Ons Sien Jesus | World Challenge

Ons Sien Jesus

David WilkersonApril 5, 2010

God vertel ons dat Hy alles wat Hy geskep het, onder die mens se beheer geplaas het. Beskou hierdie gedeelte uit Hebreërs:

“Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” (Hebreërs 2:6-8).

Hierdie gedeelte verwys na alles wat te doen het met sterflike lewe op hierdie aarde. Eenvoudig gestel, alles wat te doen het met daaglikse lewe — soos landbou, handel, regering ensovoorts — is onder die mens se beheer geplaas.

Die Psalmis het ook hierna verwys toe hy geskryf het: “U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel; skape en beeste, dié almal, en oor die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see” (Psalm 8:7-9). Sommige vertalings vertaal die gedeelte as volg: “U het hulle beheer gegee van alle skepsels op die aarde.”

Skoliere sê dat hierdie Psalm hoofsaaklik profeties na Christus verwys. Inderdaad, Jesus was mens gemaak en het in die vlees gely, hoewel Hy met heerlikheid en eer gekroon was. En die Skrif vertel vir ons dat die Vader alles onder die Seun se beheer geplaas het.

Maar die outeur van Hebreërs verwys hier spesifiek na die sterflike mens as opsigters. So, hoe lyk dinge onder die mens se heerskappy?

Jy sal reg wees as jy opmerk, “Dinge is sekerlik nie nou onder beheer nie.”

Wat sien ons in die wêreld vandag? Hoe lyk dinge in ons eie gemeenskap? Ons sien die volgende: ‘n Gebreekte regering. Skole buite beheer. Verwarde leiers. Banksisteme wat ineenstort. Wydverspreide werkloosheid. Onhanteerbare sosiale programme. ‘n Totale ineenstorting van morele waardes.

Dit gebeur in die mees ontwikkelde en welvarende nasie in die wêreld. Geliefde, daar is maar net een gevolgtrekking wat ons hieruit kan maak: Die mens het totaal beheer verloor.

Dink daaraan. Op hierdie oomblik kan die aarde op die randjie van ‘n kernbom katastrofe staan. Iran daag ander lande uit om hom te keer om kernbomme en missiele te maak. Hulle wil Israel heeltemal vernietig. Iran se regering glo dat hulle chaos moet skep om hulle messias na die aarde toe te bring.

Kortliks, dinge lyk of dit buite beheer raak en nie onder enige gesag onderwerp word nie. Dit is waarom ons oral vrees en verwarring sien. Ons almal weet dat dit ‘n sataniese riviervloed uit die hel is wat ons sien. Dit is ‘n vloed wat mense se harte laat beswyk van vrees, net soos Christus voorspel het.

Hebreërs 2:8 beskryf sekerlik ons tyd, ‘n tydperk waartydens dinge heeltemal buite beheer is. Tog, te midde van hierdie chaos, is daar iets wat die outeur in die volgende vers beklemtoon: “Maar ons sien Jesus” (Hebreërs 2:9).

Dit is verpligtend vir elke Christen om Jesus in alles, al ons beproewings, verdrukkings en moeilikhede te sien.

Hoe kan gelowiges sterk en standvastig in tye soos hierdie staan? Die outeur van Hebreërs antwoord: Ons moet Jesus sien in alles wat in ons lewens gebeur.

Sommige mag wonder, “Hoe kan die Here in enige van hierdie dinge wees? So baie dinge in my lewe voel buite beheer en chaoties.” Laat my jou drie voorbeelde uit die Skrif gee. Ek praat van mans wie se wêrelde onderstebo gekeer was deur chaos en elke fondament van hulle geloof geskud was. Tog, te midde van dit alles, het hulle die Here gesien.

Beskou die apostels Stéfanus, Johannes en Petrus in hulle uur van groot beproewing.

Stéfanus was ‘n man wat onwrikbaar gestaan het, terwyl ‘n bende Christus-haters, gewapen met klippe, hom omring het en gereed was om hom te stenig. Stéfanus het geweet dat hy net ‘n paar minute oor gehad het om te lewe — tog was hy met vrede en kalmte gevul. Wat was die geheim van hierdie man se uithouvermoë?

Op daardie oomblik, het Stéfanus getuig, “Kyk, ek sien die hemele geopende en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan” (Handelinge 7:56). Hy het sy oë op Jesus alleen gefokus. Hy kon ‘n wrede dood in die gesig staar met die wete dat Jesus in alles met hom was.

Ek is oortuig dat daar iets van groot belang in hierdie voorbeelde is vir almal wat die Here liefhet en dien. Dit is die volgende: Wanneer ons waarlik Jesus te midde van ons beproewings en swaarkry sien, sal ons Hom altyd hoor sê, “Moenie vrees nie!”

So was dit ook met Johannes. In sy latere jare, was die getroue dissipel, Johannes, verban na die eiland Patmos. Dit was eintlik ‘n straf van alleen gevangenskap. Johannes het geen menslike kontak op Patmos gehad nie, behalwe met sy tronkbewaarders. Dit was ‘n tyd van snerpende koue, honger en ‘n folterende afsondering vir hierdie ou dienaar. Tog, te midde van sy beproewing, het Johannes ‘n magtige visioen van die Here gehad. Hy skryf:

“En toe ek Hom [Christus] sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende: en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood” (Openbaring 1:17-18).

Vandag probeer ek myself indink in Johannes se posisie. Dit moes selfs vir hierdie goddelike man ‘n tyd van groot verwarring en bevraagtekening gewees het. In werklikheid glo ek dat dinge nie erger vir Johannes kon wees nie. Die eerste woorde wat Jesus vir hierdie beangste dienaar gesê het, was “Vrees nie.”

Selfs die apostel Paulus het hierdie soort wanhopige afsondering geken. Te midde van sy eie beproewings, het Paulus egter ‘n visioen gehad van Jesus wat langs Hom staan. Paulus was in staat om tydens sy beproewing te verklaar, “Almal het my verlaat...maar die Here het my bygestaan en my krag gegee” (2 Timótheüs 4:16-17).

Vir Stéfanus, Johannes en Paulus, kon die lewe se omstandighede nie donkerder gewees het nie. Tog het elkeen van hierdie mans daarvan getuig dat hulle Jesus in hulle beproewing gesien het. Nou, liewe Christen, het ek ‘n vraag vir jou: Sien jy Jesus in jou huidige omstandighede?

Is jy in staat om soos hierdie drie mans te sê, “Christus staan by my. Hy gee my krag ten spyte van my omstandighede”? Ek glo ons is in ‘n tydperk van die geskiedenis, waarin God se mense nodig het om te rus in die waarheid, dat Jesus altyd met ons is in elke beproewing en in elke donker uur. Is jou beproewing ‘n soort siekte? Werkloosheid? Vrees vir die toekoms? Ek sê vir jou, Jesus is daar.

Paulus het geskryf, “Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Korinthiërs 2:2).

Dink aan hoe Paulus sy eie lewe aan sy jong metgesel, Timótheüs beskryf het: “Ons is in ‘n oorlog. Ons is krygsmanne, so moenie vasgevang word in die sake van hierdie wêreld nie...anders kan jy Jesus nie behaag nie...ly verdrukking!” (sien 2 Timótheüs 2:3-4). Met ander woorde: “Timótheüs, moenie in enige kwessie vasgevang raak nie — enige transaksie, enige belang, enigiets – wat jou fokus van Christus sal afhaal nie.”

Vertel vir my, waar sien ons dit in Paulus se lewe? Eerstens, Paulus weier om vasgevang te word in die teologiese argumente van die dag.

Hy het in ‘n tyd geleef waarin daar vele faksies na links en regs was wat bitterlik gestry het. Hierdie partye was selfs gewillig om ter wille van hulle leertellings te moor.

Paulus het op die konflik gereageer deur te sê, “Ek het niks hiermee te doen nie. Ek is hier vir een doel: om te lewe en te preek dat Christus gekruisig is en opgestaan het. As ‘n dienaar van die Here, weier ek om by sulke kwessies betrek te word.”

Paulus was toe gedring om aan Timótheüs die volgende waarskuwing te skryf: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (1 Timótheüs 4:1-2).

Paulus se waarskuwing is duidelik: “Mense sal ‘n ander evangelie verkondig.”

Die evangelie wat deur hierdie bedrieërs verkondig sal word, sal ‘n verdraaide weergawe van die ware evangelie van Christus wees. Hulle sal heeltemal ‘n nuwe Jesus uitdink.

Op hierdie oomblik word ‘n valse Christus gepreek in sommige evangeliese kerke. Hulle Christus vra nie vir bekering nie. Dit is ‘n Christus wat homoseksualiteit en huwelike tussen dieselfde geslag omhels. Dit is ‘n Christus wat valse godsdienste aanvaar in die naam van verdraagsaamheid en liefde.

In sy tyd, het Paulus moedig teen sulke verdraaiings gereageer en uitgeroep, “Ek is geskok! Wat het met julle gebeur in so ‘n kort tyd? Ek verwonder my dat so baie van julle vasgevang geraak het in so ‘n duiwelse evangelie.”

Paulus het hierdie kwessie so ernstig opgeneem dat hy opdrag gegee het: “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!” (Galásiërs 1:8). Dit is die eindresultaat wanneer ons ons fokus van die Jesus wat Paulus verkondig het, afhaal.

Vandag is die kerk wat ons sien, nie soos dit veronderstel is om te wees nie. Alle dinge is nie onder beheer nie. Wat is ons reaksie op hierdie wanvoorstelling? Ons sien die ware Jesus — die onveranderlike Christus — wat triomferend oor dit alles staan! Alle ander menslik uitgedinkte evangelies sal nie een jota van vertroosting in die uur van nood bring nie.

Net soos Paulus opdrag gegee het, kan ons nie eers dat hierdie saak ons aandag aftrek nie. Ons moenie “vervreemd van die opregtheid [toewyding] teenoor Christus” (2 Korinthiërs 11:3) raak nie.

Paulus het ook geweier om vasgevang te word in die bitter politieke stryd van sy tyd.

Eenkeer was Paulus aangekla dat hy ‘n fanatiese, politieke sekte gelei het. Daarvoor was hy in die tronk gegooi en voor die regterstoel van Goewerneur Felix gesleep.

Toe Paulus in die hof verskyn het, het hy die verregaande beskuldigings teen hom aangehoor: “Hierdie man is ‘n politieke yweraar. Hy is ‘n moeilikheidmaker, wat die hele Joodse bevolking in die wêreld verontrus. Hy is ‘n Nasareense sekteleier. En hy is skuldig aan oproer! Hy hits groot skares teen Rome aan.”

Dit was alles ‘n lokval wat deur Paulus se teëstanders gestel was. Paulus het egter selfs ‘n groter lokval bespeur. Satan self het probeer om Paulus te laat afwyk van sy boodskap, dat Jesus die middelpunt van alles is, en het hom in die Jode se bitter konflik met hulle Romeinse vyande betrek.

As ‘n geoefende debateur, kon Paulus maklik met sy teëstanders begin redeneer het. Maar hy het geweier om verstrengel te raak in hulle politieke stryd. Hy het daardie keuse gemaak ter wille van die evangelie wat hy verkondig het.

Uiteindelik was Paulus voor koning Agríppa gebring om homself te verdedig. Maar in die koninklike hof het Paulus gekies om liewer die evangelie te verkondig. Hy het moedig vir koning Agríppa sy dramatiese storie vertel, selfs tot sy eie ongeluk: “Koning, ek het die Here se stem gehoor! Hy het my van my perd afgeslaan en sy Naam vir my genoem. Hy het gesê Hy was Jesus.”

Die koning was aangeraak deur Paulus se boodskap. En hy het geweier om hom te oordeel en in plaas daarvan, het hy uitgevaardig dat Paulus na Rome toe gestuur moes word om voor die Keiser se regterstoel te verskyn. Tydens daardie nag voor Paulus se verskuiwing, het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê, “Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook doen” (Handelinge 23:11).

Dit was al die aanmoediging wat Paulus nodig gehad het. Toe hy voor die vernaamste politieke leier van die tyd verskyn het, sou Paulus steeds by sy boodskap bly: “Jesus is Heer van almal!”

Vandag probeer Satan om die kerk van sy boodskap van Jesus Christus se sentraliteit te laat afwyk.

Daar is niks wat Satan meer begeer om God se mense van hulle boodskap te laat afwyk nie. Een manier waarop hy dit doen, is om Christene oor een of ander politieke kwessie te irriteer, totdat dit hulle heeltemal oorheers.  Wanneer dit gebeur, word die kwessie al waaroor hulle kan praat. Jesus is dan nie meer langer die allesoorheersende saak nie.

Daar is sake waaroor God se mense ag moet gee, maar nie so tot die uiterste toe dat dit die hart oopmaak vir bitterheid en onchristelike optrede nie. Ons moet in staat wees om bid sonder ‘n verontruste gees.

Ons Here dring daarop aan dat niks ons mag beroof van sy rus nie. Inderdaad, Hy beveel ons om in sy rus in te gaan en daarin te bly: “Laat ons dan nou vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie" (Hebreërs 4:1).

Die getuienis van Jesus Christus is dat ons in hierdie wêreld kan wees, maar nie deel daarvan nie.

Dit beteken dat ons nie deel word van die wêreld se gees of aantrekking nie. In werklikheid, dit is hoe ons ‘n getuienis van hoop word in ‘n wêreld daarsonder. Wanneer een of ander angstige persoon vir ons vra, kan ons met geloof en vertroue antwoord, “Jesus is my hoop en vrede.”

Moet asseblief nie die betekenis verkeerd verstaan nie: Ek maak nie ‘n politieke verklaring nie. Ek waarsku Christene egter om nie verstrengel te raak in die bitterheid van vandag se politieke stryd nie. Paulus het die slaggate gesien en ons moet ook.

Jesus moet sentraal in ons harte, verstand en dade wees en bly, nie beleid of politici nie. Hoewel hierdie dinge belangrik is, kan hulle ons beroof van ons sentrale belang, die evangelie van Jesus Christus. Ons vertroue as Christene is dat ons weet dat alle nasies onder die gesag van ons Here Jesus sal kom.

Oral rondom ons is die wêreld aan die vergaan. Maar ons sien Jesus! Ons sien Hom in ons huidige beproewings. Ons sien Hom voor ons staan in ons pyn, ons lyding, ons krisisse en in alles.

Bo alles, ons sien Jesus alles gereed kry vir sy koms. Halleluja!

Download PDF