Die Goedheid van God | World Challenge

Die Goedheid van God

Gary WilkersonJanuary 18, 2021

Die Eienskap wat Ons Volkome Seën

God se goedheid kan eenvoudig nie vasgepen word nie. Dit oortref ons begrip, maar tog seën dit ons elke oomblik van ons lewe. Sy goedheid kan nie gedefinieer word nie, maar tog ken ons die waarheid daarvan deur die Skrif en die Gees se getuienis. Hoe kan enige mens ooit die ontsaglike goedheid van God verstaan?

Dit alles laat ‘n ernstige vraag ontstaan: is God se goedheid regtig wat ons dink dit is? God het baie eienskappe wat nie baie gewild is onder Christene nie. In die Bybel lees ons van sy oordeel, woede, geregtigheid en toorn. Net die noem van hierdie oënskynlik “harde” eienskappe in God, veroorsaak dat baie mense van vrees bewe. Maar as die Here goed is en hierdie eienskappe Hom beskryf, moet ons dit ook as goed beskou.

Waarom sluit ons dan ons oë vir sulke “harde” karaktertrekke? Waarom is hulle effek nie om ons nader aan die Here te trek, om Hom ten volle te aanbid as “ware aanbidders (wat) die Vader in gees en waarheid sal aanbid” nie (Johannes 4:23, AFR53)? Is hierdie eienskappe nie ook deel van God se goedheid nie?

Die eerste ding om te bevestig insake God se goedheid is dat al sy eienskappe in een enkele, uiters goeie Wese saamgevat word.

God se heersende goedheid is dit wat ons verseker dat byvoorbleed, sy geregtigheid, belangrik is. Dit is ook hoe ons weet dat sy toorn ‘n goeie en nie ‘n slegte ding is nie. Daarbenewens is sy eienskap van heiligheid bo ons en is dit is buite ons begrip, maar God stel dit in ons harte vry om ons lewens te verander.

As predikante egter oor hierdie ongewilde eienskappe van God preek, dink sommige Christene: “Ek sal bly wees as hierdie reeks preke verby is. Ek is reg om iets prakties vir my lewe te hoor.” Elke aspek van God se karakter het in der waarheid praktiese implikasies vir ons lewens, ook die ongewilde aspekte, omdat almal uit sy goedheid spruit.

Hier kan ‘n teologiese woord help. Dit word die eenvoud van God genoem, wat in wese beteken dat God een is, dat Hy nie in verskillende dinge verdeel is nie. Hy is nie ‘n bietjie toorn en ‘n bietjie genade nie; Hy is nie meer oordeel en minder deernis nie. Elke eienskap van God is vervat in sy goedheid en ons kan volkome daarop vertrou. Trouens, as dit nie die geval was nie, sou ons in ernstige moeilikheid wees.

As God net almagtig was, sou Hy soos die Griekse god Zeus wees en weerligstrale na ons skiet wanneer dit ook al sy grille pas. ‘n Almagtige God moet ook ‘n barmhartige God wees. Alles in een, maak hierdie eienskappe uit wat ek God se gespierde goedheid noem. Dit is gespierd omdat dit albei kante van die spektrum ewe sterk hou. Sy goedheid is nie sag aan die een kant en hard aan die ander kant nie; dit is in alle opsigte magtig. Laat ek illustreer.

By World Challenge gebruik ons ​​leiers ‘n bekende sendingboek genaamd When Helping Hurts. Dit praat oor hoe barmhartigheidswerk behoeftige gemeenskappe in werklikheid kan benadeel as dit nie met ‘n geregtigheidsgerigte doel voor oë gedoen word nie. Jy sien, ‘n geskenk van geld of voorrade help slegs ‘n verarmde gemeenskap as dit bydra tot hul waardigheid en selfvoorsiening, eerder as om ‘n voortdurende afhanklikheid aan te moedig. Sendingorganisasies het dit al dekades lank op die harde manier geleer. Medelye sonder ‘n regverdige einde – geregtigheid vir die ontvangers – is kragteloos. Dit kom barmhartig voor, maar dit is op die ou end ‘n leë gebaar wat afhanklikheid eerder as waardigheid voed.

Dieselfde geld vir skynbaar “harde” eienskappe van God, soos sy regverdige oordeel. Ons moet ons verheug dat God regverdig oordeel; daarsonder sou die bose se verwoestingswerk hoogty vier. Sonder die regverdige saak van die Geallieerde magte om in die pad van die Nazi-euwel te staan, sou baie meer lewens in die slagting verlore gegaan het.

Die sogenaamde “sagter” eienskappe van God openbaar dus nie swakheid nie en die “harder” eienskappe openbaar dus nie rigiditeit nie. Al die eienskappe van God is volledig omvat en word uitgedruk in een uiters goeie Wese.

Sommige kerkbewegings bou hele leerstellings rondom uitgesoekte aangename eienskappe van God wat sy ander eienskappe ignoreer.

Baie van die welvaart-evangelie beklemtoon ‘n soort positiewe denke wat net daarop fokus om aangename dinge in die lewe te verkry. In daardie kringe word alle beproewinge van Satan af gesien en moet dit teëgestaan en verwerp word. Die apostel Paulus het ‘n heel ander beskouing van beproewinge verkondig. Hy het teenoor die gemeente in Éfese getuig dat die Heilige Gees hom direk in beproewings sou lei wat hom groot lyding sou veroorsaak. “En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukking op my wag” (Handelinge 20:22-23).

Paulus het geweet dat lyding deel van die Christelike lewe is. Dit is inderdaad ‘n belangrike deel van die opneem van Christus se kruis. Daarom het Paulus gesê dat ons moet ag gee op die hele raad van God, nie net op die aangename dele nie. “Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie” (Handelinge 20:27). Die verkondiging van die hele evangelie het Paulus ‘n skoon gewete voor God gegee en dit het sy gesag laat toeneem.

Sommige sien God se goedheid omvat in die ruim skenking van sy gawes. Dikwels kan God egter goedheid betoon deur oënskynlik goeie dinge van ons te weerhou, selfs al vra ons dit van Hom. Jesus beskryf God se vrygewigheid as Hy sê: “En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom in plaas van ‘n vis ‘n slang gee....? (Lukas 11:11). Wat as ons egter die Vader vra vir iets wat ‘n vervalsing van sy goedheid is? Moet ons verwag dat God dit aan ons sal gee? In daardie geval, is God se weerhouding net so genadig soos sy toelating. Dit is die liefdevolle dissipline van ‘n sorgsame, bedagsame vader. Terwyl Hy ons teen die namaaksel beskerm, reserveer Hy vir ons ook dit wat volkome goed is.

Die hele raad van God is op ‘n ander manier noodsaaklik. As ons geneig is om een ​​aspek van sy karakter te vermy, openbaar die hele raad van God dat ons getuienis onvolledig is. As ek byvoorbeeld van God se genade praat, maar weier om sy geregtigheid te erken, verloor ek ‘n groot mate van gesag.

Dieselfde kan gebeur met rigiede, hiperheilige bewegings wat menslike plesier ontsê. Wanneer hulle ‘n heilige God verkondig wat nooit tevrede is nie en net oordeel, iemand wat vrees afdwing sonder deernisvolle liefde, gaan die ware getuienis van God se deernisvolle liefde en barmhartigheid verlore.

Bybelse figure uit beide Testamente het dit besef. Hulle was vertroud met die tere liefde van God, maar steeds het hulle verskrik op hul aangesig neergeval toe hulle met sy heilige teenwoordigheid gekonfronteer is. Die regverdige profeet Jesaja het getuig, “Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man van onrein lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare gesien!” (Jesaja 6:5). Iets soortgelyks het eeue later gebeur toe die Vader uit die hemel op die Berg van Verheerliking gepraat het. Toe Hy verklaar, “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom,” het al die dissipels daar teenwoordig, “op hul aangesig geval en was baie bevrees” (Matthéüs 17:5-6). Dit is 'n toneel van bewing, maar dit weerspieël ook God se goedheid.

Slegs wanneer God se eienskappe as een gesien word – oordeel en vergewensgesind, regverdig en barmhartig, transendent en immanent, heilig en medelydend – bied ons die hele evangelie met volle gesag aan. God se goedheid is nie “sag” of “hard” nie; dit is diepgaande, volmaak en kragtig. Alhoewel dit bo ons vermoë is om ten volle te begryp, werk dit sy goedheid in sy geheel en kragtig op praktiese wyse in ons.

Hoe verander ons ons uitkyk op Bybellees van “Hoe baat dit my?” na “Wat sê dit vir my oor die uiters goeie God?”

Ons moet die Heilige Gees vra om ons ‘n nuwe lens te gee waardeur ons die Skrifte kan lees. Die Bybel is nie ‘n handleiding vir seëninge nie. Dit is ‘n boek insake God wat volmaak goed is en die boodskap daarvan is ernstig.

Dink aan die ryk jongman, ‘n man wat miskien so ‘n volmaakte en goeie lewe geleef het as wat menslik moontlik was. Dink aan wat gebeur het toe hy Jesus nader. “En toe Hy op die pad uitgaan, hardloop daar een na Hom toe en val voor Hom op die knieë en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God” (Markus 10:17-18).

Natuurlik weet ons dat Jesus goed is; Hy is een derde van die Godheid! Klaarblyklik het hierdie jong man Jesus egter net as ‘n leraar geken, nie as goddelik nie. Daarom het Christus hom dienooreenkomstig aangespreek en gesê dat God alleen goed is. Jesus het toe bewys dat dit waar is. Toe Hy die jongman ‘n liefdevolle uitdaging gegee het, het die jongman se lewenslange goedheid gewankel.

“Een ding kom jy kort — gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My. Maar hy het treurig geword oor dié woord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad” (10:21-22).

Vriend, as Jesus vir ons sê dat daar net een goeie wese in die hele heelal is, moet ons daarop ag gee. Selfs dan, geld daardie wese se goedheid teenoor ons ondanks die wete dat ons sal wankel. “En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry” (10:21).

Dit lei tot my heel laaste punt insake God se gespierde goedheid en die hele raad van sy Woord. As ons oor berou praat, stel die meeste van ons ons voor dat die Heilige Gees ons harte ernstig van sonde oortuig en droefheid veroorsaak. Vir baie val bekering in die “harde” kategorie van God se eienskappe. Weereens kom Paulus tot die redding en verkondig: “Dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei” (Romeine 2:4). God begeer dat sy eienskappe van goedhartigheid en barmhartigheid ons tot bekering moet bring voordat ons dinge soos sy geregtigheid en heilige toorn beleef.

Ons God is volkome goed en Hy kan enige manier kies om ons tot bekering te lei (wat per slot van rekening eenvoudig beteken dat ons omdraai en die teenoorgestelde rigting inslaan). Dit is tyd om sy dissipline sowel as sy liefde te aanvaar, want albei is omvat in een uiters goeie God. Dit is inderdaad goeie nuus.

Download PDF