‘n Immer Toenemende Geloof | World Challenge

‘n Immer Toenemende Geloof

David WilkersonAugust 6, 2001

"Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof” (Lukas 17:5). Die mans wat uit Christus se naby vriendekring bestaan het, het iets belangriks van hulle Meester gevra. Hulle wou ‘n groter begrip hê van die betekenis en die werkinge van geloof. Hulle het in wese gesê, “Here, watter soort geloof begeer U van ons? Gee ons ‘n openbaring van die soort geloof wat U behaag. Ons wil hierdie geloof in sy volste betekenis begryp.”

Op die oppervlak, was hulle versoek prysenswaardig. Tog glo ek dat die dissipels dit vir Jesus gevra het, omdat hulle verward was. In die vorige hoofstuk, het Christus hulle oorbluf gehad toe Hy gesê het,”Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou...As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou?” (Lukas 16:10-11).

Jesus het geweet sy volgelinge se vlees wou dit, wat hulle beskou het as die mindere sake van geloof, vermy. Daarom het Hy vir hulle gesê, “As jy getrou is in die klein dingetjies, die fundamentele sake van die geloof, sal jy getrou wees in die groter dinge ook. So, bewys jouself getrou in die basiese vereistes van die geloof. Andersins, hoe sal jy vertrou kan word met ‘n groter mate?”

As ons eerlik is, sal ons erken dat ons baie soos Jesus se dissipels is. Ons wil ook reguit na die groter sake van die geloof gaan, om die soort geloof te kry wat berge versit. En, soos die dissipels, oordeel ons dikwels geloof met sigbare resultate.

Dink aan almal, wat ons beskou as mense wat groot geloof het. Die meeste van daardie mense het meetbare dinge vir die koninkryk tot stand gebring: voedingskema’s, bedienings vir die armes en behoeftiges, mega-kerke, Bybelkolleges en sendinguitreike.

Ons dink aan George Muller, die man wat weeshuise in Engeland gebou het en gehelp het om China Inland Missions te befonds. Muller het nooit vir finansiële ondersteuning gevra nie. In plaas daarvan, het hy elke pennie vir hierdie goddelike werk ingebid, groot somme wat dikwels op die laaste minuut ingekom het. Baie Christene erken Muller as die toonbeeld van ‘n man van geloof.

Ons dink ook aan Rees Howells, die man bekend as “Die Voorbidder.” Howells se biografie is vol stories van wonderbaarlike antwoorde op sy voorbidding. Hierdie man het ‘n eiendom na eiendom gekoop om te gebruik vir God se koninkryk, alles deur geloof. Soos Muller, het Howells elke sent “net betyds” ingebid. Sommige beskou sy groot werk as nog definisie van geloof.

Baie besoekers aan Time Square Church voel dieselfde oor God se bediening hier. Hulle is verstom deur die ontsaglike geboue, wat die Here voorsien het en ‘n hele stadsblok in Broadway beslaan, alles skuldvry. Hulle sien ons Sarah House program vir vroue, ons Raven Truck voedingsuitreik en ander getroue werke. En hulle sê vir ons, “Julle leiers moet mense van groot geloof wees. Kyk na die ontsaglike resultate.”

Ons bediening het onlangs ‘n brief ontvang van ‘n jong gevangene wat nou ‘n Christen is en op ons briewelys is. Hy het my gehoor sê op ‘n bandopname van ‘n preek, “Die dag mag kom wanneer ek tronk toe moet gaan, omdat ek teen homoseksualiteit preek.” Die jong man het my verseker dat as dit sou gebeur, sou Christen gevangenes regoor die land die tronkstelsel oorval met briewe in ‘n veldtog om my te vry te laat. Hy sê ek is bekend onder die gevangenes as ‘n man van groot geloof, omdat ek die Teen Challenge dwelmrehabilitasie program en ander bedienings vir gekwelde mense soos hy gestig het. Daarom het hy geredeneer, “Jy is nodiger buite die tronk.”

Ek dank God vir Teen Challenge en al sy uitreike: plase, sorgsentrums en Bybelskole. En ek is dankbaar vir elke ander Godgesentreerde bediening, wat die Here opgerig het en geseën het op hierdie aarde. Tog sê ek vir jou, nie een van hierdie groot, sigbare werke verteenwoordig God se definisie van geloof nie. Inderdaad, geen werk, maak nie saak hoe groot nie, is enigsins van waarde vir die Here nie, tensy die mindere, verborge sake van geloof verrig word nie.

Briljante, slim mense het soortgelyke werke sonder God gedoen. Sun Myung Moon en sy volgelinge het betaal vir multimiljoen-dollar gebouekomplekse, massiewe liefdadigheidsuitreike en selfs ‘n nasionale nuusdiens gekoop. Nie een van hierdie dinge is egter God se maatstaf van geloof nie.

Ware geloof, in God se oë, het niks te doen met die grootte of die hoeveelheid werk wat jy beoog om te verrig nie. Dit het eerder te doen met die fokus en rigting van jou lewe. Jy sien, God is nie so begaan oor jou groot visie, as wat Hy is met wat jy word nie.

Glo jy die Here het jou belas met ‘n droom, wat ‘n wonderwerk vereis om tot stand te bring? Is jy uitgedaag om in ‘n nuwe rigting uit te stap wat bonatuurlike geloof vereis? Het jy nodig dat God ‘n wonderwerk in jou huis doen — fisiek, finansieel of geestelik?

Jy gaan geslote deure en mislukking beleef, todat jy met Jesus se woorde deel.

“En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?” (Lukas 16:12). Jesus sê met ander woorde, “Jy sê jy wil ‘n openbaring hê wat jou in staat sal stel om groter dinge te doen. Hoe kan jy egter vertrou word met daardie soort geloof as jy nie getrou is met die dinge wat ander vir jou gegee het nie?”

Jesus se woorde moes sy dissipels hulle koppe laat krap het. Hulle Meester het geweet hulle het niks besit nie, nog minder iets wat iemand anders vir hulle gegee het. Hulle het alles verlaat om sy dissipels te wees. En hulle het Hom gevolg na die beste van hulle vermoë. Sy woorde hier het gelyk of dit doodeenvoudig nie op hulle van toepassing was nie.

Die vraag is egter, wat bedoel Jesus wanneer Hy sê, “in ‘n ander se goed” (Lukas 16:12)? Hy praat van ons liggame en siele, wat Hy met sy eie bloed gekoop het. “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God gehoort” (1 Korinthiërs 6:20).

Jesus sê vir ons in wese, “Jou liggaam behoort nie meer aan jou nie. En as jy nie daardie liggaam versorg nie — as jy nie toelaat dat Ek binne-in jou kyk nie, met jou sonde deel, en jou reinig nie — hoe kan jy van My verwag om jou met iets groter te vertrou? Eerstens, staan terug en kyk na wat jy gedoen het met die dinge wat Ek reeds aan jou toevertrou het.”

Toe die dissipels meer geloof versoek het, het Jesus ‘n antwoord gereed gehad vir hulle: “As julle geloof gehad het soos ‘n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant — en hy sou julle gehoorsaam wees” (Lukas 17:6). Weereens was die Here se primêre fokus die mindere sake van geloof, gekenmerk deur ‘n enkele mosterdsaadjie.

Hierdie vers oor die skuif van die moerbeiboom het my altyd gefassineer. As ons dit lees, dink ons aan ‘n persoon van groot geloof wat langs ‘n moerbeiboom staan en beveel, “Gaan, word verwyder, in die see geplant en groei daar.” Dan sien ons die boom ontwortel word, van die grond af opstyg en verder sweef totdat dit in die golwe wegsink.

Wat kon Jesus bedoel het met hierdie beeld? ‘n Moerbeiboom kan nie geplant word in die see en oorleef nie; dit sou onmiddellik doodgaan. Verder, gaan dit nie vir ons God oor uiterlike vertoon nie. Hy doen nie dinge of stel nie dinge voor om te spog nie. Ons weet egter dat elke woord wat Jesus gespreek het, bedoel is om ons te onderrig. So, wat is die bedoeling hier?

Jy mag sê, “Hierdie vers toon aan dat ons Here die God van die onmoontlike is.” Ek stem nie saam met hierdie redenasie nie. Selfs in Jesus se tyd, was dit moontlik vir ‘n paar mans om ‘n boom te ontwortel, dit na die see te trek en dit daar te plant. Vandag is so ‘n werk selfs nog makliker, met kragtige masjiene wat in staat is om groot bome binne sekondes te ontwortel. Waar is geloof daarvoor nodig?

Ek glo hierdie stelling gaan daaroor om die wortel in ons harte uit te pluk. Jesus praat van die wortels van boosheid, die verborge dinge waarmee ons moet deel as sy volgelinge. Hy het gesê, “Voor jy God kan glo om berge te versit, moet jy wortels verwyder. En jy het nie een of ander groot, apostoliese geloof nodig om dit te doen nie. Ek vra jou om iets baie basies te doen: om jou wortels van sonde uit te ruk. Ek wil jou hart ondersoek en alles, wat nie soos Ek is nie, verwyder.”

Die eerste werk van geloof — die een ding wat ons moet doen voor alle ander werk kan volg — is om getrou te wees aan wat God s’n is.

Ons kan doodeenvoudig geen werk in God se naam onderneem as ons wortels van sonde dieper en dieper groei nie. En die uitdaging om ons wortels uit te ruk, is nie beperk tot herders, leraars en evangeliste nie. Dit is die werk van elke Christen. So, vra jouself af: wat is die wortel van sonde wat diep in jou liggaam en gees ingegrawe het? Is dit pornografie, gierigheid, afguns, bitterheid, vrees vir verwerping, lae selfbeeld of ‘n gevoel van nutteloosheid?

Jesus beveel ons, “En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit” (Markus 9:47). Natuurlik is hierdie bevel geestelik in betekenis. Ons weet dit is nie ons letterlike oë wat ons laat sondig nie, maar eerder die oë van ons wellustige hart. Hoe kan ons egter iets ontwortel wat jarelank diep binne-in ons gegroei het? Sulke vestings het geloof nodig om ontwortel te word.

Inderdaad, dit is Jesus se boodskap oor die mosterdsaad. Hy vertel vir ons dat, deur geloof, kan ons enige wortel van sonde in ons lewens uitpluk — selfs een waaroor God jarelank met ons deel.

Dit is waarom ek my onlangse boek, The New Covenant Unveiled, geskryf het. Op een stadium het ek vasgesteek en gewonder hoe ons ooit in staat sal wees om ons sonde uit te pluk. Ek het hierdie dilemma bepeins een nag, terwyl ons met vakansie was en langs ‘n strand geloop het. Ek het ervaar die Heilige Gees sê vir my, “Dawid, kyk op na die Groot Beer. In jou eie krag, het jy net so ‘n groot kans om die sonde uit jou hart te verwyder, as wat jy het om oor daardie ry sterre te spring.”

Die Nuwe Testamet wys vir ons ons kan selfs die diepste wortel van sonde uitruk, maar slegs deur die Heilige Gees te vertrou. Deur ‘n enkele saadjie van geloof, kan ons bid, “Vader, U het in u verbond belowe om my sonde neer te werp. Wel, U weet alles oor my spesifieke sonde. U deel al vir jare met my daaroor. Nou vra ek U om iets daaraan te doen. Ek haat dit en ek wil dit uitgepluk het. Ek glo U gaan dit vir my doen, Here.”

Jesus sê as ons so ‘n geloof uitspreek in God se verbondsbelofte, sal ons wortel wyk: “en hy sou julle gehoorsaam wees” (Lukas 17:6). Op daardie tydstip, pluk die Heilige Gees die bose wortel uit en werp dit in die see van God se vergetelheid om nooit weer by ons te spook nie.

Al die goddelike dienaars, wat ons as groot mense van groot geloof beskou — George Muller, Rees Howells en ander — het met hierdie minste werk begin. Voor hulle uitgegaan het om enige werke vir die koninkryk te doen het, het hulle God toegelaat om met hulle wortels te deel. Hulle het ‘n klein hoeveelheid geloof uitgeoefen en die Heilige Gees gevra om elke bose ding in hulle bloot te lê. En die Gees het getrou hulle sonde ontwortel en hulle gestroop van alles wat vlees was.

In hierdie proses, het hierdie manne geleer hulle was hulpeloos, nie in staat om selfs die eenvoudigste ontwortelingstakie in hulle eie krag te doen nie. Toe hulle egter Jesus se gebod gehoorsaam het om hulle wortels deur geloof in die werk van die Heilige Gees uit te ruk, het openbarings gekom en hulle begrip van geloof het toegeneem.

Ons betaal ‘n tragiese prys as ons nalaat om ons sonde te ontwortel.

As ons wetend boosheid toelaat om in ons te bly, verbeur ons al ons geestelike wapens teen die duiwel. Eerstens verloor ons ons greep op ons swaard. Dan word ons van alle wapenrusting gestroop. Uiteindelik verloor ons die wil om te veg. Sê vir my, hoe kan ons vestings neerwerp as ons geen wapens oor het nie? “Want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp” (2 Korinthiërs 10:4).

Ons sien ‘n tragiese voorbeeld in 1 Samuel 13. In die vorige hoofstuk, het Saul en sy leër van 300,000 Israeliete die Ammoniete by Jabes-Gilead deeglik verslaan. Israel se selfvertroue het die hoogte ingeskiet weens hulle groot oorwinning. God het hulle egter gewaarsku: “Maar as julle nie na die stem van die HERE luister nie en wederstrewig is teen die mond van die HERE, dan sal die hand van die HERE teen julle wees soos teen julle vaders” (1 Samuel 12:15).

In hoofstuk 13, vind ons waar Saul en die mense in ongehoorsaamheid wandel. Dit het begin toe Saul ‘n verbode offerhande gebring het. Die mense het sy kant gekies en gesê, “Wie ook al sê dat Saul nie ons koning moet wees nie, behoort doodgemaak te word.”

Toe die goddelike profeet, Samuel, op die toneel opgedaag het, het hy egter hierdie verskriklike woorde vir Saul gesê: “Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die HERE jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die HERE jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het” (1 Samuel 13:13).

Onmiddellik sien ons die resultate van Israel se ongehoorsaamheid. Net vier verse later, lees ons, toe “het die roofkommando uitgetrek uit die laer van die Filistyne in drie afdelings” (1 Samuel 13:17). Hierdie eenhede het van die Filistynse hoofmagte weggebreek en deur Israel versprei en dorpies geplunder. Hierdie invallers het vrylik buit afgeneem, insluitend Israel se wapens.

Waarom het God se mense nie weerstand gebied teen die plunderaars nie? Hulle het immers oorgenoeg wapens gehad (insluitende die Ammoniete s’n wat hulle in gevegte afgeneem het). Die hartseer waarheid is egter dat die Israeliete as gevolg van hulle sonde, geen veggees oorgehad het nie. So gou as wat hulle die vyand sien aankom het, het hulle in vrees gevlug.

Israel was agtergelaat met niks anders as tuinvurke, ploeë en ander plaasimplemente nie. Maar hulle kon dit nie in wapens verander nie, omdat daar geen ystersmede oor was nie. “En daar was geen smid te vinde in die hele land van Israel nie, want die Filistyne het gesê: Anders kan die Hebreërs swaarde of spiese maak” (1 Samuel 13:19).

God se boodskap in hierdie gedeelte is duidelik: “As julle voortgaan om my ongehoorsaam te wees, sal Ek nie meer met julle wandel nie. Julle mag lyk of julle my werk doen. Maar julle sal nie my teenwoordigheid, seën of krag hê nie.”

Geloof handel primêr oor gehoorsaamheid, oor die krag te hê om God se woord te gehoorsaam. En Satan weet dit. Dit is waarom hy wil hê jy moet vashou aan daardie laaste oorblywende wortel in jou siel. Hy weet dit sal jou stroop van al jou verdedigingsmeganismes, jou beroof van jou wapens en jou veggees neutraliseer.

Ek sien dit gebeur met bedienaars en gemeentelede wêreldwyd. Hulle het almal die gereedskap, wat noodsaaklik is om hul goeie werke te doen. En, as hulle na die lande van hulle arbeid kyk, wens hulle hulself geluk oor die groot oes en vol skaapkraal. Tog is hulle die hele tyd in gevaar. Daar is ‘n bederwer in hulle harte, ‘n boesemsonde waarmee hulle nie deel nie. En dit plunder hulle en beroof hulle van die wil om te veg. Later, as Satan hulle lewens binneval, sal hulle sonder ‘n stryd oorgee. Hulle het eenvoudig geen verdediging teen hom nie.

Soos Saul, beland alle gelowiges met diep wortels van sonde in verwarring, dubbelhartigheid en vrees. Die Skrif sê van hulle, “Die goddelose vlug sonder dat daar ‘n vervolger is, maar die regverdiges voel hulle veilig soos ‘n jong leeu” (Spreuke 28:1). Sulke mense mag hulleself vertel, “Ek het twee wapens: gebed en geloof in God se woord.” Dit is tragies, maar hulle het nie. Dawid verklaar, “As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie” (Psalm 66:18).

Ons moet doodeenvoudig vir ons bose wortels sê, “Wees uitgepluk.” En ons moet glo dat hulle sal weggaan, volgens God se verbondsbelofte. Slegs dan sal ons veggees weer terugkom. Ons sal God se tweesnydende swaard weer swaai. En ons sien ons gebede vinnig beantwoord word. Uiteindelik sal ons gevul word met dapperheid en blydskap, wat demone op die vlug sal laat slaan.

Daar is nog ‘n stap in die ontvang van meer geloof.

Jesus het sy dissipels se versoek vir geloof op nog ‘n ander manier beantwoord. Hy het vir hulle gesê:

“En wie is daar van julle wat ‘n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? Sal hy nie eerder vir hom sê nie. Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink?...So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen” (Lukas 17:1-8,10).

Dit duidelik dat Christus hier van ons, sy diensknegte en van God, ons Meester, praat. Kortliks, Hy sê vir ons om God te voed. Jy mag wonder, “Watter soort kos is ons veronderstel om vir die Here te bring? Wat stil sy honger?”

Die Bybel sê vir ons, “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 11:6). Eenvoudig gestel, God se heerlikste dis is geloof. Dit is die voedsel wat Hom behaag.

Ons sien dit deur die Skrif geïllustreer. Toe ‘n hoofman oor honderd vir Jesus gevra het om sy siek dienskneg te genees deur bloot ‘n woord te spreek, het Christus gesmul aan daardie man se dinamiese geloof. Hy het geantwoord, “Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ‘n groot geloof nie gevind nie” (Matthéüs 8:10). Jesus het hier gesê, “Hier is ‘n heiden, ‘n buitestaander, wat my gees voed. Wat ‘n voedsame maaltyd gee hierdie man se geloof vir My.”

Net so, bedien Hebreërs 11 ‘n groot feesmaal aan die Here. Hierdie beroemde hoofstuk beskryf die geloof van God se geliefde krygsmanne regdeur die geskiedenis.

Volgende merk ek in Jesus se woorde ‘n verklaring, sonder om doekies om te draai: “Jy eet nie eerste nie, maar Ek.” Met ander woorde, ons moenie ons geloof op ons eie belange en behoeftes gebruik nie. Ons geloof is bedoel om ons Here se honger te stil. “Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink” (Lukas 17:8).

Hoe dikwels word ons geloof gebruik op ons eie belange in plaas van God s’n? Hoeveel van ons gebede bestaan uit, “Here, ek werk getrou in u lande en ploeg vir U. En nou het ek dit of dat van U nodig om met my werk voort te gaan.”

Oor die jare, het talle herders na my kantoor gekom om my te besoek. Die meeste van hulle het ingekom, nie met hulle Bybels nie, maar met een of ander groot plan. Sulke manne was verteer met ‘n groot visie, maar tog het hulle nooit oor Jesus gepraat nie. Al waaraan hulle kon dink, was hulle droom: ‘n kerkgebou, ‘n voedingsprogram, ‘n bedieningsuitreik.

Ek dank die Here vir hemels-gestuurde drome en begeertes. Die meeste God-verheffende bedienings in werking vandag, is vervulde visies, wat bereik is deur Godgegewe laste. Tog besef talle belaste gelowiges nie, dat voor ‘n droom vervul kan word, God dikwels jare se werk van stroop, blootlê en breek verrig. Dit is doodeenvoudig sy manier.

Jesus sê vir ons, “Ek wil hê dat jy My voed, deur My volle heerskappy te gee om jou te vorm en te verander na my beeld. Bring my net jou geloof. Ek sal ‘n ware visie bring.”

Ons kan oorwinning behaal oor ons wortels, maar ons kan so maklik vergeet dat God se barmhartigheid vir ons die oorwinning behaal het.

Jesus het voortgegaan, “Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen” (Lukas 19:9-10).

Die woord onverdienstelike hier beteken sonder verdienste — het niks verdien deur werke of self nie. Jesus sê, “Nadat julle met julle wortels van sonde deur geloof gedeel het, moenie sê, ‘Ek het dit bereik nie. Ek het die oorwinning gekry nie.’ Nee, jou Vader se genade alleen het jou verlos.”

Sommige mense word trots wanneer hulle oorwinning oor sonde kry. Hulle dink, “Ek het my lewe reggemaak. God behoort dankbaar te wees dat Hy in my ‘n rein werktuig het.”

Maar Jesus het antwoord, “Nee, in der waarheid, het jy skaars begin om jou plig te doen. Van die dag af wat jy gered is, het Ek jou opdrag gegee om jou sonde te versaak. So, waarom het jy vyf, tien, twintig jaar gewag om My te gehoorsaam? Jy het geen reg tot self-gelukwensing nie.”

Ek ken ‘n Christen broer wie se vrou hom vir ‘n ander man verlaat het. Regdeur daardie moeilike tydperk, het hierdie man moreel rein gebly. Daarna het hy daarop aanspraak gemaak, “Ek het my geregtigheid verdien. Ek het die prys daarvoor betaal.” Nee, nooit. Dit maak nie saak hoe pynlik of moeilik ons beproewings mag wees nie, ons gehoorsaamheid kan ons nooit regverdig maak nie. Dit is doodeenvoudig ons basiese plig.

Selfs die eenvoudigste gehoorsaamheid is egter voedsel vir ons Here, omdat dit uit geloof gebore is. Dit is ‘n fees wat veroorsaak dat Hy jubel en sê, “Jy voed my en stil my honger.”

Oorwinning kom wanneer ons ons wortels herken, ons bekeer en vertrou op God se Nuwe Testament beloftes.

Is jy eerlik met God en erken jy dat jou wortels jou vernietig? Het jy waarlik jou bekeer en geloof in sy verbondsbelofte uitgeoefen om jou sonde neer te werp? Slegs dan sal die Here jou in oorwinning bring.

Gedurende my leeftyd, het ek twee kultusleiers, wat baie volgelinge gehad het, ontmoet. (Beide kultusse bestaan steeds.) Hierdie mans was geïnspireer, vol charisma, vrymoedigheid en ywer. Hulle was onvermoeide evangeliste, en hulle het die armes en behoeftiges bedien. Hulle het Bybelskole en gemeenskaplike wonings gebou en sendelinge dwarsoor die wêreld uitgestuur. Hulle toegewyde volgelinge het alles agtergelaat om langs hulle te bedien.

Maar altwee hierdie groot, begaafde manne het diep wortels van wellus gehad. En omdat hulle geweier het om met hulle wortels te deel, het elkeen van hulle in verskriklike seksuele verslawings verval.

Een van die mans het met ‘n spesiaal toegeruste bus gereis. Hy het my eenkeer binnegenooi en toe ek binnegestap het, het ek ‘n swaar demoniese verdrukking ervaar. Later was daardie man se onsedelikheid geopenbaar.

Die ander kultusleier was ‘n kragtige prediker, met ‘n duidelike roeping om te evangeliseer. Hy was ook ‘n begaafde dissipelmaker en het honderdie jongmense na sy bediening en sendingwerk getrek. Verder was hierdie bedienaar ‘n toegewyde man en gesinsman.

Maar hy was verslaaf aan pornografie. En omdat hy nie met sy sonde wou afreken nie, het sy wellus buite beheer geraak en het hy sy organisasie na seksuele kranksinnigheid gelei. Hy het ‘n reël gemaak dat elke jong vrou wat getrou het, haar eerste nag by hom moes deurbring. Toe het hy sommige van die vroue in prostitute verander en hulle uitgestuur om te doen wat hy “liefdesevangelie” genoem het.

Hierdie eens gesalfde man het sy laaste dae deurgebring waar hy heen en weer in sy treilerhuis geloop het soos ‘n leeu in ‘n hok. Sy diep wortels het hom in ‘n ontaarde kranksinnige verander.

Beide hierdie manne wou na die berge verhuis. Hulle het geloof gepreek en onderrig. En honderde was deur hulle bedienings aangeraak. Maar ek sê vir jou, God het geen deel aan hulle werke gehad nie. Waarom nie? Hulle ywer was van die vlees, omdat hulle geweier het om hulle sonde te ontwortel. Die gevolge was dat hulle groot werke in algehele verwoesting geëindig het.

Jesus sê van sulke mense, “Baie sal kom en sê, ‘Ons het die siekes genees, duiwels uitgedryf en groot werke gedoen.’” Maar Hy sal sê, “Gaan weg van My af, julle werkers van ongeregtigheid. Ek het julle nooit geken nie” (sien Matthéüs 7:22-23).

Praat Jesus met jou oor jou wortels? Indien wel, luister na sy stem ten alle koste. Hy dring by jou aan, “Vergeet van evangelisasie vir eers. Plaas jou drome en visies eenkant vir ‘n tydperk. Ek het een enkele saad van geloof aan jou toevertrou. En Ek wil hê jy moet getrou wees met hierdie een, klein dingetjie. Kom nou na My in geloof en vra My om jou sonde te ontwortel. Voed My dan deur jou gehoorsaamheid. Doen dit en dan sal jy my heilige visie sien tot stand kom in jou lewe.”

Download PDF