Die Aanraking van God | World Challenge

Die Aanraking van God

David WilkersonMay 27, 2002

Wanneer die Here iemand aanraak, word daardie persoon na sy knieë gedryf. Dan word hy intiem met Christus. En uit daardie intimiteit, ontvang hy vars openbaring uit die hemel. Hierdie persoon is angstig om sy boesemsondes vir die Heilige Gees te bring om hulle af te sterf. Sy siel word vernuwe en hy betree ‘n plek van rus. En hy begin om Christus te bedien met nuwe passie en groter liefde.

Bowenal word hierdie dienaar meer en meer bewus van die komende dag van oordeel. Hy weet hy sal voor God se troon moet staan en een groot vraag moet beantwoord: “Hoe het jy Christus aan ‘n verlore wêreld weergegee?” Inderdaad, ons almal moet hierdie vraag by die Oordeel trotseer: “Hoe het jy getuig van Christus voor die goddeloses? Hoe het jy Hom openbaar deur die manier waarop jy geleef en opgetree het? Hoe het jou lewe Hom weergegee?”

Dit is die enkele maatstaf vir hoe ons beoordeel sal word op daardie dag. Dit maak nie saak of ons saam met God afgesonder was soos Moses, groot openbarings ontvang het soos Daniël, geheilig is soos Paulus, of gepreek het soos moedige Petrus nie. Almal sal beoordeel word deur hierdie enkele maatstaf: hoe het ons lewens weergegee wie Jesus is en hoe Hy is.

Die Heilige Gees het hierdie maatstaf van oordeel vasgestel ná Pinkster, toe Christus sy kerk gestig het. Rome was in beheer op daardie tydstip. Die gees van daardie keiserryk was een van trots, arrogansie en materialisme. Rome het die verdruktes, insluitende die weduwee’s, die wese en die armes vermy. Van die Eufraat af al die pad tot by die Atlantiese oseaan, het groot monumente Rome se militêre oorwinnings herdenk. Paleise is gebou vir die keiserryk se oorlogshelde. Maar nêrens was daar ‘n huis of ‘n inrigting vir die armes of haweloses nie. Regdeur die keiserryk was daars niks wat enige besorgdheid vir die armes aangedui nie.

Hierdie gees van trots en gierigheid het ook die Joodse ryk deurtrek. Israel se godsdienstige leiers was daarop uit om rykdom en eiendom te verkry. Fariseërs het wettige skuiwergate gebruik om huise van weduwee’s te steel. In die tussentyd was die wese verlaat en hawelose mense was misbruik. Laer klas arbeiders was uit hulle lone verkul. Hulle was vertel dat hulle verdien het om arm te wees, dat God hulle terugbetaal vir hulle sondes. Regdeur Israel was die heersende gesindheid, “Elke man vir homself.” Die lewe is deurgebring deur bymekaar te maak, op te gaar, altyd meer te wil hê en nooit genoeg te hê nie.

Te midde van hierdie gierige, selfgesentreerde, materialistiese samelewing, het Christus sy Gees op ‘n heilige oorblyfsel uitgestort. Skielike het magtige winde gewaai, geboue het geskud en bonatuurlike vuur het verskyn. Ongeletterde Christene het flot begin praat in ander tale wat hulle nooit geleer praat het nie. En Jesus se apostels het die evangelie met oortuigende krag verkondig. In die dae wat gevolg het, het die kerk God aanbid, geloof en in bonatuurlike krag gewandel: “Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop...En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en die breking van brood en in die gebede.  En vrees het op elkeen gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind” (Handelinge 2:41-43).

Jerusalem se bevolking was verwonderd oor wat hulle gesien het. Hulle het gevra, “Wat beteken al hierdie dinge?” Dit was die Heilige Gees wat God se mense bemagtig het om Christus aan die wêreld te verkondig. Hierdie gelowiges was nou sy lewende sendbriewe. Sy krag het hulle in staat gestel om op so ‘n manier te lewe dat hulle met vrymoedigheid kon getuig, “Dit is wie Jesus is. Ons lewens is ‘n getuienis van die natuur en liefde van God.”

Jy mag wonder wie was die toeskouers, van wie die Skrif gesê het “hulle was almal verbaas en verwonderd” oor die wonderbare gebeure (Handelinge 2:7). Wie was hierdie vreemdelinge, wat vir mekaar gesê het “Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is” (Handelinge 2:7-8).

Die volgende verse beantwoord daardie vraag: “Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek” (Handelinge 2:9-11).

Die mense wat hierdie gebeure waargeneem het, was besoekers aan Jerusalem, koopmans, handelaars en reisigers. Hulle berigte sou sekerlik versprei na die res van die wêreld. Maar hoe sou hierdie vreemdelinge beskryf wat hulle gesien het? Sou hulle fokus op die tonge, die tekens en wonders, die wind en vuur vanuit die hemel?

Nie een van hierdie dinge sou die fokus wees nie. Dit was nie die getuienis wat die Heilige Gees gekom het om te gee nie. Al hierdie wonders was bloot manifestasies bedoel vir die gelowiges se lering en genesing. So, wat sou die getuienis van Christus wees?

Die meeste preke oor Pinkster fokus op die tekens en wonders wat deur die apostels uitgevoer is. Of hulle beklemtoon die 3,000 wat gered geraak het in een dag, of die verdelende tonge van vuur wat verskyn het. Maar ons hoor nie van een gebeurtenis wat die grootste wonder van alles geword het nie. Hierdie gebeurtenis het menigtes teruggestuur na hulle nasies met ‘n duidelike, onmiskenbare indruk van wie Jesus is.

Jy het gehoor van tekens en wonders. Ek wil vir jou vertel van hierdie storie se “wondertekens.” Oornag het duisende te-koop bordjies voor huise regdeur Jerusalem en die omliggende gebied verskyn. Die Skrif sê, “En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het...Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het” (Handelinge 2:44-45; 4:34-35).

Kan jy jouself indink in die toneel in Jerusalem? Menigtes van huise, erwe en lanbougrond is skielik verkoop. Huishoudelike goedere is ook verkoop: meubels, klere, gereedskap, potte en panne en kunswerke. Op die strate, in die markpleine, by elke stadspoort, moes honderde bordjies gelees het, “Goedere te Koop.” Dit moes die grootste garage uitverkoping in Jerusalem se geskiedenis gewees het.

Let op: daar is geen bewyse in die Skrif dat die huise wat verkoop is, die eienaars se primêre wonings was nie. En daar is geen sprake van gemeenskaplike inwoning nie. As dit gebeur het, sou dit ‘n ondraaglike las op die kerk geplaas het. Die eiendomme en besittings wat hierdie Christene verkoop het, was immers nie primêre behoeftes of erfporsies nie. God se Woord het hulle duidelik beveel om vir hulle families en kinders te voorsien. Hulle moes ook sorg vir alle weduwees in hulle familie onder die ouderdom van sestig. Hierdie gelowiges sou nie daardie bevele kon gehoorsaam as hulle nie hulle eie huise besit het nie. Buitendien, ons lees dat hulle na mekaar se huise gegaan het vir gemeenskap en “van huis tot huis brood gebreek” het (Handelinge 2:46). Duidelik het hierdie mense steeds hulle huise besit.

Nee, die besittings wat hulle verkoop het, was besittings wat hulle oortollig gehad het, dinge wat nie noodsaaklik vir hulle oorlewing was nie. In sommige gevalle, het hierdie dinge waarskynlik ‘n wurggreep op hulle eienaars se harte geplaas. So, die goedere was verkoop, in kontant omgeskakel en geskenk om die kerk se weduwees, wese en haweloses te onderhou.

Hier is die getuienis wat van Jerusalem af uitgegaan het. Dit was die boodskap wat God se Gees wou versprei regdeur die wêreld: Slegs die krag van God kon die gees van materialisme, wat Israel vir eeue in sy kloue gehad het, breek.

Dink aan die krag wat dit geverg het om ‘n selfgesentreerde, gierige volk, wat vir honderde jare die armes verag het, te skud en wakker te maak. Die vreemdeling wat hierdie gelowiges gehoor praat het in hulle eie tale, het hulle nou gesien waar hulle waardevolle goedere verkoop het. En hierdie besittings was nie rommel nie. Dit was duidelik dat dit verkoop is as ‘n offerhande. Weereens moes die toeskouers vra, “Wat gaan aan? Waarom is daar so baie te-koop bordjies op? Weet hierdie mense iets wat ons nie weet nie?”

Enige gelowige binne hoorafstand sou reageer, “Nee, ons is volgelinge van Jesus. Ons het ons harte vir die Messias gegee en sy Gees het ons verander. Nou doen ons die werke van God. Hy het vir die armes gepreek en met die melaatses geassosieer. Hy het weduwees bedien en vir die wese gesorg. En ons het ‘n woord van die Heilige Gees ontvang dat ons dieselfde moet doen. Ons verkoop die goedere om geld bymekaar te maak vir die armes en hulpeloses. Dit is die werk van Jesus Christus.”

Dink aan die gesprekke wat regdeur die stad plaasgevind het. In kafee’s, sinagoges en markte kon een koopman dalk vir ‘n ander gesê het, “Ek het uiteindelik daardie gebou gekoop wat ek al vir jare wou gehad het. Die hele tyd het die eienaar my probeer kul met ‘n hoë prys. Hy is ‘n Fariseër en ek het met hom geknibbel vir jare. Wel, gister het hy na my gekom en hy het my ‘n redelike prys gegee.

“Ek het hom gevra wat hom van gedagte laat verander het. Hy sê hy is nou ‘n volgeling van Jesus. Hy het gevul geraak met die Heilige Gees en hy is nie meer verslaaf daaraan om dinge te versamel nie. Buitendien, die geld van die verkoping sal gaan om die armes, sowel as die weduwees en wese te voed.”

Hier was die getuienis van Pinkster. Die wêreld het gesien dat daardie bemagtigde gelowiges mekaar liefhet en hulle goedere verkoop en vir die behoeftiges gee. En dit is presies wat die Heilige Gees van hulle wou hê. Hy het ‘n lewende getuienis van God se liefde aan die wêreld verlang. Hulle het Christus se evangelie deur hulle dade verkondig.

Onthou jy die storie van Ananías en Saffíra. Hulle was gelowiges wat dood neergeslaan het in die kerk omdat hulle ‘n wanvoorstelling gebring het van wie Jesus is. Hulle het vir Petrus gelieg oor die hoeveelheid geld wat hulle ontvang het van die grond wat hulle verkoop het. Maar Petrus het hulle vertel dat hulle vir die Heilige Gees gelieg het. Inderdaad, wanneer ‘n Christen vir enige mens lieg, is dit asof daardie persoon vir God gelieg het.

Wat presies was daardie paartjie se leuen? Dit was hulle wanbesteding van geld wat aan die armes toegewys is. Hulle moes aan die koper getuig het, “Alles wat jy ons betaal is vir die saak van Christus. Dit gaan alles vir die weduwees en die armes.” Maar hulle het ‘n deel van die geld vir hulleself teruggehou.

Op die Oordeelsdag, gaan baie mense aangekla word vir wanbesteding van dit wat vir ‘n liefdadigheidsaak bestem was. Ek dink aan organisasies wat honderde miljoene dollars vir slagoffers van die 11 September tragedie gekollekteer het, maar die meeste daarvan vir hulle eie gebruik aangewend het. Ek dink ook aan die bedienaars wat geld bymekaarmaak vir dieselfde weduwees en wese, maar wat dit wanbestee het. Ek vertel vir jou, hulle het nie nodig om die IRS te vrees nie. Hulle moet die Almagtige God vrees, wat boekhou tot op die laaste sent.

Dit is die boodskap agter Ananías en Saffíra se storie: jy raak nie aan wat aan die armes en behoeftiges behoort nie. God sal nie staan en kyk hoe ‘n wanvoorstelling van sy Seun aan die wêreld gebring word deur diegene wat hulleself by sy Naam noem nie.

(Selfs Moslems besef hoe ernstig hierdie soort getuienis is. Ek het onlangs gelees van ‘n Saoediese teleton wat geld bymekaargemaak het vir die langslewende families van Palestynse “martelare” [insluitend die selfmoordbomaanvallers wat Israel aangeval het]. Die teleton was staatsgeborg en die Saoediese koning het die eerste $2.7 miljoen geskenk. ‘n Prinses het haar Rolls Royce geskenk. ‘n Man het een van sy niere geskenk. ‘n Vrou het haar bruidskat van $17,000 oorhandig. Massas mense het na die TV stasie gekom om kontant in bokse in te stop en deur rolstoelgekluisterde kinders vasgehou was. Hulle almal wou bewys dat Allah sy kinders liefhet.

In totaal is $155 miljoen tydens daardie Saoediese teleton bymekaar gemaak. Maar dit was slegs die begin. Die oproep het uitgegaan na elke Islamitiese nasie, om te gee vir die poging om Palestina te herbou. Jy sien, Satan weet waar die effektiewe getuienis is. En hy vervaardig ‘n namaaksel vir sy eie getuienis.)

Ek vra jou, hoe het die Heilige Gees die skielike verandering van hart in daardie nuut gedoopte gelowiges in Jerusalem teweeggebring? Hulle transformasie was ‘n ontsaglike wonderwerk. Die antwoord is, hierdie Christene was die kinders van Maleági se profesie. Maleági is die laaste profeet van wie ons hoor in die Ou Testament. En God het deur hom gespreek en gesê, “Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal ‘n haastige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die meinediges en teen die wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat die vreemdeling wegstoot en My nie vrees nie, sê die HERE van die leërskare” (Maleági 3:5).

Gaan nou vinnig vorentoe na die tyd van die kerk in Jerusalem. Hierdie gelowiges het van huis tot huis gegaan en gemeenskap gehou. “En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede” (Handelinge 2:42). Wat was die apostels se leer wat hier genoem word? Dit was die woorde van Christus. Jesus het sy dissipels opdrag gegee, “Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Johannes 14:26).

Gee nou noukeurig aandag. Een van die laaste boodskappe wat Jesus met sy dissipels bespreek het voor sy kruisiging, word bevat in Matthéüs 25. Ek glo die Heilige Gees het nou hierdie spesifieke boodskap aan sy volgelinge in herinnering gebring. Dit was in werklikheid waarskynlik Matthéüs wat hierdie boodskap van Christus aan nuut gedoopte gelowiges verkondig het.

Jesus se woorde het in hulle harte lewendig geword en hulle het geweet hulle kon nooit weer op dieselfde manier lewe nie. Skielik het hulle gesien hoe ernstig hierdie saak van voorstelling van Christus waarlik is. Dit het hulle in hulle huise ingedryf om alles te vind wat hulle nie nodig het nie en dan daardie goedere na die strate te neem om te verkoop. Eenvoudig gestel, Christus se Woord in Matthéüs 25 het hierdie gelowiges ‘n nuwe gesindheid van liefde en besorgdheid vir die armes gegee. Hoe? Dit het hulle letterlik voor die Oordeelstoel geplaas.

Hierdie selfde boodskap van Matthéüs 25 het my eie siel geskud tot in my diepste wese. En dit het veroorsaak dat ek ‘n verandering in my lewe en bediening gemaak het. Net so, as jy uitroep vir God se aanraking en soek om ‘n nuwe passie vir Jesus te hê, sal jy op ‘n reis geneem word deur die Heilige Gees. En op ‘n sekere stadium op daardie pad, sal jy op die ou end Matthéüs 25 teëkom. Ons kan nie meer hierdie verpletterende woord sommer ignoreer nie.

Christus se woorde is hier nie ‘n gelykenis nie, maar ‘n profesie. Dit is die Oordeelsdag en ons staan almal voor die troon: “En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit” (Matthéüs 25:31-32).

Sommige mense maak daarop aanspraak, “Dit is ‘n oordeel van nasies, nie mense nie.” Dit is dwaasheid. Daar is geen skaap-nasies of bok-nasies nie. Ek daag enigiemand uit om enige skaap-nasie, wat vandag of in die verlede bestaan het, te noem. Dit is duidelik dat dit ‘n oordeel van die hele mensdom is. En die skape wat hier genoem word, word volgens een maatstaf geoordeel:

“Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom” (Matthéüs 25:34-36).

Jesus het die skape geprys en gesê, “Julle het my reg verteenwoordig. Julle het voor die wêreld getuig dat Ek met die gevangenes van sonde en armoede identifiseer. Julle het my hart geken en julle het toegelaat dat Ek my natuur en liefde deur julle weergee.” Christus het nie ‘n woord oor enige ander ywerige werk of prestasies gesê nie. Hy fokus alles op hierdie een ding.

Nou kom die woord wat my laat sidder. Jesus sê: “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie” (Matthéüs 25:41-43).

Let op dat Jesus nie hier die bokke oordeel vir owerspel, dwelmmisbruik, pornografie, homoseksualiteit of ander ernstige ongeregtighede nie. Ja, dit is alles verdoemende sondes en diegene wat dit doen, sal geoordeel word vir elke daad wat in die vlees gedoen is. Maar met Christus is daar selfs ‘n hoër maatstaf van oordeel.

Toe ek hierdie maatstaf in my eie lewe toegepas het, het ek gedink, “Ek kan myself nie in hierdie profesie vind nie. Wanneer het ek hierdie dinge gedoen wat beveel word? Het ek nagelaat om persoonlik aktief in die bediening aan die hongeriges, die haweloses, weduwees, wese, gevangenes en die geteisterdes te wees? Hoe hanteer ek Jesus se woorde hier: “ Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hulle sal weggaan in die ewige straf” (Matthéüs 25:45-46)?

Vir maande het ek vir weduwees, die wese en die armes gebid. Ons ontvang briewe van behoeftige mense, wat nie meer vir versekering kan betaal of huisvesting kan bekostig nie. Ek het by God gepleit, “U is die Here van die leërskare. Voed hulle. Vervul hulle behoeftes.” Uiteindelik het die Here my geantwoord, “Jy moet meer doen as om vir hulle te bid, David. Jy kan iets daaromtrent doen. Voed jy hulle. Dit is binne jou vermoë om dit te doen.”

Moenie ‘n fout maak nie: niemand kan deur goeie werke alleen gered word nie. Maar ons sal beoordeel word of ons dit wel gedoen het. Die saak is egter nie hoeveel behoeftige mense ek voed of klee nie. Die belangrikste saak is: “Bely ek Christus as my Here en leef ek dan vir myself? Bring ek ‘n wanvoorstelling van Jesus deur my tyd te gebruik om goedere bymekaar te maak? Maak ek my oë toe vir die behoeftes van die armes en hulpeloses?”

Ons getuienis aan ‘n sonde-vervloekte wêreld moet beide die verkondiging en die manifestasie, beide Woord en daad insluit. Ons verkondiging van Christus kan nie geskei word van ons helpende dade nie. Soos Jakobus sê, sulke dade help om die krag van die evangelie te bewys:

 “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Die geloof kan hom tog nie red nie? As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie – wat baat dit?” (Jakobus 2:14-16).

Menigte van Christene reageer op Jesus se profesie op twee maniere. Daar is diegene van die “maklike evangelie,” wat sê, “God is nie hard nie. Dit is alles oordeelsdagprediking. My God is te liefdevol om so ernstig te oordeel.” Dan is daar diegene van die “moeilike evangelie” wat sê, “Dit is net te streng, te veeleisend. Ek kan nie so ‘n ontstellende woord aanvaar nie. Ek kan nooit daaraan voldoen nie.”

So, beide evangelies loop hulle eie pad, geregverdig en onaangeraak. En ons gaan voort om herlewings vir die ongereddes te hou. Ons hou gebedsbyeenkomste en vra God om die behoeftes van die armes te vervul. Wanneer Kersfees aanbreek, versprei ons kosmandjies aan behoeftige families. En op ander tye, gee ons ‘n paar munte aan bedelaars. Maar ons het geen voltydse, persoonlik aktiewe toewyding om te doen soos Jesus beveel het nie.

Sulke mense sal roep, “Maar Here, Here, dit is alles ‘n verrassing. Ons het in U geglo. Ons het gebid, ons het gevas, ons het kerk toe gegaan. Ons is u verloste skape.” Waarom sal hulle afgeskei word saam met die bokke?

As ons in werklikheid die wêreld en sy dinge liefhet, kan ons nie God s’n wees nie: “As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie” (1 Johannes 2:15). As ons begeer en meer en meer goed wil hê, is ons nie deel van sy skape nie: “Geen...diewe of gierigaards...sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:10).

Hierdie gelowiges sal egter bokke wees, nie weens hulle begeerte na dinge nie, maar omdat hulle nie die behoeftiges gehelp het nie. Die Here sal vir hulle sê, “Jy is ‘n bok omdat jy ‘n verdraaiing van My aan die wêreld voorgestel het. Jy het veroorsaak dat die goddelose My met voorspoed, geld en sukses geïdentifiseer het. Jy het die armes bedrieg deur hulle te vertel Ek wil hulle ryk maak. En jy het die siekes vertel hulle ly weens hulle gebrek aan geloof.

“Ek het jou geseën. Ek het my hulpbronne op jou uitgestort, omdat Ek jou liefhet. Maar jy het nie jou ore oopgemaak vir die behoeftes van die behoeftiges rondom jou nie. In plaas daarvan, het jy verstik aan jou eie besittings. As jy Myne was – as jy My liefgehad het – sou jy my bevele gehoorsaam het.”

Jy mag sê, “Broer Dave, dit is te moeilik. God is sekerlik nie so nie.” Lees die woorde van Esegiël: “Kyk, dit was die ongeregtigheid van jou suster Sodom: In trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus het sy en haar dogters geleef, maar sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk nie” (Esegiël 16:49, kursief myne). Toe God Sodom geoordeel het, het Hy nie hulle homoseksualiteit of afgodery genoem nie. Dit het alles oor trots, gemak en verwaarlosing van die armes gegaan. Hulle het geen besorgdheid vir die armes gehad nie.

Geliefde, die here het nie vir ‘n eenmalige garage uitverkoping in Jerusalem gevra nie. Hy was agter iets in sy mense se harte aan. Hy wou getuies hê wat vry sou wees van gebondenheid aan dinge, om sy hart te weerspieël aan ‘n verlore wêreld. God soek nie ons huise nie. Hy wil hê ons moet wakker word, om te sien hoe verstik ons dalk met besittings mag wees.

Hoe kan ons betrokke raak by die behoeftiges? Dit is die werk van die Heilige Gees. As jy oortuig word deur hierdie boodskap, gaan na Hom toe. Hy sal jou direk lei na die behoeftes wat Hy wil hê jy moet aanspreek, op een van hierdie gebiede van persoonlik aktiewe liefdesbediening. Dit is nie bedoel om jou onder skuld of veroordeling te plaas nie, maar om jou te help om jou hart te ondersoek in die lig van Jesus se woorde.

Die Here verwag nie van enige van ons om dit alles te doen nie. Maar ek weet Hy verwag van ons om persoonlik toegewyd te wees in persoonlik aktiewe betrokkenheid op ten minste een van hierdie gebiede van nood. Kan jy sê dat jy gereed is om voor Christus te staan op daardie dag met die wete dat jy besig is om die armes te voed of te klee, gevangenes te besoek en die weduwee’s of wese te seën of te besoek?

Die Heilige Gees sal my nie toelaat om hierdie oortuigende waarheid te vermy nie. Hy sal ook nie enige ware gelowige verskoon nie. God bedoel wat Hy sê. Selfs diegene wat nie self kan uitgaan nie, die bejaardes of die siekes, kan bid vir die haweloses. Hulle kan briewe aan gevangenes skryf.

Wanneer daar ‘n begeerte is om hierdie bevel te gehoorsaam, sal die Heilige Gees die weg aandui. En wanneer ons betrokke raak, beloof Hy die volgende: As jy “jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig, dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag. En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie” (Jesaja 58:10-11).

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE