Jesus en Storms | World Challenge

Jesus en Storms

David WilkersonMarch 1, 1978

Jesus stuur sy dissipels weg met ‘n boot wat op ‘n botsing afgestuur het. Die Bybel sê Hy “het hulle in die skuit laat klim”… Dit het op onstuimige waters afgestuur, dit sou soos ‘’n kurkprop rond-dobber; die dissipels sou in ‘n klein Titanic-ervaring beland - en Jesus het dit al die tyd geweet.

“Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan” (Matteus 14:22).

Waar was Jesus? Hy was in die berge wat oor die see uitgekyk het. Hy het vir hulle gebid dat hulle nie die toets sou faal waardeur hulle moes gaan nie. Die bootrit, die storm, die onstuimige golwe, die wind was alles deel van ‘n toets wat die Vader beplan het. Hulle sou die grootste les leer wat hulle tot nog toe geleer het. So kan ons Jesus in die storm herken.

Hulle het Hom geken as Wonderwerker, die Man wat vis en brood kan vermenigvuldig. Hulle het Hom geken as die Vriend van sondaars, die Een wat verlossing bring vir die verlore mensdom. Hulle het Hom geken as die Een wat in hulle behoeftes voorsien, wat selfs hulle belasting, uit ‘n vis se bek, betaal het.

Hulle het Jesus geken as “die Christus, die Seun van God”. Hulle het geweet dat Hy die woorde van die ewige lewe het. Hulle het geweet dat Hy mag het oor al die werke van die duiwel. Hulle het hom geken as ‘n leermeester, wat hulle geleer het hoe om te bid, te vergewe, te bind en los te maak.

Maar hulle het nog nooit geleer om Hom in die storm te herken nie.

Tragies, is dit juis hulle wat Hom die beste geken het, wat hom nie in die storm kon herken nie.

Dit is die wortel van die meeste van ons se hedendaagse probleme. Ons vertrou Jesus vir wonderwerke en genesings. Ons vertrou Hom vir ons redding en vergewing van ons sondes. Ons kyk na Hom om in ons behoeftes te voorsien. Ons glo dat Hy ons eendag in sy heerlikheid sal bring. Maar as ‘n storm ons skielik oorval en dit lyk asof alles vergaan, is dit moeilik om Jesus daarin raak te sien. Ons kan nie glo dat Hy storms stuur sodat ns sal leer om op Hom te vertrou nie. Ons is nooit te seker dat Hy naby is, as dinge moeilik word nie.

Die boot word heen-en-weer gegooi, dit lyk asof dit gaan sink; die wind waai, alles is teen hulle.

“En die skuit was al in die middel van die see, geteister deur die golwe; want die wind was teen hulle. Maar in die vierde nagwaak het Jesus na hulle gekom, al wandelende op die see. En toe die dissipels Hom op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit is ‘n spook!

En hulle het geskreeu van vrees. Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie” (Mattheus 14:24-27).

Hulle het so skielik vasgeval, meteens oorweldig; die gedagte dat Jesus naby was en oor hulle waggehou het, was ondenkbaar. Een het waarskynlik gesê, “Dit is die werk van Satan – die duiwel probeer ons vernietig – as gevolg van al die wonderwerke waarby ons ook betrokke was”.

‘n Ander een het dalk gese: “Waar het ons verkeerd gegaan? Wie van ons het sonde in sy lewe? Laat ons, harte ondesoek; kom ons bely teenoor mekaar. God is kwaad vir iemand op hierdie boot!”

Iemand anders kon gesê het, “Hoekom ons? Ons doen wat Hy gesê het! Ons is gehoorsaam! Ons is nie buite God se wil nie! Waarom nou skielik hierdie storm? Hoekom sou God juis nou toelaat dat ons so geteister word, terwyl ons op ‘n goddelike sending is?

En in die donkerste uur, “het Hy op die see na hulle toe geloop…” Hoe moeilik moes dit vir Jesus gewees het om op die rand van die storm te wag, so lief soos Hy hulle gehad het, terwyl Hy elke pyn voel wat hulle voel; met ‘n verlange om hulle te beskerm, soos ‘n vader as sy kinders in moeilikheid verkeer. Tog het Hy geweet, hulle kon Hom nooit vertrou en volg tot hulle deur die woede van die storm geteister is nie. Hy sou Homself slegs aan hulle openbaar as hulle aan die einde van hulleself gekom het. Die boot sou nooit gesink het nie, maar hulle ongeloof kon hulle laat verdrink. Die vrees vir verdrinking was gebore uit wanhoop, vrees en angs – nie uit water nie!

Onthou, Jesus kan te enige tyd die storm stilmaak, slegs deur ‘n woord te spreek, maar die dissipels kan nie. Kon hulle hulle geloof be-oefen het? Kon hulle nie die see beveel het in Jesus se naam nie? – “Groter werk as dit sal julle doen.” Kon die beloftes nie uitgevoer word nie – “Alles wat julle in my Naam vra, sal julle ontvang!” Nie voordat ons Jesus in die storm herken nie! Nie voordat ons die storm, in die geloof, die hoof kan bied nie! Nie, totdat ons geleer het “om goeie moed te hê,” as dit lyk asof die boot sink, nie.

“Toe sy dissipels Hom op die see sien loop….. het hulle gesê: “Dis ‘n gees (‘n spook)…” (Mattheus 14: 26).

Hulle het Jesus nie in die storm herken nie! Hulle sien ‘n spook. Die gedagte dat Jesus so naby was, so deel was van wat hulle deurgegaan het, het nie eers in hulle gedagte opgekom nie.

Hier is die gevaar wat ons almal bedreig – ons sien Jesus nie in ons probleme nie. In plaas daarvan sien ons spoke. In daardie hoogtepunt van angs, wanneer die nag op sy swartste is, die storm op sy woedendste, die wind op sy sterkste, en die hopeloosheid so oorweldigend, kom Jesus nader aan ons en openbaar homself as die Here, die Verlosser in storms.

“Die Here het gesit oor die Watervloed; ja, die Here sit as Koning tot in ewigheid” (Psalm 29:10).

Hulle vrese het toegeneem. Hulle was nou nie net bang vir die storm nie, hier was ‘n nuwe bedreiging – spoke! Die storm het spoke uitgespoeg. Duistere geeste was losgelaat!

‘n Mens sou dink dat minstens een dissipel sou verstaan het wat gebeur het, en sou sê: “Kyk vriende, Jesus het gesê dat Hy ons nooit sal verlaat nie. Hy het ons hierheen gestuur, ons is volkome in sy wil. Hy het gesê dat die weë van die regverdige deur Hom bepaal word. Kyk weer – dit is ons Heer, Hy is by ons. Hy was nooit ver weg nie; ons was nooit uit sy sig nie. Alles is onder beheer”.

Maar nie een dissipel het Hom herken nie! Hulle het nie verwag dat Hy in hulle storm sal wees nie. Hulle het Hom by die Samaritaanse put verwag. Hulle het Hom daar met uitgestrekte arms verwag, waar die kindertjies na Hom toe gekom het, waar Hy die geldwisselaars uit die tempel gedryf het, waar Hy eendag aan die regterhand van die Vader sal sit en van hulle konings en priesters sal maak. Maar nooit – ooit het hulle verwag dat Hy naby hulle sal wees in die storm nie!

Dit was vir hulle net ‘n geval van die noodlot! ‘n Onverwagte ramp! ‘n Tragiese noodlottigheid! ‘n Ongewenste, onnodige, onverwagte beproewing! ‘n Eensame, angstige, vreesaanjaende, donker nag! ‘n Nag om te vergeet!

Maar God het daardie storm deur ander oë gesien! Dit was netso ‘n toets vir hierdie dissipels as wat die woestyn vir Jesus was. God het hulle verwyder van die wonderwerke, hulle opgesluit in ‘n klein, brose bootjie, ver van die bovertrek af en het toe die woede van die storm op hulle losgelaat. God het toegelaat dat hulle geskud word, maar tog nie sink nie!

Hulle moes net een les leer – net een! ‘n Eenvoudige les – nie ‘n diep, mistiese aardskuddende waarheid nie. Jesus wou eenvoudig net vertrou word as hulle Heer in elke lewens storm. Hy wou eenvouding net hê hulle moes hulle blydskap en vertroue behou in die donkerste ure van beproewing. Dis al!

Jesus won nie hê hulle moes spoke oproep nie. Maar hulle het, net soos ons ook dikwels doen. Elkeen in daardie boot het sy eie spook opgetower. Jesus moes soos twaalf verskillende spoke in die gedagtes van twaalf verskillende dissipels gelyk het.

Miskien het een gedink: “ Ek ken daardie spook; dit is die lieg-spook!

Ek het ‘n paar weke gelede gelieg. Daarom is ons in hierdie storm. Dit is die oorsaak – ek het gelieg. Dit is die lieg-spook wat my wil waarsku om op te hou lieg. Ek sal! Ek sal! Kry my net uit hierdie gemors en ek sal ophou.”

‘n Ander een het miskien gedink, “Dit is die skynheiligheids spook! Ek is ‘n tweegesig. Ek is ‘n huigelaar! In hiedie storm kan ek nou sien wie ek is. Ek het dit probeer wegsteek. God het hierdie spook gestuur, dat ek kan sien wie ek is. Ek sal! Ek sal! Ek sal nie meer huigel nie, as hierdie storm net ophou.”

‘n Ander een sê: “Dit is die spook van kompromie, Ek het die Here teleurgestel met my kompromie. Dit was ‘n verborge saak, maar dit maak my nou bang. U het die spook gestuur om my terug te bring op die pad van heiligheid. Ek kom! Ek kom! Gee my net nog ‘n kans!”

‘n Ander een: “dit is die spook van gierigheid. Ek is te materialisties.”

‘n Ander een : “Dit is die vermorste – tyd – spook. Ek het nie getuig nie! Ek is louwarm. Ek het my les geleer…..”

‘n Ander een: “Dit is die spook van wrokke. Ek was nie vergewensgesind nie. Ek het sekere mense vermy. Dit is waarom God my skud om my te leer om nie wrokke te koester nie!”

‘n Ander een: “Dit is die spook van geheime sonde! Slegte gedagtes! Ek kan dit nie oorkom nie, daarom het God die storm gestuur”.

‘n Ander een: “Dit is die spook van gebroke beloftes. Ek het God beloof om iets te doen en ek het dit nie gedoen nie. Nou is God kwaad vir my en straf Hy my deur hierdie storm. Ek is jammer. Dit is die les - ek het my les geleer.”

Nee! Nee! Duisendmaal nee! Dit is alles gedagte spoke – gedaantes.

Niks hiervan is die ware lesse wat jy moes leer nie. God is nie kwaad vir jou nie. Jy is nie in die storm omdat jy misluk het nie. Hierdie spoke bestaan nie.

Dit is Jesus wat aan die werk is, Hy wil Homself openbaar in sy mag om te verlos, en te bewaar. Hy wil hê jy moet weet, deur die storm, dat jy te alle tye op sy krag en teenwoordigheid kan rus en vertrou. Hy is in die middel van wonderwerke en in die middel van storms! Dit is so maklik om in ‘n storm die ervaring van sy teenwoordigheid te betwyfel, en dan alleen te veg teen oorweldigende en hopelose omstandighede. Dan voel ons dat ons deur sonde of kompromie, Hom verloor het, Christus het ons verlaat en ons daar in die boot aan onsself oorgelaat.

Wat van daardie tye wanneer die winde van siekte en pyn ons tref? As kanker toetree? As pyn en angs so oorweldigend is dat jy selfs nie aan sy nabyheid kan dink nie? Jou skielike storm oorweldig jou en is op jou, en daar is geen ander gedagte as oorlewing nie. Jy wil nie sterf nie, jy wil lewe! Jy sien die spook van die dood in die skadu’s en jy bewe. Jy het nie genoeg krag vir die volgende uur nie.

Dit is waaroor die teenwoordigheid van Jesus gaan. Dit is ‘n openbaring wat na ons toe kom as ons dit die nodigste het.

Download PDF