Om sonder vrees te leef | World Challenge

Om sonder vrees te leef

David WilkersonJune 11, 2007

“Geloofd sy die Here … omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het, en ‘n horing van heil vir ons opgerig het … soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af – redding van ons vyande … om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink;

“Aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe” (Lukas 1:68-75).

God het hierdie belofte gemaak sedert die begin van die wêreld en Hy het dit met ‘n eed gesweer aan ons vader Abraham. Twee geweldige genadegawes word in hierdie belofte saamgevat: Eerstens, ‘n Verlosser sal kom “wat ons van ons vyande sal verlos.” Tweedens, die Verlosser sal dit vir ons moontlik maak om Hom “te dien, sonder vrees in heiligheid en regverdigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.”

Al die profete wys vooruit na die vervulling van hierdie belofte in Christus. En hierdie beloftes is vervul in die oorwinning van Jesus aan die kruis. Daar het die Here al die magte van die duisternis oorwin en met Sy voet die Satan se kop verbrysel. Dit was op Golgotha waar die Messias ons van ons vyande verlos het.

Wat van die tweede deel van hierdie belofte? Dit sê dat Christus vir ons voorsiening gemaak het sodat ons al ons dae vreesloos kan lewe. Wat ‘n geweldige gedagte: ons kan die res van ons lewe, op hierdie aarde leef, sonder om iets te vrees.

As ek nadink oor hierdie tweede deel van die belofte, moet ek toegee, dat ek dit nog nie ervaar nie. Die Skrif wys vir ons, dat selfs die apostel Paulus, lank geneem het voordat hy sonder vrees kon lewe. Wat van jou? Het jy al so ‘n bestemming bereik? Ons het almal die eerste deel van die belofte ervaar: Christus het in ons lewe oorwinning gebring oor die demoniese magte. Maar wat die tweede gedeelte betref – om sonder vrees te lewe – glo ek dat min van ons dit regkry.

Maar God sou nie vir ons hierdie beloofde belofte gegee het, as Hy ons nie gewys het hoe om dit te vermag nie. Werklik, die Skrif gee ‘n duidelike aanwysing vir elke gelowige om vir Hom te leef en Hom te dien sonder vrees.

Die apostel Johannes som dit op in een vers: “Die volmaakte liefde dryf die vrees buite” (4:18). Verder sê die apostel, “daar is geen vrees in liefde nie … Hy wat vrees is nie volkome in liefde nie.” Kortliks, as ons in vrees lewe, kan ons weet dat ons die volmaakte liefde nie ken nie.

Kyk, Johannes sê nie, “Volmaakte liefde vir God, oorwin alle vrees” nie. Hy praat nie van onwankelbare liefde, of volwasse liefde as ‘n Christen nie, soos wat sommige verklaarders beweer nie. Dit is nie die betekenis van ware liefde vir gelowiges nie.

Natuurlik het ons God lief, aan die feit twyfel ons nie. Maar dink aan wat Johannes oor volmaakte liefde, vroeër in die hoofstuk sê: “As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het sy liefde in ons volmaak gebly” ( 4:12). Volgens Johannes, is die eerste voorwaarde vir volmaakte liefde, onvoorwaardelike liefde teenoor ons broers en susters in Christus.

‘n Christen kan sê dat hy God liefhet, dat hy die Here se wil doen, dat hy getrou die koninkryks werk doen. So ‘n persoon mag ‘n aanbidder en ‘n leraar van die Woord wees. Maar as hy ‘n wrok dra, of teen iemand anders praat – as hy enige iemand anders uitsluit uit die liggaam van Christus – dan wankel hy in duisternis, en ‘n gees van die dood is in hom. Alle lewe, alle goeie werke is nie werksaam in hierdie persoon se lewe nie. Dink na oor wat Johannes sê:

“Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe” (1 Joh 2:9). Johannes sê dat so ‘n persoon maklik struikel. Hy voeg by: “Hy wat sy broeder liefhet, bly in die dood. Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie” (3:14-15).

As jy graag ‘n lewe sonder vrees wil leef, dan sê Johannes dat daar so ‘n weg is. Natuurlik is daar ‘n volmaakte liefde wat alle vrees verdryf. En hierdie is die eerste tree, wat ons almal moet neem: “Geliefdes, as God ons liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê” (1 Joh 4:11). Die eerste tree is om ons verhoudings in die liggaam van Christus reg te stel.

Volgens Johannes is dit hier waar die volmaakte liefde begin. Om ander lief te hê is nie iets wat ons behoort te doen nie, maar ons word beveel om dit te doen. Johannes sê in die voorafgaande hoofstukke: “En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ‘n gebod gegee het” (3:23) “En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê: (4:21).

Eenvoudig gestel, ons moet andere liefhê soos Christus ons liefgehad het. Hierin lê die volmaakte liefde. Wat word bedoel met liefde vir andere? Dit is meer as vergifnis, baie meer. Dit is om alle oortredings van andere teenoor ons te vergewe. Dit is om met hulle gemeenskap te hê. Dit is om hulle netso hoog te ag as alle lede van die liggaam van Christus. En dit is om hulle te help in tye van nood.

Om andere lief te hê, beteken om nooit weer enige misverstand wat ons reputasie beskadig het ter sprake te bring nie. Kortliks is dit om te vergewe en te vergeet en alle onaangenaamheid te begrawe in die see van vergetelheid, waarin Christus al ons sonde teen Hom gewerp het.

Ons weet dat God die hart sien. Daarom moet ons elkeen na binne kyk en vra: “Ek het my seerkry onder die bloed geplaas, maar het ek hulle regtig vergewe wat dit veroorsaak het? Is die liefde vir andere ‘n voltooide werk in my? Of word ek steeds geteister deur bitterheid?”

Die tweede boek van Johannes sê dat om in die waarheid te wandel, “die leer van Christus” is. (2 Joh 9). Wat is hierdie leer? Dit is om ten volle God se bevel om sy liggaam lief te hê, te gehoorsaam. “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke” (2 Joh 10 -11).

Dit is ‘n moeilike woord van Johannes, en hiermee hang saam die waarskuwing om nie te luister na ‘n liefdelose geskinder nie. Of jy nou sulke gedagtes uitspreek of dit inneem – oor die telefoon, terwyl jy saam met ander koffie drink of by die kerk – die een wat luister is net so skuldig as die een wat skinder. Albei bespot die leer van Christus.

Mag God ons help om die vreeslike gevolge te sien, van die luister na liefdelose woorde, bitterheid, die besonderhede van iemand anders se optrede, of om te luister na ‘n eensydige, storie van woede en die saai van onenigheid.

Geliefdes, hierdie saak van vergewing en om lief te hê is ‘n bevel. Tog, is dit ook volgens Johannes, ‘n liefdevolle uitnodiging om in te gaan in ‘n lewe van vryheid van vrees. Hy sê die Heilige Gees sal ons nie in hierdie waarheid dryf nie, maar sal ons saggies roep: “Sy gebooie is nie swaar nie. Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof” (1 Joh 5:3-4).

Dit mag moeilik wees om hulle te vergewe en lief te hê, veral hulle wat ons diep gekrenk het. Maar Johannes verseker ons: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het” (5:14-15).

As ons geleer het om te vergewe en lief te hê, ruk die Heilige Gees die wortels van onvergewensgesindheid uit ons harte. En geen spoor daarvan bly oor nie, dit is vir altyd weg. Nou kan ons bid vir hulle wat ons vergewe het, om net goed van hulle te dink, selfs om hulle te dien. Ten slotte sal ons sien dat hulle netso gereinig is soos ons en kan ons saam met hulle in Christus se liggaam wees. Dit is die hart van Jesus.

As ons hierdie saak reg gestel het, om andere lief te hê, soos Christus ons lief het, is daar nog iets anders om aan te dink. Kyk, om andere lief te hê, is nog net ‘n deel van ware liefde.

“En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom. Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld” (1 Johannes 4:16-17).

Die laaste deel van die aanhalings, wys vir ons daarop dat ons nou leef soos Jesus geleef het: wat ons vyande vergeef en liefhet. Daar is geen wraakgedagtes meer in ons nie, of wrokke of rasse vooroordeel nie – niks wat ons op die oordeelsdag kan veroordeel nie. Daarom moet ons nou in die liefde van God glo en daarin leef.

“Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe” (1 Joh 4:10).

Sien julle wat Johannes sê? God gee vir ons liefde vir Hom. Algehele, volkome liefde beteken dat ons God se liefde vir ons sal herken, en daarin glo.

Verder sê Johannes dat daar geen vrees of twyfel in hierdie liefde moet wees nie. Hoekom nie? As ons in sy liefde twyfel sal ons in foltering leef (4:18). Ons sal “straf verwag”. Om in God se liefde te glo, beteken dat ons sal weet dat Hy geduldig is met ons mislukkings, dag-vir-dag. Hy hoor elke roep, sit elke vrees in ‘n fles, voel ons hartseer en het medelye met ons versugtiginge.

Hierdie aspek van God se liefde is duidelik beskryf in Eksodus, waar die Here sy liefde teenoor Israel openbaar. Hy het vir Moses gesê: “Ek gaan Israel verlos!” en die Skrif sê: “En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor” (Eksodus 2:23b – 24) “En die Here sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is … Ek ken hulle smarte; Daarom het ek neergedaal om hule uit die hand van die Egiptenaars te verlos” (3:7-8).

Farao het dit onmoontlik gemaak vir die verslaafdes Israeliete om aan sy eise, in verband met stene vervaardiging, te voldoen. Hoe het die Israeliete gereageer op God se belofte om hulle te verlos? “Hulle het nie na Moses geluister nie, uit ongeduldigheid en weens die harde diens” (Eksodus 6:8).

Ek vra jou: glo jy dat God jou nood en jou toestand raaksien, net soos Hy met Israel gedoen het? Ons sê so maklik, “Christus is alles”, en tog, as ons ‘n krisis die hoof moet bied – as een na die ander ding verkeerd loop, as ons gebede onverhoord lyk, en alle hoop vernietig is – verval ons in vrees. Presies, ons gee toe aan vrees as ons vertroue op die Here, in alle dinge, begin wankel. Maar die feit bly staan, God versaak nooit sy kinders in ‘n tyd van foltering en angs nie, al lyk alles ook hopeloos.

Geliefdes, ons geloof is nie waarlik geloof as dit nie tot die alleruiterste getoets is nie. Toe die Here Israel uit Egipte verlos het, het Hy vir hulle gesê: “Ek het julle uit slawerny gebring om julle na myself toe te bring.” Daarna lei Hy hulle stap-vir-stap na plekke waar dit so moeilik was, dat net ‘n wonderwerk hulle daarvan kon verlos. Hierdie was moeilike, oorweldigende situasies, tog het dit ‘n ewigheids-doelstelling gehad om in hulle ‘n absolute afhanklikheid van God te bewerkstellig.

God het beloof dat Hy die onmoontlike vir hulle sal doen. Hy sou vir hulle ‘n pad baan waar daar geen deurtog was nie. En die Here het alles gedoen wat Hy beloof het. Sy een begeerte was dat sy volk sal weet dat Hy hulle liefhet, dat Hy geweet het wat hulle deurmaak, dat Hy elke roep gehoor het. Al wat Hy wou hê was om te hoor dat hulle sê, in vaste geloof, “Met my God, is niks onmoontlik nie.”

Wat bewys ons geloof? Rus! Dit is ‘n hartshouding wat sê, “of ek lewe of sterwe, ek behoort aan die Here. Hy is getrou aan my al lyk alles hoe donker.” Die outeur van Hebreërs skryf hieroor: “Daar wag dus nog steeds ‘n sabbatsrus vir die volk van God” (Hebreërs 4:9).

Wat is die bewys dat ons nog steeds nie in die rus ingegaan het nie? Angs of vrees! Soos Johannes sê, “wie nog vrees het nie volmaakte liefde nie” (1 Joh 4:18). Jakobus beskryf die gevolge as ons nie rus in God se liefde vir ons nie. “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want die mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:6-7).

In hierdie verhaal is Josef ‘n tipe van Christus. Sy ouer broers het hom gehaat as gevolg van sy integriteit, daarom verkoop hulle hom aan die Ismaelitiese slawe-handelaars, wat Josef na Egipte neem. Na baie jare van lyding en beproewing, word Josef Farao se steunpilaar. Hy het die sewe-jarige wêreldwye hongersnood voorspel. Hy raai Farao aan om koring te begin opgaar. Hulle doen dit gedurende die goeie jare, en dan kom die hongersnood.

Toe kos begin skaars word, stuur Jakob sy seuns na Egipte om koring te koop. Wat daarna gebeur, is ‘n bekende verhaal van intrige: Josef herken sy broers, maar hulle herken hom nie. Gedurende die onderhandelings hoor Josef hoe hulle, hulle sonde bely, maar hulle besef nie dat hy hulle verstaan nie. Hulle het gesê: “Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie – daarom kom hierdie benoudheid oor ons” (Genesis 42:21).

Wat was Josef se reaksie op hulle belydenis? “Toe draai hy hom van hulle af weg en ween” (42:24). Dit word duidelik soos die verhaal ontvou dat Josef in sy hart versoen wat met sy broers.

Alhoewel hulle hom vreeslik misbruik het, het hy verlang om homself aan hulle bekend te maak, om hulle om die nek te val, hulle te soen en met hulle versoen te raak.

Dit openbaar God se hart teenoor ons, volgens Paulus. Hy skryf, “Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun” (Romeine 5:10). “God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus” (2 Korintiërs 5:18). Terwyl ons nog sondaars was, het God alle hindernisse verwyder wat ons kon weerhou om met God versoen te raak, deur die soendood van sy Seun aan die kruis. Soos Josef wil Hy graag sy hart aan sy geliefdes toon.

Uiteindelik kon Josef nie sy liefde vir sy broers langer inhou nie. “Daarop bars hy in trane uit … Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my… Maar wees nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees … want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur” (Genesis 45:2, 4-5). Josef se liefde vir sy broers het min te doen met hulle belydenis. Dit was nie die resultaat van hulle gebede, of vas, of goeie werke, of hartgrondige beloftes dat hulle sy slawe sal wees nie. Dit was alles ‘n geval van onverdiende liefde.

Dieselfde geld vir ons en God. Hy het ons liefgehad toe ons nog sondaars was, voordat ons ons bekeer het, voordat ons goddelike droefheid ervaar het, voordat ons selfs in Hom geglo het. Nou vra ek: hoeveel te meer het God ons lief, noudat ons sy liefde ontvang het en sy genade ervaar het?

Die groot liefde word uitgedruk in die manier waarop Josef sy familie behandel, nadat hulle versoen is. “En Josef het vir Jakob en sy broers woonplekke aangewys en aan hulle besitting in Egipteland gegee, in die beste deel van die land” (47:11). Josef het vir hulle gesorg deur hulle van kos te voorsien, dieselfde broers wat hom verkoop het, hy stuur vir hulle wavragte van Egipte se heerlikste lekkernye.

Maar selfs toe nog, leef hulle in vrees vir Josef. Sewentien jaar later, toe Josef se vader sterf, dra Josef en sy broers hulle pa se liggaam terug na Kanaan, waar hulle hom met baie eerbewyse begrawe. Terwyl hulle daar is, begin hulle onder mekaar fluister: “So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen” (50:17).

Hulle gaan toe na hom toe, val op hulle aangesigte, en pleit vreesbevange by hom: “U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde … Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons. En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe.” (Genesis 50:16 - 18).

Hoe het Josef hierop gereageer? “Josef het geween toe hulle met hom spreek” (Genesis 50:17). Deur trane van verdriet praat hy vriendelik met sy broers, en verseker hulle: “Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God?” (50:19). Ek glo dat Josef se trane vir ons wys hoe verwond hy was. Sy broers se slapende angs het hom verwond. Dink net wat hy moes dink: “Ek het my broers sewentien jaar gelede vergewe. Tog leef hulle nog altyd in vrees! Hulle het nooit my hart geken nie. Hulle het nooit my liefde aanvaar nie.”

Josef se broers het geen rede gehad om hom te vrees nie. Dink net aan hulle denkpatroon in al die jare: hulle het nooit Josef se geskenke, sy voorsiening, sy liefde en barmhartigheid geniet nie. Met die gevolg dat hulle nooit ontspan het nie, maar altyd oor hulle sonde van die verlede gedink het – en altyd hulle broer se hart misgekyk het.

Josef was bly oor hulle koms, hy het sy liefde betuig, deur hulle te omhels en trane van vreugde te stort. Hy was bly dat hy met hulle kon spog teenoor die wêreldse Egiptenare. Deur dit alles het Josef vir hulle gesê: “Ons is versoen. Ek stel nie belang in wat julle in die verlede gedoen het nie. Ek wil net my hart vir julle wys.” Tog het die broers hom jaar-na-jaar nog nie vertrou nie. Daarom was hulle permanent bang, angstig, vreugdeloos, belas. Hulle het gedink elke beproewing wat hulle ervaar het, was God se manier om hulle te straf vir hulle sonde.

Ongelukkig geld dieselfde vandag vir baie van God se kinders. Soos Josef, is God bedroef oor die pyn en smart wat ons oor onsself bring as ons nie in sy liefde rus nie. Hebreërs sê vir ons dat die Here in sy heerlikheid medelye het met ons swakhede. (sien Hebreërs 4:15). Hy voel met ons, Hy ly pyn as ons pyn het. Sê vir my, geliefde, wat doen jy met hierdie waarheid?

Ek glo dat die diepste rede vir Josef se trane, juis dit is. Dit was nie dat sy broers sy karakter onderskat het of sy liefde gewantrou het nie. Eerder was dit, wat ‘n ou kerk lied verwoord: “O, wat ‘n vrede verbeur ons, o, hoe ly ons onnodig pyn, net omdat ons nie ons node, na God toe neem in gebed nie.”

As Josef waarlik sy broers liefgehad het – as hy regtig bly was oor hulle koms – dan kan ons weet dat hy bedroef was oor die nodelose pyn wat hulle verduur het. Hy het gedink aan die kragontnemende vrees wat hulle verduur het, die vrede en blydskap wat hulle gemis het, al die skuld en self-veroordeling, die jare waarin hulle gebind was deur vrees. Ek dink Josef het geween omdat hulle nie lankal na hom toe gekom het, om hierdie saak op te los nie. Hy het sy deur vir hulle oopgemaak, maar hulle het nooit ingekom nie.

Volgens Johannes kan ons slegs sonder vrees leef as ons liefde het volgens God se Woord – as ons sy liefde en versorging aanvaar, en mekaar onvoorwaardelik lief het. Ons sal vrymoedigheid hê op die oordeelsdag. En ons sal hier-en-nou leef, soos Christus geleef het: sonder vrees.

As alle vrees weg is, leef ons in volmaakte liefde. Luister hoe sing Dawid: “Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig; sterkte en blydskap is in sy woonplek” (1 Kronieke 16:27). Die woord vir “blydskap”, in die Nuwe Testament is “om te spring van vreugde.” God se hart spring van vreugde oor hulle wat die volheid van volmaakte liefde geniet.

Op hierdie oomblik verdrink die wêreld in vrees. Die mensdom bewe oor aardverwarming, terroriste aanvalle, kern-oorlog, ‘n wankelende ekonomie, die Vigs-plaag, massa-moorde, die opkoms van Islam, politieke chaos, en pornografie. Ek vra jou: Hoe kan ons ‘n invloed op die wêreld hê, as ons oorkom is met dieselfde vrees as wat die wêreld het? Waste hoop kan ons aanbied? Watter soort evangelie verkondig ons? As dit ons nie verander en verlos van angs nie?

God het die nuwe verbond gebring om sy kerk te verseker van sy liefde en volle vergifnis. Om ons sy liefde en vreugde oor ons te laat verstaan, sodat ons ons lewe kan leef sonder vrees. Dink na oor die volgende:

“En die losgekooptes van die Here sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg” (Jesaja 35:10). “Die Here is my lig en my heil; vir wie sou ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe vir wie sou ek verward wees? … Al word ‘n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie” (Psalm 27:1, 3).

Dit is hoog tyd dat God se kinders alles in sy hande sal gee. Ek vermaan julle, hou op om jou uitweg uit probleme te probeer uitdink. In plaas daarvan, rus in God se Woord. Laat die Here toe om blydskap in jou hart te bring. Jou blye hart sal mense tot stilstand dwing, almal wat bang is: “Jy sal ‘n voorwerp van verbasing, ‘n spreekwoord en ‘n spot wees onder al die volke waarheen die Here jou sal wegvoer” (Deuteronomium 28:37).

Download PDF