Die Eensaamheid van Jesus | World Challenge

Die Eensaamheid van Jesus

David WilkersonJanuary 1, 1978

Maak gereed vir ‘n openbaring van iets nuuts in jou teologie. Wees bereid om Jesus in ‘n volkome nuwe lig te sien. Het jy geweet dat ons ons probleme verkeerd benader? Ons is so behep met ons eie probleme dat die gedagte nie eens by ons opkom dat ons Here ook ‘n probleem het nie. En as ons Sy probleem kan verstaan, sal ons gou by die wortel van ons eie probleme uitkom.

Ons Here se probleem is dat Hy eensaam is. Hy het ‘n amper onoorkoomlike probleem om te kommunikeer met diegene van ons wat beweer dat ons Hom so liefhet. Hy is ‘n Saligmaker met “gevoelens” en sy gevoelens en behoeftes word heeltemal verwaarloos deur baie van Sy eie kinders.

Ons streef daarna om die hart van Jesus slegs met lofsang te behaag!. Ons sing en juig en hef ‘n koortjie van aanbidding en bewondering aan en dit is wonderlik en skriftuurlik. Ons kom na Sy poorte met lofprysing en gaan Sy howe binne met danksegging. Ons prys Hom met instrumente. Ons prys Hom met sang, met opgehefde hande, met trane en luide hosanna’s. Maar dit is steeds net eenrigtingkommunikasie. God beveel dat alles wat asem haal Hom moet prys. Maar lofsang alleen vervul nie ons Saligmaker se behoefte nie.

Hy kry nooit kans om te praat nie

Ek wonder of die Here ooit moeg word dat Sy kinders in Sy teenwoordigheid kom en nooit een keer stop om te luister nie. Niks is so leeg en onvervullend soos eenrigtingkommunikasie nie. Probeer na iemand luister vir ‘n paar uur sonder om ‘n woord in te kry. Dit laat jou met ‘n gevoel van eensaamheid. Die persoon wat “die las van sy hart kon afkry” voel daarna altyd beter. Maar die arme luisteraar, wat nie ‘n enkele woord van advies kon gee of sy eie hart kon deel nie, staan daar onvervuld.

Hoe dikwels het ons ons Here daar alleen in die binnekamer agtergelaat, eensaam en onvervuld? Ons hardloop in Sy teenwoordigheid in met ‘n “Prys U, Jesus; ek aanbid U, Jesus! Eer aan U, Jesus! Hier is my inkopie- en gesondheidslys. Amen.” Hoeveel keer was Hy so gereed en gretig om Sy eie hart oop te maak om te praat en dan was daar sowaar niemand nie.

As ons ‘n uur bid, praat ons ‘n uur. As ons vir ure bid, praat ons vir ure. As ons die hele nag lank bid, praat ons die hele nag lank. Miljoene stemme wat praat, praat en prys. My hele lewe lank wat ek preek, probeer ek mense sover kry om te bid. Nou sien ek dat dit nie regtig die probleem is nie. Die ware probleem is dat ons die Saligmaker in die binnekamer agterlaat, alleen, onvervuld en eensaam – sonder dat Hy ‘n woord aan ons gesê het. Ons verlaat daardie binnekamer van gebed nadat ons ons harte uitgestort het. Ons het dit alles uitgepraat met Hom, blydskap het ons harte gevul. Ons het vir Hom van ons hoop, ons drome en ons begeertes vertel. Ons het daardie heilige plek van gebed met ‘n tevrede gemoed verlaat. Maar ons Here was steeds daar en het met verwagting gewag en gesmag daarna om in daardie gemeenskap te deel. Sê ons Here nie, “Ja, ja, dankie vir jou lofsang. Ek aanvaar dit. Ek is so bly jy het tyd gemaak om jou met My af te sonder. Ek het jou versoek gehoor en die Vader sal jou die begeerte van jou hart gee. Maar asseblief, wag! Wees nog ‘n rukkie stil. Moenie nou al gaan nie. Ek het ‘n paar dinge wat Ek met jou wil deel. Ek verlang daarna om My hart teenoor jou uit te stort. Ek het jou trane opgevang, ek het jou beswaarde gemoed vertroos. Laat My nou toe om te praat! Laat My toe om vir jou te sê wat op My hart is”?

Ons Here Jesus wil praat. Hy wil vir ons sê wat Sy hart breek in ons geslag. Hy wil met elke kind praat oor die pragtige plan wat Hy het vir almal wat op Hom vertrou – die openbaring van wonderbare waarhede; leiding vir onsself en hulp om kinders groot te maak; oplossings vir ons probleme; nuwe bedienings en uitreike wat die verlorenes sal red; spesifieke boodskappe aangaande werk, loopbane, huise, lewensmaats; waarhede oor die hemel, die hel en die naderende onheil. Die beste van alles, Hy wil met ons praat oor hoe lief Hy ons het en hoe Hy vir Sy kinders sorg.

Ons vergeet Hy het ook ‘n behoefte

Voor jy dink ek is onskriftuurlik, luister na Sy eie woorde. Hier is ‘n pragtige glimp op die hart van Jesus.

“En wie is daar van julle wat ’n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink?” (Lukas 17:7,8).

Ons het glad nie ‘n probleem om met die dienaar in sy plig teenoor sy meester te identifiseer nie. Geen probleem om ons voorskoot aan te sit en vir die Here ‘n vol tafel lofsange – ‘n goeie fees van aanbidding – te bedien nie. Ons is lief daarvoor om ons Here te voed! Ons is lief daarvoor om te sien hoe Hy ons bediening en liefde geniet. Ons omgord onsself, berei voor en dien Hom met blydskap. Dit is ons grootste blydskap, ons opperste vervulling – om die Here te bedien.

Maar ons sukkel met die laaste deel – die Here se deel. “En daarna kan jy eet!” Dit is te veel vir ons om te begryp. Ons weet nie hoe om te gaan sit nadat ons Hom bedien het nie – om Hom dieselfde blydskap toe te laat as wat ons beleef het toe ons Hom  bedien het! Ons beroof ons Here van Sy bediening aan ons.

Ons dink ons Here kry genoeg plesier uit wat ons vir Hom doen. Maar daar is soveel meer. Ons Here reageer op ons geloof. Hy juig wanneer ons ons bekeer. Hy praat met die Vader oor ons. Hy verbly Hom oor ons kinderlike vertroue. Dit behaag Hom om ons rus en vrede te gee en om al Sy beloftes om ons onthalwe te vervul. Maar ek is daarvan oortuig Sy grootste behoefte is om ‘n een-tot-een persoonlike kommunikasie te hê met diegene wat Hy hier op aarde agtergelaat het. Nie een engel in die Hemel kan daardie behoefte vervul nie. Niemand wat reeds deur die voorhangsel gegaan het, kan daardie behoefte vervul nie. Jesus wil gesels met diegene op die slagveld. Hy moet oop lyne hê – tweerigting lyne – na elke soldaat op elke front.

Waar het ek so ‘n idee gekry dat Christus eensaam is en ‘n desperate behoefte het om te praat? Dit is alles daar in die pragtige verhaal van Christus wat verskyn aan die twee dissipels op die Pad na Émmaüs. Jesus was pas opgewek. Nog dieselfde dag, omtrent twaalfuur, het Kléopas en ‘n ander dissipel van Jerusalem geloop na Émmaüs – ‘n afstand van ongeveer ses en ‘n half myl.

Jesus het nader gekom. Hulle was bedroef oor hulle afgestorwe Here. In hulle droefheid, het hulle Hom nie herken nie. Om werklik die innige behoefte in ons Here se hart te verstaan, kyk noukeurig hoe Hy langs daardie geselsende, bedroefde dissipels loop. Hulle het met mekaar gesels en onder mekaar geredeneer.

Hoe eensaam moes Jesus gewees het. Hy wou gesels; Hy het baie gehad om vir hulle te sê. En toe Hy dit nie langer kon inhou nie, het Jesus opgehou luister en begin praat: “En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam...En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het” (Lukas 24:15,27).

Daar kon geen beter belewenis vir daardie dissipels wees nie. Hulle het Sy stem gehoor, weggegaan en gesê, “...was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons...gepraat...het nie?” Maar omdat ons nooit die behoeftes van Jesus verstaan nie, dink ons slegs aan die blydskap wat daardie dissipels gehad het. Wat van die blydskap van Jesus? Hulle het gesê hulle harte het gebrand toe Hy gepraat het. Maar ek sien ‘n opgestane Here, met trane wat teen Sy verheerlikte wange afstroom en met daardie stowwerige pad afloop met ‘n hart vol blydskap. Hy was vervul, Sy behoefte was aangespreek. Terwyl die wêreld gewag het, het Jesus die hele verlossingsplan vir ‘n paar uur onderbreek – net om te gesels! Ek sien Jesus oorloop van blydskap. Hy het bedien. In Sy verheerlikte vorm, het Hy Sy eerste tweerigting gemeenskap beleef. Hy het Sy hart uitgestort. Sy eensame hart was aangeraak. Ook Sý behoeftes was vervul.

Ons moet Hom toelaat om met ons te praat

Ons weet vandag so min van Sy stem en Sy behoefte om met ons te praat. Ons is te behep met Sy krag om bewus te wees van Sy stem. Soos Elía, die groot profeet, is ons meer bekend met demonstrasies van krag as wat ons is met Sy rustige, sagte stem.

Elía het die krag van gebed uitgeoefen. Hy het die hemel gesluit en geopen. Hy het die vuur afgeroep en met sy mantel water verdeel. As ‘n man van aksie wat hele regerings onder sy betowering gehad het, het hy op die berg Karmel gestaan en die profete van Baäl gespot, en hulle reg onder die koning se neus doodgemaak.

Hierdie magtige man van gebed het God se troonkamer sewe keer binnegegaan en ernstig gebid vir reën. Sewe keer het Elía met God gepraat oor hierdie een behoefte. ‘n Wolkie het verskyn en die profeet, wat drie en ‘n half jaar tevore, die hemel gesluit het en ‘n verskriklike droogte veroorsaak het, het nou die hemele geopen en “’n oorvloed” reën het geval. Elía het verby Agab se wa gehardloop, 16 myl op pad na die koninklike woning.

Elía was opgewonde oor die oorwinning. ‘n Groot geestelike ontwaking was op die punt om plaas te vind. Die vuur van God het geval. Wonderwerke is gesien deur menigtes. Dit was ‘n ongelooflike vertoning van God se groot krag. Elía het gedink, “Nou sal selfs Isébel haar bekeer! Selfs sy kan nie hierdie tekens en wonders gering ag nie. Dit is God se uur vir hierdie land.”

Wat ‘n skok het hy gekry! Isébel was glad nie beïndruk met wonderwerke en krag nie. Sy het vir Elía gesê, “Teen môre sal ek jou doodmaak net soos jy my priesters doodgemaak het.”

Wanneer jy weer hierdie vername man van krag en aksie sien – hierdie magtige gebedskryger – hierdie wonderwerker – hierdie man wat vuur uit die Hemel laat neerdaal – kruip hy weg in ‘n grot amper 200 myl ver weg op die berg Horeb.

Wat ‘n toneel! Veertig dae en veertig nagte het hy gepeins oor hoe dinge alles verkeerd geloop het. Hy het behep geraak met probleme. Sy oë was nou op homself in plaas van op God. Daarom roep God na hom, “Elía, wat maak jy hier – waar jy wegkruip in ‘n grot?”

Dikmond het Elía geantwoord, “Here, die land vergaan. Die hele regering is goddeloos en onsedelik. Die volk is afvallig; hulle wil nie in wonderwerke glo nie. Die samelewing het mal geword. My boodskap word teruggegooi in my gesig. Hulle wil nie werklik hulp hê nie. Die duiwel is in beheer – hy het almal gekry behalwe vir my. Ek is die enigste een oor wat getrou is aan U, Here. Ek kruip weg sodat daar ten minste een heilige bewaar word.”

Elía, ‘n biddende profeet, was so besig vir God, so besig om God se krag te demonstreer, so besig om God se koninkryk te red – dat hy ‘n eenrigting dienaar geword het. Hy het dikwels met God gepraat – maar hy het baie min geluister. As hy geluister het, sou hy gehoor het dat God vir hom sê daar was 7,000 heiliges wat nie ‘n kompromie gemaak het nie.

Ons het ‘n les nodig oor hoe om te luister

Daarom moes God hierdie dienaar ‘n les leer oor hoe om te luister. Hy het hom na die top van die berg Horeb geneem en vir hom ‘n geïllustreerde preek gegee.

“En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die HERE. En kyk, die HERE het verbygegaan, terwyl ’n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die HERE uit; in die wind was die HERE nie. En ná die wind ’n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie. En ná die aardbewing ’n vuur; in die vuur was die HERE nie. En ná die vuur die gesuis van ’n sagte koelte. En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom ’n stem na hom wat sê: Wat maak jy hier, Elía?” (1 Konings 19:11-13).

Toe daardie wind begin huil het, dink ek, het Elía gedink, “Dit is omtrent tyd, Here. Blaas Isébel van haar troon af – gooi haar en haar sondaar vriende vir die winde. Blaas hulle almal weg! Toon u krag!” Maar God was nie in die wind nie!

Skielik, was daar ‘n groot aardbewing – en Elía het gesê, “Dit behoort hulle goed te laat skrik! God sal hulle terugkry. Hy sal hulle uit hulle skoene laat sidder! Dankie, Here. U verdedig U dienskneg.” Maar God was nie in die aardbewing nie!

Na die aardbewing, ‘n vuur! Die hemele het gegloei met witwarm vlamme! Elía het in sy hart gesê, “Here, hulle het nie die vuur, wat op die altaar geval het, aanvaar nie – brand hulle uit! Brand goddelose Agab! Braai Isébel. Laat U vuur die goddelose verbrand. God, ek weet U is in hierdie vuur!” Maar God was nie in die vuur nie!

“En ná die vuur die gesuis van ’n sagte koelte” (1 Konings 19:12).

Kan jy jou indink wat volgende gebeur het? ‘n Profeet wat nie bang was vir ‘n orkaan nie, wat glad nie geskrik het vir ‘n aardbewing nie, wat nie ‘n oog verroer het vir hemelse vuurwerke nie – is doodbang vir die gesuis van ‘n sagte koelte. “En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai” (1 Konings 19:13).

Elía het sy kop met sy jas toegemaak! Waarom? Het hierdie profeet nie talle kere met God gepraat nie? Was hy nie sewe keer na die troon op die berg Karmel nie? Wat hy nie ‘n groot man van gebed nie? Het God hom nie magtig aangewend nie? Ja! Maar Elía was ‘n vreemdeling vir die geruis van ‘n sagte koelte – ‘n rustige, sagte stem!

En toe Elía uiteindelik toegelaat het dat daardie stem praat – alleen, stil, weg van al die magsvertoon – het hy die mees spesifieke leiding ooit in sy hele bediening aan God gekry.

“Gaan terug op jou pad na die woestyn van Damaskus, en gaan heen en salf Hásael as koning oor Aram. En Jehu, die seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel; en Elísa, die seun van Safat, uit Abel-Mehóla, moet jy salf as profeet in jou plek” (1 Konings 19:15,16).

Hoeveel besige, besige kinders van God vandag het nog nooit die sagte, rustige stem na hulle laat kom nie? Hulle is so besig om te getuig – gaan rond en doen goed – bid vir geestelike ontwaking in die land – vas – so intens – so opreg – so toegewyd.

Iets wat nog is beter as Pinkster

Johannes die Doper het dit nooit tot by Pinkster gemaak nie! Hy het geen van die verdelende tonge van vuur gesien nie. Hy het nie die magtige rukwind gehoor nie. Hy het nie beleef hoe Jerusalem geskud en menigtes bekeer word nie. Maar Johannes het gesê sy blydskap was vervul! Hy het iets beter gehoor as die rukwind – beter as goeie berigte – beter as die klanke van ‘n vreugdevolle bruid. Hy het die Saligmaker se stem gehoor.

“Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome” (Johannes 3:29).

Johannes het van die grootste blydskap gesmaak wat ‘n volgeling van Jesus kan ken. Hy het gesê, “Ek het stilgestaan en Hom met my hoor praat. Sy stem het my hart laat opspring.  Hy het persoonlik met my gepraat. Ek het na my Here geluister. En dit is my blydskap. Net om Sy stem te hoor.”

Johannes kon sê, “O, ja, het Hom liefgehad. Ek het by Sy voete aanbid. Ek het vir Hom gesê hoe onwaardig ek was. My blydskap is in wat Hy vir my gesê het. Hy het met my gepraat. Ek het Sy stem gehoor, en ek het gejuig, slegs in die geluid van daardie stem.”

Sommige mense leer dat die Here nie meer met mense praat nie – behalwe deur die geopenbaarde Woord. Hulle kan nie glo dat mense gelei en geseën kan word deur vandag daardie sagte stem te hoor nie.

Jesus het gesê, “My skape luister na My stem; hulle hoor wanneer Ek roep...Hulle sal nooit na ’n vreemde luister nie...” Maar, deesdae is ons bang vir al die misbruik, bang dit sal lei tot openbarings in teenstelling met die Woord van God in die Skrifte. Maar, al die misbruike is nie God se skuld nie. Elke valse visie, vals profesie, vals leiding, is ‘n direkte gevolg van ‘n mens se eie hoogmoed en eiewil. Mense misbruik elke gawe van God. Nietemin, die Here praat steeds direk met die harte van diegene wat gewillig is om te luister.

“Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Hebreërs 1:1).

“Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie” (Hebreërs 3:7,8).

Ons kan vandag Sy stem hoor

Miljoene word bekeer omdat een mens gewag het om Sy stem te hoor. Saulus het “geval op die grond en ‘n stem gehoor.” En toe hy Paulus geword het, het hy aangehou om daardie stem te hoor. Die Here het man-tot-man met hom gepraat. Hy het sy Herder se stem geken.

Petrus het toegelaat dat die Saligmaker se stem na hom gekom het.

“En die volgende dag...het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid” (Handelinge 10:9).

Die hele heidense ras was in die koninkryk verwelkom, saam met die huis van Cornelius, omdat ‘n man gehoorsaam was aan ‘n stem. Ons leef in dieselfde Nuwe Testamentiese tye as Paulus en Petrus. Ons moet ook toelaat dat Sy stem na ons toe kom. “Maar vandag as julle sy stem hoor...” Wat sou God nie kon doen met Christene wat leer om uit die Hemel te hoor nie!

In plaas van om te wag vir Sy stem om na ons te kom, hardloop ons na beraders, na Christelike sielkundiges; ons hardloop van een sessie na ‘n ander, lees boeke, luister na bandopnames – wagtend om van God te hoor. Ons wil ‘n duidelike woord van leiding vir ons lewens hê! Ons soek herders om ons te lei in al ons bewegings. Ons wil herders hê om vir ons te vertel wat reg en verkeerd is. Ons wil ‘n leier, ‘n diagram vir die toekoms volg. Maar min weet hoe om na die Here te gaan en Sy stem te hoor. Daar is baie wat weet hoe om God se aandag te kry – om God werklik aan te raak, maar hulle beleef nie dat God hulle aanraak nie.

“Wie ore het om te hoor, laat hom hoor” (Matthéüs 11:15).

God wil weereens die aarde laat bewe. Die hele heelal is gereed vir Heilige Gees konvulsies!

“Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ’n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek. Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe” (Hebreërs 12:25,26).

Hy het belowe, “Weereens sal My stem gehoor word. Diegene wat dit hoor, sal die aarde laat bewe. Hemel en aarde sal beweeg word. Deur My stem te hoor, sal dit wat ook al op die aarde ontbind word, in die hemel ontbind word.”

Teenoor die laaste kerk, die Laodicensiese kerk, roep die Here uit,

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” (Openbaring 3:20).

Dit is die laaste oproep van Christus tot die kerk. Daar sal ‘n gees van louwarmheid kom. Luuksheid sal lei tot louwarmheid! Menigtes sal koud word. Maar my volk, “Ek vra om gehoor te word. Maak oop. Laat My in jou binnekamer inkom. Laat My met jou praat en jy met My praat. Laat ons gesels. Dit is hoe Ek jou sal bewaar van die uur van versoeking wat oor die hele wêreld kom.”

Johannes, in sy openbaring, praat van ‘n dag waarop ons Here se hart nie meer eensaam sal wees nie.

“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is... en God self sal by hulle wees as hulle God... Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet” (Openbaring 21:3-6).

Dit beteken vrye en volle kommunikasie met geen middelmuur van skeiding nie; geen donkerbrille; geen ten dele kennis nie; maar van aangesig tot aangesig gesprek! Ons dink aan hoe heerlik dit sal wees om ‘n ewigheid deur te bring om ons Here te prys van aangesig tot aangesig, en om voor Sy knie te buig. Maar het jy al ooit probeer besef wat daardie groot tuiskoms vir ons Saligmaker sal beteken? Al die kinders by die huis – vry om Sy hele wese te deel. Hy sal ons almal laat gaan sit en uit Sy diepste wese sal strome van glorieryke waarheid vloei. Soos Hy op die pad na Émmaüs gedoen het, sal ons Verlosser by Moses begin en ons deur al die profete neem. Hy sal die geheime van die heelal met ons deel. Hy sal elke plan ontvou. Elke wolk van duisternis sal verdryf word. Christus sal deel vir ‘n ewigheid!

Ek sien die ware blydskap van die Hemel, nie net ons s’n nie, maar Syne. Ons blydskap sal wees as ons Sy blydskap sien wanneer Hy met ons praat – om van aangesig-tot-aangesig met ons te praat. Ons grootste blydskap in die Hemel sal wees om Christus vervul te sien – om Sy behoefte volkome vervul te sien.

Download PDF