Die Getuienis van ‘n Onbedekte Gesig | World Challenge

Die Getuienis van ‘n Onbedekte Gesig

David WilkersonNovember 1, 1986

Ons weet die Heilige Gees het gekom om “die wêreld [te] oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel” (Johannes 16:8). Die Puriteine het die Grieks korrek geïnterpreteer deur te dit vertaal as, “As Hy, die Heilige Gees kom, sal Hy demonstrasie gee rakende sonde, geregtigheid en oordeel.”

Hoe sal die Heilige Gees hierdie oortuiging in ‘n Laodicensiese eeu veroorsaak? Hoe sal Hy ‘n wêreld oortuig wat meer en meer verdorwe en chaoties word by die uur? Hoe sal Hy ons onbekeerde geliefdes oortuig, veral as daar so min prediking is wat gesalf is deur die Gees?

Die Heilige Gees gaan hierdie geslag oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel, net soos Hy in die woestyn gedoen het onder die kinders van Israel. Hy neem ‘n dienaar van God, wat heeltemal oorgegee was aan Sy wil – lei hom na ‘n heilige bergtop om van aangesig tot aangesig met hom te praat – bring hom tot intieme gemeenskap en vereniging met Homself – laat hom die heerlikheid en majesteit van die Koning van Konings aanskou – plaas ‘n blink skynsel op daardie dienaar se gesig – neem hom dan terug ondertoe om die louwarm kinders van God in die oë te kyk – en oortuig hulle met Sy eie weerspieëlde heerlikheid.

Deur die heerlikheid van God te aanskou, het Moses se gesig begin blink! “En hy was daar by die HERE veertig dae en veertig nagte; hy het geen brood geëet en geen water gedrink nie...En toe Moses van die berg Sinai afdaal...het Moses nie geweet dat die vel van sy gesig blink omdat hy met Hom gespreek het nie...” (Exodus 34:28,29).

Daardie kinders van God wat afgode in hulle harte gehad het, het bang geword en het veroordeel gevoel in die teenwoordigheid van ‘n dienaar van God wat die heerlikheid van God weerspieël het. “En toe Aäron en al die kinders van Israel Moses sien, het die vel van sy gesig geblink! Daarom was hulle bevrees om naby hom te kom” (Exodus 34:30). Nie Aäron die priester, of enige ander Israeliet kon dit verdra om na sy gesig te kyk nie. Paulus het gesê, “Sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig...” (2 Korinthiërs 3:7). Let wel, die Skrif sê die heerlikheid van sy aangesig – nie net op sy aangesig nie! Dit was uit die hart weerspieël.

Moses moes ‘n sluier oor sy gesig sit om die heerlikheid te verberg; dit was te ontnugterend, te veroordelend vir die kinders van God. “Toe Moses klaar met hulle gepreek het, het hy ‘n sluier oor sy gesig getrek. Maar as Moses voor die aangesig van die HERE kom om met Hom te spreek, neem hy die sluier weg, totdat hy uitgaan. As hy dan uitgaan en aan die kinders van Israel meedeel wat hom beveel is, sien die kinders van Israel dat die vel van Moses se gesig blink; daarop trek Moses dan weer die sluier oor sy gesig, totdat hy ingaan om met Hom te spreek” (Exodus 34:33-35).

Paulus het gesê die sluier was nodig want “hulle sinne is verhard” (2 Korinthiërs 3:1). Een mens, wat uit God se heilige teenwoordigheid gekom het en in homself die heerlikheid van die Here weerspieël het, het hulle sondes veroordeel. Dit was ‘n getuienis teen hulle verdeelde, hardkoppige harte. Dit het hulle oortuig van hulle gebrek aan heiligheid en hulle verlies aan die vrees van God. Dit het hulle herinner hoe ver hulle van die Here se teenwoordigheid afgedwaal het. En dit vir hulle die koudheid van hulle harte getoon.

Ek twyfel dat Josua en Kaleb weggedraai het van Moses se aangesig van heerlikheid. Hoe moes hulle gejuig het in hulle harte! Hoe moes hulle harte gebrand het om daardie selfde heerlikheid te beleef. Maar vir die menigtes van God se uitverkore volk, het die Heilige Gees ‘n getuienis opgerig – ‘n getuienis wat vir die kerk gesê het dat ‘n dienaar van God die heerlikheid van God kan weerspieël op aarde; maar ook, dat ‘n enkele kind van God, afgesonder met die Koning van die Hemel, daardie heerlikheid so kan weerspieël om die wêreld en die kerk te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel.

Die heerlikheid op die aangesig van Moses het verdwyn na ‘n rukkie, omdat dit slegs ‘n tipe was van die heerlikheid wat sou kom! Wat met Moses gebeur het, moenie vergelyk word met wat die Heilige Gees vir ons wil hê vandag nie! “Want as die bediening wat veroordeel, heerlikheid was, veel meer is die bediening wat regverdig maak, oorvloedig in heerlikheid. Want wat verheerlik was, is ook in hierdie geval nie verheerlik nie, vanweë die alles oortreffende heerlikheid. Want as wat moes vergaan met heerlikheid was, veel meer is wat moet bly, in heerlikheid” (2 Korinthiërs 3:9-11). Met ander woorde, as die heerlikheid wat vergaan het in die gesig van Moses soveel oortuigende krag gehad het – as dit so ‘n kragtige, Heilige Gees getuienis was – hoeveel meer sal die huidige heerlikheid van Christus in Sy dienaars ‘n getuienis wees – deur die Gees – om te veroordeel en te oortuig!

Paulus sê vir ons dat die Heilige Gees ‘n volk in groot heerlikheid inbring – ‘n sterker, kragtiger getuienis om toenemende oortuiging van sonde, geregtigheid en oordeel te bring. Daar is vandag ‘n heerlikheid beskikbaar vir heilige dienaars wat nooit sal vergaan nie, en wat genoem sal word ‘n bediening van geregtigheid! ‘n Getuienis vir die wêreld en die kerk wat nooit sal sterf nie!

Die Heilige Gees is tans aan die werk en rig ‘n getuienis van ‘n onbedekte gesig op!

“En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die HERE aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korinthiërs 3:18).

Paulus begin deur te sê waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. Die Griekse woord hier druk “vryheid” uit as toegang, of die vryheid om te doen wat jy wil. Sekerlik beteken dit nie dat die Geesvervulde mens toegang het tot die wêreld nie. Dit is toegang tot die Here se teenwoordigheid. Dit is vryheid om in Sy voorhowe in te gaan, om voor die Here in Sion te verskyn. Dit is vryheid om te kom en Hom te aanskou – vryheid om na Sy heilige berg op te klim en gemeenskap en geselskap met Hom te hê. Die Gees nooi ons uit om die binnekamer binne te gaan, die deur te sluit en Sy heerlikheid te aanskou, en beloon te word met Sy weerspieëlde heerlikheid in ons.

Terwyl baie opstaan om te speel en te dans om goue kalwers, roep die Heilige Gees ‘n oorblyfsel mense uit om na die heilige berg van God te gaan om baie tyd in die Here se majestieuse teenwoordigheid deur te bring. Hoe dink jy sal die Heilige Gees ons dooie kerke oortuig? Hoe sal Hy jou onbekeerde familie oortuig? Hoe sal die Gees die goddelose skare van sonde, geregtigheid en die komende oordeel oortuig? Dink jy Hy sou hulle omslaan met ‘n bonatuurlike lig, soos met Paulus? Het jy gedink die Gees het ons nie nodig om Sy werk te doen nie? Die werklikheid is: Die enigste getuienis teen die sonde en goddeloosheid van hierdie eeu, is ‘n man of  vrou van God wat so in aanraking is met Jesus, dat Sy teenwoordigheid in en op hulle, oortuigend is en die Heilige vrees van die Here veroorsaak!

Die Gees van God sal nie Christus se heerlikheid versluier nie!

Die bediening van geregtigheid is ‘n heilige liggaam van gelowiges wie se lewens oorgegee is om Christus Jesus te aanskou, wat lewe tussen sondaars en blink met Sy teenwoordigheid – wie se lewens getuig teen sonde – geregtigheid voortbring – en Sy oordeel teen sonde verkondig!

‘n Onbedekte gesig, vol van die heerlikheid van Christus, bring veroordeling vir die louwarmes. ‘n Onbedekte gesig, stralend met die ontsagwekkende teenwoordigheid van Jesus Christus, boesem vrees in die harte van owerspelers, hoereerders, en afgodedienaars in. Die Heilige Gees is aan die werk in daardie onbedekte gesig van heerlikheid en boesem vrees in onder die valse profete en afvallige herders.

Dit is die teenwoordigheid van die Here wat God se volk onderskei van alle ander! Die wêreld herken nie Christene deur daardie naam alleen nie. Hulle spot met diegene wat geen krag of teenwoordigheid van Christus in hulle lewens het nie. Moses het tot God gebid, “As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie. Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is” (Exodus 33:15,16).

Watter kragtige stelling het Moses gemaak! Sonder die blywende teenwoordigheid van die Here, is God se volk nie een jota anders as die wêreldse skare nie. Moses het geweet dit was slegs die teenwoordigheid van die Here in die laer wat veroorsaak het dat vrees oor al hulle vyande gekom het. Nadat hulle die Rooi See oorgesteek het op droë grond, het Moses hierdie lied gesing: “U het u deur u guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u krag na u heilige woning gevoer. Die volke het dit gehoor, hulle het gesidder; weë het die inwoners van Filistéa aangegryp. Toe is die stamhoofde van Edom verskrik, bewing het die magtiges van Moab aangegryp. Toe is die stamhoofde van Edom verskrik, bewing het die magtiges van Moab aangegryp. Al die inwoners van Kanaän het gebewe. Verskrikking en vrees het op hulle geval; deur ie grootheid van u arm was hulle stom soos ‘n klip, terwyl u volk deurtrek, HERE, terwyl die volk deurtrek wat U verwerf het” (Exodus 15:13-16).

Moses het vir die Israeliete gesê, “Want as julle ywerig al hierdie gebooie hou wat Ek julle beveel, om dit te doen deur die HERE jule God lief te hê, in al sy weë te wandel en Hom aan te hang...Niemand sal teen julle standhou nie; die HERE julle God sal die skrik en vrees vir julle oor die hele land laat kom waarop julle sal loop, soos Hy julle beloof het” (Deuteronómium 11:22,25).

Moses het goed geweet wat dit geverg het om God se getuienis in ‘n goddelose wêreld te wees. Die beginsel is nie ingewikkeld nie. God het gesê: “Staan voor My – gehoorsaam My – hou vas aan My – laat staan alle afgodery – en My teenwoordigheid sal saam met julle gaan – en sondaars sal vrees – julle sal ‘n vrees op heidendom plaas – geen mens sal voor julle onveroordeeld staan nie!”

Wie is hierdie onbedekte gesig getuies? Hulle is diegene wat bearbei is om in hulle Meester se teenwoordigheid in te kom omdat hulle hul harte heeltemal op Hom gerig het. Hulle het die kolkende getye van goddeloosheid en koudheid gesien; hulle het die huilende winde van misleiding en valse leerstellinge gehoor; hulle het gesien hoe die liefde van baie verkoel het, ‘n gedaante van godsaligheid gehad het sonder oortuigende krag; hulle het gesien hoe die brullende leeu die swakkes en ongelowiges verslind! Daarom het hulle na die rots wat hoër is as hulleself gevlug! Hulle het uitgeroep, “U alleen, Here, het die woorde van die ewige lewe!” Hulle het weggestap van die bohaai, die vlietende plesiere, die arrogansie en trots van mense – en besluit om aan Christus alleen vas te hou! Hulle het geleer dat dit nie genoeg is om rein te wees nie. Dit is nie genoeg om “oop” te wees op elke gebied van die hart nie. Daar moet ‘n afsondering van die wêreld wees – ‘n nadering tot die Here – ‘n oorgawe van jouself aan gemeenskap en binnekamer gebed.

Dit is hulle wat ween tussen die pilaargang en die altaar! Hulle spandeer ure in Sy heilige teenwoordigheid, leer Sy Woord en wil ken. Hulle kom voortdurend na die lig – om voor Hom te staan om hulle verborge sondes en motiewe te openbaar; en hulle bewe voor Sy Woord en word verander – een heerlike openbaring na ‘n ander – een heerlike visioen van Christus na ‘n ander.

Die heerlikheid van die Here is Sy teenwoordigheid!

Dit is onmoontlik vir ‘n gelowige om Christus se heerlikheid ten volle te weerspieël sonder om baie tyd afgesonder met Hom deur te bring! Daar word baie gesê van nuwe openbarings, nuwe vorme van lof en aanbidding, nuwe maniere om te bou en te groei, nuwe uitreike na die armes! Maar die Heilge Gees is betrokke by baie min daarvan. Trouens, die meeste daarvan is ‘n gruwel vir die Here, en dit alles veroorsaak min oortuiging van sonde. Ons het genoeg tyd gemors om maniere uit te vind om die verlorenes te red en die kerk te reinig. Ons moet meer onbedekte gesig getuienisse hê, meer gelowiges wat werklik die heerlikheid van die teenwoordigheid van Jesus in hulle weerspieël!

Wys vir my iemand wat blink van die teenwoordigheid van Sy heerlikheid en Ek sal vir jou iemand wys wat “’n openbaring van die waarheid” word deurdat hulle elke boesemsonde en oneerlikheid verwerp en weier om in listigheid te wandel of om die Woord van God te vervals – hulle raak die gewetens van alle mense aan en oortuig hulle. Christus straal uit hulle harte, en hulle lewens skyn met die lig van die kennis van Sy heerlikheid. “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn – dit is Hy was in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die  kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (2 Korinthiërs 4:6).Dit beteken die onbedekte gesig gelowige, wie se hart en gesig Christus is sy volheid weerspieël, veroorsaak dat ander rekenskap gee aan die lig van Sy heerlikheid. Die gevolg sal wees óf oortuiging, óf verwerping. Die lig van Christus se teenwoordigheid skyn uit die onbedekte gesig – om te openbaar, sodat gered kan word!

Die sluier is ‘n bediening van goeie werke! Dit spreek van die mense se selfgenoegsaamheid! Dit is ‘n bediening van heerlikheid wat vergaan!

Baie van wat vandag vir die Here gedoen word om Sy koninkryk uit te brei, word gedoen agter hierdie sluier van ongeloof. Die kerk kan homself nie sover bring om die werklikheid te aanvaar dat God nie die vlees of enigiets wat die vlees aanraak, sal aanvaar nie. Ons vind dit so moeilik om te glo dat die meeste van ons godsdienstige aktiwiteite verniet is.

Ons staan nog nie in die getuienis van geregtigheid nie. Ons is nog nie oortuig dat God nie ambisieuse mense gebruik nie, maar mense wat soos Christus is. Ons jaag agter maatskaplike sake aan; ons spandeer tyd, geld en soveel moeite om die kerk te probeer opwek en sondaars te verander deur planne en programme. Ons is so blind! Ons kan nie sien dat die Gees die wêreld oortuig deur Christene wat lewe in die troonkamer en wat van God af kom nie. Hulle het en wil niks anders hê as Christus nie. Hulle doen niks behalwe wat hulle Hom sien en hoor doen nie. “Maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem...” (2 Korinthiërs 3:16). Nog ‘n manier om dit te sê is: Wanneer iemand hom ook al tot die Here bekeer, tyd met Hom spandeer en verander tydens elke sessie met Hom – sal hy ook ‘n onbedekte gesig getuienis vir die wêreld wees!

Dit is die gevaar van diegene wat aan afgode en boesemsondes vashou – hulle versluier Christus vir die wêreld. Hulle lewens raak nie die wêreld aan nie; hulle is “geestelike nulle.” As jy nie verander van heerlikheid tot heerlikheid nie en meer en meer soos Jesus word nie, dan verander jy daagliks na die beeld van die bose! Ons verander almal – op een of ander manier!

Elke berg, elke hoogte, sak weg in die teenwoordigheid van Jesus Christus! Diegene wat baie tyd saam met Hom deurbring, sal sien hoe hulle hoogtes van sonde soos was smelt en elke krom ding reguit gemaak word. “Berge smelt weg soos was voor die aangesig van die HERE, voor die aangesig van die HERE van die hele aarde” (Psalm 97:5). Paulus praat van “planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God” (2 Korinthiërs 10:5). Hierdie hoë dinge is afgode, gewoontes, ambisies, motiewe – wat hoë en verhewe hoogtes en berge in ons word. Hulle moet plat gemaak word!

Johannes die Doper het gekom om die woorde van Jesaja te vevul: “Soos geskrywe is in die boek van die woorde van Jesaja, die profeet, waar hy sê: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, en maak sy paaie reguit. Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; en die krom draaie sal ‘n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk weë” (Lukas 3:4,5). Dit is presies wat gebeur in die lewe van een wat homself afgesonder het met die Here en Sy heiligheid aanskou. Die berge begin om te verkrummel en die hoë en verhewe hoogtes van trots en self smelt soos was voor Sy vlammende oë. “...En die berge smelt onder Hom, en die laagtes skeur oop, soos was voor die vuur...” (Miga 1:3,4). “Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon...” (Nahum 1:5).

Alles wat aards, sensueel, vleeslik en menslik is, word geopenbaar vir wat dit is – dit word alles verbrand! Niks daarvan kan Sy voortdurende teenwoordigheid oorleef nie. Diegene wat die heerlikheid van Sy heiligheid aanskou, kan nie staan voor Sy oë van vuur nie. Hulle word neergebring!

Christus se teenwoordigheid is vernietigend vir die vlees!

Jesaja was ‘n goeie man wat geprofeteer het teen die sondes van God se volk. Hy het baie gepraat van die Heilige van Israel. Maar eendag toe hy die Here in die heerlikheid van Sy heiligheid aanskou het, het hy ineengekrimp by die aanskoue van sy eie sondes! Hy het uitgeroep: “Wee my!” “In die sterfjaar van koning Ussia het ek die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het. Serafs het bo Hom gestaan: elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. En die een het die ander toegroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol! En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword. Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare gesien” (Jesaja 6:1-5). Wanneer jou oë die Koning in Sy heerlikheid sien – word sonde geopenbaar! Daar sal ‘n ware hartsbekering wees. Die boodskap hier is: “Sien God en sterf!” Sterf aan self en sonde. Sterf aan die verdorwenheid van die hart.

Daniël het gesê, “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in  roukleed en as, my aan gebed en smeking te wy” (Daniël 9:3). Drie volle weke het hy getreur en sy aangesig gerig tot die Here. Die Man geklee in linne, wie se oë soos fakkels van vuur was, het in heerlikheid aan hom verskyn. Toe “het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ‘n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas. En sy liggam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van ‘n menigte. En ek, Daniël, alleen het die gesig gesien, maar die manne wat saam met my was, het die gesig nie gesien nie; nogtans het ‘n groot skrik hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg. Toe het ék alleen oorgebly en hierdie groot gesig gesien, en geen krag het in my oorgebly nie, en my gesonde kleur het aan my verander en verdwyn, en ek het geen krag oorgehou nie. Ek ek het die geluid van sy woorde gehoor, en toe ek die geluid van sy woorde hoor, het ek bewusteloos op my aangesig, met my aangesig op die aarde, geval” (Daniël 10:5-9).

Praat van veroordeling! Toe die Here Daniël aangeraak het deur Sy heilige teenwoordigheid, “het ‘n groot skrik hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg.” Ons leef in ‘n dag van ‘n onversluierde Christus – hoeveel meer moet die Here se teenwoordigheid binne-in ons, verskrikking veroorsaak vir almal rondom ons wat in sonde lewe.

Johannes, op die eiland Patmos, kon nie voor die teenwoordigheid van Christus staan nie toe Hy verskyn het in heiligheid om die sewe kerke te oordeel. Die een wat met sy hoof op die bors van Jesus gelê het, het Hom nou in die heerlikheid en mag van Sy heiligheid aanskou – en hy het op sy aangesig neergeval. “Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters. En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ‘n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag. En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Ek is die eerste en die laaste” (Openbaring 1:12-17).

In Sy teenwoordigheid, het Jesaja verkrummel, Daniël het gesmelt, Johannes het soos ‘n dooie geword! En diegene wat naby gestaan het, het so veroordeel gevoel dat hulle gevlug het!

In hierdie laaste dae, kruip menigtes weg vir die teenwoordigheid van die Here! Hulle sondes verberg Sy aangesig van hulle en hulle is bang om te veel in Sy teenwoordigheid te wees. Soos Jona, veroorsaak hulle ongehoorsaamheid dat hulle “vlug van die teenwoordigheid van die Here.” Hulle kan nie die vuur in Sy oë verduur nie. So, uit die verte, volg hulle Hom – en maak aanspraak op beskerming en regte in Sy Naam. Hulle sal nie hulle hoogte van afgodery afbreek nie.

Talle beweeg sonder die Here se teenwoordigheid saam met hulle!

God het vir Moses ‘n mees skrikwekkende riglyn gegee. “Verder het die HERE met Moses gespreek: Gaan heen, trek hiervandaan op, jy en die volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, na die land wat Ek met ‘n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee; en Ek sal ‘n engel voor jou uit stuur...want Ek sal in jou midde nie optrek nie, omdat jy ‘n hardnekkige volk is; ander sal jy op die weg verteer word” (Exodus 33:1-3).

Die volk van God het heeltemal buite beheer geraak wees wellus en afgodery (Exodus 32:25). Goud het hulle god geword. Hulle wou dans, speel, hoereer en hulle eie wellustige aptyte navolg. Slegs die seuns van Levi het opgestaan vir die heiligheid van God.

Toe het die skrikwekkende openbaring gevolg dat die Here Homself van hulle af verwyder het – Hy het hulle verlaat sodat Hy hulle nie sou vernietig nie. Steeds was hulle egter beveel om verder te trek om hulle erfdeel in besit te neem. God het gesê, “Ek sal vir jou gee wat Ek belowe het.” Hulle kon al hulle regte opeis; hulle kon verder trek met ‘n engel wat voor hulle uitgaan; maar weens sonde en hardkoppigheid – het hulle geen aanspraak meer gehad op die Here se heilige teenwoordigheid nie. hulle kon hulle regte en Sy beskerming kry – maar nie Sy teenwoordigheid nie.

Is dit nie wat ons vandag sien nie? Dit is die hartseer skouspel van menigtes van God se kinders, wat voortgaan met hulle godsdienstige vraag na beloofde regte, terwyl hulle roem in engelagtige hulp teen vyande – maar geen heilige, ontsagwekkende, oortuigende teenwoordigheid van Christus in hulle het nie!

Wat kon erger wees as om hierdie soort bevel van die Here te hoor, “Na ‘n land wat oorloop van melk en heuning; want Ek sal in jou midde nie optrek nie...” (Exodus 33:3). God het vir hulle gesê, “Julle is ‘n hardnekkige volk; as Ek vir een oomblik in jou midde sou optrek, sou Ek jou vernietig. Maar haal nou jou versiersels van jou af, dan sal Ek weet wat Ek met jou moet doen...” (Exodus 3:5).

Daar is Christene vandag wat selfs nog meer hardkoppig is as die Israeliete, wat weier om hulle afgodiese speelgoed, foefies en mensgesentreerde programme te laat staan. Maar hulle beweeg vorentoe! Sonder die Here se teenwoordigheid, word die hart slegs harder, die vyand moediger, en die Here se belange op hierdie aarde is vergete en die self sit op die troon!

Moses wou iets meer gehad het as ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Hy wou die Here se teenwoordigheid ken en beleef. Hy het gebid, “Hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam, en jy het ook genade in my oë gevind. As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind” (Exodus 33:12,13).

Dit is geen wonder nie dat hierdie kosbare dienaar van God sy geslag oortuig het! Geen wonder daar was soveel heerlikheid in sy gesig nie. Hy wou slegs die Here ken. Die enigste guns wat hy wou hê, was die blywende teenwoordigheid van sy Here. So was dit met Paulus, wie se hart uitgeroep het, “O, dat ek Hom mag ken!”

Die getuienis van ‘n onbedekte gesig word ondersteun deur hierdie een heerlike belofte van die Here: “Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf” (Exodus 33:14). En omdat Sy teenwoordigheid in ons weerspieël word, sal ons ‘n demonstrasie vir die wêreld word – en dit van sonde, geregtigheid en oordeel oortuig.

Download PDF