Breek die Altare van Baäl Af | World Challenge

Breek die Altare van Baäl Af

David WilkersonOctober 21, 2002

Let noukeurig op die openingsvers van Rigters 6: “Maar toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Midianiete, sewe jaar lank" (Rigters 6:1). Hierdie woord beskryf ‘n eindelose siklus wat homself in Israel herhaal het vir geslagte lank.

Regdeur die voorafgaande hoofstukke, vind ons hierdie woorde oor en oor herhaal. Hulle lees in wese, “En die kinders van Israel het verkeerd gedoen in die oë van die Here en Baäls gedien...en God, in sy vurige toorn, het hulle in die hande van hulle vyande verkoop.”

Die eerste geval gebeur in hoofstuk 3. Ons word vertel, “Toe kry die land rus veertig jaar lank...En die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE” (Rigters 3:11-12). God het sy mense oorgegee aan ‘n vyand, Moab, want hulle “het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE” (Rigters 3:12). En Israel het hierdie heidense vyand vir agtien jaar lank gedien en swaarkry en skrik verduur.

Dan, in hoofstuk 4, lees ons, “Die kinders van Israel [het] weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE...Daarom het die HERE hulle verkoop in die hand van Jabin, die koning van Kanaän” (Rigters 4:1-2). Hierdie keer was God se volk swaar verdruk deur die Kanaäniete.

Israel het natuurlik elke keer wat hulle aan slawerny onderwerp is, na God uitgeroep. En elke keer, was die Here getrou om vir hulle ‘n verlosser te stuur. Maar sodra daardie regverdige leier gesterf het, het die mense heel voorspelbaar teruggekeer na hulle sonde. En die hele siklus het weer oor begin. Dit het aangehou met ons teksvers in hoofstuk 6: “Maar toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE, het die Here hulle oorgegee in die hand van die Midianiete, sewe jaar lank” (Rigters 6:1).

Gedurende hierdie tydperk, was Israel die hele tyd verneder deur hulle vyand, Midian. Soos klokslag, het die Midianiete Israel elke jaar geplunder van hulle gewasse en goedere. Midian se karavaanleiers sou al hulle kamele en vee losmaak om in Israel se lande te wei. En die diere het al die gewasse heeltemal opgevreet en die lande soos sprinkane skoongevee.

Wanneer Israel weerstand gebied het, het die Midianiete hulle na die heuwels en berge verdryf. God se volk het op die ou einde skuiling gesoek in grotte en lêplekke van diere en moes aas vir kos. “En Israel het deur die Midianiete baie arm geword” (Rigters 6:6). Israel het alles verloor aan die vyand: hulle huise, hulle voedsel en hulle goedere. Hulle het soos bedelaars geleef, haweloos en beroof.

Weereens, sê die Skrif, “Die kinders van Israel het die HERE aangeroep” (Rigters 6:6). Hierdie roepstem was nie een van bekering nie. Israel het uitgeroep weens hulle verdrukking deur die Midianiete. Dit was ‘n uitroep van angs, weens hulle armoede, hulle verliese en hulle onsekerheid.

Hierdie keer, voor God ‘n verlosser na Israel gestuur het, het Hy ‘n profeet gestuur. Hierdie man van God het sy vinger geplaas op die rede waarom die mense so geteister is. Hy het uitgewys, “Kyk na julle geskiedenis. In elke geval, het God julle uit die hande van almal wat julle verdruk het, gered. Hy het julle uit die slawerny in Egipte verlos. En Hy het julle beveel om nie die gode van die Amoriete, in wie se land julle woon, te vrees nie. Maar julle het Hom nie gehoorsaam nie. Julle het steeds hulde bewys aan valse gode en hulle gevrees” (sien Rigters 6:8-10).

In wese het die Here vir sy mense gesê, “Ek het dit van die heel begin af vir julle baie duidelik gemaak: julle mag niemand vrees nie, behalwe julle hemelse Vader. Laat geen ander vrees jou hart binnekom nie. Maar julle was My weereens ongehoorsaam. Julle het toegelaat dat allerhande soorte vrees binnekom. En julle het My gedwing om julle aan julle vyand oor te gee, om julle terug te jaag na My toe.”

Die profeet het duidelik vir Israel gewys wat hulle sonde was: hulle het die Here se bevel vergeet om nie die gode van hierdie wêreld te vrees nie. In Rigters 10, sien ons God se mense hierdie sonde erken: “Toe roep die kinders van Israel die HERE aan en sê: Ons het teen God gesondig, want ons het onse God verlaat en die Baäls gedien” (Rigters 10:10).

Wat het die Israeliete hier bedoel toe hulle gesê het hulle het die Baäls gedien? Die woord Baäls is meervoud. Dit dui op al die valse gode in die wêreld. Die stamwoord van Baäls is Baäl, wat ons uit die Skrif herken as ‘n demoniese gees. Baäl se doel is om God te beroof van alle aanbidding en vertroue van sy mense. Hy bereik dit deur ons aandag op ons omstandighede te fokus, eerder as op die Here.

Dit is presies wat met Israel gebeur het. Hulle sonde het hartseer, ekonomiese rampe, terrorisme van hulle vyande en onsekerheid gebring. God het hulle in werklikheid nie langer beskerm nie. Natuurlik het hy Israel steeds liefgehad, maar Hy moes hulle aan die barmhartigheid van hulle vyande oorgee om hulle wakker te maak. Hy het probeer om hulle terug te jaag tot onder sy beskermende vlerke.

Maar Israel het geweier om te erken dat die oorsaak van hul krisis hul eie sonde was. Dit is ongelooflik, maar hierdie mense het baba’s geoffer, onskuldige bloed vergiet, sensueel en verslaaf geword aan plesier. Die gevolge was dat een ramp na die ander hulle getref het. Tog, het hulle nie een keer hierdie rampe met hulle wederstrewigheid geassosieer nie. Hulle kon nie hulleself sover bring om te glo dat God dit alles toegelaat het om hulle tot bekering te bring nie.

Ek sien Amerika huidiglik in dieselfde situasie. Die World Trade Centers is vernietig. Die Pentagon was aan die brand gesteek. Tog is daar net ‘n klein oorblyfsel onder Christus se liggaam wat God se hand in hierdie dinge raakgesien het. Net soos wat Hy eeue gelede met Israel gedoen het, het God ons vir ‘n oomblik aan die vyand oorgegee. Ons sondes het ons van Hom vervreem en Hy wil ons terugdryf na Homself.

Dink daaraan: oor die laaste ses maande, het Amerika die ergste brande in sy geskiedenis gesien. ‘n Volle derde van die nasie was in vlamme. Ons het ook drastiese weerpatroonveranderings gesien en vernietigende vloede. En Japanese kewers verslind wydverspreide woudgebiede.

Nou sien ons ‘n uitbraak van die dodelike Westelike Nyl virus. En in die boonste Midweste, het ‘n verskriklike breinsiekte die ribbokpopulasie oorval. Meer as 50,000 ribbokke moes geskiet word in ‘n poging om die siekte hok te slaan. Maar sommige kenners sê daar mag moontlik nog 200,000 meer ribbokke doodgemaak moet word voor dit uitgewis is.

Elke keer wat ons omdraai, lyk dit of ons nog ‘n krisis beleef. Ek vra jou, kon God sy boodskap enigsins duideliker maak? Hy sê, “Ek skud jou aan jou skouer om jou te probeer wakker maak. Tog hou jy aan om My te ignoreer. Dit gaan net veroorsaak dat Ek jou harder skud.”

Laat my jou vra: glo jy God kon daardie Moslem kapers wat die vliegtuie in die Twin Towers ingevlieg het, gekeer het? Natuurlik kon Hy. Hy het sulke sameswerings keer op keer ontbloot. Maar Hy het dit nie verlede jaar gedoen nie. Waarom nie? Hy probeer met ons praat, om ons aandag te kry. Hy het die vernietiging van ons simbole van voorspoed toegelaat, omdat dít is waar ons al ons trots en vertroue op geplaas het.

Ons president, ons kongresleiers en veiligheidsbeamptes het ons gewaarsku, “Die groot aanval kom nog.” Nou hoor ek sommige Christene sê, “Wag net vir die grote. Dit kan ‘n bom in ‘n tas wees. Of iemand mag dalk pokke of antraks in ‘n groot stad loslaat. Wat ook al gebeur, daar sal duisende ongevalle wees. En dit sal Amerika se aandag kry. Mense sal weet dat God hierdie nasie terugroep tot Homself. Menigtes sal uitroep tot die Here.”

Ek verskil. Laat my jou vertel waarom.

Israel het hardop gehuil en in hulle angs na God uitgeroep. Daarom het die Here ‘n profeet gestuur om hulle te wys dat sonde oordeel oor hulle gebring het. Nou, om waarlik bekeerd te word, moes Israel hulle sonde erken as die oorsaak van hulle probleme. En hulle het presies dit gedoen en erken dat hulle gesondig het.

Maar daar was nog ‘n stap om te neem. Jy sien, selfs al roep ons berouvol uit tot God in bekering, vereis Hy iets meer van ons. En as hierdie stap nie geneem word nie, sal God nie sy magtige arm ter wille van ons wys nie. Ons sien presies wat hierdie stap is in God se volgende gebod: Breek Baäl af.

Die Here het hierdie woord tot Gideon gespreek: “Neem die bul van jou vader, naamlik die tweede bul van sewe jaar, en breek die altaar van Baäl af wat aan jou vader behoort, en kap die heilige boomstam af wat daar langsaan staan” (Rigters 6:25).

Voor dit, het Gideon waarskynlik gedink hy was genoeg bekeerd. Hy het immers tot God uitgeroep. Hy het die profetiese woord, wat God vir Israel gestuur het, gehoor. En hy het ten volle daarop gereageer en sy sonde erken.

Ek sien dieselfde soort berouvolle gesindheid onder so baie Christene vandag. In kerke van kus tot kus, is mense op hulle knieë en roep uit tot God. En dit is goed. Maar volgens die Here, is daar steeds ‘n probleem wat oorbly. Dit is ‘n afgod in ons midde: Baäl.

Ja, Baäl is steeds ‘n groot afgod vandag. En as ons bekering volmaak moet wees, moet ons hierdie afgod afbreek. Andersins, sal dit nie saak maak hoeveel ons tot God uitroep nie, of ons nou bid of vas nie. Nie een van ons dade sal enigsins enige impak hê nie, totdat ons die afgod afbreek wat ‘n houvas gekry het op so baie harte.

Jy mag vra, “So, wat is hierdie Baäl? Waar sien ek hom aan die werk? Hoe kan ‘n antieke valse god in ons moderne samelewing teenwoordig wees?”

In die Ou Testament, was Baäl verteenwoordig deur ‘n gesnede beeld, uit hout, klip of metaal gemaak. Dit was gevorm in die beeld van ‘n man, ‘n aantreklike Adonis tipe. Hoewel hierdie afgod net ‘n dooie stuk materiaal was, was daar ‘n magtige gees daaragter.

In ons verligte eeu, kan ons nie dink dat enige intelligente persoon voor ‘n gesnede beeld sal buig nie. Daar is sekerlik steeds heidense godsdienste wat sulke beelde in aanbidding gebruik, naamlik Boeddhisme, Hare Krishna en Hindoeïsme. Maar of die afgod Baäl, Boeddha of enige van die miljoene Hindoe gode is, is dieselfde demoniese gees daaragter. En hierdie gees word uit die hel gestuur vir een doel: om te veroorsaak dat God se mense die werklikheid van God in twyfel trek. Dit is ‘n doodeenvoudig ‘n gees van ongeloof. En dit val ons gedagtes aan met twyfel oor God se getrouheid.

Dit is verskriklik gevaarlik om hierdie gees toe te laat. As dit nie dadelik uitgedryf word tydens die eerste aanval nie, sal dit die gedagtes infiltreer. En wanneer twyfel en vrees toegelaat word om binne te kom, neem die Baälgees besit van die siel.

Sonder twyfel is ongeloof ‘n afgod. Dit buig jou neer in onderwerping van sy mag. En dit open jou siel vir allerhande boosheid. In werklikheid, die vers wat ons sien regdeur Rigters herhaal word — “Die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE” — verwys nie na een of ander groot sonde nie, maar na die mense se ongeloof.

Dit word duidelik geïllustreer in Esegiël 8. Die Heilige Gees het die profeet Esegiël op ‘n visioenreis na die heiligdom geneem. Daar het Hy aan die profeet geopenbaar vier beklaenswaardige gruwels, wat God se volk gepleeg het. Toe het Hy vir Esegiël ‘n selfs groter gruwel gewys: “En Hy sê vir my: Mensekind, breek tog deur die muur heen. En ek het deur die muur heen gebreek, en kyk, daar was ‘n deur. Daarop sê Hy vir my: Gaan in en kyk na die growwe gruwels wat hulle hier doen. Ek gaan toe in en kyk” (Esegiël 8:8-10).

Wat Esegiël gesien het, het hom met afgryse vervul. Die mure van die kamer was vol skilderye van “afskuwelike kruipende en viervoetige diere, en allerhande drekgode van die huis van Israel” (Esegiël 8:10). Sewentig oudstes van Israel het voor hierdie mure gestaan en panne vol wierook geswaai. Hulle het die gees agter hierdie afbeeldinge aanbid.

Die Heilige Gees het vir Esegiël gesê dat hierdie toneel openbaar het wat die gedagtes van Israel se oudstes gevul het. En daardie manne het die volgende gedink: “Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat” (Esegiël 8:12).

Geliefde, hier was die Baälgees ten volle geopenbaar. Deur ‘n visioen wat deur die Heilige Gees gegee is, het Esegiël eerstehands gesien hoe hierdie gees ‘n altaar in ‘n persoon se gedagtes kan oprig en beheer oorneem. Die gevolg was dat Israel se leiers God se versorging vir hulle gemis het. Toe hulle hul armoede met die oënskynlike voorspoed van die Midianiete vergelyk het, het hulle gedink, “Waar is ons God? Ons gebede word nie beantwoord nie. Ons sien nie enige bewyse dat Hy vir ons werk nie. Die Here het ons verlaat.”

Satan het sy enkele, oorheersende doel bereik: om dit in die gedagtes van gelowiges te plant, dat God nie is wie die Bybel sê Hy is nie. Die duiwel wil jou oortuig dat God nie alwetend, almagtig en alsorgsaam is nie. Hy is voortdurend aan die werk om saad van twyfel in jou te plant. Hy veroorsaak dat jy dink God hoor nie jou gebede nie en dat Hy nie sy beloftes aan jou nakom nie. En hy stuur die Baälgees om hierdie werk in jou te voltooi.

Die Baälgees is altyd teenwoordig by die bed van ‘n sterwende kind of ‘n swaar beproefde familielid. Terwyl ons kyk hoe ‘n geliefde ly, wonder ons oor God se doel daarmee. En skielik, word ‘n vrees in ons gedagtes ingespuit. Later, wanneer die dood tref, word daardie saad van twyfel natgemaak. Gou vind ons onsself met die volgende vrae vra, “Hoe kan ‘n liefdevolle God toelaat dat dit gebeur?”

Verlede maand het ek geluister na radioberigte oor die herdenking van die 9/11 aanvalle. Onderhoude met honderde mense was gevoer. Die oorgrote meerderheid het gesê na die aanvalle het hulle alle vertroue in God verloor. Die tipiese reaksie was, “Hoe kon ‘n regverdige, liefdevolle God toekyk en dit laat gebeur? Ek kan nie langer glo in ‘n God wat toelaat dat soveel mense sterf nie.” Verskeie mense het later verklaar, “My God het gesterf op 11 September.”

Dit maak nie saak of jy ‘n toegewyde liefhebber van Jesus of ‘n ongelowige is nie. Na elke ramp, teenspoed of noodlottige ongeluk, ontplooi Satan hordes demoniese geeste om die werk van Baäl te doen. Hulle beweeg dadelik in en fluister, “Waar was God? Hoe kon Hy toelaat dat so ‘n ding gebeur?”

Op hierdie oomblik, is daar wydverspreide onsekerheid in ons gemeenskap. Bankrotskappe is die hoogste van alle tye. Werkers is bang om hulle poste te verloor. As mense na die toekoms kyk, oorweldig vrees hulle. Ek sê jou, in tye soos hierdie, sal Satan ‘n volskaalse oorlog loots. Hy wil in jou gedagtes inkom om saad te plant en ‘n Baäl altaar op te rig. Hy wil hê jy moet alles wat jy ooit van God se Woord geken het, in twyfel trek.

Jy mag dink, “Ek het nie enige afgodery in my lewe nie. Hoe kan ek ‘n altaar van Baäl afbreek?” Laat my dit weer beklemtoon, Baäl is ‘n gees van ongeloof. Jy mag jouself bekeer het van sonde, na God uitgeroep het om barmhartigheid en ag gegee het op alle profetiese waarskuwings. Maar as jy twyfel in jou hart het oor God se getrouheid aan jou, is jy onderworpe aan ‘n Baälgees. En God sê vir jou, “Jy moet daardie gees van ongeloof uit jou siel uitskeur.”

Ek glo ons verstaan eenvoudig nie hoeveel God ongeloof in sy mense haat nie. Ons sien dit nie as die verskriklike vloek wat die Skrif dit noem nie. Ons besef nie elke twyfel en elke gedagte van ongeloof is van die sataniese gees van Baäl nie.

Die profeet Jeremia beskryf ongeloof as ‘n sonde “geskryf met ‘n ystergriffel, met ‘n diamantpunt; dit is gegrif op die tafels van hulle hart” (Jeremia 17:1). Volgens hom, het God vir Israel gesê, “Julle het ‘n vuur aangesteek in my toorn, tot in ewigheid sal dit brand” (Jeremia 17:4). Wat was hulle sonde? “Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk...Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is” (Jeremia 17:5,7).

Hou hierdie sterk woorde in gedagte terwyl ons ons aandag weer op Gideon vestig. Hier was ‘n man wat tot God uitgeroep het, wat met ‘n sterk profetiese woord besoek is, en wat ag gegee het op daardie woord. Tog het Gideon twyfel en vrese in sy hart toegelaat. Waarom?

Gideon se pa het ‘n altaar vir Baäl op hulle eiendom opgerig. Dit was net ‘n standbeeld uit hout gemaak. Maar die gees daar agter het ‘n vesting in Gideon se hart opgerig. Elke keer as Gideon verbygeloop het, het die stem van daardie afgod tot sy siel gespreek: “Kyk na jou armoede, jou swaarkry, jou onvervulde behoeftes. Waar is God?” Die afgod het immers as ‘n getuienis gestaan vir elke Israeliet wat dit gesien het: “God is nie met jou nie. Hy gee nie om nie. Hy is te besig met wêreldsake om daaroor besorgd te wees om jou te voed en te beskerm, jou klein volkie. Die Here het jou verlaat.”

Nou, in Rigters 6, bring ‘n engel hierdie woord vir Gideon: “Die HERE is met jou, dapper held” (Rigters 6:12). God spreek net sewe woorde hier. En die eerste vyf word gerig nie net op Gideon nie, maar op sy hele volk, insluitende die kerk van vandag: “Die Here is met jou.” Die Here sê in wese, “Hierdie belofte is al wat jy nodig het: Ek is met jou.”

Geliefde, hierdie waarheid moet die fondament van ons geloof word. Dit maak nie saak wat ons beleef nie — swaarkry, tragedie, siekte, armoede of versoeking — ons Vader se belofte is waar: “Ek is met jou.” In al ons beproewings, veral waar ons oorstroom en oorweldig word, moet ons aan sy woord vashou. Ons moet in geloof uitroep, “Ek weet U is met my, Here. En as U met my is, wie kan teen my wees?”

Toe Gideon egter die engel van die Here teëgekom het, het hy ‘n gees van ongeloof in sy hart gehad. Hy het die engel geantwoord, “As die HERE met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van vertel het, deur te sê: Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar nou het die HERE ons verwerp; en ons oorgegee in die hand van die Midianiete” (Rigters 6:13).

Klink Gideon se woorde bekend? Hy het dieselfde dinge gesê wat die gedagtes van die sewentig oudstes in Esegiël se visioen gesê het: “Want hulle dink: Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat” (Esegiël 8:12). Hulle het vir hulleself gesê, “Ja, daar is ‘n God. Hy bestaan en Hy is die Skepper van alles. Maar Hy sien ons nie raak nie. Hy sien nie ons situasie nie. Hy het ons verlaat.”

Die Here het vir Gideon gesê, “Jy twyfel steeds dat Ek met jou is. Dit is afgodery, Gideon. Dit is die gees van Baäl. Gaan nou, neem jou vader se bul en breek daardie afgod af. Sny dan al die bome in die bos af en gebruik dit vir ‘n nuwe altaar. Jy gaan jou vader se afgod op daardie altaar verbrand, Ek wil hê dat jy daardie simbool van ongeloof afbreek en dit heeltemal vernietig.”

Waarom het die Here hierdie ongelowige man gekies om Baäl af te breek? Dit was duidelik ‘n daad van God se tere barmhartigheid. Hier was ‘n man met sterk twyfel en hy het gesukkel om te glo dat God selfs vir hom omgee. Hy was so vol ongeloof, dat hy vir ‘n engel kon sê, “God het ons verlaat.” En hy het God op die proef gestel, keer op keer. Maar elke keer, het die Here op Gideon se twyfel geantwoord.

Laat my ‘n voorbeeld gee. Later, toe Gideon op die punt was om in die oorlog te tree, het hy God getoets. Israel se situasie het onmoontlik gelyk. Daarom het Gideon gebid, “Here, as U werklik met ons is in hierdie stryd, wys dit vir my. Ek gaan ‘n wolvlies op die gras neerlê vannag. Môre sal ek weet U is met ons as die wol nat is, maar die gras rondom droog is.”

Jy mag oorbluf wees deur Gideon se astrantheid. Tog, die volgende oggend het Gideon gesien dat die grond droog was. En toe hy die wol optel, het die water daaruit gedrup van nattigheid, net soos hy gevra het.

Die meeste van ons is soos Gideon. God kom ons getrou tegemoet in beproewing op beproewing en voorsien in ons behoeftes. Maar dan beleef ons ‘n volgende situasie wat veroorsaak dat ons sê, “Here, dit is my grootste krisis nog. Ek het nog nooit iets soortgelyks beleef nie. Ek het twyfel.”

Is daar ‘n mate van ongeloof in jou? Sukkel jy, vra jy vrae soos, “Waar is U, Here? Het U my trane gesien? Is daar enige bewyse dat U met my is in my beproewing? Het U my verlaat? Raak my geloof nie u hart aan nie? Waarom verwyder U nie hierdie laste van my nie?”

Die Here veroordeel of verkleineer niemand vir hulle tye van twyfel en vrees nie. God weet in der waarheid dat Gideon se twyfel nie beskuldigings was nie. Dit was vrae. Gideon het eenvoudig na antwoorde gesoek.

Ek vertel vir jou, die God van barmhartigheid wat ‘n ongelowige Gideon ontmoet het en hom tot aksie geroep het, wil dieselfde vir jou doen. Hy het groot oorwinnings vir jou beplan. En Hy begeer om elke vyand in jou lewe te verslaan. Daarom wil Hy vir jou sy krag en gesag gee om elke vesting af te breek: elke twyfel, elke vrees, elke gedagte van ongeloof.

Die Here het dit in my benadruk dat Hy op die punt is om ‘n spesifieke werk in talle Christene se lewens te doen. In werklikheid, Hy is op die punt om hulle belangrikste oorwinning ooit te gee. Hy lei hulle reeds na nuwe plekke van vrede en rus in Christus. En Hy is op die punt om sy magtige arm ter wille van hulle te openbaar.

Ek glo dit is God se doel vir baie lesers van hierdie boodskap. Hy is op die punt om ‘n nuwe ding in jou te doen. Maar eerstens moet jy elke gedagte van ongeloof afbreek en elke vrees aflê. God wil hê jy moet die gees van Baäl in jou hart heeltemal vernietig en begin om in geloof te lewe en te spreek.

Die Here sal die magtige bul, wat daardie afgod moet afbreek, voorsien. Hy sal jou sy Heilige Gees krag en sterkte gee. So, stel die vyand in kennis: “God is met my, duiwel. Jy kan my nie seermaak nie. En jy kan nie sy planne vir my lewe keer nie. Die Here het oorwinnings vir my beplan.”

Download PDF