Geloof Vir Die Bonatuurlike | World Challenge

Geloof Vir Die Bonatuurlike

David WilkersonSeptember 22, 2003

Die evangelie van Johannes leer ons, "Daar was 'n man van God gestuur, wie se naam Johannes was. Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. " (Johannes 1:6-9).

Jesus is die lig wat hier beskrywe word. Ons word geleer dat Christus die lig vir die wêreld is "sodat almal deur Hom sou glo" (1:7). Tog lees ons, "Die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.... Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie" (1:5, 1:11).

Ongeloof het nog altyd die hart van Jesus bedroef. Toe ons Here na die aarde toe gekom het in die vlees, het hy ongelooflike lig die wêreld ingebring. En daardie lig was bedoel om die mense se oë oop te maak. Tog, ten spyte van Jesus se wonderlike vertoon van lig, praat die Skrif van ongelooflike voorbeelde van ongeloof in die teenwoordigheid van daardie lig.

Johannes 12 bevat een so 'n voorbeeld. Jesus was in Betanië, en het in die huis van Lasarus, Marta en Maria geëet. Christus het reeds Lasarus uit die dood uit opgewek. En nou was mense nuuskierig om vir Jesus te sien. In daardie tyd het skares daar verbygegaan op pad na die Pasga in Jerusalem. Hulle wou graag die man wat die Messias genoem is en Lasarus opgewek het, sien.

In dieselfde hoofstuk vind ons dat dieselfde mense palmtakke gestrooi en hosannas gesing het terwyl Jesus Jerusalem op 'n donkie binne gery het. Hulle het die vervulling van 'n profesie wat hulle hulle lewe lank gehoor het, gesien gebeur, "Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou koning kom na jou; regverdig en 'n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op 'n esel - op 'n jong esel, die vul van 'n eselin (Sagaria 9:9).

Laastens, in dieselfde hoofstuk, lees ons dat 'n stem uit die hemel gedonder het, soos die Vader sy eie Naam verheelik het. Jesus het na die verbaasde skare gedraai en gesê: "Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil (Johannes 12:30).

Waarskynlik bestaan daar geen ander hoofstuk in die Bybel waarin Jesus se godheid so duidelik bewys word as wat ons hier in Johannes 12 sien nie. Ons sien 'n man wat op Jesus se bevel uit die dood uit opgewek is. Ons sien die sigbare vervulling van 'n eeu-oue profesie bekend aan elke Israeliet. En ons hoor letterlik 'n stem uit die hemel praat.

Elkeen van hierdie dinge het voor 'n groot skare van godsdienstige mense gebeur. God het hierdie mense sy wette gegee, sy verbond en sy beloftes. Tog, selfs nadat hulle al die wonders gesien het, het die mense die verwaandheid om Jesus te bevraagteken. "Die skare antwoord hom: Ons het uit die wet gehoor dat die die Christus tot in ewigheid bly; en hoe sê U dat dat die Seun van die mens verhoog moet word? Wie is hierdie Seun van die mens?" (12:34). Hulle het in der waarheid gesê, "U sê dat U gekruisig gaan word. Maar ons weet die ware Messias gaan vir ewig lewe."

Toe het die mense Jesus 'n vraag gevra wat Hom totaal verstom het: "Wie is hierdie Seun van die mens?" (12:34). Christus kon seker nie glo hoe blind hulle was nie. Hy het in der waarheid nie eers probeer om hulle vraag te antwoord nie. In plaas daarvan het Hy gewaarsku, "Wandel so lank as jullle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie.... So lank as julle die lig het, glo in die lig" (12:35-36).

Ons moet die erns van Jesus se stelling hier besef. Hy het aan die mense sy krag geopenbaar. Hy het wonderwerke voor hulle gedoen. Hy het hulle die "goeie nuus", wat deur die wagters van Sagaria to Jesaja geprofeteer is, gegee. Tog het hulle nog steeds nie in Hom geglo nie.

Die lig het in hulle duisternis ingeskyn. Maar hulle verduisterde verstand kon dit nie verstaan nie (sien 1:11). Uit die Griekse kan dit ook vertaal word as "om dit te neem, om dit te gryp, om die waarheid wat lewe en krag voortbring te besit." Aan hierdie mense is 'n lewens veranderende waardheid gegee. Maar hulle het dit nie aangegryp of hulle eie gemaak nie. Hulle het nie die waarheid van Christus verstaan nie, omdat hulle nie gesoek het om dit te besit nie.

"Dit het Jesus gespreek, en Hy het weggegaan en Hom vir hulle verberg" (12:36). In hierdie een vers vind ons God se gesindheid teenoor ongeloof. Van die begin tot die einde in die Bybel sien ons dat God geen simpatie of medelye met ongeloof het nie. En dit geld vir hierdie gedeelte ook. Jesus het eenvoudig van die ongelowige skare af weggeloop. Gevolglik sou hierdie mense Jerusalem in duisternis verlaat omdat hulle nie gewandel het in die lig wat aan hulle gegee is nie. As gevolg van hulle ongeloof, was daar vir hulle geen hoop op lig meer nie.

"Wandel so lank as jullle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie" (Johannes 12:35). Hier beteken duisternis "geestelike blindheid, verwarring, gebrek aan duidelikheid, swaarmoedigheid". 'n Wolk van onsekerheid sou dag vir dag oor hierdie mense hang. Verwarring sou hulle alledaagse lewens beïnvloed. Uiteindelik sou dit hulle totaal omvou. Die einde sou 'n hart van duisternis wees.

Eers was ek verstom. Ek het gewonder, "Duisternis oor die mense wie Jesus liefhet? Wie Hom aanbid en sy Woord bestudeer? Hoe kon so 'n duisternis oor God se mense kom?"

Ek moet erken, persoonlik is ek gevul met die lig van Jesus. In my vyftig jaar van bediening, het ek die Here se krag om die geestlike dooies op te wek gesien. Ek het baie Lasarusse uit die grafte van dwelmverslawing en alkoholisme gesien uitkom. My boek "The Cross and the Switchblade" het gegaan oor God se wonderwerkende krag. Ek het 'n leeftyd gehad van sien hoe die lewende dooies lewend word deur sy opstandingskrag.

Ek het baie ander ligstrale gesien - van die lewe gewende name van God, tot sy Nuwe Verbond beloftes, tot die vervulling van sy profesië. Op 'n manier het ek alles wat Johannes 12 besrkyf en meer, gesien. God het aan sy mense vandag geopenbaar wat die oë van daardie Jode nie kon sien nie. Ons weet nie net uit die Skrif uit dat God wonderlike dinge voorberei het vir die wat hom liefhet nie, maar ons het dit ook ervaar. Aan ons is 'n Nuwe Testament gegee om ons hierin te leer. En aan ons is die Heilige Gees gegee om ons te leer. Net so, het ons "beter beloftes," sodat ons deelgenote van sy goddelike natuur kan word.

Aan ons is ook gesalfde leraars, herders, evangeliste en profete gegee om ons harte en verstand met die lig te vul. Hulle dompel ons in die waarheid, vul ons met glorieryke beloftes en herinner ons aan God se getrouheid om ons elke keer te red.

Ek vra u, met al hierdie wonderlike seëninge, hoe is dit moontlik dat ons nog wolke van onsekerheid kan hê?

Wanneer ons gewoonlik aan geestelike duistenis dink, dan dink ons aan ateïste. Of ons dink aan vermoeide sondaars wat in smart en leegheid rondtas. Dit is waar, sonde is die "land van duisternis." En die duiwel is die prins van daardie duisternis. Die apostel Paulus praat van die "onvrugbare werke van duisternis."

Maar dit is nie die soort duisternis wat Jesus hier in Johannes 12 beskryf nie. Nee, hierdie duisternis is 'n wolk van verwarring, 'n geestelike blindheid, besluiteloosheid, 'n neerslagtigheid van die gees en verstand - en dit kom oor gelowiges. Let op dat Jesus nie hierdie waarskuwing tot ongelowige mense of afvalliges rig nie. Hy praat met die heilige broeders. Hy praat van 'n verduisterde toestand wat kom oor Christene wat weier om die Woord wat hulle hoor met geloof te meng. Hulle laat na om die lig wat aan hulle gegee is te verstaan, te omhels en daarin te wandel. En eendag word hulle wakker en besef, "God praat nie meer met my nie."

Ek wonder hoeveel Christene wat nou hierdie boodskap lees in 'n wolk van verwarring is. Beskryf dit u? Miskien word u gebede nie beantwoord nie. U is voortdurend neerslagtig. U ervaar dinge in u lewe wat u nie kan verstaan nie. U is teleurgesteld in u omstandighed en in mense. U twyfel gedurig aan uself, u word deur vrae geteister, en u ondersoek u hart geduring om te sien waar u verkeerd gegaan het. U voel neerslagtig, wanhopig, besluiteloos, en u kan dit nie afskud nie.

U mag 'n volwasse gelowige wees. Vir jare mag u onder die suiwer evangelie prediking gesit het. Maar nou twyfel u aan uself, en u voel ongenoegsaam. U ervaar nie die vreugde van die Here soos u dit eens ervaar het nie. So, nou wonder u of die Here 'n probleem met u het.

Dit is die duisternis waarteen Jesus gewaarsku het dat dit oor ons sal kom as ons nie die lig wat ons ontvang het aangryp en daarin wandel nie.

Laat my toe om u te vra: vertrou u sy beloftes? Omhels u sy waardevolle Woord? Neem u stelling in teen die Satan met die Woord wat u gehoor het? Of, ignoreer u die Here se vorige getrouheid aan u? Vertrou u nie dat Hy saam met u staan nie, in beheer van alles in u lewe is nie? As dit so is, dan het u uself oopgemaak vir duisternis.

Jesus beskryf die persoon wat in duisternis lewe, en sê, "En wie in die duisternis wandel, weet nie waar hy gaan nie" (12:35), Met ander woorde: "So 'n persoon het sy rigting verloor, Sy treë is verward, hy is besluiteloos, hy loop in blindheid.

Die profeet Jesaja beskryf sulke mense. Die Israeliete het God se wet verhef en dit eerbaar gemaak. Maar hulle het nie dit wat hulle geken het, toegepas nie. God het van hulle gesê:

"Hoor, julle dowes, en kyk, julle blindes, om te kan sien. Wie is blind buiten my kneg en doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die vertroude vriend, en blind soos die kneg van die Here? Jy het wel baie dinge gesien, maar daar geen ag op gegee nie; die ore oop gehad, maar jy hoor nie. Dit het die Here behaag ter wille van sy geregtigheid om die onderwysing groot en heerlik te maak. En tog is dit 'n beroofde en geplunderde volk; hulle is almal gebonde in kerkers, verborge in gevangenisse; hulle het 'n buit geword sonder dat iemand red, 'n plundering sonder dat iemand sê: Gee terug! Wie onder julle luister na hierdie dinge? Wie merk op, hoor dit ook vir die toekoms (Jesaja 42:18-23).

Wie het hierdie mense oorgegee aan so 'n duisternis? Jesaja sê vir ons in die volgende vers: "Is dit nie die Here teen wie ons gesondig het nie?" (42:24). Watter sonde het hierdie mense gedoen om aan so 'n duisternis oorgegee te word? Dit was eenvoudig hulle ongeloof. Jesaja het gesê dat hulle nie in die lig van die woord wat hulle gehoor het, wou wandel nie. "En hulle wou in sy weë nie wandel nie en het na sy wet nie geluister nie. Daarom het Hy oor hulle uitgestort die gloed van sy toorn en die geweld van die oorlog; en dit het hulle rondom aan die brand gesteek, maar hulle het dit nie bemerk nie; en dit het hulle gebrand, maar hulle het dit nie ter harte geneem nie (42:24-25).

Ek weet wat dit is om deur so 'n wolk van duisternis te gaan. Dinge raak soms verwarrend. 'n Mens kan soms nie 'n duidelike woord van die Here hoor nie. U wil antwoorde vinnig hê, terwyl u uitroep, "O Here, ek sien of hoor U nie soos tevore nie." Op die ou end vra u Hom om meer simpatiek te wees, meer medelydend teenoor u toestand.

Maar die waarheid is dat die Here geen simpatie of medelye met blote ongeloof het nie. Hy word daardeur bedroef. Hy verwag van ons om sy Woord te vertrou en sy beloftes vas te gryp. Slegs as ons terugkom na die kennis van sy Woord, en tot die oortuiging van die Heilige Gees, sal ons hierdie duisternis verlaat.

Ken u Christene wat altyd kla oor hoe dom en onbeholpe hulle voel? Hulle verkleineer hullself voortdurend en kraak hulleself af. Hulle vergelyk hulleself met mense wat hulle bewonder en dink, "Ek is glad nie soos daardie persoon nie. Daar is nie vir my hoop nie."

U mag dalk die Ou Testament storie van die Israelitiese verspieders, wat uitgestuur was om die Beloofde Land te gaan verspied, onthou. Hulle het teruggekom en gesê, "Ja, die land vloei met melk en heuning. Maar dit is ook vol reuse en stede met mure. Ons het nie die vermoë om teen sulke mense op te staan nie. In vergelyking met hulle, is ons maar sprinkane" (Sien Numeri 13).

Hierdie mense het nie vir God aangekla nie. Hulle het glad nie gesê, "God is nie in staat nie. Hy is nie sterk genoeg nie." Hulle het nie gewaag om sulke ongeloof uit te spreek nie. In plaas daarvan het hulle op hulleself gefokus en gesê, "Ons is nie in staat nie. Ons is soos klein wurmpies in ons vyande se oë."

Tog is dit nie nederigheid nie. En dit is nie onskuldige, skadelose praatjies nie. Nee, dit is 'n beleding van die Een wat die lig vir die wêreld is. Hierdie lig beveel ons om te glo, "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee" (Fillipense 4:13).

U sien, wanneer u kla oor u onvermoë en swakhede, dan kraak u nie uself af nie, maar die Here. Hoe? U weier om in sy Woord te glo of daarin te wandel. Dit is sonde teen die lig. En dit bring duisternis.

Die Israelitiese verspieders was so gefokus op hulle eie onvermoë, dat hulle gereed was om op te gee. Hulle het selfs daarvan gepraat om na Egipte toe terug te gaan. En wat was God se antwoord op hulle vrese en ongeloof? "Daarop het die Here het aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk my verag? En hoe lank sal julle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?" (Numeri 14:11). God het hulle van een sonde aangekla: ongeloof.

Vandag vra die Here sy mense dieselfde vraag wat Hy aan Israel gevra het: "Wanneer sal julle glo wat ek julle belowe het? Ek het gesê dat my krag tot julle sal kom in tye van swakheid. Julle moenie vertrou op die krag van julle vlees nie. Ek het vir julle gesê dat Ek die swakkes sal gebruik, die armes, die veragtes van die wêreld om die wyses te beskaam. Ek is Jehova, ewige krag. En Ek sal jou sterk maak deur my mag, my Gees. So, wanneer gaan jy hierop handel? Wanneer gaan jy glo in wat ek aan jou sê?"

Ons dink dat wanneer ons faal om op God in ons daaglikse situasies te vertrou, ons slegs onsself seermaak. Ons dink ons mis uit op sy seëninge. Maar dit is nie die volle waarheid nie. Eerstens, maak ons ons Here seer en kwaad. En Hy waarsku, "As jy nie op my vertrou nie, gaan jou hart verhard."

Ons lees in Hebreërs: "Verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het. Daarom het Ek vertoorn geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met hulle hart. Maar hulle het my weë nie leer ken nie, sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie" (Hebreërs 3:8-11).

Watter rede word gegee waarom God se mense nie in sy rus kon ingaan nie? Was dit as gevolg van egbreuk, gierigheid of dronkenskap? Nee, dit was slegs as gevolg van ongeloof. Hier was 'n nasie blootgestel aan veertig jaar van wonderwerke, bonatuurlike wonders wat God ter wille van hulle gedoen het. Geen ander nasie op die aarde was so bemind nie, so teer versorg nie. Hulle het openbaring na openbaring ontvang oor die goedheid en erns van die Here. Hulle het gereeld 'n nuwe woord gehoor deur Moses, hulle profeet en leier.

Maar nooit het hulle daardie woord met geloof gemeng nie. Daarom het dit hulle nie goed gedoen om dit te hoor nie. Tussen al daardie seëninge het hulle God steeds nie vertrou om getrou te wees nie. En met tyd, het ongeloof ingekruip. Van daardie punt af het duisternis hulle woestynreis oordek.

Geliefde, ongeloof is die hoof oorsaak van alle hardheid van hart. Hebreërs vra, "En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie?" (3:17). Die Griekse woord vir vertoornd hier beteken verontwaardiging, woede. Eenvoudig gestel, het mense se ongeloof God se woede teen hulle laat ontvlam. Verder het dit hulle laat verhard in 'n aanhoudende spiraal van ongeloof: "Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle 'n bose en ongelowige hart is deur dat hy van die lewende God afvalling word nie.....sodat niemand van julle deur die verleiding van sonde verhard word nie" (3:12-13).

Ongeloof is die moeder van alle sondes. Dit was die eerste sonde wat in die Tuin van Eden gepleeg is. En dit is die wortel van alle bitterheid, rebellie en koudheid. Dit is waarom Hebreërs 3 aan gelowiges geskryf is ("Sorg daarvoor, broeders"). Die skrywer sluit af met hierdie ontmoedigende woorde: "En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie" (3:18-19).

God het aan Israel gesê, "Julle het my nie geglo toe Ek vir julle gesê het dat julle niks het om te vrees nie, dat Ek vir julle sal veg nie. Julle het heeltemal vergeet dat ek julle grootgemaak het soos'n kind en vir julle gesorg het. Julle het My nooit vertrou nie, al het Ek voor julle uitgegaan, 'n wolk vir julle beskik sodat julle skuiling teen die skroeiende son kon hê, Ek het aan julle 'n vuur vir die nag gegee om julle pad te verlig en dit maklik te maak in die donker nag. Maar julle het julle vertwyfeling uitgespreek, julle het my beledig en gemaak asof Ek 'n leuenaar is" (sien Deuteronomium 1:27-35). Johannes herhaal hierdie laaste frase in die Nuwe Testament en sê, "Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak" (1 Johannes 5:10).

Die Here het aan sy mense gesê, "Ek het gehoor hoe julle praat. Julle praat van hoe julle te kort skiet, hoe verlate julle voel, hoe onbelangrik julle lewens is. Ek sê julle, dit maak my woedend. In werklikheid maak dit my so kwaad dat Ek nie sal toelaat dat julle in my rus ingaan nie. Ek is op die punt om julle oor te gee aan 'n leeftyd van woestyn swerftogte."

U kan gered word, Gees-vervuld, en heilig voor die Here wandel, maar steeds skuldig wees aan ongeloof. U mag dink, "Ek het nie enige ongeloof nie." Maar word u omgekrap as dinge verkeerd loop? Word u bang dat u God sal faal? Is u rusteloos, bang vir die toekoms?

Die gelowige wat onvoorwaardelike geloof in God se beloftes het, geniet algehele rus. Wat is die eienskappe van hierdie rus? 'n Ten volle, totale vertroue in God se Woord, en 'n totale afhanklikheid van sy getrouheid aan daardie Woord. Rus is inderdaad die bewys van daardie geloof.

U mag wonder: hoe word 'n gelowige se hart in ongeloof verhard? Ons sien 'n skokkende illustrasie in Markus 6. Die dissispels was in 'n boot, wat in die donker na Betsaida sou vaar. Skielik het Jesus verskyn al wandelende op die water. Die twaalf het gedink dat hy 'n spook was en het van vrees gebewe. Maar Christus het hulle gerus gestel, "Hou goeie moed, dit is Ek; moenie vrees nie" (Markus 6:50). Toe het Hy in die boot geklim en die wind het bedaar.

Die volgende vers sê alles oor die dissipels se harte op daardie oomblik: "En hulle was by hulleself uitermate verbaas en verwonderd. Want hulle het by die wonder van die brode nie verstandig geword nie, omdat hulle hart verhard was" (6:51-52). (Die Griekse betekenis van verhard hier dui op "klip-agtig, blind, hardkoppige ongeloof.") Ons word herinner dat hierdie mans pas 'n ongelooflike wonderwerk befeef het. Hulle het gesien hoe Jesus vyfduisend mense met slegs vyf brode en twee vissies voed (met twaalf mandjies wat na die tyd oorgebly het). En Hy het die twaalf gebruik om dit te doen. As Markus sê dat hulle "nie verstandig geword het nie" beteken dit dat, "hulle nie alles mooi bymekaar kon uitbring nie."

Was dit omdat hulle geen "nabetragtingsdiens" gehad het om terug te dink aan die wonder wat hulle nou net gesien het nie? Waarom is daar geen inskrywing dat die dissipels voor hulle Meester neergeval en Hom as God aanbid het nie? Waarom was daar geen verwondering, geen bewing, geen goddelike vrees nie? Duidelik het hulle eenvoudig die toneel verlaat, in die boot geklim en begin roei. Toe, net nadat hulle hierdie ongelooflike wonderwerk gesien het, was hulle verbaas dat die wind stil geword het op Jesus se bevel.

Ek sê vir u dat verharding kom wanneer mens die "bo" uit bonatuurlik uithaal. Hierdie mans het nie die geloof gehad om te glo wat hulle Jesus sien doen het nie. Binne vier-en-twintig uur het hulle die bonatuurlike voeding as een of ander natuurlike gebeurtenis afgemaak. Hulle het steeds hulle bedenking oor Christus se bonatuurlike krag gehad.

In Markus 8 het Jesus weereens 'n skare gevoed - hierdie keer ongeveer 4,000 mense - met net sewe brode en 'n paar vissies. Weer het die dissipels 'n aantal mandjies vol oorskiet opgetel (sien Mark 8:5-8). Tog het Christus onderskei dat die dissipels steeds nie die wonderwerkende krag aanvaar nie. Daarom het Hy hulle gevra, "Het julle nog jul verharde hart?" (8:17).

Ek glo dat daar ook nog 'n ander saak was, wat die kern van die dissipels se ongeloof was. Dit is dat hierdie mense net nie kon glo dat God self sou kies om tyd saam met hulle te spandeer nie. Inderdaad, Hy het hulle gebruik om sy goddelike krag uit te straal.

Ek stel myself voor dat die dissipels na hierdie tweede voeding, verslae gesit het. Hulle moes gedink het, "Dit kan nie gebeur nie. As Jesus werklik God is, hoekom het Hy ons gekies om in sulke ongelooflike krag te deel? Waarom sou Hy saam met ons eet en slaap? Ons is net vissermanne, ongeletterd, met geen talente nie. Waarom sou Hy op die water loop net om in ons klein bootjie te klim. Hy kon tog hierdie wonderwerk openbaar het aan 'n groep mense wat waardiger is as ons?"

U het seker al met tye oor dieselfde dinge gewonder: "Daar is biljoene mense op die aarde. Waarom het God met my gepraat? Waarom het Hy my gekies? Ek sal u sê waarom: dit was 'n absolute wonderwerk. U bekering was totaal bonatuurlik. Dit was nie net een van daardie onverstaanbare natuurlike gebeurtenisse wat plaasvind nie. Nee, daar was niks natuurliks daaraan nie.

Waarom? Omdat daar niks natuurliks is aan die Christen se lewe nie. Dit is alles bonatuurlik. Dit is 'n lewe wat van die begin af afhanklik is van wonderwerke (u bekering ingesluit). En dit kan eenvoudig nie sonder geloof in die bonatuurlike geleef word nie.

Dink hieroor na: die engele wat rondom ons is, is bonatuurlike wesens. Die krag wat ons in Christus hou, is totaal bonatuurlik. Die wêreld lewe in duisternis, maar u het die lig. Waarom? Dit is alles omdat u in die koninkryk van die bonatuurlike lewe. Daar is niks natuurliks aan u liggaam wat die tempel van die Heilige Gees is nie. Niks is natuurliks daaraan om die woning van die God van die heelal te wees nie.

Tog is dit dikwels juis die punt waar verharding intree. Mense begin God se bonatuurlike werk in hulle lewens aan die natuurlike toeskryf. Nee, nooit! Dit is gevaarlik om sy wonderwerke te vergeet. Dit is skrikwekkend om na vorige goddelike wonderwerke te kyk en te sê, "Dit het net gebeur." Elke keer wat u die "bo" uit die bonatuurlik uithaal, verhard u hart 'n bietjie meer.

Liewe heilige, u moet dit eenvoudig net in geloof aanvaar: dieselfde bonatuurlike God wat die skares van duisende met slegs 'n paar broodjies gevoed het, sal ook in u krises bonatuurlik optree. Sy wonderwerkende krag sal u van alle bande verlos. Dit sal u krag gee om in vryheid te wandel. En hy sal u swakheid gebruik - inderdaad u heel laagste toestand - om die wêreld sy wonderwerke van onderhoudende krag te wys.

Dit is waar geloof inkom. Moeilike tye word gewaarborg vir almal wat Jesus volg. Tog, wanneer sulke tye kom - wanneer ons deur versoekings of moedeloosheid aangeval word en 'n wonderwerk nodig is - kan ons met vertroue sê, "Doen dit weer, Here. U het tevore wonders in my lewe gedoen. U het dwarsdeur die geskiedenis u diensknegte bonatuurlik gered. Doen dit weer, en word verheerlik. Laat u krag volbring word in my swakheid."

Download PDF