​Spanning in die Bovertrek | World Challenge

​Spanning in die Bovertrek

Gary WilkersonMay 20, 2019

Moeilike Plekke Betree om Groter Werke te Doen

Wanneer Christene die frase, “Bovertrek” hoor, kom een van twee Bybelse scenario’s in gedagte. Vir Charismate en Pinsterlinge, vind die vernaamste reeks gebeure plaas in Handeling 1 en 2. In Hoofstuk 1, het die dissipels bymekaargekom in die bovertrek van ‘n huis, en “het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met ’n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus, en met sy broers” (Handelinge 1:14, 1953 Vertaling). Dan, in Hoofstuk 2, het dinge werklik dramaties geraak.

“En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek” (2:1-4).

Dit was Pinkster en dit was ongelooflik. Die wonderwerk van tonge was net die begin. ‘n Skare mense in Jerusalem het gekyk na wat besig was om te gebeur, en Petrus het opgestaan om vir hulle te preek met groot salwing van die Heilige Gees. Toe het hy afgesluit en “die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring” (2:41).

Christene hou van hierdie storie van die Bovertrek omdat dit die groot beweging van God en die onmiddellike impak van die Heilige Gees demonstreer. Wanneer ons dink aan hierdie Bovertrek belewenis, is dit een wat ons graag sou wou hê.

Hierdie reeks gebeure in Handelinge 1-2 is eintlik die tweede Bovertrek belewenis wat genoem word in die Nuwe Testament. Die eerste Bovertrek belewenis is vroeër, in Johannes 13. Dit vind plaas op die nag voor Christus se kruisiging, en dit sluit ook ‘n preek in, hierdie een deur Jesus self gelewer.

Jesus het geweet dit was sy laaste nag saam met sy vriende, die dissipels, voor sy dood. Hy het sy hart vir hulle oopgemaak op ‘n intieme manier. Vir Hom, was dit ‘n nag om geestelike besigheid te doen: Hy het reguit in die hulle harte ingespreek met harde woorde van uitdaging en tugtiging. Jesus het hulle gekonfronteer oor verraad, verloëning en weiering om sy dood te aanvaar, en Hy het dit alles in liefde gesê. Soos die Psalmdigter skryf, “Kyk, U het ’n welgevalle aan waarheid in die binneste” (Psalm 51:8).

Wat ‘n teenstelling is dit met die ander Bovertrek belewenis in Handelinge wat plaasgevind het ná Jesus se opstanding. Daardie tweede belewenis was ‘n ervaring van God se tasbare teenwoordigheid, redding, feesviering en blydskap. Hierdie een, in teenstelling, was moeilik. Om hierdie soort harde ervaring te hê, is net so belangrik vir ‘n Christen as om die feesvierende soort te hê. Trouens, soms moet dit plaasvind voor ‘n blye Bovertrek belewenis kan gebeur. In die eerste Bovertrek, het Jesus ons behandel op die manier wat Hy met sy dissipels gedoen het; besigheid gedoen met ons harte, ons geroep om eerlik te wees met Hom en ons harte met syne in lyn te kry. Dit is alles deel van sy groter plan vir ons.

Jesus roep ons na die eerste Bovertrek sodat niks ons sal verhinder om die tweede Bovertrek te beleef nie.

Niemand van ons gaan gewillig deur die eerste Bovertrek tipe belewenis nie. Ons almal wil die tweede soort hê. Ons wil God baie liewer sien werk op kragtige maniere as om gekonfronteer te word met sy bestraffing. Dit was sekerlik waar vir die dissipels. Hulle het wonderwerke, genesings en seëninge gesien gebeur, en natuurlik wou hulle meer beleef. Hierdie dinge het met hulle gespreek oor God se lewende teenwoordigheid in die wêreld, en toe Jesus vir hulle gesê het Hy sou hulle verlaat, het dit die einde daarvan beteken.

In Matthéüs se evangelie, toe hierdie onderwerp ter sprake gekom het, het Petrus geweier om dit te hoor. Jesus se bestraffing van hom was hard. “Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense” (Mattéüs 16:21-23).

Die meeste van ons hoop om nooit hierdie soort ontmoeting met Jesus te hê nie, maar dit is egter bestem om keer op keer te gebeur in ons wandel met Hom. Dit is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie. Dit was nie die enigste tyd wat dit in Petrus se lewe plaasgevind het nie. Selfs ná die wonderwerke van Pinkster, was die hardkoppige dissipel gekonfronteer met moeilike uitdagings en heilige bestraffings. Dwarsdeur ons lewens, beleef ons beide Bovertrekke in siklusse; dit is die manier waarop dit behoort te gebeur. Die tweede belewenis gebeur egter slegs met diegene wat gewillig is om die eerste soort herhaaldelik te beleef, sodat hulle harte heeltyd kan verander, genees, getransformeer en vernuwe kan word deur die Heilige Gees se liefdevolle hand.

Miskien leef jy tans in hierdie spanning. Jou lewe weerspieël nie ‘n tweede Bovertrek belewenis nie, maar miskien is dit omdat jy nie gewillig is om die eerste een deur te gaan nie. Jy smag daarna dat die dinge van God lewend word in jou, maar jy wil sekere dinge wat dit verhoed nie laat staan nie. Indien wel, is daar slegs een ding om te doen: bid tot Jesus om jou in die eerste Bovertrek te ontmoet.

Daar is altyd spanning in die eerste Bovertrek, met opset.

Toe Jesus se woorde begin insink het by die dissipels, was daar vrees, onsekerheid, spanning. Hoe sou hulle lewens lyk sonder die heerlike koninkryk wat Jesus gebring het? Die gedagte hieraan moes hulle verwar het. Hule het gesien dat gebreklike mense herstel word en honger skares gevoed word met ‘n paar mandjies krummels. Hulle het selfs gesien hoe Jesus op water loop! Hoe sou hulle wêreld nou lyk sonder daardie dinge? Wat het dit oor die Vader gesê dat hierdie wonderwerke nou afwesig sou wees op die aarde? Wat sou met hulle geloof gebeur?

Jesus het die harde waarheid aan die dissipels voorgestel. Vroeër in sy bediening, het sy moeilike sêgoed veroorsaak dat skares van Hom af weggegaan het. Op een stadium het Hy na die dissipels gedraai en vir hulle gevra, “Wil julle nie ook weggaan nie?” (Johannes 6:67). Hy kon maklik vir hulle nou weer dieselfde vraag gevra het, in die Bovertrek voor sy kruisiging.

Gelukkig, selfs met die heel moeilikste waarhede, laat staan die Here ons nooit op ‘n plek van wanhoop nie. Nadat Hy daardie harde dinge vir die dissipels gesê het, het Jesus hulle gevoed met woorde van lewe: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle” (14:1-4).

Watter wonderlike beloftes! Daar is geen groter hoop onder die hemel as hierdie woorde wat Jesus gespreek het teenoor die wat Hom volg nie. Ons moenie bekommerd wees nie, want Hy gaan voor ons uit. Nie net het Hy vir ons ‘n plek berei in die ewige heerlikheid nie, maar Hy berei ook ons pad hier op aarde. Hy is getrou om vir ons die besonderhede te gee van hoe om die lewe te leef waartoe Hy ons roep. Beskou hierdie verstommende profesie aan die dissipels: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo — die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan” (14:12).

Wat ‘n ommekeer in die gesprek. Te midde van al daardie spanning, het Jesus vir sy volgelinge gesê hulle sou groter werke doen as Hy. Hoe kon dit wees? Jesus het gesê dit sou so wees “omdat Ek na my Vader gaan” (14:12).

Jesus vergestalt hoe om ‘n eerste Bovertrek ontmoeting te ondergaan sodat ons ‘n tweede kan beleef.

Dink wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het, “Ek gaan na die Vader.” Hy het nie net van ‘n plek, die Vader se teenwoordigheid in die hemel, gepraat nie. Hy het ook gepraat van ‘n proses: sy kruisiging, dood en opstanding. Jesus het geweet Hy sou nie onmiddellik in die hemel opgeneem word nie. Sy eie pad vorentoe was die pad van die kruis, insluitend ‘n kroon van dorings en ‘n folterende géseling. Hy moes dit alle deurmaak voor Hy opgevaar het na die Vader. Nou het Hy vir die dissipels in wese gesê, “Die werke wat Ek oor die volgende twee dae doen sal die weg baan vir ‘n nuwe werk wat nog nooit voorheen gedoen is nie.”

Jesaja het hieroor geprofeteer: “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” (Jesaja 53:5-6).

As ek hierdie woorde lees, vind ek myself Jesus prys vir die werke wat Hy gedoen het. As gevolg van die kruis, is ek in staat gestel om vir elke mens dwarsdeur my hele lewe heen te sê, “Jy is verlore in duisternis. Maar Jesus het jou lief, red jou en verlos jou van dit alles.” Daardie eenvoudige, nederige gesprekke het gelei tot duisende ware wonderwerke.

As ek terugdink aan daardie wonderwerke, dwing dit my tot op my knieë voor Jesus. Ek roep uit tot Hom, “Here, neem my na die Bovertrek en praat met my oor my hart. Ek verootmoedig myself voor Jesaja se getuienis, om te sien wat U vir my gedoen het. Praat nou met my oor enigiets wat in my hart moet verander. Ek wil die eerste Bovertrek belewenis met U hê, sodat ek ook die tweede Bovertrek belewenis kan hê waar duisende wag op die waarheid van u evangelie. Neem my daarheen, Here, sodat ek groter werke mag doen wat U reeds vir my geskep het.” Amen.

Download PDF