Op God Wag om Op Te Tree | World Challenge

Op God Wag om Op Te Tree

David WilkersonJune 28, 2010

Ek glo dat min Christene hulleself as ongeduldig beskou. Die meeste volgelinge van Jesus sal erken dat hulle nog nie daar is, waar hulle moet wees nie en dat hulle nog nie soveel soos Christus is, as wat hulle graag wil wees nie. Hulle sal jou vertel dat daar areas in hulle lewens is wat baie verbetering nodig het. Maar min Christene herken in hulleself ‘n sekere ongeduld wat geestelik van aard is.

Dit is subtiel, maar dit kan verwarring in die lewe van God se mees getroue dienaars veroorsaak. Inderdaad, dit het die getroue wandel van baie gelowiges belemmer. Om te help om dit te verstaan, laat my die voorstel maak dat hierdie ongeduld ‘n vorm van hoogmoed is. Ek ek kry hierdie definisie direk vanuit die Skrif: Hoogmoed is onafhanklikheid, terwyl nederigheid afhanklikheid is.

Die soort hoogmoed waarvan ek praat, is ‘n ongeduld om op God te wag, sodat Hy op sy eie tyd en manier kan optree. Dit is haastig om sake in sy eie hande oor te neem. Na dekades in die bediening, is ek oortuig dat dit een van die grootste versoekings is, waarmee enige ware Christen gekonfronteer word: om vinnig op ons eie op te tree wanneer dit lyk of God nie gou genoeg optree nie.

Een van die duidelikste voorbeelde van iemand, wat nie vir God se tydsberekening kon wag nie, is Koning Saul.

Saul het hierdie sonde in Gilgal gepleeg, vroeg in sy koningskap oor Israel. Die profeet Samuel het Saul as koning gesalf en toe het die twee mans Israel se groot oorlog teen die Filistyne bespreek. Samuel het dit aan Saul duidelik gemaak, dat hy goddelik geroep was om Israel te verlos van die slawerny van die Filistyne.

Soos die tyd nader gekom het, het Samuel vir Saul beveel om vir hom te wag voor hy begin oorlog voer. Al die mense het by Gilgal bymekaargekom om die Here vir leiding te vra en Samuel sou dan terugkeer met ‘n spesifieke woord van leiding van die Here af. Hy het aan Saul gesê, “Sewe dae lank moet jy wag, totdat ek by jou kom en jou bekend maak wat jy moet doen" (1 Samuel 10:8).

Eenvoudig gestel, God alleen moes in totale beheer bly. Hy alleen sou die oorlogsplan teen die Filistyne uitwerk. Samuel het die stem van die Here verteenwoordig en deur hom sou Israel bonatuurlike, soewereine leiding kry. God self sou al Israel se planne maak en vir hulle wys hoe om oorlog te voer.

Daarom was Saul veronderstel om by Gilgal te wag totdat Samuel kom. Maar die oorlog het vroeër begin as wat verwag is, toe Saul se seun Jónatan ‘n Filistynse garnisoen by Geba verslaan het. Toe dit gebeur, het Saul die ramshoring geblaas om al die mense by Gilgal byeen te roep.

Terwyl hulle egter daar gewag het, het Saul ongeduldig geraak om vir Samuel te wag. Die Filistyne was aan die beweeg, maar volgens God se opdrag, kon Saul nie beweeg totdat Samuel die woord gebring het om Israel in die oorlog te lei nie.

In tussentyd, het die Israelitiese leër vreesbevange geraak. Hulle was ‘n klein, mengelmoes burgermag met nie een swaard tussen hulle nie. Al wat hulle gehad het, was byle en plaasgereedskap, terwyl hulle vyand bestaan het uit 6,000 perderuiters, duisende waens, en soldate wat vir hulle soos baie soos die sand van die see gelyk het. Terwyl daardie groot, goed gewapende Filistynse leër nader gekom het, het Saul se manskappe bang geword. Gou het hulle na alle kante toe gedros.

God het die hele tyd geweet dat Israel in hierdie situasie sou beland. Inderdaad, dit was presies die oorlogskrisis wat Samuel met Saul bespreek het om hom voor te berei. Dit maak nie saak hoe groot of hoe magtig die vyand was nie, die Israeliete moes in geloof bymekaarkom om op God te wag vir sy duidelike leiding. Dit was nie net ‘n saak van wag nie, maar van “wag totdat" — totdat die woord gekom het, totdat leiding uit die hemel gegee was. Samuel het dit baie duidelik aan Saul gemaak, “Wag totdat ek by jou kom en jou bekend maak wat jy moet doen.”

In plaas daarvan, het Saul vir God ‘n spertyd gegee waarin Hy moes optree. Hy het dit nie openlik verklaar nie, maar dit was ‘n spertyd in sy hart. Saul het besluit dat as ‘n woord van God nie teen ‘n sekere tyd gekom het nie, sou hy self doen wat ookal nodig was om die situasie te red.

“En hy (Saul) het sewe dae gewag, tot die tyd wat Samuel bepaal het; maar toe Samuel nie na Gilgal kom nie en die manskappe van hom af verstrooid raak, het Saul gesê: Bring na my die brandoffer en die dankoffers; en hy het die brandoffer geoffer" (1 Samuel 13:8-9).

Saul het ongeduldig voortgegaan en gesondig, omdat hy soos ‘n priester opgetree het om die offer te bring. Min het hy geweet dat Samuel net om die draai was. Die profeet sou spoedig aankom, die offer wat Saul gebring het ruik en woedend word oor die koning se sondige ongeduld.

Samuel was net ‘n paar uur laat, sodat Saul op die proef gestel kon word.

Ek is daarvan oortuig dat Samuel dit vertraag het, omdat God duidelik met hom gepraat het en Hom presies vertel het wanneer om op te daag. Jy sien, dit was ‘n toets om te sien of Saul sou glo dat God vertrou kon word. Dit sou openbaar of Saul geduldig in geloof sou wag, selfs as dinge nie op skedule was nie.

In der waarheid het God alles georkestreer. Hy wou vir Saul ‘n getuienis gee van nederige afhanklikheid van Hom in alle dinge, veral in ‘n krisis. Maar Saul het die toets gedruip. Hy het na die verslegtende toestande gekyk en dit het alles hopeloos gelyk. Logika het hom vertel dat dit laat geword het, dat iets gedoen moes word.

Kan jy jouself in Saul se posisie voorstel? Ek hoor hom met homself redeneer, “Ek kan nie hierdie besluiteloosheid langer verdra nie. God het my gestuur om sy werk te doen en ek is gewillig om te sterf vir sy saak. So, moet ek regtig hier sit en niks doen? Ek moet iets laat gebeur of dit gaan die einde wees. As ek nie optree nie, gaan alles buite beheer raak.”

Saul het ‘n dringende behoefte gehad om dadelik op te tree in die situasie. En op die ou end het sy ongeduld hom oorweldig.

Ek moet erken dat dit hier is waar ek soms gefaal het in my wandel met die Here. Op sekere tye, het ek nie gewag vir leiding nie en het sake in my eie hande geneem. Ek hou eenvoudig nie daarvan om hulpeloos en angstig te wees nie. Ek het nog nooit meer so gevoel as toe ons na New York toe terug getrek het in die 1980’s om Time Square Church te begin nie.

Na jare op die eiendom wat ons in Texas besit het, was ek weereens onderwerp aan die genade van verhuurders en bestuurders se skedules. Wanneer dinge nie gewerk het nie, moes ek wag en dit het my ongeduldig gemaak. Vir ‘n rukkie het ons ‘n ruimte gehuur by teatereienaars in Broadway en ek het angstig geword om ‘n gebou van ons eie te hê. Ek het uitgeroep, “Here, daar is so baie werk wat in New York gedoen moet word en so min tyd. Hoe lank moet ons wag? Ons het nodig dat U optree.”

Keer op keer het die Here my geduldig geantwoord, “David, vertrou jy my? Wag dan. Terwyl jy alles gedoen het wat jy kan, staan stil en sien my verlossing.”

Jy het die uitdrukking gehoor, “Die moeilikste deel van die geloof is die laaste halfuur.” In  my jare van bediening kan ek oor en oor hiervan getuig. Die moeilikste tyd is altyd net voor die antwoord kom, net voor God sy verlossing bring. Dit is dan wanneer ons begin verwelk en flou word. Skielik word ons ernstig versoek om iets op ons eie te laat gebeur. Dit kan lei tot verwarring en planne wat nie van God af is nie.

Dink aan die les wat ons by Saul leer, toe hy God vooruitgeloop het: “En toe hy net gereed was om die brandoffer te bring, kom Samuel meteens daar aan; en Saul het uitgegaan hom tegemoet om hom te groet" (1 Samuel 13:10). Goddelike leiding was net minute weg. Tog, kon Saul nie wag nie.

Daar is ernstige gevolge wanneer ons nie op God wag om op te tree nie.

Te dikwels op sulke tye, beskuldig ons God dat Hy ons verwaarloos. Saul het dit gedoen toe hy ongeduldig op sy eie opgetree het. Hy het in wese gesê, “God het my gestuur om sy werk te doen. Maar nou het Hy my gelos om uit self uit te werk hoe om alles te laat gebeur. Ek word geforseer om te sit en wag, maar Hy wil sekerlik hê dat ek moet optree. Dinge is besig om buite beheer te raak. Spoedig sal dit hopeloos wees.”

Miskien beskryf dit soms jou eie gedagtes. Soos Saul, word elkeen van ons beveel om op die Here te wag, om stil te staan en te sien hoe Hy ons verlossing teweegbring, om Hom te vertrou in alle dinge, sodat Hy ons op die pad kan lei. Maar toe ons innerlike spertyd verby gegaan het, het ons kwaad geword vir God en op ons eie voortgegaan. Deur voor Hom uit te beweeg, verklaar ons, “God gee nie om oor my nie. Gebed en wag werk nie. So word dinge net erger. Sy woord kan nie vertrou word nie."

God het egter aan ons die verantwoordelikheid gegee om in gebed op Hom te wag. Het het begeer om Saul te hoor sê, “Die Here hou sy woord. Ek weet Hy praat getrou met Samuel. Nooit eenkeer het ‘n woord wat daardie profeet gespreek het, nie uitgekom nie. Nou, terwyl die magtige Filistyne teen ons opmars, gaan ek nie angstig raak nie. God het my beveel om op sy leiding te wag — en ek sal. As ek sterf, sal ek sterf terwyl ek op Hom vertrou.

“Laat my hele leër my verlaat. Laat elke Israeliet ‘n lafaard wees. Laat God waaragtig wees en elke mens ‘n leuenaar! Hy sal vir my hulp stuur. Dit is nie my oorlog nie — dit is syne. In der waarheid het ek nie die vaagste benul hoe om teen daardie Filistyne veg nie. Dit is alles in sy hande. Ek sal presies doen soos wat Hy my beveel en dit is om te wag op sy woord. Hy sal optree in antwoord op my hartsgeroep.”

Moeilike omstandighede en knellende toestande kan verwarring bring. Tydens sulke tye, begin ons ongeduldig te redeneer: “God het dalk nie bedoel wat hy vir my gesê het nie. Of miskien is die probleem in my vermoë om sy stem te hoor. Miskien het ek Hom in die eerste plek verkeerd gehoor. Al wat ek weet is, dat wat Hy vir my gesê het en wat ek sien gebeur, nie bymekaar uitkom nie.”

Saul het suiwer net op logika en rede opgetree, en nie in vertroue nie. Luister na die lys van verskonings wat hy vir Samuel gegee het, waarom hy sonder God se leiding voortgegaan het: “Ek het gesien hoe die manskappe verstrooid raak van my af; en toe u nie kom op die afgesproke tyd nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom, het ek gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, en ek het die aangesig van die HERE nie om genade gesmeek nie; daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring" (1 Samuel 13:11-12). Saul het sake in sy eie hande geneem en gedoen wat hy gedink het sy enigste opsie was. Dit het in hartseer geëindig.

Hierdie saak van wag is so belangrik dat ons verwysings daarna dwarsdeur God se Woord vind. Jesaja skryf, “En hulle sal in die dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos: dit is die HERE op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp" (Jesaja 25:9). "Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het ‘n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U" (Jesaja 64:4).

Dit is belangrik om Saul se ongeduld te vergelyk met hoe Dawid op die Here vir leiding gewag het. Die Bybel bied ‘n aangrypende beskrywing van hoe God met Dawid gepraat het, met duidelike en spesifieke leiding:

“Maar die Filistyne het nog weer opgetrek en hulle in die dal Refaím versprei. Toe raadpleeg Dawid die HERE, en Hy sê: Jy moet nie optrek nie: trek agter hulle om en val hulle aan vlak voor die balsembosse. En as jy ‘n geruis van voetstappe in die toppe van die balsembosse hoor, moet jy gou maak, want dan het die HERE voor jou uitgetrek om die leër van die Filistyne te verslaan.

“En Dawid het gedoen net soos die HERE hom beveel het, en hy het die Filistyne verslaan van Gíbeon af tot naby Geser" (2 Samuel 5:22-25).

Die kruis verteenwoordig die dood van my menslike wil en vleeslike ambisie.

Dit is ware nederigheid: “Christus het Homself verneder tot die dood van die kruis.” Jesus het vir sy dissipels gesê, “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring" (Johannes 4:34). "Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek" (Johannes 5:30). Eenvoudig gestel, Christus het  in wese gesê, “Ek weier om sake in my eie hande te neem. Ek wag om alle leiding van my Vader te ontvang.”

Jesus het Homself verneder en so in alle dinge van die Vader afhanklik geword. Johannes vertel ons dat ons soos Hy moet wees: “Want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld" (1 Johannes 4:17).

Elke ware volgeling van Christus het in sy of haar hart gesê, “Ek wil die Here se volmaakte wil doen.” Tog is dit juis hier waar so baie van ons dit mis! Ons begin iets begeer wat goed lyk, logies klink en volmaak in lyn is met wat ons dink God vir ons het — maar dit is nie sy wil vir ons nie. Dit is een van die grootste lokvalle wat Christene teëkom: ‘n goeie idee wat nie van God af is nie.

Die belangrikste vraag wat ons vir onsself rakende sulke dinge kan vra is: “Kan my begeerte die kruis oorleef?” Jy mag bid om te sien dat jou begeerte in vervulling kom en selfs ander getroues vra om daarvoor te bid. Is jy egter gewillig om jou begeerte of plan by die voet van die kruis neer te lê en daarvan af weg te loog? Kan jy sterf daarvoor? Wanneer God se plan aan jou openbaar is, sal jy vrede hê. God se weë bring altyd rus en vrede.

Laat my jou vra: Is jy gewillig om vir die Here te sê, “Miskien is dit nie die duiwel wat my in hierdie saak probeer keer nie.  Miskien is dit U, Here. Ek weet dat as dit nie U wil is nie, kan dit my in die ongeluk stort. Dit sal dit my ontspoor van U volmaakte wil en plan vir my lewenspad. Ek begeer slegs u wil en u weg vir my lewe.”

Dit is wanneer ons ons eie wil en ambisie afsterf, dat ons God met ons hoor praat.

“Daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor...almal wat in die grafte is, sal sy stem hoor" (Johannes 5:25, 28).

Geliefde, duisende Christene kom in die moeilikheid wanneer hulle “still, sagte stemme” hoor wat nie van God af is nie. Daar is vandag so baie verwarring onder gelowiges omdat hulle nie gesterf het vir hulle eie wil sodat hulle God se ware stem kan hoor nie. Ja, ons Here praat met sy kinders. Ons kan slegs sy heilige, onmiskenbare stem hoor as ons deur geloof aanvaar dat ons ou onafhanklike mens saam met Christus gekruisig is.

Hy soek ons totale afhanklikheid. Dit beteken om Hom ten volle te vertrou om ter wille van ons die regte ding op die regte manier te doen. En dit beteken om geduldig op Hom te wag, nie in angstigheid nie, maar in ‘n gees van rus.

“Swyg voor die Here en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie...wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig" (Psalm 37:7-8). Die Psalmis bied ons sy wyse raad: “Moenie jaloers word op ander wat lyk of hulle suksesvol in hulle ambisies is nie. Hulle lyk of hulle jou verbysteek, terwyl jy nie geseën word nie. Maar jy moenie daaroor angstig wees nie. Wag net in gebed vir rus totdat God die deur oopmaak. Geduld doen ‘n goddelike werk in jou. Jy word sterk in die Here deur in geloof te wag. Laat geduld sy volmaakte werk in jou voltooi.”

Geliefde, God se weg is nie die wêreld se weg nie. En die enigste manier waarop ons goddelike ervaring kan opdoen, is om geduldig in geloof op Hom te wag. Hierdie soort goddelike ervarings kom na hulle toe wat in gemeenskap met die Here is: “Ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop" (Romeine 5:3-4).

Inderdaad, God stel “wandel waardig voor Hom” gelyk aan vreugdevolle geduld en lydsaamheid. “Sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel...en met alle krag bekragtig word volens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap" (Kolossense 1:10-11, kursief myne).

In tussentyd, terwyl ons in geloof op Hom wag om op te tree, moet ons vertrou dat Hy die uitroep van ons hart hoor: “Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld, die profete wat in die Naam van die Here gespreek het...dat die Here vol medelye en ontferming is" (Jakobus 5:10-11). God word diep aangeraak deur ons trane en gesug. Hy hoor my geween.

Jesus gee ons ‘n waterdigte belofte vir hierdie laaste dae.

Christus het vir ons ‘n heerlike belofte gegee om ons deur die donder dae, wat die wêreld nou beleef, te dra. Hy sê vir almal wat hulle kruis opneem en Hom volg: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel" (Openbaring 3:10).

Jesus sê in wese, “Jy het getrou gebly toe jy getoets was deur die wêreld. Jy het met blydskap op My gewag om dinge uit te werk. Nou, terwyl daar verwarring oral is en die wêreld getoets word, sal Ek jou daarvan bewaar. Jy het reeds bewys dat jy My sal vertrou, maak nie saak wat gebeur nie!”

Die skitterende getuies van Christus in hierdie laaste dae, gaan nederige mense wees wat Hom getrou bewys het. Nie net verklaar hulle, “God het alles onder beheer” nie, maar hulle het Hom werklik toegelaat om beheer van hulle lewens oor te neem. En almal rondom hulle sal dit sien! Die wonder van hulle getuienis sal baie na die Here trek. En hulle getuienis is dit: “Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die Here" (Psalm 112:7). Amen!

Download PDF