Moeg en Besig Maar Volg Nogtans | World Challenge

Moeg en Besig Maar Volg Nogtans

Gary WilkersonFebruary 6, 2012

“En Gídeon het gekom by die Jordaan, en hy en die driehonderd man wat by  hom was, het oorgetrek, Moeg en besig om te agtervolg” (Rigters 8:4, kursief myne).

Gideon se lewe is ‘n volmaakte voorbeeld van hoe God onmoontlike omstandighede vir sy dienaars skep sodat Hy sy heerlikheid aan hulle kan toon. Die Here het hierdie skaam man gelei om Israel aan te voer in ‘n oorlog teen ‘n oorweldigende vyand: 100,000 Midianiete, in vergelyking met Israel se weermag van 22,000.

Praat van nie hulpbronne hê nie – dit was nie net ‘n oorweldigende meerderheid teen hulle nie, dit het aan die onmoontlike gegrens. Maar  Gídeon het geglo en op God se woord gereageer – en raai hoe het die Here gereageer? Hy het alles nog meer onmoontlik gemaak!

Ja, dit is reg, God het die situasie tot die uiterste gedryf — ver bokant Gídeon se vermoë — om aan Homself heerlikheid te bring.

Die Bybel leer ons dieselfde les oor God se hulpbronne en sy begeerte om dit te voorsien. Ek het agtergekom dat een van daardie lesse ons leer dat God ons dikwels by sy ongelooflike voorsiening bring slegs nadat ons ver bokant ons eie vermoë gegaan het.

Hy verlang daarna om aan ‘n wagtende wêreld te wys dat Hy onmoontlike oorwinnings aan almal gee wat hulle vertroue in Hom plaas.

Ek sien ek vier groot lesse in Gídeon se storie, vir vandag.

Les 1: Beperkte hulpbronne beperk God nie.

God word nooit beperk in sy hulpbronne wanneer Hy ons roep om iets te doen nie. As ons in Gídeon se skoene was, sou ons dalk gedink het, “Here, U moet nou op hierdie oomblik uitkoms gee. Ons het versterkings, beter wapens en meer voorrade nodig — anders staan ons nie ‘n kans nie.”

Maar God het net die teenoorgestelde gedoen. Hy het aan Gídeon en sy manne gesê, “ Is daar enige van julle wat bang of lafhartig is? Dan kan hulle huistoe gaan. Neem vakansie, kry bietjie rus en gaan geniet julleself” (Sien Rigters 7:3).

Dink wat deur Gídeon se gedagtes gegaan het toe hy dit gehoor het. “O, Here! U is veronderstel om ons te vermeerder, nie te verminder nie. Ons het meer nodig, nie minder nie.”

Daar is egter ‘n boodskap wat God aan almal in daardie byeenkoms gestuur het: “Díe van julle wat ‘n gewillige gees het, kry julle koppe reg om teen ‘n vyand wat tien keer groter as julleself is, oorlog te maak. Die Midianiete is baie sterker en wreder. Maar julle het My aan julle kant — en Ek sal julle iets gee wat die Midianiete nie het nie.”

Jy kan nie vir Gídeon blameer dat hy sy behoeftes vooruit voorsien wou gehad het nie. Die meeste van ons sou dieselfde gedoen het. Ons mag selfs Jesus se gelykenis van “bereken die koste” kwoteer. Daarin gee hy ‘n voorbeeld van ‘n koning wat gaan oorlog maak:

“Of watter koning wat optrek om teen ‘n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tienduisend die een te ontmoet wat met twintigduisend teen hom kom nie? Anders stuur hy ‘n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes” (Lukas 14:31-32).

Ons lees dit en dink, “Jesus sê dit is dwaas om iets te onderneem sonder om behoorlike hulpbronne te hê. Dit kan oneer aan God se naam bring.”

Dit is ‘n eerbare aanslag, en moet gelukgewens word. Maar dit is nie waarvan Jesus in hierdie gelykenis praat nie. In werklikheid, begin Hy met ‘n redelike dapper verklaring:

“En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie” (Johannes 14:27).

Sjoe — Jesus verwys nie hier na genoeg hulpbronne nie. Hy praat van nie halfpad met Hom gaan nie. Hy wil ons algehele vertroue hê – en dit beteken om alles te verlaat om Hom te volg. Hy sluit die gelykenis af deur ‘n ewe sterk woord: “So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie” (Lukas 14:33).

Ons Here het dit baie duidelik gemaak: Ons moet “heeltemal in” wees as ons Hom wil volg — alle vertroue in ons eie vermoëns en hulpbronne — en Hom vertrou om te voorsien.

God beperk dikwels opsetlik ons hulpbronne om te verseker dat Hy al die heerlikheid ontvang.

Dit is waar God dinge selfs nog onmoontliker vir Gídeon gemaak het. Hy het aan hom gesê, “Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê: My eie hand het my verlos” (Rigters 7:2, kursief myne).

Op hierdie stadium moes Gídeon gedink het, “Ek moet ophou bid. Elke keer wanneer ek bid, neem God iets weg!” Dink daaraan — Gídeon was verantwoordelik vir die hele volk se oorlewing. As hy die leër begin minder maak, sou mense dink hy is mal. Dit is egter presies die omstandighede wat God geskep het om Homself te verheerlik.

Sommige van ons gevegte bestaan sodat ons kan leer om God te aanbid. Dit is wat met Gídeon gebeur het: Toe hulle besef dat God hulle bonatuurlik uit die magtige Midianiete sou red — selfs voor dit gebeur het — het hulle reguit op hulle knieë gegaan. “Toe Gídeon... hoor, het hy aanbid” (Rigters 7:15).

Dit is al die tyd God se plan vir ons. Wanneer ons sien dat Hy alleen die oorwinning kan bring — en dat Hy belowe ons om op ‘n wyse te red wat net Hy kan doen — dan draai ons harte na aanbidding en lofsang terwyl die wêreld in verwondering terugstaan.

Gídeon het duidelik sy oë hemelwaarts gehad toe hy die soldate huistoe gestuur het – al 12,000 van hulle. Dit het sy leër met meer as die helfte, na 10,000, verminder. Toe die kanse tien teen een was, het God weereens vir Gídeon verbaas: “Daarop sê die Here vir Gídeon, “Die manskappe is nog te veel” (Rigters 7:4).

Gídeon moes hoogs ontsteld gewees het: “Here, U maak seker ‘n grap? Nog minder?” Maar God het hom beveel, “Bring hulle af na die water, dan sal Ek hulle daar vir jou uitsoek; en van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag met jou saamgaan — dié mag met jou saamgaan; maar elkeen van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag nie met jou saamgaan nie — dié mag nie gaan nie” (Rigters 7:4).

God was duidelik van plan om iets te doen en Gídeon het hom gehoorsaam: “Hy bring toe die manskappe af na die water; en die Here sê vir Gídeon: Elkeen wat met sy tong die water oplek soos ‘n hond lek, moet jy eenkant laat staan; en elkeen wat op sy knieë vooroor buig om te drink, anderkant.

“En die aantal van die wat gelek het met hul hand na hul mond toe, was driehonderd man; en al die ander manskappe het op hulle knieë vooroor gebuig om water te drink.  Toe sê die Here vir Gídeon; Deur die driehonderd man wat gelek het, sal Ek julle verlos en die Midianiete in jou hand gee; maar al die ander manskappe kan elkeen na sy woonplek gaan” (Rigters 7:5–7).

Dit mag na ‘n snaakse manier klink om soldate te werf, maar God het ‘n duidelike doel gehad. Jy sien, die manne wat hulle gesigte in die water gedruk het, was so dors dat hulle aan niks anders kon dink nie. Maar hulle wat die water met hulle hande geskep het, het waaksaam gebly; hulle oë het rondgekyk om enige beweging rondom hulle raak te sien. Kortliks, hierdie manne was nie Sondagskoolonderwysers nie — God het Israel se leër tot ‘n Spesiale Mag eenheid geslyp.

Met daardie kwessie afgehandel, het God sy bonatuurlike plan in aksie gestel. Daardie nag het Hy een van die Midianitiese soldate ‘n droom gegee wat die hele kamp angsbevange gemaak het — en Hy het Gideon en sy 300 man-eenheid in die geveg ingestuur en ‘n massiewe oorwinning vir Israel behaal. Die wanordelike aftog van die verslane Midianitiese troepe het hulle verminder na 15,000 soldate wat vir hulle lewens gevlug het. Gídeon en sy manne het hulle gou agterna gejaag om die oorwinning te beklink.

Les 2: Moedeloosheid kan pla, maar dit kan  nooit God se uiteindelike plan vir oowinning verhoed nie.

Die volgende oggend het Gídeon en sy manskappe by ‘n Israelitiese dorpie gekom waar hulle ‘n groep mans ontmoet het. In plaas daarvan om die oorwinnaars geluk te wens, het hierdie manne Gídeon gekonfronteer: “Wat is dit wat u ons aangedoen het, dat u ons nie geroep het toe u weggetrek het om teen die Midianiete te veg nie?” (Rigters 8:1).

Hoe onsinnig klink dit? Gídeon het so pas 85,000 soldate met ‘n leër van 300 manne verslaan — en hy word gekritiseer deur die stoelpatatte wat by die huis gebly het!  Hulle het hom aangekla, “Waarom het jy ons nie geroep nie? Ons sou saam met jou veg.” Ja, reg — maklik om te sê wanneer die geveg gewen is. Hulle het Gídeon se leierskap betwis: “En hulle het heftig met hom getwis” (Rigters 8:1).

Hierdie toneel is makliker om te verstaan as jy jouself in Gídeon se skoene plaas. Soms kom ons mees telleurstellende, sielsdreinerende, energie tappende ervarings nie van die gevegsfront van die lewe af nie, maar van ons eie geestelike familie. Ons verwag kritiek van ons vyande, maar ons word onkant gevang as dit van ons broers en susters kom.

Ek hou van hoe Gídeon gereageer het op hierdie konfrontasie: In ‘n oomblik toe dit elke greintjie van heerlike oorwinning uit sy gees kon laat dreineer het, het hy die teenoorgestelde gedoen. Hy het die manne geprys en gesê, “Wat kon ek doen in vergelyking met julle?” (Rigters 8:3). Gídeon het toe daardie manne se vorige oorwinnings oor hulle groot vyande opgenoem.

Ek is verstom oor Gídeon se wysheid. Baie van ons sou geargumenteer het, “Waarom trap julle my uit? Ek het julle so pas gered!” Dit is so maklik om energie te vermors deur met familie te baklei en dan die fokus op ons Godgegewe sending te verloor. Maar Gídeon het daardie versoeking weerstaan en die wind uit sy beoordelaars se seile gehaal: “Toe bedaar hulle opgewondenheid teenoor hom nadat hy hierdie woord gespreek het” (Rigters 8:3).

Ek hou van wat volgens die Skrif volgende gebeur: “En Gídeon het gekom by die Jordaan en... het oorgetrek” (Rigters 8:4). Hy het die argument agter hom gelaat en aanhou vorentoe beweeg. Wat ‘n les vir ons: Wanneer ons die afleiding van kleiner gevegte weerstaan, dan leef ons waarlik ons sending uit.

Les 3: Groter genade vir 'n oorwinning word verleen aan diegene wat moeg is.

Die tyd kom wanneer elke Christen nodig sal hê om sy of haar gees te verfris — dit is net ‘n werklikheid van ons geestelike wandel. Jesus het dikwels sy dissipels weg van die moeilike, uitputtende werk van die bediening geneem, want Hy het geweet dat hulle tyd nodig het om vrede in God te vind en hulle fokus terug te kry.

Maar wanneer die tyd kom dat ‘n geveg gestry moet word, dan vertel Christene wat reg onderskei aan hulself, “Ek kan nie nou rus nie, selfs nie omdat ek moeg is nie. Die Here het my tot hierdie geveg geroep.”

Wat ‘n ongelooflike uitputtende dag was dit nie vir Gídeon en sy manskappe nie. Dit het alles binne 24 uur gebeur: die geleidelike vermindering van die leër, die intense voorbereiding vir oorlogvoering en die hele nag se geveg teen 100,000 krygsmanne. Gídeon het eers die volgende oggend ‘n ruskans gekry (as jy dit so kan noem, toe hy deur sy behoordelaars gekonfronteer is). Dit is hoekom ons gelees het dat Gídeon en sy manskappe was “moeg en besig om te agtervolg” (Rigters 8:4). Hulle fokus was op God se sending!

Dit is die kern: Soms aan die einde van ‘n lang dag, het die geveg wat God vir jou voorberei het skaars begin. Wanneer ons die koste bereken om Jesus te volg, moet ons lang dae verwag. Ons moet vroeg oggend oproepe, dae van spanning en stres en heelnag gevegte verwag. Ons kan min ruskanse en agtervolging wat bokant ons kragte is, verwag. Ons kan verwag om getap en uitgeput te voel. Maar wanneer God bepaal, sal Hy deurbreek met sy beloofde oorwinning.

Gídeon moes egter nog meer uitputting  trotseer – weer van sy eie mense. Hy en sy manskappe het die Midianiete agtervolg toe hulle dood van die honger by die dorpie Sukkot gekom het. “En hy (Gídeon) sê aan die manne van Sukkot: Gee tog broodjies vir die manskappe wat op my voetspore volg, want hulle is moeg en ek is besig om... die konings van die Midianiete, agterna te jaag” (Rigters 8:5).

Gídeon se versoek was afgekeur. Dus was Gídeon geforseer om in hulle uitgeputte toestand tot by die volgende dorpie, Pnuel, te gaan — maar daar het die mense ook sy versoek vir voedsel verwerp. Gídeon het gereageer deur te sê, “As ek met vrede terugkom, sal ek hierdie toring omgooi” (Rigters 8:9). Ek glo nie Gídeon het dit in woede bedoel nie. Hy het bedoel, “God sal ons die oorwinning in die geveg gee — en dan sal ons na hierdie plek toe terugkom. Wanneer ek dit doen, gaan julle die natuurlike gevolge  van julle verwerping van God dra.”

Hierdie mense het die goeie gerug van Israel se verstommende oorwinning van die vorige nag geweier. Selfs toe Gídeon moeg was, het hy geweet dat God op die punt was om die oorwinning te bring. Mag dieselfde vir ons waar wees: As ons aanhou om die Here in ons moeilike omstandighede te vertrou, dan sal dit net soos met Gídeon gebeur — ons sal weet dat God se algehele oorwinning aan die kom is.

Les 4: God stop nie by ‘n halwe oorwinning nie.

Wanneer ons Jesus volg, kan ons nie tevrede wees met ‘n halwe oorwinning net omdat ons moeg is nie. God sal dit nie toelaat nie. Sy plan is altyd vir ons volle verlossing — en soms kom dit slegs in die laaste halfuur wanneer ons gefrustreer en moeg is en nie een tree verder kan gaan nie.

Na al hierdie teleurstellings kon Gídeon gesê het, “Julle weet manne, ons het baie bereik — meer as wat ons ooit kon dink. Ons kan net soveel op een dag hanteer. Laat ons vir eers na ons huise toe terugkeer. Ons kan môre weer begin.”

Dank God dat Gídeon nooit sy sending verlaat het nie. Ek glo dat hy gehoor het dat God aan hom sê, “Gaan voort, Gídeon. Veg vir jou kinders. Veg vir jou stad. Ja, ek het reeds jou oorwinning vooruit bestem — maar ek roep jou om My te vertrou om vorentoe te beweeg.”

Vriend, God sê dieselfde vir jou in jou stryd. Miskien is jy in ‘n spanningsvolle huwelik waar jy dink dat dit nie nog ‘n dag langer so kan aangaan nie. Miskien lyk dit of dinge erger word na al jou gebede vir jou kinders. Miskien lyk jou toekoms uiters bleek. God praat met jou soos Hy met die 300 gedoen het: “Ek wil hê dat jy jou hart en gedagtes daarop instel om teen ‘n vyand wat tien keer groter is as jy te veg. Jy kan nie hierdie vyand op jou eie oorwin nie. Maar Ek gaan jou iets gee wat hulle nie het nie.”

Die werklikheid is dat elke stryd wat ons beleef ‘n ewige doel het. Dit gaan nie net oor die nederlaag van die vyand nie — dit gaan oor die verheerliking van Jesus. Wanneer ons bo ons eie vermoë op God vertrou, dan voorsien Hy al die krag om die geveg te oorwin — en Hy doen dit op ‘n manier wat al die heerlikheid na Hom toe bring.

Dit is die kort en die lank daarvan: Ons is nie ‘n volk wat geroep is om gemak en plesier te soek nie en ook nie om elke seëning te hê wat aan ons gegee word nie. Ons word geroep vir die stryd. Ja, God is in beheer — maar Hy vra ons om in geloof op te tree vir sy ewige doel. Ons moet op ons knieë val en ons moet gaan wanneer Hy sê gaan. Wat Hy ons ookal vra om te doen, Hy sal ons die krag gee om dit te bereik. Slegs dan sal die wêreld God se wonderbaarlike triomf in ‘n volk wat “moeg, maar besig is om te agtervolg” sien.

Dit maak vir ‘n heugelike, aanbiddende kerk wat in een ding alleen roem:

“God het hierdie oorwinning beskik. Hy het ons gewys dat Hy die bron van alle lewe, krag en oorwinning is. En ons gee Hom al die eer en heerlikheid met die wete dat dit alle mense na Hom toe sal trek.”

Download PDF