Die Geweldige Sonde Van Hoogmoed | World Challenge

Die Geweldige Sonde Van Hoogmoed

David WilkersonFebruary 8, 1988

Hoogmoed is die toppunt van God se lys van dinge wat Hy haat: "Hierdie ses dinge haat die Here, en sewe is vir sy siel 'n gruwel; trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, 'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai" (Spreuke 6:16-19).

Die Bybel sê verder, "Want alles wat in die wêreld is - die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe - is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld" (1 Joh 2:16). Die meeste Christene erken dat hulle teen die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë 'n stryd het. Hulle weet wat dit is om te begeer, hulle haat dit en vlug daarvan weg met die krag van die Heilige Gees. Christene herken ook hoogmoed in ander, omdat hulle hoogmoedig voorkom, self-gesentreerd, ambisieus en edeldenkend is. Maar min Christene sal hulleself as hoogmoedig beskou. Die meeste Christene sal erken, dat hulle nog nie volmaak is nie, dat hulle nog nie so naby aan Christus se gestalte is soos wat hulle wil wees nie, en dat daar areas in hulle lewens is waar hulle nodig het om te verbeter.

Maar min Christene erken hoogmoed in hulleself. Erken u dit in uself? Baie Christene sal erken, "Wel, ek mag miskien self-versekerd en vol vertroue wees. Die ergste mag wees dat ek myself as meer talentvol, of meer intelligent as ander mag sien. Maar ek is nie trots nie! Ek gee God al die krediet vir wat ek al bereik het en vir wie ek is. Dit is alles in sy krag. Hoogmoedig? Ek dink nie dat ek eerlik kan erken dat ek so is nie. Sien eintlik wandel ek in heiligheid en ek open my hart om deur God se Woord deursoek te word. Hy sou dit sekerlik al vir my gewys het."

Onlangs het die Heilige Gees in my hart met my gepraat oor dié haatlike sonde. Ek het gesê, "Here U bedoel dat ek by Times Square Church oor hoogmoed moet praat, nie waar nie? Daar moet dan hoogmoed in die gemeente wees. Die Gees se antwoord het my stomgeslaan. "Nee, David, ek wil met jou praat oor hoogmoed, oor die subtiele soort hoogmoed waaraan jy self ook skuldig is. Eerstens moet jy dit in jou eie hart sien dan eers mag jy dan ander daaroor preek. "Soos die meeste Christene, het ek gedink ek het ten minste darem probeer om nederig te wees. Ons is versigtig om nie te spog soos die Fariseers dat ons beter is as die res nie. Maar diep in ons harte dink ons, "Ek is nie arrogant nie, ek spog nie en is ook nie oordrewe ambisieus nie. So hoe kan ek trots wees?"

Die Woord van God het met my gepraat, en vorme van hoogmoed aan my geopenbaar wat so diep in my gewortel was sonder dat ek dit besef het - en 'n trots wat die ergste van alle soorte is. Toe die Heilige Gees gesê het, "Trots in jou, David." Het ek geantwoord, "Maar, Here, ek probeer nie om iemand groot te wees nie! U weet dit. Ek is nie 'n grootprater of 'n windlawaai nie. Ek probeer eerlikwaar om minder te word, sodat Christus meer kan word. As daar hoogmoed in my is, kan ek dit nie eers sien nie. Asseblief, wys dit vir my. Openbaar dit aan my!" En Hy het dit vir my gewys! Soos ek teruggekyk het, het ek gebewe toe ek besef het hoeveel keer ek die haatlike sonde al gepleeg het. Ek is skuldig daaraan.

God sien hoogmoed in 'n totaal ander lig as ons. Hy't my gewys dat my idee van hoogmoed te beperk is. Ja, daar is 'n bose, grootpraterige, arrogante trots en dit kan oral om ons raakgesien word vandag. Maar daar is ook 'n hoogmoed wat geestelik van aard is. Dit word gepleeg deur diegene wat naby aan God gewandel het, en dit kan gesien word in die heiliges onder ons. Hoe meer geestelik 'n mens is, hoe meer openbarings 'n mens gehad het, hoe nader 'n mens aan Hom was, hoe meer afskuwelik is die sonde wanneer dit gepleeg word. Dit is nie 'n lewensstyl nie, alhoewel dit so kan word. Dit is 'n sonde wat gereeld gepleeg word selfs op ons knieë terwyl ons God soek.

Om hierdie boodskap te verstaan, wil ek julle graag nuwe definisies van hoogmoed en nederigheid gee. Hoogmoed is onafhanklikheid - nederigheid is afhanklikheid. Hoogmoed is 'n onwilligheid om vir God te wag om op te tree op Sy eie tyd en op Sy eie manier. Hoogmoed storm in om dinge in sy eie hande te neem. Een van die grootste versoekinge wat ware Christene in die gesig staar is om voor God uit te loop. Dit is om op te tree sonder 'n duidelike opdrag van God. Dit is om dinge in ons eie hande te neem, wanneer dit lyk asof God nie vinnig genoeg werk nie. Dit is ongeduld.

Saul het hierdie verskriklike sonde in Gilgal gepleeg, soos beskryf word in 1 Samuel 10. Toe Samuel Saul as koning gesalf het, "Daarop het hulle van die hoogte afgegaan die stad in, en hy het met Saul gespreek op die dak" (1 Samuel 9:25). Hierdie bespreking op die dak het gesentreer rondom die groot oorlog wat aan die kom was met die Filistyne. Samuel was besig om Saul voor te berei, hy't hom laat weet dat hy 'n goddelike roeping gehad het om die vloek te breek. Toe die tyd ryp was, toe die Filistyne en die Israeliete die rand van die oorlog bereik het, het Samuel Saul beveel om nie op te tree nie, om nie na die oorlog te gaan nie, totdat al die mense by Gilgal ontmoet het om die Here se aangesig te soek vir spesifieke bevele. "En jy moet voor my uit na Gilgal afgaan. Sewe dae lank moet jy wag, totdat ek by jou kom en jou bekend maak wat jy moet doen" (1 Samuel 10:8). Dit sou alles God se handewerk wees. Hy alleen wil in totale beheer wees.

Samuel het God se stem verteenwoordig. Nie een woord van hom, het deur die mat geval nie! God, deur Samuel, sou bo-natuurlik, soewerein, aan hulle aanwysings gegee het. "Ek sal jou wys wat jy moet doen." God sal al die planne maak - Hy sou hulle wys hoe om oorlog te maak. Saul het die opdrag gekry om niks meer te doen nie as om na die altaar by Gilgal te gaan en te wag vir die woorde om te kom. Maar oorlog het begin toe Jonatan 'n garnisoen by Geba verslaan het. "En Jonatan het die wagpos van die Filistyne verslaan wat in Geba was, en die Filistyne het dit gehoor. Daarop het Saul op die ramshoring laat blaas in die hele land om te sê; Laat die Hebreërs dit hoor! En die hele Israel het hoor sê: Saul het die wagpos van die Filistyne verslaan, en ook het Israel homself gehaat gemaak by die Filistyne. So is dan die manskappe opgeroep agter Saul aan na Gilgal toe" (1 Samuel 13:3-4).

Saul het ongeduldig gewag. "So is dan die manskappe opgeroep agter Saul aan na Gilgal toe ... " Israel was in 'n paniek toe 'n groot Filistynse weermag verskyn het met duisende strydwaens, 6 000 perderuiters en 'n weermag wat vir hulle soveel gelyk het soos die sand op die strand. Saul se weermag was verlate aan alle kante en was 'n deurmekaarspul met nie 'n enkele swaard by hulle nie. Al wat hulle gehad het was, sekels, byle, hammers en plaas implemente. Dit is die einste oorlog krisis wat Samuel maande gelede met Saul op die dak bespreek het. Dit was bedoel om 'n tyd van bymekaar kom by Gilgal te wees om op God te wag vir Sy duidelike woord van rigting aanwysing. Maar Saul het vir God 'n spertyd gegee. As die woord nie sou kom teen 'n sekere uur nie, was Saul gedetermineerd om te doen wat hy kon om die situasie te red. "En hy het sewe dae lank gewag, tot die tyd wat Samuel bepaal het; maar toe Samuel nie na Gilgal kom nie en die manskappe van hom af verstrooid raak het Saul gesê; Bring na my die brandoffer en die dankoffers; en hy het die brandoffer geoffer (1 Samuel 13:9-10).

Dit was nie net 'n geval van wag nie, maar van wag 'totdat' - totdat die woord kom, totdat aanwysings van die hemel gegee word. "Wag - tot ek na jou toe kom, en jou wys. Waarom was Samuel net 'n paar ure laat? Omdat Saul getoets was om te sien of hy geglo het dat God vertrou kan word, om te sien of Saul sou vertrou en gehoorsaam wees selfs al het dinge nie presies op skedule gebeur nie. Samuel het vertoef omdat God duidelik met hom gepraat het en hom gesê het om te vertoef. God wou gehad het dat Saul 'n getuienis van nederige afhanklikheid van God moes wees in alle dinge, veral in 'n donker krisis.

Maar Saulus het die toets nie geslaag nie. Hy het na die toestand gekyk en alles het hopeloos voorgekom. 'n Ongelukkige gees het hom oorval. Logika het vir hom gesê dit word te laat, dat iets eenvoudig net gedoen moes word. Ek kan hom net hoor, "Ek kan die besluiteloosheid nie meer langer vat nie. God het my gestuur om Sy werk te doen en ek is bereid om te sterf vir sy saak. Maar hier sit ek en ek doen niks. Daar is geen leiding, geen woord van God nie. Ek moet sorg dat iets gebeur of dit sal alles verby wees. As ons aanhou om niks te doen nie, sal ons totaal en al buite beheer raak." Dit is ongestilde hoogmoed - die drang om in beheer te wees van die situasie. Saul het regtig geglo dat dinge besig was om buite beheer te raak.

Dit is waar ek al so dikwels gefaal het. Ek het dit gehaat om nie in beheer te wees van situasies nie. Nie dat ek die baas wil wees nie, of dat ek oor ander wil baasspeel nie. Dit is net dat ek nie van die gevoel van hopeloosheid en afhanklikheid hou nie. Om in New York te bly vir die eerste keer moes ek in 'n hoë woonplek bly, onderworpe aan die genade van die landheer, die superintendent, die unie, die hysbakke, en die stukkende verwarmers. Wanneer dinge nie werk nie, moes ek wag en wag en wag. Ek het vir my vrou gesê, "Ek het nou genoeg hiervan gehad. Ons gaan ons eie plek koop, sodat ons in beheer kan wees. Dit is verregaande." Ek wil in beheer wees.

Met betrekking tot Times Square Church, voel ek soms soos Saul met onmoontlikhede wat aan alle kante opdoem. Ons lyk so hulpeloos en die vyand lyk so groot en kragtig. Ek raak oor-angstig om in beheer te wees. Ek hou nie daarvan om te huur en om aan die genade van veranderde landhere oorgelaat te wees nie. God het aan ons 'n permanente plek belowe. Maar ek wil dit nou hê. Ek is ongeduldig. Daar is so baie dinge om te doen en so min tyd. Ek dink by myself. "Hoe lank, Here?" Ek hou nie daarvan om nie in beheer te wees nie. Ons het aksie nodig."

Maar God sê, "Vertrou jy my? Wag! Nadat jy alles gedoen het wat jy kon, staan stil en sien die redding van die Here!" Die moeilikste deel van geloof is die laaste halfuur, net voordat die antwoord kom, net voordat God van plan is om 'n wonderwerk te laat plaasvind. Dit is wanneer ons verslap, inmekaar sak, ons probeer om iets te laat gebeur. Dit is sondige hoogmoed. "En toe hy net gereed was om die brandoffer te bring, kom Samuel meteens daaraan; en Saul het uitegaan hom tegemoet om hom te groet" (1 Samuel 13:10). Die oomblik toe hy sake in sy eie hande geneem het, het Samuel daar aangekom. Goddelike leiding was reg by die deur, net minute weg! Maar Saul kon nie wag nie!

Ons beskuldig God van misleiding. Deur ongeduldig op sy eie op te tree, het Saul gesê, "God het my gestuur om Sy werk te doen, maar het my gelos om self uit te werk oor hoe om dit te doen. Hy't vir my gesê om dit te doen, maar nou laat Hy my sit en wag. As God nie antwoord nie, dan kan Hy my maar oordeel vir wat ek gedoen het. "Om God te speel is 'n verskriklike sonde. Dit is so goed as om God van nalatigheid te beskuldig. Ons word soos Saul beveel om op God te wag, om stil te staan en Sy redding te sien, om Hom ten alle tye te vertrou, sodat Hy ons weë kan rig. Maar sodra die spertyd wat ons opgestel het bereik is, verby is, en daar is 'n woede teen God en ons kan nie wag nie, hardloop ons aan en laat ons dinge gebeur. Ons sê, "God gee nie regtig vir my om nie. God het my teleurgestel. Gebed en wag werk nie. Dinge word net erger. Ek kan nie net hier sit en toelaat dat almal oor my loop nie. "Ons vertrou regtig nie op God se woord nie.

Samuel se opdrag was, "Gaan na Gilgal toe en wag . ek sal kom, jy sal jou aanwysings kry." Voor God, was al waarvoor Saul verantwoordelik was net om te wag vir die woord! God wou Saul hoor sê, "God hou sy woord; nog nooit voorheen het 'n woord van Samuel se lippe deur die mat geval nie. God het gesê wag vir aanwysings en ek sal wag. Laat die hele weermag alleen. Laat elke Israeliet 'n bangbroek wees. Laat elke man 'n leuenaar genoem word. As God moet, sal Hy 'n weermag van Sy engele vir my stuur. Dit is nie my oorlog nie. Ek het nie die vaagste benul oor hoe om agter die groot weermag aan te gaan nie. Dit is alles in sy hande. Al wat ek beveel is om te doen, was om te wag vir die woord."

Maar hoogmoed redeneer, "God het dit seker nie bedoel nie. Miskien het ek verkeerd gehoor. Die probleem lê by my sien en hoor. In stede daarvan om op God se woord te staan, begin ons om dinge self te probeer uitwerk. In die bed in die laat ure van die nag sê ons, "Here, hier is soos ek nou sien, hoe dinge gedoen kan word." Dit is boos om iets baie logies aanvaarbaar te doen wanneer dit nie God se duidelike woorde van aanwysing was nie. Dit mag die afleiding van wyse manne en logiese denke wees, die enigste oop opsie. Maar dit is sonde as dit nie die woord is wat kom van om op God alleen te wag nie. Ons moet die druk afneem daarvan om te presteer, om iets te doen. Jy hoef niks te doen nie as om alleen maar op God se woord te staan nie. As jy enigiets aan God wil bewys, wys dan vir Hom dat jy geduldig vir Hom sal wag om op te tree. Glo jy regtig God bedoel wat Hy sê? Dit is gevaarlik om voor God uit te loop! Dit is onafhanklikheid.

"Daarop vra Samuel: Wat het jy gedoen? En Saul sê: Ek het gesien dat die manskappe verstrooid raak van my af; en toe u nie kom op die afgespreekte tyd nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom, het ek gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, en ek het die aangesig van die Here nie om genade gesmeek nie; daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring. Toe sê Samuel vir Saul: jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die Here jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die Here jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die Here het vir Hom 'n man na sy hart gesoek; en die Here het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die Here jou beveel het nie" (1 Samuel 13:11-14).

Saul het sewe dae gewag - maar daardie wag was onheilig. Hy was ongeduldig, kwaad, vol vrees en dik mond. Ons moet in geloof wag, en glo dat God vir ons omgee en ons liefhet, dat Hy daar sal wees op sy tyd. Hierdie kwessie van wag is so belangrik dat ek vir jou 'n paar Skrifgedeeltes moet aanhaal om dit te bewys.

"En hulle sal in die dag sê: Kyk dit is onse God, op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die Here op wie ons gewag het; laat ons juig en bly wees oor sy hulp" (Jesaja 25:9).

"Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het 'n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U" (Jesaja 64:4).

Vergelyk die ongeduldige hoogmoed van Saul met Dawid se wag op God vir aanwysings. Hoe mooi! En hoe duidelik! "Maar die Filistyne het nog weer opgetrek en hulle in die dal Refaim versprei. Toe raadpleeg Dawid die Here, en Hy sê: Jy moet nie optrek nie; trek agter hulle om en val hulle van vlak voor die balsembosse aan. En as jy 'n geruis van voetstappe in die toppe van die balsembosse hoor, moet jy gou maak, want dan het die Here voor jou uitgetrek om die leër van die Filistyne te verslaan. En Dawid het gedoen net soos die Here hom beveel het, en hy het die Filistyne verslaan van Gibeon af tot naby Geser" (2 Samuel 5:22-25). Die vyand was voor hom uitgesprei, maar Dawid moes die woord van God hê! Alleen dan sou hy homself roer.

Hoogmoed word afgeweer deur die idee van om 'n dienskneg te wees. Vandag wil almal alles behalwe 'n dienskneg wees. Die gewilde kinderspeletjie in Amerika word, "Masters of the Universe!" genoem. Maar dit het ook die teologie van baie Christene geword. Ons haal die Skrifgedeelte aan, "Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind, en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus" (Galasiërs 4:7). Wat Paulus regtig hier sê is dat 'n seun wat reg geleer is met alle regte, maar hy is so lief vir sy vader dat hy die rol van 'n dienskneg kies. Paulus sê in dieselfde boek, dat hy "dienskneg van Jesus Christus was" (Romeine 1:1). Jakobus het homself ook 'n "dienskneg van die Here Jesus genoem" (2 Petrus 1:1). En Christus, die Here, die Seun van God." Maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword, en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis" (Fil. 2:7-8). Laat die gedagtes in jou wees, wat ook in Christus Jesus is. 'n Dienskneg het nie 'n wil van sy eie nie; sy meester se woord is sy wil.

Die kruis verteenwoordig die doodgaan van al my eie planne, al my eie idees, my eie begeertes, my eie hoop en drome. Dit is belangrikste van alles, die absolute doodgaan van my eie wil. Dit is ware nederigheid. Nederigheid word slegs met die kruis geassosieer. "Hy het Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van kruis" (Fil. 2:8). Hy het vir Sy dissipels gesê, "My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en sy werk te volbring" (Joh. 4:34). Hy het gesê, "Ek kan uit Myself niks doen nie; Soos ek hoor, oordeel Ek . " (Joh. 5:30). Met ander woorde, "Ek weier om dinge in my eie hande te neem. Ek wag om elke aanwysing van my Vader te hoor! Hy wie die Lig is, absolute intelligensie, wat alles weet, het Homself verneder, maak Homself totaal afhanklik van die Vader in alle dinge. Ek kan dit nie uit My eie doen nie" het Jesus gesê.

Johannes skryf, "Soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld . (1 Joh. 4:17). Alle ware Christene sê, "Ek wil regtig Sy perfekte wil doen." Maar dit is hier waar ons dit mis, ons sit ons harte op iets wat ons wil hê, iets wat goed lyk en wat logies klink, maar nie God se wil is nie. Ons sal daarvoor vas, bid en daarvoor intree! 'n Rivier van trane huil! Dit vir onsself toe-eien! Demone bind wat die inneem daarvan verhinder! Die Bybel aanhaal. Ander kry wat met ons saamstem! Een van die grootste strikke vir Christene is 'n goeie idee wat nie God se gedagtes is nie, 'n goeie strategie wat nie Syne is nie, 'n goed beplande skema wat nie Syne is nie. Die vraag is - kan jou begeerte die Kruis oorleef? Kan jy daarvan af wegloop en dit afsterf? Kan jy eerlik sê, "Here, miskien is nie die duiwel wat my stop nie, maar U! As dit nie U wil is nie, kan dit my vernietig. Ek gee dit oor aan die kruis! Aan die dood! Doen dit op U manier, Here."

Dit is wanneer u in die graf afdaal van doodgaan van alle dinge van die self, alle ambisies, alle eiesinnigheid, dat u Sy stem hoor. Jesus sê, "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle - daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; . wanneer almal wat in die grafte is Sy stem sal hoor" (Joh. 5:25, 28). Dit is waarom duisende Christene vandag in die moeilikheid beland, omdat hulle stil sagte stemme hoor. Daar is verwarring, dinge werk nie reg uit nie, omdat daar nie 'n doodgaan aan eiesinnigheid is nie. Ja, ek glo dat God met sy kinders praat. U kan sy ware heilige onmiskenbare stem hoor, maar slegs na kruisiging van die eie ek en eie begeertes. Jesus het die Vader se stem duidelik gehoor. So ook Paulus, Johannes en Stefanus, maar alleenlik omdat hulle dood was vir die wêreld. Hulle was verteer om sy wil te doen.

Nederigheid is totale afhanklikheid van God. Dit is om God te vertrou om die regte ding op die regte tyd te doen en op die regte manier. Dit is om Hom te vertrou om jou in die regte manier te gebruik op die regte tyd. Nederigheid is om geduldig op die Here te wag in 'n gees van afwagtende geloof. Hoogmoed het geen geduld nie. "Swyg voor die Here en verwag Hom; wees nie toornig op Hom wat voorspoedig in Sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie. Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie; dit is net om kwaad te stig" (Psalm 37:7,8). Dit sê vir ons, "Moenie oorspanne raak deur die oënskynlike sukses van diegene wat lyk asof hulle verby jou gaan nie. Hulle vat kortpaaie. Hulle word geseën en is suksesvol terwyl jy hier sit, en God biddend vertrou." God sê, "Wag net. Hulle is op 'n glibberige pad. Jy sal nie jammer wees as jy dit op My manier doen nie. Geduld is besig om 'n werk in jou lewe te doen. Jy word sterk deur in geloof te wag. Laat geduld sy volmaakte werk in jou lewe doen!"

Die persoon met goddelike ervaring is nie die besige bewer Christen nie. Veel eerder is dit die een wat geduldig op God in geloof wag. Hy doen ervaring op, soos ons in Romeine 5:4 lees. "Neem as voorbeeld van leiding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het. Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is" (Jakobus 5:10,11). God stel dit gelyk daaraan "om waardig voor Hom te wandel" met vreugdevolle geduld en lydsaamheid. Sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag . en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid dat alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap" (Kolossense 1:10,11).

Jesus het vir ons 'n glorieryke belofte gelaat om ons deur die donker dae wat voorlê te help! Hy het gesê, "Omdat jy die woord van My lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom en die bewoners om die aarde op die proef te stel" (Openbaring 3:10). Jesus sê, "Jy het getrou gebly toe jy deur die wêreld getoets is. Jy het met blydskap vir My gewag om dinge uit te werk. Nou, terwyl daar verwarring oral rondom jou is, terwyl die wêreldwye toetse aan is, sal Ek jou daarvan bewaar. Jy het bewys dat jy my vertrou, kom wat wil!"

Die Here is op hierdie oomblik besig om 'n nederige volk voor te berei wat God getrou bewys het. Hulle sê nie alleen, "God is volkome in beheer nie." Hulle het inderdaad die volle beheer van hulle lewens aan Hom oorgelaat. "Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue in die Here." (Psalm 112:7).

Download PDF