Wie Bewaak die Voordeur? | World Challenge

Wie Bewaak die Voordeur?

David WilkersonFebruary 7, 2000

Vandag is Amerika se kinders ‘n verlore geslag. Geen ander generasie van kinders, in die geskiedenis, was so gepla met seks, verdowingsmiddels, alkohol, hebsug en moord nie. My vraag is wie se skuld is dit?

Almal weet dat iets vreesliks in ons volk se skole gebeur het. Misdaad en geweld het so alledaags geword, dat baie skole nou metaalverklikkers het. Seuns in die sewende graad kan gewere in die hande kry en hulle klasmaats afmaai, sonder enige berou.

Ons opvoedingstelsel het beroerd en verdorwe geraak. Onderwysers onderrig leerlinge in ateïsme, evolusie, homoseksuele lewenswyses, permissiewe seksuele houdings, anti-godsdienstige dwepery. ‘n Onderwyser mag nie ‘n Bybel op sy tafel hê nie, - maar hy kan literatuur oor onderwerpe soos kommunisme tot pornografie, uitstal.

Sedert ons geregsisteem God uit die skole geskakel het, het Satan oorgeneem. Maar ek is oortuig dat dit nie die korrupte skoolsisteem is wat ons kinders verdoem het nie.

Ons hele samelewing het agteruit gegaan. Kulturele programme en kuns uitstallings het vuil en vulgêr geraak, en godslastering het alledaags geword. Selfs gerespekteerde leiers in regerings- en besigheidsposisies gebruik vuiltaal vrylik. Hulle vloek Christus en verdoem God se naam sonder om dit eers agter te kom.

Amerika se morele ineenstorting het so dreigend geword dat selfs liberale ateïste erken dat ons fondasies bedreig word. Tog is dit ook nie ons korrupte samelewing wat ons kinders bedreig nie.

Die media in sy geheel, lyk asof dit deur demone beheer word. MTV is die duiwel se privaat netwerk, met Satan self as CEO (hoof-uitvoerende beampte). Musiek video’s is niks meer as wellustige pornografie met self, demoraliserende lirieke.

‘n Mens wonder watter soort demoon-besete mense kon sulke perversie oor ‘n hele generasie jeug gestoot het. Die verkopers van hierdie helse vuilgoed het duidelik eers hulle eie lewens vernietig, en sal nou nie rus voordat hulle ‘n hele geslag saam vernietig het nie. Tog is dit ook nie die bose musiekwêreld wat ons jeug vernietig nie.

In die advertensie wêreld, verkoop seks enige ding. Geen seksdaad word nog as sonde erken nie. Alles is aanvaarbaar, sodat Amerika met elke verbygaande uur dieper in losbandigheid versink. Dit word alles aangemoedig deur die helse magte. Tog, hoe sleg die advertensie wese ook geword het, hulle is ook nie verantwoordelik vir die ondergang van ons jeug nie.

‘n Mens kan selfs wonder wat is die invloed van ‘n slapende kerk wat deur kompromie wêreldse vuilheid in die kerk toelaat. Baie pastore ontken deesdae dat daar ‘n hemel en ‘n hel is en ook die maagdelike geboorte van Jesus. Die kerke het leë doppe geword, wat die gedaante van heiligheid het, maar kragteloos is. En hulle dienste het so laf geword dat die jeug weghardloop. Jong mense gee pad omdat hulle dink dat die Christendom ontoepaslik is in hulle lewe.

Baie sangleiers het psalms en gesange verplaas met “rock” musiek wat Jesus net terloops noem. In plaas van heilige aanbidding, bied kerke nou “punk-rock” konserte aan, waar onheilspellende, getatoëerde orkeslede wild loslit dans, en so God se huis besoedel met die bose musiek van rebellie. En tog, hoe droog en wêrelds, die kompromerende kerk ook al geword het, is dit ook nie hierdie kerk wat ons kinders verdoem nie.

Baie ouers, Christene ingesluit, blameer al die voorgaande vir die verlorenheid van die jeug. As hulle kinders wegdwaal blameer sommige ouers al hierdie dinge; skole, regering, media, die kerk, vriende. Sommige neem hulle kinders uit die skool en sit hulle in Christelike skole. Maar, dikwels word hulle kinders se rebellie erger.

Selfs onbekende ouers doen dit met hulle kinders. Hulle wil niks met godsdiens te doen hê nie – maar hulle stuur hulle kinders na die Sondagskool in die hoop dat hulle daar positiewe lewenswaardes sal ontvang. Hulle verwag dat binne een uur elke week, die onderwysers by magte sal wees om hulle jong rebelle in engele te verander. Maar as dit nie gebeur nie, blameer daardie ouers die kerk vir die chaos wat die kind huis toe bring.

Al die magte waarvan ek gepraat het speel ‘n rol in die tot niet gaan van die jeug. Maar nie die skole, kulture, media, bose musiek of lou-warm, vervalle kerke kan uitsluitlik hierdie verval bewerk nie. Die waarheid is, die verantwoordelikheid vir die generasie rus hoofsaaklik op die ouers. Die ouerhuis is die plek waar die saad van rebellie en boosheid gesaai word.

Ek moet die ouers vra: Weet julle waar julle kinders is terwyl julle rondry om ‘n seën te soek? Verloor julle, julle kinders in julle soektog? Julle mag getuig dat God julle verander het, maar is julle huisgesinne in verval, met kinders wat nog tekens van rebellie toon, dan het julle God se beste seën verbeur.

Het die nuwe aanraking van God vir julle ‘n hernude las vir julle kinders gegee? As dit nie so is nie, hoe kon jy in die Here se huis sit en selfsugtig geniet van sy teenwoordigheid en ongeërg bly oor die duisternis in jou eie huis?

Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek is nie gekant teen herlewingsdienste en geestelike manifestasies nie. Ek het ware geestelike herlewings en die werking van die Heilige Gees ervaar. As ‘n bedienaar van die Woord weet ek dat die werking van die Gees ons hoogmoed breek, ons geestelike louheid openbaar en ons gees hernu. Ek blameer ook nie die ouers vir alle rebellie van die jeug nie. Daar is ander oorsake van hulle wêreldlikheid.

Laat ek u ‘n definisie van ware herlewings gee: Dit vind plaas as die mure en hekke van God se huis herstel word. En hierdie mure en deure sluit elke Christelike huis in. Laat ek verduidelik.

Toe Nehemia en 43,000 ander Joodse ballinge teruggekeer het na Jerusalem, vind hulle die stad in totale verval. Die mure was afgebreek en die poorte weggedra; die inwoners het geen beskerming gehad teen hulle vyande nie. En ‘n hele groep antagoniste, Sanballat, Ammoniete, diewe en kriminele, het die stad beroof na harte lus.

As gevolg van Israel se verval en ongehoorsaamheid was hulle oorgegee aan hulle vyande. Nehemia skryf, “… as gevolg van ons sondes; die konings maak met ons en ons vee soos hulle wil. Ons verkeer in groot nood” (Nehemia 9:37).

Jerusalem is hier ‘n voorbeeld van Jesus Christus se kerk, soos dit vandag daar uitsien. Baie Christene is, soos die Israeliete, totaal oorgegee aan die sonde. Die ongeregtigheid in God se huis het verdriet, gebondenheid, vergiftiging dwarsdeur die liggaam van Christus laat versprei.

Hoe het dit gebeur? Die mure van die waarheid is afgebreek – daardie beskermende skeiding wat onstaan as gelowiges op die Woord van God bly staan. As gevolg van sonde en kompromie, val daardie beskermende poorte en laat baie Christene oop vir die aanvalle van Satan.

Maar Nehemia verteenwoordig God se plan van heropbou. Hierdie man het geweet dat as ‘n ware herlewing moet plaasvind, dan moet daar ‘n veilige, beskermde muur van waarheid rondom God se volk wees.

Wat doen Nehemia? Loop hy rondom die vervalle muur en roep uit vir ‘n bonatuurlike manifestasies van herlewings? Nee! Die enigste manifestasies na Nehemia se aankoms, was mans en vroue met pik en graaf in hulle hande. Hulle het die moeilike werk gedoen van die heropbou van die vervalle mure en poorte. En Nehemia was vooraan.

Hierdie opbouings werk begin die oomblik toe Nehemia die las van die vervalle huis van die Here, op sy skouers geneem het. Toe Nehemia die verdrukking en vernedering van God se volk gesien het, val hy op sy knieë en roep uit: “Die muur van Jerusalem lê om, en die stadspoorte is verbrand” (Nehemia 1:3).

Wat doen Nehemia daarna? Hy vas en bid dag en nag, terwyl hy Israel se sonde bely: “By die aanhoor van die woorde het ek gaan sit en gehuil en dae lank getreur. Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid” (vers 4).

So begin ware herlewings – as ‘n godvresende Nehemia-bende die Here se las, vir ‘n kerk wat in sonde verval, opneem. Hierdie bende sal vas en bid, en God smeek om die mure en poorte te herbou wat sy volk van elke vyand sal beskerm.

Mure en poorte beteken niks as daar nie poortwagters is wat weet wat mag ingaan en wat nie. Daarom sê Nehemia: “Toe die muur voltooi is, het ek die deure gehang en poortwagte, sangers en Leviete aangestel” (Nehemia 7:1).

Hierdie poortwagters was nie noodwendig priesters nie. Hulle was mense van elke nering – musikante, draers, ens. Hulle opdrag was: “Moenie die poorte van Jerusalem oopmaak voor die son warm is nie en maak die deure weer toe en grendel hulle terwyl die poortwagte nog op hulle pos is” (vers 3).

God het vir sy mense gesê: “My huis sal ‘n plek van lig wees, sonder enige duisternis. Laat almal wat hier inkom soos ‘n oop boek wees, onderwerp aan die lig van my Woord.”

Ek het onlangs die tragiese verhaal gehoor van die predikant van ‘n baie groot kerk. Hierdie man was goed bekend in sy area, en hy is betrap op egbreek en die wanbesteding van kerkfondse. Party van die godvresende ouderlinge van die area het bekommerd geraak en het die kerkraad van die betrokke kerk gaan sien. Hulle het voorgestel dat die predikant ‘n rus tydperk van ses maande sal kry. Daarna sal hulle, hulle om hom skaar om ondersteuning, dissipline en herstel te help bewerk – volgens die Skrif.

Maar die kerkraad het die hulp verwerp. Hulle het besluit om hulle predikant te behou, sonder enige dissipline. Hulle het gesê, “Ons wil nie ons predikant se preke mis nie. Hy is so ‘n begaafde spreker. In elk geval is hy ‘n goeie man, ondanks alles. ‘n Lekker maat vir ons. Julle weet ons het almal ons swakhede.”

‘n Vrou in die gemeente het gesê: “Ek gee nie om wat hy doen nie. Sy prediking is die enigste manier waarop ek my ongeredde man in die kerk kan kry. Ek stem dat hy aanbly.”

Hierdie mense het almal ‘n duidelik opdrag van God gehad om poortwagte te wees. Maar hulle het geweier om hulle poorte teen duisternis te sluit. Ongelukkig het hulle hulself laat verblind deur menslike bande.

Ek sê vir elke ouderling wat hierdie boodskap lees, die ouderlinge van “Times Square Church” ingesluit: Moet nooit toelaat dat jou bande met jou predikant jou sal verblind vir God se Woord nie. Jy is deur God aangestel as ‘n wag by sy poorte. As enigiemand ‘n boodskap in julle kerk bring wat nie Skrifgetrou is nie, is dit julle plig om hom, in liefde, reg te help.

Ek sê nie dat ouderlinge dominerend moet wees nie. Ek het eenkeer die ervaring gehad van so ‘n groep, in my eerste gemeente. Die streng ouderlinge van daardie gemeente, het elke predikant wat hulle in die afgelope dertig jaar gehad het, verdryf.

Ek was net negentien toe ek daar gekom het, en elke negentienjarige maak foute. Maar eendag het vier van die ouderlinge my eenkant toe geroep, en my daarvan beskuldig dat ek ‘n diktator is. Hulle het my oorweldig met hulle beskuldigings, ek kon nie ‘n woord inkry nie. Die was die ergste ervaring van my jong lewe.

Toe dit verby was, was my enigste antwoord, “God se Woord sê dat ‘n mens nie sy gesalfde moet aanraak nie. As julle dus glo dat God my gesalf het om as prediker in hierdie gemeente te dien, dan is dit verkeerd om my so aan te val. Ek laat julle in God se hande.” Ongelukkig het al vier hierdie ouderlinge, binne ‘n kort tyd, onder die Here se oordeel geval.

As poortwagters moet ons die poorte van God se huis in nederigheid bewaak – deur vas, gebed en liefdevolle omgee uitgedruk in die vrees van God.

Volgens Nehemia moes daar nie net wagte by elke stadspoort wees nie, maar by elke huis. In kort kan ons sê dat die ouers van elke familie verantwoordelik is, vir wat in hulle huis inkom.

God se boodskap is hier helder en duidelik: Vaders en moeders julle is verantwoordelik om julle huise te bewaak van elke demonise mag wat wil inkom. Dit beteken dat julle verantwoordelik is vir elke boek, elke bandjie, elke vriend wat deur julle deur inkom. Julle is verantwoordelik vir elke invloed in julle huis of dit televisie, video’s of Internet is.

Ek glo dat ouers vandag meer wysheid en onderskeiding nodig het, as ooit tevore. Satan het baie meer duiwelse uitvindings en subtiele vermommings om teen God se volk te gebruik. Slegs deur daaglikse, volgehoue gebed en ‘n bestudering van God se Woord, sal ons die krag verkry om ons huise te bewaak.

Voordat ek verder gaan, wil ek alle enkelouers bemoedig: God ken jou stryd om sowel vader as moeder te wees, vir jou kinders. Tog bly sy opdrag aan jou dieselfde: Jy is die deurwag van jou huis. Jy kan nie wag vir ‘n maat om in te kom en die werk vir jou te doen nie. Die Here beloof om genade en krag te voorsien as jy sal opstaan vir sy Woord, in jou huis.

As ek aan daardie twee seuns in Colorado dink wat hulle klasmaats en hulleself vermoor het, dan wonder ek: Waar was hulle ouers? Daardie seuns het pyp bomme in die motorhuis gemaak. Hulle kamers was vol van aanduidings van waarmee hulle besig was: haat-materiaal, dreigbriewe, swart jasse en hoede. Het hulle vaders nie af-en-toe gaan kyk wat hulle doen nie? Het hulle moeders nooit hulle kamers gaan skoonmaak en al die demoniese rommel gesien nie? Blykbaar was daar geen wag by daardie deur nie.

As ek vandag die tieners sien met deurboorde tonge, demoniese simbole en spykerhare, dan weet ek wat dit beteken. Sulke kinders skree uit: “Pa, Ma, julle verwaarloos my! Julle is te besig – julle sien my nie eers raak nie!”

Eendag gaan ons voor God se troon staan en verantwoording doen vir hoe ons, ons kinders groot gemaak het. Op daardie oomblik sal ons nie verskonings kan maak of iemand anders kan blameer nie. Daarom moet ons onsself vandag ondersoek, en vra: Het ons, ons kinders in die vrees van die Here grootgemaak? Het ons vir hulle ‘n lewe van liefde en respek vir God voorgeleef?

Ek onthou dat ek as seun buite gespeel het en kon hoor hoe my moeder vir my op die derde verdieping van ons huis gebid het. Haar voorbeeld is my nog helder voor oë. Later, toe ek en Gwen ons kinders grootgemaak het, het ons dieselfde gedoen, vir ons kinders gebid soos die Spreuke boek sê: “Here, maak ons seuns soos eikebome langs die water van die lewe. En ons dogters soos gepolleerde stene in U paleis. Bewaar hulle teen die bose.”

Elke Christen ouer het groot verwagtinge vir hulle kinders. Ek sien dit gereeld in ons eredienste as ouers hulle kinders bring om ingeseën te word. Ons pastorale personeel bid God se liefde en beskerming af oor hierdie kinders. Dan salf ons hulle en vra dat die Heilige Gees ‘n muur van vuur om hulle sal wees.

Maar af-en-toe kan ek nie help om te wonder: Hoeveel van hierdie kosbare kinders gaan in die duiwel se kloue beland – deur verdowingsmiddels, en misdaad – want hulle Pa en Ma het die geestelike atmosfeer van hulle huis laat verval? Sal hulle in vernietiging eindig omdat hulle Pa en Ma in hulle eie probleme vasgevang geraak het, en nooit aandag en dissipline gegee het nie?

Miskien is jy ‘n ouer wie se hart seer is, omdat jou opgegroeide seun of dogter nie die Here dien nie. Of miskien is jy gebroke omdat jou jong kind verslaaf is aan verdowingsmiddels of drank. Jy het jou eenmaal sagte kind, sien bitter en verlore en hard word.

Hierdie boodskap wil jou nie veroordeel nie. Niemand kan sy verlede terug kry nie. Maar ek wil vir jou vra: Kyk terug oor jou jare as ouer, vra jouself af: Was jy ‘n wagter oor jou huis? Het jy daagliks vir jou kinders gebid? Of was jy te besig? Het jy jou kinders toegelaat om jou te intimideer?

Dit is nou in die verlede. Tog bly daar iets oor wat jy kan doen. Jy het ‘n roeping om as wagter te bid vir jou kind se bekering. Ja, jy kan wel nie deur jou gebed opmaak vir wat jy in die verlede verkeerd gedoen het nie. Maar jy kan nog die Here se aangesig soek en jou kind omvou met gebed, en die Heilige Gees se oortuiging afsmeek sodat hy na die Kruis kan kom. Ek moet u egter waarsku – as u kinders teruggeval of onbekeerd is, moet nie vir hulle preek nie. Bid eenvoudig net. ‘n Mens kan niemand in die koninkryk van die hemel inneul nie. Baie verslaafdes het vir my gesê: “My ore tuit van my Ma se geskree. Ek kan haar tot om die hoek van die straat nog hoor.”

Daar is geen ware krag daarin om te skree nie, want alle mag is aan die Heilige Gees gegee. Laat die respek vir God se Woord jou bemoedig. As iemand deur jou deur inkom, behoort hy God se teenwoordigheid te ervaar, sonder dat ‘n woord gesê is. En totdat jou kinders volwasse is, is jy die bewaker van die huis wat die outoriteit het om alle reëls neer te lê.

Die Skrif sê duidelik dat as jy jou kinders met die outoriteit van die Skrif grootmaak, sal hulle nie later daarvan wegbreek nie. Hulle mag wegdeins vir ‘n tyd, selfs vir jare – maar uiteindelik sal dit hulle terugbring na die waarheid.

Die Bybel gee hoop vir alle ouers wat treur oor ‘n afvallige kind.

Hier is ‘n verbonds belofte wat elke ouer moet onthou. Dit geld vir sowel kinders wat verlore gaan en vir hulle wat nog onder jou sorg is:

“Maar luister nou, my dienaar Jakob, Israel wat Ek uitverkies het: So sê die Here wat jou gemaak het, Hy wat jou gevorm het in die moederskoot en jou nou nog help: Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob, Jesurun wat Ek uitverkies het. Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope” (Jesaja 44:1-4).

Hierdie belofte word ook vandag aan ons gegee. Die trooswoorde word aan almal gegee wat uitgekies is (sien vers 1) – bedoelende almal wat in Christus is.

Die Here begin deur vir ons in vers 1-2 te sê: “Ek is die Here wat jou gemaak het, en ek ken jou pyn. Ek gaan jou nou help. Jy hoef nie bang te wees nie.” Die woord vir Jesurun beteken “regverdige”. Met ander woorde, God maak hierdie belofte aan sy regverdiges – glorieryke, bindende, verbonds beloftes. Die belofte is:

  • God sal water voorsien om ons dors te les: “Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond” (vers 3). Het die Here aan jou hierdie dors-lessende woord gegee? Het Hy na jou toe gekom in jou droogte en jou siel oorspoel? Drink jy die suiwer water van sy Woord?

As dit so is, kan jy ‘n ander belofte aanneem:

  • “Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope” (vers 3-4).

Soos julle weet, groei wilgerbome vinnig en hoog en wyd. ‘n Mens sien hulle langs strome water. God sê hier: “Omdat julle my uitverkorenes is, gaan ek my Gees oor julle kinders uitstort. En ek sal hulle groot en sterk, in die Here laat word.”

As julle hierdie verse oorlees, vul julle verlore kind se naam daarin. Eis die Here se belofte terwyl jy bid, “Here, U het gesê U sal U Gees oor my kind uitstort. Seën nou my kind, Michael. Giet U Gees uit oor klein Susan. Laat hulle altwee dors na U lewende water.”

  • Ten slotte sê God dat jou kinders sal sê: “Ek behoort aan Christus” (vers 5). Wat ‘n ongelooflike belofte.

Tog is hierdie beloftes nie vir elkeen wat net sê, “Ek behoort aan Christus” nie. Dit is slegs vir honger en dorstige ouers – hulle wat daagliks in God se Woord delf, wat gereeld bid en die Heilige Gees vra om daagliks sy krag aan hulle se skenk.

As dit jou beskryf, dan mag jy op God se beloftes reken. Eien dit vir jouself toe, en bring die beloftes voor God in jou voorbidding. Omvou jou familie in gebed en kyk hoe die vyand vlug.

Download PDF