Wys Ons U Heerlikheid | World Challenge

Wys Ons U Heerlikheid

Gary WilkersonJanuary 28, 2013

Ons verlang om te sien hoe kerke getransformeer en vervul word met die heerlikheid van God. Die boek Handelinge wys ons die weg.

In Handelinge 3, het Petrus en Johannes pas gesien hoe ‘n historiese geestelike herlewing by Pinkster plaasgevind het. Jesus se volgelinge het in die bovertrek bymekaar gekom toe die Heilige Gees oor hulle gekom het en almal in die plek met die Gees vervul is.Terwyl die skare buite aangegroei het, was Petrus deur die Gees opgewek om te preek — en het drieduisend mense tot Christus gekom binne ‘n enkele uur.

Petrus en Johannes het na die tempel geloop toe hulle ‘n bedelaar, wat nie kon loop nie, teëgekom het. Die man het vir aalmoese gesmeek, maar Petrus het vir hom gesê, “Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasárener, staan op en loop!” (Handelinge 3:11).

Die bedelaar is oombliklik genees. Dit was ‘n wonderwerk wat oral weerklink het: “En toe die kreupel man wat genees was, aan Petrus en Johannes vashou, het die hele volk uitermate verbaas na hulle gehardloop in die pilaargang wat Salomo s’n genoem word” (Handelinge 3:11). Dit was nog ‘n verstommende toneel waar God se heerlikheid geopenbaar is.

Ek wil vyf dinge uitlig oor hierdie toneel. Dit vertel ons heelwat oor God se heerlikheid en hoe Hy begeer om dit in mense se lewens openbaar te maak.

Die geneesde man het aan Petrus en Johannes “vas[ge]hou” (Handelinge 3:11). Dit is ‘n beeld van iemand wat onbeskaamd aan hulle vasgehou het, asof sy lewe daarvan afgehang het. Dit is asof hierdie man gesê het, “God se teenwoordigheid is werklik! Ek het hier vir jare gesit en smeek om hulp, maar ek het nog nooit so iets beleef nie. Hy het my siel aangeraak meer as wat ek al ooit beleef het!”

God hou daarvan om aan vasgehou te word. Hy hou van ‘n hart wat Hom najaag en tot Hom roep, “Here, U heerlikheid is te groot om dit te laat verbygaan. Ek hou vas aan die hoop wat U vir my gegee — hoop vir genesing, vir verandering, vir U teenwoordigheid in my lewe en in my wêreld.”

“Die hele volk” het kom kyk wat gebeur het (Handelinge 3:11). Wanneer God sy heerlikheid in krag openbaar, sal daar nie ‘n onbenullige reaksie wees nie. Die grootheid van sy krag vereis die aandag van almal in die omgewing.

Veronderstel hierdie bedelaar se wonderbaarlike genesing het plaasgevind by die kerk waar ek die herder is. Ons sou nie in staat wees om genoeg stoele te koop vir die hordes wat sou kom kyk nie. Ek verwys nie na die lummels wat van ‘n skouspel hou nie. Ons is almal honger vir God se aanraking in ons lewens. Gelowiges en ongelowiges het almal pyn, soos verlore skape sonder herder en honger vir wat waar is. So, wanneer God se heerlikheid gemanifesteer word en nuwe lewe bring, dan trek dit almal se aandag, nie net ‘n paar s’n nie.

“Die hele volk [was] uitermate verbaas” (Handelinge 3:11). Toe die mense sien dat die bedelaar genees is, was hulle verwonderd, “Niks wat ons ken, vergelyk hiermee nie. God is verseker in die plek!”

Laat my toe om jou te vra: Wil jy meer van God in jou lewe hê? Wil jy hê dat sy heerlikheid jou huis, jou huwelik en jou kinders se lewens binne kom en dinge so verander dat almal verstom sal wees? Raai wat? God wil dit hê!  Hy wil hê dat jy verstom moet wees oor sy heerlikheid en daardeur verander word. En Hy wil hê dat die wêreld rondom jou verstom sal staan oor sy heerlike krag wat nuwe lewe bring in die situasies waar mislukking die botoon gevoer het.

Die mense het “gehardloop” (Handelinge 3:11). Ek vra jou, sal jy nie ook hardloop nie? Die hemelse heerlikheid wat in daardie plek gemanifesteer het, was so werklik, suiwer en eg, dat mense daarnatoe getrek was soos ‘n magneet. ‘n Innerlike stem het hom vertel dat dit waarna hulle gehardloop het, liefde was. En dit het hulle ‘n sin van verwagting gegee: God was aan die beweeg en hulle honger siele was op die punt om volgemaak te word.

Watter man, vrou en kind sal nie hardloop na ‘n plek waar lewenslange probleme deur God beantwoord word en waar diep, wonderbaarlike genesing plaasvind nie? Dit is waarlik ‘n “Jesus-beweging.” En dit gebeur nie deur planne, vindingrykheid, of georganiseerde funksies nie; dit gebeur wanneer God opdaag. Wanneer God se heerlikheid geopenbaar word of deur getroue prediking of deur ‘n eenvoudige getuienis — sal mense daarna hardloop om dit te beleef.

Die mense het “na hulle gestroom” [Handelinge 3:11 (1983 Vertaling)]. Die woord “gestroom” is hier betekenisvol omdat dit impliseer dat die mense nie verby mekaar gehardloop het nie. Hulle het as een beweeg, in ootmoed oor die majestieuse krag van God se teenwoordigheid.

Sy heerlikheid het daardie effek op mense. Dit verenig ons in ons verwondering. Inderdaad, dit is God se begeerte vir ons — om ons verskille eenkant toe te skuif, om oortredinge te vergewe, om ons offers by die altaar te los en te gaan na hulle wat ons vergifnis nodig het of na hulle toe wat ons moet vergewe.

Ons kan nie verwag dat ‘n glorieryke God, wat verwondering in ons opwek, in ons midde beweeg as ons ‘n mond het wat kwaadpraat, ‘n hart het met wrokke of ‘n gees het wat weier om ander te vergewe nie. Hoekom sal ongelowiges na ‘n kerk hardloop waar ondeug en verdeeldheid heers? God se wonderwerke bind ons harte saam — maar hoe kan ons saamgesmee word as ons weier om ons verdeeldheid af te lê?

Waarom word God se heerlikheid nie in sommige kerke gemanifesteer nie, maar wel in ander?

Petrus het ‘n antwoord voorsien op die toneel by die Tempel. Hy het aan daardie verbaasde groep mense gesê, “Israeliete...die God van Abraham en Isak en Jakob, die God van ons vaders, het sy Kind Jesus verheerlik” (Handelinge 3:12-13).

God het al sy majesteit, heerlikheid en krag in een bron geplaas: Christus. Sy heerlikheid word nie bekend gemaak deur deftige en kragtige mense of deur briljante planne en vindingryke strategië nie. Sy heerlikheid word gevind in een enkele bron: sy dienaar Jesus.

Dit is die hoop van die kerk en dit was nog altyd so. As ons Christus se heerlikheid in ons lewens en in ons kerke wil hê, gaan dit nie kom deur ons krag of planne nie. Dit gaan kom deur onsself leeg te maak sodat Hy ons kan vul. Ons moet saam met Johannes die Doper sê, “Hy moet meer word, maar ek minder” (Johannes 3:30).

Jy mag vra, “Ek weet hoe om myself leeg te maak, maar hoe word ek met God se heerlikheid gevul?” Baie mense in die Ou Testament het dieselfde vraag gevra terwyl hulle geroep het, “Here, hoe lank voor U neerdaal en aan ons U heerlikheid wys?”

Moses het dieselfde uitgeroep. “Daarop vra hy: Laat my tog U heerlikheid sien” (Exodus 33:18). Met hierdie woorde het hy God gesmeek, gepleit en in sy siel gekreun, want dit was ‘n uitdrukking van ‘n nood wat eenvoudig net gevul moes word.

God moes tevrede gewees het met Moses se versoek, want Hy het ingestem om sy heerlikheid aan hom te openbaar. Hy het Moses opdrag gegee om agter ‘n rots weg te kruip en vinnig te kyk wanneer Hy verbygaan, want Hy het geweet dat selfs Moses nie in die helderheid van sy heerlikheid sou kon kyk nie. Dus het Moses net ‘n klein deeltjie van God se heerlikheid gesien — maar net daardie straaltjie van heerlikheid, het hom magtiglik aangeraak.

Die meeste van ons is geleer dat nadat Moses afgekom en Israel aangespreek het, moes hy ‘n sluier oor sy gesig sit omdat sy gesig so helder geskyn het. Die Skrif sê, “Toe Moses klaar met hulle gespreek het, het hy ‘n sluier oor sy gesig getrek” (Exodus 34:33). Dit was nadat Moses met die mense gepraat het dat hy sy gesig toegemaak het. Waaroor het dit gegaan?

Paulus verduidelik dit in Tweede Korinthiërs: “Nie soos Moses nie, wat ‘n bedekking oor sy aangesig gesit het, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die einde van wat moes vergaan nie” (2 Korinthiërs 3:13).

Paulus maak ‘n dapper stelling dat ‘n vorm van God se heerlikheid eintlik tot ‘n einde kom. Paulus het verwys na die heelikheid op Moses se gesig. Selfs die helder heerlikheid van God se teenwoordigheid sou uiteindelik verdwyn. Hoekom? Die skynsel op Moses se gesig was nie permanent nie.

Paulus het egter gesê dat daar ‘n soort van God se heerlikheid is wat nie verdwyn nie. “Want as wat moes vergaan, met heerlikheid was, veel meer is wat moet bly, in heerlikheid” (2 Korinthiërs 3:11). Paulus praat hier van God se heerlikheid wat in Jesus Christus alleen beliggaam is. “Terwyl ons dan sodanige hoop het, gebruik ons baie vrymoedigheid; nie soos Moses nie, wat ‘n bedekking oor sy aangesig gesit het” (2 Korinthiërs 3:12-13). As gevolg van Christus se heerlikheid, word ons soveel meer vrymoedigheid gegee as wat Moses ooit gehad het! Paulus verduidelik:

“Maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korinthiërs 3:16-18).

In Christus, het ons ‘n heerlikheid van binne wat nie verdwyn nie. Dit is waarom ons vrymoedigheid selfs dié van Moses oortref: Dit word bekragtig deur Christus se eie Gees. Die heerlikheid van die Here was op Moses vandat hy in die Here se teenwoordigheid was, en die mense was daardeur verwonderd. Maar Moses moes sy gesig toemaak om te keer dat die mense sien dat die heerlikheid verdwyn.

Vir ons is dit anders. As gevolg van Jesus, hou God se heerlikheid in ons nooit op nie. Dit hou aan om ons te verander “van verheelikheid tot heerlikheid.” Ons het ‘n permanente heerlikheid wat nie verander of verdwyn nie!

Wat ‘n wonderlike God dien ons nie? Hy sê, “Wanneer jy na my huis toe kom op ‘n Sondag om vervul te word met my heerlikheid, sal dit nie Maandag begin verdwyn nie. Dit sal nie teen Dinsdag minder word sodat jy moet verlang na volgende Sondag nie. Dit is nie My manier nie. My heerlikheid woon in jou te alle tye, en dit verdwyn nie, maar dit groei!”

Hierdie boodskap is nie net vir ‘n klein gedeelte van die liggaam van Christus bedoel nie. Dit is waar vir elkeen wat Jesus volg, van die swakste tot die sterkste, van die jongste tot die oudste. Die belofte van God om ons te vul met sy heerlikheid is ja en amen vir elke gelowige.

Soos Paulus verklaar het, Sy geopenbaarde heerlikheid bring vryheid — van gebondenheid aan sonde, van wanhoop en mislukkig, van louwarmheid en apatie. Daar is geen sluier meer vir hulle wat in Christus leef nie. Ons almal word verander deur sy heerlikheid na Sy eie beeld. Dit is die soort heerlikheid wat veroorsaak dat mense na God toe hardloop met onbeskaamde honger.

Dit is vir ons tyd om ontslae te raak van enigiets wat God se heerlikheid in ons lewens versluier. Is daar enigiets in jou hart wat verhoed dat God se heerlikheid ander na jou toe trek? Is daar kwaadpraat, bitterheid of onvergewensgesindheid in jou hart? Word jy belas deur gewoonte sondes?

Dit hoef nie so aan te gaan nie. Die sluier van vrees wat Satan oor jou geplaas het, sal nie meer werk nie. Sy leuen dat jy te swak is, sal nie oor jou heers nie. God sê sy heerlikheid rus op swak, aardse werktuie. Dit skyn deur mense wat gebroke is van hart, hulle wat in wroeging leef. Toe ons Here sy heerlikheid gemanifesteer het, het hy mislukking verander in oorwinning en vleeslike swakheid na hemelse krag.

Glo sy woorde vir jou: “Jy het nie nodig om soos ‘n mislukking te leef nie. Jy hoef nie sonder ‘n getuienis te leef nie. Ek sal myself aan jou bekend maak op maniere wat jou verstom sal laat. Verlore mense sal na jou toe getrek word deur jou lewe. En wanneer hulle getrek word, sal hulle sê, ‘Waarlik, die Here is in hierdie plek.’”

Download PDF