Gebed in Afsondering | World Challenge

Gebed in Afsondering

David WilkersonOctober 23, 2006

Ek het ‘n vraag vir u: Wat kan God se mense doen in tye van naderende oordeel om die hart van God te beweeg?

Ons sien natuurlike rampe op so ‘n skaal soos nog nooit tevore nie: vloedgolwe, orkane, vure, vloede, droogtes. Ek dink aan die wêreld-skuddende verwoesting wat voortgebring is deur die tsunami, Orkaan Katrina, aardbewings in Indië en Pakistan.

Ek dink ook aan die vrees en wanhoop wat veroorsaak is deur die mensgemaakte rampe: die gebeurtenisse van 11 September 2001, die konflik tussen Israel en Libanon, kernwapens in die hande van die mal mense. Selfs die mees skeptiese kommentators sê dat ons alreeds die begin van Wêreld Oorlog III sien.

Selfs nou, dreig Moslems in nasie na nasie dat hulle Christene kan vernietig. Toe ek onlangs in Londen was, het ek twee jong Moslem mans op ‘n radio onderhoud gehoor: “Ons geloof is nie soos Christenskap nie. Ons sal nie die ander wang draai nie. Ons sal julle koppe afkap.”

Ek vra u: in gevaarlike tye soos hierdie, is die kerk kragteloos om iets te doen? Moet ons sit en wag vir Jesus se wederkoms? Of, word ons geroep om drastiese stappe van die een of ander aard te neem? Wanneer die wêreld rondom ons sidder, en mense se harte ingee van vrees, word ons geroep om ons geestelike wapens op te neem en oorlog te voer met die vyand?

Regoor die aardbol, is daar ‘n gevoel dat dit tevergeefs is om te probeer om die berge van probleme op te los. Baie voel dat die wêreld die toppunt van hopeloosheid bereik het. Alkoholism is aan die toeneem wêreldwyd, en meer en meer jongmense vergryp hulle aan drank. Ek sien ‘n soortgelyke verontrustende neiging in die kerk, soos Christene na materialisme draai. Die boodskap wat deur hulle lewens uitgedra word is, “Daar is geen hoop meer nie. God het opgegee.”

Sê vir my, moet dit die rol wees wat God se mense in hierdie donker tye speel? Is God se volgelinge veronderstel om in lyn te val met die res van die wêreld, en te gryp na ‘n “stuk van die koek”? Nee, nooit nie!

Volgens Joël, was die dag van donkerte wat oppad was vir Israel soos iets wat hulle nog nooit voorheen gesien het nie. Die profeet het uitgeroep, “Die vreeslike dag! Die dag van die Here is naby: dit is ‘n dag van verwoesting, dit kom van die Almagtige af” (Joël 1:15).

Wat was Joël se raad aan Israel in die donker uur? Hy het die volgende gesê:

“Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie; of Hy nie weer voorspoed sal gee nie …?” (Joël 2:12-14).

Terwyl ek die gedeelte lees, word ek geraak deur twee woorde: “Selfs nou.” Soos ‘n groot duisternis oor Israel val, het God ‘n beroep op Sy mense gedoen: “Selfs nou, in die uur van My wraak – toe jy My uit jou samelewing gestoot het, toe genade onmoontlik gelyk het, toe die mensdom My waarskuwings verafsku het, toe vrees en duisternis die land bedek het – selfs nou, dring Ek daarop aan dat jy na My terugkeer. Ek is lankmoedig, en is daarvoor bekend dat Ek my oordele vir ‘n seisoen kan terughou, soos vir Josiah. My volk kan bid en My genade bekom. Maar die wêreld wil hulle nie bekeer as jy nie sê dat daar genade is nie.”

Sien u God se boodskap aan ons hierin? Soos Sy volk, kan ons in gebed smeek, en Hy sal ons hoor. Ons kan Hom nader en weet dat Hy die opregte, effektiewe, vurige gebed van Sy heiliges sal antwoord.

Ek het ‘n woord van waarskuwing aan die kerk in die tyd: Wees versigtig! Satan kom presies in so ‘n donker uur wanneer atoom onheil oor die aarde dreig, selfs wanneer die heidene woed en die nasies terroriseer. Die duiwel weet ons is kwesbaar, en hy gooi die leun uit: “Kan jy nog enige goed doen? Waarom probeer jy nog om die Moslems te evangeliseer, wanneer hulle jou wil doodmaak? Jy kan niks verander nie. Jy kan net sowel opgee op die sonde-deurdrenkte wêreld. Daar is geen sin daarin om te bid vir ‘n uitstorting van die Gees nie. Al jou berou is nikswerd.”

Maar God kom na ons toe met hierdie woorde van Joël: “Daar is hoop en genade, selfs nou. Ek is vol goedheid en lankmoedig. En nou is die tyd vir jou om na my te draai in gebed. Ek mag dalk my oordeel terughou en selfs seëninge op jou uitstort.”

Selfs nou – in ‘n tyd van moordadige Moslem radikalisme, of militante homoseksuele, wanneer ons nasie sy morele kompas verloor het, wanneer howe God uit ons samelewing dryf, wanneer vrees die hele wêreld vasgryp – is dit tyd om na God te draai in gebed. Alhoewel Sy oordeel oral oor val, met fiole van toorn wat uitgegiet word, is die Heilige Gees steeds besig om die mensdom te roep, tot op die laaste minuut van die heel laaste dag.

Hier was Joël se beskrywing vir Israel in die dag van swaarmoedigheid en donkerte: “Blaas die ramshoring in Sion, bepaal ‘n dag om te vas, roep die gemeente bymekaar. Roep die volk op, reinig die gemeente, laat die leiers bymekaarkom, bring die kinders bymekaar … Die priesters wat in die diens van die Here staan, moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil, hulle moet sê: ‘Betoon medelye met u volk, Here, moenie die volk wat aan U behoort, tot ‘n bespotting maak, sodat die nasies met hulle sal spot nie. Waarom moet daar onder die volke gevra word: Waar is Israel se God?’” (Joël 2:15-17).

Hier was die oproep tot die kerk: “Moenie ontmoedig wees of wanhoop nie. Jy moet nie die duiwel se leuens glo dat daar nie hoop vir ‘n opwekking is nie.” In plaas daarvan, volgens Joël, moes die volk se uitroep gewees het, “Here, stop hierdie afbreuk doen van U naam. Moenie dat die kerk langer bespot word nie. Stop die heiden daarvan om langer oor ons baas te speel, ons te tart en te vra, “Waar is jou God?”

U mag dink, “Wat God hier belowe is slegs ‘n moontlikheid. Hy sê dat hy dalk Sy oordeel sal terughou. Dit is niks meer as ‘n ‘miskien’, of ‘n ‘dalk’ nie. Alles wat Hy van sy volk vra mag dalk verniet wees.”

Ek glo nie God versoek Sy kerk nie. En Hy sal nie sy mense op ‘n gekke sending uitstuur nie. Toe Abraham tot God gebid het om Sodom te spaar (waar sy neef Lot gewoon het), is die Here se hart in beweging gebring om die stad te spaar selfs al was daar net tien regverdige mense wat daar gewoon het. En Abraham het dit gebid terwyl engele in die stad ingestap het om dit te gaan verwoes. Ek is oortuig dat God se mense Hom vandag op dieselfde manier moet nader.

Volgens Sagaria, is daar drie plekke waar gebid moet word: (1) God se huis (die kerk), (2) elke huis, en (3) die binnekamer. Die Here het vir Sagaria vertel: “Maar oor die koningshuis van Dawid … bring Ek ‘n gees van berou: … Die land sal treur, die mans in elke familie afsonderlik, en hulle vrouens afsonderlik: die familie van Dawid [wat op die kerk wys] … die familie van Levi [die familie of huis], en hulle vrouens apart [individue]” (Sagaria 12:10, 12-13, my kursief).

Terwyl Sagaria hier praat, was Israel omring deur vyande wat daarop uit was om hulle te vernietig. Daar was groot bewing en vrees, maar in die midde van dit alles kom die wonderlike woorde: “God sal kom om te oordeel met die bose magte wat teen jou is. Begin dus om ernstig te bid in die heiligdom. Begin om te bid in jou huis. En bid in jou binnekamer. Die Heilige Gees is oppad, en Hy sal jou voorsien van die gees van smeking en genade, en jou instaat stel om te bid.”

Sien jy God se boodskap aan ons in die gedeelte? Hy sê aan Sy kerk van alle eeue. “In tye van angs en bewing, wil Ek my Gees op jou uitstort. Maar Ek moet ‘n biddende volk hê waarop Ek dit kan uitstort.”

Al die profete van die Ou Testament het God se mense opgeroep tot verenigde gebed. Jesus het self verklaar, “Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed wees.’” (Matteus 21:13). Die feit is, die wêreld geskiedenis word gevorm deur die gebede van Christus se kerk.

Dink hieroor na: die Heilige Gees is eerste in God se huis gegee, in die Bo-vertrek. Daar het die dissipels “almal eensgesind volhard in die gebed” (Hand. 1:14). Daar word vertel dat Petrus deur ‘n engel uit die tronk vrygelaat is, terwyl “baie gelowiges saam was om te bid” (Hand. 12:12). Verenigde gebed is gedurig gemaak vir Petrus se ontslag.

Dit is duidelik dat God baie krag vrylaat as gevolg van die gebede van Sy kerk. Die oproep tot sulke gebede kan dus nie onderskat word nie. Ons weet die kerk het die opdrag gekry om siele te wen, om liefdadigheid te doen, en om as die bymekaarkom plek te dien waar God se Woord verkondig kan word. Maar eerste van alles, moet die kerk ‘n huis van gebed wees. Dit is sy oorpsronklike roeping, aangesien al hierdie ander aspekte van die kerk lewe in gebed gebore is.

Tog is verenigde gebed beperk. Dit is beperk tot tydskedules en tot die soort gebede waartoe God ons roep. As voorbeeld, die kerk is nie die plek waar ons ons gebede van mislukking en angs uitroep nie, waar ons ons wellus voor God uitroep en daarvan bekeer nie. Soms kan verenigde gebed ‘n verskoning word om hierdie soort privaat gebede te vermy, waar selfondersoek plaasvind. Sommige mag beweer, “Ek kom nou net van ‘n twee-uur lange gebeds byeenkoms,” af, of, “Ek het saam met my kerk gevas vir die afgelope drie dae.” Maar dit is nie die enigste soort gebed wat die Here van ons verlang nie.

“As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry” (Matteus 18:19). Sommige Christene noem dit “ooreenkom gebed.” Jy is diep geseën as jy ‘n toegewyde broer of suster het om mee saam te bid. Inderdaad, die mees kragtigste voorbidders wat ek geken het, het in twee’s of drie’s gekom. As God my al ooit geseën het in die lewe – as hy my al ooit gebruik het vir Sy eer – weet ek is dit omdat ‘n aantal magtige voorbidders daagliks vir my bid.

Die plek waar die soort gebed die kragtigste plaasvind is by die huis. My vrou, Gwen, en ek bid daagliks saam, en ek glo dit hou ons familie bymekaar. Ons het gebid vir elkeen van ons kinders tydens hulle opgroei jare, dat nie een van hulle verlore sal gaan nie. Ons het gebid oor hulle vriendskappe en verhoudings, dat God vriende en vriendinne sou wegstuur as hulle as lokvalle gestuur is. Ons het ook gebid vir hulle toekomstige lewensmaats, en nou doen ons dieselfde vir ons kleinkinders.

Jammer genoeg is daar baie min Christen families wat vandag die tyd neem vir gebed in hulle huise. Ek kan persoonlik daarvan getuig dat ek vandag in die bediening is as gevolg van die kragtige gebede van familie. Elke dag, maak nie saak waar ek en my broers en susters gespeel het nie, in die voortuin of in die straat, my Ma sou altyd by die voordeur gestaan en roep het, “David, Jerry, Juanita, Ruth, dit is gebedstyd! (My baba boetie Don was toe nog nie gebore nie.)

Die hele woonbuurt het geweet van ons familie gebedstyd. Soms het ek dit gehaat om daardie uitroep te hoor, en het ek gekerm en gekla daaroor. Maar dit was duidelik dat iets in daardie tye van gebed gebeur het, met die Gees wat in ons familie beweeg het en siele aangeraak het.

Dalk sien jy jouself nie waar jy familie gebedstyd hou nie. Dalk het jy ‘n eggenoot wat nie wil saamwerk nie of ‘n kind wat rebelleer. My geliefde, dit maak nie saak wie kies om betrokke te wees nie. Jy kan nog steeds by die kombuis tafel gaan sit en jou hoof in gebid buig. Dit kan dien as jou huisgesin gebedstyd, en elke familie lid sal dit weet.

Gebed in die binnekamer gebeur wanneer jy alleen is, in die geheim. “Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat verborge is, sal jou beloon” (Matteus 6:6).

Onlangs het die Heilige Gees met my gepraat oor die soort gebed. In die verlede het ek verkondig as gevolg van die eise om ‘n bestaan te maak mag ons ‘n “geheime binnekamer” enige plek hê: in die motor, in die bus, tydens ‘n breuk by die werk. In ‘n mate, is dit waar.

Maar daar is meer daaraan verbonde. Die Griekse woord vir “binnekamer” in die vers beteken “’n privaat kamer, ‘n geheime plek.” Dit was duidelik vir Jesus se luisteraars, omdat die huise in hulle kultuur ‘n binnekamer gehad het wat as ‘n soort stoor plek gedien het. Jesus se opdrag aan hulle was om in die geheime plek in te gaan en die deur agter hulle toe te maak. En dit is ‘n opdrag aan die individu, nie die soort wat in die kerk of saam met ‘n gebedsmaat plaasvind nie.

Jesus het die voorbeeld gestel, toe Hy na privaat plekke vir gebed gegaan het. Oor en oor lees ons in die Woord dat Hy “eenkant toe gegaan het” om tyd in gebed te spandeer. Niemand het ‘n besiger lewe gehad nie, aangesien Hy voortdurend onder druk was van die nood van die mense rondom Hom, met so min tyd vir Homself. Nogtans lees ons, “Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid” (Mark 1:35). “Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen (Matteus 14:23).

Neem in aanmerking die opdrag wat aan Saulus gegee is in Handelinge. Toe Christus die vervolger van die kerk gevange geneem het, was Saulus nie na ‘n verenigde kerk byeenkoms gestuur, of na Ananias, die groot gebedstryder nie. Nee, Saulus moes drie dae alleen en eenkant deurbring in gebed en Jesus leer ken.

Ons het almal verskonings waarom ons nie in die geheim bid nie, in ‘n spesiaal plek alleen. Ons sê dat ons nie so ‘n privaat plek het nie, of nie tyd het om dit te doen nie. Thomas Manton, ‘n goddelike Puritaanse skrywer, sê die volgende hieroor: “Ons sê ons het nie tyd om in die geheim te bid nie. Maar ons het tyd vir al die ander dinge: tyd om te eet, te drink, vir ons kinders, en tog geen tyd vir dit wat alles onderhou nie. Ons sê ons het nie ‘n privaat plek nie, maar Jesus het ‘n berg gevind, Petrus bo-op die dak, die profete in die wildernis. As jy iemand liefhet, sal jy ‘n plek vind om alleen te wees.”

Dawid getuig, “Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan U woord” (Psalm 119:67). Hy het erken dat wanneer alles kalm en bedaard was, en ons min probleme in die gesig staar, ons geneig is om koud en louwarm te word in gebed. Ons sê dat ons God liefhet, maar in ons tyd van voorspoed mag ons afvallig word, en ons gemeenskap met die Here afskeep. Met tye stuur God dus skerp pyle van kastyding om ons wakker te maak.

Verskeie goddelike kerkvaders het die onderwerp al aangespreek. John Calvin het gesê ons offer nooit gehoorsaamheid aan God nie, totdat ons gedwing word om dit te doen deur Sy tugtiging. En C.S. Lewis skryf, “God fluister vir ons in ons genot maar skree in ons pyn. Dit is ‘n megafoon om ‘n dowe wêreld wakker te maak. Pyn verwyder die sluier.”

Soms neem ons gebed te ligtelik op. Maar in tye van swaarkry vind ons onsself in ‘n daaglikse worsteling met die Here in gebed, totdat ons seker is in ons gees dat Hy alles onder beheer het. Hoe meer ons aan daardie versekering herinner wil word, hoe meer gaan ons na ons binnekamer.

Die waarheid is, God laat nooit ‘n swaarkry in ons lewe toe, behalwe as ‘n bewys van liefde nie. Ons sien dit duidelik in die stam van Efraim in Israel. Die mense het in ‘n groot swaarkry verval, en hulle het uitgeroep na God in hulle hartseer. Hy het reageer, “Ek het duidelik gehoor hoe Efraim kla:” (Jer. 31:18).

Soos Dawid, het Efraim getuig, “U het my gestraf, … soos ‘n kalf wat mak gemaak is. Bring my terug na U toe dat ek my kan bekeer, want U is die Here my God” (31:18). Met ander woorde: “Here, U tugtig my vir ‘n rede. Ons was soos ‘n jong bulkalf, ongetem, vol energie, maar U tugtig ons om ons mak te maak vir U diens. U het ons wildheid onder beheer gebring.”

U sien, God het groot planne met Efraim gehad, vrugtevolle, bevredigende planne. Maar hulle moes eers onderrig en geleer word. Dus het Efraim verklaar, “Ek het berou gehad, ek het tot insig gekom” (31:19). Eintlik sê hulle: “In die verlede, toe God ons in die klaskamer gehad en ons voorberei het vir Sy diens, kon ons Sy teregwysing nie verdra nie. Ons het weggehardloop, gehuil, ‘dit is te hard.’ Ons is hardkoppig, en wil gedurig uitgly onder die juk wat Hy op ons plaas. Dan sit God ‘n stywer juk op ons, en gebruik Hy sy liefdevolle stok om ons hardkoppige wil te breek. Nou, buig ons onder Sy juk.”

Ons is ook soos Efraim: jong, self-gesentreerde bulkalwers wat nie onder ‘n juk geplaas wil word nie. Ons vermy die dissipline van ploeg, die ervaring van pyn, onder die juk. En ons verwag om alles nou te ontvang – oorwinning, seën, vrugte – deur slegs God se beloftes te eis, of dit “in geloof te neem”. Ons ervaar wrywing om in gebed opgelei te word, om met God te worstel totdat Sy beloftes vervul is in ons lewens. Dan, wanneer die swaarkry kom, dink ons, “Ons is God se uitverkore volk. Waarom gebeur dit?”

Die binnekamer is ons klaskamer. En as ons nie daardie “alleen tyd” met Jesus het nie – as ons wegskram van ons intieme tyd met Hom – sal ons nie gereed wees as die vloed kom nie.

Daar is ander redes vir ons kastydings wat ver bo ons verstand is. Tog, weet ons Sy liefde is altyd aan die werk in ons swaarkry. God sê vir ons, “Deur al jou lyding, het Ek jou in gedagte. Jy is my kosbare kind. Ek voel jou pyn, en Ek sal sekerlik genadig wees teenoor jou.”

Die heel belangrikste is, in ons ergste swaarkry stuur Hy die Trooster vir ons: “Die Voorspraak, die Heilige Gees … sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek vir julle na; My vrede gee Ek vir julle” (Joh. 14:26-27).

Hoe bring die Here vir ons troos en vrede in ons swaarkry? Hy lei ons na die binnekamer van intimiteit met Hom. Dit is daar, Jesus herinner ons, die Vader raak ons persoonlik aan: “Wanneer julle bid, gaan in jou binnekamer en maak die deur toe. Bid tot jou Vader, wat jou in die geheim sien. En Hy sal jou openlik daarvoor vergoed” (Matteus 6:6, my parafrase).

Onlangs, het ‘n goeie vriend van my – die biskop oor die Pinkster beweging in Hongarye – tragies gesterf in ‘n frats ongeluk. Sy kook rooster het aan die brand geslaan en hy het erg verbrand. Hy is behandel en hulle het gedink dat hy buite gevaar is, maar ‘n paar dae later het hy skielik gesterf van bloed klonte wat gevorm het.

Vriende regoor die wêreld staan by sy weduwee in gebed en ondersteuning. Tog sal die ware troos vir haar van Bo kom. Geen sielkundige kan haar deur haar diepste pyn help nie. Die Trooster is getrou om haar in die binnekamer te ontmoet

Ek ken ‘n kosbare prediker en sy vrou wat ‘n weeshuis in Sentraal Amerika bestuur. ‘n Paar jaar gelede het hulle ‘n baba seuntjie ingeneem wat so te sê dood was. Daardie kosbare seun het ‘n geliefde “klein prins” van die weeshuis geword. Toe onlangs, in ‘n frats ongeluk, het ‘n rat in ‘n geparkeerde motor verskuif en bo-oor die seuntjie gery en hom noodlottig getref.

Die egpaar was in wanhoop oor hulle verlies. Die ander kinders in die weeshuis, wie die ongeluk gesien het, was ontroosbaar. Wat kan gesê word om hulle diepe pyn aan te spreek? Niks van my vyftig jaar van bediening kon so ‘n plek aanraak in daardie dierbare vriende nie. Hulle het liefdevolle arms om hulle, maar ware troos kom van die Vader, wat hulle pyn in die geheim sien.

Ek besef ek kan nie die duisende gelowiges se seer bereik wat vir ons skryf nie. Ons het ‘n brief van ‘n swanger vrou ontvang wat met ‘n pastoor getroud is. Sy het sopas uitgevind dat haar man ‘n pedofiel is. Sy skryf, “Ek weet nie wat om te doen nie. Ek glo dat ek van my man moet skei. Ek wil nie hê dat hy ons kind moet molesteer nie.”

Daar is een ding wat elke broer en suster wat seer het kan doen: Neem dit alles na Jesus toe, sluit jouself toe saam met Hom en vind troos in Sy teenwoordigheid. Die Here sê, “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed” (Jeremiah 31:25). Hoe doen God dit? Hy ontmoet hulle in hulle binnekamer: “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet” (Psalm 91:1).

Sien u die belangrikheid daarvan om jou hart in te stel om in die binnekamer te gaan bid? Dit gaan nie oor wette of slawerny nie, maar oor liefde. Dit gaan oor God se goedheid teenoor ons. Hy sien in die toekoms en weet ons het yslike hulpbronne nodig, daaglikse aanvulling.

Dit word alles gevind in die geheime plek met Hom.

U mag dink u weet nie hoe om te bid nie. Maar u kan begin deur Hom net te prys. Wat belangrik is, is dat u daar is in die geloof, deur gehoorsame liefde, en u Vader sal U daar sien. Hy sal Sy liefde in die geheim aan u openbaar, en Hy sal u openlik vergoed met die vrugte van Sy koninkryk. Die Heilige Gees sal deur u bid en die uidrukking van woorde gee.

Download PDF