Assistent Jesus? | World Challenge

Assistent Jesus?

Gary WilkersonSeptember 21, 2015

Johannes 6 bevat vir my een van die hardste gedeeltes in die hele Skrif. Dit is ‘n moeilike teks vir pastore en predikante, veral omdat dit praat van volgelinge wat Christus op die ou end verwerp en verlaat. Die gedeelte waarna ek verwys, is nie ‘n lering of ‘n profesie nie. Dit is toneel waarin mense Jesus letterlik in hordes verlaat het.

Hy het pas ‘n skare van duisende op ‘n wonderbaarlike wyse gevoed. Die mense was verwonderd en opgewonde oor wat Hy gedoen het en gereed om hierdie wonderwerkende Messias te volg. Maar toe Jesus hulle uitgedaag het oor wat hulle in werklikheid wou hê, het hulle dit afgelag en in massas weggegaan.

Onderliggend in hierdie gedeelte is ‘n vraag vir almal wat Christus sou volg. Die vraag is as volg: “Wie is in beheer van jou lewe, jy of Jesus?” Laat ons toe dat God algehele leiding in ons lewens neem? Of probeer ons vir onsself vasstel wat God van ons wil hê?

Elke Christen kom voor hierdie vraag te staan vroeg in sy wandel met die Here. Van die begin af vind daar ‘n stryd in ons plaas, ‘n botsing tussen twee kulture. Eerstens is daar die uiterlike kultuur van die wêreld wat heeltyd aandring, “Hoe kan jy hieruit voordeel trek?” Dan is daar die kultuur van God se koninkryk, wat vra, “Hoe kan jy die Here en jou naaste hierdeur dien?”

Jesus het reeds verkondig dat die koninkryk van God in die wêreld aan die werk is: “Die koninkryk van God het naby gekom” (Markus 1:15). Met ander woorde: “Die koninkryk van God is by julle teenwoordig.” Die meeste van Christus se hoorders daardie dag het die wêreld se ingesteldheid gehad. Hulle was hoofsaaklik gedryf deur wat hulle vir hulself kon kry. Toe Jesus gekom het en seëninge aangebied het, het hulle na Hom gestroom en gesê, “Sekerlik, as U vir my alles gaan voorsien, sal ek U volg. As U my siek familielede sal genees en my gebede beantwoord, ja, natuurlik sal ek U dissipel wees.”

Maar wat gebeur met ons geloofsverbintenis as hierdie dinge nie vir ons gebeur nie? Hoe toegwyd is ons aan Jesus as ons besef dat Hy nie net ons “assistent” in die lewe is nie? Dieselfde mense in hierdie toneel wat so vinnig was om Christus te volg, was net so vinning om Hom te verwerp. Hulle het teleurgesteld weggegaan en moed verloor met Hom.

Jesus het geweet dat dit sou gebeur. Dit is waarom Hy net nadat Hy vir daardie menigtes ‘n groot wonderwerk gedoen het, hulle gekonfronteer het: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet het en versadig geword het” (Johannes 6:26). Is dieselfde waar vir ons vandag? Volg ons Jesus hoofsaaklik weens sy seëninge of omdat Hy Here is?

Hierdie wonderlike etiket was verdien deur die Tweede Wêreld Oorlog se generasie in Amerika, mense wat met groot opoffering tuis en oorsee gedien het. Hierdie mense het vir hulself gesê, “Ons kan hierdie oorlog wen. Dit gaan moeilik wees en sal groot opofferings vereis. Maar dit kan gedoen word en ons is die mense wat dit moet doen.”

Toe die oorlog verby was, het daardie generasie vasgehou aan die waardes wat hulle gehelp het om te wen — en ‘n groot weg is in ons land gebaan. Skielik was daar ongelooflike vooruitgang in tegnologie en wetenskap, wat ruimtereise, maanlandings, mediese voortuitgang en ‘n ekonomiese oplewing tot gevolg gehad het. Dit was die welvarende vrugte van ‘n kultuur wat gebou was op die waardes wat vir The Greatest Generation dierbaar was. Hierdie mense was gewoond daaraan om op te offer vir die oorlog en daarom was dit maklik vir byvoorbeeld ‘n paartjie om oor ‘n aantal jare geld te spaar vir ‘n afbetaling op ‘n huis.

Maar as ‘n kultuur gebaseer is op swak waardes, sal dit ineenstort. Nazi Duitsland was gebou op ‘n kultuur van oorheersing, oppergesag en vrees. Onder Hitler was daardie land in staat om binne ‘n kort tyd ‘n magtige oorlogsmasjien te bou, waardeur Europa en ander kontinente bedreig is. Maar binne ‘n paar jaar, het Duitsland verwelk totdat dit in oorloggeteisterde puin ineengestort het.

Amerika het ook ‘n kultuur-gebaseerde ineenstorting in die afgelope jare beleef. Dit het in die sakewêreld gebeur. Ek het ‘n vriend wat vir ‘n bekende beleggingsfirma gewerk het in die tagtigs en negentigs. Dit was een van Amerika se oudste en mees gerespekteerde maatskappye, wat gebou was op dekades van diens aan Amerikaanse families vir hulle langtermyn ekonomiese welvaart. Maar my vriend het die maatskappy se kultuur sien verander toe gierigheid en ‘n ingesteldheid van “kry alles nou” Wall Street geïnfekteer het. In 2008, toe die behuisingsborrel gebars het, moes daardie maatskappy duisende werkers aflê — en hulle het dit baie koud en ongevoelig teenoor die mense gedoen. Die maatskappy is uiteindelik deur die regering ondersoek.

Elke geslag Christene moet hulself ondersoek om te onderskei of hulle doelwitte en aksies God verheerlik. Ons moet voortdurend vir onsself vra, “Dien ons steeds die Here en ons naaste getrou en met opoffering? Of het ons weggedryf in ‘n “seën my” mentaliteit?” Christus het presies geweet wat in die massas se harte was toe hulle Hom begin volg het. Dit is waarom Hy hulle uitgedaag het, “Julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet het en versadig geword het” (Johannes 6:26). Waarom verwys Jesus hier na “tekens”? Dink aan wat ‘n teken doen. Dit wys na iets; dit is nie die ding self nie. Wanneer ‘n padteken “Denver 60 Myl” wys, dan weet ons ons is nog nie in Denver nie, maar reeds op pad daarheen. Op dieselfde manier het Jesus hulle laat weet dat die dit nie oor die brood en die vissies gegaan het nie. Dit het net die liefdevolle sorg van die hemelse Vader geopenbaar. Die wonderwerke is tekens van sy sorg vir ons.

Die skare se reaksie het geopenbaar wat in hulle harte was. “En hulle sê vir Hom...soos geskrywe is: Hy (Moses) het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet’” (Johannes 6:30-31). Hulle het Moses se voorbeeld teen Jesus s’n opgeweeg. Hulle het Jesus se arm probeer draai, net soos ‘n kind wat na elke ouer toe gaan om te kry wat hy wil hê. Wil ons God in ons midde hê? Of soek ons net sy voorsiening? Laat ons eerlik wees. Dikwels bid ons en wil ons dadelik, vandag, hierdie uur ‘n antwoord hê. Dit is ‘n ongelukkige eienskap van ons wêreld se “kry alles nou” kultuur. In ‘n geestelike sin, het ons ‘n gebrek aan ‘n groot waarde wat The Greatest Generation dierbaar geag het: om te weet dat ons deur geloof uiteindelik groot seëninge sal beleef.

Vir die Christen, gaan om God te ken nie daaroor om “nou geseënd” te wees nie. Die Here sal nie aan ons begeerlikhede toegee deur ons alles te gee waar en wanneer ons dit wil hê nie. Sy begeerte is om ‘n verhouding met ons te hê — ‘n deurlopende, langtermyn verhouding wat blywende vrugte sal dra. Daarom is sy seëninge nie die einddoel van die verhouding nie; dit is tekens van sy getrouheid en deernis — eienskappe wat almal van ons in ‘n verhouding sou begeer. Christus se wonderwerke was bewyse van daardie wonderlike eienskappe.

Maar vir die skares in Jesus se tyd, was ‘n verhouding nie goed genoeg nie. “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring?’” (Johannes 6:28). Dit mag klink na ‘n goddelike ambisie, maar daaragter was ‘n begeerte vir selfregering. Hulle het nie God se krag gesoek om die armes, gestremdes en hongeres te dien nie. Hulle het net aan hulself gedink. Dit word bewys in ‘n paar verse later toe hulle van Jesus vereis het, “Here, gee ons altyd hierdie brood” (Johannes 6:34). Jesus het duidelik aan hulle oorgedra, “God is niemand se persoonlike muntoutomaat nie.”

Wat was die wortel van hierdie “ek eerste” ingesteldheid? Ek glo dit was ‘n vraag wat baie Christene vandag ook oor wonder: “Is God regtig goed?”

Hierdie mense het dit nie van God geglo nie. Menigtes het op daardie oomblik Jesus verlaat. “Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie” (Johannes 6:66).

Ek verkondig God se goedheid, getrouheid en begeerte om ons te seën. En ek verbly my wanneer iemand ons kantore bel en sê, “Prys God, ek kan my huur betaal hierdie maand!” God hou egter nie op om goed te wees wanneer dieselfde persoon die volgende maand ‘n U-Haul trok moet huur, omdat hy nie langer hulle woonstel kan bekostig nie. God hou nooit op om goed te wees nie, maak nie saak wat nie.

Dit is waarom ons in ons moeilikste oomblikke sy stem mag hoor fluister, “Ek sien jou behoefte en jou angs. Vertrou jy My? Of is jy kwaad vir My? Het jy My lief? En weet jy dat Ek jou liefhet?” Soms wanneer Hy ‘n seëning terughou, vra Hy ons iets belangriks: “Volg jy My oor wat jy van My kry, of omdat jy My liefhet en weet dat Ek jou liefhet?” Dikwels wil God vir ons wys wat in ons harte is, sodat ons in hierdie kosbare verhouding kan groei.

Ons beproewings kan ook openbaar watter kultuur in ons harte heers. Jesus se uitdaging aan die mense hier het gewys dat hulle vasgevang was in ‘n kultuur van murmurering. Hy het hulle eintlik in vers 43 vertel, “Hou op om te kla oor wat Ek gesê het.” ‘n Kultuur van murmurering versuur altyd verhoudings. Dit is waarom Hy sy naaste dissipelkring gevra het, “Is dit julle tot ‘n aanstoot? Hoe dan as julle die Seun van die mens daarheen sien opvaar waar Hy tevore was?” (Johannes 6:61-62). Hy het bedoel, “Julle stry oor brood en vis. Hoeveel te meer sal julle nie kla as Ek julle liggaamlik verlaat nie?”

Soos die skares begin weggaan het, het Christus na die twaalf gekyk en gevra, “Wil julle nie ook weggaan nie?” (Johannes 6:67). Vandag is dit ‘n vraag vir elke Christen met hartseer — diegene wie se gebed nie op die manier beantwoord is soos wat hulle dit graag sou wou hê nie; diegene wie se huwelik op die rotse is; diegene wie se fisiese genesing nie gekom het nie; diegene in die stryd van hulle lewens — met ander woorde, almal wat teleurgesteld is met God. In daardie tye, word ons almal versoek om op te hou bid en weg te gaan.

Die gedeelte in Johannes 6 bevat Jesus se reaksie teenoor ons. Wanneer Hy praat van “opvaar waar Hy tevore was” (Johannes 6:62), ertel Hy eintlik vir ons, “Ek gaan na heerlikheid ter wille van julle. Al die engele in die skepping sal voor My neerbuig en dag en nag uitroep, ‘Heilig, heilig, heilig.’ As julle dit weet, moenie behep word met brood en vis nie. Die Vader, wat oor die hele skepping heers, sien al julle behoeftes. Hy hou julle toekoms in sy hande.”

Petrus het skynbaar hierdie groot waarheid begryp. Hy het geantwoord, “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God” (Johannes 6:68-69). Wat ‘n oomblik vir die dissipels — en vir ons vandag. Ons geloofsverbintenis is nie gebaseer op aardse dinge wat God vir ons gee nie. Dit is gebaseer op ons verhouding met Hom en wie ons weet Hy is: deernisvol, barmhartig en getrou.

Die beste van alles is dat hierdie verhouding nie afhang van ons verdienste nie, maar van sy getrouheid. Hy het ons geroep om Hom te dien en daarom sal Hy getrou wees om ons te bewaar en te onderhou. Vriend, hou vas aan jou geloof. Jou hemelse Vader slaap nooit nie; Hy is voortdurend vir jou aan die werk, selfs wanneer jy nie die einde van jou beproewing kan sien nie. Jy kan rus in die versekering dat Hy dit wel sien. Amen!

Download PDF