Volgehoue Blydskap Van Die Here | World Challenge

Volgehoue Blydskap Van Die Here

David WilkersonJuly 24, 2000

"Die blydskap in die Here - dit is jul beskutting" (Nehemía 8:11). Hierdie woorde is aangekondig met die Israeliete se terugkoms uit gevangeniskap in Babilon. Onder die leierskap van Esra en Nehemía het die volk die bouvallige mure van Jeruslem herbou. En nou het hulle beplan om die tempel te hervestig en die volk te herstel.

Op hierdie tydstip het Nehemía 'n spesiale vergadering by die stad se water hek, binne Jerusalem se herboude mure byeen geroep. "Die hele volk het soos een man op die plein voor die Waterpoort bymekaar gekom" (Nehemía 8:2). Sowat 42 360 Israelietiese mans het die vergadering bygewoon. By hulle het 7300 bediendes, wat 245 sangers ingesluit het, gestaan. Altesaam het sowat 50 000 mense vergader.

Heel eerste is God se woord verkondig. Die Skrif meld dat die volk uitgehonger was om dit te hoor: "(Hulle het) aan Esra, die skrifgeleerde, gesê om die boek van die wet van Moses ... te bring. En Esra, die priester, het die wet voor die vergadering gebring, manne sowel as vroue en almal wat met verstand kon luister" (8:2-3).

Dit was nie nodig om God se woord op hierdie mense af te dwing nie. Hulle was eengesind dat hulle uitgehonger was na die Woord. Hulle was ten volle bereid om hulle aan die gesag van God se woord te onderwerp. Hulle wou daardeur bestuur word; hulle wou hul lewens volgens die waarheid daarvan rig.

Dit mag ons verbaas dat Esra vir vyf of ses uur vir die volk gepreek het- "vandat dit lig geword het tot die middag" (8:4). Niemand het op die tyd gelet nie. "Die ore van die hele volk was op die wetboek gerig" (8:4). Die mense was deur God se woord bekoor.

Wat 'n ongelooflike toneel! U sal nie in vandag se dae so 'n gebeurlikheid in enige Amerikaanse kerk sien nie. Nogtans sê ek vir u - ware herlewing kan nooit sonder hierdie soort als verterende honger na God se woord plaasvind nie. Inderdaad, sodra God se volk moeg raak om die verkondiging van sy woord te hoor, begin geestelike dood - en die blydskap in die Here verdwyn.

U het moontlik al die uitdrukking "preek proeërs" gehoor. Die uitdrukking is ongeveer 200 jaar oud en het sy oorsprong in Londen gedurende die middel 1800. Dit was die tyd wat die groot prediker C.H. Spurgeon elke Sondag vir 5 000 mense gepreek het by die Metropolitaanse tabernakel. Aan die anderkant van die stad het Joseph Parker ook gesalfde boodskappe gepreek. Ander vurige predikers het diep, openbarende profetiese woorde dwarsdeur Londen verkondig.

Vir die welgestelde Londenners was 'n gewilde tydverdryf om met hulle koetse deur die stad van een kerk na die ander kerk te jaag en die preke van hierdie predikers op die proef te stel. Elke Maandag is eklusiewe vergaderings in die Parlement gehou om te bepaal welke predikant die beste preek gelewer het en van wie die mees diepgaande openbaring gekom het.

Hierdie rondryers was "preek proeërs". Hulle wou altyd een of ander nuwe geestelike waarheid of openbaring eien. Maar min het uitgeleef wat hulle gehoor het.

Nietemin, by die water hek in Jerusalem was daar nie welsprekende of opspraakwekkende preke gelewer nie. Esra het reguit uit die skrif gepreek, vir ure aaneen gelees. En soos die mense gestaan en na God se woord geluister het, het hulle opgewonde geword.

Met tye was Esra so oorweldig deur wat hy gelees het dat hy opgehou lees het om "die grote God te loof" (8:7). Die heerlikheid van die Here het kragtig neergedaal en almal het hul hande na die Here in lofprysing opgehef: "Die hele volk het geantwoord: Amen, Amen! met opheffing van hulle hande" (8:7). Soos bepaalde gedeeltes gelees is "het hulle gebuig en die Here aanbid met hul aangesig aarde toe" (8:7). Die mense het hulself voor God verootmoedig in gebrokenheid en berou. Na 'n rukkie het hulle opgestaan om meer te ervaar.

Let asseblief op - hierdie vergadering het nie opwindende verhale om mense se emosies aan te por, ingesluit nie. Daar was geen manipulering vanuit die preekstoel nie, geen dramatiese getuienis nie. Hierdie mense het slegs 'n oor gehad om te hoor wat God aan hulle sê.

Ek glo dat die Here vandag nog begeer om op dieselfde wyse tussen sy volk te beweeg. Ek sien dat sy Gees kerke waar daar 'n honger na sy woord is, in beroering bring.

Tog was ek ook in kerke waar die mense hulle horlosies voortdurend dophou nog voor die diens begin het. Verder, sodra die predikant sy laaste "Amen" sê, begin die dolle gejaag na die parkeer terrein. In sulke kerke is daar geen opregte blydskap nie. Dus, hoe kan ons verwag dat wanhopige sondaars deel van so 'n kerk wil wees?

Die herlewing waarvan in Nehemía 8 getuig word vereis 'n predikant wat net soos Esra deur die skrif geprikkel is. Tog vereis dit ook mense wat net so gretig is om God se woord te hoor en dit te gehoorsaam. Selfs die vurigste predikant kan nie 'n selfvoldane gemeente aangryp indien hulle nie uitgehonger is om God se waarheid te hoor nie.

'n Halwe dag van prediking was nie genoeg vir die uitgehongerde Israeliete nie. Hulle wou meer van God se woord hoor. So het hulle groepe gevorm met sewentien ouderlinge bo en behalwe Esra wat hulle vir die res van die dag in bybelstudie gelei het. "(Hulle het) die volk in die wet onderrig, .. en hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees en dit verklaar, sodat hulle verstaan het wat voorgelees is" (Nehemía 8:8-9).

Soos die volk God se wet begryp het, het hulle rou oor hulle sonde begin bedryf. "Want die hele volk het geween toe hulle die woorde van die wet hoor" (8:10). Stel uself voor: 50 000 mense wat versprei op die grond lê en soos een oor hul sonde rou. Soos 'n hammer het God se woord hulle trots gebreek. En nou het hulle geween vir kilometers oor die berge weerklank.

Ek vra u - is dit nie waaroor herlewing gaan nie? Kan dit toegeskryf word aan 'n woord so deurdringend dat mense op hulle knieë gedwing word, huilend en vol berou voor God?

Ek het self ondervinding van sulke heilige byeenkomste. As kind het ons familie "kamp vergaderings" by die Living Waters kampgronde in Pennsylvania bygewoon. Daar is oor die tweede koms van Jesus met soveel krag en gesag gepreek dat almal oortuig was dat Christus binne die volgende uur kom. 'n Heilige vrees het neergedaal en die mense was op hulle aangesigte gedryf. Sommige het gehuil asof hulle aan 'n dun draad oor die hel hang - weeklaend, gebroke, treurend oor hulle sonde.

God se woord is dikwels die hele dag en tot in die nag verkondig. Die volgende oggend vroeg was mense nog steeds uitgestrek in die gebedskamer aangetref, droewig oor hulle sonde. Sommige moes selfs uitgedra word.

Dit was op so 'n aand dat die Here my op die ouderdom van agt geroep het om te preek. Ek het ure in die Gees deurgebring, gebroke en huilend, met God se woord wat in my hart toenemend begin lewe het. God se spoedige terugkoms was 'n naderende werklikheid. Ek sal hierdie wonderlike belewenis nooit vergeet nie.

Tog, so glansryk soos hierdie verskynsels was - by die Living Waters kampgronde of by Jerusalem se Waterpoort eeue gelede - sal hierdie dinge nie sondaars tot in God se huis aantrek nie.

Stel u voor 'n ongeredde mens wat poog om die lewenspanninge te ontbeer. Hy het huweliks probleme, hy is seergemaak en deurmekaar, hy is bevrees dat sy lewe het geen nut en betekenis het nie. So 'n persoon is sonder blydskap met 'n misnoeë in die lewe. En niks waarna hy hom wend les sy dorstige siel nie. Hy is oortuig dat hy nie die dag op sy eie, sonder die gebruik van alkohol sal kan deursien nie.

Indien u hierdie mens na 'n kerkdiens toe neem waar die mense rond en bont uitgestrek lê in berou oor hulle sonde, sou hy nie verstaan wat aan die gang is nie. Inteendeel, hy sal waarskynlik meer bedruk weggaan as wat hy gekom het.

Dit moet ons verstaan - die Waterpoort herlewing was nie op sondaars gerig nie. Die was uitsluitlik vir die afvallige kinders van God. Soortgelyk, het bitter min ongeredde mense die Living Waters kampvergaderings bygewoon. In beide gevalle het die Here gepoog om sy kinders te herstel - om hulle van korrupsie te bevry, om hulle met blydskap te doop en hulle sterk te maak.

God se getuienis gaan nooit daaroor dat sy volk op hulle aangesigte lê en huil nie. Nee, die getuienis wat hy in sy volk wil voortbring is vreugde - opregte, blywende vreugde. "Die blydskap in die Here - dit is jul beskutting" (Nehemía 8:11). Hierdie blydskap - wat uit bybelse prediking en ware berou voortspruit - bring ware krag aan God se volk en trek sondaars aan na sy huis.

Meeste christene assosieer nooit blydskap met berou en bekering nie. Maar in werklikheid is berou en bekering die moeder van vreugde in Jesus. Daarsonder kan daar nie blydskap wees nie. Elke gelowige of gemeente wat met berou saamleef, sal die oorvloedige blydskap van die Here ondervind.

Ek hoor dikwels Christene sê : "Ons het 'n herlewing in ons kerk deurgebid." Maar ek sê dit word nie deur gebed alleen vermag nie. Daar kan nie so 'n herlewing plaasvind nie, tensy beide die predikant en die mense ywerig honger en dors na God se woord. En hulle moet hulle lewens in die geheel aan die beheer van die Skrif toevertrou. Ons kan eenvoudig nie die hemelse blydskap verkry totdat die suiwer woord ons van ons sonde oortuig het nie - en alle trots, vooroordele en valse waardigheid afbreek.

Toe Dawid ongehoorsaam was het hy die blydskap van die Here verbeur. En die blydskap kon alleenlik deur opregte berou en bekering herstel word. En dus bid hy: "Was my heeltemal van my ongeregtighede en reinig my van my sonde. Want ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Ontsondig my" (Psalm 51:4-5, 9). Dawid het ook gebid om dit wat hy verloor het, terug te kry: "Gee my weer die vreugde van u heil" (Psalm 51:14).

Ek glo dit verklaar die doodskleed wat oor baie van vandag se kerke hang. Kortliks - daar is sonde in die kamp. En dit is onmoontlik om die blydskap van die Here vol te hou waar daar sonde teenwoordig is. Hoe kan die Heilige Gees blydskap uitstort oor mense wat soos ongereddes lewe en aanhou toegee aan egbreuk, verslawing en materialisme?

Die Here het sy glansrykheid oor Silo weggeneem omdat die die hoë priester Eli geweiering het om teen die sonde in die huis van die Here op te tree. Eli het aan 'n gemaklike lewe gewoond geraak. Indien u versot is op genot sal u nie gemotiveer wees om sonde aan die kaak te stel nie. Ten einde het God die woord "Ikabod" bo die deur van die heiligdom geskryf. Dit beteken "die heerlikheid het verdwyn". Toe het hy Silo voorgehou as 'n voorbeeld van wat met 'n kerk gebeur waar die sonde ontken word. God se glanrykheid - insluitend alle blymoedigheid en blydskap - word verdryf, in individue en korporatiewe liggaam.

Esra het aan die volk gesê: "Julle het oor God se woord opgewonde geword - uitgehonger, vol liefde, julle het toegegee dat dit in julle harte werk. Julle het berou gehad, gehuil en gerouklaag en God is tevrede met julle. Maar nou is die tyd om julle te verbly. Vee die trane in julle oë met julle sakdoeke af. Dis nou 'n tyd vir blydskap en vrolikheid.

Die heerlikheid van die Here was op Israel. Die volk het die daaropvolgende sewe dae jubelend deurgebring. "Toe het die hele volk weggegaan om te eet en te drink ... en groot vreugde te bedrywe; want hulle het ag gegee op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is" (Nehemía 8:13).

Die woord 'vreugde' word in die hebreeuse teks vertolk as blydskap, vrolikheid, opgeruimheid, gelukkigheid. Dit is nie net 'n plesierige gevoel nie - dit is innerlike blydskap, 'n diepe uitgelatenheid. Dit kom in elkeen van ons verskillend tot uitdrukking omdat dié blydskap diep binne ons plaasvind. Maar dit is duidelik aan almal om ons dat ons bron van blydskap vanuit die hemel is.

Elke keer as Israel hul na sonde en afgode gewend het, het die Here hul vreugde weggeneem: "En Ek maak 'n einde aan al haar vreugde ." (Hoséa 2:10). "En Ek sal uit hulle laat verdwyn die stem van vreugde en die stem van vrolikheid... En die hele land sal 'n puinhoop, 'n woesteny word.." (Jeremia 25:10-11). ". al die vrolikheid het ondergegaan, die vreugde van die aarde is verban (Jesaja 24:11).

By tye het Israel 'n valse blydskap voorgehou om hulle sonde te bedek. Ons sien dit huidig in baie kerke gebeur. Ons mag sang, dans, allerhande verskynsels, of luide geprys waarneem, maar diegene wat God se woord ken, sal kan onderskei of dit egte of onegte blydskap is.

U mag Israel se koordanse om die goue kalf herroep. Toe Josua die volk hoor, het hy gesê : "Daar is oorlogsgeraas in die laer" (Exodus 32:17). Maar Moses het geantwoord : ". ek hoor die geluid van beurtsang" (32:18). Moses het eintlik gesê: "Dit is die gejuig van mense in gevangeskap. Hulle het nog nie hulle sonde bemeester nie." Goud het Israel se god geword en dit het die volk laat juig. Nogtans was dit 'n gejuig van valse blydskap - 'n geraas wat God se naderende oordeel aangedui het.

Ek het by geleentheid in 'n groot kerk wat gevul was met sulke geraas, gepreek. Gedurende die erediens het die pastoor en die orelis die mense tot raserny opgesweep. Die gemeente het vir 'n volle uur gesing en luid hande geklap. Ek het na 'n tydjie fisies siek gevoel. Ek het gebid: "Here, iets is hier nie pluis nie. Hierdie is nie hoe mense wat hulle sonde bemeester het, klink nie."

'n Jaar later is die pastoor en die orelis as homoseksualiste ontbloot. Die mense het dit nooit van hulle leiers vermoed nie omrede hulle nooit in God se woord gegrondves was nie. Inteendeel, hulle het 'n geraas, wat as blydskap vermom was en wat hulle na hul ondergang sou lei, gevolg.

Toe ons Times Square Church in 1987 begin het, het ons vinnig agtergekom dat ons in 'n hedendaagse Korinte met bediening besig was. En ons moes 'n kragtige boodskap wat alle sonde ontbloot, verkondig.

Baie mense uit die vermaaklikheidsindustrie - teater, TV en film - het ons eredienste bygewoon. Hierdie mense het luid lofprysing gedoen - maar in sommige gevalle was dit nie die klank van bemeestering nie. Sommige het besluit om in loopbane wat duidelik God onteer het, te volhard. Hulle het in toneelstukke en vertonings wat God gelaster het, opgetree.

Ons het gewonder of ons verhoogkunstenaars kon evangeliseer as ons eie gemeentelede nog steeds in die bose aspekte van die besigheid betrokke gebly het. Uiteindelik het ons besluit dat ons nie dubbele standaarde kan toelaat nie. Ons het dit toe 'n saak van gebed gemaak en God het onder die mense begin werk. Baie het winsgewende beroepe in die vermaaklikheidsindustrie prys gegee en God het hulle wonderlik geseën. 'n Vorige akteur is nou 'n prediker in die Kerk van Jerusalem waar hy God op die Karmelberg verkondig.

Mense wat die teenoorgestelde geslag se klere gedra het, het ook só aangetrek ons eredienste bygewoon. Ons het nooit enige neerhalende opmerkings daaroor gemaak nie. Mettertyd het die Heilige Gees in hulle gewerk. Baie is gered en het hulle voorkoms verander. Sommige het selfs baarde laat groei as 'n teken van berou.

Ons moes ander gewigtige probleme wat tussen die mense voorgekom het, aanspreek. Self-erkende homoseksuele mans wou in die koor sing. Musikante wat net in kroeë speel, wou in die orkes speel. Ons moes die wet preek om met sonde te kon afreken, maar ons het altyd ons boodskappe met genade getemper.

Ons moes ook sonde in ons eie personeel aanspreek. Een musikant het X-geklassifisseerde teaters na die eredienste bygewoon. En 'n lid van ons aanbiddingspan - 'n wit man - het gespog: "Enige swart kêrel wat my motor voorruit vir geld probeer skoonmaak gaan vinnig 'n opstopper kry." Ons het hierdie man onmiddelik laat gaan.

Ons moes ook misleiding en dwaling in ons gemeente aanspreek. Een getroude man het vir my vertel dat hy glo die Here gaan sy vrou van hom wegneem. Volgens hom het God reeds die vrou in ons gemeente met wie hy dan sou trou aan hom uitgewys. Ek het prontuit vir die man gesê dat enige sulke openbaringe wat hy mag hê, nie van God is nie.

Ons het aanhoudend, week na week, heiligheid verkondig. Mettertyd het ons preke mense afgeskrik. Nietemin het die Here 'n goddelik oorblyfsel vir homself gehou, mense wat sy woord lief het. In elke diens het hierdie mense soos honger voëls gesit - monde wyd oop vir kos. Na die tyd het hulle klankbande van die preek huistoe geneem om daar oor en oor daarna te luister. Ons het in hulle 'n gees van berou waargeneem; 'n ywer om gehoorsaam te wees en 'n gretigheid om aan God se woord te voldoen.

'n Welgestelde paartjie het ons kantore gebel en gesê : "Stuur asseblief 'n bakkie met 'n paar werksmense. Ons wil ons drankkabinet uit ons huis verwyder asook ons TVs."

Namate die mense onder die krag en bestuur van God se woord gekom het, het daar 'n blydskap voortgespruit. Ons eredienste is spoedig met meer as trane van berou gevul. Skielik is die heiligdom geskud met krete van oorwinning, vreugde en vrolikheid. Daar was groot blydskap - ons het die groot waarheid van God se woord begin verstaan.

God het die geween van die Israeliete gehoor en Hy het hulle genade betoon. Hy het hulle weeklaag in vreugde verander. Hulle kon nou uitroep en hul verbly. En nou het hy hul vir nog 'n vergadering byeengeroep.

Indien Israel se blydskap volgehou moes word - as dit nie weer moes kwyn nie - sou God dieper moes grawe. Sekere gedeeltes van die mense se lewens het nog nie aan God se word voldoen nie. Nietemin het die Here almal toegelaat om hul vir 'n seisoen te verbly omrede Hy wou hê dat hulle moet weet dat hulle veilig is. En nou, tydens hierdie toestand van aanvaarding het Hy hulle gevra om hul nog verder van die wêreld los te maak.

God het aan hierdie verblyde siele gesê: "Ek is baie tevrede met julle. Julle het my woord eerbiedig - julle het berou oor julle sonde, julle verbly julle in my genade en julle het belowe om my te gehoorsaam. Nou is die tyd om in my liefde tot aksie oor te gaan. Ek wil hê julle moet julle heeltemal losmaak - breek in totaal weg van die wêreldse invloede wat in julle huise en harte ingekruip het.

U sien, terwyl die Israeliete in ballingskap was, het hulle gesellig met die heidene geraak en stuksgewys hul taal en gewoontes aangeneem. Israelietiese mans het met heidense vroue getrou en Israelietiese vroue het heidense mans met hulle bruidskatte gekoop. Die Israeliete het ook toegelaat dat onheilige voorwerpe deel van aanbidding in God se huis word.

Geliefdes, tensy ons nie ons toenemend losmaak van hierdie wêreld nie, kan ons nie die volheid van Christus ervaar nie. Indien ons nie meer hemelsgerig raak en minder soos die ongeredde mense rondom ons nie, sal ons stadig al die blydskap van ons bekering verloor.

Israel wou nie hul groot gees van blydskap verloor nie. Hulle het derhalwe byeengekom om aan God in hierdie saak gehoorsaam te wees: "En die afstammelinge van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders, en het gaan staan en belydenis doen van al hulle sonde." (Nehemiah 9:2). "Hulle het onder 'n eed en met beswering hulleself verplig om te wandel in in die wet van God ... en dat (hulle) nie (hulle) dogters sou gee aan die volke van die land, en (hulle) dogters nie sou neem vir (hulle) seuns nie; . "(10:29-30).

Die Israelitiese oorblyfsel het die tiende verwaarloos. God het ook dit van hulle vereis. U mag wonder: "Sou God werklik sy blydskap en vreugde van die kerk weerhou omdat hulle nie hulle tiende bybring nie?" Ek verwys u na Maleagi 3:8-10: "Mag 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Bring die hele tiende na die skathuis .... en beproef my tog hierin ...... of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie."

God het aan Israel gesê: "Moet my nie aanhou beroof nie. As julle my opdrag om julle tiendes gehoorsaam stort ek 'n oorvloedig seëning op julle uit wat julle nie sal kan beperk nie." Die mense het hulle woord gegee "dat ons die eerstelinge van ons growwe meel en van ons offergawes en van die vrugte van allerhande bome, van mos en olie, .... en die tiendes .. vir die Leviete, terwyl hulle, die Leviete, die tiendes sou invorder in al ons landboustreke" (Nehemiah 10:37).

Wanneer ons ons harte daarop sit om God se woord te gehoorsaam - sy Gees toelaat om alle sonde in ons lewe te openbaar en te tugtig - maak die Here self ons bly. "God het hulle groot vreugde verskaf" (Nehemía 12:43). Ek glo dat hierdie uitgestorte seëning selfs te midde van ons beproewinge, oorvloedige blydskap in ons teweegbring. Die Here open die hemel en doop ons met "Jesus blydskap" - met gejuig, blydskap en gesang - ongeag ons omstandighede.

Nehemía het 'n jubelende Israel herinner hoe die Here aan hulle voorvaders in die woestyn voorsien het. Die Here het sy oorvloedige genade oor hulle uitgestort. Deur sy Gees het Hy hulle geleer en met 'n wolkkolom en 'n vuurkolom hulle gelei. Hy het bonatuurlik manna en water aan hulle voorsien. En, wonderbaarlik, het Hy nie eens toegelaat dat hulle klere of skoene verslete raak nie (Sien Nehemía 9:19-21).

Hoe klink hierdie seëninge vir u? Oorvloedige genade, duidelike rigting, God se Gees wat u onderrig, al u fisiese and materiele behoeftes voorsien - al hierdie dinge klink wonderlik vir my. En, inderdaad, hierdie seëninge is vandag net so geldig. Die Here in sy groot genade het belowe om aan al sy mense te voorsien.

Nietemin, dit is steeds ons keuse om soos Israel in 'n woestyn te woon. Nehemía het aan hulle uitgewys dat hulle voorvaders teen die Here in opstand gekom het, sy wet geignoreer het: "Maar hulle het wederstrewig en opstandig geword teen U en u wet agter hulle rug gewerp ... En U was baie jare lankmoedig oor hulle ... maar hulle het geen gehoor gegee nie" (Nehemía 9:29-30).

Kan u uself voorstel watter ondenkbare geestelike dood hierdie mense oor hulself gebring het? Veertig jare se sabatte sonder enige blydskap of vrolikheid. Veertig jaar van begrafnisse sonder om die beloofde land binne te gaan. Die Israeliete was oorvloedig geseënd, toenemende goedere, geen behoefte nie - maar louwarm in die gees.

Hierdie is 'n uibeelding van Jehovah Jireh - die God wat getrou sy volk versorg, selfs waneer hulle verhard word teenoor sy woord. Die Israeliete het verveeld geword met die sake van God. Hulle het God maar net uit vervelige gewoonte gedien. In sy genade het die Here volgehou om hulle sake te rig en hulle te versorg. Maar hierdie volk sou nooit Sy volheid betree nie. Is dit enige wonder dat hulle skoene en klere nooit verslete geraak het nie? Hulle was doodeenvoudig op pad na nêrens.

Dit is ook die treurige toestand van baie kerke vandag. God mag sy genade aan 'n gemeente toon en hulle van skuld bevry, hulle goeie leiding gee om goeie werke te verrig, finansies voorsien vir nuwe konstruksie. Nietemin mag daardie kerk in 'n geestelike woestyn bly, oppad na nêrens. Hulle geniet God se seëning - genoeg om nie van dors te sterf nie - maar hulle bly steeds swak, moeg en gereed om uit te sterf. En dit alles omrede hulle steeds op die dinge van die wêreld fokus. Hulle het geen gees en lewe nie.

Eenvoudig gestel, net die blydskap van die Here voorsien ons met ware krag. Ons kan oor ons tien en twintig jaar wandel met Christus praat soveel as wat ons wil. Ons kan ons mantel van geregtigheid pronk. Maar as ons nie toelaat dat die Heilige Gees die blydskap van die Here in ons harte volhou nie - as ons nie voordurend uitgehonger na sy woord bly nie - verloor ons ons vurigheid. En ons sal nie gereed wees vir wat die wêreld in die laaste dae sal oorval nie.

Hoe hou ons die blydskap van die Here vol? Ons doen dit op dieselfde wyse as wat ons dit in die begin verkry het : Eerstens, uitbundige liefde, eer en honger na God se woord. Tweedens, volgehoue wandel in berou en bekering. Derdens, ons ons van alle wêreldse invloede afsny. Dit is hoe die persoon van die Heilige Gees of kerk "Jesus blydskap" volhou - altyd bly, vol van blymoedigheid en vreugde.

Download PDF