‘n Geloofskrisis | World Challenge

‘n Geloofskrisis

David Wilkerson (1931-2011)June 17, 2019

Jesus het ‘n geloofskrisis voorsien toe Hy gevra het, “Maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:8). Ons Here het geweet baie sou hulle geloof verloor in die laaste dae. Paulus praat ook hiervan en skryf, “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Timótheüs 4:1). Trouens, Paulus waarsku Timótheüs om vas te hou aan sy geloof omdat so baie gelowiges “aan die geloof skipbreuk gely” het (1:19).

Petrus waarsku ook dat ‘n geloofskrisis sou plaasvind in die laaste dae. Hy verseker ons egter, dat diegene wat aan die geloof vashou “in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd” (1 Petrus 1:5). Hy voeg by, “Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge sodat die beproefdheid van julle geloof ... deur vuur gelouter word” (1:6-7).

Petrus het mense toegespreek wat deur herhaaldelike beproewings gegaan het. Hy het in wese vir hulle gesê, “Slegs die Here weet wat dit verg om ‘n geloof in ons te vorm wat kosbaarder is as goud. Tans gebruik Hy julle beproewings om dit te doen.”

Talle vername dienaars van God dwarsdeur die geskiedenis, het die toets geslaag en reuse van geloof geword. Tydens hulle gevaarlikste, mees vreesagtige tye, het hierdie heiliges bly glo. Hulle lewens was ‘n blywende getuienis van God se getrouheid, en Hebreërs 11 lys baie van hulle: Henog, Noag, Abraham, Sara, Jakob en ander.

Daar is egter ander hartseer gevalle van gelowiges wat in hulle krisistye misluk het. God se plan vir hulle was dieselfde as wat dit was vir diegene wat getrou volhard het in hulle beproewings. In plaas daarvan, het hierdie dienaars tydens hulle beproewings uitmekaar geval, was aan God ongehoorsaam en het die geloof laat vaar.

Koning Salomo en die apostel Paulus het beide geloofskrisisse beleef, een het die toets gedruip terwyl die ander geslaag het sodat hy geslagte kon bemoedig.

Salomo was geseënd met alles wat ‘n lewe van diens aan God kon bied: ‘n goddelike erfenis, ‘n bonatuurlike roeping en ‘n persoonlike ontmoeting met die Here. Verder, het God Hom geseën met wysheid wat die hele wêreld se wysheid oortref het. Sy salwing was vir almal duidelik en hy was beroemd en bewonder oral deur die wêreld. Die tempel wat hy in Jerusalem gebou het, was bekend as die wonderlikste godsdienstige struktuur van sy tyd. Bowendien, het Salomo duisende spreuke en liedere geskryf. Hy was suksesvol in alles waaraan hy sy hand geslaan het.

Weens hierdie groot seëninge, het mense “van al die volke ... gekom om na die wysheid van Salomo te luister, van al die konings van die aarde wat van sy wysheid gehoor het” (1 Konings 4:34). Een van hierdie stomgeslaande besoekers was die Koningin van Skeba. Haar asem was weggeslaan deur Salomo se toewyding aan God se huis, en sy was verstom oor die wydverspreide geluk van die volk in sy koninkryk. In haar oë, was Salomo se koninkryk die paradys, hemel op aarde.

Duisende mense het Salomo gedien om lewe te gee aan sy briljante planne. Hy het daarin geroem dat al sy begeertes, behoeftes en plesiere vervul was. So, waarom het hierdie goddelike man op die ou end gesê dit was alles futiel en tevergeefs? Waarom het hy gesê die mens was nie beter as ‘n dier nie en dat die mens op dieselfde manier sterf as ‘n hond? “Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het — en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind” (Prediker 2:11).

Sommige hedendaagse kenners glo nie dat hierdie Salomo se woorde was nie. Hulle sê ‘n ryk man het Prediker geskryf en Salomo se naam gebruik om dit te bekragtig. Ander sê daar was twee outeurs, een wat ‘n negatiewe siening van die lewe gehad het en die ander ‘n positiewe. Ek glo saam met die meeste kerkvaders dat Salomo “die Prediker, die seun van Dawid, die koning in Jerusalem” (1:1) was wat tot die gevolgtrekking gekom het, “Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!” (1:2). Hoe het hy by so ‘n negatiewe siening uitgekom?

Salomo was ‘n dienskneg van God wat reg begin het. Hy het ontslae geraak van die tempelbediening van Ábjatar, die ontroue priester, en het hom vervang met die regverdige Sadokpriesterskap. Salomo het in God se insettinge gewandel, en nederig gebid, “Maar ek is ’n jong seun; ek weet nie om uit of in te gaan nie” (1 Konings 3:7). Toe hy die tempel klaar gebou het, het hy gebid dat dit ‘n huis van bekering en vergifnis sou wees, van gebed en smeking.

Ná hierdie goddelike stap, het dinge verander. Ons lees, “En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die HERE sy God was ... So het Salomo dan gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en nie volgehou om die HERE te volg ...  nie ... Daarom was die HERE toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die HERE, die God van Israel” (1 Konings 11:4,6,9).

Eenvoudig gestel, Salomo het ‘n geloofskrisis gehad, maar wat was sy krisis?

“En koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad ... uit die nasies waarvan die HERE aan die kinders van Israel gesê het: Julle mag nie met hulle meng nie, en hulle mag nie met julle meng nie; hulle sal voorwaar julle hart verlei agter hulle gode aan — Salomo het hulle met liefde aangehang” (1 Konings 11:1-2). God het Salomo ‘n direkte bevel gegee om nie met vroue van heidense nasies te trou nie, maar tog het Salomo presies dit gedoen, en het op die ou ende 700 vroue en ‘n harem van 300 byvrou gehad. Hy het geweier om oor sy seksuele begeertes te heers.

Ek wonder: Hoeveel keer het die Gees van die Here Salomo gewaarsku, “Jy ken God se Woord teenoor jou. Hou nou op”? Dit moes gebeur het elke keer wanneer Salomo ‘n nuwe vrou gekry het. Met verloop van tyd, het die koning doof geword vir die Here se waarskuwings. Gou het hy God se bevel doelbewus veronagsaam, en het geen veroordeling of droefheid gevoel nie. Hy het uiteindelik sy vroue se afgode en gode toegelaat, “[God het] hom bevel gegee ... omtrent hierdie saak om nie agter ander gode aan te loop nie; maar hy het die bevel van die HERE nie gehou nie” (11:10).

Enige Christen wat nie ‘n boesemsonde laat staan nie, sal uiteindelik sy eie leerstelling ontwikkel om homself te verontskuldig. Dit is hoe so ‘n wyse, briljante, maar nederige koning so ver geval het. Geloof gaan oor meer as om God te vertrou om ons te seën en te bewaar. Geloof beteken ook om te glo dat God getrou alle doelbewuste ongehoorsaamheid oordeel. Ek hoor dikwels dit word gesê, “Daar gaan ‘n man van ongelooflike geloof. Hy glo God vir groot dinge.” So ‘n man het nie ware geloof nie tensy hy ook glo dat God regverdige oordeel vir ongehoorsaamheid toedien.

Op die ou end, het God Salomo veroordeel vir gebrek aan geloof: “Daarom het die HERE vir Salomo gesê: Omdat dit so ver is met jou dat jy my verbond en my insettinge wat Ek jou beveel het, nie hou nie, sal Ek verseker die koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee” (11:11).

Dieselfde veroordeling kom vandag oor almal wat mislei word deur ‘n “Salomo  ingesteldheid.” Hulle glo nie God sal hulle sonde oordeel nie, en daarom geniet hulle moedswillig plesiere en begeertes van allerhande beskrywings. Soos Salomo, noem hulle op die ou end kwaad goed en goed kwaad en maak leerstelling net om hulle sonde te regverdig. Op die ou end verander hulle sy genade in losbandigheid.

In teenstelling met Salomo, het Paulus die toets deurstaan tydens sy geloofskrisis.

Paulus was een van die mees beproefde dienaars wat ooit geleef het. Oral waar hy gegaan het, het hy beproewings en lyding beleef. Hy het geskryf, “dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag” (Handelinge 20:23). Paulus het in wese verklaar, “Ek weet nie wat môre kon nie, maar ek weet wel die Heilige Gees lei my. Hy is getrou om my gereed te maak en waarsku, ‘Lyding wag vir jou in elke stad.’”

Deur dit alles heen, het Paulus hierdie kragtige getuienis gehandhaaf: “Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God” (20:24).

Satan het aanhou kom met die aanvalle, maar Paulus het nooit die bediening wat Christus hom gegee laat vaar nie. Die duiwel kon hom nie skrikmaak nie. Paulus moedig ons aan om dieselfde gesindheid te hê: “Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening” (2 Timótheüs 4:5).

Dierbare gelowige, God soek hierdie soort getuienis. Hy wil ‘n broederskap van Paulusse hê wat sal getuig van sy getrouheid wanneer die wêreld buite beheer spin. Tussen al hierdie chaos, staan hierdie dienaars vas in hulle geloof, gereed om te antwoord wanneer mense vra, “Wat sal ons doen? Waarheen sal ons gaan?”

Hulle voortgesette gehoorsaamheid vestig ‘n kragtige getuienis vir die Here se getrouheid. Paulus se voorbeeld roep hard vir ’n ongelowige wêreld, “U is getrou, Jesus!” Soos hy, het elke getroue dienaar hierdie seën wat op hulle wag: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (4:7-8). Mag dit ook ons getuienis wees, om vas te hou aan geloof in hierdie laaste dae. Amen!

Download PDF