Die Here Het Beloof Om Jou Te Verlos | World Challenge

Die Here Het Beloof Om Jou Te Verlos

David WilkersonApril 10, 2006

In ‘n geheime seremonie ontwerp deur die Here, het die profeet Samuel vir Dawid gesalf om koning van Israel te word. Samuel het vir hierdie goddelike jongman gesê, “Jy is nou deur God aangestel om heerser oor sy volk te wees.” Dit sou egter ‘n lang reis na die troon wees vir Dawid. Voor die belofte van sy salwing vervul is, sou hierdie toegewyde dienaar van die Here talle beproewinge en toetse beleef.

Net vyf hoofstukke later, sien ons Dawid skarrel oor heuwels en stowwerige paaie soos hy moes vlug voor Koning Saul wat gesweer het om hom dood te maak. Wat ‘n nederige begin vir so ‘n Godvresende, God-liefhebbende man soos Dawid. Hier was ‘n dienaar na die Here se eie hart, onlangs gesalf en nou op vlug vir sy lewe, gejag, hulpeloos, haweloos en alleen. Dawid se enigste gedagte was, “Ek moet nou dadelik uit hierdie land wegkom. As ek nie uit Saul se regsgebied kom nie, is ek dood.”

Hy het gevlug na die naaste grensgemeenskap, wat die Filistynse stad van Gat was en regeer is deur Koning Agis. Terwyl Dawid hierdie vyandige vesting genader het, het hy probeer om homself aanvaarbaar te maak deur op te tree as ‘n gewone reisiger met die hoop dat hy nie herken sou word nie. Maar hy moes die gefluister van die grenswagte gehoor het: “Is dit nie Dawid, die man wat ons Goliat verslaan het nie? Die Israeliete het sy lof besing omdat hy ‘tienduisende’ van ons mense verslaan het! Dit lyk of ons ‘n waardevolle besitting in ons midde het. Laat ons hom na die paleis neem en hom voor die koning bring.”

Dawid het geweet sy lewe was in gevaar, omdat die vyandige Filistyne hom heel waarskynlik sou aankla van terrorisme. Hy sou waarskynlik skandelik geslaan word en ‘n skouspel van gemaak word van stad tot stad. Die Skrif openbaar, “Dawid...het baie bevrees geword vir Agis, die koning” (1 Samuel 21:12).

Terwyl hy na die paleis gelei is, het Dawid so desperaat geword dat hy besluit het om te maak of hy kranksinnig is. Hy het sy gesig begin trek, sy oë omgedop en skuim by sy mond laat uitkom. Die Filistynse toeskouers moes geskok gewees het om te sien hoe hierdie eens magtige krygsman nou sinnelose woorde gebrabbel en geskreeu het soos ‘n idioot. Ek stel my voor hoe daardie vyandige skares skielik pad gemaak het toe Dawid wilde bewegings uitgevoer, op deure gekrap en na diegene rondom hom geslaan het.

In daardie dae, was daar ‘n groot vrees vir kranksinnige mense, omdat hulle vemeende duiwels gehad het wat mense kon aanval. Probeer jou voorstel die chaotiese toneel wat gevolg het in die paleis toe Dawid daar ingebring was. Terwyl hy voor Agis gemaak het of hy mal was deur te brabbel en te kwyl, het die Filistynse koning uitgeroep, “Kry hierdie man hier uit. Hy is ‘n mal mens. Waarom het julle hierdie gek in my huis ingebring?”

En so was Dawid teruggeneem na die grens waar hy gewaarsku was om weg te gaan en nooit weer terug te kom nie. Skielik vrygelaat, het hy ontsnap na die grot van Adúllam, waar hy Psalm 34 geskryf het uit dankbaarheid vir sy verlossing. In hierdie aangrypende Psalm, beskryf Dawid die hele episode van sy gevangeneming en hoe God hom verlos het uit sy vreesaanjaende beproewing.

Ek moet sê, van al 150 Psalms, is hierdie een my grootste gunsteling. Dit gaan oor ons Here se getrouheid om sy kinders uit groot beproewings en krisisse te red. Dawid verklaar, “Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered...Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit...Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede...Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:5,8,18,20).

Let op Dawid se aanspraak in hierdie Psalm: “Ek het die HERE gesoek...Hierdie ellendige het geroep...” (Psalm 34:5,7). Ek vra vir jou: wanneer presies het Dawid hierdie so geroep? Dit moes gebeur het terwyl hy gemaak het of hy kranksinnig was in Gat. Hy kon egter sekerlik nie hoorbaar gebid het in die Filistyne se teenwoordigheid nie.

Dit bring ons by nog ‘n waarheid betreffende God se verlossing.

Soms is die hardste roepstem sonder ‘n hoorbare stem.

Ek weet wat hierdie soort “innerlike roepstem” is. Baie van die hardste gebede van my lewe – my belangrikste, mees hartroerende, diepste uitroepe – is in totale stilte gemaak.

Met tye was ek so verlam deur omstandighede, dat ek nie kon praat nie en ek was so oorweldig deur situasies te hoog vir my, dat ek nie reguit kon dink om te bid nie. Per geleentheid het ek so alleen en verward in my studeerkamer gesit, dat ek nie in staat was om enigsins iets vir die Here te sê nie, maar die hele tyd het my hart uitgeroep: “God, help my! Ek weet nie hoe om nou te bid nie, so hoor die roepstem van my hart. Verlos my uit hierdie situasie.”

Was jy al ooit daar? Het jy al ooit gedink, “Ek weet nie waaroor dit alles gaan nie. Ek is so oorweldig deur my omstandighede, so oorstroom met diepe pyn, dat ek dit nie kan verduidelik nie. Here, ek weet nie eens wat om vir U te sê nie. Wat gaan aan?”

Ek glo dit is presies waardeur Dawid gegaan het toe hy deur die Filistyne gevange geneem is. Toe hy Psalm 34 geskryf het, het hy ‘n belydenis gemaak: “Ek was in ‘n situasie so oorweldigend dat ek die rol van ‘n dwaas gespeel het. Binne-in het ek egter gewonder, ‘Wat gaan aan met my? Hoe het dit gebeur? Here, help!’”

En so het Dawid klaarblyklik gesê, “Hierdie arme man het van binne af uitgeroep, terwyl hy nie geweet het wat en hoe om te bid nie. En die Here het my verhoor en my verlos.” Dit was ‘n diep roepstem van die hart en die Here is getrou om elke huilstem te hoor, maak nie saak hoe sag dit is nie.

Met tye kan ons slegs stilstaan en weet dat die Here ons Verlosser is.

In 1958 was my hart gebreek oor ‘n nuusberig oor sewe tienerseuns wat aangekla was van die moord op ‘n kreupel seun. Die Heilige Gees het so sterk in my geroer, dat ek gelei gevoel het om na die New York hof te gaan waar die hofsaak plaasgevind het en ek het die hofsaal binnegegaan, oortuig dat die Gees my gedring het om met daardie jongmense te praat.

Toe die dag se sessie egter tot ‘n einde gekom het, het dit vir my begin duidelik word. Ek het gedink, “Daardie seuns gaan in boeie deur daardie sydeur gelei word en ek sal hulle nooit weer sien nie.” Daarom het ek opgestaan en my weg met die paadjie langs gevind tot by die regter se regsbank, waar ek gevra het om met die seuns te praat voor hulle terugkeer na hulle sel.

Binne ‘n oomblik, het polisiemanne my gegryp en ek was onseremonieel begelei uit die hofsaal uit. Flitsligte het oral rondom my geflikker en ek was oorval met vrae van joernaliste wat oor die hofsaak verslag gedoen het. Ek kon net sprakeloos daar staan, heeltemal stomgeslaan, in ‘n vernederende verleentheid. Ek het gedink, “Wat sal my kerk by die huis dink? Mense sal dink ek is mal. Ek was so naïef.”

Te midde van al hierdie chaos, het ek diep binne-in gebid, “Here, ek het gedink U het my opdrag gegee om hierheen te kom. Wat het verkeerd gegaan?” Ek kon natuurlik nie hardop bid nie, want die media sou gedink het ek was selfs maller as wat ek gelyk het. (En ek het reeds heel simpel gelyk omdat ek ‘n strikdas gedra het!)

God het egter die roepstem van hierdie arme man daardie dag gehoor en sedertdien het Hy nog altyd my stille roepstemme eerbiedig. Jy sien, uit daardie jammerlike toneel in die hofsaal, is die Teen Challenge gebore, wat vandag deur die wêreld bedien. En ek deel met graagte in Dawid se nederige getuienis van Psalm 34: “My siel sal hom beroem in die HERE; die ootmoediges sal dit hoor en bly wees” (Psalm 34:3).

Dawid sê hier in wese, “Ek het iets om te sê vir al God se nederige mense op aarde, nou en in al die eeue wat kom. Solank hierdie wêreld bestaan, sal die Here almal wat tot Hom uitroep en op Hom vertrou, verlos. In sy ongelooflike genade en liefde, het hy my verlos, selfs toe ek ‘n dwase ding aangevang het.”

Hier is wat ek uit Psalm 34 geleer het:  Wanneer die vyand, Satan, teen jou kom soos ‘n stroom...wanneer jy jouself in diep waters van beproewing bevind...wanneer probleme in jou gedagtes opstapel...wanneer chaos om jou draai en jy nie eens reguit kan dink nie...het jy nie ‘n gebedsboek of ‘n leerstelling nodig waarop jy kan steun nie. En jy hoef nie jouself te veroordeel omdat jy dwaas optree nie.

Al wat jy hoef te weet, is dat ons geseënde Here elke opregte uitroep, hard of onuitgespreek, hoor en Hy reageer. Hy sal ‘n engel stuur as Hy dit verkies, of selfs ‘n hele leër van hulle om jou te omring en jou van gevaar te bewaar. Selfs as jy dwaas opgetree het of ‘n verskriklike mislukking van geloof gehad het, moet jy bloot terugkeer om jou Verlosser aan te roep. Hy is getrou om jou roepstem te hoor en op te tree.

Petrus verskaf ‘n ander insig betreffende die Here se verlossing.

Die apostel Petrus skryf oor twee rampspoedige gebeurtenisse in Genesis: Noag en die vloed en die vernietiging van Sodom en Gomorra. As jy aan hierdie twee gebeurtenisse dink, hoe stel jy hulle voor?

Die eerste behels die verskriklike geroep van massas verdrinkende mense soos God die geweld van Noag se geslag gewreek het. Terwyl die verskriklike vloedwater bokant die huise, bome en hoogste punte van die land gerys het, het mense desperaat aan drywende takke, stukkende meubels en allerhande soorte hout vasgeklou, maar alles was pure verniet.

In die volgende toneel, kan ons ons slegs voorstel hoe reuse swaelvlamme twee hele stede verteer het. Terwyl God se vurige oordeel geval het, het mense van pyn geskreeu soos hulle begin versmoor het en by die tienduisende gesterf het.

Die Bybel stel dit duidelik dat beide hierdie gebeurtenisse die oordeel van die Here was. Nie een van hierdie twee gebeurtenisse het in werklikheid iets te doen gehad met God se mense nie. So, beteken dit dan dat hierdie verskriklike tonele slegs gehandel het oor die Here se wraak teenoor sondaars? Dit is waar, hierdie tonele was bedoel as tekens en as voorbeelde vir die hele mensdom in elke geslag, met God se waarskuwing: “Ek wil hê dat julle weet dat Ek ernstig afreken met geweld en heersende sonde.”

Dit is hier waar Petrus tot die punt kom. Hy sê vir ons, “Want as God...die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag...bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het; en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand...en as ‘n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees; en die regverdige Lot gered het...die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos” (2 Petrus 2:4-7,9, kursief myne).

Ten spyte van die erns van hierdie voorbeelde, stuur God ‘n duidelike boodskap van vertroosting aan sy mense, so asof Hy sê, “Ek het pas vir julle twee van die grootste voorbeelde van my deernis gegee. As Ek te midde van ‘n wêreldwye vloed een regverdige man en sy familie uit die verwoesting kon red...kan Ek dan nie ook vir jou red nie? Kan Ek nie ‘n wonderbaarlike uitweg voorsien nie?

“As Ek ‘n vuur-en-swael-oordeel, wat hele stede op een slag kan verteer, kan afstuur en tog in staat is om engele na die chaos te stuur om Lot en sy dogters te red...kan Ek nie dan ook in staat wees om engele te stuur om jou uit jou beproewings te red nie?”

Die les hier vir die regverdige is dit: God sal doen wat dit ook al verg om sy mense uit vurige beproewings en versoekings te red. Dink daaraan: dit het die oopmaak van die Rooisee geverg om Israel uit die kloue van hulle vyande te verlos. Dit het water uit ‘n rots geverg om dieselfde Israeliete te verlos uit hulle wildernis beproewing. Dit het wonderbare brood, die voedsel van engele, letterlik uit die hemel gestuur, gekos om hulle te bewaar van honger. En dit het ‘n ark gekos om Noag uit die vloed te red en “begeleiding van engele” om Lot uit vurige vernietiging te red. Die duidelike punt hier, is dat God weet hoe om sy mense te verlos en Hy sal na alle uiterstes gaan om dit te bereik, maak nie saak wat hulle omstandighede is nie.

Petrus se frase, “God weet hoe om te verlos” beteken eenvoudig, “Hy het reeds planne.”

Die wonderlike waarheid is dat God sy planne vir verlossing gehad het selfs voor ons tot Hom uitgeroep het. En Hy vertraag nie daardie planne nie; Hy wag net vir ons hulpgeroep. Ons mag verstrengel wees in die stryd van ‘n leeftyd en wonder hoe God ons gaan verlos, maar Hy is egter te alle tye gereed om sy plan tot uitvoering te bring.

Ons sien dit geïllustreer in Jeremia 29, waar Israel in gevangenskap was in Babel. Hier was miskien die grootste beproewing wat God se mense ooit beleef het, maar die Here het hulle beloof: “Na sewentig jaar, sal Ek julle besoek en my Woord teenoor julle uitvoer.”

“Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee” (Jeremia 29:11). Hierdie laaste frase beteken letterlik, “om te gee wat jy verlang.” God het met ander woorde gesê, “Ek sê vir jou dat ek nie kwaad is vir jou nie, dat my gedagtes teenoor jou goed is. En verder maak Ek ‘n belofte aan jou.”

Die belofte verskyn in die volgende vers: “Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister” (Jeremia 29:12). Let op die eerste woord van hierdie vers: “Dan..” Ek glo God sê eenvoudig, “As jy bid, sal Ek na jou luister. Jy sien, Ek het ‘n spesifieke plan van verlossing vir jou en jy moet My altyd my vertrou om daardie planne uit te voer.”

Die rede waarom God wil hê ons moet aanhou bid, is sodat ons gereed sal wees vir sy verlosssing. Kortliks, ons moet voorbereid wees om daardie ontsaglike gedagtes wat Hy teenoor ons het, te glo. Sy Woord sê vir ons in wese, “Jy het my belofte om jou te verlos uit al jou probleme en versoekings. Ek het jou kragtige voorbeelde gegee van hoe Ek my dienaars verlos het uit krisisse in die verlede. Gaan nou en bid met verwagting, hoop en geloof dat Ek jou sal besoek. Ek het slegs goeie gedagtes oor jou, gedagtes van genesing en herstel.”

Terwyl ek die woord “verlossing” bestudeer in die Skrif, lees ek van God se plan vir Koning Hiskia.

Dit is geskryf van hierdie goddelike koning, “En so het Jehiskia in die hele Juda gedoen: hy het gedoen wat goed en reg en trou was voor die aangesig van die HERE sy God. En in elke werk wat hy begin het insake die diens van die huis van God en insake die wet en die gebod om sy God te soek, het hy met sy hele hart gehandel en voorspoed gehad” (2 Kronieke 31:20-21).

Die Skrif sê in soveel woorde hierdie man was die grootste koning wat Israel ooit gehad het. Ons word vertel dat Hiskia se hart so gerig was op die Here, dat daar geen koning voor of na hom was soos hy nie. Beskou dan die volgende vers: “Ná hierdie dinge en hierdie bewys van getrouheid het Sánherib, die koning van Assirië, gekom en Juda binnegedring en die vaste stede beleër en bedoel om hulle vir hom te verower” (2 Kronieke 32:1).

Let op die openingsfrase hier: “Ná hierdie dinge...” Dit verwys na al die goeie dinge wat Hiskia gedoen het: sy wandel in waarheid en heiligheid, sy soeke na God, sy vashou aan die Here, sy stryd teen sonde en kompromie, sy diepe gebed en vertroue, die nasionale herlewing wat hy gelei het. Kort na hierdie geseënde dinge, sê die Skrif, dan kom die duiwel in. Owerhede en magte van duisternis het die regverdige koning en God se volk omsingel en ‘n volskaalse oorlog gevoer om hulle te verslaan en hulle geloof te vernietig.

Ja, dit het alles gebeur ná die bewys van Hiskia se talle bedienings. Die woord “bewys” in hierdie gedeelte beteken, “stabiel, volwasse, goed gegrond.” Kortliks, ons sien ‘n verklaring van oorlog teen ‘n man van God wat stabiel in gees en volwasse in geloof was. Satan het nie sy magte vermors op ‘n swak, onervare, twyfelende kind van God nie; hy het sy mees intense wapens gerig op ‘n geestelike reus.

Byna oornag het Hiskia homself in ‘n onmoontlike situasie bevind. Die vraag was, “Waarom?” Hierdie goddelike man het nie in sonde of rebelsheid geleef nie; hy was een van God se getrouste dienaars. Die Here het egter nie vir Hiskia verduidelik waarom hierdie verskriklik aanslag teen hom gekom het nie.

Gou was die lug binne Jerusalem se mure gevul met duiwelse leuens en lasterlike stemme, met beskuldigings van Satan wat in Hiskia se gedagtes gemaal het: “God is nie meer met jou nie, Hiskia. Hy is duidelik besig om jou te tugtig. As die Here met jou is, hoe kon jy in sulke groot moeilikheid beland het?”

Hier is ‘n duidelike illustrasie van die duiwel se plan teen elke toegewyde dienaar van God.

In ons eie tye van beproewing en versoeking, kom Satan na ons toe met soortgelyke leuens: “Jy is nou omsingel en daar is nie ‘n uitweg nie. Groter dienaars as jy het moed verloor in omstandighede wat nie veel erger was as hierdie nie. Nou is dit jou beurt om verslaan te word. Jy is ‘n mislukking, andersins sou jy nie hierdeur gegaan het nie. Daar is iets verkeerd met jou en God is erg ontevrede.”

Te midde van sy beproewing, het Hiskia sy hulpeloosheid erken. Die koning het besef hy het geen krag gehad om die stemme, wat teen hom gewoed het stil te maak nie, stemme van moedeloosheid, dreigemente en leuens. Hy het geweet hy kon homself nie verlos van die stryd nie en daarom het hy die Here gesoek vir hulp. En God het geantwoord deur die profeet Jesaja na Hiskia te stuur met hierdie boodskap: “Die Here het jou roepstem gehoor. Vertel nou vir Satan by jou poort, ‘Jy is die een wat verslaan gaan word. Op die weg wat jy hierheen gekom het, sal jy teruggaan.’”

Hiskia het baie amper vir die vyand se truuk geval. As ons inderdaad nie teëstand bied teen Satan se leuens nie – as ons in ons uur van krisis ons nie wend na geloof en gebed nie, sal ons nie krag kry uit God se belofte van verlossing nie – die duiwel sal fokus op ons twyfelende geloof en sy aanvalle verskerp.

Hiskia het moed geskep uit die woord wat hy ontvang het en hy was in staat om vir Sánherib baie duidelike terme te sê: “Duiwel koning, jy het nie my gelaster nie. Jy het vir God self gelieg. My Here gaan my verlos. En omdat jy Hom gelaster het, sal jy sy toorn beleef!”

Die Bybel sê vir ons dat God vir Hiskia en Juda bonatuurlik verlos het in dieselfde nag: “En in dieselfde nag het die engel van die HERE uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak – was dit almal dooie liggame” (2 Konings 19:35).

Sedert die kruis van Christus, het God se mense selfs beter beloftes gehad as Hiskia.

In net die eerste paar boeke van die Bybel, het God op wonderbaarlike wyses Noag, Lot, Dawid, Hiskia, Daniël en die drie Hebreeuse kinders, Moses, Josua, Israel, Josef en menigtes meer verlos. Vir God se mense vandag, het Christus se bloed ons ook verlos van sonde, verwoesting en baie meer: “(Hy) wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader” (Galasiërs 1:4).

Vandag staan gelowiges nie net op ‘n belofte nie, maar ook op die gestorte bloed van Jesus Christus. En in daardie bloed het ons oorwinning oor elke sonde, versoeking en stryd wat ons ooit sal beleef. Miskien het jy onlangs ‘n brief van die duiwel gekry. Ek vra vir jou: glo jy God het die voorkennis om al jou beproewings te voorsien? Al jou dwase optredes? Al jou twyfel en vrees? As dit so is, het jy die voorbeeld van Dawid voor jou waarin hy gebid het, “Hierdie ellendige het geroep en die Here het hom verlos.” Sal jy dieselfde doen?

Onthou: as jy sal bid, selfs in stile...as jy sal weier om Satan se aanvalle te vrees en in geloof sal rus...dan sal jy ook eendag wakker word tot ‘n groot oorwinning. God self sal met jou vyand afreken en Hy sal sy plan uitvoer om jou te verlos.

Download PDF