‘n Lewe Van Groot Gevolg | World Challenge

‘n Lewe Van Groot Gevolg

Gary WilkersonMay 18, 2015

Ek het in New York groot geword, maar toe ek in die hoërskool was, het my familie na oos Texas getrek. Gedurende my eerste jaar daar, was ek nie bekend as Gary nie, maar as “Yankee.” Hoe langer ek my New York aksent behou het, hoe meer verwarde kyke het ek gekry, saam met die vraag: “Wat het jy nou net gesê?”

Soos ek my Brooklynees afgeleer het, het ek leer plaaswerk doen — slange doodgemaak, perd gery en beeste opgepas. En soos ek vriende gemaak het, het ek van die lewe in Texas begin hou. Maar daar was een ding wat ek myself net nie sover kon kry om te duld nie: die Dallas Cowboys, wat bekend was as “Amerika se Span.” My hart was steeds by New York se rowwe Giants en Joe Namath se Jets. Uiteindelik het my afkeur van die Dallas Cowboys ‘n ware geestelike krisis in my lewe veroorsaak.

Ek was steeds ‘n tiener toe ek Kelly ontmoet het. Sy was ‘n pragtige meisie van Kilgore, Texas, wat my vrou geword het. Ek het agteroorspronge gemaak oor hierdie geel roos van Texas, veral as ek haar hoor sing het. Die prag van haar stem was nie net my opinie nie, maar sy was ‘n sanger in die staatskoor. Hierdie sangvoëltjie het my een namiddag by my familie se huis nader getrek en terwyl sy haar arm om my gesit het, het sy “Over the Rainbow” gesing. “Wow, God,” het ek gedink, “Dankie dat U vir my hierdie meisie gestuur het!” Daardie oomblik het my besluit om met haar te trou, vasgemaak. Op die oomblik toe ek dit besluit het, het Kelly egter ander nuus met my gedeel: “Ek is gekies om by die Super Bowl te sing. En die Dallas Cowboys gaan speel!”

Kelly is gevra om in die rugsteuningsgroep te wees vir John Denver, wanneer hy sy treffer, “Rocky Mountain High” by die wedstryd sou speel. Daardie opwindende nuus het egter nie aan my saak gemaak nie. Ek het net daaraan gedink dat my meisie vir die Dallas Cowboys sou sing — hulle wat ek meer as enigiets verafsku het!

Paniekerig het ek dinge gesê wat ék nie eers geglo het nie: “Kelly, weet jy dan nie dat ‘Rocky Mountain High’ oor dagga rook gaan nie? Hoe kan jy as ‘n Christen so iets doen?” Verwarring het oor Kelly se gesig getrek — en ek het besef hoe vreemd ek oorgekom het.

Hier was ek verlief op hierdie pragtige meisie met ‘n wonderlike stem... en ek was op die punt dat ‘n voetbalspan tussen ons kom. Gelukkig het ek nie my nietige wrok tussen die vrou wat ek liefgehad het en haar droom laat kom nie, en so ‘n huwelik van ses-en-dertig jaar gekortwiek nie.

Klein dingetjies in ons lewens kan dikwels God se groter doeleindes vir ons ontspoor.

Salomo het geskryf, “Vang julle vir ons die jakkalse, die klein jakkalse wat die wingerde verniel, want ons wingerde staan in die bloei” (Hooglied 2:15). Hy waarsku ons dat dit dikwels die klein, knaende sakies is, wat ons daarvan weerhou om ten volle in God se roeping van oorvloedige lewe in Hom te wandel.

Onthou jy toe jy jou lewe vir Jesus gegee het? Soos ander nuwe Christene, was jou hart miskien gevul met ‘n laseragtige doel. Jy het God se genesende liefde ervaar, en jy het verlang daarna om dit met ander te deel, te evangeliseer, te versoen en te dien. Soos jy vorentoe in hierdie nuwe lewe beweeg het, het jy jou rol in God se koninkryk en jou gawes om Hom te dien, beter onderskei. Miskien het jy selfs ‘n roeping na een of ander bediening ervaar.

Maar toe het jy ervaar dat eienaardige dinge gebeur. Jou enkelvoudige fokus op Jesus is amper by die dag deur ander vereistes verdring. Klein dingetjies het opgeduik wat jou aandag afgelei het, sodat jy stadig jou fokus op Christus verloor het.

My vader, David Wilkerson, was goed bekend met hierdie aspek van die Christelike lewe. Hy was vasbeslote om ‘n intieme lewe met God deur gebed te hê, en niks sou dit onderbreek nie. Pa het tussen twee en vier ure gebid elke dag van sy lewe en soms het hy ‘n hele dag opsy gesit vir gebed en ons laat weet om hom nie te onderbreek nie. Ons het geweet dat dit nie die tyd was om hom te vra om ons met huiswerk te help nie. My pa het dit bedoel as hy vir my ma gesê het, “Ek gee nie om of die President skakel nie. Tensy daar ‘n lewe-of-dood noodgeval is, moet asseblief nie aan my kantoordeur klop nie.” Sy het dit verstaan en het daardie tyd vir hom bewaar.

Die behoefte vir ‘n laserskerp fokus word gedemonstreer deur die beroemde Wallenda familie. Hulle toulopers dateer sewe geslagte terug. Net meer as ‘n jaar gelede het Nik Wallenda, by sy familie se legende bygedra deur op ‘n hoë draad oor ‘n kloof in die Grand Canyon te loop. Daardie dag het die wind erg gewaai en Nik was onseker oor die gebeurtenis. Maar toe hy eers sy besluit geneem het, het hy ‘n laser fokus gehad. Hy het uit sy kwartiere uitgekom met ‘n uitdrukking, wat verwondering geïnspireer het. Die hele media het stil geword, en die kamera’s het op Nik se gesig gefokus. Sy elke asemtuig was in harmonie met sy taak. Daardie dag kon die waaiende wind niks aan sy fokus doen nie; paal in die hand, het hy na die draad gestap — en hy het die hele pad oor die kloof geloop, sonder dat sy aandag vir ‘n oomblik afgelei is.

Nik Wallenda se fokus is letterlik ‘n saak van lewe en dood. Ons in die kerk van Jesus Christus het ‘n selfs hoër roeping — maar het ons ‘n laserstraal fokus? Hoe dikwels verloor ons ons fokus wat dan verander in dae, maande en selfs jare van ronddwaal en middelmatigheid?

Johannes die Doper het nie toegelaat dat sy aandag afgelei word nie en het ‘n lewe van groot gevolg gelei.

Die evangelie van Johannes vertel vir ons, “Daar het toe van die kant van die dissipels van Johannes ‘n redenasie met die Jode ontstaan oor die reiniging. En hulle het na Johannes gekom en vir hom gesê: Rabbi, Hy wat saam met u oorkant die Jordaan was, van wie u getuig het, kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe” (Johannes 3:25-26). Johannes se volgelinge het van Jesus gepraat. Duidelik het hulle teologiese bedenkinge oor Hom gehad. Miskien het hulle gehoor van die wonderwerk wat by Kana gebeur het en gedink dat hy die erdekruike verkeerd aangewend het.

Johannes was nie van plan dat hierdie redenasie sy aandag sou aflei nie. Hy het geweet dat iets groters ter sprake was as leerstellige haakplekke. Hy het  geantwoord, “’n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie” (Johannes 3:27). Met ander woorde: “Kan iemand ‘n wonderwerk doen as hulle nie deur God gestuur is nie? Daardie tipe krag kom net uit die hemel.”

Wat Johannes volgende sê, is kragtig: “Julle is self my getuies dat ek gesê het: Ek is nie die Christus nie; maar dat ek voor Hom uitgestuur is... Hy moet meer word, maar ek minder” (Johannes 3:28,30). Johannes se fokus in die lewe was duidelik: Sy heilige roeping was heeltemal op Jesus gesentreer. Om daardie rede, was Johannes die Doper bekend as ‘n groot man.

Vandag is die probleem met baie van ons in ons sukses gedrewe kultuur, dat ons groot dinge vir onsself soek. Goed bedoelde predikante wil ‘n twitter gevolg opbou. Christene wil gehoor word, selfs as dit beteken om vyftien sekondes van dwaasheid op YouTube te hê. Ons mag onsself oortuig dat ons dinge vir God najaag, maar is Jesus werklik ons fokus? Sonder ‘n streng ondersoek van ons harte, sal ons nie in staat wees om te onderskei of ons ons Meester behaag of ‘n innerlike verlange na bekragtiging volg nie.

Die profeet Jeremia het hierdie vraag direk geadresseer, “En sou jý vir jouself groot dinge soek? Soek dit nie; want kyk, Ek bring onheil oor alle vlees, spreek die Here; maar Ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan” (Jeremia 45:5). Jeremia maak dit duidelik dat God grootheid op ‘n ander manier as die wêreld meet. Let op dat Hy nie sê, “Moenie groot wees nie. Jy sal denkbeeldige geestelike punte kry vir valse nederigheid.” Nee, soos Jesus self gesê het, grootheid word gemeet in hoe goed ons ander dien.

Johannes die Doper is ‘n Bybelse voorbeeld van hoe om wêreldse afleidings te weerstaan en ware grootheid na te jaag. Hy het getuig, “Die vriend van die bruidegom... verbly hom baie oor die stem van die bruidegom” (Johannes 3:29). Johannes beskryf ‘n dienaar se rol. Dit is in teenstelling met die neerhalende gesegde wat ons deesdae hoor: “Altyd ‘n strooimeisie, nooit die bruid nie.” In Jesus se dag was die ondersteunende rol in ‘n bruilof ‘n plek van eer en respek omdat dit ongelooflike vereistes gehad het. Trouens, dit het ‘n persoon van groot statuur en verantwoordelikheid vereis.

In daardie tyd, was die vriend van die bruidegom in beheer van die hele bruilof. Hy het al die gaste genooi. Hy het die huwelikseremonie beplan en georganiseer. Hy was die gasheer en het toegesien oor die ontvangs van die gaste. Hy het selfs die wittebrood gereël en die paartjie vooruitgegaan om seker te maak dat alles gereed was vir sy vriend en die bruid. En hy het hulle nuwe huis verseker en dit vir die paartjie voorberei om in te lewe. Kortliks, die vriend van die bruidegom was verantwoordelik vir alles.

Sy rol was ‘n streng werk van liefde en genade van begin tot einde. Laastens sou hy by die deur van die paartjie se nuwe huis staan en in die donker wag terwyl die uitbundige huweliksoptog deur die strate beweeg het met vrolike musiek en dans. Wat ‘n heerlike oomblik wanneer die bruidegom in die nag uitroep, “Ek is hier,” en sy vriend antwoord getrou, “En ek is hier!” terwyl hy die optog tot by die deur lei.

Johannes die Doper het nie gesê, “Teologie is nie belangrik nie.”

Johannes het gesê, “Hoe kan julle gefokus wees op kleinighede soos hierdie as jy waarlik op die noodsaaklike dinge gefokus is? Jesus gaan sy lewe gee as ‘n offer, opstaan uit die graf, en terugkeer vir ‘n bruid wie se geloof vlekkeloos en sonder rimpel is. Kan julle nie sien wat God in julle midde doen nie?”

Johannes het goeie rede gehad vir sy laserfokus: Hy het geweet dat hy op die punt was om te sterf. Koning Herodus se huishouding het begin roep vir sy kop. Nou was dit asof Johannes aan sy volgelinge gesê het, “Ek het net ‘n paar dae oor en ek het net een ding in my gedagtes. Ek wil hê dat alles wat ek sê aangevuur sal word deur hierdie dringende boodskap: ‘Draai na Jesus.’ Ek wil hê dat my passie vir die een ware ding sal wees!”

Toe my seun, Evan, vasgevang was in dwelmverslawing en in wese haweloos was, het ek nie my dae gespandeer deur te bespreek of ek my ou kar moes inruil vir ‘n nuwe nie. Ek het een ding in gedagte gehad: my seun se welstand. Selfs  belangrike kwessies van die lewe was klein in vergelyking daarmee.

Johannes die Doper het een oorheersende passie gehad, en dit word bevat in hierdie pragtige vers: “Die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome” (Johannes 3:29). Omdat hy geweet het dat sy tyd kort was, kon Johannes hom oor een ding verbly: Jesus het gekom om die koninkryk van God te verkondig! 

Ons almal speel die rol van Johannes in God se koninkryk — om die pad gereed te maak vir mense om Jesus te ontvang. Wanneer dit ons enkele, laserfokus is, sal alle ander dinge in hulle regmatige plek val. En God belowe om ons te bemagtig in ons diens aan Hom. Soos Johannes die Doper getuig, “Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God; want God gee Hom die Gees nie met mate nie” (Johannes 3:34).

Jy kan God se eie Gees sonder maat hê om jou te lei in die doeleindes wat Hy vir jou beplan het. Is jou aandag afgelei van jou een doel? Maak Jesus weer jou fokus. Jy is geroep as ‘n vriend van die Bruidegom — en die klank van sy stem bring blydskap!

Download PDF