Die Here Is Jou Bewaarder | World Challenge

Die Here Is Jou Bewaarder

David WilkersonJuly 1, 1984

Daar is ‘n opwindende Ou Testament storie wat die beste illustreer wat dit beteken om bewaar te word deur die krag van God. Dit word gevind in 2 Konings 6.

Bénhadad, Koning van Aram, het oorlog verklaar teen Israel en teen hom opgemars met ‘n groot leër. Soos sy magte vorentoe beweeg het, het hy dikwels sy krygsraad na sy private kwartiere geroep om die volgende dag se strategie te beplan. Maar die profeet Elisa het aangehou om boodskappe vir die Koning van Israel te stuur wat elke beweging van die vyandige troepe in elke besonderheid geopenbaar het. Op verskeie geleenthede het die Israeliete nederlaag ontvlug weens Elisa se waarskuwings.

Bénhadad was woedend. Hy het sy dienaars geroep en gesê, “Wys my wie die verraaier is! Sê vir my wie ons planne aan die Koning van Israel geopenbaar het!” Die dienaars het vir hom gesê dat dit nie is wat hy dink nie en dat daar nie ‘n verraaier in sy koninklike hof is nie, maar dat almal getroue manne is, “Nee, my heer die koning, maar Elisa, die profeet wat in Israel is, kan die koning van Israel die woorde te kenne gee wat u in u slaapkamer spreek” (2 Konings 6:12).

Bénhadad het dadelik ‘n leër van perde, waens en soldate gestuur om Elisa te vang. “Gaan na Dotan; bring hom vir my,” het hy beveel. Hulle het in die nag gegaan en die stad omsingel met die doel om die ou profeet te verras. Maar Elisa se dienskneg het vroeg wakker geword en gesien daar was “’n leër met perde en strydwaens rondom die stad.” Vreesbevange het hy na Elisa gehardloop. “Ag, my heer, hoe sal ons maak? Ons is omsingel.”

Met ‘n glimlag vol vertroue, het Elisa gesê, “Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by julle is. En Elisa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa” (2 Konings 6:14-17).

Elisa, soos die psalmis, kon staande bly te midde van ‘n krisis en met absolute sekerheid sê:

  • “Ek sal nie vrees vir tienduisende van mense wat rondom teen my gereed staan nie” (Psalm 3:7).
  • “Al word ‘n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan ‘n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek” (Psalm 27:3).
  • “Hy verlos my siel in vrede van die stryd teen my, want met menigtes is hulle teen my” (Psalm 55:19)

My gebed is die van Elisa: “Here, open ons oë dat ons die berge vol met die perde en waens van vuur kan sien en aanskou – die Here van die leërskare...”

Bewaar deur die Here van die Leërskare

Ou Testament heiliges het God geken op ‘n manier waarop ons Nuwe Testament heiliges baie min van weet. Hule het Hom geken as die HERE VAN DIE LEËRSKARE! Meer as 200 keer in die Ou Testament – van Samuel af tot by Maleági – word na God verwys met hierdie naam. Ons lees dat “Dawid het gedurigdeur groter en groter geword, en die HERE, die God van die leërskare, was met hom” (1 Samuel 5:10). Hierdie majestueuse titel word herhaaldelik in die Psalms gevind:

  • “Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ‘n rotsvesting vir ons” (Psalm 46:8).
  • “O HERE, God van die leërskare, wie is soos U” Grootmagtig is U, o HERE, en u trou is rondom U” (Psalm 89:9).
  • “HERE, God van die leërskare, hoor my gebed” (Psalm 84:9).
  • “Die HERE van die leërskare – Hy is die Erekoning” (Psalm 24:10).

Die Hebreeuse woord vir “leërskare” is tsbaah. Dit beteken “’n leër slaggereed vir oorlog.” Soldate, perde en waens slaggereed om oorlog te voer op ‘n bepaalde tyd. ‘n Leër saamgeroep en gemonster, wagtend op instruksies.

Vir Elisa, was God die Here van tsbaah – die Here kom tot sy hulp met ‘n leër slaggereed vir oorlog. ‘n Leër van menigte duisende soldate, perde, waens – vergader en wagtend op instruksies.

Op ‘n ander geleentheid, het die Assiriese leër teen Koning Hiskia en Juda gekom. Dit is geen wonder nie dat hierdie koning ontsteld was toe hulle omring was deur ‘n wrede leër. Hy het vir God se volk gesë: “Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik vanweë die koning van Assirië of wanweë die hele menigte wat saam met hom is nie; want by ons is meer as by hom. By hom is ‘n vleeslike arm, maar by ons is die HERE onse God om ons te help en ons oorloë te voer! En die manskappe het gesteun op die woorde van Jehiskia, die koning van Juda” (2 Kronieke 32:7,8).

Die Ou Testament heiliges het gerus in hulle visioen van ‘n Almagtige God wie se almagtige, onsigbare leër vergader het vir hulle beskerming. Dawid het geroem, “Die waens van God is tienduisende, duisend maal duisende; die Here is onder hulle...”  (Psalm 68:17). Volgens die psalmis, is hulle ingeskryf vir ons: “Die Here is jou Bewaarder” (Psalm 121:5).

Petrus het gesê, “Wat in die krag van God bewaar word deur geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd” (1 Petrus 1:5). Ek sien hierin ‘n profesie dat God weereens in hierdie laaste dae, sy bewarende krag gaan openbaar aan die heiliges.

Christus het tot die Vader gebid aangaande sy dissipels: “Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie” (Johannes 17:12). Die dissipels het hulleself nie in die wil van God bewaar nie. Hulle was bewaar deur ‘n magtige krag, buite hulleself. Hulle kon dit nie ‘n enkele dag maak sonder Christus se bewarende krag nie.

Wat ‘n heerlike gebed wat Christus om ons onthalwe gebid het: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar” (Johannes 17:15).

Ek wil vir jou wys wat ‘n ontsaglike ding dit is om bewaar te word deur die krag van God deur geloof.

BEWAAR, in Afrikaans, beteken:

  • Om besit te behou van – om onder jou bevel te neem.
  • Om alle noodsaaklikhede te voorsien – om groot te maak en te voed.
  • Om te bewaar en beskerm – om onder beheer te hê.

Maar in die Grieks, is die woord BEWAAR baie veelseggend. Soos dit gebruik word in 1 Petrus 1:5, is dit phroureo, wat beteken:

  • Om ‘n militêre buitepos te vestig.
  • Om op te pas, te omring, te beskerm met ‘n garnisoen
  • Om ‘n fort te vestig met volle millitêre linie met volle millitêre apparaat.
  • Om die vyand in die verte te sien en te beskerm van gevaar.

Nie net is die Here ‘n sterk toring nie – Hy vestig in ons ‘n militêre buitepos, beman deur ten volle toegeruste leër. Ons word in werlikheid ‘n magtige millitêre buitepos met leërs van soldate, perde en waens gereed vir oorlog – en met ‘n wag wat die naderende vyand van ver af sien.

Jesus het gebid, “Bewaar hulle van die bose...” Die Griekse woord vir bewaar hier is poueros, nog ‘n omvattende woord. Dit beteken:

  • Verlossing van die effek of invloed van enigiets sleg, boos, swaar, skadelik, ontugtig, gemeen, of goddeloos.
  • Verlossing van Satan self en alles wat verdorwe of siek is.

Sit dit alles saam en dit lyk amper te goed om waar te wees. Ons is God se militêre buitebos, beskerm deur ‘n ten volle toegruste geestelike leër met ontelbare perde, waens en soldate in volle slagorde ten volle ingelig van elke vyandige plan en skema – heeltemal verdedig teen Satan en al die goddelose magte in die heelal. Nou kan ons miskien verstaan wat die Skrif bedoel wanneer dit sê dat “Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Johannes 4:4).

Beskou hierdie verse in die lig van hierdie openbaring: “Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting” (Psalm 18:3). “Want U het ‘n toevlug vir my geword, ‘n sterk toring teen die vyand” (Psalm 61:4).

Ons bewaar onsself nie van boosheid nie. Ons voer nie oorlog teen Satan nie. Die Here van die leërskare moet die bewaring doen. Hoor wat die Bybel sê: “Hy het uit die hoogte sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, Hy het my uit groot waters getrek. Hy het my verlos van my magtige vyand...omdat hulle te sterk was vir my” (Psalm 18:17,18). In Judas was ons belowe, “Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel” (Judas 24).

Die vyand van buite en die vyand van binne

Ons word bewaar van die vyand van buite en van binne. Die vyand van buite is lyding, veroorsaak deur ‘n menigte van versoekings en vurige beproewings. “Daarin verheug julle jul, al word julle nou – as dit nodig is – ‘n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:6,7). Die sleutelwoorde hier is “bedroef” en “vurige beproewing.” In die Grieks dui “bedroef” op smart, hartseer of kommer: “vuur” dui op weerligagtige toets of beproewing.

Is jy in ‘n tydperk van droefheid omdat jy God teleurgestel het en toegegee het aan versoeking? Treur jy omdat ‘n skielike weerligagtige ramp jou lewe getref het? Beleef jy ‘n onrusbarende finansiële krisis? Sien jy dit as ‘n toets van jou geloof? Kan jy juig ten spyte daarvan? Sal jy bokant dit uitstyg deur geloof en die Here daardeur verheerlik? Sal dit alles op die ou end lei tot lofprysing aan die Here?

Hulle wat glo die seëvierende Christene hoef nie te ly nie, ken God of Sy Woord nie regtig nie. Lyding in die lewens van gelowiges is nie altyd die gevolg van sonde nie. Christus was sondeloos, tog het Hy gely. En in Sy lyding, het Hy vir ons ‘n voorbeeld gestel: “Want julle is geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie” (1 Petrus 2:21,22).

Hoe lank is dit vandat jy hierdie soort evangelie gehoor verkondig word: “Hier is dit is waarvoor jy geroep is! Hier is dit hoe jy die voorbeeld volg wat Jesus gestel het – deur lyding! En dit sluit in diegene sonder sonde!”

Die vyand van buite is formidabel, maar dit is die vyand van binne wat vir ons die meeste benoudheid veroorsaak. Dawid het gesê, “Ek roep die HERE aan in my benoudheid” (Psalm 120:1). Hier is ‘n groot en heilige man van God wat sy hart uithuil voor die Here – desperaat om van homself verlos te word. “o HERE, red my siel van die valse lippe, van die bedrieglike tong,” pleit hy (Psalm 120:2).

Dawid het God gesoek om hom van die boosheid en bedrog van sy eie hart te bewaar. Hy het gekyk na die sonde en swakheid in homself en slegs gesien dat hy die toorn en oordeel van God verdien het. “Wat sal Hy jou gee of wat vir jou daaraan toevoeg, o bedrieglike tong? Skerp pyle van ‘n held saam met gloeiende kole van besembosse” (Psalm 120:3,4). “Wee my!” het jy uitgeroep toe hy die verskriklike sondigheid van sy eie siel gesien het. Hy het geweet hy behoort gestraf te word. Pyle is sinoniem met oordeel; vuur, met toorn. “God is nou agter my aan,” het hy gedink.

God het ‘n goddelike doel daarin om sy diensknegte toe te laat om soveel benoudheid te beleef. Ons kan genade nooit verstaan nie totdat ons die algehele goddeloosheid van die vlees sien. Ons kan nie genade ken nie totdat ons die uitermatige sondigheid van ons sonde sien – dat ons met alle reg God se pyle van oordeel en vure van toorn verdien. Ons moet die totale ellendigheid van ons menslikheid voel. Ons moet heeltemal raadop word en in ons benoudheid uitroep, “O God, dit is u barmhartigheid en genade, of daar is geen hoop vir my nie.”

Dit was in sy ergste uur van benoudheid dat Dawid ‘n visioen van God se genade en Sy bewarende krag gesien het. Ek is seker hy het gekom by die plek van oorgawe, met die wete dat slegs die Here van die leërskare hom kon verlos en bewaar van die mag van die bose. Sy oë, neergeslaan deur mislukkings, het nou opgekyk: “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE...Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie. Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. Die HERE is jou Bewaarder” (Psalm 121:1-5).

O God, open ons oë. Laat ons dit met geloof ophef na die berg van God. Na die onsigbare leërs van die Here van die leërskare. Na ‘n liefdevolle Vader wat nooit slaap nie. Na Hom alleen wat ons kan bewaar van afvalligheid. Een vertaling van die Psalm beskryf God se bewarende krag op hierdie manier: “Die HERE sal jou omhein met dorings, jou bewaar van alle onheil” (Psalm 121:7).

Ons word bewaar in elke situasie

Dawid se geloof in God se vergewende, bewarende krag het hom by ‘n heerlike gevolgtrekking uitgebring. Dit is miskien een van die mees bemoedigende insigte in die hele Skrif:

“Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid” (Psalm 121:8).

Uitgang hier is sinoniem met mislukking en smart. Die verlore seun was bewaar tydens sy uitgang en was teruggebring na ‘n ingang. Ons gaan alewig weg van die Here af. Ons gaan uit Sy wil uit, uit Sy teenwoordigheid uit, uit Sy liefde uit, uit Sy heiligheid uit. Ons gaan uit na wanhoop, na vrees en twyfel, na wellus en sensualiteit.

“Hoe,” vra jy, “bewaar God my wanneer ek van Hom af uitgaan?” Deur jou gedurig te herinner dat Hy daar is. Die Gees hou jou onder veroordeling. Jy sondig, maar jy kan dit nie geniet nie. Jy treur daaroor; jy huil vir verlossing van die mag daarvan. Selfs wanneer jy sondig, hoor jy die stem van die Here fluister, “Dit is verkeerd. Dit is nie wat jy regtig wil hê nie. Dit sal jou nie tevrede maak nie.” En in jou swakste oomblik, voel jy steeds Sy liefde en genade wat oor jou siel stroom. Jy voel Sy vergifnis en genade. Jou liefdevolle Vader verwelkom jou terug met ope arms, soene om jou nek en bring jou in Sy huis in.

Ons het net soveel verlossende, bewarende krag nodig met ons ingang. Ons ingang is in ‘n heerlike plek van vrede en rus in. Ons sondes is laat staan en ons skande is weg. Ons sien ander rondom ons die Here teleurstel, maar ons is hoog in die Gees en prys Sy Naam. Alles lyk rein, soet en heilig. Dit is die heel eerste keer wat ons bewaar en weerhou moet word – van hoogmoed! Van ander oordeel! Van ‘n heiliger-as-jy gesindheid! Van ‘n gevoel van “gearriveer” in God. Van ‘n geestelike vervelende mens te wees. Die uitgang van die tollenaar is nader aan God as die ingang van die Fariseër.

Dit was tydens my uitgang tye dat die Here so wonderbaarlik Sy liefdevolle genade aan my geopenbaar het. Hy het onlangs na my gekom toe ek so neerslagtig, so alleen, so sondig en onwaardig gevoel het. Ek was raadop met my geduld en lydsaamheid. Ek het gevoel ek het die Here teleurgestel. Soos Dawid, was al wat ek kon sien die leuens en bedrog in my hart.

Ek het my Bybel opgetel en dit oopgemaak by ‘n gedeelte wat God se oordeel en toorn oor my sonde verklaar het. Ek het vinnig my Bybel toegemaak, geween soos ‘n kind en uitgeroep, “O, Here – geen toorn! Geen veroordeling! Ek kan dit nie nou hanteer nie! Ek weet wat ek is – maar ek weet U het my lief. Asseblief, Here, wees so lief vir my dat alle hartseer my verlaat.” En vir ‘n uur het ek daar gelê, Hom my laat liefhê, Sy genade en barmhartigheid gevoel. Hy het my genees!

Het jy gesondig? Het jy van Hom af weggegaan? Voel jy onwaardig, onrein, bestem tot toorn en oordeel? Lig op jou oë op na die heuwels – na die liefde van die Here van die leërskare. Hy is nie daarop uit om toorn in jou lewe in te stuur nie. Hy bewaar jou uitgang nou al. Hy het jou lief, beskerm jou met Christus se kosbare bloed, smag dat jy na Sy oop arms hardloop en gesoen te word. Hy begeer slegs om jou in die hemelse plekke te laat sit en saam met jou maaltyd te hou.

In een van Dawid se uitgange, het hy gevoel hy het sover gegaan dat hy vir altyd verlore was. “Soek u kneg” (Psalm 119:176). Hy het in wese gesê, “Here, kom na my in my sonde en mislukking. Bring my terug. Bewaar my van afdwaal. Hou aan om my te soek!”

Ek gee nie om hoe ver jy geval het of hoe verlore jy mag dink jy is nie. Dit maak nie saak wat jy gedoen het nie. Al wat jy nodig het, is om uit te roep, “Here, ek is verlore! Soek my. Kom agter my aan.” Hy sal!

Laastens – ‘n Woord van waarskuwing vir almal wat ly

Wanneer jy ly, moenie dreig nie! Hier is ‘n verstommende waarheid wat verbind is aan Christus se lyding:

“Toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie” (1 Petrus 2:23).

Wat ‘n geweldige stelling: “Toe hy gely het, nie gedreig het nie!” Hy het nooit een keer Homself verdedig teen diegene wat Hom mishandel het nie. Hy het niemand gestraf nie – nooit teen iemand terugbaklei nie.

Hoe anders as ons! Ons dreig wanneer lyding ondraaglik word; ons verdedig onsself; ons beskerm ons regte en reputasie. En ons onttrek ons van diegene wat ons mishandel. Ons hoop die Here sal hulle terugkry om ons onthalwe!

Die ergste van alles, ons dreig God. Dit is ‘n baie subtiele ding en die meeste van ons is nie bewus van wat ons doen nie. Wanneer ons gebede onverhoor bly – wanneer ons hulp of verlossing nie kom nie – wanneer ons val in die kloue van versoeking – wanneer probleme en rampe ons lewens tref – wanneer dit lyk asof die Here ons teleurstel en ons op die ou end alleen is en ly: trek ons terug van God af. Ons raak lui met gebed en Bybellees. Ons het God steeds lief, maar ons laat staan ons ywer. Ons begin wegdryf. Ons geloof word vervelig, onaktief. Daardie reaksies is alles dreigemente teenoor die Here.

Elke keer wat ons terugdeins om die Here te soek met ons hele hart, dreig ons Hom. Dit is ‘n subtiele manier om te sê, “Here, ek het my bes gedoen en U het my teleurgestel.”

Menigtes Christene lewe in ‘n stomgeslaande toestand. Hulle is nie goddeloos, afvallig of wederstrewig nie; hulle is bloot oorweldig deur probleme en beproewings wat op hulle afgekom het. Hulle dwaal rond in ‘n soort geestelike en fisieke waas.

Die Here het oneindige geduld met diegene van ons wat ly. Hy wag liefdevol totdat ons terugkeer na Sy liefdevolle sorg. Maar dit kan ‘n manier van lewe word, ‘n dreigement teen God se getrouheid as ons weier om wakker te word en ons geloof en hoop in Hom te vernuwe. Sommige word so ontnugter, dat hulle toegee aan hulle begeertes en passies. Hulle verlustig hulle in hulle begeertes omdat die stryd so hopeloos lyk. Dit is hulle manier van sê, “Wat is die nut? Ek probeer so hard, en dit lyk of ek nie oorwinning kan kry nie. Ek vra God om my te help, om my te verlos – maar hulp kom nooit nie. Ek het steeds hierdie ding binne-in my, na al my trane en gebede.”

Dit lei uiteindelik tot die volgende: “Ek het ‘n reg om dit te doen omdat ek so kwaai skade gely het.” Dit is ‘n dreigement teenoor God, ‘n manier om Hom terug te kry omdat Hy nie ‘n gebed op skedule verhoor het nie.

Geliefde, daar is hoop! Die Here van die leërskare is met ons! Hy alleen is ons bewaarder. Hy sal nie Sy kinders laat gly of val nie. Ons word in die palm van Sy hand gehou.

Laat ons maak soos Christus. Hy het “maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23). “Om oor te gee” is om jou lewe heeltemal in Sy hande te plaas. Laat vaar jou stryd, hou op om enigiets in jou eie krag te doen, en gee die bewaring van jou liggaam en siel oor aan die Here van die Leërskare!

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE