Hoekom Ons Dit Nie Kan Bekostig Om Normaal Te Wees Nie | World Challenge

Hoekom Ons Dit Nie Kan Bekostig Om Normaal Te Wees Nie

Gary Wilkerson
April 22, 2013

Vir sommige van ons sal die verklaring wat ek op die punt is om te maak, heeltemal te voorbarig wees. Vir ander sal dit vanselfsprekend wees. Hoe dit ookal sy, dit is ‘n kommentaar oor die kerk wat ek eintlik liewer nie wil maak nie, en dit is dat die meeste Christene kragteloos is.

Dink aan hoe “normale” Christenskap vandag lyk in die tipiese gelowige. Hierdie persoon is ‘n bietjie selfsugtig, ‘n bietjie materialisties, ietwat van ‘n verbruiker. Die meeste van sy daaglikse keuses is oor hoe om sy lewenstyl te verbeter. Dit sluit sy geestelike strewes in, van sy kerkgroepe tot die potgooi wat hy aflaai tot die seminare wat hy bywoon.

Daar is niks verkeerd met hierdie dinge nie. Ons Here wil hê dat ons lewens geseënd moet wees. Maar vir sommige Christene is hierdie dinge niks meer as wêreldse strewes nie. Dit gaan oor self-verbetering, nie die koninkryk van God nie. En dit kan ‘n gelowige van ware evangeliekrag dreineer.

Vir my, is dit wat vandag as normale Christenskap beskou word, ‘n skande vir God. Dit is nie net kragteloos nie, dit is ook passieloos en ontbreek selfopoffering. Met ander woorde, dit is kruisloos — en daarom Christusloos. Moet my nie verkeerd verstaan nie: Ek is ‘n voorstaander van God se genade, en ek sal nie ‘n onnodige las op enigiemand plaas nie. Maar dit is tyd dat die kerk ‘n geestelike inventaris neem om te sien of ons “geestelike” strewes ons nader na God se hart toe lei en of dit ons in sirkels laat rondhardloop.

Laat my toe om ‘n vraag te vra. Wat dink jy is beter vir jou geestelike gesondheid — om ‘n kerk by te woon waar die evangelie nie te veel verkondig word nie, waar daar nie te veel van God se Woord geleer word nie of waar daar nie te veel passie vir sy koninkryk is nie? ‘n Kerk waar niemand regtig sy gebooie uitleef nie? Of sal dit beter wees om ‘n kerk by te woon waar God se Woord verheerlik word, die evangelie verkondig word en ‘n huisgroep vir elke tipe gelowige het?

Ek sal nederig voorstel dat die tweede opsie moontlik meer gevaarlik vir jou geestelike gesondheid sal wees. Hoekom? Jesus het verklaar dat aan hom wat meer gegee word, van hom meer vereis sal word. Vir iemand wie se lewe nie by die Bybelse waarheid wat hy geleer word uitkom nie, sal die Oordeelsdag ‘n bietjie vreesaanjaend wees.

Baie van ons moet ‘n moeilike ding erken. Dit is dat ons God se weg wil ken – die ware evangelie wil hoor — maar ons  vermy dit om dit uit te leef. Dit is jammer om te sê, maar die kerkkultuur van vandag moedig hierdie tipe lewe aan. Dit is aanvaarbaar om preke te geniet en te aanbid — maar heeltemal onveranderd huistoe te gaan.

Wat gebeur met ‘n lewe wat totaal aan Jesus oorgegee is? Wat het gebeur met gewillig wees om jou lewe af te lê ter wille van die evangelie? Paulus het van sy eie getuienis gesê, “En my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van Gees en krag” (1 Korinthiërs 2:4). As ons nie ‘n lewe leef wat deur God bekragtig word nie, kan ons nie die Here blameer nie. Dit is nie omdat sy genadige krag kortkom nie. Die probleem is by ons.

Here, maak ons abnormaal met ‘n evangelie-bekragtigde lewe!

God het nie opgehou om sy krag aan sy mense te gee in 100 A.D. of 500 A.D. nie. Jesus het nooit gesê, “Groter werke as hierdie sal julle doen — tot die Reformasie” nie. Paulus het ‘n boodskap met evangeliese krag gepreek. En hy wou daardie krag hê vir sy leerling, Timótheüs, om ‘n spesifieke rede:

“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Timótheüs 3:1-5).

Paulus praat hier van toegewyde kerkgangers, maar beskryf hulle as mense wat net ‘n “gedaante van godsaligheid het.” Hierdie Christene het nie omgegee om na die sinagoge te gaan nie, of om geestelike geskrifte te lees of om deel te neem aan godsdienstige aktiwiteite nie. Tog was Paulus se raad aan Timótheüs, “Vermy hulle.” Hy het bedoel, “Dit is gevaarlik om saam met hierdie mense te wees. Jy sal begin dink dat hulle manier aanvaarbaar is. Hulle mag goddelik lyk, maar die Here kyk na die hart — en Hy sien onheiligheid en verwaandheid.”

Paulus sê dat hierdie mense “altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie” (2 Timótheüs 3:7). Met ander woorde, hulle luister na al die ware evangelie lesse, maar neem dit nooit ter harte nie. Dit het hulle kragteloos gemaak, sê Paulus, omdat hulle die “waarheid teëgestaan” het (sien 2 Timótheüs 3:8).

Let op hoe Paulus die gedeelte begin: " Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom” (2 Timótheüs 3:1). Hy maak dit duidelik dat “normale” Christenskap nie volhoubaar sal wees in die dae wat kom nie, en dat in swaar tye ‘n oppervlakkige geloof sal kwyn. Ek is waarskynlik die minste profetiese Christen wat lewe, maar selfs ek kan sien dat daar slegte tye op die horison is. Wanneer globale ekonomieë wankel en die gemiddelde Amerikaner finansiële rampe in die gesig staar en politiese onrus hoogty vier, dan moet iets meegee.

Wat sal die meeste Christene doen wanneer dinge regtig sleg uitdraai? Sal ons harte werklik voorbereid wees om met swaar tye te deel? Ek bid dat ons sal reageer soos die kerk in Handelinge toe hulle gehoor het van ‘n komende hongersnood. Hulle het nie allerhande goed opgehoop vir dit wat sou kom nie. In plaas daarvan het, hulle ‘n offergawe opgeneem vir ander kerke wat hulle geweet het, gaan ly.

Jy mag dink, “Dit is nie baie verantwoordelik nie.” Tog is dit presies wat Christene in ander lande vandag doen. Ek het ‘n kerk in El Salvador besoek waar die algemene inkomste vier dollar ‘n dag is. Ek was verstom om te verneem dat die mense twee dollar van hulle inkomste vir liefdadigheid gee. Ek het hulle afsonderlik gevra, “Waarom gee julle so baie?” Elkeen van hulle het geantwoord, “Omdat Jesus vir ons gesê het om aan die armes te gee.” Ek het gesê, “Maar julle het nood.” “O nee,” het hulle geantwoord, “ons is geseënd. Ons wil hulle ook seën.”

Dit is nie harte wat onheilig of vol verwaandheid is nie. Kan ons dit van onsself sê? Sal ons as Noord Amerikaanse Christene so gretig wees om ander te seën wanneer ons self min in ons rekening het? Of sal ons terugdeins wanneer dit kom om te seën soos wat ons geseën is?

Die komende swaar tye praat van meer as ‘n onstuimige ekonomie: Dit openbaar die toestand van ons harte.

Vir die eerste keer in die geskiedenis, identifiseer minder as 50 persent van Amerikaners hulleself as gelowiges van enige soort. Die getalle is selfs laer — 30 persent — vir mense onder dertig. Baie van hierdie mense merk “geen” as hulle godsdienstige verbintenis. Dit word geraam dat hierdie generasie binne ‘n dekade heeltemal in sekularisme en goddeloosheid sal verval. En verdraagsaamheid teenoor Christene sal net afneem.

Wat moet ons hiermee doen? Die skrywer van Hebreërs antwoord, “Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ‘n groot lydensworsteling deurstaan het” (Hebreërs 10:32). God het daardie vroeë Christene se lyding verander in werktuie vir evangelie krag:

“Gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge ‘n skouspel geword het...en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat  julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het. Werp dan julle vrymoedigheid , wat ‘n groot beloning het, nie weg nie, Want julle het lydsaamheid nodig om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog ‘n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (Hebreërs 10:33-39).

Dit is ‘n verseker harde woord, maar daar is goeie nuus hierin weggesteek. Dit praat van ‘n tyd waarin dinge so sleg sal word dat gelowiges in die versoeking sal kom om hulle van hulle boodskap af te onttrek. “Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (Hebreërs 10:39).

God vertel vir ons dat te midde van die groeiende duisternis is Hy besig om iets heerliks te doen: Hy is besig om ‘n laaste-dae kerk op te rig as ‘n getuienis van sy krag in swaar tye. Hierdie gelowiges sal uitroep, “Here, U is nie ‘n aannemer van persoon nie. Wat U vir die eerste eeu kerk in Handelinge gedoen het, kan U vir ons ook doen. Gee vir ons krag as getuies van U waarheid.”

Ons mag dalk nooit dieselfde beproewinge beleef as wat die Nuwe Testamentiese gelowiges beleef het nie, maar God gee steeds aan ons die Nuwe Testamentiese krag. Ons sal verseker beproewings van ons eie beleef omdat ons nie immuun is teen dit wat in die wêreld gaan gebeur nie. Maar daardie swaarkry sal in ons ‘n krag opwek wat ons nog nooit gesien het nie.

Dit is hoekom ons nie kan bekostig om langer normaal in geloof te wees nie. Dink aan die vinnig-groeiende aantal nie-gelowiges wat ek genoem het. Elkeen verteenwoordig ‘n siel wat op pad is na die hel, iemand vir wie Jesus gesterf het. Daardie getalle alleen roep ons om uit te styg bo “normale” Christenskap, om die evangelie van Christus te verkondig sonder vrees of verhindering. Dit vereis sy krag wat ons nie op ons eie kan verkry nie. Dit word alleen deur genade toegerus.

Ek het al baie keer vir Leonard Ravenhill op hierdie onderwerp gekwoteer, maar dit is nodig om dit te herhaal: “Christenskap vandag is so onder-normaal dat indien enige Christen sou begin om op te tree soos ‘n normale Nuwe Testamentiese Christen, hy as abnormaal beskou sal word.”

Sê my, hoor jy net God se Woord of doen jy dit? Of is daar ‘n verskil tussen Christus se evangelie krag en jou wandel? Bid saam met my vandag: “Here, ek is moeg om tevrede te wees met normale Christenskap. Verenig my alledaagse lewe met U hemelse krag. Ek is ‘n leë erde kruik — vul my en beproef my. Wat dit ook al mag kos, Here, lei my waar U wil hê ek moet gaan.”

Bid dit en jy sal sien dat Sy krag in jou lewe vrygestel sal word. Amen.

Download PDF