‘n Opbouende Boodskap van Vertroosting vir Hulle wat Neerslagtig is | World Challenge

‘n Opbouende Boodskap van Vertroosting vir Hulle wat Neerslagtig is

David WilkersonApril 1, 1980

Al julle gelukkige, op die top van die wêreld Christene wat onder die blou hemele leef, en wat tans, die sonskyn van die wêreld geniet – hierdie boodskap is nie vir jou nie.

Hierdie boodskap is slegs vir diegene wat neerslagtig is; vir daardie kinders van God gedryf deur wanhoop, eensaamheid, droefheid, pyn en lyding. Dit is ook ‘n boodskap vir diegene wat neerslagtig is omdat hulle geen ander mens het om op te steun nie. Hoewel hulle op die Here steun, word die menslike behoefte om liefgehê te word en nodig te wees nie versadig nie.

Maar bo alles, hierdie boodskap is vir diegene wat klaarblyklik nie die gevoel van wanhoop kan afskud nie omdat hulle nie verstaan waardeur hulle gaan nie. Ek ken sommige baie heilige Christene wat ‘n beproewing so swaar en pynlik beleef, dat hulle soms wonder of God hulle meer laat ly as wat hulle kan verdra. Hulle hartseer verpletter hulle amper en hulle wonder waarom hulle gebed vir verlossing nie gou verhoor word nie.

Ek het groot manne en vroue van geloof geken wat ‘n beproewing so donker en diep beleef het dat die lewe self gelyk het of dit nie die moeite werd was om te lewe nie. ‘n Goddelike bedienaar van my, wat deur die moeilikste beproewing van sy lewe gegaan het, het vir my gesê, “David, onlangs was ek so neerslagtig, so moeg en uitgeput, so keelvol en moedeloos – ek het begin verstaan waarom sommige mense wat nie Christene is nie, hulleself doodmaak. Ek het nog nooit aan selfmoord gedink nie; maar daar is tye dat, as dit nie vir my Verlosser was nie, ek nie sou kon aangaan nie. Ek sou liewer sterf as aangaan soos dinge nou is! Nou weet ek waarom soveel mense hulle wend na dwelms en alkohol – hulle moet dronk word om te kan aangaan. Ek weet God sal my uitbring; maar op hierdie oomblik, haat ek dit om uit die bed te klim. Steeds, vertrou ek God.”

Ek kan iemand amper hoor sê, “ As daardie goddelike bedienaarsvriend van jou op die beloftes gestaan het en deur geloof gelewe het, sou hy altyd gelukkig en voorspoedig wees. Hy sou God prys, glimlag en juig. Watter twyfelaar moet hy wees. Watter negatiewe gedagtes moet hy hê.

Ek weet die Nuwe Testament verskaf vir ons beter beloftes as die Oue. Ek weet Christus sal nooit toelaat dat ons erger versoek sal word as wat ons kan verdra nie. Ek weet God wil hê al Sy kinders moet in daardie rus van geloof tree en nie bekommerd en angstig wees nie. Ek weet daar is algehele oorwinning, blydskap, en vrede vir almal wat rus in Sy Woord.

Die werklikheid is egter dat God steeds beproewende tye toelaat, waarin die siel toegelaat word om deur vurige toetse te gaan – wat, volgens God se Woord, daar is om ons te beproef. God laat in werklikheid ernstige beproewings in ons lewens toe om ons liefde vir Hom op die proef te stel. “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie” (1 Petrus 4:12).

Al die profete het voorspel dat heiliges van God beproef sou word deur vuur – net soos goud gelouter word deur vuur. Jeremia het gesê, “die HERE…smelt hulle en toets hulle…” (Jeremia 9:7). Daniël het voorspel dat in die eindtye, heiliges ernstig getoets sal word om hulle te reinig en gereed te maak (Daniël 11:35). Sagaria het die koms van die toesting van vuur “en hulle smelt soos ’n mens silwer smelt en hulle toets soos ’n mens goud toets” (Sagaria 13:9) voorspel.

Die Nuwe Testament dui aan dat vurige beproewings aanvaar moet word – as algemeen vir alle mense. Selfs die vername apostel Paulus het gepraat van, “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie” (2 Korinthiërs 4:8). En alhoewel hy ‘n toon van oorwinning laat klink het deur al die beproewings en toetse heen, het hy nogtans wanhoop beleef.

Daar is tye waarin jy in jou hart weet dat jy God dien met alles binne-in jou – jy is seker van jou liefde vir Sy Woord. Jy glo al die beloftes; jy weet Hy is getrou en jy bely dit is so; en jy weet jy is gewillig om enigiets te doen wat God van jou vra. Jy kan nie aan enigiets dink wat tussen jou en die Hemelse Vader staan nie. Jy weet jy het in geloof gebid – en steeds is jy neerslagtig. Die duisternis lig nie. Die las druk jou steeds neer. Daar is geen teken van jou gebede wat verhoor word nie. Jy roep steeds uit, “Hoe lank, O Here? Hoe lank moet hierdie beproewing voortduur? Wanneer sal ek ooit uit hierdie vuur kom?”

Die patriarge en profete was ook soms neerslagtig

Is daar enige voorbeelde in die Bybel van lyding en verdrukking onder goddelike mense wat op ons van toepassing sou wees in ons beproewings? Ja! Trouens, Jakobus moedig ons aan, “Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete.” Dan neem hy as fokus die lyding van Job. 

“Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is” (Jakobus 5:11).

Hier is ‘n regverdige man van God, so neerslagtig was dat hy gesmag het na die dood. Hy was so verpletter deur droefheid en smart, dat hy sy wil om te lewe verloor het. Sy seuns was van hom af weggeneem met ‘n skielike gruwelike slag. Hy het sy rykdom, sy invloed, en sy goeie naam verloor. Sy vriende, net soos hulle was, het hom verlaat en veroordelend gesit as sy aanklaers. Diegene wat hy gehelp het, het teen hom gedraai. Diegene wat hy liefgehad het, het nie langer op sy behoeftes gereageer nie. Eerder as om hom te help, het diegene rondom hom, hom beskuldig dat hy al die swaarkry op homself neergebring het. Nie eens sy eie vlees en bloed het verstaan waardeur hy gegaan het nie. Nie een mens het regtig omgegee nie.

As Job in die toekoms ingekyk het, was al wat Job kon sien pyn, trane, eensaamheid en leegheid. Daar was nie een silwer randjie in al die donker wolke wat oor hom gehang het nie. Behalwe al die stryd met eensaam wees in sy gesukkel, het a fisieke ongesteldheid hom oorval. Sy liggaam het ook ‘n vyand geword. Geestelik, fisiek, finansieel – in elke opsig. Job was terneergedruk.

Die eensaamheid wat Job moes beleef het, moes verskriklik gewees het. En die wanhoop het so lank aangehou, met geen verligting in sig nie, dat Job begin het om bitter te word. Hy het sy geboortedag verag, asof om vir God te sê, “God, U het my in die wêreld gebring – hiervoor? Was ek gebore om in onrus, pyn en probleme te leef? Hy het bevraagteken waarom God so lank gewag het om hom te verhoor.

Maar Job se grootste wanhoop het gekom van ‘n dilemma wat hy glad nie kon verstaan nie.

“Waarom gee Hy lig aan ‘n man wie se weg verborge is, ‘n man wat deur God aan alle kante ingesluit is?” (Job 3:23).

Die verwarrende dilemma is die volgende: Waarom maak God Homself so werklik vir my, maar hou my vasgevang in swaarkry? God hou aan om Sy Woord aan my te openbaar; Hy is so werklik vir my in gebed; ek sien die lig van Sy heerlikheid en getrouheid – maar, die pad voor my is steeds duister. Waarom al die lig op my siel werp – en ek is steeds, verward, steeds weggesteek, omring met probleme? Job het in werklikheid gesê, “God, alles kom op my af; ek sien nie ‘n uitweg nie – so waarom hou U aan om vir my al hierdie beloftes van verlossing te stuur?” Met ander woorde, “Ek kry die boodskap; ek sien die waarheid; ek weet wat U bedoel – maar waar is my oplossing?”

Probleme en beproewing volg dikwels op groot seën

Dit gebeur dikwels dat ‘n gelowige se ergste beproewings reg na die mees glorieryke openbaring en geestelike groei kom. As ‘n kind van God, kan jy in ‘n lang, uitgerekte beproewing gedruk word onmiddellik nadat jy met rasse skrede geestelik gegroei het. God lyk of Hy jou gereed maak om deur ‘n ernstige, beproewende tyd te gaan. Daarom gee jy oor aan Sy tugtigende roede. Die angstige dae wat volg dwing jou om net op God te vertrou. Jy weet jy is in die vuuroond; jy weet dat slegs Sy bonatuurlike krag jou deur dit alles dra – en jy wil al die lesse leer waarin God jou wil onderrig. Net as jy op die punt is om op te gee in wanhoop, kom die Trooster en gee ‘n kort tydperk van rus vir jou moeë siel. Jy is verkwik en bemoedig. Jy begin uitsien en dien. “Ek is besig om daaruit te kom! Verlossing is net om die draai! Nog net ‘n paar dae of weke en alles sal reg wees.”

Maar die dae gaan verby en, in plaas van jou las te verlig, word dit swaarder. Net toe jy gedink het die stryd is verby – raak dit erger! Planne loop verkeerd. Dinge wat jy hoop sou gebeur – gebeur nie. Beloftes word gebreek. Te veel verlangde oorwinning materialiseer nie.

‘n Magtige profeet raak terneergedruk

Die profeet Jeremia het deur presies so ‘n beproewing gegaan. Hy het gehoop op verlossing, maar in plaas daarvan, was hy dieper in die put van wanhoop gewerp. Hy het uitgeroep, “Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak. ...Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak” (Klaagliedere 3:7,9).

Hoe duidelik het hierdie profeet die gevoelens beskryf van ‘n kind van God wat terneergedruk is tot in die diepste afgrond: daardie ingehokte gevoel; laste wat voel soos kettings wat swaarder word; mure van klip in elke rigting en ‘n onsekere pad vorentoe; ‘n onbegaanbare pad.

Hou in gedagte dit is dieselfde Jeremia wat Christus so dikwels aangehaal het. Hoe kon ‘n profeet van God, wat uitgevaar het teen konings en nasies, in so ‘n diepe onrus en wanhoop verval? Groot konings en kapteine van magtige leërs het aan sy lippe gehang. Dit is dieselfde profeet wat konings Jóhanan en Hosája en al hulle leërs laat wag het vir tien dae terwyl hy God om leiding gesoek het.

“En aan die einde van tien dae het die woord van die HERE tot Jeremia gekom, en hy het Jóhanan...geroep en al die owerstes van die leërs...en aan hulle gesê: So spreek die HERE...” (Jeremia 42:7,9).

God het herhaaldelik met hierdie nederige profeet gepraat. Hy het glorieryke openbarings en magtige seëninge van die Heilige Gees beleef. Hy het geweet wat dit was om uit die binnekamer van gebed uit te kom met duidelike leiding van die Here. Maar nou, is hy neerslagtig, baie neerslagtig. Eensaam, terwyl hy verworpe voel en dink God het opgehou om sy geroep te verhoor – laat hy nou toe dat ‘n ou wortel van bitterheid opspring, en, met die gevolg, het hy rusteloos en bekommerd geword. Hy het sy geestelike kalmte verloor en geroep:

“Hy het my met bitter kruie versadig…En U het my siel van die vrede verstoot...” (Klaagliedere 3:15,17).

Jeremia het God se hand in sy lewe uit die oog verloor. Hy kon nie langer beleef dat God in enigiets was wat nou met hom gebeur het nie. Hy het gedink hy was nou op sy eie; dat al God se leiding verkeerd was; dat die lig in hom op die ou end miskien regtig duisternis was.

“My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig” (Klaagliedere 3:2).

Hoe jammer, maar tog hoe algemeen by alle kinders van God – Jeremia het die laagste punt bereik. Hy kon nie laer nie. Luister na sy jammerlike hopeloosheid: “Hy het...my in die as neergedruk...My roem het vergaan en my hoop op die HERE. Dink aan my ellende en my omswerwing” (Klaagliedere 3:16-21).

Ek wonder hoeveel van my lesersvriende kan hulle vereenselwig met die pyn van Jeremia toe hy terneergedruk was? Is jy ook op daardie punt in jou beproewing dat uitroep, “God, ek is raadop! Ek kan dit nie meer verdra nie! Ek voel so ellendig dat ek kan sterf! Ek kan nie neer neerslagtig voel as wat ek nou is nie! Ek kan dit nie verstaan nie! Wanneer sal hierdie duisternis verbygaan?”

Wonder jy of die dag ooit sal aanbreek wanneer jy weer gelukkig en sorgvry sal wees? Bekommer jy jou daaroor dat jou beproewing reeds te lank geduur het en jy nie in staat gaan wees uit te hou as dit sou voortduur nie? Val jou hoop en drome uitmekaar – asof dit lyk of jy verdoem is tot ‘n lewe van ellende en probleme? Dank God – daar is ‘n antwoord op dit alles in die Woord. Ons is ‘n boodskap van vertroosting gestuur vir almal wat neerslagtig is.

Die pad boontoe

Sover, het ons ons aandag gefokus op die probleem. Nou, laat ons die weg na die oorwinning oor alle wanhoop beskou. Ons kan begin met die profeet waarna ons verwys as ons voorbeeld van lyding, omdat hy ook die voorbeeld stel vir geloof en hoop.

In sy donkerste uur, het Jeremia ‘n heerlike waarheid ontdek wat nuwe hoop en versekering tot sy gedagtes gebring het. Dit was iets wat hy reeds oor God geweet het, maar dit het nie sy siel aangeraak totdat hy raadop was nie. Hy het ontdek dat toe hy op sy laagste punt was – was God daar! Hoe dieper hy afgegaan het, hoe meer was God daar om ontdek te word. Af beteken nie om in een of ander donker, versteekte, skrikwekkende afgrond in te gaan nie – maar af is om dieper in God in te gaan. God is nie veronderstel om “DAARBO” in een of ander heerlike swewing in ongestoorde hemele ontdek te word nie, maar in die skadu’s van droefheid en wanhoop. Toe Jeremia sy laagste punt bereik het, het hy in God vasgeloop! Hy het hard geval op die getrouheid van ‘n deernisvolle God. Luister na sy ontdekking:

“Dit is die goedertierenheid van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot” (Klaagliedere 3:22-23)

Bietjie vir bietjie, het Jeremia ‘n paar groot waarhede begin besef wat slegs ontdek kan word deur diegene wat neerslagtig is.

  1. “Wanneer ek op my laagste punt is; wanneer probleme oor my hart vloei soos water en ek sê, “Dit is klaar met my” – dan trek God my nader en fluister, “Wees nie bevrees nie!” (Klaagliedere 3:54-57).
  2. Wanneer dit lyk of God Homself “in ’n wolk gehul het, sodat daar geen gebed kan deurdring nie” – sal Hy steeds my verdrukking sien en aan my reg verskaf (Klaagliedere 3:44-59).
  3. “As die Here droefheid en smart toelaat, sal Hy terselftertyd my onderhou met oorvloedige deernis en liefde (Klaagliedere 3:32).
  4. God is hartseer waneer ek hartseer is; Hy wil hê my probleme moet ophou! (Klaagliedere 3:33).
  5. God is nie teen my nie en probeer my nie verpletter onder Sy voet wanneer ek terneergedruk is soos ‘n prisonier in die moeilikheid nie (Klaagliedere 3:34).
  6. God probeer nie enige van my planne saboteer nie; Hy veroorsaak nie my verwarring nie; Hy werk nie teen my nie (Klaagliedere 3:35).
  7. Selfs in my wanhoop en bitterheid wanneer ek dit haat om ‘n nuwe dag tegemoet te gaan – hou Sy goedertierenheid nooit op nie. Sy barmhartigheid wag vir my – dit is nuut elke môre (Klaagliedere 3:22,23).
  8. Omdat God altyd getrou is, sal Hy aan my reg doen. God sal my nie verwerp nie. God sal my red (Klaagliedere 3:25,26).
  9. Wanneer ek op my laagste punt is, het ek nêrens om heen te gaan as na God toe nie; daarom sal ek my hart en my hande ophef en Hom dank vir Sy getrouheid! (Klaagliedere 3:40).
  10.  Om neerslagtig te wees, het my krag en hoop uitgeput. Ek is leeg en vernederd gelaat – daarom kan ek nou totaal op Sy barmhartighede staatmaak! (Klaagliedere 3:18,20,21).

Wat dit alles beteken, is bloot die volgende: Haal jou oë af van jou probleme en verdrukkings, en herinner jouself dat God steeds getrou is en dat Sy deernis en innige liefde joune is om in besit te neem.

Bestraf jou ongeloof en sê vir jou siel, “Wag ‘n bietjie – God is steeds God! Hy is steeds op Sy troon, Hy hoor en verhoor gebed. God gaan om my onthalwe optree, nie een minuut te vroeg of te laat nie. Hy probeer my nie skade doen nie; Hy het my lief. God loop oor van liefde vir my; Hy gee om oor my. Hoewel ek op hierdie oomblik neerslagtig en hartseer is, is Hy nie ver nie. Hy sien elke beweging wat ek maak; Hy vang al my trane op; Hy sal spoedig optree en doen wat gedoen moet word – betyds! God is groter as my probleem! God is te heilig om my teleur te stel. Sy beloftes het nie en kan nie teleurstel nie. Daarom sal ek stil wag op my Here om my na ‘n veilige plek te bring. Tot dan, is Hy met my in die donkerste uur. Ek is nie alleen nie – Hy het beloof om my nooit te verlaat of te begewe nie! In my smart – sal Hy my vertroos! Selfs in die dood – sal Hy my nie verlaat nie!”

God ly wanneer jy ly; Hy is nie teen jou nie en probeer jou nie onder sy voet vermorsel wanneer jy terneergedruk is nie (3:33-34). Wanneer jy op jou laagste is, wend jou tot die Here en prys sy naam. “Laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel” (3:41). Dit is wanneer God jou sal nader en fluister, “Wees nie bevrees nie!” (3:57). 

Jeremia het die boek van Klaagliedere geskryf uit ‘n gebroke hart oor die verwoesting van Jerusalem. Sy krag en hoop het verdwyn; hy was leeg en verneder. Maar hy het sy vertroue volkom in die Here se barmhartighede geplaas en hy kon getuig, “Daarom sal ek hoop” (3:21).

Daar is geen menslike toestand so donker en hopeloos dat God ons nie tegemoet sal kom en ons hoop gee nie.

Download PDF