Die Aanraking van God | World Challenge

Die Aanraking van God

David WilkersonJuly 8, 2002

Terwyl ek hierdie boodskap skryf, het nog ‘n bom in Israel ontplof en veertien mense het gesterf. Duisende Islamiete staan in die ry om hulleself in die ewigheid in te blaas, net om die Israeli’s te teister. Islam het egter nie net teen Israel oorlog verklaar nie, maar ook teen Christendom. Amerika leef nou in uiterste vrees. Ons is bang vir nog selfmoordbomaanvallers, biologiese oorlogvoering en selfs kernbomaanvalle. ‘n Doodskleed hang oor die nasie.

Waar is die kerk te midde van hierdie chaos? Die Meeste van Christendom is in ‘n toestand van dood. Die kerk is vol godsdienstige aktiwiteite, maar dit is meestal vlees. God se teenwoordigheid is jammerlik afwesig tydens hierdie krisistoestand.

Dit is tragies, want ons Here het altyd ‘n oplossing vir ‘n wêreld in chaos. Dit is ‘n oplossing wat die tyd deurstaan het en wat Hy vir geslag na geslag gebruik om sy dooie, afvallige kerk mee op te wek. Hierdie oplossing het nie verander sedert die mens se skepping nie. Dit is eenvoudig die volgende: God het uitverkore manne en vroue opgerig.

In tye soos hierdie, gebruik ons Here individue om op te tree te midde van ‘n wêreld wat in ‘n krisis is. Hy raak sy dienaars aan op ‘n bonatuurlike manier. Eerstens verander Hy hulle. Dan roep Hy hulle tot ‘n lewe van totale onderwerping aan sy wil. Hierdie dienaars, wat deur God aangeraak is, word die beste beskryf in Psalm 65:5: “Welgeluksalig is hy wat U uitkies en laat nader kom, dat hy kan woon in u voorhowe.”

Kortliks, God roep so ‘n dienaar eenkant. Sy Gees trek hom tot in intieme gemeenskap. En daar, in die Here se wonderlike teenwoordigheid, word God se gedagtes vir die dienaar gegee. Hy ontvang ‘n goddelike roeping. Skielik word sy siel gevul met ‘n dringendheid. Hy kom uit hierdie gemeenskap uit met ‘n Godgegewe woord. En hy begin om met geestelike gesag te wandel.

Die Bybelgeskiedenis openbaar hierdie patroon oor en oor. Keer op keer, het God se volk Hom verwerp en hulle na afgode gewend. Hulle het heidense praktyke aangeneem en elke geslag het meer skandelik en verontreinig geword. Hulle goddeloosheid het die Here bedroef en kwaad gemaak. Hoe was hulle egter herstel? In elke geval het God ‘n goddelike dienaar opgerig: ‘n rigter, ‘n profeet of ‘n regverdige koning.

Samuel is een so ‘n voorbeeld. Hy het Israel berispe, “Maar hulle het die HERE hulle God vergeet; daarom het Hy hulle verkoop in die hand van (hulle vyande)...Toe het hulle die HERE aangeroep en gesê: Ons het gesondig, want ons het Die Here verlaat...En die HERE het Jerúbbaäl en Bedan en Jefta en Samuel gestuur en julle uit die hand van jul vyande rondom gered, sodat julle veilig gewoon het" (1 Samuel 12:9-11).

Sulke God-aangeraakte dienaars het God se instrumente van verlossing geword. Hulle was in staat om die tye te onderskei. En omdat hulle God se hart geken het, het die Here hulle as sy woordvoerders gebruik. Hulle het sy woord verkondig aan beide sy volk en vir die omliggende nasies.

Daar is geen twyfel aan God se aanraking op iemand wat uitverkies en geroep is nie. Sulke mense staan uit bo alle ander. So, waarom het die Here hierdie spesifieke dienaars aangeraak? Waarom het Hy Abraham, Moses, Dawid en sekere ander opgerig om herstel vir sy volk en aan die nasies te bring? Het die Here iets spesiaals in hulle gesien?

Nee, hierdie figure was nie supermanne nie. Hulle gebroke, feilbare lewens skakel dit uit. Dit was ook nie vooraf bepaal dat hulle die dinge sou doen wat hulle gedoen het nie. Elke persoon het ‘n vrye wil en kan kies om God se roeping óf te volg óf te verwerp.

Beskou Saul: hy was deur God uitverkies, deur sy hand aangeraak en met sy Gees vervul. Die Here het ’n wonderlike plan vir Saul se lewe gehad. Hy was van plan om ‘n “ewige” troon vir hom te vestig. Saul het egter God se roeping verwerp. Ten spyte van God se salwing, het hy teen die Here gerebelleer. Sy lot was nie bepaal deur God se blote uitverkiesing van hom nie.

Wanneer God iemand uitverkies om afgesonder te word vir ‘n spesiale, verlossende werk, gee hy daardie dienaar twee oproepe. En hoe die dienaar op daardie oproepe reageer, bepaal die krag en intensiteit van God se aanraking op sy lewe. Eerstens is daar die oproep om op te kom. Dan is daar die oproep om uit te kom. Moses se lewe beeld beide hierdie oproepe uit.

Hierdie oproep roep ons uit die besig wees van die lewe tot ‘n ongebonde najaag van God se teenwoordigheid. Beskou Moses se belewenis. Toe Moses Israel se leier geword het, was hy skielik ‘n baie besige man. Geen gemeente in die geskiedenis was ooit so groot of so behoeftig nie. God se volk was getel tot in die miljoene. Moses se lewe het gou baie besig geword, omdat hy die mense bedien het en regspraak gelewer het van soggens tot saans.

Uiteindelik het Moses se skoonpa, Jetro, tussen beide getree. Hy het Moses gewaarsku dat hy homself sou uitbrand en die mense sou vermoei. Jetro het geadviseer, “Wat jou betref, wees jy die verteenwoordiger van die volk by God...en laat hulle voortdurend oor die volk die regspraak uitoefen...Maak dit so ligter vir jou, en laat hulle saam met jou dra” (Exodus 18:19-22). Jetro het met ander woorde gesê, “Jy is die bedienaar, Moses. Jy moet jouself met God afsonder. Stel ander aan om die take van arbitrasie en raadgewing uit te voer. Gaan jy dan alleen na God. Soek sy teenwoordigheid, kry sy gedagtes, ontvang sy woord. Dit moet jou eerste prioriteit wees.”

Moses het na hierdie wyse raad geluister. Hy het ander aangestel om op te tree as regters en raadgewers. En hy het besluit om God se oproep om “op te kom,” te aanvaar. Die Skrif sê, “Maar Moses het opgeklim na God toe” (Exodus 19:3). “Terwyl die HERE op die berg Sinai neerdaal, op die top van die berg, het die HERE Moses na die top van die berg geroep, en Moses het opgeklim” (Exodus 19:20).

Moses het die teenwoordigheid van God in sy lewe hoog op prys gestel. En dit het die intensiteit van God se aanraking op sy lewe bepaal. Let op hoe die Here Moses uitgekies het bo die ander Israeliete, om tot Hom te nader: “So het die volk dan op ‘n afstand bly staan. Maar Moses het nader gegaan na die wolkedonkerheid waar God was” (Exodus 20:21).

Moses verteenwoordig die geseënde man waarvan Dawid gepraat het: “Welgeluksalig is hy wat U uitkies en laat nader kom, dat hy kan woon in u voorhowe” (Psalm 65:5). Die woord vir “laat nader kom” hier beteken om aangeraak te word, om deur God gedring te word om op te kom.

Talle Christene het hierdie oproep beleef, hierdie goddelike drang om met die Here te kommunikeer. Die Heilige Gees roep hulle dikwels na die berg van intimiteit en sê, “Ek begeer om jou te verander, om jou ‘n groter salwing te gee. Ek wil jou dieper en verder in My inneem. Ek wil my weë aan jou openbaar soos nog nooit tevore nie.”

Nie almal wat geroep is, reageer nie. Met die gevolg, God raak hulle nie aan met sy vuur en drang nie. Aan die begin mag hulle antwoord, “Here, ek sal U nie in die steek laat nie. Ek sal voortdurend u aangesig soek.” En vir ‘n tydperk, sonder hulle hul in gebed af. Maar hulle stel nie hulle harte daarop in om die hele pad in gebed te gaan nie. Na ‘n rukkie ignoreer hulle God se stem en gaan hulle eie pad. Hulle knip sy oproep om op te kom waar Hy is, kort.

Halfpad is waar talle gelowiges opeindig. Die Bybel vertel vir ons, “Daarna het Hy vir Moses gesê: Klim na die HERE toe op, jy en Aäron en Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel, en buig julle neer van ver af. En laat Moses alleen nader kom na die HERE toe, maar hulle moet nie nader kom nie; en die volk mag nie saam met hom opklim nie” (Exodus 24:1-2).

God het ‘n handjievol manne wat Hy wou aanraak, uitgekies. Hy het wonderlike planne vir hierdie manne gehad, veral vir Aäron en sy seuns. Hulle sou Israel se priesterlike leiers wees. Die Here het vir Moses vertel, “So sal Ek dan die tent van samekoms en die altaar heilig. Ek sal Aäron en sy seuns ook heilig om vir My die priesteramp te bedien” (Exodus 29:44). Net so het die Here die oudstes vertel, “En júlle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees” (Exodus 19:6).

So, waarom het God hierdie manne beveel, “Aanbid My van ver af. Moenie naby My kom nie. Slegs Moses sal na My toe kom op die top van die berg” (sien 24:1-2). In werklikheid, het God geweet van die sondes wat in hierdie manne se harte gebroei het. En hulle moes aangespreek word. Hy wou hulle lewens aanraak. Maar Hy kon dit nie doen terwyl hulle sonde weggesteek het nie.

Daarom het God hulle toegelaat om net halfpad teen die berg op te kom. Desnieteenstaande, het Hy egter bonatuurlik aan hulle verskyn, soos ‘n wolk van duisternis: “En hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos ‘n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self” (Exodus 24:10). Hierdie manne het nou in die ontsaglike, geopenbaarde teenwoordigheid van God gestaan. Hulle het selfs daar geëet en gedrink by ‘n tafel in sy teenwoordigheid. Maar hulle was steeds “ver” van Hom.

Israel se oudstes was blootgestel aan die uiterste, verpletterende heiligheid van God. Dit was asof Hy gesê het, “Sonde het ‘n houvas op julle harte. En dit weerhou julle van die volle openbaring van wat Ek vir julle wil gee. Julle boesemsonde van wellus beroof julle van intieme gemeenskap met My. Julle kan nie intiem met My wees solank as wat julle geheime sonde het nie.”

Probeer hierdie manne voor jou sien toe hulle hierdie woord hoor:

  • Aäron is deur God vertel, “Ek gaan jou heilig as die hoëpriester. Ek sal jou klee in purper en goud. En Ek sal jou voor Israel stel as ‘n voorbeeld.” Tog was Aäron se hart beklad met jaloesie teenoor Moses. Hy het ook ‘n sensuele streep gehad en Hy het mense meer as God gevrees.
  • God het vir Nadab en Abíhu vertel dat Hy sy heiligheid aan hulle sou openbaar. Hierdie twee manne was egter verhard in ‘n verslawing aan owerspel. Hulle het nie ‘n greintjie van die vrees van God besit nie. Nou het die Here vir hulle vertel, “Ek is ‘n genadige God. My begeerte is, dat wanneer julle in my teenwoordigheid inkom, julle julself sal toelaat om gebroke te word.”
  • God het die sewentig oudstes vertel dat Hy hulle voor die wêreld wou verhef. Hierdie selfde manne het egter geweier om onder enigeen se gesag te dien. Hulle het hulleself beskou as net so begaafd as Moses. (Dit sou later aan die lig kom in ‘n rebelse opstand.) Maar God het hulle in sy teenwoordigheid in gedring. Hy wou afreken met hulle dodelike trots.

Die Here het so begeer om al hierdie manne te gebruik. Hy wou hê dat hulle gebroke moes wees, sodat Hy hulle hoër kon bring. Daarom het Hy hulle ‘n ontsaglike barmhartigheidsoproep gegee om op te kom.

Saul het dieselfde soort barmhartigheidsoproep gekry. Hierdie man se hart was gebind deur demoniese vestings. Hy het in Rama ingemars om Dawid dood te maak. Maar die Heilige Gees het Saul aangeraak. Die hele nag lank het die koning in ‘n beswyming in God se teenwoordigheid gelê. Selfs hierdie barmhartige, bonatuurlike ingryping het Saul se hart nie verander nie.

Nou was Israel se leiers op soortgelyke kruispaaie. Hulle was halfpad teen die berg op, halfpad na God se aanraking, halfpad na sy verterende teenwoordigheid. “Daarop het Moses opgeklim met Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel...Maar Hy het sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie” (Exodus 24:9-11). Let op die laaste vers: die Here het hulle nie veroordeel nie. In der waarheid het hierdie manne verdien om weens hulle sonde doodgemaak te word. Maar God se enigste begeerte was om te verlos.

Volgende lees ons, “Hierop het Moses klaargemaak en Josua, sy dienaar. En Moses het op die berg van God geklim en aan die oudstes gesê: Wag hier vir ons tot ons na julle terugkom” (Exodus 24:13-14). Die oudstes moes daar bly en wag op Moses se terugkeer. Maar amper onmiddellik was hulle harte aangetrek deur die Israelitiese kamp benede. Gou was hulle nie meer gewillig om op die Here te wag nie.

Ek stel myself voor dat Nadab en Abíhu die eerstes was om hierdie halfweg kamp te verlaat. Hulle het gejeuk om terug te gaan na die rustelose skare en hulle eie wellustige maniere. Gevolglik het hulle die verlokking van hulle vlees gevolg. Ten spyte van God se verskyning aan hulle in die donker wolk, ten spyte daarvan dat hulle toegelaat was om in sy teenwoordigheid te eet en te drink, het hulle daardie plek onaangeraak verlaat.

Hierdie twee mans verteenwoordig Christen leiers van vandag, wat hulle vrylik oorgee aan wellus, pornografie en owerspel. Hulle is so verhard deur sonde, dat niks hulle kan aanraak nie. Hulle verwerp elke barmhartigheidsoproep van die Heilige Gees, elke oortuigende boodskap van sy profete oor sonde en elke ontmoeting met die Here self. Hulle het al sy pogings om hulle te red verwerp.

Die volgende manne wat versoek sou word, was Aäron en die ander godsdienstige leiers. Een na die ander het hulle gefluister, “Ons weet nie wat met Moses gebeur het nie. Hy kon ons verlaat het.” Gou het die hele liggaam van oudstes troueloos sy aansteeklike woorde herhaal. Hierdie manne was manne wat deur God geroep is tot ‘n lewe van gebed en gemeenskap. Maar nou het hulle een vir een sy teenwoordigheid onaangeraak verlaat. Hulle het hulself nie bekeer of onderwerp aan sy heiligheid nie. In plaas daarvan, het hulle teruggedraai na ‘n godsdiens van veragtelike vlees.

Verder teen die berg op, het Moses egter God se aanraking ten volle beleef. Hoe? Hy was gehoorsaam aan die Here se stem. Hy het sy oproep om op te kom gehoorsaam: “Toe sê die HERE  vir Moses: Klim op die berg na My toe en vertoef daar” (Exodus 24:12). God het met ander woorde gesê, “Kom in my teenwoordigheid in. Wees net daar vir My.”

Vir ses dae lank, het Moses buitekant die verheerlikte wolk gewag. Ek glo dit was gedurende hierdie ses dae wat die oudstes die halwegkamp verlaat het. Hulle was oortuig dat God niks meer vir hulle te sê gehad het nie. Maar Moses het die Here gehoorsaam deur te wag. Dan lees ons, “En op die sewende dag het Hy na Moses geroep uit die wolk...En Moses het binne-in die wolk ingegaan en die berg opgeklim. En Moses was op die berg veertig dae en veertig nagte” (Exodus 24:16-18).

Moses het ‘n ontsaglike openbaring van die Here ontvang gedurende daardie veertig dae. En net soos God Moses daardie tyd geroep het, so roep hy sy dienaars na die berg vandag. Sy Gees dring ons om op te kom na ‘n plek hoër en dieper in Hom as wat ons ooit geken het. Hy roep ons tot gemeenskap, tot intimiteit, om van aangesig tot aangesig met Hom te praat, net soos Moses het.

Inderdaad, die Here het ons dieselfde gebod gegee om op Hom te wag: “U verwag ek die hele dag” (Psalm 25:5). “Maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag” (Jesaja 40:31). “Hulle [sal] nie beskaamd staan wat My verwag nie” (Jesaja 49:23). Gedeelte op gedeelte roep ons om op God te wag. Hoeveel van ons draai egter vinnig terug na ons ou weë? Hoeveel van ons word deur ons vlees teruggelok na ‘n dooie vorm van godsdiens?

Die Heilige Gees het die volgende tot my hart gespreek: “David, diegene wat in my teenwoordigheid wag, voed My. Hulle stille aanbidding, hulle wag om my stem te hoor, is my voedsel.” Sulke God-aangeraakte dienaars is vasbeslote, “Ek gaan op die Here wag. Ek sal nie tevrede wees met enigiets minder as van aangesig tot aangesig gemeenskap met Hom nie. Dit maak nie saak wat ander in hulle wandel doen nie. Ek wil hê God moet my na plekke in Hom neem waar ander weier om te gaan.”

“En Moses het elke keer ‘n tent geneem en dit vir hom buitekant die laer opgeslaan, ver van die laer af; en genoem die tent van samekoms. En elkeen wat die HERE wou raadpleeg, het uitgegaan na die tent van samekoms” (Exodus 33:7).

Dit was nie die woestyn tabernakel nie; dit was nog nie opgerig nie. Liewer, hierdie tabernakel was die “tent van samekoms,” Dit het gedien as Moses se binnekamer van gebed as hy gegaan het om die Here te ontmoet. So, waarom het Moses sy tent ver van die kamp af verwyder? Hy het dit gedoen omdat Israel hulleself verontreinig het. Hulle het God se gesag verwerp. En hulle het hulle na die ergste goddeloosheid van alles soorte gewend: afgodery, sensualiteit, owerspel en naaktheid.

God moes uiteindelik sy teenwoordigheid van Israel verwyder. Hy het verklaar, “Ek kan nie te midde van ‘n verontreinigde volk wandel nie. Julle is hardnekkig, waardig om vernietig te word. Haal nou al julle ornamente af en hou op om trots en pronkerig rond te stap. Ek gaan besluit wat om met julle te doen” (sien Exodus 33:5).

‘n Doodskleed het oor die kamp gehang. God het sy vuurkolom van hulle verwyder en sy teenwoordigheid was nêrens te vinde nie. Net so, is daar vandag ‘n atmosfeer van dood, wat oor kerke hang waar God sy teenwoordigheid verwyder het. Dit maak nie saak hoe luid die gemeente sing nie, watter nuwe metode van aanbidding ingelyf is nie, of hoe hard die herder probeer om mense se emosies op te werk nie. Die plek is dood sonder God se teenwoordigheid. Die preke is leweloos en dit ontbreek oortuiging van sonde. En die skape word honger en behoeftig gelaat.

Moses het geweet dat dit net God se teenwoordigheid is wat lewe bring. Daarom het hy gedurig na die tent van samekoms gegaan en gebid, “Here, net een ding maak Israel anders as die ander nasies: u teenwoordigheid. Sonder U in ons midde, is ons niks beter as die heidene nie. Ons is magteloos teen ons vyande. As ons nie u teenwoordigheid het nie, het ons geen rede om te bestaan nie. Ons mag dan net sowel nou tou opgee. Ek sal nie sonder U voortgaan nie.”

Die Here het vir Moses vertel Hy sou nie teruggaan na die verontreinigde kamp nie. Maar Hy het ingestem om ‘n engel te stuur om Israel te lei: “Maar gaan nou en lei die volk waarheen Ek jou gesê het. Kyk, my engel sal voor jou uit gaan” (Exodus 32:34). Toe het hy belowe, “Ek sal ‘n engel voor jou uit stuur – en (jou vyande) verdryf...[en jou lei] na ‘n land wat oorloop van melk en heuning; want Ek sal in jou midde nie optrek nie” (Exodus 33:2-3).

Ek moes hierdie laaste vers verskeie kere oor lees voor ek verstaan het wat God bedoel het. Kortliks, Hy het in wese vir sy mense vertel, “Gaan voort, trek vorentoe, veg julle oorloë. Julle sal julle vyande verslaan. En julle sal hulle huise, wingerde en besittings verkry. Ek sal al my beloftes aan julle nakom. Maar my teenwoordigheid sal nie met julle wees nie.”

Hierdie gedeelte verduidelik baie van wat met God se kerk gebeur in ons dag. Talle bedienaars en gemeentes beweeg vorentoe sonder God se teenwoordigheid. Hulle bou groot kerke, trek groot getalle en bring ‘n rykdom van fondse in. Sommige dryf selfs duiwels uit of genees die siekes. Maar die Here is nie in hulle midde nie. Die gemanifesteerde, geopenbaarde teenwoordigheid van Christus is nêrens te vinde in hulle midde nie.

Jesus het voorspel dat soortgelyke dinge in die laaste dae sou gebeur. Vleesgedrewe bedienaars sou groot werke doen, terwyl hulle nie daaroor begaan is of die Here met hulle is of nie. Al waaroor hulle omgee, is dat hulle rekeninge betaal word en dat duisende na hulle kerke stroom. Sommige bedienaars is werklik bevrees vir God se teenwoordigheid. Hulle laat nie besoekende bedienaars toe om te preek nie, omdat hulle bang is dat hulle boodskappe wat van sonde oortuig hulle gemeentelede sal wegskrik.

God vertel eintlik vir hulle in hierdie gedeeltes, “Gaan voort, kry jou voorspoed. Maar wees gereed dat my toorn te enige oomblik oor jou sal uitbreek. Jou vleeslike strewes en verontreiniging het my teenwoordigheid van jou af verdryf.”

‘n Ware herder van God, het egter een oorheersende belang: “Is die Here onder ons? Is sy teenwoordigheid hier in ons midde?”

God se teenwoordigheid sal nie terugkeer na ‘n gemeente totdat die bedienaar en mense alle verontreiniging verwerp het nie. Hulle moet alle wellus afsweer en hulleself afsonder in ‘n plek waar hulle harte volkome rein is.

Israel, insluitende Aäron en die priesterskap was heeltemal verontreinig. Daarom het Moses die kamp verlaat en homself afgesonder vir die Here. Onmiddellik het God die tent van samekoms met sy teenwoordigheid gevul: “En as Moses in die tent ingaan, kom die wolkkolom af en gaan by die ingang van die tent staan, en dan spreek Hy met Moses...Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig soos ‘n man met sy vriend spreek” (Exodus 33:9-11).

Moses is ‘n skitterende voorbeel van wat dit verg om Christus se gemanifesteerde teenwoordigheid na ‘n gemeente te bring. Eerstens moet die bedienaar homself met God afsonder en homself toesluit in gebed. Dan moet ‘n heilige oorblyfsel hulle herder volg en alle verontreiniging agterlaat. ‘n Gees van bekering sal daardie nuwe kamp deurdring. Gou sal suiwer aanbidding onder hulle uitbreek. En die mense sal weet dat die Here teruggekeer het.

Dit is die enigste manier om God se teenwoordigheid terug te bring: om te weier om in die plek van verontreiniging te bly. Jy mag sê, “Dit is Ou Testament teologie. Jy kan dit nie in die Nuwe Testamentiese tye toepas nie.” Maar Paulus waarsku ons duidelik: “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is heilig” (1 Corinthiërs 3:16-17).

Kortliks, God vertel vir ons, “Verwyder jouself van alle wellus: pornografie, gierigheid en owerspel. Raak ontslae van die bitterheid wat in jou groei. Sonder jouself af van die plek van verontreiniging.” Sulke taal van afsondering mag dalk nie na “normale” Christendom klink nie. Vandag beteken ‘n normale wandel met Jesus om ‘n Bybelhoofstuk per dag te lees, te bid terwyl jy werk toe ry en kerk toe te gaan op Sondae. Maar, geliefde, ons leef nie in normale tye nie. God roep sy mense vandag tot radikale Christenskap.

Tans is daar duisende Moslems wat in die tou staan en smeek, “Laat my sterf vir my geloof.” Hulle bid toegewyd ses keer per dag. In die tussendtyd is daar tienduisende Amerikaanse Christene wat lui voor hulle TV stelle sit en gemors inneem. Soos ek vroeër genoem het, is ons samelewing op die rand van verwoesting en verwag meer verwoesting. Ons sidder met die gedagte van die volgende terroriste aanval. Die Christendom wat die wêreld egter sien, is swak, magteloos, vleesdeurdrenk en biddeloos.

Dit gaan ‘n bonatuurlike invulling van God se teenwoordigheid verg vir sy kerk om weer lewend te word. En dit beteken radikale maatstawwe onder sy mense. God vra nie vir jou om ses keer per dag te bid nie, of om vir weke lank te vas nie. Hy wil eenvoudig gemeenskap met jou hê.

Die Here vra jou om Hom op die berg te ontmoet. Hy wil hê dat jy moet op kom, om jouself van die plek van verontreiniging te verwyder. Sy groot begeerte is om jou dieper en verder in sy hart in te neem. Dit is hoe hy reageer op ‘n wêreld in ‘n krisis. Hy veroorsaak dat sy dienaars Hom ernstiger opneem as ooit tevore. En Hy vul hulle met sy teenwoordigheid. Dan sal die massas van die mensdom sien en weet dat Jesus Christus die Here is.

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE