verlaat en vlug. Selfs na die Opstanding, toe die woord versprei het. “Jesus het opgestaan,” was die dissipels “stadig om te glo.” En toe die Here aan hulle verskyn het, het Hy hulle berispe vir hulle gebrek aan geloof.

Maar daar is meer. Hulle was ook manne wat verward was. Hulle het nie die weë van die Here verstaan nie. Sy vergelykings het hulle verwar. Na die Kruisiging het hulle alle besef van eenheid wat hulle gehad het, verloor, hulle het in alle rigtings gespat.

Wat ‘n prentjie: hierdie manne was vol vrees, ongeloof, verdeeldheid, droefheid, verwardheid, mededingendheid, hoogmoed. Tog was dit aan dieselfde onrustige dienaars wat Jesus gesê het, “Ek gaan vir julle My vrede gee.”

Waarom was die belofte van bo-natuurlike vrede aan manne gegee met soveel gebreke? Dit was omdat hulle geroep en uitverkies was vir Christus, en vir geen ander rede nie. Die dissipels was nie gekies omdat hulle goed of regverdig was nie; dit is duidelik. Dit was ook nie omdat hulle talente of bekwaamhede gehad het nie. Hulle was vissermanne en dag-loners, sagmoedig en nederig.

Christus het die dissipels gekies en geroep omdat Hy iets in hulle harte gesien het. Soos Hy in hulle harte gekyk het, het Hy geweet dat elkeen hom aan die Heilige Gees sou onderwerp.

Op hierdie punt, was al wat die dissipels gehad het die belofte van Christus vir Sy vrede. Die volheid van daardie vrede moes nog aan hulle gegee word, tydens Pinkster. Dit is wanneer die Heilige Gees sou kom en onder hulle sou woon. En Hy sou begin om met al hulle vleeslikheid te handel.

Op dieselfde manier, is ons geroep en uitgekies. Wanneer u na Jesus kom, het u dit in antwoord op Sy oproep gedoen. U was oortuig, en oorgewen deur die Helige Gees. En toe u Christus ontvang het, het u ‘n maat van sy Gees ontvang. Die Gees se werk gaan voort in u lewe tot vandag toe.

Bowendien, is u steeds geroep deur die Here. Sy gawes en roeping is sonder berou. En soos die gebrekkige, onrustige dissipels, is ons ook gekies om Christus se vrede te ontvang, deur die deug van Sy roeping.

Die bediening van die Heilige Gees was altyd om Christus aan Sy mense te openbaar. Jesus sê, “Want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig” (John 16:14). In kort sê hy, “Die Heilige Gees sal met jou praat oor My en My weë.”

Eenvoudig gestel, ons ontvang die vrede van Christus van die Heilige Gees. Die vrede kom na ons toe soos die Gees, Christus aan ons openbaar. Hoe meer u dus van Jesus wil hê, hoe meer sal die Gees u van Hom wys – en hoe meer van Christus se ware vrede sal u hê. Dit is hoe ons die vrede bekom.

Jesus sê die wat Hom liefhet strome van lewende water sal uit hulle vloei. Daardie stroom het begin opborrel toe u gered is. Maar dit begin om ‘n rivier te word hoe meer u na Christus smag. Dan, wanneer daar ‘n konstante vloei van Christus se Gees is – Sy vergifnis, Sy karakter, Sy nederigheid en gehoorsaamheid aan die Vader – word Sy vrede ons sin.

Wys vir my ‘n man of ‘n vrou van God wie se hoof passie is om meer soos Christus te word – wie se hart daarop ingestel is om die Gees te vertrou om alle struikelblokke te verwyder – en ek sal vir jou iemand wys wie Satan nie kan verslaan nie. Die vrede van Christus vloei na almal wie gedetermineerd is om die Heilige Gees te vertrou om hulle na die beeld van Jesus te vorm.

Nogtans moet ons ag gee op Christus se waarskuwing: “Satan is oppad.” Niemand op aarde sal so venynig aangeval word soos die persoon wat homself daarop ingestel het om die een prys te verower nie: om Christus te ken en om een met Hom te wees. Die Here belowe aan sulke soekers: “God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter” (Romeine 16:20).

Hierdie vers is nie oor Christus wat die kop van die slang in die Tuin vermorsel nie. Dit is reeds gedoen. Nee, Paulus praat van Satan wat vermorsel, verslaan en verneder gaan word onder die voete van Christus in u.

Gaan bid, en vra die Heilige Gees om u die daaglikse voorraad vrede te gee wat Christus belowe het.

Download PDF