‘n Oproep tot Smart | World Challenge

‘n Oproep tot Smart

David WilkersonOctober 5, 1987

Ek is oortuig dat die enigste manier om die volheid van die blydskap van Jehova te beleef, is om sy smart te deel. God het smart oor sonde, en diegene wat werlik met Hom wandel, tree in Sy smart in.

In die dae van Noag, “toe die HERE sien dat die boosheid van die mense op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart” (Génesis 6:5,6).

Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, beteken om die hart te sny. Dit beteken hartseer, pyn. Die goddeloosheid van die mensdom het God diep seergemaak, en groot smart vir Sy hart veroorsaak.

Jesaja het van Christus gesê, “Hy was verag...’n man van smarte en bekend met krankheid” (Jesaja 53:3). “Nogtans het Hý ons krankhede op Hom geneem, en ons smarte” (Jesaja 53:4). Die sonde van die mensdom het daardie smart veroorsaak. Hy het in die dieselfde hartseer en pyn van die hemelse Vader ingetree.

Ou en Nuwe Testament dienaars van God het hierdie smart oor sonde gedeel

Dawid was ‘n man van God wat die heerlikheid van die blydskap in Jehova gevind het, maar dit was gebore uit groot smart oor die oortredinge onder die Here se volk. Hy het gesê, “Ek het diegene gesien wat troueloos handel, en dit het my gewalg dat hulle u woord nie onderhou nie” (Psalm 119:158). “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ‘n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?” (Psalm 139:21). Dawid het gehaat wat God gehaat het; hy was bedroef oor die dinge wat God bedroef het en het verag wat God verag het.

Die profeet Amos het uitgeroep teen “die gerustes in Sion...maar hulle nie oor die verbreking van Josef bekommer nie...” (Amos 6:1,6). Hy het God se smart gedeel oor ‘n afvallige volk wat in gemak en voorspoed rondgelê het en gerieflikheidshalwe vergeet het van die naderende oordeelsuur, terwyl hulle op beddens van ivoor (materialisme) gelê het, hul musiek gemaak het, wyn gedrink het – maar glad nie getreur het oor die verwoesting rondom hulle nie (Sien Amos 6:1-6).

Die woord wat Amos gebruik het, is siek word. Hy het in werklikheid gesê, “Die sonde en verwoesting onder God se kinders maak jou nie siek nie. Dit walg jou nie omdat jy blind geword het as gevolg van sonde en die goeie lewe wat jy nou geniet.”

Nehemia was bedroef, want hy het die boosheid wat die huis van God geïnfiltreer het, verstaan. ‘n Afvallige priesterskap het ‘n verskriklike kompromie in die huis van God ingebring, en slegs Nehemia het die dieptes van die ongeregtigheid en die verskriklike gevolge verstaan wat dit oor die volk sou bring (Sien Eségiël 13;1-9). Die hoëpriester Éljasib, wie se naam in Hebreeus dui op “eenheid deur kompromie” het plek gemaak in die tempel vir Tobia, ‘n Ammonitiese prins. Volgens wet, was geen Ammoniet toegelaat om sy voete in die tempel te sit nie. Maar Tobia, wie se naam “voorspoed, plesier, goeie lewe” beteken, was toegelaat om daar te woon, ‘n heiden ingegrawe in die huis van God.

Daar was nou ‘n nuwe ding in God se huis. ‘n Verdorwe bediening wat in die liga van hedonisme was. Die volk van God het gesmag na voorspoed, na die goeie lewe; en Tobia was gereed en gewillig om hulle die materialistiese pad van afgodery te leer. “Maar tevore het Éljasib, die priester wat oor die kamers van die huis van onse God aangestel was, ‘n verwant van Tobia” (Nehemía 13:4).

Nehemía het die goddeloosheid verstaan wat plaasgevind het en ondersteun was deur ‘n sonde-toegeeflike priesterskap. “En [ek het] na Jerusalem gekom. Toe het ek die kwaad opgemerk wat Éljasib gedoen het deur vir Tobia ‘n kamer in die voorhowe van die huis van God in te rig. En ek was erg ontstemd, sodat ek al die huisraad van Tobia uit die kamer buitentoe gegooi het, met die bevel dat hulle die kamers moes reinig; en ek het die gereedskappe van die huis van God, die spysoffer en die wierook daarin teruggebring het...” (Nehemia 13:7-9).

Nehemia het nie impulsief of uit wettiese tradisie opgetree nie! Hy het met God se oë gekyk, gevoel soos God gevoel het en hy het die goddelose mengsel of kompromie van die kankeragtige groeisel van sonde in God se huis verstaan.

As meer bedienaars die goddelose mengsel van die musiek, die indringing van vermaak, die begeerte van materialisme nou in die kerk verstaan het – soos Nehemia, sou hulle dit betreur het en dit weereens uit die kerk gewerp het. God, gee ons ‘n liggaam van predikers en gemeentelede wat siek van sonde en mengsel is, en wat ‘n stand daarteen kan inneem. God, gee ons gelowiges met genoeg onderskeiding om die diepte en gruwel te verstaan van die kompromieë en sondigheid wat in die Here se huis ingesluip het.

Paulus was bedroef oor die afvalligheid van God se volk. Hy het gewaarsku, “Want baie – van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê – wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik, en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge” (Filippense 3:18,19). Die Griekse betekenis hier is harde gesnik of ‘n deurdringende gesnik uit ‘n gebroke hart. Om Christene te sien wegdraai na aardse dinge, die Kruis van skande verwerp, het Paulus se hart gebreek tot die punt waarop hy letterlik gebewe het met die smart van God. Dit was nie stille wanhoop of gelate gesug oor die afvalligheid nie, maar die harde, deurdringende, hartverskeurende geween van ‘n man wat God se smart oor sy afvallige kinders betree.

Die bediening van Smart

Samuel was ‘n jongman wat geroep was tot die “bediening van smart.” Nie sy eie smart nie, nie die smart van die mensdom nie – maar die innige en onpeilbare smart van God! God was diep bedroef oor die afvallige toestand van Sy eie volk, en daar was niemand om dit mee te deel nie. God was op die punt om Sy heerlikheid van Sy huis by Silo te verwyder, en die huidige bediening wat voor Sy altaar gestaan het, het dit nie geweet nie. Hoe jammer om so doof, dom en blind te wees in die uur van oordeel.

Israel was verdorwe; die priesterskap was owerspelig; en die gevestigde, georganiseerde bediening was heeltemal blind. Eli verteenwoordig die verrottende godsdienstige stelsel met al sy eiebelange, nadat hulle sag geword het deur gerieflike lewe met slegs ‘n skynhaat vir sonde. Eli het vet en lui geword oor die diep dinge van God en het bloot deur die rituele gegaan.

Sy seuns Hofni en Pinehas verteenwoordig die voortgesette bediening van tradisie. Hierdie twee jong priesters het nooit ‘n ontmoeting met God gehad nie.  Hulle niks geweet van “hoor uit die hemel” nie. Hulle het niks geweet van ‘n honger na God nie, of ‘n brandende passie om die heerlikheid en teenwoordigheid van die Here te beleef nie – niks van God se smart nie. Hierdie soort mense vas en bid nie. Hulle soek die beste bedieningsposte, met die meeste voordele en die beste kans op bevordering. Hulle harte was nog nooit gebreek oor die verlore mensdom nie; hulle weet min van lyding. Hulle is die produkte van koue, dooie vormgodsdiens. Hulle is nie vars van God af nie! Hulle sê die regte dinge, hulle klink en tree professioneel op. Maar daar is geen seën nie, geen heilige salwing nie; hulle ken nie die vrees en die skrik van ‘n heilige God nie.

So, soos Eli se seuns, word hulle sensueel, wêrelds en selfdienend. Die seuns van Eli het so verdorwe geword, dat God hulle “die seuns van Belial” (seuns van Satan) genoem het. Dit word van hulle gesê, “Hulle het die Here nie erken nie.” Deur hulle “vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel” (1 Samuel 2:29). Dit is waarom menigtes van evangeliese jongmense so koud en sensueel en rock-en-roll verslaafdes word, terwyl hulle bier drink, in buite-egtelike seks betrokke raak, verveeld en rusteloos is. Sommige jeugpastore verdoem hulle deur hul slegte voorbeeld en hulle gebrek aan Heilige Gees onderskeiding. As die jeugleiers nie die Here ken nie, hoe kan hulle die kinders vir God bereik? Ons beleef nou die tragedie van ‘n hele geslag wat afdwaal omdat hulle so min herders gehad het om vir hulle te wys hoe om die sataniese strikke van hierdie eeu te ontvlug. Daar was te veel voorsiening gemaak vir die sensuele begeertes van die jeug.

Eli het ál sy geestelike onderskeiding verloor! Hanna, ‘n goddelike vrou, het bitterlik geween in die huis van God in Silo. Sy het die Here gesmeek om vir haar ‘n seun te gee en was diep in voorbidding. Sy is ‘n tipe van die biddende heilige oorblyfsel wat smag en uitroep na God vir ‘n vars woord van God. “Want Hanna het in haar hart gespreek: net haar lippe het geroer, maar haar stem kon nie gehoor word nie – het Eli gedink dat sy dronk was” (1 Samuel 1:13).

Hoe blind kan ‘n bedienaar van die Here wees? Sy was in die Gees, in gesprek met God, onder goddelike salwing en sou binnekort ‘n kanaal vir vernuwing in Israel wees – en die man van God kon nie die waarheid onderskei nie. Hy het die betekenis van wat by die altaar besig was om te gebeur heeltemal gemis. Wat het met hierdie priester van die Allerhoogste God gebeur, dat hy op die drumpel van ‘n diepgaande nuwe beweging van God sou staan, wat Israel se toekoms sou beïnvloed – en hy so uit voeling uit was met God dat hy dit vir die vlees aangesien het?

Hoe gaan God deurdring tot hierdie afvallige, verdorwe volk van Israel? God is bedroef; Hy wil ‘n opskudding veroorsaak; Hy is op die punt om vinnig met toorn op te tree en dit alles uit Sy mond te spuug! Maar Eli weet dit nie! Eli het so genotgedrewe geword, so gemaklik, so versadig met koue tradisie – dat hy nie die geringste idee gehad het van wat God sê, of op die punt was om te doen nie. Sy seuns gaan eenkant toe gestoot word – letterlik afgesny word van die dinge van God. Maar hulle is so verteer met begeerte, so verslaaf aan die beste snitte vleis, so verhard deur sonde – dat hulle agente van Satan geword het, blind vir die dreigende oordeel. God moes buite die gevestigde godsdienstige struktuur gaan om iemand oop genoeg te vind om Sy smart te deel!

Die Samuel-Geselskap

Die Here bring altyd ‘n Samuel-volk om Sy stem te hoor in ‘n tyd van geestelike verval. Hierdie geselskap bestaan uit mans en vroue wat niks omgee vir tradisie, bevordering, vir denominasionele grense nie. Hulle verteenwoordig herders en gemeentelede wat ‘n oor het om te hoor. Hulle sonder hulle af met God.

God het ‘n onbekende profeet na Eli gestuur met ‘n waarskuwing. Dit was ‘n pyl geskiet direk in die hart van ‘n godsdienstige stelsel wat selfbeskermend geword het. Eli het hierdie afvallige seuns beskerm. God het profeties vir hom gesê, “Waarom...eer jy jou seuns meer as vir My deur julle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel” (1 Samuel 2:29).

Toe Eli gehoor het hoe sy seuns roem in hulle hoerery reg by die deur van die gemeente, was al wat hy kon sê, “Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die HERE oortree” (1 Samuel 2:24). God het later vir Samuel gesê Hy sou Eli se huis oordeel, omdat Hy geweet het van hulle ongeregtigheid en niks daaromtrent gedoen het nie. “En Ek sal hom te kenne gee dat Ek sy huis gaan oordeel tot in ewigheid oor die ongeregtigheid wat hy geweet het; want toe sy seuns skande oor hullleself gebring het, het hy hulle nie streng bestraf nie” (1 Samuel 3:13).

Daar is ‘n oordeelsdag bepaal hier op aarde vir bedienaars van die evangelie wat die sonde in die gemeente of in hulle gesinne ken en weier om daarmee af te reken. Hulle sal moontlik die owerspeliges, die wynsuipers, die hoereerders aanspreek – maar hulle het geen deurdringende boodskap van bestraffing nie! Hulle is bang om hulle kinders te straf. By die oordeel, sal ons Here vra, “Waarom het jy nie vir die volk die verskil tussen die heilige en die onheilige gewys nie?”

Waarom was Eli so sag teenoor die sonde van sy seuns? Omdat hulle die filet mignon gesteel het voor dit in die kookpot ingegaan het, en omdat hulle hierdie vars, rooi, vleis huistoe gebring het en Eli gewoond geraak het daaraan. Hy sou ly as hy te streng met hulle was – hy sou moes teruggaan om die deurweekte, gekookte vleis te eet. Hy het geleer om sy oë te sluit vir al die goddeloosheid om hom in God se huis – en in sy eie familie.

Dit is hoekom ek glo dat sommige predikers sag is met sonde. Hulle het afgestomp geraak as gevolg van die goeie lewe! Hulle geniet die gemak en prestige van groot getalle, groter geboue! Hoe subtiel is dit, met die wete iets moet gesê word uiter die bedienaar bloot ‘n lomp, “Julle moenie goddelose dinge doen nie!” Geen heilige gebulder nie. Geen smart oor sonde en kompromie nie. Geen van Paulus se visie van die oortreffende sondigheid van sonde nie. Geen waarskuwings van goddelike vergelding en oordeel nie. Mense sou aanstoot neem – ophou kom – ophou om die rekeninge te betaal. Die groei mag verhinder word.

Ek het in sommige van hierdie kerke gepreek en dit was ‘n hartverskeurende belewenis. Die herder, soos Eli, het gewoonlik die Ark van God lief – hy is nie ‘n goddelose man nie. Maar hy is ‘n vreesagtige man. Bang vir die beweging van die Heilige Gees, bang om mense aanstoot te gee, gee aan heiligheid lippediens – maar is bang om té hard met sonde af te reken. Egskeiding is algemeen. Daar is geheime buite-egtelike verhoudings! Jongmense is verslaaf aan gewoontes; diakens rook en drink; en daar is heelwat ongeestelike sosialisasie.

Ek staan op daardie broer se kansel en maak die Here se vereistes vir heiligheid bekend, doen 'n oproep tot bekering, waarsku teen die oordeel oor sonde – en kompromiemakers hardloop vorentoe, ween, bely, soek bevryding. Ek kyk kant toe en sien ‘n herder wat bekommerd is dat die diens buite beheer sal raak of dat daar een of ander openbaring van onbeheerbare geween of neerval op die vloer sal wees met smart en oortuiging van sonde. Hy is doodbang sy “nuwe mense” sal nie verstaan nie. Hy kan nie wag om die byeenkoms oor te neem om dinge te laat kalmeer nie. Hy begin soete versekerings fluister dat God hulle almal liefhet – en herinner almal van hoe laat dit is en verdaag hulle vinnig. Hy smoor die oortuiging van sonde en die sondebelaste lede gaan huistoe, bekommerd oor wat vir hulle lyk na hulle herder se onbesorgdheid.

Ek het daardie soort byeenkomste gebroke in my hart verlaat. Ek vra myself af, “Waar is die smart oor sonde? Kan leiers sien daardie huilende skape wil uitroep en die oortuiging van sonde van die Heilige Gees toelaat om Sy reinigende werk in hulle te doen?”

Waar is die smart van God op ons kansels?

Waar is die Samuels wat die stem van God gehoor het, wat opgewek is deur die Heilige Gees, wat ‘n openbaring van die naderende oordele op ‘n afvallige huis van God ontvang het? Waarom treur nie al die predikers van die evangelie oor die sondige toestand van die kerk nie? Waarom roep nie alle herders en evangeliste uit as wagte op die mure nie?

Dit word van Samuel gesê, “En Samuel het hom al die woorde meegedeel, en niks vir hom verberg nie. En hy het gesê: Hy is die HERE; laat Hom doen wat goed is in sy oë” (1 Samuel 3:18). Ek vra jou, herder: Vertel jy dit alles? Hou jy terug, verberg die waarheid, bang om aanstoot te gee?

Die boodskap van die Samuel-geselskap is nie ‘n aangename een nie! “Samuel was bevrees om die gesig aan Eli mee te deel” (1 Samuel 3:15). Samuel het gehoor hoe God die einde van ‘n afvallige godsdienstige stelsel aankondig het. Die visioen was oorweldigend! God was nie langer van plan om ‘n vorm van goddelikheid te verdra sonder die krag van heiligheid nie. Oordeel was op die punt om oor die huis van God neer te daal. Owerspel sou ontbloot word. Die kompromie-makende leierskap wou nie langer die seëninge van die teenwoordigheid van God geniet nie.

God sou Sy teenwoordigheid wegneem van Silo en ‘n heerlike nuwe ding doen in Israel. God het gesê, “En Ek sal vir my ‘n getroue priester verwerk wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is, en Ek sal vir hom ‘n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel” (1 Samuel 2:35). Dit spreek van die Samuel-geselskap van gelowiges en bedienaars wat dieselfde hart van God deel. Hulle ken die Here se plan; hulle ken Sy gedagtes; en hulle wandel in vrees en heiligheid voor Hom. Die Samuel-geselskap is biddende mense; en omdat hulle in aanraking met God is, word hulle gemaak om sy smart te ken en te deel! Dit was terwyl Samuel in gebed was dat God aan hom die verskriklike dinge wat oor die Here se volk sou kom, geopenbaar het. “Toe het die HERE aan Samuel gesê: Kyk, Ek gaan ‘n ding doen in Israel waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit” (1 Samuel 3:11).

Ek kan vir jou sê met wie God in hierdie dae praat! Hy praat met diegene wat afgesonder het met Hom en Hom soek soos die hert smag na water – wat gesterf het vir elke selfsugtige ambisie, wat geen ander doel in die lewe het nie, behalwe om vir Sy hart behae, glorie en blydskap te bring!

Ek sê dit sonder om te skroom – dit gaan nie ‘n denominasie wees wat die Woord van die Here bring aan hierdie vervloekte geslag nie! Dit sal nie ‘n komitee wees wat die ware Woord hoor en die laaste-dag insameling van die oorblyfsel aan die brand steek nie. Terwyl die engele van die afvalligheid uitgaan en die aarde tref, sal denominasies en godsdienstige leiers hard aan die werk wees om hulle belange te beskerm en hulle gesag uit te brei terwyl hulle verordeninge en resolusies optrek.

Tot aan die heel einde van sy bediening, het Samuel die smart van God oor Sy mense gedra. Israel het gesmag na ‘n koning, om hulle “te rig soos by al die nasies” (1 Samuel 8:5). Samuel het op sy knieë geval, baie ongelukkig. En weereens het God Sy smart met hom gedeel: “Toe sê die HERE vir Samuel: Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle vewerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie (1 Samuel 8:7).

God se smart bring protes teen sonde mee

Die smart van God oor die Samuel geselskap moet ‘n protes teen alle sonde en afvalligheid meebring! “Luister dan nou na hulle: jy moet hulle net ernstig waarsku en hulle die reg van die koning meedeel wat oor hulle sal regeer” (1 Samuel 8:9).

Oral waarheen mens nou gaan, verwerp God se kinders in groeiende getalle die heerskappy van Christus! Daar is ‘n geskree om “soos die nasies te wees.” Dit is mengsel! Dit is om net soos die wêreld te wees. Dit is sê, “Ons wil God en die wêreld hê!”

Dank God vir die protesterende Samuel Geselskap! Hulle het van God gehoor en weet waar al hierdie kompromieë gaan eindig. Hulle sien die skrikwekkende gevolge van afvalligheid wat voorlê en, soos Paulus, huil hulle met daardie deurdringende, hartverskeurende uitroep van smart.

‘n Oproep tot smart lei tot ewige blydskap in Jehova!

Diegene wat ween oor sonde in die kerk word doempredikers en swartgalliges genoem. Baie Christene sê, “Ek hou nie daarvan om naby hulle te wees nie. Hulle klink so negatief, so stug, en hulle lyk so hartseer.” Dit is omdat hulle hul bloot nie ken nie! Hulle weet nie dat diegene wat God se smart oor sonde deel, ook in die grootste maat van blydskap ingebring word nie.

Diegene wat waarlik treur saam met God, word ‘n jubelende hart van blydskap in Jehova gegee! “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil. Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes” (Hábakuk 3:17-19).

Hierdie blydskap kom van die wete dat God altyd ‘n rein bediening sal hê, ‘n heilige en afgesonderde liggaam – selfs in die boosste dae. Hulle weet dat God hulle sal vereer met Sy konstante teenwoordigheid terwyl alle ander van hulle af wegdraai in vrees. Hulle is vol blydskap omdat hulle krag kry deur te glo in die majesteit en krag van God, wie se oordele altyd regverdig is. Saam met Hábakuk kan hulle sê, “Hoewel alles misluk, sal my hart juig in God alleen!” Selfs wanneer dit lyk of daar oral mislukking is en so min resultate, maak smart plek vir ekstatiese blydskap, deur naby die hart van die Here te wees. Saam met Paulus, kan die treurende oorblyfsel sê, “as sterwendes en kyk, ons lewe, as getugtig en tog nie gedood nie; as bedroefdes, maar altyd opgeruimd...” (2 Korinthiërs 6:9,10).

As onweerlegbare Bybelse bewys dat die deelname in God se smart op gejubel uitloop, herinner ek jou aan die woorde van Dawid wat gesê het, “Hy loop altyddeur en ween en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra” (Psalm 126:6).

 

Download PDF