Vertrou God vir elke dag | World Challenge

Vertrou God vir elke dag

David WilkersonMay 22, 2006

Die Here het op ‘n dag aan Abraham verskyn, met ‘n ongelooflike opdrag: “Trek uit jou land uit, weg van jou land en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys (Genesis 12:1).

Hoe wonderlik. Ineens kies God ‘n man uit en sê vir hom: “Ek wil hê dat jy moet opstaan en gaan. Laat alles agter: jou huis, jou familie, selfs jou land. Ek wil jou iewers heen stuur en ek sal jou op pad wys waarheen jy moet gaan.”

Hoe reageer Abraham op hierdie ongelooflike woord van die Here? “Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe, wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.” (Hebreërs 11:8).

Wat sou God doen? Waarom het hy onder die volke na een man gesoek, om hom dan te roep om alles te verlaat en op reis te gaan, sonder ‘n padkaart, sonder ‘n vooropgestelde doel, sonder ‘n bepaalde bestemming? Dink net wat God van Abraham gevra het. Hy het nie vir hom gewys hoe hy sy familie gaan voed en versorg nie. Hy het nie vir hom gesê hoe ver hy moet reis en wanneer hy daar sal aankom nie. Met die aanvang van die reis sê God net vir hom twee dinge: “Gaan” en “Ek sal jou wys.”

Wat ‘n ongelooflike opdrag. Hy sê in werklikheid vir Abraham: “Van vandag af moet jy elke dag van jou lewe vir My gee. Jy moet die res van jou lewe, jou toekoms in My hande laat, een dag op ‘n slag. Ek wil hê jy moet jou lewe bou op ‘n belofte wat ek nou aan jou maak, Abraham. As jy dit alles doen, sal Ek jou seën, Ek sal jou lei en jou na ‘n plek bring wat jy jou nie kan voorstel nie.”

Die plek waarheen die Here vir Abraham wou neem, is die plek waarheen Hy elke lid van Christus se Liggaam wil neem. Ja, Abraham is ‘n lewende voorbeeld van hoe ‘n mens met die Here kan wandel. Abraham wys vir ons wat verlang word van elkeen wat die Here wil behaag.

Moenie ‘n fout maak nie, Abraham was nie ‘n jong man toe God hom geroep het nie. Hy was alreeds Lot se oom, en het heelwaarskynlik al planne beraam om sy familie se toekoms te verseker. Hy moes aan baie dinge dink toe hy God se roepstem gehoor het. Hy moes skei van sy familie, en vriende en moes God geheel en al vertrou, om vir hulle almal te voorsien. Tog het Abraham God vertrou en God het dit “hom tot geregtigheid gereken” (Genesis 15:6).

Die apostel Paulus sê vir ons dat almal wat op Christus vertrou en Hom glo, kinders van Abraham is. In kort, ons is mense wat God behaag omdat ons op Hom vertrou. Soos Abraham word ons as regverdiges gereken omdat ons Sy roepstem hoor en elke dag van ons lewens in Sy hande toevertrou.

Jesus roep ons ook op, om so te leef: om ons nie oor die dag van môre te bekommer nie en ons toekoms in Sy hande te laat. “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.

Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad” (Mattheüs 6:31-34).

Jesus sê nie dat ons nie moet beplan vir die toekoms nie. Hy sê slegs: “Moet julle nie bekommer nie.” Om die waarheid te sê, die meeste van ons bekommernis gaan oor wat môre kan gebeur. Ons word deur twee woordjies bedreig: “Wat as?”

“Wat as die ekonomie ineen stort en ek verloor my werk? Hoe sal ek my verband betaal? Hoe sal my familie oorleef? Wat gebeur as ek nie my polis kan betaal nie? As ek siek word of hospitaal toe moet gaan? Dan is ons onderdeur. Of as my geloof my in die steek laat? Ons almal het ‘n duisend “wat-as” vrese.

Jesus sê, “Julle hoef julle nie te kwel nie. Julle Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het, en Hy sal julle nie in die steek laat nie. Hy is getrou om julle te voed, te klee en vir al julle behoeftes te sorg.”

“Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? … En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.

“As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?” (Mattheüs 6:26, 28-30).

Ons gee graag ons gisters oor aan die Here, al ons sondes van die verlede. Ons vertrou Hom dat Hy ons sal vergewe vir al ons foute, ongeloof en vrese. Waarom doen ons dan nie dieselfde met ons toekoms nie? Die waarheid is, dat die meeste van ons vasklem aan ons toekoms, en die reg om ons drome te verwesenlik. Ons maak ons planne sonder om rekening te hou met God, ons vra Hom net om ons planne te seën en voorspoedig te maak.

Op die oomblik beleef die kerk ‘n tyd soos daar nog nooit voorheen was nie. Dit is ‘n tyd van leerstellige verwarring, die materialistiese wêreld sluip die kerk binne. God se kinders word geleer om groot te dink, om groot drome te droom, om na goud uit te reik. Baie christen ouers voel verplig om vir hulle kinders se beroepsvereistes te voorsien. Wat sal gebeur as hulle dit nie doen nie? Dit is tragies, dat dit ‘n geslag voortgebring het wat so gespanne is, vir wie die lewensdruk te veel word.

Hierdie kinders het die boodskap ontvang en leef dit uit, dat hulle nooit genoeg kan hê nie. As gevolg hiervan het sommiges oor boord gegaan met partytjies en drinkery, asof alles binnekort tot niet gaan. Baie het hyper-presteerders geword, wat verdowingsmiddels moet gebruik om hulle senuwees te kalmeer, terwyl hulle onmoontlike standaarde probeer bereik. Intussen voel gewone kinders met normale doelstellings asof hulle ontoereikend is. Almal is beset met die vrees vir die dag van môre.

Hoe het dit gebeur? Hoe het dit die erfenis geword wat nagelaat word, deur ‘n geslag van ouer Christene, wat God se getrouheid ervaar het? Hierdie ouer geslag weet dat God vir hulle tot nou toe gesorg het. Hoekom sal Hy nou hulle kinders in die steek laat?

Bo hierdie lawaai en verwarring – bo hierdie leë strewe na materiële welvaart en vleeslike grootheid – roep ‘n stem, met dieselfde opdrag as wat Abraham gehoor het: “Los daardie lewe. Staan op en gaan. Gee jou toekoms vir my. Laat ek jou weë bepaal, en laat my Gees jou lei. Gee al jou mensgemaakte planne op en werp jouself op My.”

Ons voorvader, Abraham, moes al sy eie planne laat vaar, sy verwagtinge en drome, elke bekommernis oor die toekoms van sy familie. Dit was nie maklik nie. Dit het beteken dat hy elke vrees en bekommernis oor die toekoms moes aflê, en moes vertrou dat God hom in elke situasie sou lei en beskerm. Tog, vra ons hemelse Vader vandag nog dieselfde van ons.

Terwyl Paulus gewag het op sy verhoor in Rome, was hy in haaglike omstandighede. Hy was dag en nag, bewaak deur Romeinse soldate; sy voete geketting aan twee soldate. Hierdie was geharde, vloekende manne. Hulle het al alles gesien, vir hulle was elke gevangene, ‘n skuldige – selfs Paulus.

Dink aan die vernederinge wat Paulus in daardie situasie moes deurgaan. Hy was nooit, vir ‘n oomblik alleen nie. Elke besoek deur vriende is gade geslaan, miskien bespot. Dis sou so maklik gewees het, om van al sy waardigheid in so ‘n soort situasie en met sulke behandeling, ontdaan te word.

Stel jou voor, hier was ‘n man wat baie aktief was, wat oor berge en dale gereis het, oor die oop see gevaar het, om God se kinders te ontmoet en met hulle gemeenskap te hê. Paulus se grootste vreugde het daarin gelê om die kerke te besoek wat hy in daardie dele van die wêreld gestig het. Nou was hy geketting aan die mees onheilige en gehardste manne op aarde.

Sommige van die Christene wat vir Paulus geken het, het selfs begin sê dat hy skande op die evangelie bring, deur sy situasie: “As Paulus waarlik ‘n man van God was, sou sulke dinge nie gebeur het nie. Hoekom bevry God hom nie? Waar is die krag in Paulus se gebede? Ander evangelie dienaars word geseën, waarom nie hy nie? Apollos het geseënde resultate op sy prediking, - selfs die jongeres soos Timoteus en Titus. Paulus het geen bediening meer nie.”

Ons ken almal die gesegde “slegte dinge gebeur met goeie mense.” Oornag, kan ons omstandighede soms geheel-en-al omswaai. Elke nuwe dag kan iets verrassends meebring en al ons planne en drome kan soos mis voor die son verdwyn.

Ek glo nie dat iemand wat dit lees, dit nog nie gesien gebeur het nie. ‘n Tragedie vind plaas, iets wat niemand kon voorsien nie, en alles verander. Oornag word iemand deur die kettings van ‘n lewenssituasie gebind. Ons kantoor het laaie vol briewe van soortgelyke getuienisse, van mense wat onbeskryflike lyding trotseer.

Kort gelede, het ek in ‘n dokter se spreekkamer vir my vrou, Gwen, gewag, toe ‘n bejaarde weduwees my vertel het van die dag toe haar toekoms verduister het. Sy en haar man het ‘n goeie lewe saam gehad, toe kry hy ‘n beroerte. Sy was haar man se enigste oppaser en skielik was hulle huisgebonde as gevolg van sy fisiese toestand. Sy het haar man liefgehad en het hom getrou versorg, maar vir die volgende vyf jaar kon hulle nie enige planne maak vir die dag van “môre” nie.

Na jare het hy begin neerslagtige raak. Eendag het hy haar geroep en begin kla. Hy het vertel hoe die beroerte hom van alle hoop en drome beroof het. Hy het gesê dat sy haar nooit sou kan voorstel hoe swaar dit is om nie eers ‘n endjie te kan gaan stap nie: “Jy kan nie glo hoe swaar dit is om net hier in die bed te lê nie. Al hierdie jare is ek beroof van ‘n nuttige lewe. Ek het geen hoop of verwagting meer nie. Daar was geen blydskap nie, net verdriet.”

Sy het vir hom gesê; “Dit wil voorkom asof jy vergeet dat ek saam met jou deur alles gegaan het. Jy is nie die enigste een wat gely het nie. Vir al hierdie jare het jy al my aandag gevra, vir vier-en-twintig uur elke dag. My verwagtinge het ook alles vervaag.”

Kort daarna is hy oorlede. Alhoewel sy hom mis, lyk dit of daar bitterheid is oor haar “vermorste jare”.

Een of ander tyd gaan ons almal deur lyding, en in hierdie tyd is daar ‘n menigte mense wat gebind word deur swaarkry. Dan word ons blydskap verander in gevoelens van hulpeloosheid en nutteloosheid. Baie vra in hulle pyn: “Hoekom gebeur dit met my? Is God kwaad vir my? Wat het ek verkeerd gedoen? Waarom word my gebede nie beantwoord nie?”

Paulus het twee opsies in sy situasie gehad. Hy kon op ‘n morbiede, neerslagtige manier dieselfde vraag oor en oor gevra het: “Waarom ek?” Hy kon homself verskuil in ‘n put van depressie, met die verterende gedagte: “Hier is ek opgesluit, my bediening tot niet, terwyl ander ‘n welige oes van siele in die koninkryk inbring. Hoekom?”

In plaas daarvan, vra Paulus, “Hoe gaan my huidige situasie die naam van Christus verheerlik? Hoe kan veel vrug uit die beproewing gebore word?” Hierdie dienskneg van God het besluit: “Ek kan die situasie nie verander nie. ek kan selfs hier sterf. Daarom sal ek Christus hierin verheerlik en ek sal ‘n getuie vir die wêreld wees, terwyl ek in kettings is. “Ek wil Christus verheerlik in lewe en sterwe.” (Filippense 1:20)

Paulus se houding wys vir ons die enigste manier om uit die put van bekommernis en ongelukkigheid te kom. ‘n Mens kan jou hele toekoms vermors terwyl jy angstig wag om verlos te word van verdrukking. As ons daarop konsentreer, sal ons die verdrukking van opgetel te word in ons verdrukking, misloop.

Luister na Paulus se woorde aan die Filippense: “Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het.” (Filippense 1:12). Paulus sê: “Moet my nie bejammer of dink ek is mismoedig oor my toekoms nie. Moet ook nie dink my werk is klaar nie. Ja, ek is in kettings, maar die evangelie word daardeur nog verkondig.”

Ek stel my voor Paulus sê: “My verdrukking het ‘n bron van vreugde geword. As die Romeinse soldate van skofte verwissel, vertel hulle in die barakke van my getuienis. Dan gaan hulle huis toe en vertel dit aan familie en vriende. In werklikheid gons dit deur die palies met berigte oor die evangelie wat ek verkondig. Julle mag dink my hande is gebind, dat dit hopeloos is, dat ek niks meer vir Christus kan doen nie, maar hierdie kettings het my boodskap indrukwekkender as ooit te vore gemaak.”

Moenie verkeerd verstaan nie. Paulus was nie ongevoelig in sy omstandighede nie. Hy was ten volle bewus van die pyn wat die kettings veroorsaak het. Sy gedagtegang was nie. “Dit is ‘n beproewing wat God toegelaat het, ek sal die beste daarvan maak nie. Dit help nie om te kla nie. Niemand sal van my pyn weet nie.” Nee! Dit was nie sy houding nie. Dit is nie om jou toekoms in God se hande te laat nie.

Luister na Paulus se slot boodskap aan die Filippense: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly” (Filippense 4:4). Hy sê nie; “Hierdie boeie is ‘n seën” nie. “Ek is so bly oor hierdie pyn” nie. Nee! Ek is oortuig dat Paulus daagliks gebid het vir sy vrylating en soms uitgeroep het om krag om te kan verdra. Selfs Jesus roep in sy foltering en pyn. “My Vader, waarom het U my verlaat?” Dit is ook ons eerste reaksie in ons verdrukking, om uit te roep. “Waarom?” En die Here is geduldig met daardie wanhoops roep.

God het selfs voorsiening gemaak in sy Woord vir ons “wat as” en “waaroms”. Paulus skryf: “Op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly. En ek sal my ook verder verbly.” (Filippense 1:18-19). Hy sê vir ons, in ander woorde. “Ek is vas van plan dat God se woord bevestig sal word, deur my reaksie op hierdie beproewing. Ek het my voorgeneem dat ek nie die evangelie tot skande sal maak of dit kragteloos sal laat lyk nie.

“Die feit bly staan dat Christus verkondig word deur my kalme voorkoms, deur my rus te midde hiervan. Elkeen wat my sien, weet, dat die evangelie wat ek verkondig my deur hierdie moeilike tye dra. Dit bewys dat die Here, enigiemand deur enigiets kan neem, of dit vuur of vloed is, en sy evangelie sal deur die ervaring verkondig word.”

Dit is die boodskap wat Paulus en Abraham vir ons bring: ons het nie nodig om iets groots vir die Here te doen nie. Ons moet Hom net vertrou. Ons moet net ons lewe in God se hande gee en glo dat Hy vir ons sal sorg. As ons net dit doen, word die evangelie verkondig, wat ookal ons omstandighede. Christus sal openbaar gemaak word in ons moeilike omstandighede.

‘n Ouderling in ons kerk met die naam Sam, het my eenkeer vertel, “Pastoor David, ek sien hoe jy op moeilike tye reageer en dit is vir my ‘n getuienis.” Wat Sam nie weet nie, is dat sy lewe vir my ‘n getuienis is. Hy lewe met kroniese pyn saam. Hy slaap maar ‘n paar uur per nag. Ondanks sy voortdurende verwoede pyn, is sy toewyding aan die Heer ‘n getuienis vir ons almal. Sam het miskien geen opsigtelike bediening nie, maar sy lewe spreek netso kragtig soos Paulus se lewe.

Word Christus in jou huidige omstandighede verheerlik? Sien jou familie die evangelie se werking in jou lewe? Of sien hule net moedeloosheid, paniekerigheid, en ‘n bevraagteken van God se getrouheid? Hoe reageer jy op jou beproewing?

Paulus skryf: “… deur die woord van die lewe uit te dra … sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, … dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie.” (Filippense 2:16). Paulus het gedink aan die dag wanneer hy voor Christus sal staan en die geheime van verlossing openbaar gemaak sal word.

Die Skrif sê dat op daardie dag sal ons oë oopgemaak word en ons sal die Here se heerlikheid sien, sonder om betig te word. Ons harte sal brand wanneer Hy al die geheime van die skepping aan ons openbaar, en sy grootheid aan ons toon. Skielik sal ons alles sien wat tot ons beskikking was tydens ons stryd op aarde; die krag en toevlug van die hemel, die beskermengele, die altyd teenwoordigheid van die Heilige Gees.

As ons die asemberowenheid van hierdie dinge sien, sal die Here vir ons sê: “Al die tyd was my leërmagte rondom jou, ‘n mag van kragtige boodskappers was tot jou beskikking. Sien jy, jy was nooit aan die mag van die duiwel blootgestel nie. Jy het nooit rede gehad om die toekoms te vrees nie.”

Dan sal Christus vir ons die Vader wys, wat ‘n oorweldigende oomblik sal dit wees. Wanneer ons die majesteit van ons hemelse Vader aanskou, sal ons die omvang van sy liefde en versorging begryp, en sal hierdie besef ons ten volle slaan: “Dit was en is en sal vir altyd wees – ons Vader, waarlik die groot ‘EK IS’”.

Om hierdie rede het Paulus vasgehou aan God se getrouheid. Hy wou nie op daardie dag vir homself sê: “Hoe kon ek so blind gewees het? Waarom kon ek nie my Heer se doel ten volle vertrou nie?” Al my bekommernisse en vrae was onnodig.”

Paulus vermaan ons: “Daardie dag as my oë heeltemal oopgaan, wil ek my verbly omdat ek Hom volkome vertrou het, dat ek Hom nooit wantrou het nie. Ek wil dan weet dat ek aan sy Woord vasgehou het en dit bewys het met elke reaksie op elke beproewing, dat ek die goeie stryd gestry het.”

Paulus som dit op, met hierdie woorde: “ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.” (Filippense 3:13) Hy het gevoel dat dit onmoontlik is om sy toekoms in die Here se hande te plaas voordat hy die verlede afgelê het. Daar mag geen spyt wees nie, geen oorleef van gedane sonde en foute nie, geen nabetragting oor wat kon gewees het nie.

Soos Paulus moet ek nou vorentoe kyk na môre, want ek weet my Vader sorg … dat Hy sy woord hou … dat Hy alles ten goede laat meewerk … dat Hy by my is en my nooit sal verlaat nie … dat sy oog op my is, en sy gedagtes vir my is goed … dat sy beloftes nie kan faal nie.

Ek dring by julle aan: vertrou op die Here vir môre. En laat jou huidige beproewing die boodskap van sy getrouheid verkondig.

Download PDF