‘n Roepstem Sonder ‘n Stem | World Challenge

‘n Roepstem Sonder ‘n Stem

David WilkersonAugust 19, 2002

In Markus 7 vind ons Jesus waar Hy ‘n groot wonderwerk doen. Die hele dramatiese toneel vind plaas in net vyf verse:

“En Hy het weet uit die gebied van Tirus en Sidon vertrek en na die see van Galiléa gegaan, deur die gebied van Dekápolis. Toe bring hulle na Hom ‘n dowe wat swaar praat, en smeek Hom om hom die hande op te lê. En Hy neem hom opsy, weg van die skare, en steek sy vingers in sy ore, en spuug en raak sy tong aan; en nadat Hy opgekyk het na die hemel, sug hy en sê aan hom: Éffata, dit is: Gaan oop! En dadelik het sy ore oopgegaan en die band van sy tong het losgeraak, en hy het reg gepraat” (Markus 7:31-35).

Stel jou die toneel voor. Toe Jesus op die rand van Dekápolis kom, het hy ‘n man ontmoet wat beide doof en stom was. Die man kon praat, maar sy spraak was onverstaanbaar. Christus het die man opsy geneem, weg van die skare. En terwyl Hy voor hierdie man gestaan het, het Hy sy vingers in sy eie ore gesit. Toe het Jesus gespoeg en sy eie tong aangeraak. Hy het twee woorde gespreek: “Gaan oop.” En oombliklik kon die man hoor en duidelik praat.

Net voor hierdie toneel, het Jesus ook ‘n vrou se duiwelbesete dogter verlos. Deur bloot ‘n woord te spreek, het hy die bose gees uit die meisie uitgedryf. Ek wonder: waarom is hierdie twee wonderwerke in die Skrif opgeteken? Word hulle ingesluit as net nog twee tonele uit die Here se lewe op aarde?

Die oorgrote meerderheid van Christene glo sulke stories is in die Skrifte opgeteken omdat dit veel aan ons openbaar. Dit is veronderstel om God se mag oor Satan en siekte te toon. Dit is bedoel as bewyse van Christus se godheid, om te bevestig dat Hy God in die vlees was. En dit is bedoel om ons geloof te versterk, om aan ons te wys dat God wonderwerke kan doen.

Ek glo hierdie stories was opgeskryf vir al hierdie redes en nog baie meer. Jesus vertel vir ons elke woord wat Hy gespreek het, het van die Vader gekom. Hy sê Hy het niks op sy eie gedoen nie, maar deur sy Vader se leiding. Elke gebeurtenis van Christus se lewe hou immers ‘n les in vir ons op wie die eindes van die eeue gekom het (sien 1 Korinthiërs 10:11).

Hierdie wonderwerk in Markus 7 handel nie net oor die genesing van een man, wat eeue gelede geleef het nie. Soos elke gebeurtenis van Jesus se lewe, wat gedokumenteer is, het dit vir ons ‘n besonderse betekenis vandag. En, soos Christus se gelykenis van die verborge skat in die land, moet ons hierdie betekenis naspeur.

Vir ‘n geruime tyd nou, was ek verbyster deur vrae oor die huidige geslag van jongmense. Hierdie brandende vrae het my eenvoudig oorbluf. Tog glo ek die verhaal van hierdie wonderwerk hou ‘n openbaring in wat baie van hierdie vrae sal beantwoord.

Eerstens, wil ek vra wie was hierdie man wat na Jesus gebring is: “’n dowe wat swaar praat” (Markus 7:32)? Sy naam word nie aan ons gegee nie. Ek weet egter wie hy verteenwoordig vandag. Hy is ‘n voorbeeld van hulle wat “ore het...maar hoor nie” (Psalm 115:6). Natuurlik verwys hierdie vers na ‘n geestelike toestand. Dit beskryf ‘n staat van geestelike doofheid, ‘n onvermoë om die waarheid van God se Woord te hoor en te verstaan.

Ek het ‘n diepe indruk dat hierdie dowe, stom man soos ‘n groot meerderheid van jongmense vandag is. Ek glo dit is veral waar van kinders uit Christelike huise. Baie lyk net of hulle nie die kapasiteit het om God se Woord te hoor en in te neem nie. Ek praat van goeie kinders: beleef, gehoorsaam, nie partytjie gangers nie. Hulle word nie vasgevang in dwelms, alkohol, seks of immoraliteit nie. Maar hulle is uiters passief teenoor God. In al my jare van bediening, het ek nog nooit so ‘n onbetrokkenheid met die dinge van God gesien soos hierdie geslag nie.

Ek het baie van hierdie geestelik dowe jeug, oral oor die wêreld ontmoet. En vir jare, het ek gevra waarom so baie goeie jongmense, veral diegene wat deur liefdevolle Christelike ouers grootgemaak is, passief oor Jesus kon bly. Hulle hoor preke wat van sonde oortuig, maar steeds reageer hulle nie.

Ek is diep seergemaak deur dieselfde toestand in sommige van my eie kleinkinders. Hulle hoor my preke, sien my elke dag preek met goddelike trane en Heilige Gees gesag. Maar hulle wys geen sigbare reaksie nie. Soms het ek gedink, “Miskien is vandag die dag waarop die Heilige Gees daardie louwarmheid en passiwiteit mag wegsmelt. Miskien sal ek ‘n traan sien as bewys dat God hierdie jong hart aangeraak het.

Ek het gewonder, “Is hulle stokdoof? Of het hulle God verwerp? Het hulle hul ore toegemaak, sodat hulle nie kan hoor nie?” Ek het met sulke gedagtes gestoei, omdat ek weet hulle is goeie kinders wat Jesus nie verwerp het nie. Maar hulle het eenvoudig geen passie nie. En Christus self waarsku dat goeie mense in die hel beland as hulle louwarm bly (sien Openbaring 3:16).

Ek sien dieselfde toestand in baie Christen mans. Hulle is goeie mans, getrou in hulle huwelike, liefdevolle vaders, verantwoordelike voorsieners. Wanneer hulle kerk bywoon saam met hulle vroue, weet ek daardie vroue bid, “Miskien sal sy hart vandag aangeraak word.” Maar na die tyd sal die man slegs glimlag en sê, “Ek het dit geniet vandag. Ek sal weer saam met jou gaan een of ander tyd.” Hierdie mans is nie Christus-verwerpers nie. Hulle is nie goddeloos, sensueel of immoreel nie. Maar as hulle aanhou om Christus net te bewonder, is hulle verlore.

Ek het ‘n aantal vriende wat ook so is. Hulle het my hartlik lief en sal enigiets vir my doen. Hulle kom na Time Square Church per geleentheid en sal altyd my prediking komplimenteer. Maar God se Woord affekteer hulle nooit waarlik nie. Hulle kan van Christus se dood, begrafnis en opstanding praat, omdat hulle dit oor en oor gehoor het van die preekstoel af. Maar hulle is passief. Hulle verlaat God se teenwoordigheid net soos wat hulle daar ingegaan het: onveranderd.

Ek vertel vir jou, alle sulke mense het ore, maar tog hoor hulle nie. Hulle is geestelik doof.

Die dowe, stom man se enigste hoop was om Jesus te kry. Hy moes ‘n persoonlike ontmoeting met Hom hê.

Laat my ‘n nota maak dat hierdie man nie was soos Paulus beskryf nie: “hulle in hul gehoor gestreel wil wees...en die oor sal afkeer van die waarheid” (2 Timótheüs 4:3-4).  Hierdie man het ook nie “’n gees van diepe slaap...ore om nie te hoor nie” (Romeine 11:8). Hy was nie soos diegene beskryf in Handelinge 28:27 nie: “Met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore en met die hart verstaan...nie.” Ook was hulle nie soos diegene teenwoordig by Stéfanus se steniging nie, mense wat hulle “ore toegestop” het nie (Handeling 7:57).

Hierdie man wou in werklikheid hoor. Hy was desperaat om genees te word. Tog lees ons, “Toe bring hulle na Hom ‘n dowe wat swaar praat” (Markus 7:32, kursief myne). Hierdie man het nie op sy eie by Jesus uitgekom nie. Hy moes na Jesus gebring word. Hy moes duidelik geweet het wie Jesus was en dat Hy die mag gehad het om te genees. Hierdie man het immers geweet hoe om te kommunikeer, of deur gebaretaal of deur te skryf. En hy kon op sy eie rondbeweeg. Hy het egter nooit die moeite gedoen om self na Jesus te kom nie. “Hulle” moes hom bring.

Wie was die “hulle” in hierdie vers? Ek kan net raai dit was hierdie man se familie of geliefde vriende, mense wat genoeg omgegee het om hom na Jesus te bring. Ek glo hierdie toneel sê soveel oor die toestand van ons jongmense vandag. Hulle sal nie op hulle eie na Jesus gaan nie. Hulle moet na Hom gebring word deur hulle ouers, hulle vriende, hulle kerkfamilie. Net soos die dowe man se ouers, moet ons ook ons kinders en geliefdes na Christus toe bring. Hoe, vra jy? Deur daaglikse, gelowige gebed.

Dink daaraan. Veronderstel hierdie dowe man se ouers het hom na Jesus gebring. Hulle het geweet hoeveel hulle seun ‘n persoonlike ontmoeting nodig gehad het. Hulle kon immers nie hulle seun smeek om te hoor nie. Dit sou dwaas wees om by hom te pleit of met hom te raas. En dit sou onvriendelik wees om hom veroordeeld te laat voel omdat hy nie die gedagtes van sy hart kon verwoord nie.

Baie Christen ouers, insluitende myself, kan so onvriendelik teenoor hulle eie kinders wees op hierdie dieselfde manier. Hoe? Ons raak omgekrap met hulle omdat hulle ons nie kan vertel waarom hulle nie na Jesus kan kom nie. Ons kan nie verstaan waarom hulle nie in staat is om in hulle eie woorde hulle hartsgeroep te verwoord nie. In werklikheid is hulle geestelik stom.

Ek kan nie begin om te peil hoe die wêreld die huidige geslag beïnvloed het nie. Jongmense van vandag het meer as enige vorige geslag beleef. Hulle het die angs van 9/11 beleef. Hulle het die skiet van kinders by skole gesien. Hulle het ‘n seksuele skandaal in die Wit Huis beleef. Hulle het gesien hoe prominente evangeliste as goddelose sondaars ontbloot is. En hulle sien CEO’s gevang word waar hulle gekul het om gierigheids-gedrewe wellus te vervul. Is dit geen wonder dat ons jeug verward is oor hoe en waar God in hulle lewens is nie?

Dit maak egter nie saak hoe ons kinders in hierdie toestand beland het nie. Dit is nutteloos om te probeer uitwerk waarom hulle so doof is vir God se Woord, so onbekwaam om hulle hart se roepstem uit te druk. Die Skrif vertel ons immers nie hoe die dowe, stomme man aan sy toestand gekom het nie. Nie ‘n woord word gerep dat hy so gebore is nie. Dit maak eenvoudig nie saak nie. Net so, dien dit geen doel vir Christen ouers om te probeer uitwerk wat hulle verkeerd kon gesê of gedoen het vroeër in hulle kind se lewe nie. Daar moenie teruggekyk word nie, nie bespiegel word nie, geen skuld gesoek word nie.

In werklikheid is daar geen ouer of geliefde wat ‘n dowe kind kan raadgee tot hy hoor nie. Jy kan nie ‘n stom persoon liefhê sodat hy gewoonweg kan praat nie. Dit sal nooit werk nie. En daar is geen bedienaar, raadgewer of juigbedienaar wat ‘n kind kan oortuig om die waarheid te hoor nie. Hulle kan nie daartoe liefgehê, veroordeel, of raadgegee word nie. Hulle is eenvoudig doof.

Daar is net een kuur, een hoop vir ons kinders en geliefdes om die waarheid te hoor. En dit is ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus self. “En [hulle] smeek Hom om hom die hande op te lê” (Markus 7:32). Die Griekse woord vir “smeek” hier beteken om te pleit, te bid. Hierdie pleitende ouers het Christus gesmeek, “Asseblief, Here, raak ons seun aan. Lê u hand op hom.”

“En Hy neem hom opsy, weg van die skare” (Markus 7:33). Christus het dadelik geweet wat hierdie dowe man wou hê. Hy het verlang na sy eie aanraking, sy eie ervaring. Hy kon nie tevrede wees met iets wat “hulle” gevind het nie. Dit moes vir hom sélf ‘n werklikheid wees. Hy wou hê Jesus moes sy ore oopmaak en sy tong losmaak. En dit het tussen hulle twee gebeur.

Jy mag sê, “Jy verstaan nie. Ek het gesien hoe my kind sy hart vir Christus gegee het jare gelede. Hy het voor die Here gekniel en gebid. Na dit het hy teruggeval, maar hy het teruggehardloop na Jesus toe en hom bekeer. Hy is steeds ‘n goeie, morele en vriendelike kind, maar nou is hy louwarm. Dit lyk nie of hy omgee oor die dinge van God nie. Wat het gebeur? Waarom wy hy homself nie heeltemal toe nie? Wat hou hom terug daarvan om hom ten volle oor te gee?”

Die antwoord is, hy het nog nie sy eie ontmoeting met Christus gehad nie. Hy het tot Jesus gekom op Pa se belewenis, Ma se belewenis, ‘n vriend se belewenis. Hy het ingegee op grond van iemand anders se pleidooi. Of miskien het hy ‘n prediker gehoor wat ‘n hellevuur boodskap gepreek het, sodat hy bang geword het en na Jesus toe gevlug het.

Daar is verskeie redes waarom die belewenis vir jou kind nie blywend was nie. My punt is dat hy nie self ‘n ontmoeting met Jesus gehad het nie. Hy mag die waarheid ken deur Christus dit in ander se lewens waar te neem. Maar hy het self nog nie Jesus beleef nie. Hy was nie eenkant weg van die menigtes geneem en sy eie aanraking gegee nie. Die openbaring moet van die Here alleen kom.

As jy God oor die jare gedien het, laat my toe om jou te vra: is dit nie waar dat jy kan terugkyk na ‘n dag of tyd toe jy ‘n bonatuurlike ontmoeting met Jesus gehad het nie? Hy het jou aangeraak en jy het dit geweet. Jy het nie die belewenis van iemand anders gekry nie. Dit was nie in jou ingeprent omdat jy iemand daaroor hoor preek het nie. Jy het Christus self beleef. Dit is waarom jy vertroue het in wat jy in Hom het.

Jesus het geweet die dowe man het hierdie soort ontmoeting nodig gehad. Daarom het Hy met die man in sy eie taal gepraat: gebaretaal. “En steek sy vingers in sy ore, en spuug en raak sy tong aan” (Markus 7:33). Ek stel myself voor dat Jesus sy eie vingers in sy eie ore plaas, na die dowe man wys en met sy mond beduie, “Ek sal jou ore oopmaak.” Toe het Hy sy tong uitgesteek, dit aangeraak en gespuug (waarskynlik omdat die stom man nie kon spoeg nie). Hy het aangedui, “Ek gaan die tou wat jou tong vasbind, lossny. En jy sal soos ander mense wees.”

Kan jy jou voorstel wat deur die dowe man se gedagtes gegaan het? Hy moes gedink het, “Hy praat my taal. Hy vra my nie om Hom te verstaan nie. Hy wil hê ek moet Hom verstaan. Hy wil hê ek moet weet Hy verstaan my! En Hy neem my eenkant, sodat ek nie beskaamd moet staan nie. Hy weet hoe skaam ek is en Hy wil nie ‘n publieke vertoning hê nie.

“Hy vra my nie vrae of beskuldig my nie. Hy weet presies waardeur ek gaan. Hy weet ek het Hom nie verwerp nie. Hy weet ek wil sy stem hoor en met Hom praat. Hy weet my hart wil Hom prys. Maar ek kan nie een van hierdie dinge doen, tensy ek die wonderwerk van sy aanraking ontvang nie. Hy moet weet ek wil dit hê.”

Ons Verlosser wys dieselfde soort deernis vir ons ongeredde geliefdes. Hy sal nie ‘n spektakel van enigeen maak nie. Dink aan hoe geduldig en besorgd Hy was met Saulus van Tarsus. Hierdie welbekende man was bestem om ‘n wonderwerk van ‘n ontmoeting met Jesus te hê. En Christus kon te enige tyd na hom toe kom. Hy kon Saulus neergefel het terwyl Stéfanus gestenig was voor die menigtes. Hy kon ‘n voorbeeld gemaak het van Saulus se bekering. Maar Hy het nie.

In plaas daarvan, het Jesus gewag totdat Saulus so te sê alleen in die woestyn was, terwyl hy op sy perd gery het, “weg van die skare.”  Dit was daar waar Hy na Saulus gekom het en hom bonatuurlik aangeraak het. En vir jare het, Saulus, herdoop tot Paulus, die storie van daardie dag oorvertel. Jesus het aan hom sy eie wonderwerk van ‘n aanraking gegee en sy blinde oë oopgemaak.

Jy hoef nie met die kerk se paadjie af te loop om ‘n ontmoeting met Jesus te hê nie. Sy beste werk word in die geheim gedoen. Dit is waarom Hy vir ons vertel. “Wanneer jy bid, gaan na jou binnekamer, ‘n geheime plek, weg van die skare. Soek My dan in privaatheid. Ek sal jou in die openbaar vergeld.”

“En nadat Hy opgekyk het na die hemel, sug Hy” (Markus 7:34). Die woord vir sug hier wys op ‘n hoorbare kreun. Dit is duidelik dat Jesus gegryns het en die kreun het uit sy hart gekom. Natuurlik kon die man dit nie hoor nie, omdat hy doof was. Maar waaroor gaan hierdie kreun?

Ek lees so baie kommentare oor hierdie toneel. Nie een daarvan getuig van, wat ek glo, God se Gees vir my vertel nie. Ek is oortuig Jesus het na die hemel gekyk en met die Vader gekommunikeer. Hy het stilweg in sy siel geween oor twee dinge. Eerstens het Hy geween oor iets wat net Hy in hierdie man kon raaksien. En tweedens het Hy geween oor iets wat Hy vandag raaksien, toegesluit in die harte van so baie mense, veral die jonges.

Wat het Jesus gesien, beide nou en toe? Wat het Hy gehoor, beide in hierdie dowe man se hart en in die harte van menigtes vandag? HY HET ‘N ROEPSTEM SONDER ‘N STEM GEHOOR. Dit was die roepstem van die hart, opgekrop, nie in staat om tot uitdrukking te kom nie. Nou het Christus self gekreun met ‘n roepstem wat nie verwoord kon word nie. Hy het ‘n stem gegee aan al die roepstemme van almal wat nie kan nie.

Dink aan die baie nagte wat hierdie dowe man homself aan die slaap gehuil het omdat niemand hom verstaan het nie. Nie eers sy moeder of vader kon weet wat hy gesê het nie. Hoe dikwels het hy probeer om te sê hoe hy voel, maar al wat uitgekom het, was pynlike, ongemaklike klanke. Hy moet gedink het, “As ek net kon praat, net een keer. As my tong tog net vir ‘n oomblik losgemaak kon word. Dan sou ek vir iemand kon vertel wat in my siel aangaan. Ek sou uitroep, “Ek is nie dom nie. Ek is nie vervloek nie. Ek hardloop nie van God af weg nie. Ek is net verward. Ek het probleme, maar niemand kan dit hoor nie.’”

Tog het Jesus die gedagtes van hierdie gefrustreerde man se hart gehoor. Hy het elke innerlike kreun, wat nie uitgespreek kan word nie, gehoor. Die Bybel sê ons Here word aangeraak deur ons gevoel van ons eie swakhede. En Hy het die pyn van hierdie man se doofheid en stomme toestand gevoel.

Ek glo Christus het uitdrukking gegee aan die Vader se pyne oor elke onhoorbare roepstem van die hart. Hy was God in die vlees en het gekreun oor elke hartsgeroep wat nie uitgespreek kan word nie: “Wat is verkeerd met my? Ek is nie kwaad vir God nie. En ek weet Jesus is ‘n werklikheid. Ek het Hom lief en wil Hom dien. Maar ek is verward. Waarom kan ek nie spreek wat in my hart opgekrop is nie?”

Ek het elf kleinkinders en ek bid daagliks vir elkeen van hulle. Huidiglik bid ek ywerig vir sekeres en bring hulle na Jesus deur intersessie gebed. Dit is goeie, gehoorsame kinders, met liefdevolle ouers. Hulle almal bely Christus en hulle het teer harte. Tog sien ek ‘n passiwiteit in hulle.

Deesdae maak ek tyd om met elkeen alleen te gesels. Ek vertel vir hulle, “Jy weet ek bid vir jou. Jy weet jou ouers bid ook vir jou. Ons weet hoe lief jy die Here diep in jou hart het. Maar waarom is jy so passief? Ek hoor jou nooit praat oor die dinge van God nie. Ek weet nie of jy jou Bybel lees of bid nie. Asseblief, vertel my wat in jou hart aangaan. Pla iets jou?”

Aan die begin het hulle hul skouers opgetrek. Dan vertel hulle vir my, “Ek weet nie, Oupa. Ek is nie kwaad vir God nie. Ek is net verward. Ek dink nie ek kan dit verduidelik nie.”

Ek gaan dan stomgeslaan weg. Ek moet vir God vra, “Wat gaan aan? Ek hoor ‘n roepstem, ‘n verwarde klank, ‘n verlange. Maar hulle kan dit nie hardop vir my sê nie. Hulle lyk of hulle iets vir my wil vertel, maar hulle kan nie.”

Ek is oortuig menigtes van ander jongmense is in dieselfde toestand. As hulle hul roepstem kon verduidelik, sou dit iets soos die volgende wees: “Ek het nog nooit soveel skynheiligheid in die kerk gesien nie. Nou sien ek dit in die besigheidswêreld, in skole, oral. Ek het meisieprobleme, probleme met my vriende. Alles kom op my af. Maar ek kan met niemand praat nie. My ouers is gewillig, maar dit voel of ek dit nie kan uitkry nie.”

Ons hoor nie hierdie roepstem nie. Geen mens kan nie. Ook kan ons nie verwag om dit te verstaan nie. So, wat moet ons doen? Ons weet om hart-tot-hart gesels, nie dowe ore genees nie. Ek glo ons het maar net een opsie:

Ons moet Christus vra om hulle hul eie belewenis te gee. Ons moet hulle na Jesus bring, net soos die dowe man se ouers gedoen het, om hulle eie aanraking te ontvang: “En [hulle] smeek Hom om hom die hande op te lê” (Markus 7:32). Ons moet bid, “Here, kry hulle alleen. Stuur u Heilige Gees om hulle harte aan te raak en te trek. Openbaar Uself aan hulle. Gee hulle hul eie belewenis.”

Nie lank gelede nie, het ‘n jongman gedurende ‘n gebedsdiens vorentoe gekom. Hy was ontsteld en het gehuil. Hy het my vertel hy was van die staat Washington af en dat hy vroeër die nag per ongeluk by ons diens ingeloop het. Hy het ons verlaat en na ‘n konsert toe gegaan, maar hy het daar uitgeloop. Nou het hy teruggekom na die kerk en hy wou gebed hê. Ek het gevra, “Is jou ouers Christene?” Hy het geantwoord, “Ja, meneer. Hulle bid aanhoudend vir my.”

Ek vra jou: was dit “per ongeluk” dat hierdie jongman by ons kerk ingeloop het? Ek glo nie. Hy het sy eie ontmoeting met Christus gehad. Niemand het hom gedruk of gesmeek nie. Hy is egter sonder twyfel na Jesus gebring. Hoe? Ek is oortuig dit was deur sy bekommerde ouers se gebede.

“En nadat Hy opgekyk het na die hemel, sug hy en sê aan hom: Éffata, dit is: Gaan oop! En dadelik het sy ore oopgegaan en die band van sy tong het losgeraak, en hy het reg gepraat” (Markus 7:34-35).

Jesus het ‘n private wonderwerk vir hierdie man gedoen. En die eerste stem wat die dowe man gehoor het, was Christus s’n. Natuurlik het Jesus met hom gepraat, om aan hom te bewys dat hy kon hoor. O, hoe moes daardie man nie gepraat het nie. Uit sy mond het jare se opgekropte gevoelens gekom. Nou kon hy die innerlike roepstem wat tevore geen stem gehad het nie, uitspreek.

Ek stel myself voor dat hy in die Here se arms geval het en geween het, “Jesus, U het die stem van my uitroep gehoor” (sien Psalm 5:2). Beskou die pyn en krag van Psalm 5 vir hierdie geneesde man: “Gee ag op die stem van my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. In die môre, HERE, sal U my stem hoor; in die môre sal dit aan U voorlê en afwag” (Psalm 5:2-3). Die liefde wat hierdie man vir Jesus gehad het, was nou sy eie. Hy het ‘n ontmoeting met die Here gehad.

Geliefde, wanneer jy vir jou geliefdes bid, hou dit in gedagte dat Jesus oor hulle kreun. Hy het nie gesug oor net een man in Dekápolis nie. Hy het geween oor die onderdrukte, innerlike roeptemme van jou kinders, jou ongeredde geliefdes en myne. Miskien het jy nodig om die manier hoe jy vir hulle bid, te verander. Bid dat die Heilige Gees agter hulle sal aangaan, hulle sal lok en trek, hulle sal aanraak en wakker maak tot ‘n nuwe begeerte vir Jesus:

“Here, neem my kind, my ongeredde geliefde, weg van die menigte af. sonder hulle af saam met U. En gee hulle u aanraking. Laat hulle ‘n private, persoonlike ontwaking hê. Mag dit ‘n diep, wonderwerk van ‘n belewenis wees met U.”

Ek moet afsluit met hierdie waarskuwing: Is jy geestelik doof vir God se Woord? Het jy ‘n toe mond, nie in staat om intiem oor Jesus te praat nie? Dan het jy nie’n verskoning nie. Jy weet hoe om by Jesus uit te kom. En jy weet Hy hoor jou roepstem. Hy wag vir jou om ‘n plek alleen saam met Hom te vind. Nou is die tyd om tot Hom te nader, sodat Hy tot jou kan nader (sien Jakobus 4:8).

In Lukas 18 lees ons van ‘n man wat na kerk toe gegaan het om te bid. Hy het alleen agter almal gestaan, weg van die skare af. Hy was so desperaat dat al wat hy kon doen, was om af te kyk na sy kloppende bors (sien Lukas 18:13). Hy het gebaretaal gebruik om te sê, “Here, hoor my hart se roepstem. Ek is moeg van my leegheid. Ek het ‘n ontmoeting met U nodig. Ek wil U self ken. U alleen verstaan wat in my hart, is. En net U weet waardeur ek gaan. Ek kan nie bid nie, omdat ek vasgebind is. Ek het u aanraking nodig, Jesus. Wees my, ‘n arme sondaar, genadig” (sien Lukas 18:13).

Christus het van hom gesê, “Hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan...hy wat homself verneder, sal verhoog word” (Lukas 18:14). Mag dit ook so vir jou wees.

Download PDF