Wat Buite die Muur Wag | World Challenge

Wat Buite die Muur Wag

Gary WilkersonMarch 19, 2012

Nehemía is bekend as die man wat die herbou van die mure van Jerusalem gelei het. Israel was in ballingskap toe God Nehemía se hart aangeraak het om hierdie eerbare werk te doen. En toe Nehemía  die Persiese koning gevra het om hom vir hierdie rede te laat teruggaan gaan na Jerusalem, het God die koning se hart aangeraak om hierdie versoek toe te staan.

Oorweldigende vreugde het die harte van die mense gevul toe die glorieryke herstel van die muur voltooi was. Hulle het ‘n toewydingseremonie gehou waarin die priester, Esra, die Wet hardop gelees het — ‘n gebeurtenis wat die hele dag geneem het. Terwyl die Israeliete geluister het, het hulle harte week geword van oortuiging en hulle het berouvol in aanbidding op hulle knieë geval.

Dit was ‘n belangrike oomblik in Israel se geskiedenis — en ‘n rede vir groot feesviering en hartlike danksegging. Die simbole van God se teenwoordigheid onder sy mense was herstel — en die mense se harte was vernuwe in getrouheid en dankbaarheid.

Dit moes ‘n baie vervullende oomblik vir Nehemía, wat as Israel se leier en kaptein tydens die ballingskap gedien het, gewees het. Sy werk was op daardie dag egter nog nie klaar nie. Selfs op daardie wonderlike oomblik het daar ‘n groot bedreiging vir Israel van binne en buite die mure gebly.

Terwyl Nehemía  op die sabbat deur die stad geloop het, het hy iets opgemerk wat hom verstom het.

“In dié dae het ek in Juda mense gesien wat op die sabbat die parskuipe trap en vragte koring, op esels gelaai, inbring, en ook wyn, druiwe en vye en allerhande vragte met goed, en dit op die sabbatdag in Jerusalem inbring; en ek het hulle gewaarsku op die dag toe hulle lewensmiddele verkoop het” (Nehemía 13:15).

Nehemía was verbaas oor wat hy gesien het: Mense was haastig om wyn te maak, handelaars het bevele geskree, donkies het met vragte graan gekom en gegaan. En dit was alles aan die gebeur op God se bepaalde dag van rus en aanbidding. Die mense se fokus was nie daarop om met God gemeenskap te hê nie — daar was geen bewondering, dankbaarheid of lofoffers nie — net hulle eie selfdienende agenda.

Ek kan die woorde van die profete wat deur Nehemía  se gedagtes gemaal het, hoor: “My volk het My vir dae sonder tal vergeet” en “My volk is geneig om heeltyd terug te val.” Nehemía het dadelik gereageer en na die stadsleiers gejaag. “En ek het met die edeles van Juda getwis en vir hulle gesê: Watter verkeerde ding is dit wat julle doen, dat julle die sabbatdag ontheilig?” (Nehemía 13:17).

Nehemía het iets gesien wat hierdie manne nie gesien het nie: God se volk het gou teruggekeer na die dinge wat hulle in die eerste plek van hulle geestelike lewe beroof het. Nehemía het aan hulle gesê, “Het julle vaders nie so gehandel, sodat onse God oor ons en oor hierdie stad al hierdie onheil gebring het nie? Ja, julle vermeerder die toorngloed oor Israel deur die sabbat te ontheilig” (Nehemía 13:18).

Dit is belangrik om te verstaan hoe sentraal die sabbat vir Israel was. Dit het die kern van hulle verhouding met God saamgestel. Deur hierdie heilige instelling het God verklaar, “Ek het ‘n hele dag afgesonder om saam met my volk te wees en hulle te geniet. Ek wil intiem met hulle wandel soos met Adam en Eva in die paradys. My sabbat is die hoogtepunt van hulle dae — ‘n dag om in my teenwoordigheid te spandeer en weer die fokus van hulle harte reg te kry.”

Hierdie geseënde volk was besig om God se uitnodiging te ontheilig. Nehemía  het dit dadelik stop gesit: “En sodra dit in die poorte van Jersusalem voor die sabbat donker was, het ek gesê dat die deure gesluit moes word; en ek het gesê dat hulle dit nie mag oopmaak tot ná die sabbat nie, en van my mense het ek by die poorte aangestel: geen vrag het op die sabbatdag mag inkom nie” (Nehemía 13:19).

Dit is die geestelike werklikheid van wat Nehemía  gedoen het: Hy het die magte wat verhoed het dat God se volk vry was, geïdentifiseer. ‘n Vroeëre geslag in Israel was ook grootliks deur God geseën, maar hulle het ook “God vergeet” en volgens hulle eie begeertes gelewe. Dit het allerhande soorte probleme veroorsaak en dit het direk tot die Persiese ballingskap aanleiding gegee. Nehemía  het gesien dat daardie geskiedenis op die punt was om homself te herhaal en dit het sy hart vreesbevange gelaat.

Wat hierdie goddelike man gesien het, het direkte betekenis vir God se mense vandag. Dink daaraan: Ons is deur ons Verlosser gered, ons is  gereinig, geheilig en afgesonder vir God se doel; en Hy het heilige mure rondom ons gebou wat ons in sy Gees bewaar.

Daar is egter iets wat buite die mure wag: “Toe het die koopmans en handelaars in allerhande koopware ‘n paar keer buitekant Jerusalem vernag” (Nehemía 13:20). Daardie handelare wat besigheid op die sabbat gedoen het, het Jerusalem nie heeltemaal verlaat nie. Hulle het buitekant die mure gekampeer en vir die kans gewag om binne te gaan.

Nehemía  sou ‘n paar sterk woorde vir daardie knaende handelaars gehad het. Maar vir eers wil ek kyk na wat daardie figure voorstel — beide vir Nehemía  se geslag en vir ons vandag.

Nehemía  se storie vertel vir ons hoe God nie net alle slawerny uitdryf nie, maar ook hoe Hy ons vry hou.

Dink aan ‘n jongman wat in ‘n huis grootgeword het waar sy pa sy ma geslaan het. Hy onthou hoe die vuiste geklap het en sy ma vol trane en kneusplekke was. Daardie jongman sweer in sy hart, “Ek sal nie soos my pa wees nie. Ek sal nie daardie woede in my hart hê nie.”

Maar toe hy trou, het ‘n woede in hom begin opkom. Hy het ervaar dat hy probeer om die woede wat hy sy hele lewe lank gedra het, te onderdruk. Hy bid en kry dan verligting van die drang om in ‘n woedebui te ontplof — maar later begin daardie drang weer opkom. Hierdie sirkel gebeur so dikwels dat hy begin dink, “Ek sal nooit hiervan ontslae raak nie. Ek moet net leer om dit te hanteer.”

Wat van ‘n vorige verslaafde? Deur God se genade en krag word sy skoon en nugter en haar lewenstyl weerspieël haar dankbaarheid tot Jesus. Maar na ‘n rukkie, word haar hart koud; die ou dinge wat haar na haar verslawing gedryf het, begin haar weer te teister.

Hoe behou God se mense die oorwinnings wat Hy aan hulle gegee het? Hoe wandel ons in voortgesette genade sonder om na daardie ou sondige gewoontes wat ons in die verlede geteister het terug te keer?

Persoonlik word ek dikwels deur neerslagtigheid aangeval. My vrou kan dit sien kom — ‘n gevoel dat vandag nog ‘n teleurstelling sal bring wat my gees dreineer en my vertroue laat kwyn. Sulke dae kan ek net sien dat die glas half leeg is. Kelly bid die hele dag vir my en herinner my, “Gary, hou jou oë van die omstandighede af. God het elke krag van die duisternis wat jou geloof in Hom stuit, uitgedryf. Moenie dat daardie donker stem jou weer vasvang nie.”

Wat van jou? Is jou stryd met eensaamheid? Depressie? ‘n Vorige hartseer? Dit wek in jou so ‘n sterk drang om te ontsnap dat jy uiteindelik ingee. Jy draai terug na jou vorige binding — die ding wat in die eerste plek jou van jou vryheid beroof het — en gou is daardie gevoel van oorwinning weg. Jy wonder, “Is daar nie ‘n manier om hiervan vry te wees — en om vry te bly nie? Ek het oomblikke van oorwinning, maar dan sink ek weer terug. Hierdie verslawing vang my net weer vas.”

Wys vir my ‘n opregte Christen wat na ‘n sondige gewoonte toe terugkeer en ek wys vir jou iemand wat met diep en kragtige emosies deel – woede, hartseer, vrees en desperaatheid om daarvan ontslae te raak. Daardie gelowige poog nie langer om met God te kommunikeer nie; in sy gedagtes sal dit net verder skande opwek. Die gevolg is dat hy homself van sy een bron van genade, vryheid en oorwinning afsny.

Die verowering van Jerusalem is simbolies van wat in ons diepste stryd gebeur..

Toe Jerusalem verslaan is, was dit nie net verower nie — dit was heeltemal afgemaai. Die oorwinnende Persiërs wou seker maak dat die Israeliete nooit weer hulleself sou versterk nie, Daarom het hulle alles vernietig: die Tempel, die waterputte, die beskermende buitemure.

Dit is die perfekte beeld van wat die vyand aan ons in ons stryd doen. Hy werk daaraan om elke bietjie geestelike infrastruktuur wat Christus opgebou het, af te breek. Gebed, aanbidding, Bybelstudie — kortliks, ons getroue gemeenskap met die Here — alles gaan by die venster uit terwyl ons gejaag word deur ‘n oorweldigende gevoel van skaamte.

Dit was by hierdie punt in Israel se ballingskap dat God die hart van Nehemía  aangeraak het. Hierdie man was gedring om toe te sien dat Jerusalem se mure herbou word en God het die weg gebaan sodat dit gebeur het. Sê vir my, wek God ‘n soortgelyke passie in jou op terwyl jy hierdie boodskap lees? Wil jy jou eerste liefde herstel sien? Word jy getrek na ‘n hernude passie vir Jesus om Hom weer as Koning in jou hart te sien?

Miskien het teleurstellings jou laat afdraai na “sabbat wynmakery” in plaas van ‘n lewe-gewende gemeenskap met jou Verlosser. Of miskien dink jy in jou toestand, “Ek is so ver weg van die Here af dat dit te ver is om terug te gaan. Ek sal baie jare in berading moet spandeer.”

Op grond van God se Woord, wil Ek verskil. Hoe lank het dit Nehemía  en sy groep werkers geneem om Jerusalem se magtige mure te herbou? Twee-en-vyftig dae. Dit is minder as twee maande — nie eens die bouspan van ‘n moderne stad sou dit kon bereik nie. Maar omdat God hierdie dienaars sy visie en passie gegee het, het die spannetjie bouers getrou gewerk — en ‘n glorieryke werk was in ‘n baie kort tyd bereik.

Wanneer God aan die beweeg is, veroorsaak Hy dat glorieryke dinge gebeur. En dit neem Hom nie lank om jou gees te herstel nie. Hy vra jou net om jou oë van omstandighede af te haal omdat Jesus alreeds jou oorwinning behaal het. Sien jy jou glas as half leeg? Hy het dit andersom verklaar. En Hy het reeds begin met die vinnige werk van die herstel van jou geestelike mure.

Nehemía  het gesien hoe God se volk met die een hand die stad se mure herbou het, terwyl die ander een dit afgebreek het.

Nehemía  het ‘n vreemde mengsel in die mense gesien. Nie lank tevore nie het die mense geween en aanbid en tot God uitgeroep. In plaas daarvan om ‘n hart van berou en dankbaarheid te behou, het hulle egter aan die dinge wat hulle vernietig het, vasgehou — en dit sou hulle weer vernietig.

Is dit nie wat sommige Christene vandag doen nie? Hulle gaan kerk toe en aanbid op ‘n Sondag terwyl hulle Maandag in die kroeg is. Hulle lees God se Woord in die aand en staar na web pornografie laat in die nag. Beskryf dit jou lewe? ‘n Dubbelhartige toestand wat jou in slawerny hou. Dit weerhou jou van heerlike aanbidding by die kerk, terwyl dit jou God se werklikheid laat bevraagteken. Jy het so baie gesondig dat jy wonder of God ooit ‘n werklikheid in jou lewe was: “Is daar so ‘n ding soos oorwinning? Of was daardie tye net my verbeelding?”

Dit is vir Christene moontlik om so dubbelhartig te raak in hulle doen en late dat hulle elke spoor van oorwinning en vryheid uitwis. Laat my jou die goeie nuus vertel: Die werk wat Nehemía  namens Israel gedoen het, is dieselfde werk wat die Heilige Gees namens ons doen vandag. Hy het in die besonder drie dinge gedoen wat openbaar wat God nou vir ons doen.

1. God beveel dat die hekke gesluit moet word. “En sodra dit in die poorte van Jersusalem voor die sabbat donker was, het ek gesê dat die deure gesluit moes word; en ek het gesê dat hulle dit nie mag oopmaak tot ná die sabbat nie, en van my mense het ek by die poorte aangestel: geen vrag het op die sabbatdag mag inkom nie” (Nehemía 13:19).

God het begin om jou probleem aan te spreek selfs nog voor jy geweet het dat jy ‘n probleem het. Nehemía  het nie daardie wynmakers beveel om op te hou nie. Hy het reguit na die stadsmure gegaan om die bron van hulle besigheid af te sluit. Dit is die soort aksie wat die Puriteine “voorgaande genade” noem. God doen dit om die omstandighede wat tot jou versoeking lei te verhoed.

Ek glo dat jy sal sien hoe die Gees van God die deure na jou versoeking, wat dit ook al is — woede, drank, pornografie — sal toemaak. Hierdie “voorgaande genade” kan van buite af kom of dit kan ‘n skielike oplewing binne-in jou wees. Beide maniere is God se plan van aksie wat ontvou om die magte wat teen jou kom te konfronteer.

2. God dryf nie net die versoekings uit jou lewe nie, maar Hy hou hulle weg. “En van my mense het ek by die poorte aangestel: geen vrag het op die sabbatdag mag inkom nie. Toe het die koopmans en handelaars in allerhande koopware ‘n paar keer buitekant Jerusalem vernag” (Nehemía 13:19-20).

Daardie versoekende magte het steeds buitekant die mure gekamp en gewag vir ‘n oomblik van swakheid waarin hulle weer kan inkom. Inderdaad, versoeking lyk asof dit altyd naby is. Maar God se Gees staan wag by die hek om te verhoed dat die magte van versoeking weer inkom.

Wat ‘n genadige werk is dit nie wat die Here doen nie. Hy dryf nie net ons sondige versoekings uit nie — ons neerslagtigheid, ons woede, ons verslawing — maar Hy hou dit getrou buite. Hy weet dit is iets wat ons nie op ons eie kan doen nie. Ons mag vrees en dink, “Here, op enige oomblik kan ek weer neerslagtig word. Ek kan in woede uitbars. Ek kan teruggaan na alkohol of pornografie.” Maar Hy staan getrou wag by die hekke van ons hart.

Op sy beurt, nooi God ons om Hom na die bron van ons versoeking te bring – ons hartseer, ons woede, ons teleurstelling — omdat Hy dit deur intieme gemeenskap met Hom wil aanspreek en genees. Dit is die genesende werk wat die kern en hart van sy sabbatsgebod is: Ons vind blywende oorwinning alleen in sy teenwoordigheid. Dit is reg — beide ons verlossing en ons heiligmaking kom deur voortgesette gemeenskap met die Vader.

3. God sê aan ons humeur, “Staan terug!” “Toe het die koopmans en handelaars in allerhande koopware ‘n paar keer buitekant Jerusalem vernag. Maar ek het hulle gewaarsku en vir hulle gesê: Waarom vernag julle voor die muur? As julle dit weer doen, sal ek die hand aan julle slaan. Van dié tyd het hulle nie meer op die sabbat gekom nie” (Nehemía 13:20-21).

Ons het ‘n bron wat so diepgaande, so kragtig, so dinamies en heerlik is, dat dit werklik ons humeur bedreig. Jesus self staan tussen Satan en ons en wanneer die vyand ookal aankom, keer ons Verlosser hom in sy spore en sê, “Staan terug! Jy kom teen ‘n mag te staan wat jou sal vernietig. Hierdie hek is nie een wat jou sal inlaat nie, duiwel — dit is hier om My te laat uitgaan sodat ek jou kan vasvat. En wanneer dit gebeur, gaan ek jou vermorsel.”

Satan weet dat God ernstig is. Daarom roep hy van buite die hek na ons, “Jy kan nie vir ewig vry wees nie. Jy dink jy is sterker as jou voorvaders? Hulle kon ook nie vry bly nie. Dit is jou natuur om terug te kom vir meer. Maak dan nou hierdie hekke oop en laat my binne kom.”

Jesus sê anders. Hy vra vir Satan, “Waarom vernag julle voor die muur?” (Nehemía 13:21). Met ander woorde: “Waarom mors jy jou tyd? Jy gaan nie my geliefde oorwin nie. Ek is sy oorwinning. Jy staan nie ‘n kans nie. Neem nog ‘n tree en Ek sal jou onder my voete vertrap.”

Dit is die krag wat ons het! Die God van die heelal is ter wille van jou aan die werk — dryf jou vyand uit, staan wag om hom te keer om weer binne te kom en om ons gebroke gees te voed en te genees deur gemeenskap met Hom.

Soms sal ons versoek word om terug te val in ons ou patroon van sonde. Maar daar is nie ‘n probleem in ons lewens – geen gewoonte of emosie – wat Jesus nie mag oor het nie. Daar is geen vyand wat Hy nie buitekant die muur kan hou nie. Hy sê eenvoudig net vir ons, “Hou jou oë op My — Christus, jou oorwinnaar — dit is die laaste sien van die vyand. Hy mag jou teister, maar Ek sal voortdurend wag staan by die muur van jou hart.”

Vra die Heilige Gees, “Here, wees vir my die stem van Nehemía  in my selfvoldoening. Konfronteer die sonde wat ek verdra. En herstel my geestelike mure. Genees dan die bron van dit alles — my eensaamheid, my depressie en my hartseer.

“Here, Ek vertrou dat U my binne U veilige mure sal hou. U is my oorwinning in alles. Herstel my dan nou in die regte verhouding met U. En help my om weer na U terug te keer in alle dinge, selfs my mislukkings. Dan sal ek U oorwinning en vryheid ken. Amen.”

Download PDF