Christen, Lê Jou Skuld Neer | World Challenge

Christen, Lê Jou Skuld Neer

David WilkersonMay 1, 1978

Christene is snaakse skepsels. Hulle reis dwarsdeur die wêreld en verkondig die liefde van Jesus en Sy vergifnis vir enige en alle sondes. Hulle sê vir die heiden, die verslaafde, die alkoholis, die prostituut – “Kom na Christus toe en word vergewe. Hy het jou sondes vergewe by die Kruis – so kom en ontvang vergifnis en genesing vir al jou hartseer. Jy kan vrede hê en vry wees van skuld.” As gevolg daarvan, kom sondaars, wat skuldig was aan elke denkbare soort duister of bose daad, met blydskap na Christus toe, en word dadelik vergewe en verlos van hulle skuld.

Maar die moeilikste ding in die wêreld vir die Christen om te doen, is om self dieselfde liefde en vergifnis te aanvaar as wat hy aan sondaars verkondig. Ons Christene vind dit baie moeilik om onsself dieselfde vryheid van skuld toe te laat wat ons deur Christus bied aan hoere en dronkaards.

Christene sondig teen die Here, gaan dan verder om die folterende las van skuld te dra. Hulle wil betaal vir hulle mislukking. Hulle wil gestraf word. Hulle wil boete doen of een of ander soort skade ly voor hulle vergewe word. “Maar Here,” stry die Christen, “Ek het met my oë wyd oop gesondig; ek het van beter geweet. Ek het geweet voor ek dit gedoen het dat ek ‘n gebod verbreek. Hoe kan ek vergewe word omdat ek my Saligmaker bedroef het met sulke opstandigheid? Ek het die veroordeling van die Heilige Gees afgeskud en hardkoppig voortgegaan en sonde gedoen.”

Die Gevaar van Skuld

Skuld is gevaarlik omdat dit geloof vernietig. Die vyand van ons siel is glad nie geïnteresseerd om Christene te verander in egbrekers, verslaafdes of prostitute nie. Hy is slegs in een ding geïnteresseerd – om Christene in ongelowiges te verander. Hy gebruik die begeertes van die liggaam om die verstand te bind.

Satan wou nie hê Job moes ‘n egbreker, of ‘n verslaafde aan pynpille of ‘n wynsuiper word nie. Nee! Satan wou een ding van Job hê – OM GOD TE VLOEK! Hy wou sy geloof in God vernietig. So gaan dit vandag. Jou en my ware stryd is nie werklik met seks, alkohol, dwelms of begeertes nie. Dit is met ons geloof! Glo ons God is ‘n verlosser? Is Hy daar om te help in die uur van versoeking?

Is Sy beloftes waar? Is daar vryheid van sonde? Verhoor God werklik gebed vandag? Sal Hy ons seëvierend uit die stryd bring? Sal blydskap geween volg?

Satan wil hê jy moet so verpletter wees met skuldgevoelens dat jy jou geloof laat vaar. Hy wil hê jy moet God se getrouheid betwyfel. Hy wil hê jy moet dink niemand gee om nie. Dat jy in ellende en hartseer sal leef. Dat God se heiligheid onbereikbaar is. Dat jy alleen gelaat is om jou eie probleme uit te werk. Dat God nie langer omgee oor jou behoeftes en gevoelens nie. As hy jou by die punt van wanhoop kan uitbring, kan hy jou met ongeloof vul – dan het hy geslaag in sy sending. Die drie eenvoudige stappe na ateïsme is – skuld, twyfel en ongeloof.

Skuld kan wegvreet aan die geestelike lewenskragtigheid van ‘n Christen soos ‘n agressiewe kanker. Dit veroorsaak dat ‘n mens die beheer van die lewe verloor; dit lei na ‘n begeerte om op te hou of weg te bly van geestelike aktiwiteit; en uiteindelik, bring dit fisieke pyn en siekte voort. Soos kanker, voed skuldgevoelens op hulleself totdat alle geestelike lewe weg is. Swakheid en ‘n gevoel van skande en mislukking is die eindresultaat.

Oral in hierdie land ontmoet ek Christene wat heeltyd belas rondgaan met ‘n oorweldigende las van skuldgevoelens. Hulle het hulleself laat glo hulle is verraaiers van die Here. Hulle leef in geestelike pyn en droefheid, elke oomblik terwyl hulle wakker is, weens een of ander verborge sonde of swakheid. Hulle kan nie goddelike vergifnis vir hulleself toeëien nie, en hulle leef in ernstige vrees vir God se oordeel oor hulleself of hulle gesinne.

Die oorsake van skuld

Wie is hierdie skuldbelaaide, hartseer siele? Dit is dikwels daardie getroude individueel wat jarelank vasgevang is in ‘n liefdelose huwelik, wat iemand anders vind om hulle verveelde lewe mee op te kikker. Iewers langs die pad, het hulle huwelik sy romanse verloor. Hartseer wou nie langer gesond word nie; die lyne van kommunikasie was gesny. Toe, eendag, sonder om daarna te soek, kom iemand anders in die prentjie in. ‘n Sagte woord, ‘n sagte aanraking, en daar is ‘n nuwe soort ontwaking. Iemand anders steek daardie sterwende kole aan die brand – en die geheime liefdesverhouding word gebore. Hulle vind troos in die woord van die lied wat sê, “Dit kan nie verkeerd wees as dit so reg voel nie.”

Maar dikwels is daar kinders om in ag te neem; ‘n reputasie; ‘n werk of bediening. Maar die een ding, bo alle ander, wat die skuldgevoel meebring, is die wete dat God se gebooie verbreek word. God sal nie daaroor glimlag nie. Hy sal nie Sy seën daarop plaas nie. Dan begin die stryd. Verskeur tussen ‘n oortuiging dat die “een ware liefde van die lewe” uiteindelik gevind is – en die aangebore begeerte om getrou te bly aan God en huweliksbeloftes – hoop skuldgevoelens aanhoudend op. Hulle wil uit ‘n hopelose huwelik uit, maar sonder om God te mishaag.

Daar is menigte duisende vasgevang in hierdie soort strik – selfs bedienaars. Hoe liewer hulle God het, hoe erger hulle skuldgevoel. ‘n Paar kan die skuldgevoel afskud en voortgaan met hulle geheime verhoudings, en hulle dade regverdig met breedvoerige verskonings. Maar die meeste kan nie oneerlik teenoor hulle eie harte wees nie; daarom lewe hulle voort met toenemende skuldgevoelens.

Dan ook, wat van al daardie ander geheime begeertes van die vlees wat by die siel spook? Die Christen wat homself in die geheim oorgee aan drank. Of, te veel voorgeskrewe pille wat ‘n afhanklikheid veroorsaak? Wat van die duisende Christen mans wat in pornografie vasgevang is? ‘n Vreemde aantrekking stuur hulle terug na die X-gegradeerde filmsale of na die nuusstalletjie vir naak tydskrifte. Nie net een of twee keer nie – maar omtrent elke keer wat hy alleen is – veral op die pad. Ja – ek praat van Christene.

Geheime verhoudings, drank, voorgeskrewe pille, pornografie, homoseksualiteit, lesbianisme en baie ander menslike swakhede – is almal belangrike oorsake van skuldgevoelens. Die sondaar kan homself oorgee aan een of al hierdie sondes en nie met skuldgevoelens worstel nie. Dit is nie so vir die ware kind van God nie.

Heiliges wat nie so is nie

Dit is jammer dat baie vroom Christene wegkruip agter puriteinse maskers en rondgaan soos die Fariseër van Christus se tyd wat geroem het, “Dank God, ek is nie soos sulke sondaars nie.” Volgens hulle, is hulle huwelik vlekkeloos en hulle sedes heilig. Moenie dit glo nie! Ons het almal gesondig en skiet te kort aan God se heiligheid. Daar is niemand regverdig in hulle eie krag nie. Wys vir my die heiligste siel op aarde, en ek sal vir jou iemand wys wat met versoeking stry net soos enige ander Christen wat leef. En al wat ‘n Christen moet doen om homself te genees van veroordelend wees, is om net na homself te kyk en eerlik te wees oor sy eie innerlike stryd. Dit behoort ons almal daarvan te weerhou om bekommerd te wees oor iemand anders se geestelike toestand.

Een van die goeie dinge wat uit ‘n Christen se innerlike styd met die vlees behoort te kom, is dat hy leer om op te hou om klippe te gooi; dit is, as hy eerlik oor homself is. Die Woord beveel, “Soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13).

Uit al die verskriklike stryde waardeur Christene nou gaan, sal ons ‘n nuwe gees van verdraagsaamheid en liefde vir ander ontdek. Miskien omdat ons so baie dinge vergewe is, sal ons op ons beurt, ander hulle tekortkominge vergewe.

“Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efésiërs 4:32).

Getoets deur die Woord

Is daar vryheid van skuld? Kan Christene kortstondige dolle verliefdheid, verslawings en swakhede hanteer – op ‘n eerlike en goddelike manier – en ware vryheid van die mag van sonde vind? Sal God aanhou vergewe, terwyl die stryd voortgaan? As daardie boesemsonde aanhou om die gelowige te oorwin, sal God aanhou vergewe tot die oorwinning kom?

Daar is ‘n paar baie goddelike mense wat teenoor my bely dat God se Woord hulle ernstig beproef. Die beloftes klink asof hulle amper outomaties sal werk, maar dit werk nie so nie. Die gebod sê moenie; maar ons vlees kan skynbaar nie gehoorsaam nie. Dan gaan ons voort en doen wat ons bo alle twyfel weet sondig is. Die Woord sê, “Die dood heers oor Hom nie meer nie” (Romeine 6:9). Dit lyk egter nie of dit so werk in die alledaagse lewe nie.

“Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van sonde” (Romeine 7:24-26).

Die vraag is, waar kry ek die krag vandaan om die begeertes van my hart te weerstaan? Is dit blote wilskrag? Moet ek op my tande byt en sê, “Ek sal bloot daarvan af wegloop – en dit nooit toelaat om my in sy mag te hou nie”? Verwag God van my om te weerstaan met dit wat ek het? Kan ek my boesemsonde oorwin in een oomblik van finaliteit?

Ander sê gladweg, “Hou net op! Staak dit! Loop daarvan af weg! Jy weet van beter – wat is so moeilik?” O, ja – maar dieselfde mense wat dit so maklik vind om weg te loop van al die luste van die vlees en die begeertes van die wêreld, vind dit amper onmoontlik om weg te loop van hulle eie eensaamheid, hulle droefheid, hulle vrese, hulle stryd met gesondheid. Elke Christen op hierdie aarde stry innerlike stryde – niemand is immuun nie!

Die manier om ontslae te raak van skuldgevoelens, is om ontslae te raak van sonde. Jy besluit nie net om daardie derde party wat die middelpunt is van jou lewe te “verlaat” nie. Baie het dit probeer doen en agtergekom dit werk nie. Jy loop nie net weg van dinge wat verslaaf nie. Die Skrif spook by jou. Dit sê, “Lê af die ou mens...laat staan die boesemsonde...vlug van die verskyning van boosheid af weg... wandel in die Gees en jy sal nie die begeertes van die vlees volbring nie.” Dit is presies wat jy wil hê – vryheid van die sonde wat so maklik verstrik – om volkome in die Gees te wandel en ‘n lewe te leef wat God volkome behaag. Maar jy is skynbaar hulpeloos om daardie begeertes af te lê.

Wanneer dit lyk of jy nie oorwin nie en jy aanhou om plat op jou gesig te val, mislukking op mislukking – dan begin jy te dink, “Iets is verskriklik verkeerd met my. Ek is ‘n sensuele, goddelose, swak kind. God moet siek en sat wees vir al my mislukkings. Ek het Hom kwaad gemaak.” Dit is wanneer skuldgevoelens instroom soos ‘n vloedgolf.

Ons almal beleef dieselfde stryd

Skep moed, kind van God – almal is in dieselfde bootjie. Nie almal van ons stry met ‘n geheime verhouding of ‘n verslawing van die vlees nie. Sommige van ons sukkel met ‘n meer verraderlike vyand – twyfel. Om God se versorging en daaglikse betrokkenheid in ons lewe te betwyfel, kan vreeslike skuldgevoelens veroorsaak. Maar daar is geen versoeking wat jou oorval behalwe ‘n menslike nie. Jy gaan nie deur een of ander vreemde beproewing wat uniek is aan jou nie. Duisende ander gaan deur dieselfde stryd.

Die belangrikste ding wat jy ooit in jou lewe sal doen, is dit wat jy doen net nadat jy God teleurgestel het. Sal jy die aanklaer se leuens glo en opgee in wanhoop, of sal jy jouself toelaat om die vergewende stroom van God se liefde te ontvang wat jy so lief is om aan ander te verkondig?

Vrees jy om Sy vergifnis te vra omdat jy nie werklik seker is jy wil vry wees van daardie ding wat jou gevange hou nie? Wil jy die Here hê, maar in die geheim smag jy na iets of iemand wat nie wettig joune is nie? God kan opregte gebed verhoor, om jou Sy volmaakte wil te laat wil doen. Vra Hom om jou te dwing om Sy wil te volbring.

“Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Filippense 2:13).

Wanneer ‘n Christen sondig, voel hy uit God se teenwoordigheid gesluit, net soos Adam. God is altyd daar en wag om te praat, maar sonde veroorsaak die mens om weg te deins. God deins nooit terug nie – net die mens doen dit. Eintlik is die persoon wat in sonde leef, bang om oop te maak vir God uit vrees dat Hy ‘n verbintenis tot heiligheid sal vra voor die sonde gereed is om oorgegee te word. Die Christen wat sonde doen, weet, “As ek te naby aan Jesus kom, sal die Heilige Gees Sy vinger op my geheime sonde plaas, en ek sal dit moet prysgee – en ek is nie gereed daarvoor nie.

Dit help net mooi niks om vir jouself te vra, “Hoe het ek in hierdie gemors beland? Waarom moes word ek op hierdie manier versoek? Waarom so ‘n beproewing as ek nie daarvoor gevra het of dit wou gehad het nie? Waarom ek, Here?” Moet ook nie die duiwel blameer nie. Ons sondig wanneer ons verlok en verlei word deur die begeertes van ons eie harte.

Moenie jou swakhede regverdig nie

Moet nooit jou verkeerde dade regverdig nie! Daar is slegs een manier om “verhard” te word deur sonde, en dit is om dit te regverdig. Christene wat leer om hulle sonde te haat, sal nooit “hulleself oorgee” aan sy mag nie. As Christene, moet ons nooit die “uitermatige sondigheid” van sonde uit die oog verloor nie. Bly ongemaklik met jou sonde.

Ek het gehoor dit word gesê van ‘n evangelis wat openlik in skaamtelose egbreek leef, “Wel, ten minste is hy eerlik daaroor. Hy probeer nie sy owerspel wegsteek soos sommige bedienaars wat dit skelm doen nie.” Maar ek sien glad niks eerlik daarin nie. Daardie owerspelige evangelis is heeltemal verblind deur veelvuldige regverdigings. Hy het geen skuldgevoelens nie, omdat hy homself oorgegee het aan ‘n leuen en die slagoffer van ‘n goddelose verstand geword. Aan die ander kant, het die mens wat aanhou stry, die besoedelde kleed haat, alle sonde teen God verag – die hele hemel wat gereed is om hom te help. Totdat die oorwinning kom, hou aan om al jou verkeerde dade te verag.

Moet nooit God se vergifnis beperk nie

My dierbare Christen vriend – moet nooit God se vergifnis teenoor jou beperk nie! Sy vergifnis en lankmoedigheid het geen perke nie. Jesus het vir Sy dissipels gesê, “En as hy sewe maal op ’n dag teen jou sondig en sewe maal op ’n dag na jou terugkom en sê: Ek het berou — moet jy hom vergewe” (Lukas 17:4).

Kan jy so iets glo? Sewe keer op ‘n dag sondig hierdie mens opsetlik reg voor my oë, en sê dan, “Ek is jammer.” En ek moet hom vergewe – sonder ophou! Hoeveel te meer sal ons Hemelse Vader nie Sy kinders vergewe wat met berou na Hom toe kom nie? Moenie wag om dit uit te reken nie! Moenie vra hoekom of waarom Hy so vrylik vergewe nie. Aanvaar dit net!

Jesus het nie gesê: “Vergewe jou broer een of twee keer, en sê dan vir hom om nie meer te sondig nie. Sê vir hom dat as hy dit ooit weer doen, sal hy afgesny word. Sê vir hom hy is ‘n gewoonte, hopelose sondaar.” Nee! Jesus het vir onbeperkte, onvoorwaardelike vergifnis gevra!

Dit is God se natuur om te vergewe. Dawid het gesê, “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep” (Psalm 86:5). God wag nou om jou wese te oorstroom met die blydskap van vergifnis. Jy moet net al die deure en vensters van jou siel oopmaak en toelaat dat Sy Gees jou met vergifnis vul.

Johannes, wat as ‘n Christen gepraat het, het geskryf, “En Hy is ’n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Johannes 2:2).

Volgens Johannes, is die doel van elke Christen om “nie te sondig nie.” Dit beteken, die Christen is nie geneig tot sonde nie, maar in plaas daarvan, leun hy oor na God se kant. Maar wat gebeur wanneer daardie God-leunende kind sondig?

“En as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige... As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 2:1, 1:9).

Lê jou skuld neer – Nou!

Jy lê nie net jou skuld, jou sonde en jou innerlike stryd neer nie – asof dit ‘n jas is wat jy uittrek nie. Jy lê dit alles neer met ‘n bonatuurlike operasie van die Heilige Gees. Die Heilige Gees reageer op die gebroke hart wat uitreik met geloof om God se beloftes in besit te neem. Hy gee dan Sy goddelike natuur aan daardie honger werktuig. ‘n Bonatuurlike reeks gebeure begin dan om te ontvou. Skielik, kom ‘n hernude begeerte om te bely, om hom te onderwerp aan God se wil, om meer soos Jesus te word, om dinge in die lig van die ewigheid te sien, om ‘n stormloop van oorgawe te beleef.

Die Heilige Gees haal die oorgegewe werktuig oor na God se manier van dink. Ons gaan agter dinge aan wat ons glo goed is vir ons. Ons begeer wat nie ons s’n is nie. Maar God kyk verder met die pad af en weet wat die beste is. Ons planne en gedagtes is nie Sy planne en Sy gedagtes nie. God sal Sy oorgegewe kind selfs iets beters gee, as hy sy eie plan neerlê.

Wat is dit wat tussen jou en God staan? Is dit ‘n geheime sonde? Wellus? Twyfel? Vrees? Angs? Dit is die oorsaak van jou skuld. Wees gewillig om dit met oorgawe neer te lê aan die voet van die kruis. Hou ‘n begrafnis net daar – treur en sterf – staan dan op in gehoorsaamheid en wandel in die Gees. God sal jou nie teleurstel nie. Hy sal daardie leë plek vervang met iets baie beter. Iets wat Sy eie hart behaag – en meer blydskap vir jou gee as wat jy prysgegee het.

Lê jou skuld neer – my vriend! Jy hoef nie daardie las nog een minuut langer te dra nie. Maak al die deure en vensters van jou hart oop, en laat God se liefde binnekom! Hy vergewe jou – oor en oor! Hy sal jou die mag gee om jou stryd tot by oorwinning te voer. As jy vra – as jy bely – is jy vergewe! Aanvaar dit – nou!

Download PDF