Gered Maar Ongelukkig | World Challenge

Gered Maar Ongelukkig

David WilkersonJune 18, 2012

Dink vir ‘n oomblik aan daardie glorieryke uur toe Israel veilig aan die ander kant van die Rooi See gestaan het. Duisende mense van God se volk het op die strand gestaan en kyk hoe ‘n wonderwerk gebeur. Die water van die see het vinnig oor Farao se groot leër toegemaak!

Wat ‘n ongelooflike toneel moes dit nie gewees het nie — die gesig en geluide was verstommend om te sien. Perde het gerunnik, soldate het geskreeu, tollende wawiele het in alle rigtings gespat, mans het opgekom vir lug en daarna onder die vloedgolf verdwyn.

‘n Beraamde een-en-‘n-half miljoen Israeliete het gesien hoe dit alles plaasgevind het. In my geestesoog sien ek die mense eenvoudig verstom staan — op hulle knieë val met hulle hande in die lug, oorweldig deur die aanskouing van God se groot krag aan die werk. Moses se suster Miriam het spontaan honderde dansende meisies in ‘n oorwinningsmars gelei en tienduisende stemme het luide hosanna’s uitgeroep.

As jy daardie dag daar was, mag jy dalk enige Israeliet gevra het, “Dit is so ‘n wonderlike gesig. Hoe kan jy ooit weer God wantrou, maak nie saak wat jy teëkom nie?” Dit is amper seker dat hulle sou antwoord, “Ja, ja! Hoe kan enigiemand twyfel in ‘n God wat ‘n hele leër begrawe nie? Hy is ‘n wonderwerkende God.” Israel se groot geloof het egter net drie dae gehou.

Ek glo die mense van Israel wou God met alles in hulle harte vertrou en hulle was heel moontlik oortuig dat hulle dit sou kon regkry. Hulle was van plan om elke myl na die Beloofde Land vol geloof te marsjeer en dit binne te gaan terwyl hulle sê, “Ons het die tien plae in Egipte gesien. Ons het gesien hoe God die Rooi See oopgemaak en ons vyande vernietig het. Wie sal tog ooit so in ‘n groot en magtige God twyfel?”

Vandag gaan dit net so. Amper al die ware volgelinge van Christus beplan om lewens vol van geloof te lewe sonder dat hulle nooit twyfel of kla. Ons sê, “Ek het wonderwerke in my eie lewe gesien. Ek het my eie Rooi See ervarings gehad. Hoe kan ek in Hom twyfel wanneer Hy al hierdie dinge vir my gedoen het?”

Was jy egter al ooit soos die ondankbare, murmerende, twyfelende Israel? Ongelukkig is baie Christene skuldig daaraan. Die Bybel verklaar dat, in die laaste dae, baie hulle geloof sal verloor en hulle eerste liefde sal verlaat. Hulle beland in die woestyn van twyfel en ongeloof — gered maar ongelukkig!

Paulus het aan Timótheüs geskryf, “En aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Timótheüs 1:19). Paulus het dit net na Pinkster, toe God magtiglik in hulle midde opgetree het, geskryf. Baie het egter klaar hulle geloof verloor.

Jesus self het gesê, “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:8). Met ander woorde: Wanneer Ek my mense kom haal, sal Ek ware geloof onder hulle vind?” Eens was dit vir my moeilik om hierdie woorde te aanvaar. Ek het gedink, “Maar, Here, menigtes wandel in geloof.”

Die Here het my herinner: Uit 600,000 Israelitiese manne wat vasbeslote was om Hom altyd te vertrou, het slegs twee aan daardie geloof vasgehou. Dit is reg — 599,998 het hulle geloof verloor. Josua en Kaleb alleen het aangehou glo en het nooit getwyfel nie en net hulle het die Beloofde Land binne gegaan. Elke ander Israeliet oor die ouderdom van twintig en wat eens verstom gestaan het oor God se wonderwerke, het twyfelend in ‘n ellendige woestyn gesterf.

Dit is moontlik om uit vreeslike slawerny verlos te word, maar nooit in die volheid van Christus in te gaan nie.

Baie Christene het hulle hele lewens verlore in ‘n woestyn gespandeer waar hulle deur vrees, onrustigheid en ongeloof geteister was. Hulle het nodig gehad om te verstaan wat die Beloofde Land simboliseer. Dit stel nie die hemel voor soos sommige mag dink nie. (Op die dag wat die Israeliete Kanaän binne gegaan het, het oorloë begin.) Op sy beste verteenwoordig Kanaän egter die lewe in oorvloed. Dit was ‘n land van “melk en heuning,” ‘n lewe van seëninge, ‘n lewe van rus en vrede en sonder vrees.

Vandag is ons Beloofde Land, Jesus Christus, wat binne-in ons leef. God het nooit bedoel dat ons in die woestyn, met sy aanhoudende droogtes, vasgevang moet word nie. Die lewe in sy Seun is een van totale oorgawe aan God, om jouself in sy hande oor te gee en volkome op sy wil en liefde te vertrou.

Slegs Josua en Kaleb het hulle geloof in God se verlossende krag behou. Hulle het getuig, “Ons kan hierdie vyand van God verslaan as God ‘n behae in ons het. Ons magtige God kan nie met mense vergelyk word nie.” Maar daardie nag het die ander tien verspieders van tent na tent gegaan en van stam na stam, terwyl hulle twyfel en vrees versprei het. En die hele nag lank kon gehoor word hoe die mense hard in hulle tente huil: “Toe het die hele vergadering uitgeroep – hulle het hul stem verhef, en die volk het dié nag geween” (Númeri 14:1).

Hoe bedroef moes God nie gewees het nie. Dink aan Israel se lasterende woorde van twyfel en bitterheid: “En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en teen Aäron, en die hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het! En waarom bring die Here ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal ‘n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie? En hulle sê vir mekaar: Laat ons ‘n hoof aanstel en na Egipte teruggaan” (Númeri 14:2-4).

Teruggaan na Egipte toe? Met geen water, geen manna, geen leiding, geen wolk of vuurkolom om hulle te lei nie? Hulle sou nie ‘n week op hulle eie uitgehou het nie. Selfs al sou hulle dit tot by die Rooi See gemaak het, hoe sou hulle daaroor gekom het? As hulle het, sou hulle hulle net vasgeloop het in ‘n woedende, wraakgierige Fararo.

Miskien is jy op hierdie oomblik in die geveg van jou lewe. Die vyand storm van alle kante op jou af. Jy weet jy het ‘n magtige God aan jou kant, maar al wat jy kan sien, is die stryd voor jou. Jy sê, “O God, ek gaan dit nie maak nie! Waarom het U my in hierdie gemors laat beland? Toe ek gered geword het, het ek nie geweet dat ek so baie sou moes veg nie. Ek het gedink dat dit elke dag sou goed gaan.”

Nehemía het van Israel gesê: “In hul wederstrewigheid ‘n hoof aangstel om terug te gaan na hulle slawerny” (Nehemía 9:17). Hulle het werklik voorberei om terug te gaan na slawerny! Hulle het gedink hulle sou teruggaan na iets maklikers – maar dan sou hulle nog groter probleme gehad het.

Luister na hierdie ongelooflike woorde van die Here: “Hoe lank sal hierdie volk my verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou ‘n groter en sterker nasie maak as hulle” (Númeri 14:11-12).

Maar Moses het by God gepleit om sy groot genade te wys: “Vergeef tog die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van u goedertierenheid, en soos U hierdie volk van Egipte af tot hiertoe vergewe het” (Númeri 14:19). Dit is die hart en kern van my boodskap.

Jy kan vergewe word en tog steeds van God se volheid uitgesluit wees.

Dit is die gevolge van ongeloof. Jy kan die ontvanger wees van God se groot genade, seëninge en beskerming, maar nooit die lewe of die krag wat Hy vir jou beplan het, geniet nie.

God het Moses se smeking gehoor en hy het Israel se aaklige sondes vergewe: “Toe sê die Here: Ek vergewe volgens jou woord” (Númeri 14:20). Wat was die mense se reaksie egter? “Ja, hulle het geweier om te luister en nie gedink aan u wonders wat U by hulle gedoen het nie; maar hulle het hulle nek verhard en in hul wederstrewigheid ‘n hoof aangestel om terug te gaan na hulle slawerny” (Nehemía 9:17).

God het steeds sy genade, liefde en lankmoedigheid aan ‘n ongelowige Israel betoon: “het U in u grote barmhartigheid hulle tog nie verlaat in die woestyn nie; die wolkkolom het nie bedags van hulle gewyk om hulle op die pad te lei nie, en die vuurkolom ook nie snags om vir hulle die pad te verlig waar hulle langs moes trek nie.

“En u goeie Gees het U gegee om hulle te onderrig, en u manna het U nie van hulle mond teruggehou nie en aan hulle water gegee vir hulle dors. En veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; hulle het nie gebrek gehad nie; hulle klere het nie verslyt en hulle voete nie geswel nie" (Nehemía 9:19-21).

Jy mag dink, “Hulle is in ‘n goeie toestand. Hulle is vergewe, word steeds gelei, voor gesorg, gevoed en geklee. Wat meer wou hulle hê?” Iets was egter baie verkeerd. Ons vind die probleem in hierdie vers: “Hulle sal die land nie sien...nie” (Númeri 14:23).

Hulle was afgesny en onterf. God se volk was gered, vergewe en geseënd, maar hulle het nêrens gehad om heen te gaan nie. Hulle was besig om hulle lewens te mors, omdat hulle van God se beste uitgesluit was. Hulle was verdoem tot ‘n “woestyn lewe,” droog, ontsteld, rusteloos, leeg en ongelukkig vir die res van hulle dae.

God het letterlik sy belofte aan hulle verbreek – dit is die belofte om hulle in ‘n lewe van rus en vrede in te bring: “Moet julle... my teëstand gewaar” (Númeri 14:34) wat beteken “julle sal my belofte verbreek sien.” Waarom het God drasties opgetree? Dit was eenvoudig slegs weens ongeloof. Hulle het ‘n gewoonte daarvan gemaak om al God se getrouheid in vorige tye te vergeet. En in elke nuwe krisis het hulle gemurmureer en gekla.

Hulle was egter nie ‘n verlate volk nie. Hulle was verlos en vrygemaak van slawerny. Die bloed offers het voortgeduur. Die manna het aangehou kom. Die water het steeds uit die rots gevloei. Die vuurkolom en die wolkkolom was steeds sigbaar. Maar God se volk was leweloos. Die Here het hulle selfs, boos, genoem.

“En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie? En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie” (Hebreërs 3:17-19). Israel was nie afgesny weens afgodery, hoerery of gierigheid nie. Dit was weens ongeloof.

Kan jy jouself voorstel die ongelukkigheid daarvan om jou hele lewe lank in vrees te lewe? Vir veertig jaar lank het hierdie mense in sirkels rongetrek, terwyl hulle lewens slegs in oorlewing vasgevang was. Hulle het verlore geraak in nietige probleme, vasgevang in ‘n saai bestaan en bekommerd oor dinge wat nooit gebeur nie.

Dit is ‘n beeld van wat gebeur as jy jou geloof verloor. Jy raak bekommerd oor elke klein probleempie wat sy opwagting maak. Jy bevraagteken God altyd en jy het nooit vrede, vreugde of hoop nie. God sê aan jou, “Ek sal jou nooit verlaat nie. Maar jy gaan nêrens kom nie.”

Dit is nie net ‘n Ou Testamentiese dilemma nie. Hebreërs sê, “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie... Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 3:12, 4:11). Ons word duidelik gewaarsku: Ongeloof kan ons keer om in ons Beloofde Land in te gaan, soos dit met Israel gebeur het.

Ek glo menigtes van Christene gaan nooit daardie rustige lewe van Christus se volheid binne nie. Hulle spandeer al hulle dae daarin om gered, maar ongelukkig te wees. Hulle ervaar nie die vreugdes van oorwinnings wat deur geloof gewen is nie. Hulle ken nooit ‘n lewe vry van aanhoudende bekommernis nie. Hulle verkry en geniet nooit die vrede en vreugde van hulle, wat alle dinge in die Here se hande toevertrou nie. Slegs die Josua’s en Kalebs sal die oorvloedige lewe deur geloof binne gaan.

Hier is nog ‘n belangrike les wat ons nodig het om uit Israel se ervaring te leer.

Ons moet versigtig met ons woorde wees wanneer ons moeilikheid teëkom.

Hoe gevaarlik is dit om twyfel voor ander uit te spreek! Die Skrif sê dat die tien verspieders wat “’n slegte gerug aangaande die land versprei het, het gesterwe deur ‘n plaag voor die aangesig van die Here” (Númeri 14:37). En wat het gebeur met die murmerende vergadering wat gesê het, “God sou ons in die woestyn laat sterf het”?

Die Here het hulle geantwoord: “Reg so, julle sal in die woestyn sterwe.” “So waar as Ek leef, spreek die Here, waarlik, soos julle voor my ore gepreek het, so sal Ek aan julle doen. Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes... van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het” (Númeri 14:28-29).

Dit mag vir jou soos harde woorde klink. Jy mag dink, “Maar die Israeliete was net menslik. Hulle was ontwortel van die land, het heen en weer getrek, terwyl hulle oor hulle kinders bekommerd was. Hulle vrees was net natuurlik. God sal dit sekerlik verstaan.”

Nee. God soek nie “net menslike” reaksies nie. Hy soek geloofsreaksies. Hy soek ‘n volk wat sal sê, “Ek glo God se Woord. Daarom glo ek dat Hy baie meer as ek oor my familie begaan is. Ek sal nie in vrees optree nie, want Hy is getrou om my deur hierdie moeilike tye te dra. Selfs siekte en dood kan my nie van sy liefde en sorg skei nie.”

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). “Laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereining van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water” (Hebreërs 10:22).

Ons geloof moet slegs in God se Woord gegrond wees.

In hierdie laaste dae is Satan se strategie om jou te laat twyfel in die werklikheid van Jesus. Hy sal alles in sy mag doen om jou te laat twyfel dat God met jou in alle dinge is.

God is besorg daaroor dat wanneer sy mense in hulle geloof geskud word, hulle Hom nie in hulle krisis sal vertrou nie. Inderdaad, ons ergste sonde is om nie te glo dat Hy sal doen wat Hy belowe het nie. Dit gee Hom meer aanstoot as owerspel, hoerery, dwelms, alkohol of enige ander vleeslike sonde.

Sy Woord sê, “Die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos” (2 Petrus 2:9). “God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13).

Hierdie verse is óf die evangelie óf dit is ‘n leuens. As dit die evangelie is, dan moet ons daarop staan. God wil hê dat ons in staat moet wees om te kan sê, “Here, as ek sterf terwyl ek hier staan en U vertrou om my deur te dra, laat my dan in geloof sterf. Lewe of dood, ek is U s’n!”

Laat al die winde en golwe van die hel na jou toe aankom. Laat alles na jou toe aankom. Ons God het gesê dat hy in staat is — en Hy weet hoe om jou te verlos.

Hy beplan dat jy en ek alle vreugde, vrede, oorwinning en rus in ons wandel met Hom sal hê. Hy soek manne en vroue wat teen die dinge wat in hierdie duistere eeu gaan kom, sal opstaan — dienaars wat met ‘n kalmte en vrede sal staan omdat Christus in hulle woon.

God begeer van harte vir jou dat jy op so ‘n plek van vertroue sal kom. Hy wil hê dat jy nooit weer sal vrees nie, maar dat jy waarlik in sy krag en bekwaamheid sal rus. Hy weet hoe om jou van alle strikke, beproewings en versoekings te verlos — as jy Hom maar net sal vertrou.

Vernuwe jou geloof in Hom vandag. Hy het oorvloedige lewe voorsien — alle rus, vrede en vreugde — en hou dit voor jou oë. Neem dit in besit, terwyl jy Hom glo!

Download PDF