Die Genoegsaamheid van Christus | World Challenge

Die Genoegsaamheid van Christus

David WilkersonJuly 23, 2012

“Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen” (Hebreërs 2:17).

Ek het altyd oor een gedeelte in hierdie vers gewonder: “...moes Hy...” Hierdie vers verwys natuurlik na Jesus. Waarom moes Jesus enigiets doen? Hy is God. Ons lees van Hom dat Hy gekies het om aarde toe te kom, gekies het om te genees en almal rondom Hom lief te hê. So, waarom sê die Skrif dat Hy moes doen wat Hy gedoen het — dat Hy vlees geword het en gedien het as ‘n lewende offer vir ons sonde? Kon Hy nie maar net so maklik uit die hemel verklaar het, “Ek sal die engele stuur om verlossing na die mensdom te bring” nie? Dit is een van die min kere in die Skrif waar die Here betrokke is in ‘n beveelde werk. Waarom?

Om te verstaan waarom Jesus “in alle opsigte aan sy broeders gelyk moes word,” moet ons eerstens die Nuwe Verbond verstaan.

Ons almal weet dat ons sonde deur Christus se gawe van genade onder die Nuwe Verbond bedek is. So, wat is ‘n verbond? Dit is ‘n ooreenkoms tussen twee of meer partye waar van elkeen verwag word om sekere terme na te kom. Daar is allerhande verbonde, insluitende ‘n huweliksverbond, waar twee mense een entiteit word. Wettige kontrakte is verbonde vir besighede, wanneer, by voorbeeld, twee eienaars hulle belange verenig sodat beide partye voordeel trek. Vredesverbonde tussen nasies is verbonde waar lande wat in ‘n oorlog met mekaar betrokke is, ooreenkom om vyandighede te staak en op een of ander manier mekaar te bevoordeel.

Reg deur die Bybel sien ons dat God verbonde met sy volk gesluit het. In elke geval het Hy gesê, “Dit is wat Ek van my kant af sal doen. As jy jou kant hou, sal daar seëninge en voordele na jou toe kom.” God het altyd sy kant van hierdie verbonde gehou. Die mens was egter nooit in staat om dit te doen nie. Hulle misluk voortdurend om hulle kant van elke verbond na te kom.”

Die eerste verbond wat God gemaak het, was met Adam, wat dit gebreek het toe hy deur die Satan verlei is. Noag het ook deel gehad in God se verbond toe God belowe het dat Hy nooit weer die aarde deur water sou vernietig nie. Dadelik na die vloed, het Noag dronk geword en die verbond verbreek, wat van toepassing sou wees net as God se wet onderhou sou word. Selfs vandag, kan geen Christen op hierdie patroon verbeter nie. Nie een van ons is in staat om ‘n verbond met God te hou nie, maak nie saak hoe goed ons bedoel nie. Ons harte is geneig om terug te val en van Sy weë af weg te gaan om ons eie kop te volg.

Die Here het geweet dit sou gebeur. En van die heel begin af het Hy planne gemaak om ‘n volmaakte verbond in plek te stel wat nie verbreek kon word nie. Hy sou ‘n verbond vasstel soos nog nooit tevore nie, een met ‘n unieke voorsiening: ‘n versekering dat nie een party ooit die verbond sou kon breek nie.

Laat my dit uitwys dat God nooit nodig gehad het om ‘n verbond te maak om ons lief te hê nie. Sy natuur is liefde. Om Hom te vra om ons lief te hê, sou wees soos om vir ‘n put vir water te vra, “Water, belowe my dat jy water sal wees. Belowe dat as ek van jou drink, my dors geles sal word. Belowe my dat as ek onder jou oppervlak bly, sal ek nie in staat wees om asem te haal nie. Belowe my dat ek op jou oppervlak kan swem.” Dit is dom versoeke omdat dit gegéwes is en alles deel is van die water se basiese eienskappe.

Dieselfde is waar van God. Hy het nie nodig om ons te belowe om ons genadig te wees, ons te vergewe, ons van sonde te reinig en ons met sy geregtigheid toe te reken nie. Hierdie dinge is net wie Hy is. Om ons nie lief te hê nie, sou God sy eie natuur moes verander — en die Skrif sê dat God nie verander nie. Wanneer God dus ‘n verbond met ons sluit, doen Hy ons ‘n guns deur dit in formele taal te plaas. Hy sê, “Jy kan nie my hart of my natuur verstaan nie, so ek sal dit vir jou in ‘n verbond opstel.” Dit sou ons vertel hoe stewig die fondament is wat ons in God se verbond sekerheid het.

Die probleem was nog nooit met God se deel van die verbond nie. Dit was nog altyd met ons deel daarvan. God vertel ons om ons naaste lief te hê, maar ons het nie. Hy vertel ons om Hom met ons hele hart te soek, maar ons doen dit nie. Dit is eenvoudig duidelik, ons is ‘n verbond-brekende mensdom. Hoe het God dit hanteer? Hoe het Hy te werk gegaan om ‘n “beter verbond” te maak soos Hebreërs dit beskryf (Hebreërs 7:22, 8:1, 8:6)? Hoe kon Hy ooit op iets wat nog nooit gewerk het, verbeter?

Hy het dit gedoen deur nie ‘n verbond met die mens te sluit nie, maar met ‘n man — Jesus. Baie Christene dink dat die Nuwe Verbond ‘n eksklusiewe ooreenkoms tussen God en mens is. Dit is egter nie — dit is ‘n verbond tussen die Vader en sy Seun. Christus was die man wat God gekies het om sy verbond mee te maak — nie Adam nie, nie Noag nie, nie ek en jy nie. Ek hou van die frase wat Martin Luther gebruik het om dit te beskryf: Christus was “’n man wat God uitgekies het.” Dit was Jesus Wie God gekies het om na die aarde te stuur, Wie in ons plek sou staan, Wie ons rol in die verbond met die Vader sou neem. En toe Jesus op die aarde gewandel het, het Hy die wet volmaak onderhou. Hy het elke gebod wat God ooit gegee het, gehoorsaam en alles wat die Here van sy volk verwag het, nagekom. As God dit gedoen wou hê, het Jesus dit gedoen — en die Bybel sê dat Hy dit met blydskap gedoen het. Toe die Vader na Sy Seun gekyk het, het Hy gesê, “Jy het die mens se kant van die verbond volmaak geleef. Een man het meriete by My gevind.” Dit is waarom ons in Hebreërs lees, “In sover het Jesus van ‘n beter verbond borg geword” (Hebreërs 7:22). Jesus self is die waarborg dat die verbond gehou word. Elke ander mens sal hierin misluk, maar een man het die verbond volmaak gehou: Jesus. Dit is ons sekuriteit.

Toe Jesus “ons plek geneem het,” was dit meer as net aan die kruis.

Jesus het ons plek geneem toe Hy veroordeel gestaan het vir ons sondes. Hy het egter ook ons plek op ‘n ander manier geneem: as Een wat volmaak in die verbond met God gewandel het. Jesus het as ‘n man geleef wat sondeloos, vlekkeloos en elke heilige gebod gehou het. En deur die wet met volmaakte gehoorsaamheid te vervul, het Hy die verbond voleindig. Dit is ongelooflike nuus.

Daar is egter groter nuus: Jesus het nie die voordele van die verbond vir Homself gehou nie, maar Hy deel dit met almal van ons. Toe Hy voor die Vader gestaan het, het Hy gesê, “Ek het my vriende saamgebring om te deel in die seëninge van U verbond. As hulle voor U staan, staan hulle in My. Daarom is al my geregtigheid ook hulle s’n. Hulle vergifnis word geaktiveer deur ons verbond, Vader.”

Dank God dat Hy nie gekies het om die verbond met ons te sluit nie! Die Man wat egter die verbond volmaak nagekom het, vra ons om saam met Hom in sy verbondsverhouding met die Vader toe te tree. En as ons instem, dan wandel ons in Christus se eie Gees. Dit is wat Jeremia en Esegiël geprofeteer het toe hulle gesê het, “God sal julle ‘n nuwe hart gee, een wat jou in staat sal stel om Sy gebooie te onderhou.”

Sommige Christene word oorweldig met die idee om God se gebooie te gehoorsaam. Hulle dink, “Ek moet my Bybel meer lees, meer bid en meer evangeliseer.” As jy so dink, dan leef jy nie onder die Nuwe Verbond nie — jy leef onder die wet van Moses. En dit is die uiterste ellende omdat jy nooit die wet volmaak kan hou nie. Wanneer jy een deel daarvan breek, dan breek jy dit alles.

Wanneer jy egter na Christus kom, sal die openbaring van God se Nuwe Verbond hopelik ‘n lig van begrip vir jou laat aangaan. Jy het nie nodig om beveel te word om God se aangesig te soek, om die goeie nuus van Christus met jou naaste te deel of, om jou vryheid in die Een wat dit vir jou bewerkstellig het, te ken nie. Sy natuur begin om jou natuur te verander — en jy doen hierdie dinge met ‘n hart vol blydskap.

Dit is die heerlikheid van die Nuwe Verbond. Dit was duidelik op die Berg van Verheerliking, waarheen Jesus drie van sy dissipels geneem het. Die heerlikheid was so groot dat ‘n kykie van die hemel vir ‘n oomblik deur die aardse realm gebreek het. Skielik het die dissipels — Petrus, Jakobus en Johannes — Moses en Elia met Christus sien praat. Petrus was so verbaas dat hy geroep het, “Ons moet drie tabernakels hier bou.” Petrus het met een oogopslag verskeie verbonde van God gesien — in Jesus, in Moses en in die profete.

Maar God die Vader het Moses (die wet) en Elia (die profete) uit Petrus se gesig weggeneem en gesê, “My Seun verpersoonlik die hele wet en die profete, en alles van elke verbond — alles wat die mensdom ooit sal nodig hê. Julle het nou een gebod, Petrus, en dit is om op Christus te fokus. Wanneer jy liefhet soos wat Hy liefhet met my Gees in jou, dan vervul jy die hele wet van Moses en die profete. Die wet is nie die dryfkrag van jou lewe nie — Jesus is.”

Wat ‘n oomblik van openbaring was dit vir Petrus — en vir ons vandag! Om God se wet te vervul is nie die rede waarom ons ons Bybels lees en bid nie. Ons doen dit om ons liefdevolle Vader te ken. Net so word die ganse mensdom se behoeftes heeltemal in Jesus vervul in die Vader se oë. Dit is waarom as God vandag na ons kyk, dan sien Hy nie mense wat sy verbond die hele tyd breek nie. In plaas daarvan, sien Hy die tekens van sy Seun in ons — en daarom sien Hy ons as verbondhouers! Hy sien nie ‘n lys van mislukkings langs ‘n lys van goeie werke, met ‘n reuse verskil tussen hulle nie. Hy sien glad nie ons werke nie. Hy sien net sy Seun in ons. En terwyl Hy dit doen, skenk Hy aan ons al die voordele van sy verbond met die Seun. Alle vergifnis is ons s’n. Alle vrede is ons s’n. Alle aanvaarding is ons s’n. Alle genade is behoort oorvloedig aan ons, ongeag of ons op of af is, misluk of slaag. Sy genade vir ons verander nooit.

Christus het geen hulp van ons nodig met Sy genadewerk nie.

Jy mag wonder, “Het ek nie ‘n deel om te doen in die genadewerk nie?” As jy probeer om iets by Christus se genadewerk te voeg, sal jy dit net opmors. Dit is onmoontlik om by Sy heerlike genade iets by te voeg met ons kleed van ongeregtigheid.  Ons bevat nie genade nie — ons ontvang dit. Ons mag dit uitgee, maar dit is God se genade, nie ons s’n nie.

Dit is wat Hebreërs bedoel wanneer dit sê ons “vertrap” die bloed van Christus wanneer ons iets by God se genade probeer voeg. Ons verdun dit eintlik, en beledig die heerlike werk wat Hy gedoen het. In werklikheid, handel ons op een van twee maniere: (1) Ons laat toe dat God sê dat ons onvoldoende is, en ons aanvaar die totaliteit van sy genade; of (2) ons noem sy genade onvoldoende en probeer ons eie pogings daarby voeg.

Jy mag sê, “Maar as ek dit glo, sal ek nooit enigiets vir God doen nie.” Eintlik is die teenoorgestelde waar. Wanneer jy in die genade van Christus wandel, sal jy meer werke doen as ooit — omdat jy dit met blydskap doen eerder as uit ‘n sin van verpligting. Jy bid omdat jy God se heiligheid liefhet. Jy bestudeer sy Woord nie omdat dit jou te doen lysie van die dag is nie, maar omdat dit jou lewensbron is, jou fontein van vrede, blydskap en leiding.

Eenvoudig gestel, genade bemagtig goddelike aksie. So as jy ongelukkig is in jou wandel met Christus — as jy moeg is en kerk toe gaan omdat jy bang is jy verloor jou redding — dan het jy van die genade verval. Op hierdie oomblik nooi Hy jou terug terwyl Hy vir jou sê, “Kom onder die verbond wat Ek met die Vader het. Ek wil my genade oor jou uitgiet om jou te bemagtig met my Gees deur jou hele lewe.”

Daar is vier noodsaaklikhede van genade vir elke volgeling van Jesus.

  1. Genade het nie hulp nodig nie. Ons kan nie byvoeg by die werk van Christus se genade sonder om dit te verdun of te verminder nie.
  2. Genade is onverdiend. Wanneer ons enige ongeregtigheid in ons lewe raaksien, dink baie van ons dat ons genade moet vul met goeie werke. Nee — Christus se genade teenoor ons is totaal onverdiend, nooit gedeeltelik so nie.
  3. Genade is onveranderlik. God se genade is nie minder van toepassing op die dag wat ons minder bid nie. Dit werk nie so nie. Selfs sy waarskuwings teen sonde is ‘n teken van sy liefdevolle genade.
  4. Genade is oneindig. Nie die Vader of die Seun sal ontrou wees teenoor die verbond wat hulle gemaak het nie. Dit sal tot in ewigheid hou en sal nooit gebreek word nie. So, as ons verborge in Christus bly, bly ons in die verbond met die Vader — en ons is dus veilig en versekerd.

Laat my ook die volgende sê: Ek weet dat die verbond wat die Vader met die Seun gemaak het dieper, sterker en meer verreikend is as wat enige van ons kan begryp. Baie Christene kom nie by sy heerlike genade uit nie, terwyl vrees in hulle lewe heers. Wanneer ons ‘n fout maak, sê ons vir onsself, “Ag nee, ek het die verbond met die Here verbreek.” Niks kan verder van die waarheid wees nie. Dit is Jesus wat in die verbond met die Vader is, nie ons nie!

Dit is die rede waarom Christus ten volle mens moes word, soos ons. Hy vervul die verbond heeltemal namens ons — en Hy nooi ons om deel te hê aan al die voordele. Deur Hom is ons ten volle gereinig, in volle vrede met God en oorvloedig in sy genade. Dit is ons rol om die heerlike geskenk te ontvang – en ons wandel daarin met vreugde!

Download PDF