Die Here se Liefdevolle Reaksie op Hartseer | World Challenge

Die Here se Liefdevolle Reaksie op Hartseer

David WilkersonNovember 30, 2009

Ek staan eenvoudig verstom oor die Here se liefdevolle reaksie op hartseer. Soos ek deur die Bybel lees, sien ek dat niks ons God meer aanraak as die siel wat met hartseer oorweldig is nie.

Hartseer word gedefinieer as “diepe smart” of “droefheid veroorsaak deur uiterste ellende.” Jesaja vertel vir ons dat die Here self bekend is met hierdie mees hartverskeurende emosie: “Hy was verag en deur die mense gehaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid [hartseer]” (Jesaja 53:3).

Ons sien ‘n kragtige voorbeeld van God se reaksie op hartseer in Markus 5. Hierdie hoofstuk bevat Jesus se ontmoeting met Jaïrus, ‘n owerste van die sinagoge en ‘n vrou wat aan chroniese bloedvloeiing gely het.

As owerste van die sinagoge in Kapérnaüm, was Jaïrus deel van die godsdienstige stelsel wat Jesus verwerp het. Ons weet nie wat Jaïrus persoonlik van Jesus gedink het nie, maar ons weet dat hy sy genesingskrag gesien het. Dit was heel moontlik in Jaïrus se sinagoge waar Christus die man met die verdorde hand genees het. En Jaïrus was moontlik tussen die skare toe Jesus bose geeste uitgedryf het terwyl hulle uitgeroep het, “U is die Seun van God” (Markus 3:11).

Jaïrus moes ook van Jesus se magtige dade in ander stede soos Górasin en Betsáida geweet het. Hy en die ander ouderlinge in Kapérnaüm het hulle groot invloed gebruik om Hom te verwerp, sodat Jesus gesê het, “En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe” (Matthéüs 11:23).

Maar nou, terwyl ons Jaïrus se storie in Markus 5 lees, vind ons dat hartseer na die owerste se huis gekom het. Sy twaalf jaar oue dogter het siek en “op haar uiterste” (Markus 5:23) in die bed gelê. Hierdie situasie het sekerlik gemaak dat Jaïrus Jesus se hulp heroorweeg het.

Dit was ‘n verskriklike hartseer wat Jaïrus na Christus gebring het.

As hierdie probleem Jaïrus se huis nie getref het nie, betwyfel ek dit of hy ooit na Jesus toe sou gekom het. Dink daaraan: Selfs die wonderwerk van die geneesde hand het Jaïrus nie aangeraak nie. Menigtes het na Jesus gestroom om Hom te hoor preek en te sien wonderwerke doen, maar nie een van hierdie dinge het Jaïrus na Hom getrek nie. Miskien het Jaïrus se eie dogter van Christus geweet, want die Skrif sê dat die kinders in Hom geglo het en Hom geprys het. Ek kan myself verbeel dat die siek dogtertjie gesmeek het, “Vader, roep vir Jesus. Hy sal my gesond maak.”

Nou was Jaïrus se geliefde kind op die rand van die dood. Watter soort innerlike stryd het die owerste van die sinagoge gestry voor hy Jesus se hulp gaan soek het? Sy sosiale sirkel het Christus gespot en Hom ‘n indringer genoem. Hulle wou Hom vernietig en het so ver gegaan as om sy dood te beplan. As Jaïrus vir hulp moes vra, sou hy verstoot, afgesny en gespot word. Dit sou hom nie net sy posisie in die sinagoge kos nie, maar ook sy plek in die godsdienstige gemeenskap. Hy sou ‘n uitgeworpene wees.

Ek glo dat dit die rede was waarom “’n groot menigte...hom gevolg” het toe Jaïrus uiteindelik vir Christus gaan haal het (Markus 5:24). Die mense van Kapérnaüm wou sien wat met die owerste van die sinagoge gebeur as hy Jesus in sy huis inbring.

Wat was die Here se reaksie toe Jaïrus voor sy voete geval het en Hom dringend gesmeek het?  Ons word net vertel, “En Hy het saam het hom gegaan” (Markus 5:24). Christus het in liefde gereageer, selfs al was Jaïrus se geloof uit hartseer gebore. Ek kan dink wat die dissipels gedink het: “Hierdie man, Jaïrus, wou niks met die Here te doen gehad het toe alles goed gegaan het nie. Nou wil hy Hom net hê omdat hy in die moeilikheid is. Jaïrus het na Jesus gekom omdat hy geen ander keuse gehad het nie.”

Hulle was reg: Hartseer het Jaïrus na Jesus gedryf. In werklikheid dien ons ‘n Verlosser wat liefdevol op al ons hartseer, pyn en droefheid reageer. Dink daaraan: Wat Jaïrus gedoen het, het ons almal gedoen. In die verlede het ons die Here vergeet, Hom afgeskeep en Hom miskien selfs verwerp. Die vraag waaroor ons God egter die meeste begaan is, is die volgende: “Waar is jy nou? Sal jy in jou huidige hartseer na My uitroep?”

Selfs toe God sy volk, Israel, getugtig het, was Hy diep aangeraak deur hulle hartseer. Rigters 10:16, “Toe het Hy ongeduldig geword oor die moeite van Israel.” In letterlike terme, het die Here vol van diepe hartseer oor sy volk getreur. Tot op daardie stadium het Hy daardie geslag vertel, “Ek sal julle nie meer verlos nie.” Maar nou, in hulle tyd van ellende, het Hy gereageer deur hulle hartseer aan te spreek.

Ons sien hierdie patroon dwarsdeur die Ou Testament. Keer op keer lees ons, “God het berou gehad oor hulle gekerm.” Hierdie frase stel voor “jammer, droefheid, om te vertroos, om die las ligter te maak.”

Selfs tydens sy oordeel is God hartseer oor sy kinders. Die Psalmis maak ‘n ongelooflike stelling: “En Hy het tot hulle beswil aan sy verbond gedink en berou gekry na die veelheid van sy goedertierenhede. En Hy het hulle medelyde laat vind by almal wat hulle as gevangenes weggevoer het” (Psalm 106:45–46, kursief myne). Toe God sien dat sy kinders ly, het Hy nie net oor hulle getreur nie, Hy het selfs veroorsaak dat hulle vyande hulle jammer gekry het!

Terwyl jy hierdie boodskap lees, dra jy miskien een of ander swaar las. Dit kan wees oor iemand wat naby jou is wat ly, in die moeilikheid is of seer het. Dit kan ‘n seun of dogter wees wat teruggeval het en in die dood van sonde wegsink. Dit kan ‘n geliefde wees wat ‘n ernstige, dreigende finansiële krisis beleef. Ek sê aan almal: Jesus Christus word aangeraak deur ons hartseer.

Dit is wonderlik dat Jesus saam met ons deur ons pyn loop, net soos Hy met Jaïrus gedoen het. Wanneer dit egter lyk of daar ‘n wonderwerk op pad is, kan daar vertragings wees. Hoewel Christus met hom was, sou ‘n dodelike vertraging Jaïrus tot by ‘n punt van hopeloosheid bring.

Jaïrus se wonderwerk was vertraag toe Christus gereageer het op iemand wat desperaat was.

Op pad na Jaïrus se huis, het hulle ‘n vrou wat aan chroniese bloedvloeiing gely het, teëgekom. Vir twaalf jaar lank het sy sonder ophou gebloei. Sy het letterlik ‘n stadige dood gesterf. Lukas, ‘n dokter, het geskryf dat sy “haar hele vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie” (Lukas 8:43).

Die Joodse wet beskryf dat hierdie vrou “onrein” was. Vir ons, verteenwoordig sy ‘n soort gelowige wat vasgevang is in “onreinheid” of sonde. In werklikheid, mag sommige wat hierdie boodskap lees, moontlik “bloei” van wat vir hulle ‘n ongeneeslike plaag van sonde is. Deur die jare het hulle geestelike lewe stadig agteruit gegaan en het ‘n verlore stryd geword het.

Vir twaalf jaar lank het hierdie vrou daardie soort stryd gestry. Sy het orals vir ‘n kuur gesoek. Sy sou van een of ander spesialis hoor en dit sou haar hoop gee. Met elke dokter wat sy gespreek het, het sy weer haar storie oorvertel en gesê, “Dit is my probleem.” Hulle almal het haar geld geneem en beloftes aan haar gemaak. Maar elke keer het sy moedeloos huistoe gegaan. Op ‘n stadium moes hierdie vrou gedink het, “Dit help nie. My toestand is hopeloos. Ek gaan aanhou ly totdat ek stadig doodgaan.”

Dit is jammer dat ek talle Christene sien wat vandag dieselfde doen as hierdie vrou. Hulle hardloop na enige plek wat ‘n antwoord bied. Hulle verduidelik hulle probleem oor en oor met die hoop dat hulle verlossing sal vind. Al wat hulle wil hê, is dat iemand die bloeding in hulle harte stop.

Hier het die lydende vrou nog ‘n keer uitgereik. Hierdie keer was dit om hierdie man, Jesus, aan te raak al was dit om net kontak te maak met die soom van sy kleed. En toe sy het, was sy onmiddellik genees!

Eers toe, het Jesus omgedraai en gevra, “Wie het my aangeraak?” Dit het veroorsaak dat sy “gevrees en gebeef het” (Markus 5:33). Waarom het sy van vrees gebewe? Dit was omdat sy seremonieel onrein was. Sy was nie eers toegelaat om saam met ander te aanbid nie, nog minder om iemand aan te raak. Die Joodse wet het bepaal, “Dan moet sy drie-en-dertig dae in die reinigingsbloed bly. Aan niks wat heilig is, moet sy raak nie en in die heiligdom mag sy nie kom nie todat die dae van haar reiniging verby is” (Levítikus 12:4).

Hierdie vrou was bang om te erken wat sy gedoen het. In werklikheid, het sy rede gehad om vir haar lewe te vrees. Tog, “Omdat sy wis wat met haar gebeur het, kom toe en val voor Hom neer en vertel Hom die hele waarheid” (Markus 5:33).

Op hierdie stadium sien ons twee redes waarom Jesus die vertraging van Jaïrus se wonderwerk toegelaat het.

Die eerste rede was, omdat Jesus hierdie vrou wou verlos van haar gevoel van onreinheid. Hy wou die oomblik gebruik om haar smaad in die publiek te verwyder.

Ek ken baie Christene wat soos hierdie vrou onder ‘n wolk van vrees lewe as gevolg van hulle “onreinheid.” Miskien beskryf dit jou. Jy het so lank met ‘n verslawende sonde geleef dat jy dink, “Wat van my aaklige geskiedenis van sonde? As Jesus volkome genees, dan is daar seker iets met my verkeerd. Ek hoort nie in die kerk nie. Dit is ‘n heilige plek en ek is nie rein nie.”

As jy sê dat jy in ‘n goeie, sorgsame kerk is, dan is jy op die regte plek — omdat die Dokter daar is! Niemand sal omgee hoe boos jou verlede is nie of hoe lank jy al “onrein” is nie. In plaas daarvan, sal hulle genoeg omgee om net te vra, “Wil jy genees word?”

Dit bring ons na die tweede rede waarom Jesus Jaïrus se wonderwerk vertraag het: Hy het Jaïrus ‘n deurslaggewende les probeer leer. Dink aan wat op daardie toneel gebeur het: Jaïrus was desperaat om Jesus na sy dogter se bed te bring. Die vrou met die bloeding probleem het egter aangehou praat en Jesus haar hele storie vertel. Volgens die Skrif, het sy Hom “die hele waarheid” vertel en dit het ‘n lang tyd geneem.

Ek wonder: Het Jaïrus vir homself gesê, “Hierdie vrou was vir twaalf jaar lank siek. Kon dit nie maar vir nog ‘n paar uur gewag het nie? My dogter is op die rand van die dood op hierdie oomblik.” Ek sien hom sy hande vryf en senuweeagtig van een voet na die ander skuif, hy waggel op sy tone en loer vooruit om te sien of daar ‘n boodskapper aankom.

In werklikheid, kon Jesus reguit na Jaïrus se huis gegaan het sonder vertragings. Hy kon die vrou net daar en dan genees het, sonder om na haar hele storie te luister. Maar Hy het dit vertraag vir ‘n doel. Hier is een van die lesse wat hy wou oordra: Dit is vir ons moontlik om so oorweldig te wees deur ons eie lyding en hartseer en ons eie behoefte vir ‘n wonderwerk, dat ons nie in staat is om ons te verheug in wat Jesus vir ander doen nie. Kortliks, ons pyn kan ons verblind vir ‘n ander se nood wat groter is as ons eie.

Dit bring ons by die tweede deel van die les: Wanneer ons sien wat Jesus vir ander doen, kan dit ons geloof vir ons eie probleem opbou. Ek glo dat Christus daarmee probeer het om Jaïrus se geloof op hierdie toneel te versterk. Hy kon net sowel vir hom gesê het, “Jaïrus, Ek ken jou desperaatheid. Ek weet alles van jou dogter se toestand. Maar kan jy nie uitreik na hierdie arme vrou nie? Sy het elke dag vir twaalf jaar gely, vir elke uur vandat jou dogter gebore is.”

So, was daar ‘n vertraging in die antwoord op jou gebed? Sien jy ander rondom jou wat oorwinnings behaal, aangeraak word en genees word en wonderwerke wat vir hulle gebeur – tog staan jy hulpeloos in jou lyding? Word jy ongeduldig met God en roep uit, “Waarom nie ek nie, Here? Waar is my wonderwerk? Waarom word dit vertraag?” As dit so is, mis jy die punt totaal. Die Here probeer om jou geloof op te bou. Hy wil hê dat jy verby jou hartseer kyk en jou vertroue op Hom plaas, maak nie saak watter vertragings kom nie. Hy wys jou dat Hy aan die werk kan wees om duisende rondom jou te genees en steeds sy oog op jou hou!

Jesus reageer veral wanneer dit lyk of alle hoop weg is.

Ek wonder of Jaïrus in staat was om Jesus se wonderlike woorde aan die bloeiende vrou te hoor: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees” (Markus 5:34). Ek twyfel of Jaïrus enigiets daarvan gehoor het, want sy fokus was nou op ‘n boodskapper wat na hom aangehardloop gekom het. Die Skrif vertel vir ons dat Jesus steeds wonderwerk woorde met die vrou gepraat het toe Jaïrus ‘n verlammende  berig ontvang het: “U dogter is dood” (Markus 5:35).

O, watter leuens moes Satan in Jaïrus se oor gefluister het: “Dit was alles verniet. Jesus kan niks vir jou doen nie. Daar is geen wonderwerk nie. Hierdie vrou sê dat sy genees is, maar is dit waar?” Toe kom die deurdringende woorde van die boodskapper: “Waarom val u die Meester nog lastig?” Dink aan wat hier aan Jaïrus gesê was: “Dit is nutteloos. Dit is te laat vir God om te werk. Dankie Jesus, maar nee dankie. U het te lank gewag om te help.”

Ek kan ‘n stem hoor wat Jaïrus deur dit alles verwyt: “Jy het Jesus vertrou. Jy het voor sy voete neergeval en Hom om hulp gesmeek. Maar dit het nie gewerk nie. Dit is nou tyd dat jy op jou tande byt en teruggaan sinagoge toe. Jesus kan jou nie help nie.”

Tog het Jesus alles wat aan die gang was, gehoor. Toe Hy die vrees, wanhoop en hartseer op Jaïrus se gesig sien, het Hy aan hom gesê, “Moenie vrees nie; glo net” (Markus 5:36). Ek glo Christus het vir daardie skare gesê en sê vir ons vandag: “Dit is nie genoeg om saam met My te loop, my te roep en voor My voete in berou neer te val nie. Jy moet op My vertrou. Jy moet glo dat Ek lewe uit die dood kan voortbring.”

Dit was inderdaad die laaste geloofstoets vir Jaïrus: Hy was geforseer om die dood in die gesig te staar. Hierdie gebroke man se geliefde dogter was dood. Verbeel jou die chaos en verwarring in sy huis toe hy en Jesus daar aangekom het. Ek sien Jaïrus se vrou in sy arms flou val en uitroep, “Waar was jy? Dit is te laat. Ons kosbare dogter is dood!”

Soos dit die gewoonte was in daardie tyd, het betaalde, professionele roubeklaers op die toneel geween en gehuil. Toe Jesus egter dit alles sien, het Hy vir die skare gesê, “Waarom gaan julle so te kere en ween julle? Die kind is nie dood nie, maar slaap” (Markus 5:39). Wat was hulle reaksie? “En hulle het Hom uitgelag” (Markus 5:40). Weereens het hulle Jesus se boodskap verwerp.

Geliefde, hierdie toneel illustreer wat die Here van ons almal vra. Ons moet reguit na ons plek van verwarring gaan, waar die dood, verskrikking en bespotting ons aangluur en ons moet sy woord gehoorsaam: “Moenie vrees nie, glo net!”

Ons weet nie of Jaïrus se geloof sterk was en of sy hart met vrees verlam was nie. Ons weet net dat almal verbaas was oor wat volgende gebeur het. Jesus het die dooie dogter aan die hand geneem en gesê, “Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op! En die dogtertjie het dadelik opgestaan en begin rondloop, want sy was twaalf jaar oud” (Markus 5:41–42).

Gemeente, ons moet onsself keer op keer aan Jesus se woorde herinner – te midde van hopeloosheid en dood, wanneer alle moontlikhede verby is en niks menslik gesproke gedoen kan word nie: “Moenie bevrees wees nie. Glo net.” Jy mag sê, “Maar wanneer ek pyn ly, het ek nie die krag om te glo nie. Ek is te swak, te oorweldig.” Ek erken dat ek selfs na agt-en-vyftig jaar in die bediening steeds bid, “Here, U moet geloof in my plaas. Ek kan nie op my eie glo nie.” Tog kan ek ook getuig dat die Heilige Gees getrou is om daardie werk te doen. Hy het nog nooit misluk om dit vir my te doen nie.

Ten slotte, Paulus sê daar kom ‘n tyd wanneer “nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efésiërs 6:13). Ons staan op God se Woord – ten spyte van alle pyn en hartseer, ten spyte van alle swakheid van die vlees. Jaïrus het en so ook die bloeiende vrou. Hulle was vasbeslote, “Ek moet net die soom van sy kleed aanraak.”

Al wat ons nodig het vir ons stryd, is Jesus, wat lewe uit die dood kan voortbring!

Dawid het in ‘n Psalm geskryf dat die Here “die sterre met sy asem gemaak het.” Dink daaraan: Die asem uit God se mond het elke melkwegstelsel op sy plek gestel. Dawid sê vir ons, “Wanneer jy pyn het, stop en kyk op. Jy sal besef, ‘As God dit kan doen, kan Hy sekerlik my behoefte ook aanspreek.’” Ek stem saam. As jy in jou pyn jou fokus op die majesteit van God kan hou, sal jy meer ontvang as wat enige prediker jou kan gee.

Jy mag dink dat God jou gefaal het omdat Hy nog nie geantwoord het nie. Ek sê vir jou, jou wonderwerk woord is op pad. Hy is nou aan die werk aan jou verlossing en het daarmee begin toe jy die eerste keer gebid het. Hy het belowe om jou nooit te verlaat nie. Die see mag bruis, die berge mag in die see val en alles wat geskud kan word, sal geskud word. Maar Hy kan nie geskud word nie en ook nie sy doel vir sy kerk nie.

Ek sê vir die homoseksueel, “Hou op om jou verlede te ondersoek en die wortels van jou lewenstyl te probeer navors. Druk deur in geloof en raak Jesus vir jouself aan, net soos hierdie vrou het.” Ek sê vir almal wat verslawende sondes het: “Hou op om rond te kyk na hulp, terwyl jy sê dat dit hopeloos is. Druk deur met geloof en raak Jesus aan. Gehoorsaam Hom en Hy sal jou genees. Ek sê aan almal met bedroefde harte: “Los jou laste by Jesus. Gee alles in sy hande oor. Moenie bevrees wees nie, glo net!”

Wanneer jy Jesus aanraak – wanneer jy uitreik na sy soom — ontvang jy sy krag. Toe die bloeiende vrou Hom aangeraak het, sê die Skrif dat “krag... van Hom uitgegaan het” (Markus 5:30). Die krag wat van Hom uitgegaan het, dui op die mag oor alle onreinheid, sonde en dood.

Onthou, Hy is die God wat alle dinge gemaak het – dit sluit vir jou en my in. As daardie God ‘n rein hart in Dawid, ‘n moordenaar en egbreker, kon skep, kan Hy dieselfde in jou doen. Hy kan jou lewe omkeer. “Die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Hebreërs 12:2).

Liewe heilige, Jesus is op hierdie oomblik saam met jou in jou stryd. Jy kan indring en Hom aanraak so seker as daardie bloeiende vrou. Jy kan die genesende opstandingskrag van Christus beleef net soos Jaïrus. Hy loop langs jou deur dit alles en deur elke vertraging. En Hy het ‘n plan om jou uit die dood tot in die lewe te bring. Moenie bevrees wees nie — Glo net!

Download PDF

DAILY ENCOURAGEMENT IN YOUR INBOX

Sign up now to receive our Daily Devotional or E-newsletter.

SUBSCRIBE