Noudat Die Oorwinning Behaal Is? | World Challenge

Noudat Die Oorwinning Behaal Is?

Gary Wilkerson
November 26, 2012

Die vraagteken in my titel is opsetlik. As Christene weet ons dat Jesus vir ons die oorwinning op Golgota behaal het. Hy het die dood, Satan en die krag van sonde oorwin. Die vraag wat vir gelowiges oorbly is, “Wat nou? Ek weet Jesus het vir my die oorwinning aan die kruis behaal. Maar wat van my huidige stryd? Waar is die oorwinning vir die stryd wat tans in my lewe woed?”

Dit is ‘n belangrike vraag — en 1 Samuel bevat ‘n antwoord vir elke Christen. Dit begin met hierdie toneel: “En die Filistyne het hulle leër versamel vir die oorlog... by Sogo, wat aan Juda behoort” (1 Samuel 17:1). Hierdie beeld stel ‘n geestelike waarheid voor, wat nooit verander nie: Die magte van die duisternis word opgestel teen God se mense. Wanneer Jesus jou Verlosser word, het Hy jou ‘n nuwe skepsel gemaak — maar hoewel jy verander het, het die wêreld nie.

As gevolg hiervan, is daar magte wat hulleself teen jou opstel — die wêreld, die duiwel en selfs jou eie vlees, wat teen jou gees stry. Soms is ons stryd teen hierdie magte uiterlik: aanslae op jou huwelik, jou finansies en jou kinders. Ons kerkkantoor sien voortdurend mense wat berading soek insake al hierdie kwessies. Elke Christen familie is ‘n getuienis van God en Satan is vasbeslote om toe te sien dat daardie getuienis vernietig word. Dit is nie net die duiwel wat teen jou familie is nie, maar ook die grootste deel van die wêreld.

Soms is ons stryd innerlik. Ons het knaende bekommernisse: “Kan my huwelik hierdie lang, koue stilte oorleef?” “Sal my kind ooit sy lewe vir die Here gee?” “Is ek ooit waardig genoeg om myself ‘n Christen te noem?” Al hierdie druk lei ons op die pad na twyfel en wanhoop en laat ons wonder, “Waar is God in al hierdie dinge? Ek kan Hom nie in my daaglikse stryd sien nie.”

Soms roep ons, “Genoeg!” en besluit dan om ‘n streep in die sand te trek. Ons vertel vir onsself, “Ek is moeg om deur die vyand verslaan te word. Satan, jy mag tot sover gekom het, maar niks verder nie. Jy sal nie hier verbygaan nie!” Die laaste sin — “Jy sal nie hier verbygaan nie!” — het wonderlik gewerk in The Lord of the Rings. Maar dikwels gebeur dit nie in ons daaglikse lewe nie. Hoeveel keer het jy ‘n streep getrek net om te sien dat die duiwel weer daaroor trap? Wanneer dit gebeur het, het jy seker nóg ‘n streep getrek en gesê, “Reg, duiwel, dit is finaal. Tot hier toe en nie verder nie!” Maar die duiwel het weer daaroor getrap.

Onlangs het ek en my vrou, Kelly, dit ervaar. Ons het besef dat Satan in ‘n sekere area van ons familie ingekom het en ons was vasbeslote om met ons harte teen hom weerstand te bied. Ons het ons hande saamgeslaan en met groot intensiteit gebid, “Here, ons weier om te sien dat die duiwel dit van ons af wegneem. Sy oorwinnings stop hier. Ons bestraf jou, Satan!” Maar die aanval het net met groter wreedheid voortgegaan.

Dit is wat met Israel gebeur het toe hulle teen die Filistyne te staan gekom het. “En die Filistyne het duskant teen die berg en die Israeliete oorkant teen die berg gestaan, sodat die dal tussen hulle in was” (1 Samuel 17:3). Saul het sy manne in ‘n slagorde teen die Filistyne opgestel om die Filistyne se opmars te keer en dit het ‘n soort dooiepunt bewerkstellig. Het dit die vyand gekeer? Geensins. Die Filistyne het ‘n groter wapen in Góliat, ‘n reus van ‘n man, gehad:

“Góliat, uit Gat; sy hoogte was ses el en ‘n span. Daar was ‘n koperhelm op sy hoof, en hy het ‘n pantser van skubbe aangehad -  die gewig van die pantser was vyfduisend sikkels koper — en skeenplate van koper was aan sy bene en ‘n koperlans tussen sy skouers. Die steel van sy spies was was soos ‘n wewersbalk, en die lem van sy spies was van seshonderd sikkels yster” (1 Samuel 17:4-7). Dit is wat die vyand doen wanneer ons ‘n streep trek: Hy vlug nie, maar kom weer terug met beter wapens!

Wanneer ons kanse op sukses vyftig-vyftig lyk, dan mag ons die stryd op ons eie krag probeer stry. Maar wanneer ons te staan kom teen ‘n reusagtige Góliat, dan verdwyn al ons selfvertroue — en Satan kom net sterker teen ons. Die Skrif sê dat Góliat die Israeliete daagliks gespot het: “Kies vir julle ‘n man uit, dat hy na my toe afkom” (1 Samuel 17:8). Julle kan julle indink wat dit aan die Israeliete gedoen het: “Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees” (1 Samuel 17:11).

Die reus se spottery het vir veertig dae aangegaan. Elke dag het Israel se magtige krygsmanne meer en meer verskrik, afgemete en vol skaamte geword. Hulle het hulleself afgevra: “Wat gaan aan met my? Waar is al my dapperheid heen?”

Miskien het jy onlangs dieselfde soort bespotting van die vyand van jou siel verduur. Jy voel oorweldig — deur verhoudingsprobleme, deur versoekings, deur onmoontlike omstandighede — en die stem kom dikwels: “Die stryd is te groot vir jou. Jy kan net sowel opgee.” Ek weet hoe verstom ek en Kelly was. Ons het gedink, “Here, ons het die vyand bestraf, ons het alles gedoen wat u Woord beveel, maar Satan lyk of hy grond wen. Wat gaan aan?”

Soms laat God toe dat die vyand te groot lyk om te hanteer — en Hy doen dit vir ‘n rede.

Toe die Here Israel in die Beloofte Land ingelei het, het Hy hulle oorwinning oor dertig vyandige volke gegee — maar Hy het toegelaat dat vyf vyandige volke in die land oorgebly het. Hoekom? Die Bybel sê dat God Israel wou leer om oorlog te maak. Met so baie vyande wat oorgebly het, moes Israel van God afhanklik bly vir alles.

Dit is die eeu-oue les van Christus Victor. Dit is die Latynse woorde wat die vroeë kerkvaders gebruik het om Jesus te beskryf. Rofweg vertaal beteken dit, “Ons oorwinning is nie in onsself nie, maar in Christus.” As ons die vyand verslaan wanneer ons kanse vyftig-vyftig is, dan kom ons in die versoeking om te dink, “Ek het die stryd gewen.” Maar wanneer ons vyand nege voet lank is — wanneer ons hom bestraf, maar hy kom sterker terug; wanneer ons al ons bronne uitgeput het; en wanneer ons ons hande in die lug gegooi het en gesê het, “Ek kan dit nie doen nie” — dit is wanneer God sê, “Ek het jou presies waar Ek jou wil hê.”

Twee eenvoudige woordjies het alles vir Israel verander — en dieselfde woorde is vir ons van toepassing vandag. Nadat Israel vir veertig dae die bose aanklagte verduur het, het hierdie woorde ‘n radikale verandering in Israel gebring: “En Dawid...” (1 Samuel 17:12). Hierdie twee woorde het die volgende deel van die storie ingelei, so om te sê, “Jy is op die punt om die storie in ‘n heel ander lig te lees.”

Die meeste van ons het die storie van Dawid en Góliat in die Sondagskool geleer. Gewoonlik word Ou Testament stories vir kinders nie as geestelike waarhede vertel nie, maar vir morele onderrig. Byvoorbeeld, die les van Jona word gewoonlik aangebied as, “Moenie ongehoorsaam wees aan God nie anders sal jy in die moeilikheid kom.” Die les uit Dawid se storie, is gewoonlik, “Wees dapper en moedig.”

Die probleem met hierdie interpretasie van Dawid se storie is dat ons ons kinders iets leer wat hulle nie in staat is om te doen nie. Daar was nie ‘n enkele Israelitiese soldaat wat ‘n hand-aan-hand geveg met Góliat sou wen nie. Daardie stryd was selfs bokant die dapperste man se vuurmaakplek.

Net so, wanneer ons in ‘n geestelike stryd is, is dapperheid en heldhaftigheid nie genoeg nie. Dawid het geweet dat hy nie opgewasse teen Góliat was nie. Per slot van rekening, hy was nog nie eers ‘n soldaat nie; hy was nog te jonk en dan nog komieklik klein ook (sien 1 Samuel 17:38-39). Die enigste ding waarmee Dawid gewapen was toe hy op die slagveld opgedaag het, was brood en kaas vir sy broers wat soldate was! Dawid het egter verskil van hulle: Hy het geweet dat die stryd nie syne was nie, maar God s’n. Toe hy Góliat se spottery gehoor het, het hy getuig:

“Vandag sal die Here jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ‘n God het. Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die Here nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die Here, en Hy sal julle in ons hand gee” (1 Samuel 17:46-47).

Geestelike oorwinning is nooit ons eie nie; dit kom van ons Verlosser. In hierdie storie is Dawid ‘n beeld van ons Verlosser, Christus. Hy sny deur al ons angs en wanhoop met ‘n gesag wat geen demoon kan weerstaan nie. Góliat het daardie dag net om een rede geen kans gehad nie: Die stryd was die Here s’n.

God roep ons nie om ‘n held te wees nie; maar in plaas daarvan, tree Hy op soos óns hero. Hy is ons krag en ons verlossing. Hy laat reuse toe in ons lewens om een rede: Hoe groter die vyand, hoe groter die heerlikheid wat God met sy oorwinning ontvang. Hy wil Homself magtig bewys ter wille van sy mense en die hele mensdom na Hom toe trek wanneer hulle sy magtige dade sien.

Iets verstommends het gebeur nadat Dawid Góliat verslaan het.

“So het Dawid dan die Filistyn oorweldig met ‘n slinger en ‘n klip. En hy het die Filistyn verslaan en hom gedood alhoewel daar geen swaard in Dawid se hand was nie... Toe die Filistyne sien dat hulle held dood was, het hulle gevlug.  Toe het die manne van Israel en van Juda hulle klaargemaak en gejuig en die Filistyne agtervolg tot by die ingang na Gat en tot by die poorte van Ekron, sodat die gesneuweldes van die Filistyne gelê het op die pad” (1 Samuel 17:50-52).

Die gety het so dramaties gedraai dat Israel die wankelende Filistyne laat vlug het. Die belangrikste deel in hierdie gedeelte is een kort frase: “Alhoewel daar geen swaard in Dawid se hand was nie.” God het Homself getrou gewys deur Dawid se vertroue in Hom — en dit het elke Israeliet met geloof vervul. Alle gespot en skande was weg, en die Israeliete se vertroue was terug — ‘n vertroue dat hulle God vir hulle sou stry.

Dit is die diepgaande effek op ons wanneer ons God se krag vir ons sien werk: Ons vertroue word hernu om die geveg te betree. Die stryd behoort aan Christus, wat ons roep, “Kom kyk na My oorwinning. Ek het die kop van jou aanklaer afgekap!” Ons word nou bemagtig om te volg terwyl ons sê, “Here, U het my nie verlaat nie. U het toegelaat dat al hierdie dinge gebeur — elke terugslag en selfs die beledigings. En U het dit in genade gedoen, sodat ek U kan glo.”

Baie van ons wonder steeds, “Wanneer sal die Here namens ons optree?” Die antwoord daarop is dat Jesus reeds opgetree het. Hy het dit 2,000 jaar gelede aan die kruis gedoen; dit is toe ons oorwinning verseker is. Sy triomf aan die kruis is dieselfde oorwinning wat elke reus in ons lewens op die vlug laat slaan. Ons huwelik mag ly, maar Christus het die magte van die duisternis wat teen jou en jou gade opstel is, verslaan. Jou finansies mag dalk nie nou in orde wees nie, maar die Here het vir jou ‘n toekoms en ‘n hoop voorberei. Jou kinders mag dalk nie nou die goddelike lewe lei wat jy vir hulle wou gehad het nie, maar Jesus het hulle verlossing gekoop. Ons mag baie oorloë op baie fronte hê, maar Christus het ons oorwinning verseker.

Is jy nou in staat om jou vyand verslaan te sien? Dink aan al die stemme wat jou aankla. Jy kan hulle almal antwoord: “Dit is jou einde, duiwel. Jesus se oorwinning het jou op die vlug laat slaan. My oorwinning is reeds verseël en gewen. Wanneer Hy ookal kies, sal my Held daardie oorwinning demonstreer en die wêreld sal Hom in al sy heerlikheid sien. Almal sal weet dat die oorlog nie met die swaard en spies is nie, maar met die Here” Amen!

Download PDF