‘n Stem — ‘n Spieël — En ‘n Stap van Geloof | World Challenge

‘n Stem — ‘n Spieël — En ‘n Stap van Geloof

David WilkersonJune 15, 1984

Daar is drie groot waarhede wat ek graag onder jou aandag wil bring. Elkeen is ‘n definisie van wat ‘n ware Christen behoort te wees.

Drie gesalfde manne van God vergestalt hierdie waarhede en hulle is Johannes die Doper, Stéfanus en Petrus. Johannes was die stem, Stéfanus het die heerlikheid weerspieël en Petrus het die uitdagende stap van geloof geneem. Hulle voorbeelde behoort die doelwit te wees van elke ware gelowige wat toegewy is aan die Here Jesus Christus.

Watter wonderlike lesse kan geleer word uit hulle lewens en bediening. Ons kan leer wat God vir ons begeer op die gebied van diens, hoe ons Sy heerlikheid kan weerspieël en die soort daaglikse lewe wat Hom die meeste behaag.

1. Johannes wys vir ons die soort diens wat die Here die meeste behaag.

Johannes se definisie van sy bediening was kort en eenvoudig. Hy het gesê, “Ek is die stem van een wat roep in die woestyn” (Johannes 1:23). Hier is ‘n dienskneg van die Allerhoogste, wat volgens die Skrif, die grootste “onder die wat uit vroue gebore is.” Hy was die grootste, mees geseënde van al die profete en ‘n erkende prediker van geregtigheid.

Die skares het saamgedrom om sy snydende boodskappe te hoor. Baie was gedoop en het sy dissipels geword. Selfs koninklikes is magtig deur hom beïnvloed. Sommige het gedink hy was Christus, ander het hom beskou as Elia wat uit die dood uit opgestaan het.

Johannes het geweier om verhef of bevorder te word. Hy was leeggemaak van selfdienendheid en hy het voortdurend weggedeins van die middelpunt van die aandag. Die grootste van alle profete was in sy eie oë nie eens waardig om ‘n man van God genoem te word nie – maar slegs ‘n stem. ‘n Woestynstem, beskeie, ingetrokke en glad nie begaan oor eer of bruikbaarheid nie. Hy het nie omgegee oor ‘n bediening te moet hê of oor “magtig gebruik te word deur God” nie. Hy het homself onwaardig geag om selfs sy Meester se skoene aan te raak. Sy hele lewe was toegewy aan “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.”

Watter magtige teregwysing vir ons in hierdie eeu van self-handhawing, bevordering van persoonlikhede, die najaag van invloed, egotisme en soeke na eer. Johannes kon dit alles gehad het, maar hy het uitgeroep, “Hy moet meer word, maar ek minder” (Johannes 3:30). En om daardie doel te bereik, het Johannes aangehou om almal wat hom gehoor het te herinner, “Ek is net ‘n stem.”

Wie onder ons vandag is gewillig om ons nietigheid te erken en tevrede te wees om “net ‘n stem” te wees wat roep in die woestyn? Hoeveel mense wat vandag in die kollig is, is bereid om hulle gevolg te verloor – om eenkant en buite sig te wees – om nie langer die middelpunt van dinge te wees nie – om op ‘n pad geplaas te word van afnemende gewildheid en bruikbaarheid?

Oral rondom my hoor ek Christene sê, “Ek wil hê God moet my gebruik. Ek wil hê my lewe moet iets beteken vir die Here. Ek wil Hom dien in ‘n voltydse kapasiteit. Verkieslik in een of ander bediening.”

Dit is alles baie prysenswaardig, maar is jy gewillig om “net ‘n stem” te wees? Is jy gewillig om jou blydskap en vervulling nie in diens nie, maar in toegewyde gemeenskap met die geseënde Here te vind? Die grootste beloning sal waarskynlik gaan aan diegene wat verborge en onbekend was, maar wat die Here magtig verheerlik het deur hulle eenvoudige getuienis van Sy getrouheid in hulle stryd.

Die geheim van Johannes se blydskap was dat sy vreugde nie in sy bediening of in sy werk was nie, nie in sy persoonlike bruikbaarheid of verreikende invloed nie. Sy enigste blydskap was om te staan in die teenwoordigheid van die Bruidegom, Sy stem te hoor, en homself daarin te verbly. Sy blydskap was daarin om ander, sy eie dissipels ingesluit, te sien stroom na Jesus, die Lam van God.

Die grootste vervulling wat ‘n kind van God kan ken, is om die self en alle begeerte om iemand te wees te verloor en bloot te juig daarin om ‘n seun of dogter te wees wat in die teenwoordigheid van die Here Jesus Christus lewe. Om volkome in besit geneem te wees met Christus, is wat die hart versadig. Johannes kon daar staan, in die Jordaan, met sy oë gevestig op Jesus en hom verbly in Sy teenwoordigheid. Hy het sy siel gevoed met Christus – sy hart het altyd na Hom uitgegaan met bewondering en ontsag.

So ‘n persoon, so oorgegee aan die heerlikheid van Jesus, word verhef bo alle behoefte om gesien of gehoor te word. Wat kan bygevoeg word by een wat volkome in besit geneem is met die heerlikheid en teenwoordigheid van Christus? Saam met Johannes, kan daardie mens sê, “My blydskap is volkome; Ek het gekry wat ek wou hê of ooit nodig sal hê in Hom.”

Die verbygaande strome van rusteloosheid en wanhoop kan die kind van God wat obsessief is met die teenwoordigheid van die Here nie aanraak nie. Deur geloof kan hy ‘n plek vind bokant dit alles. Die wêreld, die kerk, het nie méér “naam” evangeliste of wonderwerkers of groot oratore nodig nie. Die ware behoefte is nie vir meer herders of leraars nie. Daar is ook nie meer ‘n behoefte vir meer stigters van groot liefdadigheidswerke nie. So belangrik as wat dit mag wees, is die ware behoefte vir nederige, onbekende, onverheerlikte STEMME! Stemme wat sal getuig teenoor ‘n twyfelende wêreld dat Christus genoeg is om iemand deur enige krisis te dra – dat Hy ‘n toring van sterkte is.

God het stemme nodig – diegene wat sal opstaan – te midde van al die beproewings en versoekings wat woed en uitroep, “God is getrou.” Die Here dra my triomfantlik deur. In smart, is Hy my vertroosting. In swaarkry, is Hy ‘n sterk arm.”

Daar is ‘n behoefte vir stemme wat siekte en dood in die oë kan kyk en verkondig, “Hy is alles wat Hy gesê het Hy is! Hy het Sy liefde aan my bewys in my donkerste uur. Hy was my sterkte in my tye van swakheid. Hy was ‘n vriend, ‘n skuilplek. Om Hom te dien, maak ‘n verskil.”

Daar is genoeg goeie predikers wat leerstellinge, profesieë en sedelikheid verkondig. Talle doen magtige heldedade, dryf duiwels uit en genees die siekes. Prys God vir dit alles. Maar ek dink Johannes het iets te sê vir hierdie geslag. En dit is dat daar ‘n desperate nood is vir iemand wat alle gedagtes sal laat vaar om een of ander groot of belangrike werk vir God te doen, en in plaas daarvan, hulle oë sal rig op Hom alleen en ‘n stem word wat Sy triomferende liefde sal verkondig. Om eenvoudig ‘n daaglikse getuienis te wees aan almal rondom jou dat Christus alle dinge vul en ons liefde en aanbidding waardig is.

Dit is jammer dat die grootste deel van wat ek vandag hoor, gaan oor krag, bruikbaarheid, ‘n behoefte om nodig te wees, iets belangriks te doen, betrokke te wees in ‘n saak, deel te wees van ‘n florerende bediening, die behoefte om nie langer onwaardig of nutteloos te voel nie. So min is egter gewillig om uit die oog te wees, stil te getuig van die Here se getrouheid teenoor bure en vriende. Ons wil ingeïnkorporeer word vir Christus met ‘n kantoor, ‘n begroting, ‘n aangewese bediening. Daar is sommige geroep om dit te doen, maar die hoë roeping van God in Christus sluit in getrouheid om die evangelie aan almal in ons vriendekring te verkondig.

Miskien moet ons meer hieroor dink – “Wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God” (Lukas 16:15). Christus het vir die hooggeagte godsdienstige Fariseërs gesê dat gewildheid en menslike agting nutteloos in die Oordeel sal wees. God soek nederigheid, opoffering, self-lediging en ‘n afsku van alles wat van die self is – minder mense om onsself versamel en hulle meer na die Lam van God wys.

O, God – gee ons meer stemme en minder bevorderaars. Meer stemme en minders selfsoekers. Meer stemme en minder grootheid en hoogheid. Gee ons meer wat net Hom soek en nie net Sy gawes, Sy seën en Sy bevordering nie.

2. Stéfanus wys vir ons wat ons behoort te wees vir Sy heerlikheid.

Stéfanus het ‘n geopende hemel en ‘n verheerlikte Mens gesien op die troon, wie se heerlikheid weerspieël was in hom aan almal wat daar naby gestaan het.

“Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan” (Handelinge 7:55-56).

Stéfanus verteenwoordig wat ‘n ware Christen veronderstel is om te wees: een wat vol van die Heilige Gees is met oë gevestig op die Mens in die hemel. Hy is een wat daardie heerlikheid op so ‘n manier weerspieël dat almal wat dit sien, verstom staan en met verwondering vervul sal wees. Hy is iemand met ‘n standvastige kyk gevestig op Christus, wat altyd opkyk na Hom en volkome deur ‘n verheerlikte Saligmaker in besit geneem is.

Kyk na die hopelose toestand waarin Stéfanus homself bevind het. Hy was omring deur godsdienstige malheid, bygelowigheid, vooroordeel en jaloesie. Die woedende skare het bloeddorstig en met wilde oë teen Hom gestamp. Die dood het kort voor Hom opgerys. Watter onmoontlike omstandighede. Maar deur op te kyk na die hemel, het hy sy Here in die hemel aanskou en skielik het sy verwerping hier op aarde niks vir hom beteken nie. Nou was hy verhewe bo dit alles, deur Hom te sien wat onsigbaar was.

Een kykie van die Here se heerlikheid, een glimp van sy kosbare heiligheid en Stéfanus kon nie langer skade aangedoen word nie. Die klippe, die woedende gevloek, was alles skadeloos teen hom weens die blydskap voor hom. Een kykie van Christus se hemelse plekke lig jou bo-oor al jou omstandighede. Deur jou oë op Christus te hou en bewustelik na Hom uit te reik elke oomblik wat jy wakker is, gee jou vrede en kalmte soos niks anders kan nie.

Stéfanus het die strale van die verheerlikte Mens in die hemel gesien en dit weerkaats na ‘n Christus-verwerpende samelewing. Hy het “met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korinthiërs 3:18).

Hoe waar is dit dat ons word waarna ons kyk. Die beter vertaling behoort te lees, “Ons almal, wat met onbedekte gesig die heerlikheid weerspieël, word verander!” Die idee is dat die Christen soos ‘n spieël die heerlikheid weerspieël waarna hy voortdurend kyk. Dit is ons wat “in ‘n spieël” kyk na Christus, die voorwerp van ons liefde en in die kykproses word ons soos Hy.

Is dit moontlik om so ‘n visioen te sien van die verheerlikte Mens in die hemel dat dit ons bo ons omstandighede en swaarkry sal verhef? Stéfanus het dit as moontlik bewys – soveel so, dat terwyl hy bo dit alles was, het hy gebid vir hulle wat besig was om hom dood te maak. Sy moordenaars moes kyk na ‘n gesig wat werklik weerspieël het wat Stéfanus van Christus gesien het.

Ons almal het die voorreg om die volheid van die Heilige Gees op te eis en so vasgenael te wees op Christus dat ons verhewe kan lewe bo alles wat in ons pad gegooi word deur die vyand. Die direkte gevolg van totaal in besit geneem te word deur Christus, is ‘n praktiese uitwerking van Sy natuur in ons. Ons moenie net praat van Sy heerlikheid nie, ons moet dit weerspieël.

Daar is niks in ons lewens wat die aandag en respek van ander waardig is nie. Slegs in die weerspieëling van die lewe van Christus, kan ons die wêreld vir Hom beïnvloed. Vlees, wanneer na die wêreld weerspieël word, bedien dood. Christus weerspieël deur ons, bedien lewe.

J.N. Darby het geskryf, “’n Christen is ‘n mens op wie se hart die Gees van God Christus gegraveer het, net so seker as wat God die Wet op die tafels van klip geskryf en gegraveeer het; sodat die wêreld Christus in die mens kan lees, soos ‘n Israeliet die Wet op kliptafels kon lees.

“Dit is die Heilige Gees wat die dinge van Christus neem en dit aan die siel openbaar, wat die krag is van huidige praktiese verandering in die gelykenis van Christus. Ek verbly my in Christus, ek voed op Christus, ek het Christus lief. Dit is die presiese model en vorming van my siel volgens Christus, deur die Heilige Gees – dit is Sy openbaring van Christus. Ek het nie die net die heerlikheid lief nie, dit is Christus self wat ek liefhet, Christus wat ek bewonder; Christus vir wie ek omgee; Christus, wie se vlees ek eet, en wie se bloed ek drink – watter wonder as ek soos Christus is? Die Christen word dus die sendbrief van Christus; hy praat vir Christus, bely Christus, tree vir Christus op. Hy wil nie ryk wees nie, hy het rykdom in Christus – ondeurgrondelike rykdom. Hy soek nie die plesiere van hierdie wêreld hê nie, hy het vreugdes by God se regterhand vir ewig.

“Dit is nie my kyk na myself nie, maar my kyk na Christus, wat God se bepaalde middele is vir my toenemende verandering na die gelykenis van Christus.”

Stéfanus het ‘n lewende spieël geword waarin ons die heerlikheid van Christus weerspieël sien. Net so moet ons. Wanneer die vyand kom soos ‘n stroom en moeilike omstandighede kry ons onder, moet ons beide die wêreld om ons verstom en veroordeel deur ons heerlike, rustige vertroue in Christus. Aangesien ons deur ons geestelike sinne sien, word dit bereik deur ons gedagtes op Christus te hou.

Jy sal Jesus nie sien nie totdat jy na Hom begin kyk, en jy sal Hom nie vind nie totdat jy gaan waar Hy geopenbaar is. Hy is volkome, totaal geopenbaar in Sy heerlikheid in die Heilige Skrifte. Dit is die blye werk van die Heilige Gees binne-in ons wat vir ons uit die Woord wys wie Hy is. “Hy [die Gees] ...sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (Johannes 16:14). Vra jy daagliks vir die Heilige Gees om vir jou ‘n gees van wysheid en openbaring in die kennis van die Here Jesus Christus te gee? Jy behoort.

Dit is ‘n wonderlik ding om daaraan te dink om Christus te weerspieël aan ‘n verlore wêreld in al Sy heiligheid en volmaaktheid. Niemand van ons het al ooit ‘n ware en volmaakte weerspieëling gegee nie. Wat ‘n groot verligting om te weet dat ons die Een wie se beeld weerspieël word, nie kan ontsier of verbeter nie. Hy is onveranderlik volmaak, heilig en lieflik. Ons verander nie die beeld nie – die beeld verander ons. Elke keer wanneer ons in die Woord inkyk en ‘n nuwe straal van waarheid oor Sy lewe, dood, opstanding en hemelvaart sien – word ons daardeur verander. Ons word meer en meer soos die Een wat die middelpunt van ons liefde is. Ons verander nie onsself nie – die openbaring van Christus verander ons.

 

Wanneer die pyne van beproewing ons oorval,

Wanneer die golwe van smart aanrol,

Sal ek my kop op Jesus neerlê –

Kussing van die bekommerde siel:

Sekerlik kan niemand medelye hê soos U nie,

Wenende Een van Betanië!

 

“Jesus het geween!” – daardie traan van smart

Is ‘n nalatenskap van liefde.

Gister, vandag, môre,

Hy bewys Homself dieselfde vir altyd

U is alles in alles vir my,

Lewende Een van Betanië!

 

3. Petrus het vir ons die belangrikheid gewys van ‘n dapper stap van geloof neem.

Dit is een ding dat die Here na ons kom in ons beproewing en omstandighede om ons geteisterde siele te kalmeer en ons vrese stil te maak – maar dit is iets heeltemal anders om te midde van die bekommernis uit te stap en agter Hom aan te gaan. Die dissipels wat in die boot gebly het, het sonder twyfel gedink, “Dit is genoeg om Hom naby te hê en te weet Hy gee om oor ons in hierdie storm. Laat ons net stil sit en wag totdat Hy na ons kom.” Maar Petrus het die skip verlaat, ‘n baie dapper stap van geloof. Een kyk na sy Redder was genoeg. Hy het uitgeroep, “Petrus klim toe van die skuit af en op die water om na Jesus te gaan!” (Matthéüs 14:28).

Die sleutel vir hierdie belangrike les is, “op die water...na Jesus...” Jesus het gesê, “Kom.” So, deur sy oë te vestig op Jesus, het Petrus daardie groot stap van geloof geneem en vir ‘n rukkie op die water geloop. Dit was toewyding wat Petrus uit daardie stormgeteisterde boot getrek het. Hy het nie met sy geloof gepronk nie. Hy het nie probeer om hulle in die boot te verkleineer nie. Hy wou bloot nader aan sy Here wees. Hy het sy Here geag vir wie Hy was en nie weens die gawes en seëninge wat Hy gee nie.

Dit is waar dat Petrus gesink het toe hy sy oë van die Here afgehaal het – maar ons almal doen dit. Die waarheid is dat Petrus wel op die water geloop het. Deur geloof het hy ‘n plek in Christus ontdek bo die stormagtige, bruisende see. Hy het geloop oor dit wat hom bedreig het. Die storm het die water laat bruis – Petrus het nie op ‘n see van glas geloop nie. Tog het hy geloop bo-oor of bokant die onrus; dit is die ware les.

“Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my!” (Matthéüs 14:30). Die geloof wat hom bo-op dit alles kon hou vir ‘n rukkie, kon hom onbepaald hou. Maar hy het sy oë van Christus afgehaal, en toegelaat dat die onrus rondom hom sy vertroue neerwerp.

Is ons nie almal ‘n bietjie bang wanneer sterk, donker winde rondom ons saamkom. Was daar nie tye in jou lewe wat jy gedink het jy sink nie – vir ewig? Op ‘n manier is ek bly Petrus het misluk, omdat dit die beste my toestand oordra. Dikwels het ek daardie sinkende gevoel – en ek wonder hoe kon ek ooit bokant dit bly. Toe onthou ek iets wat my oupa vir my vertel het jare gelede: “Hou jou oë op Jesus. Kom so naby aan Hom as wat jy kan. Dit is die geheim van oorwining, van heiligheid en vir vrede.”

In onlangse handelinge in my lewe, was ek gedring deur die Heilige Gees om “na Hom te beweeg wanneer die storm toeslaan.” Eerder as om te gaan sit in selfbejammering en te bevraagteken waarom God sulke ernstige beproewings toelaat –soek ek nou om op te staan met ‘n pligsgetroue gebed en standvastige geloof, en agter Hom aan te gaan. Ek en jy het daardie selfde uitnodiging om te “Kom.” Kom, styg uit bo jou hartseer en droefheid; Kom, deur geloof dat jy bo-oor jou omstandighede kan loop. Kom, eien deur geloof dieselfde hulpbronne toe wat jou Here bokant dit alles gehou het.

Wat het ons Here bo al die omstandighede in Sy lewe gehou? Jesus het geween, Hy het gesmag, Hy het gely, die son het Hom gebrand, Hy het moeg geword, Hy was soos enige ander mens op die aarde wat geaffekteer word deur toestande. Maar Hy was altyd bo dit alles – omdat Hy nooit Sy eie werk gedoen of Sy eie wil vervul het nie. Hy het God se wil volmaak gedoen – Hy was heeltemal afhanklik van Sy Vader – Sy oog was slegs gerig op die heerlikheid van Sy Vader. Dit was daardie gefokusde “gefokusde oog” wat Sy geheim van oorwinning in alle krisisse was.

Waarom was hierdie storie van Petrus opgeteken in die Heilige Skrif? Ek glo dit wys ons hoe ‘n Christen Christus op die mees pligsgetroue manier moet najaag tydens die ergste krisis. Hoe dikwels was ek gewoond om terug te sit en te wag vir die Here om vir my te wys hoe om verlos te word van probleme. Ek het gedink dit was rus. Maar in plaas daarvan was dit dikwels ‘n passiewe fatalisme. Ek het nie besef dat probleme in moeilikhede die sterk wind kon wees wat my kon dryf na my begeerde hawe nie – rus in Christus.

God se manier van ontsnapping is om onsself bo ons omstandighede te verhef deur die energie van ‘n geloof gefokus op Hom. Wanneer die vyand inkom soos ‘n stroom, moet ons voortdurend uitreik na die Here en tot Hom nader. Die doel moet wees, nie om die wonderwerk te beleef om bokant die golwe te loop nie, maar om by Christus uit te kom op meer liefdevolle en intieme maniere. Almal wat Christus najaag, almal wat hulle oë op Hom gevestig hou, almal wat deur geloof uitstap om agter Hom aan te gaan – sal binnekort ongeaffekteer wees deur hulle omstandighede. Hulle sal so in vervoering wees met hulle visie van Hom dat hulle sal ontdek dat hulle in werklikheid bokant dit alles loop. Loop op die water, is ‘n neweproduk van na Jesus kyk.

Is dit nie hartseer dat so baie Christene, insluitend bedienaars, vandag dink dit is ‘n dapper stap van geloof om een of ander groot aardse uitdaging aan te pak of om in skuld aan te gaan om ‘n doel te bereik nie. Vir my is ‘n dapper stap van geloof om reguit in my stormagtige beproewings en omstandighede in te duik en te leer om bokant dit alles uit te styg in Sy teenwoordigheid.

Ek wil meer van Jesus leer te midde van dit waardeur ek gaan. Ek bou ‘n geskiedenis op met my Saligmaker, en elke nuwe openbaring van Hom is heerliker en meer vertroostend as die een voor dit. Ek wil nie meer my Here vra, “Waarom?’ nie. Ek wil nie enige subtiele gedagtes koester dat my Here my straf of vergeet of agter skedule is om my te help nie. NEE! Ek wil al my droefheid, my smart, my probleme in die oë kyk – en sê – “Nader, Here trek my nader na U toe! Laat alles in my lewe my na U dryf!”

Miskien, wanneer die vyand besef dat al wat hy besig is om te doen, is om jou nader na die Here te dryf, sal hy moet ophou – voor hy jou reguit in die volle heerlikheid van Christus indryf.

Lyding en die Kruis kan nie geskei word nie!

Lyding en die Kruis is onafskeidbaar – jy kan nie die een sonder die ander hê nie. Toe Christus Sy dissipels gewaarsku het dat Hy sou ly en sterf, het Petrus geprotesteer. Die hele gedagte aan lyding was verwerp deur talle vroeë kerkvaders.

Enige poging om lyding van die Kruis te skei, is ‘n werk van die vyand. Dit word gesê in die Skrif dat Christus “gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het” (Hebreërs 5:8-9).

“Maar ons sien Hom, naamlik Jesus...vanweë die lyde van die dood...vir elkeen die dood sou smaak...om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak...” (Hebreërs 2:9-10).

Enige kind van God wat vir jou sê daar is geen lyding vir gelowiges wat wandel in die Gees en geloof nie, ken nie die Woord van God nie. Ek dink nie enige Christen kan “gemaklik gemaak word tot sy dood” sonder lyding nie. Daar is ‘n gemeenskap van Sy lyding. Paulus het gesê, “Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus...” (2 Korinthiërs 1:5).

“Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is...” (Kolossense 1:2).

“As ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word...” (Romeine 8:17).

“Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie...” (Romeine 8:18).

“...dat net soos julle deelgenote is aan die lyding, so ook aan die troos...” (2 Korinthiërs 1:7).

Petrus het dieselfde boodskap verkondig. Dit was slegs na sy eie identifikasie met Christus en die Kruis toe Hy kon sê, “Maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring aan sy heerlikheid met blydskap kan jubel...” (1 Petrus 4:13).

“En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves...” (1 Petrus 5:10).

“Omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21).

Daar is baie ander oortuigende Bybelverse wat die lyding staaf van diegene wat die Kruis opneem en Christus volg. Lyding is aanstootlik vir diegene wat glo krag maak dit nutteloos. Dit was wat Christus se lyding so erg skandelik gemaak het vir Petrus. Hy het gewonder – waarom moes die Seun van God ly, in die lig van Sy vermoëns om legioene engele af te roep en al Sy vyande te vernietig? Petrus het geen waarde in lyding gesien nie, soos so baie vandag wat dit beskou as aanstootlik vir ‘n gelowige wat “gevul is met Heilige krag.”

Hoe kan ons hierdie Skrif sien sonder om ineen te krimp, as ons nie die waarheid aanvaar dat goddelike mense ly nie.

“Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde” (1 Petrus 4:1).

Ek is verstom oor die reaksie van sommige Christene wanneer ek praat van die lyding van die Here se kinders. Een dierbare siel het vir my geskryf: “Waarom so baie praat oor lyding? Dit kry my onder. Ek hou nie daarvan om daardie soort gedagtes te dink nie. Lyding is nie vir my nie. Ek dink slegs gedagtes wat positief en kreatief is. Jy ly waarskynlik so baie omdat jy geen openbaring van God se beloftes het nie. Ek sal vir jou bid...”

Ek het al bedienaars gehad wat jammerlik na my gekyk het en met neerbuigende stemme sê, “Arme Broer Dave, ‘n hedendaagse Job. Hy het sekerlik ons gebede nodig.” Ek kan sê om die manier waarop hulle na my kyk, dat hulle hulself afvra, “Watter verskriklike sonde is verborge in sy lewe? Of watter swak geloof moet hy hê – indien enige! Waarom moet sy vrou en gesin soveel ly?” Maar, o, halleluja! Ek en my gesin ken die soet smaak van oorwinning omdat ons in die stryd was en het elke keer daaruit gekom met gereinigde lewens en versterkte geloof en moed. Die vuur van verdrukking reinig; dit filtreer al die drek uit en laat net die goud agter.

As Paulus geroem het in die Kruis, het hy ook in sy lyding geroem. Was Paulus mal toe hy gesê het, “...omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid...” (Romeine 5:3-4)?

Hoeveel gemeentes of predikers sou vandag toelaat dat Paulus op hulle kansels staan en uitroep, “As daar geroem moet word, sal ek in my swakhede roem...” (2 Korinthiërs 11:30).

Vergelyk die Kruis-lose prediking wat vandag van talle kansels af gehoor word met Paulus se boodskap. Hy het gepreek, “...En hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk...” (2 Korinthiërs 12:9-10).

Nood trek genade aan; lyding trek barmhartigheid aan; swakheid trek Sy sterkte aan. Die sterkste gelowige is die een wat deeglik getoets is en deur die vuur gesit is – en wat versterk en volwasse gemaak is in die proses.

Met die risiko om regtig negatief te klink, glo ek daar is te min prediking oor die Kruis in kerke vandag. Ek het al Christene gehad wat uit my diens uitgeloop het toe ek hulle probeer wys het uit die Woord dat die Kruis fisieke en geestelike lyding insluit.

Die Kruis verteenwoordig skande, verwerping, selfverloëning, doodmaak van die vlees, oorgee aan die wil en dit is aanstootlik vir daardie Christene wat verslaaf is aan gemak, plesier en voorspoed.

Amper almal ly op een of ander manier. Maar gelowiges wat ernstige beproewing en verdrukking beleef en God in dit alles kan sien met barmhartigheid, genade en krag wat Hy gee – bou ‘n geskiedenis op met die Here.

Sluit jou geskiedenis met die Here genade tydens jou ergste uur van vrees en pyn in; hemelbeskikte krag toe jy aan die einde was van alle hoop; sagte geestelike reën toe jy dor en droog was; bonatuurlike vrede toe alles in beroering was – rus en versekering in die gesig van die dood? Diegene met sulke geskiedenisse het meer geduld en begrip as diegene wat nooit beproef word nie.

Daar is regtig net een Kruis – Syne! Hy het die dood gesmaak vir ons almal; Hy het gely en gebloei vir sonde; Hy het die bitter beker gedrink. Ons lyding en pyn is nie verdienstelik nie – dit voeg niks by genade nie – maar dit is die prys van dissipelskap.  Wanneer ons ‘n ware weerspieëling word van ‘n heilige Christus, sal ons ly. Daar sal vervolging deur sondaars en verwerping deur vleeslike Christene wees. Jy sal ly wanneer die Woord jou beproef, as jy die beloftes toeëien, en verlossing uitgestel word. Jy sal ly wanneer jy sondig of die Heilige Gees bedroef. Jy sal ly wanneer intense fisieke pyn jou of ‘n geliefde oorval, en dit lyk asof geen verligting in sig is nie. Jy sal ly wanneer ‘n goddelike heilige skielik weggeneem word, miskien in ‘n ongeluk.

Ek glo sterk in goddelike genesing. Ek glo God wil jou seën en sy kinders genees. Ek glo God gee ons gesag oor demoniese magte. Maar ek glo ook om die Kruis op te neem en Christus te volg – en dit sluit dikwels lyding in. Dit beteken ook opstandingskrag deur dit alles heen.

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE