Die Gemeenskap aan Sy Lyde | World Challenge

Die Gemeenskap aan Sy Lyde

David WilkersonJuly 1, 1983

“Sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Filippense 3:10).

Gemeenskap is die eenheid van vriende wat soortgelyke belange of probleme deel. Om te ly is om pyn of angs te voel.

Paulus het gesmag daarna om die pyn en angs te deel wat Christus beleef het. Het hy nie genoeg lyding in sy eie lewe gehad nie? Het hy nie die hartseer en sorge van al die kerke swaar op sy hart gehad nie? Tog het hy steeds gebid – “O, dat ek mag weet hoe om Christus se pyn en lyde te deel.”

Kort na Paulus se bekering, het Ananías ‘n woord van die Here aan hom meegedeel, “Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Handelinge 9:16). Dit sou meer wees as die persoonlike angs van skande, verwerping, vervolging en swaarkry. Hy sou ly as gevolg van skipbreuk, stenigings, slae en verdrukking van liggaam en siel. Hy sou met blydskap die verlies van alles ly. In triomf oor al hierdie persoonlike lyding, sou hy verkondig,

“Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Romeine 8:18).

Paulus het gely soos min ander mense gely het. Hy het dit egter steeds as niks beskou in vergelyking met die lyding van Jesus Christus, sy Here. Ook Petrus het gepraat van beide ‘n getuienis vir en ‘n deelgenoot van Christus se lyding:

“...Ek wat ‘n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is...” (1 Petrus 5:1).

“Maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees...” (1 Petrus 4:13).

Wie in hierdie dag en eeu smag daarna om gemeenskap te hê in die lyde van Christus?

Die kerk fokus nou inwaarts en spandeer die meeste van sy geestelike energie op die pyn, lyding en hartseer van sy lede. In amper alle gemeenskappe, is daar talle intieme gebedsgroepe wat met deernis uitreik om gemeenskap te hê in die hartseer of lyding van naastes. Ons het die gemeenskap van ons broeders se lyding binnegegaan.

Dit is alles prysenswaardig. Dit is waar dat wanneer een lid ly, ly ons almal. Ek sien niks verkeerd met Christene wat saamkom om hulle hartseer te deel en om mekaar se laste te verlig nie. Dit is absoluut Skriftuurlik.

Die probleem is – ons word selfsugtig verteer met ons eie hartseer en die hartseer van ander lydende broers en susters. Dit het ons met min of geen tyd gelaat om aan Christus se lyding te dink nie – nog minder daaraan gemeenskap te hê.

Ek is ‘n bietjie skaam as ek terugkyk oor die afgelope 25 jaar van my prediking. Ek het so baie preke gepreek oor menslike lyding en so min oor Christus se lyding. Ek het geween oor die hartseer van menigtes en nooit ‘n traan gestort oor Christus se pyn en angs nie. Ek het die pyn geken van mense van alle klasse van die samelewing, maar ek het niks van Sy lyding geken nie.

Kyk rondom ons en sien of dit nie dieselfde probleem is met amper die hele Christendom vandag nie. Gaan na enige boekwinkel en tel die aantal boeke wat handel oor menslike hartseer – soos depressie, vrees, verwerping, egskeiding, hertrouery, eensaamheid ens. Woon amper enige seminaar of veldtog by en jy sal baie insig kry hoor oor hoe om persoonlike pyn en angs te hanteer. Hoe min word daar egter geskryf of onderrig oor gemeenskap te hê aan die lyde van Jesus Christus, die Here.

Ek keur dit nie af nie. Ons het almal al die hulp nodig wat ons kan kry. Maar, ons moet desperaat saam met Paulus bid dat ons Christus se lyde kan verstaan en daarmee gemeenskap kan hê. Mag God ons help om ons oë van onsself en ons eie hartseer af te haal en daarop te fokus om gemeenskap te hê aan Sy lyde.

Die lyde van Christus word nie gevind in Sy menslike liggaam nie – dit is geestelik!

Ons raak sentimenteel oor Christus se menslike pyn op Gólgota. Ons word diep getref deur die pyn wat Hy gely het deur die doringkroon, die ingeslane spykers, die deurborende spies, die spottende skares, die koggelende soldate.

Maar kan jy nooit Sy lyding binnegaan as jy net só diep gaan nie. Dit is soveel dieper as dit! Paulus het ook geweet wat dit was om geslaan, bespot, en gegésel te word. Paulus het gebloei. Hy was ook verag en verwerp deur die mense. As jy ‘n menslike skaal gebruik, kon hierdie apostel amper die Saligmaker se fisieke pyn en lyding geëwenaar het.

Dit was ook nie kosmiese lyding wat Paulus begeer het om met Christus te deel nie. Niemand kan gemeenskap hê met Christus se goddelike, universele lyding nie. Hy alleen het op Homself die sondes van die hele wêreld geneem. Hy alleen was verbrysel vir ons oortredinge. Die pyn van Sy verlossingsdaad was uniek Syne.

Die lyding van Christus waarmee Paulus en kan ons gemeenskap kan hê, het te doen met die geestelike lyding wat Hy verduur het terwyl in die menslike vorm was. Hy het baie meer in Sy gees gely, vóór die Kruis. Dit het te doen met ‘n afvallige kerk, ongelowige geliefdes en wat dit Hom gekos het om van die aarde terug te keer na die hemel.

Ek is seker geen mens kan al Sy lyde volkome verstaan nie en my uitkyk is sekerlik baie beperk. Maar ek is gely deur die Gees om gemeenskap te hê met drie besondere aspekte van Sy lyde. Die grootste deel daarvan kan gevind word in die boek Johannes.

I.Christus het swaar gely by die aanskoue van Sy huis wat verander is in ‘n rowerspelonk.

Jesus het na Jerusalem gegaan tydens Pasga en die tempel binnegegaan. Wat Hy daar gesien het, het Hom gewalg. Handelaars het die huis van God oorgeneem! Hy het ‘n huis van gebed kom soek; wat Hy daar teëgekom het, was ‘n totale beheptheid met die adverteer, vertoon en verkope van godsdienstige handelsware. Die godsdienstige leiers het hulle winste bereken. God se kinders het nie die Woord gelees of bestudeer nie – hulle was te besig om godsdienstige artikels te verkoop. Watter besig-wees! Hoe hierdie godsdienstige bestuurders rondgehardloop en gedink het hulle doen die werk van God. Manne van God het smouse van godsdienstige handelsware geword.

Tafels was oral opgestel in God se huis om osse, duiwe, lekkernye, wierook en verskeie ander handelsware vir godsdienstige doeleindes te adverteer en te verkoop. Die kasregister het die hardste geluid gemaak in die huis. Geld was gemaak op God en godsdiens.

Praat van lyding? Watter verskriklike pyn het ons Here gely by die aanskoue daarvan dat dit versoorsaak het dat Sy deernisvolle hart oorgekook het met heilige woede. Sy sagmoedige gees het gewoed met regverdige verontwaardiging.

Kan jy jou daardie oomblik voorstel? Met ‘n sweep in die hand, storm ons Here in die tempel in en begin in alle rigtings te slaan, terwyl Hy die tafels, volgepak met handelsware, omgooi. Hy het die bestuurders, die handelaars, die smouse laat spaander.

“Uit,” het Hy gebulder, “uit my Vader se huis uit! Julle het hierdie heilige plek ontheilig en hierdie huis van gebed verander in ‘n kommersiële onderneming!”

Nêrens anders in die hele Skrif sal jy so ‘n uitbarsting van die Meester sien nie! Dit was een van die pynlikste, lydende belewenisse in Sy hele bediening. Hy kon nie staan en kyk hoe Sy Vader se huis ‘n rowerspelonk vir godsdienstige boewe word nie.

Is ons vandag gewillig om gemeenskap te hê met Christus in hierdie aspek van Sy lyding? Deel ons Sy hartseer om te sien dat God se huis weereens oorgegee is aan die handelaars? Sal ons woedend wees oor die verskriklike kommersialisering van die evangelie? Sal ons Sy woede teen geestelike smouse genoeg wees om te onttrek van alle soortgelyke aktiwiteite? Voel ons Sy hartseer genoeg om alle bedienings te verwerp wat handelsware verkoop net vir die doel om geld te maak?

Kan ons Sy lyding by hierdie punt genoeg deel om te staan teen diegene wat God se huis sou verander in ‘n teater of vermaaksentrum vir adverteerders? Kan ons ween oor al die winsbejag in die Naam van Jesus? Kan ons ons oë afhaal van die kontant en terugplaas by die Kruis?

Petrus het gewaarsku oor die koms van die valse profete wat onder ons sal insluip en weens hebsug, “met verdigte woorde voordeel uit julle trek...” (2 Petrus 2:3). Met ander woorde, hierdie mense sal kom met verkoopsfoefies – terwyl hulle niks anders sien as dollar tekens nie. Hulle sal die Naam van Jesus op enigiets sit om jou geld te kry om hulleself te verryk. Hierdie handelaars moet ophou preek en in besigheid ingaan.

Hoe moet die hemele woed teen al die koop en verkoop van hedendaagse Jesus handelsware. Hoe moet dit ons Here bedroef om sulke evangeliste te sien wat meer begaan is oor plaat, bandopname en boekverkope, as om die verlore mensdom te bereik. Watter klein fortuintjies word gemaak deur die bevordering en verkoop van godsdienstige handelsware in kerkkringe. Ons het baie meer gedoen as Kersfees kommersialiseer – ons het die einste Godheid gekommersialiseer!

God gee vir ons ‘n boodskap, ‘n talent, ‘n gawe – en ons verpak en verkoop dit! Ons ontvang verniet; ons verkoop ten duurste. Ons is bang om God te vertrou om ons bedienings te ondersteun en dus ontwikkel ons ‘n besigheid op die sylyn uit wat God verniet vir ons gegee het. Ons inkorporeer ons talente om ‘n wins te maak. Is daar geen evangeliste of bedienings in die wêreld oor met niks om te bevorder behalwe Jesus Christus nie?

Die saak gaan verder as die verkoop van godsdienstige handelsware in God se huis. Dit sluit in alle sekulêre bevordering van die dinge van God. Die gemiddelde Christen behoort geskok te wees as hy geweet het hoeveel gewilde bedienings bevorder word deur sekulêre agentskappe wat die man en sy boodskap “verkoop.” Hulle verpak en verkoop die evangelie soos seep en graanvlokkies. Die gevolg is oulike liedjies en preke met groot bohaai en min lewe.

Net hierdie week het ek ‘n formele kennisgewing gekry dat ‘n seker bediening ‘n Madison Avenue ‘n publieke verhoudingsman gekry het om hulle te bevorder. Hulle het gevoel hulle het meer blootstelling en ‘n beter publieke beeld nodig om hulle begroting te laat klop. Die profete van God word vervang deur PA mense!

Ek wil niks te doen hê met die professionele smouse en promotors nie. Hulle het geen reg om die gesalfde dinge van God aan te raak nie. Hulle bring manne van God in die gedrang, hulle beroof hulle van hulle salwing en vervang dit met ‘n gladde, lewelose professionalisme. Hulle neem magtige manne van God en verander hulle in trotse beroemdes wat reputasies opgebou het deur die evangelie. Hulle neem geestelike, nederige singende groepe, klee hulle in paillet-baadjies, herskryf hulle liedere sodat niemand sal aanstoot neem nie en probeer om so professioneel te wees dat hulle die sekulêre trefferlyste kan bereik. Ek sien singende groepe oral verlei word, God se salwing verloor en net nog ‘n lewelose groep word.

Nie net sal God nie hierdie hedendaagse neiging tot sekulêre professionalisme seën nie, maar Hy sal daarteen uitbulder en dit uit Sy teenwoordigheid dryf! Die hemel het dit nie verdra in die tempel by Jerusalem nie en dit sal dit nie verdra in hierdie laaste dae nie. Die dae van die handelaars in God se huis is getel.

II.Christus ly wanneer diegene wat Hy die meeste liefhet, die meeste sy belangstelling en sy mag in twyfel trek!

Jesus het Lasarus liefgehad. Hy het ook sy twee susters, Marta en Maria, baie liefgehad. Hulle huis was ‘n oase vir die Meester. Ons weet Lasarus en sy family het Jesus liefgehad, maar die Skrif is lê klem daarop om Christus se liefde vir hulle uit te wys:

“Hy vir wie U liefhet, is siek...” (Johannes 11:3).

Toe Jesus dit gehoor het, het Hy vir hulle ‘n boodskap gestuur:

“Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word...” (Johannes 11:4).

Jesus het geweet dat Sy Vader bedoel het dat hierdie wonderwerk onder Sy mees geliefde vriende, Hom sou verheerlik en hopelik, aan hulle vertroue en geloof sou gee! Maar wat ‘n belewenis van diepe lyding het dit uitgedraai vir Jesus. Die dissipels het in Hom getwyfel. Maria en Martha het in Hom getwyfel. Net so ook die bedroefde vriende van Lasarus.

Het Maria geweet hoe diep sy Hom seergemaak het toe sy Hom beskuldig het dat Hy te besig en belangeloos oor hulle probleem was?

“...Here, as U net die moeite gedoen het om betyds hier te wees – dit is nou te laat...die skade is gedoen.”

Het Martha geweet hoe dit haar Meester seergemaak het toe sy Sy opstandingskrag in twyfel getrek het? Hy het prontuit vir haar gesê, “Jou broer sal opstaan.” Maar Sy woord was nie genoeg nie: “O, ja, op die opstandingsdag sal hy opstaan – maar wat van nou?”

Hoe pynlik moes dit vir Christus gewees het om Sy dierbaarste vriende te sien twyfel dat Hy al die krag gehad het wat hulle nodig gehad het. “Weet julle nie wie Ek is nie?” is wat die Here waarskynlik gesê het.

“Ek is die opstanding en die lewe...glo in My. Ek het die krag, die lewe...”

Ek dink nie ons weet hoe diep die pyn vir Hom was op daardie oomblik nie. Sy eie dissipels kon nie die konsep begryp van wie Hy was nie. Dit was erg genoeg dat Sy eie volk se mense Hom nie geken het nie, maar diegene wat Hy hartlik liefgehad het – hoe kon hulle nie Sy krag herken nie? Kon Hy vir Homself gesê het, “Nie eens my dierbaarste vriende glo nie – wie sal dan ooit glo?”

Dit is die ignorering van Sy krag wat soveel pyn en angs veroorsaak vir ons Here! As ons, Sy dierbaarste vriende, nie Sy krag en getrouheid sal vertrou nie – wie sal ooit? Ons noem Hom vriend, Here – maar ons leef nie ons lewens asof Hy die krag het wat nodig is om ons triomferend en met blydskap te lewe nie.

In onlangse weke, het die Heilige Gees my herhaaldelik gevra, “Is Hy werklik Here? Is Hy werklik Here vir jou?” Ek getuig teenoor ander dat Hy Here is! Ek sê vir myself dat Hy is! Maar daar is tye wat Ek Hom soveel hartseer moet veroorsaak omdat ek Hom betwyfel in die tye van nood en krisis.

As Hy Here is, waarom lewe ons met soveel vrees? Waarom maak siekte en dood ons bang? Waarom lewe ons so neerslagtig, so leeg, so droog – as ons Skepper Here alle mag en alle wysheid het! Geen wonder nie Jesus het geween!

Laat my jou vertel wat werklik die hart van ons Here tevrede stel. Dit is die kind van Hom wat volkome rus in Sy liefde, Sy krag, en Sy wysheid. Dit is die kind wat kan sê, “Ek weet Hy het al die mag, Hy kan genees en red op die manier wat Hy verkies – maar Hy is ook alle wysheid en ek sal volkome vertrou, selfs as ek nie Sy werkinge verstaan nie.”

Die kerk is vol mense wat glo in Sy krag. Dit is al wat hulle ken; dit is al wat hulle wil hê. O, hoe vertrou hulle wanneer hulle wonderwerke en seëninge beleef. Maar laat God in Sy wysheid ‘n geliefde wegneem na Homself en dieselfde kragmense sal of kla, of hulle gaan in ‘n stertspin van vrees en ongeloof. Op die ou end, beskuldig hulle God van onregverdigheid of onbetrokkendheid.

Ek glo in wonderwerke! Ek glo in genesing! Hy kan kanker of enige ander siekte genees. Ek glo my groot God het ‘n magtige arm wat gesag het oor die hele heelal, die hele natuur en alle koninkryke van duisternis. Maar ek vertrou Hom glad nie as ek nie kan glo dat Hy sal doen wat reg is nie – deur goeie en slegte tye, deur siekte en gesondheid, deur lewe of dood. Ek weier om druk op God te plaas – ek verkies om te rus in Sy krag, barmhartigheid en wysheid.

Ek het gemeenskap in Christus se lyde wanneer ek treur oor Christene wat glo dat God slegs verheerlik kan word met wonderwerke, tekens en wonders. Jesus self het gesê, “Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God...” Nie net die opstanding uit die dode, maar die siekte ook. Sommige Christene deins weg by die gedagte daaraan dat God verheerlik kan word uit enige siekte. Maar ek sal ‘n stap verder gaan en sê dat God selfs verheerlik kan word uit die dood van Sy heiliges, soos Hy gedoen het met die lyding en dood van Sy eie Seun. Ek herhaal my konsep dat die dood in Christus die uiteindelike genesing is.

Dit is nie twyfel om te rus in die wysheid van God om ons gebede en selfs ons geloof te weier nie. Job kon sê, nadat hy geen uitkoms gesien het nie – “Al wil Hy my ombring – ek vertrou op Hom” (Job 13:15).

Wat Maria en Martha moes gedoen het, was om te rus in Christus se liefde en krag – en vir Hom te sê, “Here, ons weet U is in staat om hom op te wek. Maar, indien nie, moet U bonatuurlike redes hê, ondersteun deur heilige wysheid – so ons aanvaar met blydskap u weë.”

Ek ken ‘n sterwende familie in Ohio wat meer eer aan God bring as die meeste gesonde Christene in daardie staat. Die singende Sigrist familie ly aan ‘n seldsame vorm van kanker. Twee dogters het heengegaan na Christus toe – nog een het dit onder lede. Die vader het ‘n groot gewas in sy maag. Hulle leef op die randjie van die dood. Maar, o, die oorwinning in daardie huishouding! Hulle juig in God se liefde en getrouheid. Koerante het die storie van hulle geloof dwarsdeur die staat verkondig. Hulle het so ‘n groot geloof in Christus se genesende krag – maar ook ‘n volkome vertroue in Sy wysheid en liefde. Hulle rus in God en verkies Sy wil bo hul eie.

Mense hoor hulle storie en sê, “Dit is die soort geloof wat ek wil hê! Dit is die soort God wat ek wil dien. Een wat soveel vrede en rus kan gee in die aangesig van die dood self. ‘n God wat jou daarvan bewaar om in duie te stort tydens ‘n krisis.”

“Salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het...” (Johannes 20:29).

Ek glo God kan verheerlik word uit enige en alle situasies. Hy het nie ‘n wonderwerk nodig om Hom te verheerlik nie. Hy kan selfs die toorn van mense Hom laat prys. Die soetste genade van alles is dit wat Christus gee aan diegene wat deur die vallei en die skadu van die dood gelei word. Hulle is diegene wat die heerlikheid van Sy vertroosting en die lieflikheid van Sy rus ken. Hulle het die dood in die oë gekyk maar was glad nie bekommerd nie. Selfs pyn en siekte kan die mees glorieryke openbaring van die werklike teenwoordigheid van Jesus voortbring. Hy verander ons hele slaapplek tydens siekte (sien Ps 41:3). Ons familie kan ook daarvan getuig. Deur Job-agtige beproewings, het Christus Homself geopenbaar op maniere groter as die heerlikheid van wonderwerke. Ons het bonatuurlike troos, genade en rus bespreek.

III.Christus het gely toe Hy dit prysgegee het wat vir Hom die kosbaarste was op aarde!

Kon Jesus Lasarus, Maria en Martha liefgehad het en nie Sy eie moeder innig liefhê nie? Het Hy Sy dissipels meer liefgehad as sy moeder? Ek kan dit nie glo nie.

In Sy aardse vorm, was Hy “Die seun van Maria.” Daardie een reël opsigself sê vir ons iets van God se liefdevolle gesindheid teenoor hierdie geseënde vrou. Hy was die vrug van haar baarmoeder. Sy het Hom gekoester as ‘n baba. Sy het Hom geleer. Sy was soos enige ander liefdevolle, sorgsame moeder wat ‘n innige verhouding met haar kind gehad het. Hoe bekommerd was sy toe Hy verlore was in Jerusalem. Hoe bedroef was sy toe bure en vriende teen haar dierbare seun gepraat het. Sy moes geween het oor hulle laster, die leuens, die beskuldigings. En wie het haar pyn geken aan die voet van die Kruis. Sy het geweet Hy was God in die vlees – maar Hy was ook haar dierbare, geliefde seun.

As Christus versoek was op alle punte soos ons, dan het Hy sekerlik diep gely toe Hy Sy aardse verhouding met Sy geliefde moeder prysgegee het. Wat ‘n roerende menslike toneel in Johannes 19:

“En by die kruis van Jesus het gestaan sy moeder en sy moeder se suster... en Maria Magdaléna...En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haa rin sy huis geneem...” (Johannes 19:25-27).

In Sy heel laaste uur, het Hy gedink aan Sy moeder. Blykbaar was Josef, Sy vader, dood – en Jesus wou haar agterlaat in die liefdevolle sorg van een wat Hy vertrou het. Johannes, het op dieselfde dag, Maria in sy huis ingeneem om haar voorsiener en beskermer te wees.

Dit is so maklik om oor daardie sewe klein woordjies te lees en hulle betekenis mis te loop: “Vrou, dáár is u seun...Dáár is jou moeder!” Jesus het haar op daardie oomblik prysgegee! Hy sou nou nie meer die seun van Maria wees nie, maar haar Here en Saligmaker. Hy het teruggegaan na Sy hemelse Vader met groot blydskap en verwagting, maar Hy het die heerlikheid van menslike liefde geken – van ‘n seun vir sy moeder.

Hoe moeilik moes dit gewees het, menslik gesproke, om in wese te sê – “Vrou, ek is nie langer joune nie. Johannes is nou jou seun. Ek moet jou nou prysgee en jou vir iemand anders gee. ‘n Ander moet my plek inneem in jou daaglikse lewe.

Dit is nie dat Christus in die menslike vorm wou bly nie. Sy werk op aarde was klaar. Verlossing was amper voltooi. Maar Hy het die lyding gedeel van iemand prysgee wat die kosbaarste in sy lewe was.

Ons deel ook in die pyn en angs van iets prysgee wat die kosbaarste vir ons is. Op hierdie oomblik, êrens, moet goddelike heiliges hulle kosbaarste geliefdes aan die dood prysgee. Watter soete lyding om totsiens te sê! Wat ‘n voortslepende pyn as ‘n geliefde van die aardse na die ewige oorgaan. Christus het daardie pyn gevoel, en jy kan seker wees dat wanneer jy geroep word om daardie offer te bring, sal Hy jou al die genade gee om dit te kan hanteer.

Ek is so bly Hy het saam met ons gely op so ‘n persoonlike, intieme manier. Ek kan myself dalk nie indink die pyn van die ingeslane spykers en die verpletterende hou van die spies nie – maar ek kan my indink die pyn wat Hy gevoel het toe Hy Sy moeder moes oorgee aan ‘n ander. Ons moet almal eendag deur daardie spesifieke pyn gaan. Wat ‘n lieflike, liefdevolle Saligmaker wat ons hartseer aangaande hierdie punt gevoel het.

Die Weg van die Kruis is oorgawe van alles wat vir ons dierbaar is in hierdie lewe!

My vrou en ek het die eensame pyn gevoel van al vier ons kinders prysgee aan die strate – as evangeliste vir die verlorenes. Hoe hartseer was ons toe die laaste een ons verlaat het. Daar was so ‘n leë gevoel. Die huis was doodstil. Ons het heelnag gehuil. Maar dank God, ons het hulle prysgegee vir God se werk. Ons het die gemeenskap van Christus se lyde geken. En Sy blydskap en vertroosting oorstroom ons nou elke oomblik waartydens ons wakker is.

Ek het ‘n vennoot wat ‘n pastorale bediening moes prysgee weens ‘n breingewas. Daardie werk was vir hom kosbaar. Maar met daardie oorgawe het hy met rasse skrede gegroei – tot geestelike hoogtes wat hy nooit sou kon bereik as hy nie die gemeenskap van Christus se lyde geken het nie.

Dit moet uiteindelik lei tot die volgende – watter lyding dit ook al verg, ons moet alles prysgee wat ons daarvan weerhou om die volmaakte wil van God te doen!

  • Dit beteken om by ‘n plek te kom waar Christus alleen genoeg is...waar Hy alles is, selfs meer as die lewe self.
  • Dit beteken om Christus lief te hê bo alle ander menslike liefde. Meer as familie! Meer as man, vrou, kinders, broer of suster.
  • Om hulle almal lief te hê, maar hulle innerlik prys te gee vir Hom as ‘n offer vir jou groot liefde vir die Here Jesus Christus.
  • Doen dit, en jy sal deurbreek tot die heerlikheid van Sy opstandingskrag en sal aan Sy dood gelykvormig word.
Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE