Die Maak van ‘n Man van God | World Challenge

Die Maak van ‘n Man van God

David WilkersonFebruary 1, 2010

Ek wil graag met jou praat oor drie mans wat God magtiglik gebruik het — en hoe Hy hulle mislukkings gebruik het om goddelikheid in hulle te bewerkstellig.

Vandag hoor ons so baie van sukses en hoe mense dit bereik het. Sukses in Bybelse terme is iets heel anders. As ons dink aan hulle wat God gebruik het om hulle geslag op te wek, dan ontdek ons dat die elemente wat Hy gebruik het om hulle te vorm foltering, pyn, droefheid en mislukking was.

Dink aan die goddelike Job. Hy was ‘n man wat in sy motiewe misluk het. Job was trots op sy eie goedheid en het gesê, “Ek het nooit iemand seergemaak nie. Ek het regverdig geleef.” Inderdaad, as ons deur hierdie boek lees, dan wonder ons hoe God so ‘n trotse man so hoog kon geag het. Selfs al was Job goddelik en het hy boosheid vermy, was hy duidelik oortuig van sy eie geregtigheid.

Dink volgende aan Dawid. Hy was ‘n man wat in sy morele waardes misluk het, maar tog het hy ‘n groot man van God geword. Geslagte was oorbluf deur Dawid se dade. Hoe kon ‘n man wat so moedig in godsaligheid was, misluk het deur sulke blatante onsedelikheid. Hierdie koning het in sak en as beland. Hoe kon iemand wat so hard geval het, iemand word soos die Skrif sê: “’n man na God se hart?”

Laastens, dink aan Petrus. Hy was ‘n man wat in sy sending misluk het. Petrus het ‘n visie en ‘n roeping gehad; inderdaad, hy was die één persoon aan wie Christus die sleutels van die koninkryk gegee het. Tog het hierdie man treurend op ‘n heuwel beland omdat hy gevloek het en die Christus wat hy liefgehad het verloën het. Ten spyte van so ‘n groot mislukking, het Petrus ‘n nuwe mens geword wat as Christus se woordvoerder gedien het by Pinkster toe die Nuwe Testament kerk gebore is.

Watter kragte is nodig om ‘n man of vrou van God te maak?

Wat het alle volgelinge van Jesus in gemeen? As ons wil hê dat God ons moet aanraak, watter innerlike stryd moet ons trotseer? En watter kragte en druk wil God gebruik om geregtigheid in ons te vorm? Ons kan nie waag om te bid, “Jesus, gebruik my,” of “Here, plaas u hand op my,” as ons nie gewillig is om dit wat verseker sal kom, te trotseer nie.

Ek het baie biografieë gelees van sendelinge, wat wissel tussen hedendaagse tye tot die antieke geskiedenis. ‘n Mens sou dink dat hierdie kosbare mense, wat so magtig deur God gebruik is, stories van voortdurende liefde, krag en vreugde sou hê. Dit is egter nie so nie. Hulle stories word gekenmerk deur hartseer, moedeloosheid en selfs verraad, soos Jakob s’n. Hulle stories is nie van avontuur nie, maar van hartseer. Ons lees van afgematte heiliges wat hulleself snags aan die slaap gehuil het. Desperate siele wat uitgeroep het, “Ek is so geneig tot sonde! Ek is wispelturig, altyd op en af. Hoe kan God my ooit gebruik?”

As ons opreg in ons begeerte is om die krag wat goddelikheid in ons produseer te ken, moet ons na die Tuin van Getsémané toe gaan — na Jesus, wat ons voorbeeld is. Al die magte wat teen Job gekom het, was ook daar by Getsémané teen Christus teenwoordig.  Net so, was die bose versoeker wat Dawid se hart op die dak versoek het, dieselfde versoeker wat Jesus op die dak van die tempel wou vernietig. En al die folterende magte wat Petrus se siel geteister het, was ook by Getsémané teenwoordig, waar hulle teen ons Verlosser gestry het.

Verstaan dit duidelik: Christus word aangeraak deur al die gevoelens van ons swakhede. Daar is nie ‘n beproewing wat ons deurgaan, wat Hy nie ook deurgegaan het nie.

Om ‘n dienaar van God te wees, moet ons op een of ander stadium ‘n beker van lyding bedien word.

Vir elke ware man of vrou van God, sal daar ‘n beker van lyding kom. Dink aan Christus se gebed in die tuin: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matthéüs 26:39).

Jesus se hele bediening het daaroor gegaan om die wil van sy Vader te doen. Inderdaad, vir drie jaar het alles wat Hy gedoen het na Gólgota gewys. Nou, by Getsémané, het wat ookal in die beker was wat Jesus gedrink het, veroorsaak dat Hy groot bloeddruppels gesweet het.  Hy het effektief uitgeroep, “O God, as dit enigsins moontlik is, verlos My van hierdie las. Dit is te swaar vir My. Ek wil hê dat dit liewer moet verbygaan.”

Toe Job sy beker van lyding bedien is, het hy uitgeroep, “Ek het soveel pyn dat ek nie my weg oop kan sien nie. Ek het my sere met my trane gewas.” Toe Dawid sy lydingsbeker gedrink het, het sy bed ‘n bed van trane geword. Hy het gesê, “My bors en bene is deurtrek met pyn.” In beide mans se stemme hoor ek Jesus se eie woorde: “Meester, as dit alles moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan.”

Ek weet nie wat jou beker van lyding mag wees nie. Sommige Christene het vir jare gebid om van hulle s’n ontslae te raak. Moenie ‘n fout maak nie, ek glo in genesing. Maar ek glo ook in genesingsbeproewings. Dawid het getuig, “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord” (Psalm 119:67).

Ons kan nie onsself toelaat om te dink dat elke pyn of beproewing ‘n aanval van die duiwel is nie. Ook mag ons nie dink dat hierdie beproewings beteken dat daar sonde in ons lewens is en dat God ons oordeel nie. Dawid leer ons anders: As hy nie beproef was nie, sou hy nie die Here gesoek het nie.

So, wil jy ‘n man of vrou van God wees? Wil jy die hand van die Here op jou hê? Ek sê vir jou, jy gaan ‘n beker van lyding ontvang. Jy sal in ‘n bed van trane lê. Jy sal nie so erg huil oor fisiese pyn nie, maar oor iets baie ergers. Ek praat van die pyn van verwerping en verwonding van vriende. Dit is die pyn wat ouers ervaar wanneer hulle kinders hulle harte vertrap en vreemdelinge vir hulle word. Dit is die pyn tussen ‘n man en vrou wanneer ‘n muur tussen hulle gebou word.

O, die tragiese onrus wat kom, die rustelose, slapelose nagte — wetend dat God werklik is, dat jy in sy Gees wandel, dat jy Jesus liefhet met alles wat in jou binneste is...en tog word jy geforseer om ‘n beker van lyding te drink.

Ons kan nie van hierdie beker af weghardloop nie. Ons kan nie bedrieg word om te dink dat om Jesus te volg net vreugde inhou nie. Die Skrif sê wel dat ons dit alles “louter vreugde moet ag.” Maar dit sê ook, “Menigvuldig is die teëspoed van die regverdiges” (Psalm 34:20). Selfs al het God belowe om ons uit ons beproewings te lei, sal dit ons steeds diep seermaak om daardeur te gaan.

Petrus het beproewing met sy vlees probeer verdryf. Hy het sy swaard by Getsémané gebruik en het in wese daarmee vir Jesus gesê, “Meester, U hoef nie deur al hierdie dinge te gaan nie. Ek sal hulle weghou terwyl U ontsnap.” Baie Christene het vandag dieselfde gesindheid. Hulle neem ‘n swaard in die hand om beproewings te probeer verdryf, terwyl hulle sê, “Ek hoef nie hierdeur te gaan nie. My God is ‘n goeie God!”

Ek glo dat God getrou is. Maar Jesus vertel vir ons dat ons nie van ons beker van lyding kan weghardloop nie. Hy het Petrus beveel, “Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?” (Johannes 18:11).

Wanneer jy die Een wat jou hierdie beker gee om te drink, vertrou — wanneer jy sy doel agter jou lyding sien — dan is jy in staat om dit te drink. Dit mag brand, skroei en jou verwond, maar moenie bang wees nie, want jou Vader hou die beker vas. Jy drink nie dood nie, maar lewe!

Die dienaar van God sal ook ‘n nag van verwarring verduur.

Jesus het by Getsémané gesê, “My siel is diep bedroef tot die dood toe” (Matthéüs 26:38). Kan jy jou indink dat die Seun van God ‘n nag van verwarring beleef het? Het Hy nie geweet dat Hy op die punt was om die hel en die dood te oorwin nie? Het Hy nie ‘n aangebore gevoel van leiding en einddoel gehad dat die Vader met Hom was nie? Hy moes in sy profetiese oog gesien het dat Hy hierdie uur sou moes verduur. In werklikheid het Hy die dissipels vertel, “Ek sal nie meer lank met julle wees nie.”

Geslagte van Christene getuig dat die moeilikste deel van geloof die laaste halfuur is. Ek wil byvoeg dat die nag van verwarring net voor die oorwinning kom, net voor die duisternis verdwyn en die lig deurbreek. Met ander woorde: Net voor al die mag van die Satan verbreek word, sal jy ‘n verwoestende nag van verwarring beleef.

In daardie uur, sal dit vir jou lyk asof of alle sin van leiding en einddoel weg is. Dit sal voel of God se Gees op Wie jy eens vertrou het, verdwyn het. Job het dit duidelik gemaak toe hy gesê het, “Gaan ek na regs, is Hy nie daar nie. Gaan ek na links, is Hy nie daar nie. As die Here aan die werk is, dan sien ek dit nie.”

Dawid het tydens hierdie nag van verwarring uitgeroep, “Ek is deur duisternis oorweldig. My oë sien niks!” In Petrus se nag van verwarring was Hy uitgelok om die Meester te vloek. In wese was sy uitroep ook dié van baie Christene vandag: “Waarom ek?”

Job het dieselfde gevoel as Petrus gehad. Hy het verklaar, “Ek het nie op my vleesarm vertrou nie. En ek het nie my oortredinge weggesteek nie. Ek was eerlik; Ek het my integriteit behou. So, waarom ek? Waarom moet ek deur hierdie verwarring gaan? Waarom moet ek ly?”

Hy praat namens baie gelowiges, wat vandag smeek, “Here, ek het niemand verkul nie. Ek vermy alle oneerlikheid. So, waar is u leiding? Waarom hierdie nag van verwarring?”

Dink aan Dawid, die magtige koning van ‘n magtige volk, toe die profeet Natan hom gekonfronteer het. Kan jy die angs wat Dawid ervaar het toe sy sonde geopenbaar is, aanvoel? Skielik het Dawid nie die bose man, wat die dinge wat Natan genoem het, herken nie. Inderdaad, Dawid het drie pragtige Psalms oor hierdie nag van verwarring geskryf, waarin hy worstel oor hoekom hy sulke dwase dinge aangevang het. Hy kon net sê, “Dit is te moeilik vir my om te begryp. My sonde het my oorweldig. O, waarom ek?”

Baie in Christus se liggaam gaan deur morele kwessies soos Dawid. In hulle nag van verwarring het hulle gewonder, “God, waarom ek? My hart het na U gesoek toe my sonde my oorweldig het. My siel word daardeur geteister. Ek verstaan nie.”

Moenie vir een oomblik dink dat iemand, wat magtig deur God gebruik word, al die antwoorde het nie. Ek weet wat dit is om daardie goddelike stilte in ‘n nag van verwarring te ervaar. Ek weet hoe dit voel om deur ‘n seisoen van verwarring te gaan, waartydens daar geen duidelike leiding is nie. Al my vorige patrone van leiding en onderskeiding was nutteloos. Ek kon eenvoudig nie my weg oop sien nie. Al wat ek kon doen, was om die volgende uit te roep: “Here, wat het gebeur? Ek weet nie watter kant toe nie.”

Ons sal almal daardie nag moet trotseer. Tog dank ek God dat dit ‘n seisoen is wat sal verbygaan. Die Here begeer om ons pad duidelik te maak.

Laastens, die dienaar van God sal ‘n uur van eensaamheid moet verduur.

Jesus het in Gólgota geroep, “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Watter ongelooflike woorde om uit die mond van Jesus, die Seun van God, te hoor. Ons hoor soortgelyke woorde van Job, wat gesê het, “God het wreed geword teenoor my.” Net so het Dawid gevra, “Het God sy genade vergeet? Het Hy dit van my af weggeneem?” En terwyl Petrus homself by die vuur afgesonder het, het hy bitter gesê, “Ek ken die man nie!”

Dit is waar dat daar in ‘n uur van eensaamheid geen vriend is wat sal verstaan waardeur jy gaan nie. Dit lyk of God sy gesig van jou verberg het. Jy mag vra, “Is dit werklik moontlik dat God vir ‘n seisoen sy hand afhaal en sy gesig verberg vir sy geliefde?” Die Skrif antwoord, “God het Homself van hom verberg sodat Hy hom kon toets om uit te vind wat in sy hart is.”

Ek kan eerlik sê dat Jesus nog nooit tevore meer werklik vir my was nie. Geen verskrikking kan vergelyk met wat ‘n mens teister, wanneer die hemel toegesluit vir jou gebede is nie. In daardie oomblikke is daar net vrees en leegheid. Jou hart roep uit, “O God, waar is U?”

Klink dit vir jou vreemd? Het jy nog nooit hierdie krisis in jou lewe ervaar nie? Dan was jy nog nooit by Getsémané nie. God het van Homself in hierdie donker uur gesê, “In ‘n oomblik van wraak het ek Myself verberg.” Maar Hy het ook belowe, “Ek sal na jou toe kom met liefdevolle genade.” En so sal Hy vir ons, sy kinders, doen en sy genade vir ons skenk in ons tye van eensaamheid.

Wat het gebeur met daardie dienaars wat die beker van lyding, die nag van verwarring en die uur van eensaamheid verduur het?

Job het in sy uur van eensaamheid tot die slotsom gekom, “Die Here ken die pad wat ek neem. En wanneer Hy my klaar getoets het, sal ek soos goud uitkom, omdat ek op Hom vertrou.”

Dawid het in sy nag van verwarrring verklaar, “Ek sal sing van die genade van God vir ewig! Ek sal my stem verhef in lofprysing tot Hom.”

By Pinkster het Petrus bo sy mislukking uitgestyg om ‘n preek te lewer wat duisende in die koninkryk ingebring het binne ‘n enkele uur. Dit was die apostel wat Jesus gekies het om aan die wêreld te verklaar, “Wat julle sien, is dit wat deur die profeet Joël geprofeteer is.”

Ons weet dat hierdie manne almal toegewyde dienaars van God was. Die Here het Job se geregtigheid erken...Hy het self Dawid tussen sy broers uitgekies...en Jesus self het na Petrus gewys en vir hom gesê, “Kom, volg my.” Tog het hierdie geliefde, uitverkose dienaars groot beproewings, ver bokant hulle menslike vermoëns, beleef.

Ek dink aan ‘n reël in ‘n ou evangelie liedjie wat sê, “Standing somewhere in the shadows you’ll find Jesus.” Geliefde, my stryd is nie in my huis nie. Ek het my vrou lief en ek het wonderlike kinders en kleinkinders. My stryd is nie met my vriende nie; ek het duisende rondom die wêreld wat my ken en wat ek weet my waardeer. Dit is ook nie met my geloof nie; ek het nog nooit die Here meer lief gehad as nou nie. Ek het Jesus nog nooit in my hele lewe meer begeer nie.

Laat my jou vertel waar my stryd lê. Hoe meer ek bid, “Here, gebruik my,” hoe meer voel ek die vyand se magte teen my opstaan. Hoe meer ek bid dat mense vir Jesus gewen word — hoe meer sukkel ek in gebed en om getrou te getuig om mense se siele te red — hoe meer voel ek verbryseld soos Jesus was. En ek smeek al hoe meer, “O, Here, as ek vlerke gehad het om te vlieg. Dan jou ek hierdie beker van lyding, hierdie beproewing van my siel, ontvlug. God, ek kan dit nie verduur nie!”

Tog, soos Job, Dawid en Petrus voor my, weet ek in Wie ek glo.

Wanneer ‘n man of vrou van God gemaak word, sal die vyandige magte teen hulle met groot woede kom.

Op hierdie oomblik mag jy ‘n bitter beker van lyding drink. Jy mag ‘n donker nag van verwarring, of ‘n vreesaanjaende uur van eensaamheid verduur. Maar ek dring by jou aan om hierdie mans se voorbeeld te volg en in jou donkerste oomblik in die geloof te staan. Herhaal wat hulle gesê het, “Alhoewel ek getoets word en al hierdie magte teen my kom, weet ek in Wie ek glo. En ek weet dat Hy in staat is om dit wat ek aan Hom toegewy het, teen daardie dag te beskerm.”

YJy mag dalk nie op daardie oomblik vreugde smaak nie. Jou siel sal dalk nie met vrede gevul word nie. In werklikheid mag jy steeds onrus in jou siel hê. As dit die geval is, bly vas in sy Woord gewortel. Hou op om jou weg deur dit alles te probeer dink. Daar is een weg daardeur en dit is die pad deur Getsémané. “Geween mag duur vir die nag, maar vreugde kom in die môre.”

Baie geliefde mans en vroue in Christus vertel vir my hartseer stories van verlore liefde, uitgerekte ellende en onophoudelike teisteringe. Dikwels lyk dit of hulle beproewings nooit sal ophou nie. En inderdaad, in menslike terme, lyk dit op hulle in hopelose situasies vasgevang is. Vir hulle is die lewe lyding en verwerping met rare oomblikke van geluk. Hulle het die Here begin bevraagteken en wonder, “Sal hierdie donker nag ooit ophou? Is ek bestem vir ‘n lewe van swaarkry?”

Kosbare een, ek verseker jou: God het jou nie vergeet nie. Hy plaas elke traan wat jy stort in ‘n bottel. Jare gelede, nadat ek hierdie preek gelewer het, het ‘n dierbare suster in Christus my genader. Sy het vir my vertel, “Pastoor, toe ek vanoggend na hierdie kerk toe gekom het, was ek gelukkig en onbesorg. Maar toe jy begin praat van die beker van lyding, het ek diep binne-in my geween. Ek het besef dat dit net ‘n front was. My man het my verlaat en my kinders is ontsteld. Ek het dit alles toegemaak om my hartseer weg te steek. Maar die werklikheid is dat my siel vol smart is.” Ek het op daardie oomblik saam met haar gebid en God gevra om haar geloof in Hom sterk te maak. Sy het waarlik bemoedig vertrek, wat sy het geweet in Wie sy geglo het.

Liewe heilige, maak Jesus die vreugde en hoop van jou lewe te midde van jou stryd. Laat Hom jou hart verander, sodat jou omstandighede nie langer jou gees hinder nie. God doen sy beste werk wanneer ons sulke tye beleef. Dan sal jy, al kom wat ookal, bo jou omstandighede uitstyg en saam met Hom in hemelse plekke sit. Jy is die voorwerp van Sy ongelooflike liefde!

Download PDF