Die koste om voluit vir God te lewe | World Challenge

Die koste om voluit vir God te lewe

David WilkersonJune 11, 2006

Een van die maklikste maniere om jou vriende te verloor en om verwerp te word, is om voluit vir God te lewe. As jy ernstig raak oor jou geestelike lewe; jou afgode versaak; na die Here toe draai met jou hele hart; deur Jesus begeester raak, en jou oë van die wêreldse dinge af wegdraai – dan word jy skielik ‘n godsdienstige fanatikus! Dan ervraar jy die ergste verwerping van jou hele lewe.

Toe jy louwarm was, ‘n vorm godsdiens sonder enige krag gehad het – nie uiterlik te veel gesondig het nie – was niemand gepla nie, selfs nie die duiwel nie. Dinge was rustig en jy was aanvaar. Jy was net nog een van baie halfhartige gelowiges.

Maar nou het jy verander. Jy het begin honger na die dinge van God. Jy het oortuig geraak van jou sonde, jy kon nie langer kerk speel nie. Jy het jou bekeer en na die Here gedraai met jou hele hart. Die afgode is uitgegooi. Jy begin in God se Woord grawe. Jy het materiële dinge begin verontagsaam en met Jesus behep geraak. Jy kom in ‘n nuwe tyd van onderskeiding, dinge in die kerk wat jou voorheen koud gelaat het, begin jou pla. Jy hoor dinge van die kansel af, wat jou hart breek. Jy sien ander Christene wat kompromieë aangaan, soos jyself voorheen gedoen het. Dit breek jou hart. Jy het wakker geword, omgedraai, gebroke en verslae van gees. Nou het jy ‘n Godgegewe las vir die kerk.

In plaas daarvan dat jou vriende hulle verheug en verstaan, dink hulle jy is mal! Jy word bespot en belaglik gemaak en word ‘n fanatikus genoem.

Moses is op ‘n wonderbaarlike manier aangeraak deur God se hand en hy het bewus geraak van die verslawing van God se volk. “Die verlange het in sy hart opgekom om te gaan kyk hoe dit met sy mense gaan…” (Hand. 7:23). Moses was so opgewonde oor die groot openbaring wat hy ontvang het, van die verlossing van sy mense, dat hy uitgehardloop het om hulle te vertel. “En hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand redding sou gee; maar hulle het dit nie verstaan nie…” (Hand. 7:25). Moses was die nederigste man op aarde, hy was deurdring deur God. Hy was nie skynheilig nie, hy was profeties deur God begeester. Hy wou gehad het sy broers moes weet wat God gaan doen. Maar hulle het hom verwerp, en gesê: “Wie het jou as regter oor ons aangestel?” “Wie dink jy is jy?” Eendag sou hulle verstaan, maar nog nie nou nie.

Toe die Heilige Gees my jare gelede opgewek het, het ek sy roeping om heilig te wees ingesien, het ek my ernstig daarop toegelê om in waarheid te wandel. Die Woord het vir my lewendig geword, ek het dinge gesien wat ek nooit voorheen gesien het nie, en ek wou dit vir almal vertel. Ek sou ander predikante bel en met hulle deel wat God gesê het. Met baie wat na my kantoor gekom het, het ek wenende my Bybel uitgehaal en vir hulle gewys wat God aan my openbaar het, in verband met algehele oorgawe en reinheid van hart. Ek het gedink hulle sou dit ook insien. Ek het gedink hulle sou dit omhels en saam met my bid vir ‘n nuwe aanraking van God. In plaas daarvan het sommige net hulle oë geknip. Hulle het gevra: “Dink jy nie jy gaan nou ‘n bietjie oorboord nie?” of, “Dit is bietjie moeilik vir my.” Hoe meer ek God gesoek het, hoe minder het ek hulle gesien. Dit was soos koue water wat teruggegooi is in my gesig. Hulle wou nie hoor nie.

As dit met jou gebeur, vandat jy geestelik ontwaak het, weet dan, jy is nie alleen nie. Ek wil vir julle uit God se Woord wys wat met julle sal gebeur as julle voluit vir God wil volg. Julle kan drie reaksies verwag: (1) Julle sal verwerp word. (2) Julle sal uitgestoot word. (3) Julle sal gestenig word.

Jesus waarsku. “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Joh. 15:19). Wys vir my ‘n gelowige wat beide die Woord liefhet en dit wil doen en ek sal jou iemand wys wat verwerp en vervolg sal word deur die ganse louwarm kerk. Gee hierdie wêreld prys en hulle gee jou oor. Jesus het baie volgelinge gehad totdat hulle agtergekom het dat die boodskap wat Hy gebring het te moelik was – te veel geverg het. Die menigte wat van wonderwerke gehou het, het sy woorde gehoor en Hom verlaat, terwyl hulle sê: “Te moeilik! Wie kan dit doen?” Jesus het vir die twaalf gevra: “Wil julle ook weggaan?” of “Is my boodskap vir julle ook te swaar?” Petrus het geantwoord, “Na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.” Nee, Petrus en die ander sou nie weggaan nie, want die woorde wat vir andere te moeilik was, was vir hulle soet, want dit het ewigheidswaarde vir hulle gebring. Hulle sou by die waarheid bly, ongeag die koste.

Dit is die saak waaroor elke Christen in hierdie laaste dae moet besin: Sal julle wegdraai van die waarheid wat julle oortuig, waarheid wat op julle sonde wys, waarheid wat julle afgode vernietig? Waarheid wat julle oë wegdraai van die wêreld, die self en materialisme? Of sal julle terugdraai na ‘n sagte, alles-is-reg prediking? Sal julle die Heilige Gees toelaat om te ondersoek en aan die lig te bring?

Die waarheid maak vry. Vry van dooie prediking, vry van dooie predikers, vry van dooie tradisies, vry van leerstellings van demone. Vry van gemeenskap met hulle wat die waarheid as “te liefdeloos” beskou. Die liefhebbers en daders van waarheid begeer om in die lig te leef, om elke geheim openbaar te maak. Jesus het gesê: “Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is” (Joh. 3:20, 21). Die reine waarheid ontbloot altyd die verborge dinge. Toe Jesus die lig werp op die verborge sonde, wou die gelowige Jode Hom doodmaak. Jesus het gesê: “Ek weet dat julle die geslag van Abraham is; maar julle probeer om My om die lewe te bring, omdat my woord geen ingang in julle vind nie” (Joh. 8:37). “Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie” (Joh. 8:47).

Die Woord van God sê, “en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongertigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thessalonicense 2:8-12).

Daar is vandag talle Christene wat nie die waarheid liefhet nie. God sê dit is as gevolg van geheime sonde – “hulle geniet die ongeregtigheid”. Hierdie kompromie-soekende, plesierliefhebbers leef in vreeslike misleiding. Soos die Jode in Jesus se tyd, is hulle oortuig dat hulle sien. Hulle glo dat hulle God se kinders is, en hulle verwerp vuriglik alle sinspeling op hulle diep verborge geheime en luste. Daar is iets anders as die waarheid wat hulle harte vul. Hulle jaag die waarheid nie na soos ‘n kosbare pêrel nie. In plaas daarvan koester hulle ‘n geheime genieting, ‘n afgod, ’n sonde.

Let op: Hulle wat julle verwerp, hulle wat julle verlaat as gevolg van die waarheid het ‘n baie sterk rede. Hulle sien julle as ‘n bedreiging vir iets wat naby aan hulle harte lê. Julle afgesonderde lewe is ‘n bedreiging vir hulle lou-warmheid.

Paulus het vir Timoteüs geskryf, “Jy weet dat almal wat in Asië is, hulle van my afgekeer het” (2 Timoteüs 1:15). Paulus het alles vir hierdie mense gegee, aan hulle die hele raadsplan van God verduidelik. Hy was blaamloos voor hulle, heilig, onberispelik. Hy was deur die gemeentes van Asië verwerp en sy eie geestelike kinders het hom vermy. Waarom?

Paulus was nou in die tronk. Hy het swaar gekry. Hy was bedroef, deur kettings gebind, “’n gevangene van die Heer.” In die tyd het ‘n nuwe prediker populêr geraak – ‘n man wat ‘n bevredigende boodskap van welvaart gebring het. “Alexander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld na sy werke” (2 Timoteüs 4:14).

Alexander se naam beteken “iemand wat mense tevrede stel”. Alexander en Himeneus het ‘n vals evangelie verkondig wat die vleeslike bevredig. Himeneus was vernoem na die “god van huwelike”. Dit was ‘n evangelie van liefde, van fees vier en mens-bevrediging, sonder heiligheid. Paulus het hulle albei oorgegee aan die Satan om hulle vlees te vernietig, sodat hulle kon leer om op te hou met Godslastering (1 Timoteüs 1:20). Om hulle oor te gee aan die Satan was nie vir die vernietiging van hulle liggame nie, maar van die vleeslike evangelie. Dit was ‘n leerskool “sodat hulle kon leer om God nie te laster nie”. Hoe sou hulle leer as hulle dood was? Hulle leringe het alle lyding en swaarkry ontken.

Paulus het gesê hulle kelder alle ware geloof, omdat hulle sonde verskoon, hulle het geen rein gewete gehad nie. Hulle het ware geloof laat sink, deur hulle vleeslik ingestelde prediking. Hulle het Paulus verwerp omdat hulle gedink het dat hy sy vryheid verloor het. Hulle het dit as ‘n gebrek aan geloof beskou. Vir hulle was dit die duiwel wat Paulus gevange gehou het. As Paulus so heilig was – as hy preek dat God almagtig is – hoekom ly hy? Hulle het “hulle geskaam vir sy boeie”. Vandag is daar ook Christene wat jou sal verwerp, hulle sal hulle skaam vir jou – as jy deur ‘n toets gaan of beswaardheid of siekte ondervind.

Jesus waarsku, “Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys” (Joh. 16:2). “Hierdie dinge sê ek vir julle, sodat julle nie sleg sal voel nie … Moenie verbaas wees as die louwarm kerk julle verwerp nie – omdat hulle My nie ken nie, ook nie die Vader nie …”

Jesus het ‘n jong man wat blind was, genees. Hy is na die sinagoge geneem om deur die Fariseërs ondervra te word. Sy oë is oopgemaak – hy kon sien! Hy het gesê, “Een ding weet ek, ek was blind en nou sien ek” (Joh. 9:25). Het hulle hulle verbly dat hierdie man kon sien? Nee! Hulle het geantwoord, “Jy is heeltemal in sondes gebore, en leer jy ons? En hulle het hom uitgeban” (Joh 9:34).

Daardie geneesde blinde man verteenwoordig die oorgeblewe res – hulle wie se oë geopen is, om die heiligheid van God raak te sien. Gaan aan, getuig soos hy – “Ek was blind en nou sien ek!” Hulle sal jou uitwerp en vra, “wil jy ons staan en leer?”

As jy van voorneme is om Christus ten volle te volg, moet jy ook bereid wees om sy blaam te dra. “Laat die wat U verwag, deur my nie beskaamd staan nie, o Here, Here van die leërskare! Laat die wat U soek, deur my nie in die skande kom nie, o God van Israel! Want om U ontwil dra ek smaad, bedek skande my aangesig. Vreemd het ek vir my broers geword en ‘n onbekende vir die seuns van my moeder” (Psalm 69:7-9). Hierdie gedeelte praat hoofsaaklik van Christus se lyding – maar soos Hy in hierdie wêreld was, is ons ook! As hulle Hom vervolg en beledig het, sal hulle dieselfde doen met hulle wat vir “self” gesterf het. Wie het Christus blameer? Wie het skande op sy naam gebring en sy naam beswadder? Die mens-behagende kerkmense!

Om godvresende gelowiges uit die mens-behagende kerk te gooi, is die grootste guns wat aan hulle bewys kan word! Ek hoor Christene sê, “My kerk is dood – ek hou nie van wat gebeur nie, maar God het my daar gesit! Ek sal daar bly en dinge probeer verander.” Dit kan gevaarlik en onskriftuurlik wees. Ons moet uitkom uit alles wat van Babilon is! Dit mag net tradisie wees wat jou daar hou. Jy is miskien nie gereed om die hele pad saam met Jesus te loop nie. Jou ou vriende hou jou vas.

Oral waar Paulus gegaan het, het hy na die sinagoges gegaan “soos wat hy gewoond was” (Hand. 17:2). Hy het vir daardie blinde kerkgangers uit Jesaja gepreek, “Want Ek gaan iets in julle dae doen, iets wat julle sekerlik nie sal glo as iemand julle dit vertel nie” (Hand. 13:41). Paulus het so hard probeer om hulle oor te haal, hopende dat hulle sou hoor. Uiteindelik het Paulus die profesie van Jesaja in sy ore hoor dreun, “Hulle sal nie glo nie, al bly jy ook by hulle om dit te verklaar!” Luister na hierdie waarskuwing. Doen wat Paulus gedoen het en gee pad! “toe het hulle die stof van hul voete teen hulle afgeskud” (Hand. 13:51). Paulus het vir daardie godsdienstige Jode gesê: “Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp het … kyk, ons wend ons tot die heidene” (Hand. 13:46).

As jy in ‘n kerk of gemeente is wat die waarheid gehoor het, en nie daarop ag gegee het nie, “Gee pad daaruit!” Gaan uit of julle kinders mag terugval! Moenie sê: “My kinders het vriende daar” nie. Want hulle mag almal groot word sonder enige oortuiging van sonde, as gevolg van ‘n gebrek aan krag of God se teenwoordigheid. Jy gaan niks verander nie, in geen opsig nie! Maar hulle mag jou verander. Watter gemeenskap het lig met duisternis? “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem” (2 Korinthiërs 6:17).

Julle sal deur die meerderheid gestenig word! “En hulle het Stefanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees” (Hand. 7:59). Wie het vir Stefanus gestenig? Die mees invloedrykste raad van daardie tyd! “Hulle … het hom voor die Joodse Raad gebring” (Hand. 6:12). Dit was een man teen die menigte!

Hier is ‘n man “met sy oë op Jesus gevestig!” Maar hy word gehaat. Luister na die haat van hierdie predikers, die godsdienstige fanatikuste: “hulle het op hulle tande gekners” (Hand. 7:54). “… en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm” (vers 57). Wat is dit in hierdie regverdige man wat die godsdienstige menigte so kwaad gemaak het? Hy het die waarheid gepraat wat hulle harte aangeraak het. “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle” (vers 51). “julle wat die wet … ontvang het en tog nie onderhou het nie!” (vers 53). Hy moes die waarheid preek! Hulle harte was nog in die wêreld – gebonde deur wellus. Hulle het God se wet geken, maar geweier om te gehoorsaam. Hulle het Christus gekruisig.

Die tweesnydende swaard van die waarheid het hulle harte deurboor. Maar dit was sy getuienis van ‘n geopende hemel wat hulle wraak op hom laat neerkom het. “Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan. Maar hulle het met ‘n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm. En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig” (Hand. 7:55-58).

Stefanus het die gemengde dubbelhartigheid ontbloot. “En hulle het in daardie dae ‘n kalf gemaak en aan die afgodsbeeld ‘n offer gebring en hulle in die werke van hulle hande verbly. Maar God het Hom afgewend en hulle oorgegee om die leër van die hemel te dien, soos geskrywe is in die boek van die profete: Julle het tog nie aan My slagoffers en offers gebring gedurende veertig jaar in die woestyn nie, o huis van Israel? Ja, hulle het die tent van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, die beeld wat julle gemaak het om hulle te aanbid. En Ek sal julle anderkant Babilon wegvoer” (Hand. 7:41-43).

In hierdie eeu van genade, is dit in God se oë egbreek, as jy na ‘n vrou kyk met wellus. As jy haat is jy ‘n moordenaar. En as haatlike woorde jou toegevoeg word, omdat jy God voluit wil dien, word jy gestenig! “Die lippe van die dwaas kom met getwis, en sy mond roep na slae… die woorde van die kwaadstoker is soos lekkernye, en dit gly af na die kamers van die binneste” (Spreuke 18:6,8). “Wat hulle tong skerp maak soos ‘n swaard, hulle pyl rig – bitter woorde!” (Psalm 64:4).

Jesus het ‘n gelykenis vertel waarin ‘n eienaar van ‘n wingerd, gedurende oestyd sy bediendes gestuur het om vrugte te gaan haal. “Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig” (Mattheus 21:35). So gaan dit vandag nog! God het sy diensknegte gestuur om vrugte in te bring uit sy wingerd. Maar in plaas daarvan word hulle met die tong geslaan, doodgemaak deur haat, en gestenig deur skerp woorde.

Ons het ‘n “Stephanus Broederskap” wat vandag kan sê, “Ek het die hemel geopend gesien.” Dit is daardie helder visioen, daardie snydende woord van die waarheid wat die woede, van die onbesnedene van hart, ontketen!

Die Israeliete wou Josua en Kaleb stenig vir hulle oproep om “in te gaan”. Tien van die verspieders het die volk van God ontmoedig deur te sê: “Ons kan nie ingaan nie. Daar is te veel reuse! Te veel hoë mure!” Kaleb het gesê: “Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig” (Numeri 13:30). Hulle het gesê: “Laat ons ‘n hoof aanstel en na Egipte teruggaan” (Numeri 14:4). “En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefunne, twee van die wat die land verken het, het hulle kleure geskeur en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n buitengewoon goeie land. As die Here ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ‘n land, wat oorloop van melk en heuning. Wees net nie teen die Here opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die Here is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie! Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word. Maar die heerlikheid van die Here het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel” (Numeri 14:6-10).

My besorgdheid in hierdie verhaal is nie oor Josua en Kaleb nie, want God was met hulle. Ek is besorg oor God se volk wat hulle tande gekners en klippe opgetel het! Waarom sal ‘n oproep tot gehoorsaamheid hulle so laat reageer? Kyk na die oproep! Ek is oortuig dat as die hart eenmaal deur die afgod van wellus beset word, raak ‘n persoon ongelowige. Kompromie en ongeloof loop hand-aan-hand. Dan grief alle prediking teen kompromie hulle, en hulle begin teen God veg, terwyl hulle sy Naam bely.

Hoe moet die regverdige reageer as hy verwerp, uitgegooi en gestenig word? Jesus het reageer soos ‘n lam “hy het sy mond nie oopgemaak nie.” Moenie vuur uit die hemel uitroep teenoor diegene wat jou mishandel nie. “Waarom ly julle nie liewer onreg nie” (1 Korinthiërs 6:7). “… en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit” (1 Korinthiërs 4:12). “Bid vir diegene wat julle mishandel.”

Ek hou nie van hooghartige, selfgemaakte profete wat terugveg en dreig om vervloekings uit te spreek nie. Toe Simei klippe na Dawid gegooi het, toe hy voor Absalom uit Jerusalem gevlug het, het die leërkaptein gevra: “Waarom moet hierdie dooie hond my heer die koning vloek?” Dawid het geantwoord, “As hy vloek … laat hom alleen … miskien sal die Here my ellende aansien en sal die Here my goed vergelde vir die vloek wat my vandag tref” (2 Samuel 16:6,9,10,12).

Moses het die berg uitgeklim na God toe, “en sy gesig het blink geword.” Alhoewel almal dit kon sien, soveel so dat hy ‘n doek oor sy gesig moes sit, “was hy nie daarvan bewus dat sy gesig blink geword het, terwyl God met hom gepraat het nie” (Eksodus 34:29). Hy was nie eers bewus van die weerkaatsing van God se heiligheid op sy gesig nie. Soos Stefanus, het Moses ook nie gespog met God se aanraking nie. Hulle het nie voorgegee dat hulle profete was nie. Hulle het nie gedreig of voorgegee dat hulle “nuwe” of “buitengewone” profesieë het nie. Hulle het nie valse heiligheid vertoon nie. Nederigheid is die kenteken van ‘n siel wat geheel-en-al afhanklik is van Christus. Daar is geen geestelike hoogmoed of spoggerigheid nie.

Wat is die beloning? Dat Christus saam met jou sal staan! Daar is baie ander belonings, maar ek noem slegs hierdie een, want dit is al wat ons nodig sal hê. Paulus was ‘n gevange in ‘n kasteel in Jerusalem terwyl die hele godsdienstige sisteem hom wou doodmaak. Die kerk was in oproer. Hy was beskuldig van “verontreiniging van die tempel en ‘n prediker van ‘n valse evangelie”. Selfs die soldate het gevrees dat Paulus in stukke geskeur sal word. Daarom het hulle hom met geweld geneem en opgesluit. “En die volgende nag het die Here by hom gestaan en gesê: Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook getuig” (Hand. 23:11).

Die Here self het met Paulus gepraat – nie ‘n engel nie! En wat ‘n woord: Skep moed! Daar kom nog meer! Maar jy sal dit die hoof kan bied, as jy weet die Here staan by jou!

Download PDF