Hoe Om U Familie Van Verwoesting Te Red | World Challenge

Hoe Om U Familie Van Verwoesting Te Red

David WilkersonJune 30, 2003

"Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind" (1 Petrus 5:8). Die Bybel leer ons baie duidelik dat in hierdie laaste dae, die kerk van Jesus Christus die wraak van 'n uitgehongerde duiwel in die gesig staar. Satan weet dat sy tyd kort is, en hy lê hom daarop toe om God se mense te verslind. "Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede omdat hy weet dat hy min tyd het. " (Openbaring 12:12).

Waarop spits die duiwel sy wraak toe? Sy teiken is families, gered en ongered, oor die hele wêreld heen. Hy brul soos 'n rasende leeu en val huise aan om hulle te verslind. Hy is vasbeslote om huwelike te vernietig, kinders te vervreem, en familielede teen mekaar op te steek. En sy doel is eenvoudig: hy wil verwoesting in elke moontlike huis bring. Jesus het na hierdie demoniese werk verwys toe Hy Satan beskryf het, "Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af" (Johannes 8:44). Inderdaad, ons sien die vyand se vernietigende plan teen die heel eerste familie. Dit was die duiwel wat Kain beset het en hom oortuig het om sy broer, Abel, dood te maak. En hierdie moordenaar is steeds aan die werk. Die laaste paar jaar is dit op onstellende wyse geopenbaar. Vier jaar gelede het die duiwel twee tiener seuns beset en hulle tot wilde verwoesting gedryf. Toe die twee seuns by Columbine Hoër Skool ingestorm het met 'n doodskietery uit die hel, was die wêreld verstom. Hulle het een meisie tromp-op geskiet terwyl sy op haar knieë besig was om te bid, 'n meisie wat hulle geken en respekteer het. Wie anders as Satan kan 'n mens tot so iets dryf?

Ek dink aan die verwoesting wat op die families van beide die slagoffers en die moordenaars gekom het. Daar was selfmoorde, senuwee ineenstortings, egskeidings, getraumatiseerde broers en susters. Die verwoesting van daardie insident het steeds 'n ongelooflike weerklank.

'n Jaar later, het Kathleen Hagen, 'n Harvard-geleerde pionier in urologie, in die slaapkamer van haar ou, slapende ouers in Chattham, New Jersey ingesluip en hulle met kussings versmoor. Haar vader was 92, en haar moeder 86. Hagen het toe vir 'n paar dae in die huis gebly, terwyl sy die dooie liggame wat in die slaapkamer gelê het, geïgnoreer het. Toe sy gearresteer is, het sy deurmekaar en verwilderd voorgekom. Maar sy het geen berou gehad oor wat sy gedoen het nie. Sielkundiges kon nie verklaar waarom so 'n goed opgevoede vrou haar ouers versmoor het en dan kon aangaan asof niks gebeur het nie.

Dink aan die verwoesting wat nooit in hierdie misdaad storie genoem is nie. Die pyn van familielede, die hartseer van kleinkinders - wat 'n aaklige verwoesting en vernietiging. Wie anders as Satan kon so 'n gerespekteerde vrou dryf om haar ouers sonder enige rede dood te maak?

'n Paar jaar gelede, het die New York Times 'n onstellende verslag gepubliseer: "Moedelose Ouers Gee Hulle Kinders Weg." Die artikel het vertel van gefrusteerde ouers wat by dosyne by die Manhattan hofsaal, op die sesde vloer, instroom om vrywillig hulle kinders vir pleegsorg op te gee. Hulle kan hulle net nie meer beheer nie. Een vader kon nie meer sy tiener seun na sy moeder se dood, beheer nie. 'n Ander vader het sy tiener dogter opgegee omdat sy wild en totaal buite beheer gelewe het. Hofbeamptes wat hierdie sake aangehoor het, was verstom. Een regter het aan 'n moeder, wat haar dogter ingebring het, gevra: "Wil jy nie jou dogter huistoe neem nie?" Die moeder het moeg haar kop geskud, "Nee". Die jong meisie het toe in onbeheerbare snikke uitgebars.

Die artikel het uitgewys dat families besig is om teen 'n versnellende pas te verbrokkel. New York se Familie Hof was oorbelas met hierdie gevalle. Baie van die kinders wat in pleegsorg geplaas is, het vinnig weer in 'n erger toestand verval. Sommige het selfs weggehardloop en op die strate beland.

Besonder skokkend was 'n ander nuus storie, wat vertel van 'n nuwe soort dwelmverslaafde. Die hoofberig het gelui: "Kinders Gebruik Dwelms Saam Met Ouers By Die Huis". Klaarblyklik sê 30 persent van vandag se verslaafdes dat hulle by die huis verslaaf geraak het, nadat hulle ouers hulle daarmee laat kennis maak het. Hoe op aarde kan so 'n ding gebeur?

Hierdie ouers was self dwelm gebruikers in hulle tienerjare. Later, wanneer hulle kinders tieners word, dink die ouers, "Ons het dwelms gebruik en ons het dit oorleef en is vandag nog gesond. Dit is beter dat ons kinders by die huis dwelms gebruik as op straat. En dit is vir hulle beter om van ons te leer hoe om dwelms te gebruik, as van hulle onervare vriende." So leer hulle hulle kinders om dagga te rook, kokaïen te snuif en naalde te gebruik. Op daardie manier, so reken hulle, kan hulle hulle kinders se dwelm gebruik beheer.

Maar dan kom betaaldag. Hulle kinders het verslaaf geraak en hulle lewens het buite beheer begin raak. Hulle is kwaad vir hulle ouers, ontnugter deur hulle verskriklike raad. En hulle is ontmoedig deur die samelewing, met geen toekoms nie. Nou is die ouers hartgebroke, oorlaai met skuldgevoelens, stort trane wat hopeloos te laat is. Ek vra u, hoe kan enige ouer ooit so 'n onnosele keuse maak? Hulle het verwoesting op hulle eie familie afgebring. Maar wie anders as Satan kon hulle oë so verblind het?

Die tragedies wat families vandag teister is ongelooflik. En die voorbeelde wat ek genoem het, is net die wat in Amerika plaasvind. Reg oor die wêreld is daar 'n woedende duiwel wat absolute verwoesting veroorsaak. En hy sal nie stop totdat hy elke familie in sy pad bygekom het nie.

Baie gelowige families word geteister deur chaos, smart en pyn. En demoniese verwoesting kom op baie maniere: deur egskeiding, opstandige kinders, allerhande verslawings. Tog is die resultaat altyd dieselfde: 'n eens gelukkige familie word uitmekaar geskeur en vernietig.

Ek het dit eerstehands vir oor die veertig jaar gesien, soos wat verslaafdes en alkoholiste na ons bediening se dwelm senters en plase gekom het vir hulp. Dit was 'n vreugde om te sien hoe hierdie verslane manne en vroue wonderbaarlik gered word en verlos word van hulle bande. Jesus het hulle bonatuurlik verander en nuwe mense van hulle gemaak.

Een van die sekerste tekens van 'n ware bekering is wanneer 'n jong man of vrou begin terugkyk en sien wat die duiwel van hulle gesteel het. Hulle huil asof hulle 'n flenter foto van 'n gewese huweliksmaat, of 'n kind, of 'n ouer vashou. As verslaafdes het hulle nie omgegee om hulle families te verloor nie. Hulle bestaan het gedraai rondom alkohol en dwelms. Maar nou huil hulle baie trane oor wat hulle verloor het. Hulle wys na die foto en sê, "Pastoor David, dit is my vrou. Sy was lief vir my, en ek vir haar. En dit is my klein seuntjie. Maar ek weet nie waar hulle nou is nie. Kyk wat ek verloor het..."

Dit is tragies, verwoestend. Tydens sulke oomblikke besef 'n mens Satan se verwoestende krag teen hierdie families. Inderdaad, die grootste tragedie handel nooit oor die verslaafde se vernielde liggame, hulle uitgeteerde voorkoms, of hulle afwesige uitdrukkings nie. Dit gaan eerder oor wat van hulle gesteel is: 'n huweliksmaat, 'n kind, 'n toekoms. Dit wat van die verslaafdes se kinders gesteel is, is selfs erger: 'n kans om in 'n goddelike huis op te groei, om die liefde van Jesus te ken, om versorg te word deur ouers wat omgee, om deur voorbeelde geleer te word om vir die Here te lewe.

Genadiglik is baie van hierdie eertydse verslaafdes deur God geseën met herstelde families. Of, in sommige gevalle, kon hulle 'n nuwe familie in hulle mede bedienaars vind. Maar ek treur steeds saam met hulle oor die verwoesting wat hulle gesien het.

Laat ek nou terugkeer na die titel van my boodskap: "Hoe Om U Familie Van Verwoesting Te Red." Hier is dit wat die Heilige Gees aan my openbaar het ten opsigte van hierdie saak.

Daar kom 'n tyd in sekere lewenssituasies wanneer daar nie meer hoop is nie. Daar is geen raad, geen dokter of medisyne, of enigiets anders wat kan help nie. Die situasie het onmoontlik geword. En dit benodig 'n wonderwerk, of anders gaan dit in verwoesting eindig.

In sulke tye, is die enigste hoop vir iemand om by Jesus uit te kom. Iemand moet sy aandag kry. Dit maak nie saak wie dit is nie, vader, moeder of kind. Dit is daardie persoon se verantwoordelikheid om Jesus in die hande te kry. En hy moet besluit, "Ek gaan nie laat los totdat ek van die Here gehoor het nie. Hy moet vir my sê, 'Dit is gedoen. Gaan nou voort.'"

In die Evangelie van Johannes vind ons ook 'n familie in 'n krisis: "En daar was 'n sekere koninklike beampte wie se seun in Kapernaum siek was" (Johannes 4:46). Dit was 'n belangrike familie, selfs dalk koninklikes. 'n Gees van dood het oor daardie huis gehang, terwyl die ouers hulle sterwende seun versorg. Daar mag dalk ander familielede in die huis wees, miskien tantes en ooms, of grootouers, of ander kinders. En ons word vertel dat die hele huisgesin geglo het, die slawe ingesluit. "En hy het self (die vader) geglo en sy hele huis" (4:53).

Iemand in daardie gekwelde familie het geweet wie Jesus was, en het van sy wonderwerkende krag gehoor. En op 'n manier het daardie huisgesin iewers gehoor dat Jesus in Kana was, omtrent veertig kilometer weg. Desperaat het die vader dit op homself geneem om tot die Here deur te dring. Die Skrif vertel ons, "Toe hy hoor dat Jesus, uit Judea in Galilea gekom het, gaan hy na Hom toe" (4:47).

Oor die jare het dosyne moeders na ons kerk gekom en gehuil oor hulle verwoeste families. Miskien het die man die familie verlaat, of 'n seun was in die tronk, of 'n dogter het haar liggaam verkoop om haar dwelm gewoonte te onderhou. Dikwels is die moeder die laaste hoop wat 'n familie het om by Jesus uit te kom. Met die gevolg sy neem die verantwoordelikheid op haar om in te tree in gebed. En sy is vasbeslote om te bid totdat die Here verlossing bring. Sy vra ander om saam met haar te bid en së, "Dit is verby die punt van hoop vir ons. Ons het 'n wonderwerk nodig."

Die koninklike beampte in Johannes 4 het daardie tipe vasbeslotenheid. En hy het deurgedruk tot by Jesus. Die Bybel sê hy "vra hom om af te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê" (4:47). Wat 'n wonderlike voorbeeld van intersessie. Hierdie man het alles opsy gesit om die Here te soek om 'n woord te gee.

Tog het Christus hom geantwoord, "As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie" (4:48). Wat het Jesus hiermee bedoel? Hy het die koninklike beampe vertel dat 'n wonderbaarlike verlossing nie die noodsaaklikste was nie. In plaas daarvan, was die man se geloof die noodsaaklikste. Dink daaroor: Christus kon na daardie man se families se huis gaan, sy hande op die sterwende seun lê en hom genees. Tog, al wat daardie familie van Jesus sou geweet het, was dat hy wonderwerke gedoen het.

Christus het meer vir hierdie man en sy familie begeer. Hy wou hê dat hulle glo dat Hy God in die vlees was. Daarom het hy eintlik aan die edelman gesê, "Glo jy dat dit God is vir wie jy soek in hierdie nood? Glo jy dat Ek die Christus is, die Verlosser van die wêreld?" Die edelman het geantwoord, "Here, kom af voor my kind sterwe" (4:49). Op daardie oomblik moes Jesus die geloof in hierdie man gesien het. Dit was asof Jesus gesê het, "Hy glo dat Ek God in die vlees is." Daarom lees ons net daarna, "Jesus antwoord hom: Gaan, jou seun lewe!" (4:50).

Dit is jammer dat so baie gelowiges verder gaan voordat hulle ooit van Jesus gehoor het. Maar hierdie man het in geloof weggegaan. Wat was die verskil? Hy het 'n woord van die Here gekry. Hy het God gesoek en in geloof op Hom gewag. En hy sou nie loop voordat hy 'n belofte van lewe gekry het nie. "En die man het die woord geglo wat Jesus vir hom gesê het, en hy het gegaan" (4:50).

Die kerk van Jesus Christus is veronderstel om besig te wees om siele te red. En die meeste Christene is getrou om dit te doen. Ons bid vir verlore nasies, vir herlewing in ons stede, vir ons nie-Christen bure. Ek dank God dat sy mense hierdie belangrike werk doen.

Maar, laat my toe om u te vra: wie bid getrou vir u ongeredde vader, moeder, suster, broer, nefie, niggie, grootouer? Gebed vir ons geliefdes behoort van die grootste belang in ons lewens te wees. Per slot van rekening, die verantwoordelikheid van sulke gebede rus by hulle wat die Here se aandag het, hulle wat naby genoeg is om versoeke te rig. As dit dan nie u is nie, wie is dit dan? Wie sal vurig intree vir ons familie se verlossing as u dit nie doen nie?

Miskien sê u vir uself, "Ek het al vir jare teenoor my familie getuig. Ek het getrou my getuienis teenoor hulle uitgeleef. Hulle weet waarvoor ek staan. Ek moet hulle nou net aan Jesus toevertrou." Dit is waar, ons moet ons ongeredde geliefdes aan die oortuigende bediening van die Heilige Gees toevertrou. Maar om die Heilige Gees te vertrou beteken nie dat ons ywerige gebed vir ons geliefdes moet laat vaar nie. As ons ophou om vir hulle in gebed in te tree, sê ons eintlik, "Dit is hopeloos."

Om die Here te vertrou beteken om net die teenoorgestelde te doen. As ons Hom waarlik vir hulle redding glo, dan sal ons soos die koninklike beampte uitroep, "Asseblief Jesus, kom nou dadelik. Maak gou, voor my geliefde vir ewig verlore is." Slegs aggressiewe, vurige gebed kan Satan se vernielsugtige doel om ons families te verwoes, teëstaan. Halfhartige gebede sal nie sy vestings verslaan nie. Ons moet uit ons besware uitgeskud word en ernstig word oor gebed. En ons moet naby Jesus bly totdat sy woord tot ons kom.

Toe Christus by die kus van Tirus en Sidon was, het die volgende gebeur: "En 'n Kananese vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete (Mattheus 15:22). Satan het in hierdie vrou se huis inbeweeg en haar dogter beset. Die woord "erg" se oorsprong hier kom van 'n woord wat verdorwe beteken. Kortliks, die meisie was gemeen en boos, deur Satan gedryf.

Die ma was nie 'n bose ma nie. Selfs al was sy 'n heiden, het sy geglo. Per slot van rekening, sy het Jesus as "Here, Seun van David" aangespreek. Eintlik het sy gesê, "U is die Verlosser, God se Messias." Op hierdie oomblik, het 'n vraag ontstaan: hoe beset Satan kinders wat uit 'n goddelike huis kom?

Miskien is u 'n Christen ouer. U het u kind in die kerk grootgemaak en u bes gedoen om hom die regte pad te wys. Maar nou, na jare van Sondagskool bywoon en gesalfde preke in die kerk, het hy koud geword en belangstelling in die dinge van die Here verloor. Hy is min gepla om Jesus te volg. En u wonder, "Here, hoe kon dit gebeur het?"

Oor die jare, het ek gesien hoe dit met baie kinders van predikers gebeur het. Duisende van hierdie jong mense het ons "Teen Challenge" dwelms sentrums binnegekom nadat hulle verslaaf geword het. Hulle is in goddelike huise grootgemaak, maar iewers het iets skeef geloop. Hulle lewens het begin om deur demoniese kragte gedryf te word. En hulle het aan drank, dwelms, pornografie en prostitusie verslaaf geword. Soos u lees, mag u dalk 'n sug van verligting gee en dink, "Dank God, dit is nie my seun of dogter nie. Ek het goeie kinders. Ek was versigtig om hulle in die vrese en kennis van die Here groot te maak. Hulle ken die regte pad. Maar hulle mag dalk nie aan die brand vir die Here wees nie, maar ten minste gebruik hulle nie dwelms nie. Sulke ouers het 'n reg om dankbaar te wees. Maar hulle is nooit bang dat hulle kind dalk louwarm teenoor Jesus sal wees nie. Volgens die Here self, is om louwarm te wees net so 'n vreeslike toestand as wat dit is om demonies besete te wees. Wanneer Christus waarsku, "Ek sal julle uit my mond spoeg," was hy nie besig om met dwelm verslaafdes te praat nie. Hy het gepraat met louwarm gelowiges in sy kerk (sien Openbaring 2-3). Jesus weet dat 'n louwarm gees enige gelowige tot in demoniese versoekings uit die hel kan lei.

U kinders mag bedagsaam en wel-opgevoed wees. Hulle mag verkeerde vriende ignoreer, hulle meerderes respekteer en moreel die regte dinge doen. Maar as hulle nie heelhartig in hulle liefde vir Christus is nie - as hulle geestelik net lou is - dan is hulle in gevaar. U sien, enige kind wat in 'n gelowige huis grootgeword het, is alreeds 'n teiken vir die Satan. Die duiwel val die families wat die ywerigste in hulle liefde vir Jesus is, eerste aan. Maar nou het u kind se louwarmheid die vyand se taak makliker gemaak. Hy sal hom verlustig daarin hoe maklik dit is om u seun of dogter in bande van sonde vas te vang.

Selfs die mees toegewyde Christene - insluitend predikers - kan blind wees vir die lokval wat Satan vir hulle geestelike passiewe kinders stel. Die vyand is gedurig op die uitkyk om selfs die kleinste sprankeltjie van geestelike lewe wat in hulle is, uit te doof. Ek smeek u, Christen ouer: moenie toelaat dat die duiwel by u kind uitkom nie. Val daagliks op u aangesig en omring u kinders met gebed. God het u die mag gegee om hulle uit hulle louwarm toestand uit te haal.

Toe my kinders tieners was, het ek gedink dat ek hulle eenvoudig deur liefde in God se koninkryk kon laat ingaan. Ek het myself wysgemaak, "Ek sal daar wees vir my kinders. Ek sal 'n vriend vir hulle wees. Ek het net nodig om beskikbaar te wees vir hulle sodat hulle hulle behoeftes met my kon deel."

Eendag het my oudste seun, Gary, in trane van die skool af huistoe gekom. Hy het reguit na sy kamer gegaan en homself op sy bed neergewerp. Toe ek hom vra wat fout was, het hy geantwoord, "Pa, ek glo nie meer dat daar 'n God is nie. Dit is alles 'n fabel."

Ek het geweet dat al die liefde in die wêreld nie hierdie kind van hierdie demoniese aanval kon verlos nie. En om net met my seun te praat, sou nie die probleem oplos nie. Ek kon nie bloot vir myself sê, "Dit is maar net 'n fase waardeur hy gaan. Gary sal daaruit groei. Hy is 'n goeie seun. En hy weet dat ek hom liefhet."

Nee, ek moes besef wat voor my aan die gang was: Satan het probeer om my seun van sy egte, ywerige geloof te beroof. Ek het gesien hoe Gary sy lewe aan die Here gegee het toe hy vyf jaar oud was, en ek het geweet dat sy geloof kosbaar was. En nou wou die vyand daardie geloof steel. En hy het met twyfel en ongeloof probeer om dit te vernietig. Inderdaad, Satan het sy aanval op die middelpunt van ons familie geloods: ons vertroue in Jesus.

Ek weet dat ek net een opsie gehad het. Ek het na my gebedskamer gegaan. En ek het die deur agter my toegemaak, op my aangesig geval en my vir die geveg ingegrawe. Ek was vasbeslote, "Satan, jy gaan nie my seun kry nie." Van daardie dag af het ek vir Gary se onthalwe tot God uitgeroep, "Here, bewaar my seun van die bose."

Die verandering wat in Gary plaasgevind het, het nie oornag plaasgevind nie, ook nie binne 'n week, of selfs maande nie. Hy het steeds met verwarring gestoei. Maar die tyd het gekom wat Gary se vertroue in Jesus herstel is. En as u al my boodskappe vir 'n geruime tyd gelees het, sal u weet dat Gary in voltydse bediening staan vandat hy 'n tiener was. Hy is 'n toegewyde liefdhebber van Jesus. En vir die afgelope jaar, het ek die voorreg gehad om saam met hom groepe predikers toe te spreek.

Elkeen van my ander drie kinders het hulle eie unieke pad van geloof geloop. Maar net soos dit met Gary gebeur het, was die Here getrou om Debbie, Bonnie en Greg ook deur te dra. Net soos hulle broer, het hulle ook goddelike liefhebbers van Jesus en bedienaars geword. Tog het my gebede vir my familie nooit opgehou nie. Nou het ek en my vrou Gwen met ons volwasse kinders saamgespan om vir ons tien kleinkinders te bid.

Die vrou met die dogter het aangehou om Jesus te soek. Uiteindelik het die dissipels hulle meester aangepor, "Here, stuur haar weg, raak ontslae van haar. Sy gaan nie ophou om ons te pla nie." Let op Jesus se reaksie op die vrou se pleidooie: "Maar hy het haar nie 'n woord geantwoord nie" (Mattheus 15:23). Dit is duidelik dat Jesus die hele situasie geïgnoreer het. Waarom sou hy dit doen? Ons weet dat ons Here nooit sy ore doof gehou het vir iemand wat Hom opreg soek nie.

Die feit van die saak is, Jesus het geweet dat hierdie vrou se storie aan elke toekomstige generasie vertel sou word. En hy wou 'n waarheid aan almal, wat dit sou lees, openbaar. Daarom het hy die deursettingsvermoë van die vrou se geloof getoets. Toe hy uiteindelik met haar praat, het hy gesê, "Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel" (15:24). Christus het kortliks gesê, "Ek het net gekom vir die verlossing van die Jode. Waarom sou ek hulle goeie nuus op 'n heiden mors?"

Hierdie stelling sou die meeste van ons laat wegloop het. Maar die vrou het nie toegegee nie. Haar dogter se toestand was vir haar 'n saak van lewe en dood. En sy was nie van plan om Jesus enigsins met rus te laat totdat Hy aan haar gegee het wat sy wou hê nie.

Ek vra u, hoe dikwels het u al moed opgegee in gebed? Hoeveel keer het u moeg geword en geredeneer, "Ek het die Here gesoek. Ek het gebid en gevra. Maar ek het net nie enige resultate gekry nie"? Wel, was dit vir u 'n saak van lewe en dood? Het u werklik die Here met u hele hart, siel, verstand en krag gesoek, met die wete dat daar geen ander bron is nie?

Dink aan hoe hierdie vrou gereageer het. Sy het nie met 'n klagte geantwoord nie, ook nie met 'n vinger wat wys en sê, "Waarom het u my afgewys nie, Jesus?" Nee, die Skrif leer ons net die teenoorgestelde: "Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my!" (15:25).

Wat volgende kom, is swaar om te lees. Weereens het Jesus die vrou afgesit. Maar hierdie keer was hy selfs harder. Hy het aan haar gesê, "Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie" (15:26).

Dit is belangrik om te verstaan dat die Joodse gelowiges van daardie tyd van mening was dat heidene in God se oë nie beter as honde was nie. Natuurlik het Jesus dit nie aanvaar nie; hy sou nie 'n rasse klad op enige kind van die Skepper Vader plaas nie. Maar ons weet dat hierdie vrou bewus was van die Jode se houding teenoor heidene. En weereens het Hy haar getoets.

Hierdie keer het die moeder Hom geantwoord, "Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval" (15:27). Wat 'n ongelooflike antwoord. Hierdie vasbeslote vrou was nie van plan om enigsins in haar soeke na Jesus terug te staan nie. En die Here het haar daarvoor geprys. Jesus het vir haar gesê, "Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af" (15:28).

Geliefde, ons mag nie net met krummels tevrede wees nie. Aan ons is belowe al die genade wat ons nodig het in ons krisis. En dit sluit elke krisis in ons families, gered of ongered in. Ons is genooi om met vrymoedigheid en vertroue na Christus se troon te kom. En ons moet elke behoefte, of dit nou 'n ongelowige ouer of 'n rebelse kind is, na Hom toe bring. Ons mag dalk nie sien hoe elke geliefde tot inkeer kom, of hulle lewens verander nie. Maar ons kan groot padversperrings rondom hulle oprig, sodat hulle vaart na die hel gestuit kan word. Ons kan oortuiging van sonde en beskermende mure op hulle afbid. Ons kan ook bid dat mense in hulle lewens teenoor hulle getuig.

Ja, daar is een ding wat ek u kan waarborg: hierdie dinge sal nooit gebeur as ons hulle eenvoudig aan die noodlot oorlaat nie. Ons mag onsself probeer oortuig, "Ek moet net hierdie saak in geloof neem." Maar dit is 'n valse alibi. Al wat dit doen is om te keer dat ons ons geestelike werk doen deur in gebed in te tree vir ons geliefdes se siele.

Ek dring by u aan, maak dit u gebed: "Here, as een van my familielede verlore is, sal dit nie wees omdat ek nie gebid het nie. Dit sal nie wees omdat ek die werking van U Heilige Gees in hulle lewens as vir vanselfsprekend aanvaar het nie. En dit sal nie wees omdat ek nie oor hulle gebid het nie. Wat dit ook al mag vat, ek gaan in die geveg vir hulle intree totdat een van ons huis toe gaan om by U te wees."

Download PDF